Mens-masjien-verhoudinge en Afrikaanse poësie: ’n onderhoud

  • 0

In jou artikel bespreek jy die gedig “e-sonnet” (1999) van Susan Smith (LitNet). 

Jy noem dat die spreker “vasgestelde reëls” van die sonnet uitdaag, byvoorbeeld reëls in verband met rymskema, lengtes van versreëls en tema.

Jy noem ook dat digters tegnologiese ontwikkelinge uitbeeld deur byvoorbeeld die sosiale-media-terme Facebook en Twitter te gebruik.

Wat dink jy is die (toenemende) invloed van kommunikasie-aktiwiteite (bv sms-tegnologie en sosiale-media-platforms) op taalgebruik in die literatuur/digkuns ‒ veral mbt ’n nuwe generasie jongmense wat tegnies baie aktief en vaardig is? 

Daar is beslis ’n invloed op taalgebruik. Soos wat tegnologiese ontwikkelinge ’n uitwerking op mense se alledaagse lewens het, kan digters ook nie hulself heeltemal losmaak van dié invloede nie. Digters dig oor tegnologie en die invloede daarvan op die samelewing, maar dig ook in die “taal” van tegnologie.

Bibi Silippers is ’n baie goeie voorbeeld van ’n jonger digter wat tegnies/digitaal aktief en vaardig is en wat tegniese/tegnologiese taalgebruik met groot vernuf in haar digkuns aanwend. Kyk maar net die sukses wat sy met haar debuutbundel Fotostaatmasjien behaal het.

Daar is natuurlik die taalpuriste wat al die negatiewe aspekte van hierdie soort taalgebruik sal raaksien. Dit ís so dat daar gedigte bestaan wat tegniese terme en metafore ontgin en as gedigte eenvoudig van swak gehalte is.

Nietemin, dit kan op smaakvolle en kreatiewe wyse aangewend word, en Bibi Slippers en onder andere Loftus Marais en Fourie Botha, asook ’n paar van die ouer garde, soos Marius Crous en Johann de Lange, wys hoe dit gedoen word.

Papier vs iPad/Kindle. Wat verkies jy? 

Papier, papier, papier. Ek staar die hele dag lank na een of ander vorm van ’n skerm, en wanneer dit by lees en ontspanning kom, verkies ek die papier tussen my vingers. Dit is eenvoudig ’n persoonlike voorkeur en ek het niks teen e-lesers nie. Die voordele wat hierdie toestelle inhou vir byvoorbeeld mense met gesiggestremdhede is noemenswaardig.

Jy noem dat voorstellings van mens-masjien-verhoudinge in die Afrikaanse poësie, spesifiek tussen die jare 2000 en 2012, meer kompleks, vervleg en multidimensioneel geword het.

In hierdie verband haal jy Viljoen (2005:177) aan: “[D]ie kwessie van die verhouding tussen mens en masjien is hoogs aktueel in ’n wêreld waarin ons toenemend afhanklik word van masjiene en die grens tussen mens en masjien voortdurend vervaag.”

Wat is die gevaar of gevare van hierdie vervaging?

Die mees voor-die-hand-liggende gevaar, en selfs vrees, is seker dat die mens sy menswees gaan verloor. Wanneer die mens meer soos masjiene word, kom die essensie van menswees, wat dit beteken om mens te wees, in gedrang. Dit is nie net ’n tema in die Afrikaanse poësie nie, maar ’n idee wat lankal reeds in die wetenskapfiskie ondersoek word.

Ons lewe in ’n tyd van tegnologiese vooruitgang en moontlikhede: 3D printing, hommeltuie (drones), apps, kunsmatige intelligensie, bestuurdervrye motors, virtuele realiteit, ontwerperbabas, ens. 

Hierdie ontwikkelinge beloof voordele vir die mensdom. Dit weerspieël “die ideaal van vooruitgang” (Viljoen 2010:184).

Wat dink jy is die mensdom se grootste tegnologiese triomf/fout?

Ek weet nie of mens dit uitsluitlik as ’n fout kan beskou nie, maar die ontwikkeling van wapens en ammunisie is seker een van die tegnologiese ontwikkelinge wat die grootste vernietiging veroorsaak het en dit steeds doen.

Die motorkar en daaropvolgende tegnologieë wat ontwikkelings in vervoer aanbetref is sekerlik ’n triomf vir die mensdom.

In jou artikel verwys jy na die term kubermens, asook die bundel Kubermens (Eveleen Castelyn, 1999). 

Hoe sou jy die begrip kubermens omskryf, veral mbt identiteit?

Eenvoudig gestel is die term ’n samestelling van tegnologie + mens. In die Afrikaanse poësie, en hoe ek die term vir die ontleding van gedigte vertolk het, is dit egter meer kompleks. Dit het beslis te make met identiteit en handel eerder oor menslike bewussyn en menslike subjektiwiteit – dit is nie soseer geskoei op die liggaamlike nie, maar op die menslike self binne die kuberruimte.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat die woord ’n samestelling is wat op ’n tweeledigheid dui – die konstruksie/samevoeging van masjien met mens. Daar is ’n duidelike skeiding tussen die twee entiteite en ek dink dít is presies wat Eveleen Castelyn met haar bundel in gedagte gehad het. In Kubermens ondersoek sy die invloed van tegnologie op die mens en sy wys telkens op die negatiewe, die gevare wat masjiene vir die mens en menswees inhou.

“’n Aantal studies is onderneem oor die impak van tegnologie op die uitgewerswese, en die resepsie en verspreiding van literatuur in ’n digitale omgewing.” 

Wat is die positiewe/negatiewe/toekomstige impak?

Daar is heelparty wonderlike en interessante ontwikkelinge in die uitgewersbedryf, en die moontlikhede vir die toekoms is waarskynlik ondenkbaar. LitNet is ’n uitstekende voorbeeld van ’n aanlyn platform wat tegnologie en vooruitgang aangryp en bevorder. As mens terugdink na net 20 jaar gelede was aanlyn publikasie nog baie nuut, en nou kom dit met nuwe truuks soos ORCIDs en DOI’s en Crossrefs – alles vernuwing wat digitale publikasie as die enigste toekoms bevestig. Dit is goedkoper, vinniger en toeganklik.

Die negatiewe is seker dat in die afgelope 30 jaar wat die uitgewersbedryf dmv tegnologie verander het, baie mense hul werk verloor het - werk wat deur drie verskillende professioneel-opgeleide mense gedoen is, word nou deur een persoon gedoen. Uiteraard kan die gehalte van publikasies ook bevraagteken word. Digitale platforms skep ook die geleentheid vir selfpublikasie – wat natuurlik die kritici se hare laat rys.

Uiteindelik is hierdie ontwikkelinge iets wat nie gekeer kan word nie, en die positiewe uitwerkings sal hopelik die negatiewe oorskadu.

Verskeie artikels bespreek etiese kwessies en die sosiale impak/uitdagings van kunsmatige intelligensie, bv:

Top 9 ethical issues in artificial intelligence
Artificial Intelligence: Commission discusses ethical and social impact with philosophical and non-confessional organisations
Google doing the right thing: It has released its principles for ethical AI
The Ethical and Legal Issues of Artificial Intelligence.

Watter kwessie(s) staan vir jou uit?

Die impak wat tegnologie op die mens uitoefen, is ’n ou gesprek – kyk maar na die protesaksie van die Luddiete in die 1800’s oor werksgeleenthede. Maar kunsmatige intelligensie bring ook ander etiese kwessies waaroor mense kopkrap. Vir my staan ongelykheid en diskriminasie uit, omdat ons hier in Afrika wat tegnologiese ontwikkelinge aanbetref gewoonlik agter in die tou staan. Daar is ’n reuseverskil tussen mense se finansiële, sosiale en politieke status, en toegang tot die nuutste ontwikkelinge is vir baie mense dikwels onmoontlik. Mens moet ook nie vergeet dat tegnologie deur mense geskep word nie, en mense is geneig om te diskrimineer. Ek dink ons land, en selfs ons kontinent, se mense kan makliker slagoffers wees in dié opsig.

Dit is wel gerusstellend dat organisasies/regerings oor hierdie kwessies begin dink en reëls maak om weerloses te beskerm. Dit sal wel interessant wees om te sien hoe lank dit byvoorbeeld die Afrika Unie neem om ook aan die gesprekke deel te neem.

’n Laaste interessante kwessie wat vir my uitstaan, is robot-regte. Dit mag dalk nou soos wetenskapfiksie klink, maar in die toekoms sal ons dalk ons ruimtes deel met robotte wat onafhanklike entiteite met bewussyn en gevoelens is. Die televisiereeks Westworld is ’n goeie voorbeeld van hoe die mens, selfs al is dit in wetenskapfiksie, worstel met die onafhanklikheid van masjiene (veral die singularity-kwessie) en ’n reeks ander etiese kwessies. Ons leef in ’n interessante tydperk, en die stories van vandag is dalk net ons realiteit van môre.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top