Mercia Coetzee se ruimtelike blik op Karel Schoeman en Ria Winters

  • 0

Mercia Coetzee en Henning Pieterse se navorsingsartikel “’n Ondersoek na sekere ruimtelike elemente in die ‘Ierse dagboeke’ van Karel Schoeman, met die boek Reise met Schoeman deur Ria Winters as agtergrond”, is onlangs in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling gepubliseer. Mercia is ’n dosent in die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) se Kommunikasiedepartement, en het verlede jaar ’n MA in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal. Melt Myburgh het met haar gesels oor haar en Pieterse se navorsing oor Karel Schoeman.

Mercia Coetzee onlangs saam met Antjie Krog by ’n NALN-boekbekendstelling, met Karel Schoeman wat ’n wakende oog hou (Foto: verskaf)

Mercia, ek sien jy het jou MA in Kreatiewe skryfkuns verlede jaar voltooi. Die UV spog darem met ’n wonderlike departement met mense soos Henning Pieterse en Francois Smith daar. Was Henning een van jou studieleiers? Vertel asseblief hoe die ervaring was, en mag ons weet waaraan jy geskryf het?

Henning was my studieleier vir die navorsingsmodule, en het saam met Francois die kreatiewe module aangebied.

Hierdie MA was die beste ervaring van my akademiese loopbaan, en ek twyfel nie een oomblik daaraan dat Henning en Francois saam die skryfkursus een van die beste – of dié beste – in die land maak nie.

My navorsing het gehandel oor die presiese onderwerp wat in die LitNet Akademies-artikel behandel word, terwyl die kreatiewe gedeelte ’n roman is waaroor ek nog nie veel kan sê nie.

Ek veronderstel die skryf aan die roman het jou geprikkel om spesifiek oor ruimte navorsing te doen?

Ja. Ek wou graag die ruimtelike beskrywings in my roman lewendig en realisties skryf, maar ook “mooi” – en wie beter om van te leer as Schoeman? Ria Winters skryf dat Schoeman met woorde skilder – en dit ís so.

Ruimte is uiteraard een van die sentrale boustene van literêre (en ander) skryfwerk. Ek weet in die ou dae was Lefebvre, na wie julle in die artikel verwys, se teoretiese waarnemings oor ruimte in letterkunde ’n gewilde vertrekpunt vir navorsers. Watter teoretici oor ruimte is vandag die toonaangewendste en waar pas Lefebvre deesdae in die prentjie?

In hierdie verband kan ek my geensins as kenner uitspreek nie. Ek was beïndruk met die teorieë van Bachelard (1963) en Foucault (1986), en die meer onlangse sienings van Harvey (1994) en Kort (2004). Ek het ook The Routledge handbook of literature and space (2017), en Space in literature (2018) op my boekrak waaruit ek meer wil leer. Lefebvre het ek raakgelees in verskeie studies oor ruimte, en daarna ’n artikel (Busquet 2011) opgespoor waarin sy siening van ruimte as sosiale omgewing beskou word. Ek dink die politieke omgewing van vandag maak sy filosofie relevant.

Vertel asseblief van jou belangstelling in Karel Schoeman se werk en hoe julle op die idee gekom het om die navorsing oor sy “Ierse dagboeke” met Ria Winters se boek te kombineer.

Ek het jare gelede vir ’n kort tydjie saam met Karel Schoeman in Bloemfontein gewerk. Ek het sy boeke uit nuuskierigheid begin lees en het ’n lewenslange aanhanger van sy skryfkuns geword. Toe ek ’n tema vir my skripsie moes kies, het ek pas Ria Winters se boek gelees, en die keuse was vanselfsprekend. Deur Ria Winters se boek te betrek wou ek vasstel of tyd ’n invloed op die ervaring van die ruimtes uitgeoefen het – natuurlik soos deur verskeie faktore beïnvloed. Die inhoud het van daar uitgekring.

Schoeman se “Ierse dagboeke” dateer uit die 1960’s, en Ria Winters se boek, waarin sy op Schoeman se spoor loop, het in 2020 verskyn. Hoe dikwels gebeur dit dat skrywers dekades later op ’n ander skrywer se roetes gaan loop? Ek dink nou byvoorbeeld aan JC Kannemeyer se Wat het geword van Peter Blum?. Is daar voorbeelde in die plaaslike en internasionale letterkunde wat jou beïndruk het?

Daar verskyn tog gereeld biografieë van skrywers en/of ander bekendes wat deur navorsers of geskiedkundiges geskryf word, en daardeur word bekende – en soms vergete – skrywers weer onder die publiek se aandag gebring. ’n Mens dink aan Wat het geword van Peter Blum?, ja, en natuurlik ook aan al die ander biografieë deur Kannemeyer waarin byvoorbeeld Jan Rabie se Paryse “spore”, Uys Krige se omswerwinge en Leroux se reise nagespeur word. Ek glo dat by instansies soos die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum (NALN) daar goudmyne lê en wag om ontgin te word. ’n Boek soos dié van Ria Winters is natuurlik besonders daarin dat sy na spesifieke plekke en spesifieke ervarings gaan soek het.

Julle noem in die artikel dat die navorsing vanuit ’n “konstruktivistiese paradigma” benader is. Hoe verduidelik mens vir lesers wat nie ’n akademiese agtergrond het nie, wat dié frase beteken?

As dosent beskryf ek (op baie basiese vlak) konstruktivisme aan my studente as die skep van nuwe kennis uit bestaande inligting. Konstruktivisme is wat onderwys behels – om bestaande inligting te bestudeer en te ontleed en daaruit nuwe insigte en afleidings te skep.

Dit is vir my fassinerend dat julle rekenaartegnologie gebruik het om sleutelwoorde in die boeke te vind en dit te groepeer. Hoe werk dit? Moet die boektekste elektronies ingevoer word in ’n rekenaarprogram? Watse rekenaarprogram gebruik mens om dit reg te kry, en watter opdragte gee mens vir die blikbrein?

Daar is makliker maniere as dit wat ek gebruik het – kyk byvoorbeeld na wat Burgert Senekal van die UV doen. Ek het die Ierse dagboeke skandeer, amper oorgetik, en daarna Microsoft Office gebruik om sleutelwoorde te identifiseer en te tabuleer. As ’n dokument egter reeds elektronies beskikbaar is, is daar fantastiese programme beskikbaar waarmee die analise gedoen kan word. Vir my PhD het ek Nvivo gebruik wat pragtige ontledings van kernwoorde verskaf.

Baie kommentators het altyd bespiegel dat Karel Schoeman die eerste Afrikaanse skrywer sou word wat die Nobelprys vir letterkunde wen. Helaas het dit egter nooit gebeur nie. Waar staan Schoeman vir jou in die hemeltrans van die wêreldletterkunde?

Ek is versigtig om op my vriende se tone te trap. Maar vir my is Schoeman se skryfkuns die Nobelprys waardig. Min ander skrywers motiveer my om paragrawe uit boeke aan my diere voor te lees net omdat dit so ongelooflik geskryf is. Ek moet egter met my studieleier saamstem dat Etienne Leroux en Breyten Breytenbach ook op die Nobel-kortlys geplaas kan word.

  • Die foto’s en fokusprent van hierdie artikel bevat ’n kombinasie van die volgende boekomslae: Reise met Schoeman deur Ria Winters (Protea Boekhuis, 2020) en Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (Human & Rousseau, 1966) en Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (Human & Rousseau, 1968) deur Karel Schoeman. Ander foto’s is deur Mercia Coetzee verskaf.

 

Lees Mercia en Henning se navorsingsartikel hier:

’n Ondersoek na sekere ruimtelike elemente in die "Ierse dagboeke" van Karel Schoeman, met die boek Reise met Schoeman deur Ria Winters as agtergrond

 

Lees ook:

Karel Schoeman (1939–2017)

Musiek en dans as teks in drie romans van Karel Schoeman: Na die geliefde land, ’n Ander land en Verliesfontein

Die ingewikkelde Karel Schoeman

Karel Schoeman (1939–2017): Huldigingsgeleentheid

Karel Schoeman: Historiese romans en die historiese raamwerk

SA Akademie vir Wetenskap en Kuns: Karel Schoeman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top