’n Ondersoek na sekere ruimtelike elemente in die "Ierse dagboeke" van Karel Schoeman, met die boek Reise met Schoeman deur Ria Winters as agtergrond

  • 0

’n Ondersoek na sekere ruimtelike elemente in die “Ierse dagboeke” van Karel Schoeman, met die boek Reise met Schoeman deur Ria Winters as agtergrond

Mercia Coetzee, Departement Kommunikasiekunde, Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) en H.J. (Henning) Pieterse, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 20(1)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Die doel van hierdie artikel is om die aanwending van ruimtelike elemente in die twee “Ierse dagboeke” van Karel Schoeman – Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966) en Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (1968) – te ondersoek teenoor die beskrywings van dieselfde elemente in die boek van Ria Winters, Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer (2020). Hierdie navorsing het geskied vanuit ’n verklarende, konstruktivistiese paradigma, en is as ondersoekende navorsing met behulp van ’n vergelykende navorsingsmetode uitgevoer. Daardeur kon na patrone en ooreenkomste in die tekste gesoek word wat gebruik is om die data te organiseer en te ontleed, en waaruit afleidings ten opsigte van die navorsingsdoelwit gemaak kon word.

Uit die vergelyking van dié boeke van Schoeman en Winters is dit duidelik dat Schoeman Ierland gedurende sy verblyf daar as idillies ervaar het, moontlik geïnspireer deur sy geestelike groei en die ontdekking daarvan gedurende daardie jare. Ten spyte van die invloed wat Ierland se moeilike politieke geskiedenis op die geboue en huise gehad het, het Schoeman Ierland as “’n besondere skoonheid” ervaar, alhoewel soms “primitief en vervalle”. Winters se ervaring en weergee van die ruimte is gevul met heimwee, merkbaar beïnvloed deur ’n soeke na Schoeman se Ierland en ’n soeke na Schoeman self. Vandaar haar hartseer tydens die besoek aan Muckross Abdy, haar emosionele ervaring by die taksusboom, en haar negatiewe weergee van Galway as toeristedorp. Die Ierse dagboeke van Schoeman is weliswaar van sy vroegste werke, maar sy besondere vermoë om met woorde te skilder is reeds in hierdie boeke sigbaar. Gevolglik lewer die twee boeke steeds ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, veral ten opsigte van die weergee van ruimtelike elemente in die skryfkuns.

Trefwoorde: Ierse dagboeke; literêre ruimte; Reise met Schoeman; ruimte; ruimtelike elemente; Karel Schoeman; konkrete ruimte; vergelykende ondersoek; Ria Winters

 

Abstract

An investigation into certain spatial elements in the “Irish diaries” of Karel Schoeman, with the book Reise met Schoeman (Travels with Schoeman) by Ria Winters as background

The purpose of this article is to analyse the use of spatial elements in the two “Irish diaries” of Karel Schoeman – Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966) (Report from afar: An Irish diary) and Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (1968) (Of a distant island: A second Irish diary) – by comparing them to the descriptions of the same elements in the book by Ria Winters, Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer (2020) (Travels with Schoeman: In the footsteps of the author).

Karel Schoeman travelled to Ireland in 1961 to enter the noviciate to become a monk. He lived in Killarney and Galway, both on the southwestern side of Ireland, among mountains and rivers that make this area particularly beautiful. It was Schoeman’s descriptions of this area and his exceptional observations of nature and buildings that motivated Ria Winters, in 2018, after Schoeman’s death in 2017, to undertake a trip to Ireland with the aim of visiting the places that Schoeman described in his Irish diaries. After her visit, she documented her experiences, and the book was published in 2020.

In this article we examine the spatial depiction of specific elements in both authors’ books, with the aim of determining how the same spatial elements are described in the context of the time that passed between the writing of the two works. Schoeman’s two books are filled with historical descriptions of Ireland, distinctive observations about buildings and nature, and comments about the people he came into contact with during his stay. Only those places and buildings that Winters visited in Ireland, specifically because Schoeman described them in his Irish diaries, were chosen for discussion in this article.

The research question is, therefore, “How different or similar are the spatial descriptions of the places in Ireland that both Schoeman and Winters visited?”. The question was investigated by first undertaking a study of spatial and spatiotemporal elements in the context of literature. The influence of time difference and passage of time in the context of this article was studied. Then, we investigated whether there was a noticeable difference in the descriptions of these spaces in the two authors’ books. Finally, we determined the extent to which the passage of time – in this case the time between 1961 up to and including the publication of Winters’ book in 2020 – influenced her spatial depiction.

This research took place from an explanatory, constructivist paradigm, and was carried out as investigative research using a comparative research method. This approach meant we could search the text for patterns and similarities, which we used to organise and analyse the data, and from which we made inferences regarding the research objective.

The spatial theories of Ryan (2014) and Kort (2004) were used to create a framework to analyse certain spatial aspects in the books. The framework was supplemented by the spatial elements used by Lefebvre (1991), Bachelard (1963), Bakhtin (1982) and Harvey (1994; 2004), with the aim of obtaining a complete view of how spatial elements are used in the text. Based on these theories, spatial and temporal aspects were divided into three categories to create the framework according to which the texts were analysed, namely:

  • The space where the narrative takes place;
  • The space as depicted by the author in the narrative; and
  • The space as the reader of the narrative experiences it.

The above three categories were used to analyse and compare the following spatial elements in the books by Winters and Schoeman:

  • Killarney (Cill Airne) and various places in Killarney, which include Muckross House – a mansion in Killarney which is currently a museum; Muckross Abbey or the old Friary House, a ruin outside Killarney; and the New Noviciate and the Killarney church, where Schoeman started his training in 1961. Schoeman describes Killarney as a quiet stone town without neon lights and advertising; Winters experienced Killarney as a busy tourist town full of billboards. Schoeman describes Muckross House as an old house, while Winters describes it as an enormous, showy mansion. According to Schoeman, the Old Noviciate is a modest stone building, while Winters describes it as an impressive building. Schoeman describes the New Noviciate as a stone mass; Winters describes it as a large, powerful building.
  • Both authors describe Galway (Gaillimh), where Schoeman lived before returning to South Africa in 1964, as an old-fashioned city with shabby houses and neglected paths. According to Winters, the commercial growth of Galway has made it a fair crowded with tourists and, as a result, her description of contemporary Galway is somewhat negative.
  • Schoeman noticed the many other colours of Ireland between the green and grey, the fields with sheep and cattle and the whitewashed thatched farmhouses. We extracted the words house, houses, roads, streets and lanes, as spatial elements, from the texts and analysed them to compare how Winters experienced these elements in contrast to the way Schoeman described and experienced them in 1961, up to and including 1964.

From the comparison it seems clear that Schoeman experienced Ireland as idyllic, which was possibly inspired by his spiritual growth during those years. Despite the influence that Ireland’s difficult political history had on the houses and other buildings, Schoeman experienced Ireland as “a particular beauty”, though sometimes “primitive and dilapidated”. Winters’ experience and rendering of the space is characterised by homesickness, and she was markedly influenced by a search for Schoeman’s Ireland, and a search for Schoeman himself; hence, her sadness during the visit to Muckross Abbey, her emotional experience at the yew tree, and her negative portrayal of Galway as a tourist town. Although the environments left the same impression on both authors (the hazy mountains, the meadows, the gardens and plants), in contrast to Schoeman’s description, Winters indicates the influence of the economic boom and the growing tourism mindset, which she experienced as negative. The influence of the passage of time (57 years) and the socio-economic progress is clear in the two texts, while Winters’ emotional search was found to influence her experiences and her descriptions of the spatial elements Schoeman described.

Keywords: abstract space; comparative investigation; concrete space; Irish diaries; literary space; Reise met Schoeman; Karel Schoeman; space; spatial elements; Ria Winters

 

1. Inleiding

Ná Karel Schoeman se dood in 2017, het Ria Winters ’n reis na Ierland onderneem met die doel om dié plekke waarvan Schoeman in sy twee Ierse dagboeke – Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966) en Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (1968) – geskryf het, te besoek. Na aanleiding van dié reis het sy haar ervarings beskryf en haar boek – Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer (2020) – is in 2020 gepubliseer. In hierdie artikel ondersoek ons die ruimtelike uitbeelding van spesifieke elemente in beide skrywers se boeke met die doel om te bepaal hoe dieselfde ruimtelike elemente beskryf word in die konteks van die tyd wat tussen die skryf van die werke verloop het. Schoeman se twee boeke is gevul met geskiedkundige beskrywings van Ierland, sy eiesoortige waarnemings oor geboue en die natuur, en enkele opmerkings oor die mense waarmee hy tydens sy verblyf in Ierland kontak gemaak het. Slegs dié plekke en geboue wat Winters spesifiek in Ierland gaan besoek het omdat Schoeman dit in sy Ierse dagboeke beskryf het, is gekies om in hierdie artikel te bespreek.

In sy outobiografiese Die laaste Afrikaanse boek: Outobiografiese aantekeninge skryf Schoeman (2002:307, 312) dat hy as elfjarige seuntjie reeds tot die Katolisisme aangetrokke gevoel het. Hy het wyd oor die Katolieke Kerk begin lees, en word in so ’n mate deur die geestelike skrywers Merton en Marmion beïndruk dat hy besluit om ’n monnik te word (Schoeman 2002:317). Ná sy opleiding by die Fransiskane in Pretoria, word hy in Oktober 1961 na Ierland gestuur om die novisiaat by die Broederhuis te Killarney te deurloop (Schoeman 2002:325).

Schoeman (2002:328) beskryf die Ierland van 1961 as “die produk van sewe eeue se ononderbroke onderdrukking en uitbuiting deur die Engelse”. Gaeliese Ierland is in die 12de eeu deur Engeland ingeval en verkeer deur die eeue in ’n konstante stryd met die Engelse bewind. In 1801 word Ierland deel van die Verenigde Koninkryk, en die eeu daarna word gekenmerk deur die wrede onderdrukking van die Iere, veral die Ierse boere. Ná die Ierse vryheidsoorlog (1919–1921) word die eiland in twee verdeel, Ierland in die suide en Noord-Ierland, wat steeds deel van die Verenigde Koninkryk is (Royal 2012:94). Killarney en Galway, die twee plekke waar Schoeman as novise gaan woon het, is aan die suidwestelike kant van Ierland geleë, tussen die berge en riviere wat van dié gebied so ’n besondere mooi landskap maak.

  • Killarney is ’n dorpie in die suidweste van Ierland, omring deur heuwels, landerye en strome. Dié dorp het sedert die vroeë Ierse geskiedenis ’n belangrike deel van die Ierse beskawing gevorm, en het verskeie kastele, katedrale en antieke geboue wat daarvan ’n gewilde toeriste-aantreklikheid maak. Killarney sluit ook Innisfallen in, ’n eiland waar die ruïne van die Innisfallen Abdy, wat reeds in 640 gebou is en tot en met 1594 bewoon is, steeds gesien kan word. Verskeie ander kloosters en kerke is ook in Killarney te sien, waaronder die ruïne van die Muckross Abdy en die Fransiskaanse Broederhuis en kerk (Killarney 2021).
  • Schoeman word in 1963 vanaf Killarney na Galway vir verdere studie oorgeplaas. Galway is ’n hawestad aan die weste van Ierland, geleë teen die Galway-baai. Die stad ontstaan in ongeveer 1124 rondom die fort van die Koning van Connacht en ontwikkel oor die jare tot ’n gesogte handelspos weens die maklike toegang tot die eiland vir skepe. In Galway het Schoeman in ’n “drieverdiepinggebou agter die hoë muur op ’n uitgestrekte perseel aan die buitewyke van die stad” gewoon (Schoeman 2002:342).

Schoeman was sedert sy kinderjare ’n alleenmens (Schoeman 2002:124), en het nie maklik met mense gekommunikeer nie. Die novisemeesters het begrip vir sy persoonlikheid getoon en hom toegelaat om tyd in die novisiaatsbibliotekie te spandeer – hier kon hy sy studie van Ierland se geskiedenis, wat reeds vroeër, in Pretoria, ’n aanvang geneem het, voortsit. Die novisemeesters het Schoeman ook toegelaat om ’n dagboek te hou (Schoeman 2002:312; 328). In dié boekie het hy aantekeninge uit sy geestelike leesstof gemaak, sy indrukke van die land opgeteken en notas geskryf oor die daaglikse bedrywighede in en om die klooster. Hy skryf dat die dagboek vir hom ’n ontvlugting geword het, ’n eensydige gesprek met sy Suid-Afrikaanse volksgenote, notas wat hy nie noodwendig sou wou publiseer nie. Tóg publiseer hy later uit hierdie dagboek die twee Ierse dagboeke: Berig uit die vreemde (1966), en Van ’n verre eiland (1968). Beide dié boeke is outobiografiese reisbeskrywings waarin hy aan “ál my mense” (Schoeman 1966:5) verslag lewer oor sy ontdekkings en indrukke van Ierland. Schoeman skryf dat hy nooit weer na dié twee boeke wou kyk nie, omdat hy van mening was dat dit “oordrewe positief” geskryf is, met “eensydige optimisme en die gevolglike oppervlakkigheid” (Schoeman 2002:328; Burger 2003:10). Kannemeyer (1983:530) beskou die boeke egter as ’n “verkenning van die Ierse geskiedenis, die ‘siel’ van die volk en ’n besonder gevoelige waarneming van die alledaagse gang van die natuurdinge: die mistige herfs, die winter met sy koue, die grysheid van die dae en die dikwels bedrieglike somer”.

Dit is hierdie ruimtelike beskrywings, en Schoeman se fyn waarnemings van die natuur en geboue in Ierland, wat Ria Winters in 2018 motiveer om die “verlede deur die plekke en geboue te besoek waar hy geleef het om sodoende ’n beter begrip van sy wêreld te kry” (Winters 2020:13). Sy besef dat hulle waarnemings verskillend is, eerstens as gevolg van die ouderdomsverskil, omdat die plekke en die gedrag van die mense oor tyd verander het, en veral, gemeet teen Schoeman se oplettendheid, die verskil tussen hulle wysheid en filosofiese insigte (Winters 2020:13). Sy noem dat sy Schoeman se reise en werke vanuit ’n “sekulêre perspektief met ’n spirituele inslag” (Winters 2020:15) beskou, en dat sy deur haar tekste, wat ’n “romantiese toon” bekom het, Schoeman se werke vanuit haar perspektief met ander wil deel. Winters gee in haar boek haar waarnemings en indrukke van sommige van hierdie plekke op “impressionistiese wyse” weer (Winters 2020:14; 15) deur dié spesifieke plekke te beskryf soos sy dit waarneem, deur ’n aantal illustrasies, en deur haar assosiasies met Schoeman se beskrywings van sekere plekke te verwoord (Winters 2020:13). Winters noem verder dat haar boek haar eie interpretasie van Schoeman se gedagtes en woorde is, dat haar reis ’n “speurtog” na Schoeman, “Suid-Afrika se grootste romansier”, is (Winters 2020:16). Het Winters daarin geslaag om deur haar reis en die beskrywings van die plekke wat sy besoek het, Schoeman beter te verstaan?

Ierland se natuurskoon het Schoeman diep geraak: sy intense belewing van die omgewing in en om beide Killarney en Galway word breedvoerig in die Ierse dagboeke beskryf, op so ’n wyse dat die leser ’n werklikheidsgevoel van die omgewing, die geboue, die plante en die kleure van die omgewing beleef. Winters gee in haar boek haar waarnemings en indrukke van sommige van hierdie plekke op “impressionistiese wyse” weer (Winters 2020:14; 15) deur dié spesifieke plekke te beskryf soos sy dit waarneem, deur ’n aantal illustrasies, en deur haar assosiasies met Schoeman se beskrywings van sekere plekke te verwoord (Winters 2020:13).

Vir hierdie artikel sal die ruimtelike beskrywings vanuit die twee Ierse dagboeke, waar moontlik, vergelyk word met Winters se beskrywing en belewenis van dieselfde elemente. Uit hierdie ondersoek sal gepoog word om te bepaal tot watter mate die verskil in tyd (ten opsigte van die jare wat verloop het en weens die ouderdomsverskil tussen die skrywers) die ruimtelike beskrywings beïnvloed het.

Die navorsingsvraag is dus: Hoe verskillend of ooreenstemmend is die ruimtelike beskrywings van die plekke in Ierland wat beide Schoeman en Winters besoek het? Die vraag sal ondersoek word deur antwoorde op die volgende vrae te soek:

  • Wat behels ruimtelike en tydruimtelike elemente in die konteks van die letterkunde?
  • Wat behels tydsverskil en tydsverloop in die konteks van hierdie artikel?
  • Is daar ’n merkbare verskil in die beskrywings van dieselfde ruimtes deur die twee skrywers?
  • Tot watter mate het die verloop van tyd – in dié geval die tyd tussen 1961 tot en met die skryf van Winters se boek in 2020 – ruimtelike uitbeelding beïnvloed?

 

2. Navorsingsplan

Hierdie navorsing het geskied vanuit ’n verklarende, konstruktivistiese paradigma, en is as ondersoekende navorsing met behulp van ’n vergelykende navorsingsmetode uitgevoer. Daardeur kon patrone en ooreenkomste ten opsigte van die ruimte en tydruimtelikheid in die literêre tekste – Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966); Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (1968); en Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer (2020) – bestudeer en ontleed word (Bertram en Christiansen 2014:117).

Vergelykende navorsing verwys na ’n gemengde navorsingsmetode waar ten minste twee dinge – byvoorbeeld voorwerpe, idees, skrywes – deur die integrering van kwalitatiewe en kwantitatiewe data vergelyk en gekontrasteer word met die doel om te wys hoe hierdie “dinge” óf ooreenstemmend, óf verskillend is (Goodrick 2014:5; Walk 2007:2). Hierdie ooreenkomste en verskille kan slegs deur deeglike ontleding geïnterpreteer, evalueer en vergelyk word om die navorsing teoreties van belang te maak (Calandra 2020:1; Pickvance 2001:17).

Rekenaartegnologie is gebruik om sleutelwoorde te vind en te groepeer. Dit sluit in elemente van die omvattende ruimte van Killarney en Galway (geskiedkundige beskrywings is uitgelaat), geboue, waaronder Muckross House, die ou Broederhuis (insluitende die name Oir Bhealach en Muckross Adby wat ook na die ou Broederhuis verwys), die nuwe Broederhuis (wat ook as die Fransiskaanse Broederhuis bekend staan) en die kerk in Killarney. Verder is inligting onttrek wat die woorde “pubs”, “kroeg”, of “kroeë” bevat. Die kriterium huis/huise/huisies het baie inligting opgelewer en gevolglik is beskrywings waarin die woorde broederhuis, pakhuis, stadhuis, drankhuis, koningshuis, washuis, herehuis, ouetehuis, wapenhuis, buitehuis, ensovoorts voorkom, uitgelaat en is slegs beskrywings van huise in die dorpe of op plase onttrek. Hierdie groep is verder verfyn om te vergelyk hoe plaashuise, vervalle huise en dorpshuise beskryf word. Laastens is beskrywings van paaie/strate/lane/weë in enkelvoud en in meervoud onttrek. Omdat Schoeman se beskrywings ten opsigte van hierdie element omvattend is (387 beskrywings is gevind), is Winters se 22 beskrywings as basis vir die vergelykende ontleding gebruik.

 

3. Teoretiese konteks: Ruimte

Aangesien hierdie navorsing ’n ondersoek na die aanwending van ruimtelike elemente in die Ierse dagboeke van Schoeman teenoor die ruimtes in die boek van Winters ten doel het, is dit belangrik om die teoretiese agtergrond van ruimte as literêre begrip te beskryf.

Ruimte het meer as een betekenis en bevat vele komplekse fasette. Harvey (2004:1) beskou ruimte byvoorbeeld as een van die mees gekompliseerde begrippe in die taalkunde en skryf dat, indien ’n mens ruimte probeer definieer, jy verlore kan raak in ’n “labyrinth of complications”. Harvey is gevolglik van mening dat die betekenis van ruimte altyd afhanklik sal wees van die konteks waarin dit gebruik word. Soos deur Ingham (2007:73) en Foucault (1986:23) verduidelik word, sluit ruimte ook uiterlike en innerlike ruimtes, openbare en private ruimtes, familie- en sosiale spasies, statiese en dinamiese ruimtes, en psigiese, kulturele, bruikbare, werk- en ontspanningsruimtes in. Ruimte verwys dus nie net na plek of omgewing nie, maar ook na ’n groot verskeidenheid vorme, kringe of dimensies (Brink 1989:118).

In die letterkunde verwys ruimte na ’n metaforiese spasie; die omgewing waarin die karakters van ’n narratief leef en waarin die aksie van ’n narratief plaasvind (Dennerlein 2019:1; Ryan 2014:2). Die aanlyn blad, Literêre terme en teorieë (L.T.T. 2021), definieer narratiewe ruimte as die ruimtelikheid van die fiktiewe wêreld waarin die epiese handeling plaasvind. Brasher (2017:180–2) beskryf narratiewe ruimte as “the space of the story world, or the spaces and places that make up the physical environment in which the characters of a narrative live and move”.

Ryan (2014) vergelyk die verskil tussen narratiewe ruimte en konkrete ruimte met die ruimte van ’n verhoog (narratiewe ruimte), en die ruimte buite en rondom die verhoog (die konkrete ruimte). Ryan verdeel hierdie narratiewe ruimte in vyf onderskeidende en soms oorvleuelende kategorieë:

  • Ruimtelike rame (“spatial frames”) – die onmiddellike omgewing van die gebeure en die plekke waarin die narratief plaasvind en waarin ’n karakter beweeg. ’n Ruimtelike raam kan op konkrete ruimte of verbeelde ruimte geskoei wees.
  • Agtergrond (“setting”) – die algemene, sosiaalhistoriese, of geografiese omgewing waarbinne die handeling plaasvind. Volgens Britannica (2021) is agtergrond die plek en tyd waarin die aksie van ’n narratief plaasvind, en dit sluit die fisiese en sosiale omgewing in.
  • Storieruimte (“story space”) – die ruimte wat direk met die storie/verhaal verband hou soos uitgebeeld deur die aksies en gedagtes van die karakters. Dit sluit in al die ruimtelike rame en al die ruimtes wat in die teks genoem word.
  • Narratiewe wêreld (“narrative (or story) world”) – Hierdie ruimte sluit aan by die storieruimte en is gegrond op die leser se verbeelding, kennis van kultuur en die wêreld as ’n “coherent, unified, ontologically full and materially existing geographical entity” (Ryan 2014:3).
  • Narratiewe heelal (“narrativization”) – die ruimte soos uitgebeeld in die narratief is die wêreld en al die nie-feitelike wêrelde wat deur die karakters gekonstrueer word in die vorm van gelowe, wense, vrese, spekulering, hipotetiese denke, drome en fantasieë.

Uit Ryan se teorie spruit daar ’n duidelike onderskeid tussen konkrete ruimte en abstrakte ruimte (De Kock 2014:137; Bezuidenhout 2013:21):

  • ’n Konkrete ruimte is die fisiese plek of omgewing waarin die karakters woon en waarin die handeling op ’n gegewe tyd plaasvind (Du Plessis 2013:7). Hierdie konkrete plek kan ’n huis, ’n werkplek, ’n plaas, ’n kamer, ’n berg, of enige ander fisiese plek wees. Brink (1989:118) en Ryan (2014) noem hierby aspekte van die omgewing op, byvoorbeeld die landskap, weerstoestande, klimaat en seisoene, en kulturele aspekte, soos kleredrag, kuns, musiek, objekte, ensovoorts. Volgens Bachelard (1994:38) het konkrete ruimte ’n verrykende impak op die gemoed, gees en optrede van die mens, omdat die mens kwalifiserende en simboliese waarde aan konkrete plekke heg. Die konkrete ruimte word nou verweef met die mens se abstrakte belewenis van die ruimte: ’n huis, byvoorbeeld, huisves ’n mens se drome, herinneringe, ideale en ervarings, sodat die huis en emosies één ervaring word waartussen die mens nie sonder doelbewuste denke kan onderskei nie (Bezuidenhout 2013:21).
  • Abstrakte ruimte is die ruimte wat deur die skrywer geskep of gebruik word en waarin die gebeure van die narratief plaasvind. Dié ruimte behels, in die woorde van Brink (1989:119–21), “karakters se kulturele, sosiale, religieuse, politieke, ideologiese, historiese en ekonomiese ervarings, psigiese ervarings, herinneringe, drome en ideale”. Al dié faktore werk mee om die werklikheidsbeeld en identiteit van die karakter te bepaal – wat, volgens Brink, op sigself deel van die abstrakte ruimte is, en wat direk verband hou met die menslike ervaring. Hierdie band wat die abstraksies van ruimte met die karakters se ervarings het, dui op die onskeibaarheid van karakter en ruimte, handeling en tyd. Ruimtes en objekte bestaan in die epiek nie ter wille van hulleself nie, maar ter wille van die abstrakte betekenis wat dit het (L.T.T. 2021).

Die ruimtelike teorie van Ryan, soos hier bo bespreek, sluit aan by die teorie van Wesley A. Kort (2004). Kort (2004) ondersoek die wisselwerking tussen fisiese ruimte, denkruimte en sosiale ruimte in die letterkundige narratief (Rivers 2007:270; Bezuidenhout 2013:15), en ontwikkel die teoretiese raamwerk “human place-relations” waarin hy aandui hoe begrip van, en interaksie met plek die narratief beïnvloed. Kort verdeel hierdie “mens–plek-verhoudings” in drie groepe: kosmies of omvattend (“cosmic or comprehensive”), sosiaal of polities (“social or political”), en persoonlik of intiem (“personal or intimate”) (Lucas 2005:145):

  • Omvattende/kosmiese ruimte sluit die natuur en alle natuurlike aspekte in, byvoorbeeld weersomstandighede, natuurelemente en seisoene, die see, die land, die lug, en lewende wesens, soos plante en diere (Bezuidenhout 2013:17). Kort (2004:154) verkies “omvattende ruimte”, eerder as “natuur”, om ook menslike ingryping in die natuurlike ruimte in te sluit. Dit sluit met ander woorde herskepte landskappe, soos saailande, tuine, parke, wandelroetes, plantasies, ensovoorts, in.
  • Lefebvre (1991, soos aangehaal deur Fuchs 2019:132) stel dat die mens self sosiale ruimte en sosiale verhoudings skep. Uit hierdie gedagte vloei die sosiale en politieke ruimte soos deur Kort beskryf. Die sosiale en politieke ruimtes sluit alles in wat deur die natuur en deur die samelewing geskep word, byvoorbeeld lewende wesens, dinge, voorwerpe, tekens en simbole. Volgens Kort (2004:169–70) skep sosiale ruimte in ’n narratief die spanning tussen die individu en die breë samelewingstrukture. Sosiale ruimte, soos deur Kort beskryf, fokus dus op sosiaalpolitieke omstandighede, die politieke domein as openbare ruimte (Du Plessis 2013:163); op sosiale stelsels soos kapitalisme, kolonialisme, patriargie en hetero-normatiewe ordes (Bezuidenhout 2013:14); op huishoudelike omstandighede, klasongelykheid, genderverhoudings, die apartheidsbestel, en sosiaalekonomiese en kulturele faktore (Brink 1989:119).
  • Kort (2004) baseer sy beskrywing van intieme/persoonlike ruimte op die klassieke studie van Bachelard (1963), waarin Bachelard die wedersydse verhouding tussen mens en intieme ruimtes ondersoek – spesifiek die ruimtes binne ’n huis. Bachelard beskryf “domestic spaces both internally and externally, from cellar to garret, the implication of corners, keys and locks, spaces within furniture, and spatial shapes such as the nest and the shell” (Bachelard 1994:14–5). Viljoen (2002:3) skryf dat private ruimtes ook die liggaam, familie, persoonlike lewe, intimiteit, passie, versorging, toevlugsoord, reproduksie en die innerlike insluit.

Vir Kort (2004) gaan dit dus oor hoe die literêre narratief met die omvattende, sosiale en intieme ruimtes omgaan en hoe ruimtelikheid in “plek” omskep word. Hierdie ruimtelikheid of “plek” word beïnvloed deur kultuur en deur tyd (Ravysts 2006:146).

  • Kultuur is “die algemene kernwaardes waarvolgens ’n groep mense handel” (De Kock 2014:95). Kultuur is dus onlosmaaklik deel van die mens se ruimtelike ervaring en dit sluit dié dinge in wat die mens elke dag doen en die wyse waarop mense in die wêreld waarin hulle beweeg sin maak (Du Plessis 2013:7; De Kock 2014:96). Greyling (1984:16, 57) noem dat kulturele ruimte ook die gewoontes, wette, sosiale rolle en openbare verwagtings van die mens insluit, met die gevolg dat kultuur in omvattende, sosiale, persoonlike, konkrete en abstrakte ruimtes uitgebeeld kan word.
  • Soos reeds genoem, bestaan elke letterkundige werk uit die basiese struktuurelemente karakter, handeling, ruimte en tyd. Narratiewe ruimte is nou verbind aan tyd: alle gebeure vind in ’n sekere tyd plaas, hetsy in die verlede, hede of toekoms, of dit verwys na seisoene, die tyd van die dag of nag, of, byvoorbeeld, na aankoms of vertrek (Ravysts 2006:146; Greyling 1984:16). Die verbintenisse tussen ruimte en tyd, die tydruimtelikheid, staan as chronotopieë bekend (Van Eck 1986:340; Ravysts 2006:147). Narratiewe verbeelding as letterkundige opvatting word aan die Russiese filosoof Mikhail Bakhtin toegeskryf. Bakhtin (1982, soos bespreek in Ravysts 2006:147), toon aan hoe chronotopieë die epiek deur eeue kenmerk:

In the literary artistic chronotope, spatial and temporal indicators are fused into one carefully thought-out, concrete whole. Time, as it were, thickens, takes on flesh, becomes artistically visible; likewise, space becomes charged and responsive to the movements of time, plot and history.

Tyd en ruimte is dus, volgens Bakhtin, nou verwant (Ravysts 2006:148) en albei kan die wyse waarop ’n skrywer ’n narratief weergee beïnvloed. Verder beklemtoon Bakhtin dat chronotopieë die boustene van ’n verhaal vorm, omdat die leser se verbeelding – die beeld wat die leser oor die spesifieke gebeure vorm – deur tyd en ruimte georden en verander word (Ravysts 2006:148).

Die voorafgaande bespreking van narratiewe ruimtelikheid en die ruimtelike teorieë van Ryan (2014) en Kort (2004) sal gebruik word om ’n raamwerk vir die ontleding van sekere ruimtelike aspekte in die twee Ierse dagboeke van Schoeman en die boek van Winters te skep. Die raamwerk word ook aangevul deur die ruimtelike elemente soos gebruik deur Lefebvre (1991, in Fuchs 2019), Bachelard (1963), Bakhtin (1982, in Ravysts 2006) en Harvey (1994; 2004), met die doel om ’n volledige beeld van die aanwending van ruimtelike elemente uit die teks te verkry.

Vir die doeleindes van hierdie artikel word narratiewe ruimte in drie kategorieë verdeel:

  1. Die ruimte waarin die narratief plaasvind: Hieronder kan gelys word ruimtelike rame (waar die gebeure plaasvind), kulturele, sosiaalhistoriese en geografiese agtergrond, die konkrete ruimte waarin die verhaal afspeel en, laastens, die omvattende, kosmiese ruimte wat die natuur en omgewing insluit. Die tekste wat vir die doeleindes van hierdie artikel ontleed word, is geskryf met Ierland as agtergrond, met die subruimtes Killarney en Galway. Omvattende ruimte sluit in beskrywings van die natuur, die geboue en die omgewing soos deur beide skrywers bespreek.
  2. Die ruimte soos in die narratief deur die skrywers uitgebeeld: Hierdie aspek sluit in die storieruimte soos uitgebeeld deur die verteller (in dié geval die skrywer/s), die epiese ruimte (in dié geval kan sekere historiese gebeure wat vertel word hieronder ingedeel word), die abstrakte ruimte (soos deur die skrywer geskep om ’n verhaal te vertel), die sosiaalpolitieke, fisiese en konkrete ruimte (geskiedkundige feite, kulturele aspekte, sosiaalekonomiese aspekte, politieke feite en/of omstandighede), en ook die intieme en persoonlike ruimte (die persoonlike ruimtes van die verteller/skrywer wat ook die verteller se emosies kan bevat). Die geskiedkundige beskrywings wat die skrywers verskaf, sal nie ontleed word nie, maar slegs waar nodig ter illustrasie genoem word.
  3. Die ruimte soos die leser van die narratief die ruimte beleef: Dit behels die narratiewe wêreld en/of narratiewe heelal soos die leser dit deur die lees van die teks beleef. Hierdie ruimte is gegrond op die leser se verbeelding, kennis, kultuur, vrese, drome, geloof, ensovoorts, en hierdie belewenis/se is gebaseer op die manier waarop die skrywer die narratief geskep het. Die wyse waarop die skrywers van hierdie artikel die ruimtelike beskrywings beleef het, sal in hierdie kategorie weerspieël word.

Samevattend kan hierdie drie kategorieë en die toepassing daarvan deur die volgende raamwerk uitgebeeld en verduidelik word. Die invloed en belang van tyd (wat tydsverloop, tydsverskil en tydruimtelikheid insluit) word ook deur die raamwerk aangedui.

Figuur 1. Narratiewe ruimte soos ondersoek in hierdie artikel
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Op grond van die teorieë van literêre ruimte soos deur Ryan (2014) en Kort (2004) beskryf, is ruimtelike en tydruimtelike aspekte in drie kategorieë ingedeel om die raamwerk hierbo te skep waarvolgens die tekste van die twee Ierse dagboeke van Schoeman en die boek van Winters ontleed is. Omdat die belang van tyd onlosmaaklik deel van die narratiewe in al drie tekste vorm, geskied die ontleding deurgaans teen die agtergrond van tydruimtelikheid, wat tydsverloop en tydsverskil insluit. Die belang van tydsverloop word in die vergelykende tabel in paragraaf 7 uitgebeeld.

 

4. Ruimte en tydruimtelikheid1

Volgens Bachelard (1994:38) het konkrete ruimte ’n verrykende impak op die gemoed, gees en optrede van die mens, omdat die mens kwalifiserende en simboliese waarde aan konkrete plekke heg. Op dieselfde wyse heg die leser waarde aan ruimtelike en tydruimtelike elemente in ’n teks. In die voorafgaande afdeling is verduidelik dat ruimtelike elemente verskillende ruimtes kan insluit, soos onder andere konkrete ruimte, fisiese ruimte, sosiaalpolitieke agtergrond, kulturele agtergrond, intieme ruimte en persoonlike ruimte. Emosionele ervarings of beskrywings vorm deel van die skrywer se intieme ruimte. Tyd speel in alle ervarings en ruimtelike elemente ’n rol, en as gevolg van die tydsverloop wat by die skryf van hierdie drie boeke van belang is, sal tydsverloop en tydsverskil kortliks verduidelik word.

Karel Schoeman is in Oktober 1939 gebore (81 jaar voor die publikasie van Winters se boek) en gaan in 1961 as jong man van 21 na Ierland. Hy publiseer die twee Ierse dagboeke in onderskeidelik 1966 en 1968. Ria Winters word in November 1959 gebore en besoek Ierland vir die eerste keer in 1979. Sy is 20 jaar jonger as Schoeman, maar beide se eerste indrukke van Ierland word op ongeveer dieselfde ouderdom ervaar, hy was 21 en sy was 20. In ’n poging om meer oor sy lewe te leer, besoek Winters Ierland ná Schoeman se dood in 2018, wat 57 jaar ná sy eerste besoek aan Ierland plaasvind, en onderskeidelik tussen 52 en 50 jaar ná die publikasie van die Ierse dagboeke. Die opsomming van sy verblyf in Ierland in Die laaste Afrikaanse boek (2002:328–51) is gebaseer op sy notas en herinneringe 38 tot 41 jaar na sy besoek aan Ierland wat in hierdie dagboeke beskryf word. In die 57 jaar sedert sy verblyf in Ierland tot met Winters se besoek aan Ierland, het daar noodwendig baie veranderinge in Ierland plaasgevind – van hierdie veranderinge sal in die ontleding hier onder uitgelig word. As algemene waarneming kan egter gesê word dat, gedurende dié 57 jaar, die politiek en die kultuur noodwendig verander het, asook die omgewing: nuwe geboue is gebou en ou geboue is gesloop of het in onbruik verval, nuwe paaie is gebou, die landskap het verander: bome en plante het gegroei, is dood en is verwyder, nuwes is geplant of het gegroei, parke is uitgelê en nuwe lane en strate en woonbuurte is gebou. Ekonomiese veranderinge het ook plaasgevind en toerisme het uitgebrei. Al hierdie veranderinge het noodwendig ook ’n invloed op Winters se ervaring en die manier waarop sy die ruimtes beskryf.

Hier onder verskyn ’n samevattende uitleg van die tydsverloop sedert Karel Schoeman in 1939 gebore is, tot en met die publikasie van Ria Winters se boek in 2020.

Figuur 2. Ontleding van die jare 1939 tot 2020
Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Soos hier bo uitgebeeld, het ongeveer 57 jaar tussen Schoeman se eerste besoek aan Ierland en Winters se besoek aan Ierland in 2018 verloop. Winters noem dat, in die korrespondensie tussen haar en Schoeman, die verskil tussen die ou en die moderne Ierland soms ter sprake gekom het. Sy skryf dat Ierland gedurende die 1990’s ’n tyd van ekonomiese voorspoed beleef het en daarmee saam het vele veranderinge en uitbreidings plaasgevind wat die Iere gevolglik ook in wêreldburgers verander het. Sy skryf: “Karel Schoeman ken daardie Ierland nie en ek moes gaandeweg in ons korrespondensie merk dat hy dit ook nie wil ken nie. Die afstand in tyd was té groot. Die skisma het sy werk gedoen. Die Ierland van Karel Schoeman het ’n soort mite geword.” (RW74).

Soos reeds genoem, gaan Schoeman na Ierland om as monnik opleiding te ontvang. Sy inspirasie was nie Ierland self nie, maar die kloosterlike lewe (Schoeman 2002:316). Schoeman skryf dat hy in 1961 in Dublin, Ierland, in reënweer aangekom het en met die neerstryk van die vliegtuig sien hy groen velde, “wuiwende bome en rustige strate, huise, heinings, mure” (KSa7), in die “teerheid van die Ierse lig”. Ten spyte van die voortdurende reën wat hy sedert sy aankoms ervaar het, ervaar Schoeman Ierland as ’n land van stilte, ’n wye land met skoonheid wat “nooit getem of vasgepen kan word nie” (KSb141). Die armoede, die agterlikheid en die politieke toestand van Ierland het hy misgekyk omdat hy oorweldig was deur ’n land wat “volslae Katoliek” was, ’n land met “groot en opsigtelike kerke, kloosters en liefdadigheidsinrigtings” (Schoeman 2002:328).

Winters, aan die ander kant, is as jong meisie impulsief deur mooi foto’s na Ierland gelok: “foto’s van groen landskappe, geselsende mense, son wat skyn deur uitbundige wolke” (RW19). Sy besoek Ierland in 1979 vir die eerste maal, 15 jaar ná Schoeman in 1964 weer na Suid-Afrika teruggekeer het. Sy beskou die Ierland van 1979 dieselfde as wat die Ierland van 1964 moes gewees het: ’n “land van konserwatisme, volkse gewoontes, grou weer en groen klip”. Sy onthou (40 tot 41 jaar ná haar eerste besoek) die reën, die grys wolke, ’n duistere, vreemde landskap met geel struike in ’n klam duisternis van donkergroen, met slingerende paadjies en velde met klipmuurtjies (RW21). Winters, wat met ’n Ier getroud is, beskryf “haar” Ierland as wild en woes; ’n plek van wasige heuwels, klipperige bulte, ou forte en bouvallige kastele (RW23).

Tydsverloop en ouderdomsverskil sou noodwendig die neerpen van beide skrywers se eerste ervarings beïnvloed het, daarmee saam ook die emosionele ervarings van ’n jong Schoeman teenoor Winters se volwasse herinneringe wat sy eers na vele jare opteken. Haar besoek aan Ierland in 2018, wat sy doelbewus onderneem om in Schoeman se spore te gaan loop, sou weer deur ’n ander tydruimtelikheid beïnvloed word.

 

5. Ruimtelike elemente soos gebaseer op Winters se “roete”

Winters volg ’n spesifieke “kaart of roete” (RW12) tydens haar besoek aan Ierland. Sy besoek Killarney en spesifieke plekke in en om Killarney, die Muckross House, die ou Broederhuis en die nuwe Broederhuis. Vandaar besoek sy Galway, waar Schoeman tot in 1964 gewoon het. Gedurende haar reis teken sy haar ervarings van hierdie plekke, asook haar waarnemings van die omgewing, op. Vervolgens sal hierdie plekke wat Winters besoek het, ondersoek word en gestel word teenoor enkele van Schoeman se ruimtelike beskrywings van dieselfde plekke.

5.1 Killarney/Cill Airne

En so het ek suidwaarts gekom waar die land geleidelik opswel tot blou bergreekse en die bome en struike weliger groei, en so het ek Cill Airne bereik, ’n grys stadjie tussen bome en berge waar ek – sou dit God behaag – die volgende jaar sal deurbring. (KSa17)

Op 29 Augustus 1961 arriveer Schoeman in Killarney – wat hy Cill Airne noem na die Ierse naam – by die Broederhuis “op ’n effense heuwel, langs die Fransiskaanse Kerk, aan die rand van Killarney” (RW26). Cill Airne beteken “die kerkie van die wilde-pruimboom” (KSa32), wat volgens Schoeman na die koms van die Christene na daardie deel van Ierland in die begin van die Keltiese era verwys. Die Cill Airne wat Schoeman beskryf, was ’n rustige, grys klipdorpie met smal huisies met grys leidakke, “dig aanmekaargeskaar” (KSa21). Verder was daar die Katedraal en Broederhuis, ’n paar kloosters, ’n markplein, ’n tegniese kollege, ’n skool en ’n sielsiekehospitaal (KSa31). Voorts beskryf Schoeman Cill Airne as ’n Ierse katedraalstadjie wat die middelpunt van die Ierse toeristebedryf was (KSa22): in die somer vol mense en busse, in die winter vredig en rustig; ’n gewone, onopgesmukte dorpie, “sonder neonreklame, aanplakbiljette en blêrkaste” wat dié wat lawaai soek, doods en vervelig sou vind (KSa106).

Winters (RW26–31) daarteenoor, beskryf Killarney (soos sy dit in 2018 beleef het), as ’n besige toeristedorp tussen mere en woude, met ou eike en taksusbome en ’n blou, wasige see in die verte. Deur die middedorp van Killarney loop Middeleeuse sigsagpaaie, behang met helder reklameborde en vol “toeriste met sonbrille en wit arms” (RW29). Rondom Killarney is daar nou ’n moderne snelweg terwyl busse steeds die ou, “slingerende smal hoofweg” rondom die dorp oorneem (RW26).

Schoeman beskryf ook die natuur rondom Killarney soos hy dit waargeneem het: die kerktorings tussen die bome, die silwer skittering van die mere, die berge donker en wasig onder wolke wat met reën gestreep is. As die novises gaan stap, sien hy die villas tussen die velde en koringlande, die kronkelgang van plaaspaaie, groen velde waar vetbeeste wei: “velde so blink en helder soos smarag” (KSa20), die landskap ’n mosaïekpatroon van groen, lae klipmuurtjies en velde wat goud met brem staan. Hulle stap gereeld oor die heuwel tussen die stekelrige brembossies deur en van bo sien hulle die groen deining van die landskap en wolke wat “aangeja kom en die berge gevlek word met die wisseling van sonskyn en reën” (KSa19).

5.1.1 Muckross House

Net buite Killarney, aan die oostelike kant van die Middemeer, is Muckross House – ’n villa met 65 kamers in die Engelse Tudorstyl gebou. “Vertonerig en selfbewus kyk die enorme herehuis oor die kortgesnyde grasperk uit”, langsaan lê die meer, vlak, “grys-blou en swyg” (RW30). Tans is die huis die middelpunt van die Killarney Nasionale Park. Winters noem dat sy nie in die huis was nie, maar dat sy “kan raai hoe die interieur lyk: hemelbeddens, Persiese tapyte, wit porseleinware met groen klawertjies, blink silwer, portrette aan die mure en kamerskerms in die slaapkamers wat met tonele uit die imperiale tyd beskilder is” (RW30).

Schoeman het in Mei 1961 na Muckross House gestap, “langs paaie waar die son in die lindebome gloei”, “deur die groen velde waar lammers wei agter die ooie aan” (KSa79), deur ’n “koel en vredige park” (KSa78), na ’n ou huis met baie vensters en baie skoorstene, omring deur grasvelde “sag en egaal soos ’n tapyt” (KSa79). Die huis het egter in stilte gelê, die blindings was neergetrek voor die vensters en die kamers was leeg. Schoeman skryf (in sy belewenis van die historiese tyd wat verstryk het) dat die huis ver van die dorp en alle mense lê, “ver ook van ons, jare en jare ver” (KSa79).

5.1.2 Ou Broederhuis/Oir Bhealach/Muckross Abdy

Vanaf Muckross House is Winters na die Muckross Abdy. Hierdie ruïne was die voorganger van die nuwe Broederhuis in Killarney wat die Fransiskane in die 19de eeu gebou het, en waar Schoeman in 1961 gaan woon het.

Winters beskryf die ruïne, die “oorblyfsels van die ou Broederhuis by Loch Leane” (as “Loch Lein” deur Schoeman gespel), as ’n “indrukwekkende stuk bouwerk”. ’n Groot gedeelte van die gebou is in 1652 deur die Britte verwoes, maar tog is die ruïne nie heeltemal bouvallig nie. Die statige vierkantige toring van die gietysterklok het bly staan, so ook die “hol gotiese venster wat die blou lug anderkant laat deurskyn” (RW31). Vanaf die “verhewe altaar” loop die kloostergang met “sy suile wat ’n uitsig op die hart van die klooster bied” (RW32), met pilare in pastelkleure van ligroos, sagte oker en vaalgrys waarop talle besoekers hulle name en datums oor die mure en grafstene “gekras” het (KSa66). Schoeman noem die ruïne op sy Ierse naam: Oir Bhealach, die klooster langs die oosterpad. Oir Bhealach is naby die kus van Loch Leane/Loch Lein geleë (KSa66), ’n beskeie klipgebou met ’n binnehoffie oorskadu deur ’n groot taksusboom (KSa69–70).

Winters (RW32) skryf dat hierdie taksusboom nie sommer ’n boom is nie, maar ’n groot boom; dik en fier en regop met ’n rooibruin stam en ’n spiraalvormige struktuur met takke in ’n omgekeerde driehoek bokant die mure. “Dis ’n eeueoue taksusboom wat die monnike op ’n tyd in die middel van hul gemeenskap geplant het.” Volgens Schoeman is daar ’n legende wat sê dat as iemand ’n tak van hierdie boom afbreek, die boom sal begin bloei en die mens sy lewe sal verloor (KSa70). Winters ervaar die besoek aan die boom as besonder emosioneel (intieme ruimte), nie net omdat sy vir die eerste keer ’n taksusboom sien nie, maar omdat dit dié spesifieke boom is, die boom wat Schoeman ook tydens sy verblyf in 1961 gesien het. Die foto’s wat sy van die boom neem, kan sy nie aan Schoeman stuur nie (RW32), wat die emosionele ervaring vir haar veral roerend maak. Winters ervaar dat die boom met haar praat, dat hy sê dat hy Schoeman gesien het, en dat sy nie hartseer moet wees nie (RW32). Hierdie spirituele ervaring bevestig veral dat Winters se ruimtelike ervaring beïnvloed is deur haar soeke na Schoeman se wêreld. 

Muckrose-ruïne was die voorganger van die nuwe Broederhuis in Killarney wat die Fransiskane in die 19de eeu gebou het.

5.1.3 Nuwe Broederhuis en kerk in Killarney

Vanaf die ruïne is Winters na die nuwe Broederhuis en die kerk wat uit Oir Bhealach se ou stene gebou is, ’n groot steenmassa “tussen die bome op die hoogte” (KSa94). Winters beskryf die geboue as “groot, grys en kragtige geboue” op ’n effense hoogte met 15 trappies verwelkomend agter ’n swart, gotiese hek (RW33). Die nuwe Broederhuis is gebou op die heuwel, die skapeheuwel, wat later die naam Martelaarsheuwel gekry het omdat verskeie Ierse leiers op hierdie heuwel, wat toe Cnoc na gCaorach geheet het, opgehang is (KSa32; RW26).

Winters ervaar die toneel binne die kerk as volmaak, die atmosfeer as suiwer (RW34): “Die grasieuse aansig van die enorme altaar, die twee sy-altare, die beelde en die warm, sobere skakerings van die eikehout, die hek waar Jesus aan die kruis die weg versper” gee aan haar ’n “rustige gevoel” (RW37). Die mosaïeke aan die sykante vertoon gotiese krulle, vermeng met Keltiese weefpatrone, die ontwerp “beheersd en kalm” (RW36). Hier kry die leser weer ’n blik op Winters se intieme ruimte, die stilte en rustigheid wat sy ervaar het, dra sy oor aan die leser deur die toneel as kalm en volmaak te beskryf.

Opvallend vir Winters is die groot brandskildervensters: “fyn ambagswerk van ligblou, donkerblou, pers en rooi straal deur vyf langwerpige ruite en drie rosetagtige boligte” (RW37). Sy ervaar dat die “dooie vensters lewe, die skaduwee trek oor die kristal, die hart brand” (RW36). Weer eens raak die leser deel van Winters se persoonlike ruimte, kan die leser haar verwondering aanvoel, die kleure so te sê sien skyn. Winters noem dat Schoeman nooit die brandskildervensters of die Keltiese mosaïeke genoem het nie, dalk omdat hy “in sy vroeë werke veral gevoelig was vir die invloed van landskappe en sosiale ruimtes en nie soseer vir die binnekant van geboue nie” (RW37).

Hierna besoek Winters die Broederhuis waar Schoeman en die novises “op die boonste verdieping van die gebou” (KSa18) gebly het. Dit blyk dat die woonhuis tans uitverhuur word en dat die biblioteek waarin Schoeman soveel ure spandeer het, as winkel gebruik word (RW38). Winters kon dus nie die gebou beleef soos dit in 1961 moes gewees het nie, maar beskryf enkele aspekte uit daardie tyd wat nog dieselfde blyk te wees: “Die trap wat na die ou Broederhuis op die boonste verdieping lei, die houtkoorbanke, die rooibruin vloerteëls, die vensters, die vyftig jaar oue sentrale verhittingselemente” (RW38). Schoeman skryf nie veel van die Broederhuis nie, maar soos Winters telkens noem, was dit die natuur wat hom opgeval het, die “dromende groen velde” agter die Broederhuis waar die beeste wei (KSa38), die varings op die heuwels, die kronkelende paadjies tussen die heinings en die “pers skynsel op die takke van die hegge” (KSa38). Die Broederhuis was tóg vir hom belangrik. Hy skryf dat, ná elke uitstappie, “keer ons terug huis toe, terug na die Broederhuis. Dit is waar ons hoort en waar ons wil wees” (KSa39).

Winters ervaar in die tuin van die Broederhuis iets van Schoeman se ervaring oor die tuin en gee weer ’n blik op haar intieme ruimte: onder die helderblou hemel stap sy deur die tuin tussen mooi rooi rose, oor “strak paadjies en groen gras”, met “struike, bome, ’n fonteintjie, wit beelde” en ’n muur daar rondom. Sy kyk as’t ware met Schoeman se oë na die tuin, na die bykans loodregte son wat “skerp skaduweetjies onder die blomstruike se blaadjies [maak] sodat die bossies ’n gespikkelde aansig kry” (RW39). Sy wonder hoe haar besoek sou gewees het as dit gereën het, of sy ’n groter konneksie met Schoeman sou ervaar het as dit koud en nat was.

Vanaf Killarney is Winters na Galway, waar Schoeman die tweede deel van sy verblyf in Ierland deurgebring het.

5.2 Galway

Schoeman publiseer die tweede Ierse dagboek in 1968, vyf jaar nadat hy op 11 Oktober 1962 in Galway, of Gaillimh soos hy dit genoem het, aangekom het. Weer eens moes tyd ’n invloed op sy beskrywings en herinneringe gehad het. Hy beskryf Galway as ’n “stad aan die weskus, vasgevang tussen vlak land, wye see en hoë hemel; ’n stad wat mymerend droom, soos soveel Ierse stede, oor vergange glorie; én ’n stad waar Iers nog aanhou nadat dit elders reeds na uithoeke gewyk het” (KSb5). Schoeman onthou vredige villas langs ’n voorstedelike pad, dakke en torings en skoorstene wasigblou, ’n hoë muur, die kollege tussen grasvelde en bome, en ’n “tuin wat daal na die wye silwer stroming van die Coirb” (KSb5). Ten spyte van die skoonheid wat Schoeman beskryf, sien hy ook die “eensaamheid en weemoed” van die ou stad, die ou geboue en grys huise wat teen mekaar vasgedrom staan, die “strate wat buig en draai en in mekaar verlore gaan”, en trappe wat deur die voete van geslagte weggeslyt is (KSb9).

Winters beskryf Galway – soos sy dit van haar 1981-ervaring onthou – as ’n verarmde stad met ’n Middeleeuse struktuur (RW43), met rye armoedige skakelhuisies sonder voortuin, almal grouwit geverf, met hout- of groengeverfde deure wat afskilfer. Weerskante van die nou straatjies onthou sy die klein winkeltjies, sommige met toegetimmerde vensters en sypaadjies van verkrummelde beton (RW44).

Die Galway wat Winters in 2018 besoek, is egter opgeknap ná die ekonomiese opbloei met die eeuwending. In die middestad is die huisies nou rooi, blou, groen of geel geverf, die hoofpaaie is opgeknap en verbypaaie is aangelê (RW48). Die restaurante is oorvol en tafels en stoele strek tot op die straat. Bo die tafels hang “lintjies en vlaggies, en die gewels is behang met reklameborde wat by die geboue uitsteek” (RW51). Toeriste ry in “gepantserde swart dubbeldekkerbusse met blindings voor die vensters” wat die paaie in nagmerries verander (RW48). Vir Winters is haar besoek aan Galway duidelik teleurstellend: “Galway het verander in ’n kermis”, sluit sy haar herinnering af (RW51).

 

6. Huise en pubs as ruimtelike elemente

Soos aangedui in die raamwerk vir hierdie artikel, beeld ’n skrywer die fisiese of konkrete ruimte uit met die doel om aan die leser sy of haar eie waarneming oor te dra. Hierdie waarnemings kan alle ruimtelike en tydruimtelike elemente insluit, afhangende van die skrywer se keuse. Schoeman se werke is bekend vir die wyse waarop hy ruimte “geskilder” het (RW39). Vir hierdie artikel is beide Winters en Schoeman se waarnemings en beskrywings van die Ierse pubs en die huise/huisies van Ierland belangrik in die konteks van tydruimtelikheid.

6.1 Ierse huise

Tydens haar besoek aan Galway merk Winters die “rye armoedige huisies” aan weerskante van die strate op: “skakelhuisies sonder voortuin, almal dieselfde kleur, maar grouwit, met hout- of groengeverfde deure wat afskilfer (RW46). In die middestad is party huise rooi, blou, groen of geel geskilder” (RW47). Sy skryf dat die “boerehuise, die vuur, die grasdakke wat lek, die platgetrapte modderige kleivloere en die skemerdonker” Schoeman se verbeelding aangegryp het (RW65). Selfs in sy biografie maak hy melding van die “primitiewe boerehuisies met grasdakke laag agter fokasiaheinings” (Schoeman 2002:329), wat daarop dui dat die huisies ’n indruk by hom gelaat het. In ’n weemoedige toon skryf hy: “Dit is wat ons oorsee as tipies lers beskou, maar wat in Ierland self besig is om te verdwyn, hierdie cottages” (KSb25).

In albei die Ierse dagboeke beskryf Schoeman die huisies in die dorpe en op plase, die ou huise, die herehuise, die skakelhuise en die huise met strooidakke. Die huise in die Killarney en Galway van 1961 en 1963 beskryf hy meestal as klein, “saamgeskaarde” huisies of skakelhuisies met “klein tuintjies langs smal straatjies”, sommige met malvas op die vensterbanke (KSa22), huisies wat “in ’n hoek wegkruip” (KSa26), opgetooi met helder verf en Ierse name (KSa55; KSb26, 50).

Schoeman beskryf ook die plaashuisies tussen die deinende groen velde: plaashuisies wat “ongemerk saamvloei tot gehuggies” (KSa15), “gemoedelike plaashuisies tussen groentetuine en velde waar skape wei” (KSa20), helderwit plaashuisies wat “onder strooidakke wegduik” (KSb30), plaashuisies wat aan die grys kliprante “vasklou” (KSb91), en “skuilhou tussen hooimiedens en turfstapels” (KSb126).

Dit is opvallend dat Schoeman veral die verval van die huise opmerk: ou herehuise waarvan die “dae van hul heerlikheid” verby is, huise wat “tot ’n val” gekom het, hulle “swier” verby, hulle staan “verlore en verlate”, sommige net ’n massa puin, ’n “skelet” van wat hulle eens was, die groot ysterhekke “verroes en verwaarloos”, die klipmure verkrummel en die deure en vensters met planke toegespyker (KSa55; KSb26). Die meeste van hierdie ou huise staan sonder ruite, met verweerde dakke (KSa27), sommige afgebrand, ander staande met hulle baie vensters en onreëlmatige skoorstene (KSa79), met ou, weggeslytte trappe na onbekende bestemmings in verwaarloosde tuine (KSa57; KSb89).

Deur die personifikasie van die huise (huise wat wegkruip, vasklou, staan, saamskaar, ensovoorts) word die leser bewus van die indruk wat die huise by Schoeman gelaat het. Alhoewel sommige van die huise of huisies – veral die plaashuise op die groen landerye en die heldergeverfde huise in die dorp – vir hom aanskoulik was, ervaar die leser dat sy emosionele ervaring teenoor die verval van die huise groter was, veral as hy beskryf hoe die huise verroes en verwaarloos, verlore en verlate is. Weer eens slaag Schoeman daarin om ’n beeld te skilder waarmee die leser kan identifiseer.

Naas die uitbeelding van die huise, kerke en kastele, beeld beide Schoeman en Winters ’n belangrike ruimtelike aspek van Ierland uit in die beskrywings van die pubs in Ierland.

6.2 Ierse pubs

“Dis wat die lere doen. Pub toe gaan.” Só skryf Winters oor die Iere se liefde vir hulle kroeë – hulle pubs; “die universele Ierse toevlugsoord” (RW21). Schoeman beskou die Ierse pubs as die ankerstene van die daaglikse lewe in Ierland; met pubs om amper elke hoek (KSa12). Hierdie pubs is die kuierplek vir “volledige gesinne, ouers, kinders, oupas, oumas, almal” skryf Winters (RW22), of dit nou is om na ’n wedstryd te kyk of om byeen te kom en iets te drink na ’n begrafnis. Die Iere drink ook eerder whiskey as koffie (RW21), en “vele soorte biere, ales” (RW22). Schoeman beskryf die pubs as gemoedelike vergaderplekke en die middelpunt van die sosiale verkeer (KSa11; RW24), wat “lig en warmte en stemme en musiek” (KSa34) uitstraal en min met Suid-Afrikaanse kroeë gemeen het (KSa13). Volgens Winters is sommige pubs honderde jare oud, ander is klein en stink, terwyl party weer mooi is met “spieëls, brandskilderglas en houtsneewerk” (RW47). Schoeman beskou die woorde “kantien, kroeg, drankhuis” as “koue, lae name” om die “gemoedelikheid van ’n pub” te beskryf (KSa12), die pubs waar lig deur die vensters “uitgloei” oor die donker strate en tussen die strakheid van die kerke heen (KSb113).

 

7. Strate, paaie en lane as ruimtelike elemente

Fisiese of konkrete ruimte soos deur die verteller of skrywer uitgebeeld, het ten doel om aan die leser ’n beeld oor te dra soos die skrywer dit óf waarneem óf op ’n spesifieke wyse aan die leser wil oordra. Kort (2004:154) sluit roetes (en soortgelyke woorde) onder die beskrywing van omvattende/kosmiese ruimtes in. Alhoewel paaie en strate ook as geografiese ruimte beskou kan word, word dit vir die doeleindes van hierdie artikel as fisiese ruimtelike element beskryf. Die volgende woorde is gebruik om die beskrywings van dié ruimtes te ontgin: straat; straatjies; strate; pad; paaie; paadjies; weg; weë; laan; lane en singels.

Schoeman het in die Ierse dagboeke die paaie, lane, strate en weë van Ierland in vele vorme beskryf. ’n Totaal van 387 (232 beskrywings in die eerste dagboek en 155 in die tweede dagboek) verwysings kom voor en gevolglik is dit as een van die ruimtelike elemente by hierdie artikel ingesluit. Winters sluit in haar beskrywing van die plekke op haar “roete” (RW12) ook beskrywings van die paaie in. Haar beskrywings sal as basis gebruik word omdat Schoeman se beskrywings te omvattend vir hierdie artikel is.

Winters beskryf die steil, modderige paaie van Ierland, strak en nou, die Middeleeuse sigsagpaaie en verkrummelde paadjies en sypaadjies, en die slingerende hoofweg van Killarney (RW26), waar toerbusse “so groot soos huise” die hoofweg oorneem. Schoeman het ook gewonder hoe hierdie “motorbusse” langs die “smal, kronkelende paaie en strate” kon beweeg (KSa106).

Schoeman se beskrywings van die strate, paaie en lane sluit beskrywende woorde in, soos rustig, kronkelend, interessant, breed, smal, stowwerig, eensaam, afgeleë, vredig, besig, skaduryk, reguit, steil, donker, nat, dromend, slingerend, grys en wit. In totaal gebruik Schoeman die woord “kronkelend” ten opsigte van die paaie 28 keer en “slingerend” vyf keer. Schoeman beskryf ook die paaie, strate en paadjies as plaas-, voet-, sy-, kort-, afdraai-, stof-, groot-, wandel-, ensovoorts. Net soos die geboue en die natuurskoon, slaag Schoeman daarin om deur middel van die verskillende paaie die ruimte feitlik visueel te skilder.

 

8. Samevatting

Die doel van hierdie artikel is om die ruimtelike uitbeelding van spesifieke elemente in Karel Schoeman se twee Ierse dagboeke, Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966), en Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (1968), te ondersoek teenoor die uitbeelding van dieselfde elemente deur Ria Winters in haar boek Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer (2020). Spesifieke ruimtelike elemente soos deur beide skrywers beskryf, is in die konteks van die tyd wat verloop het ondersoek; eerstens ten opsigte van die tydsverskil tussen die tyd wat Schoeman in Ierland was (1961–1964) tot en met die besoek van Winters aan Ierland in 2018. Daarby is ander tydsverskille ook uitgelig, byvoorbeeld die verskil tussen Winters se eerste besoek aan Ierland in 1979 en Schoeman se eerste besoek in 1961. Die tydsverloop tussen die ervarings en die opteken van die ervarings is ook bespreek. Hieruit wou vasgestel word watter invloed, indien enige, die tydsverloop (van tussen 40 en 60 jaar) op die skrywers se belewenis van dié elemente gehad het.

Ruimte, in die letterlike betekenis van die woord, word beskryf as ’n plek waarin dinge of mense kan beweeg of waarin dinge kan gebeur. In die letterkunde verwys ruimte egter na ’n metaforiese spasie; die omgewing waarin die karakters van ’n narratief leef en waarin die handeling van ’n narratief plaasvind. Die onderskeie ruimtes wat in hierdie artikel bespreek word, sluit in die historiese, geskiedkundige en algemene landskappe en plekke in Ierland, wat die leser in staat stel om ’n kognitiewe beeld van die ruimte in die genoemde literêre tekste van Schoeman en Winters te skep. Vir hierdie doel is ’n raamwerk voorgestel wat bestaan uit drie kategorieë:

  • Die ruimte waarin die narratief plaasvind;
  • Die ruimte soos in die narratief deur die skrywers uitgebeeld; en
  • Die ruimte soos die leser van die narratief die ruimte beleef.

Bogenoemde drie kategorieë is gebruik om die volgende ruimtelike elemente in die boeke van Winters en Schoeman te ontleed en te vergelyk:

  • Killarney, as die plek wat Winters eerste op haar reis in 2018 besoek het en waar Schoeman in 1961 gewoon het;
  • Verskeie plekke in Killarney, wat insluit:
    • Muckross House – die herehuis in Killarney wat tans ’n museum is;
    • Muckross Abdy of die ou Broederhuis, die ruïne buite Killarney; en
    • Die nuwe Broederhuis en die Killarney kerk, waar Schoeman in 1961 sy onderrig begin het;
  • Galway, as die plek waar Schoeman gewoon het voordat hy in 1964 teruggekeer het na Suid-Afrika;
  • Die woorde huise, huisies is uit die tekste onttrek en ontleed om te vergelyk hoe Winters die elemente ervaar het en hoe Schoeman dit in 1961 tot en met 1964 beskryf en ervaar het;
  • Laastens is die voorstelling van paaie, strate en lane as ruimtelike elemente in die boeke ondersoek.

Die verskille en ooreenkomste in die beskrywings van die genoemde ruimtelike elemente deur die skrywers word uitgebeeld deur die opsommende tabel hier onder. Deur hierdie tabel word die waarnemings van die skrywers beklemtoon, en die invloed van die tydsverloop word ook duidelik uitgebeeld. Winters se beskrywings wissel tussen die jare 1979 en 2018, en die invloed van die ekonomiese oplewing wat Ierland ervaar het, is opmerklik. In teenstelling hiermee is Schoeman se uitbeeldings beperk tot die jare 1961 tot 1968, nadat die tweede Ierse dagboek gepubliseer is.

Ruimtelike element

Karel Schoeman

Ria Winters

Killarney / Cill Airne

’n Rustige, grys klipdorpie, sonder neonreklame, aanplakbiljette en blêrkaste, geleë tussen silwer mere en wasige berge.

’n Besige toeristedorp vol helder reklameborde en toeriste, geleë tussen mere en woude, met ’n blou, wasige see in die verte.

Muckross House

’n Ou huis met baie vensters en skoorstene, die blindings neergetrek en die kamers leeg, omring deur parkgrasvelde.

’n Enorme herehuis, vertonerig en selfbewus, omring deur ’n kortgesnyde grasperk.

Ou Broederhuis / Oir Bhealach / Muckross Abdy

’n Beskeie klipgebou met uitgebeitelde spitse, smal vensters, steil wenteltrappe en donker gangetjies.

’n Indrukwekkende gebou met ’n statige vierkantige toring, hol gotiese vensters, ’n altaar, ’n kloostergang, en suile en pilare in pastelkleure.

Nuwe Broederhuis en kerk in Killarney

’n Groot steenmassa op die hoogte tussen bome en dromende groen velde waar beeste wei, met varings op die heuwels en kronkelende paadjies tussen die heinings.

Groot, grys en kragtige geboue op ’n hoogte agter ’n gotiese hek, omring deur ’n tuin en ’n muur.

Galway / Gaillimh

’n Stad met eensame, weemoedige ou geboue, vasgedromde grys huise, vredige villas langs strate wat deurmekaar buig en draai.

’n Middeleeuse stad met armoedige, grouwit geverfde skakelhuisies en klein winkeltjies, sommige toegetimmer, en sypaadjies van verkrummelde beton.

Huise

Primitiewe, gemoedelike huisies, wit of helder geverf, met klein of groter tuine. Sommige huise het tot puin verval, klipmure het verkrummel, deure en vensters is toegespyker en tuine is verwaarloos.

Armoedige, grouwit huisies sonder voortuin, met hout- of groengeverfde deure wat afskilfer.

In die middestad is die huise rooi, blou, groen of geel geskilder.

Pubs

Gemoedelike vergaderplekke, die middelpunt van die sosiale verkeer, stralend van lig en warmte, stemme en musiek.

Die universele Ierse toevlugsoord, die ankerstene van die daaglikse lewe, die kuierplek vir volledige gesinne. Sommige pubs klein en stink, ander mooi met spieëls, brandskilderglas en houtsneewerk.

Strate, paaie, lanings

Rustig, kronkelend, interessant, breed, smal, stowwerig, eensaam, afgeleë, vredig, besig, skaduryk, reguit, steil, donker, nat, dromend, slingerend.

Steil, modderig, strak, nou, sigsag, verkrummel, slingerend.

 

Figuur 3. Vergelyking van ruimtelike elemente in hierdie artikel bespreek

Bogenoemde tabel beklemtoon die invloed van tydsverloop in die ruimtelike beskrywings van die genoemde elemente ten opsigte van ooreenkomste en verskille.

Uit die vergelyking van Winters en Schoeman se tekste is dit duidelik dat Schoeman die ruimte van Ierland – soos hy dit in sy dagboeke opgeteken het en later in sy twee Ierse dagboeke weergegee het – as idillies en mooi ervaar het. Ten spyte van die invloed wat Ierland se moeilike geskiedenis en gepaardgaande sosiopolitieke omstandighede op die geboue en huise gehad het, het Schoeman Ierland as “’n besondere skoonheid” ervaar, alhoewel hy ook Ierland as soms primitief en die geboue vervalle en verlate geskets het.

Deur op sekere kernwoorde in die tabel hierbo te let, is dit opvallend dat Schoeman en Winters die geboue in Killarney (Cill Airne) amper op teenoorgestelde wyse ervaar het:

  • Schoeman sien Killarney as ’n rustige klipdorpie sonder neonligte en reklame, Winters ervaar Killarney as ’n besige toeristedorp vol reklameborde.
  • Schoeman beskryf Muckross House as ’n ou huis, Winters beskryf dit as ’n enorme, vertonerige herehuis.
  • Die ou Broederhuis is volgens Schoeman ’n beskeie klipgebou, vir Winters is dit ’n indrukwekkende gebou.
  • Schoeman beskryf die nuwe Broederhuis as ’n steenmassa, Winters beskryf dit as ’n groot, kragtige gebou.

Schoeman se ervaring van Killarney, die geboue en die omgewing is moontlik beïnvloed deur sy geestelike reis as leerling-monnik en sy ontdekking van die geskiedenis van Ierland. Winters se soeke was na Schoeman en nie na die land en sy geskiedenis nie.

Uit die tabel blyk die invloed van die tydsverloop en die sosio-ekonomiese vooruitgang ook duidelik. Alhoewel die omgewings by beide skrywers dieselfde indruk laat (die wasige berge, die grasvelde, die tuine en plante), dui Winters se beskrywing duidelik op die invloed van die ekonomiese opbloei en die groeiende toerisme-ingesteldheid.

Galway, wat Schoeman ook Gaillimh noem, is vir beide egter ’n outydse stad met armoedige huisies en verwaarloosde paadjies. Kommersiële groei het van Galway ’n kermis vol toeriste gemaak (RW51), en Winters se beskrywing van die hedendaagse Galway is tot ’n mate negatief.

Schoeman het tussen die groen en grys die vele ander kleure van Ierland raakgesien, die landerye met die skape en beeste en witgeverfde strooidak-plaashuisies het hy as bekoorlik ervaar. Schoeman noem in sy outobiografie dat sy beskrywings van Ierland oordrewe positief was, gevul met eensydige optimisme en oppervlakkigheid, ’n Ierland wat hy na veertig jaar skaars nog sou terugvind (Schoeman 2002:329).

Winters se ervaring en weergee van die ruimte is gevul met heimwee. Haar aanvanklike herinneringe – soos sy onthou van haar besoek as 20-jarige – was grys en nat, met besoeke aan vriende en pubs. Haar 2018-reis is merkbaar beïnvloed deur ’n soeke na Schoeman se Ierland en ’n soeke na Schoeman self, die Schoeman wat sy “aan sy baadjiepant” wil vasgryp en in wie se voetstappe sy wil volg “langs die kronkels van tyd”. Vandaar haar hartseer tydens die besoek aan Muckross Abdy, haar emosionele ervaring by die taksusboom, en haar negatiewe weergee van Galway as toeristedorp.

Winters se reis is onvoltooid. Sy besoek Suid-Afrika en die dorpe en plekke waar Schoeman gewoon en gewerk het. Sy soek hom in sy boeke en in “die stiltes tussen die versigtig uitgesoeke woorde” (RW196), by die mense wat hom geken het (RW203) en die briewe wat hy geskryf het. Winters se ruimtelike beskrywings word gekleur deur Schoeman se woorde, en grootliks deur haar emosionele soeke na die gapings wat hy agterlaat (RW127).

Schoeman se twee Ierse dagboeke leen hulleself tot verskeie studies van die ruimtelike elemente, soos trouens die meeste van sy boeke. Hierdie artikel fokus slegs op die ontleding van enkele van hierdie elemente. Die artikel self is beperk deur die gebruik van harde kopieë en enkele geskandeerde tekste. ’n Deeglike ontleding van die ruimtelike elemente met behulp van elektroniese kopieë en toepaslike sagteware behoort ’n waardevolle bydrae te lewer tot die ontginning van Schoeman se werke.

 

Bibliografie

Bachelard, G. 1963. The poetics of space. Boston: Beacon Publishers.

Bertram, C. en I. Christiansen. 2014. Understanding research: An introduction to reading research. Pretoria: Van Schaik.

Bezuidenhout, A.J. 2013. Die drukking van dakke: Ruimtelikheid en morele agentskap in Gert Vlok Nel se digbundel Om te lewe is onnatuurlik en Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Brasher, J.P. 2017. Narrating space/spatiality narrative: Where narrative theory and geography meet. The AAG Review of Books, 5(3):180–3.

Brink, A.P. 1989. Vertelkunde. ’n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica.

Britannica. 2021. Setting – Literary device. https://www.britannica.com/art/setting (26 Oktober 2021 geraadpleeg).

Burger, W. 2003. Bolwerk teen tyd en vergetelheid: Karel Schoeman se outobiografiese aantekening. Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans, 10(2):10–27.

Burger, W. en H. van Vuuren. 2002. Sluiswagter by die dam van stemme: Beskouings oor die werk van Karel Schoeman, geredigeer deur W. Burger en H. van Vuuren. Pretoria: Protea.

Calandra, M. 2020. Comparative analysis. https://www.bu.edu/teaching-writing/files/2020/03/Comparative-Analysis-2.pdf (29 Oktober 2021 geraadpleeg).

De Kock, H. 2014. Die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman. PhD-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

Dennerlein, K. 2019. Theorizing space in narrative. https://www.germanistik.uni-wuerzburg.de/fileadmin/05010200/TheorizingSpaceinNarrative.pdf (22 September 2021 geraadpleeg).

Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61. https://www.litnet.co.za/assets/pdf/joernaaluitgawe_10_3/10(3)_GW_Du%20Plessis.pdf.

Foucault, M. 1986. Texts/contexts: Of other spaces. Diacritics, Lente:22–7.

Fuchs, C. 2019. Henri Lefebvre’s theory of the production of space and the critical theory of communication. Communication Theory, 29(2):129–50.

Goodrick, D. 2014. Comparative case studies. Methodological Briefs Impact Evaluation, No. 9:1–17.

Greyling, F.S. 1984. Ruimte in die kinderboek met verwysing na die werk van erkende Afrikaanse kinderboekskrywers. MA-verhandeling, Potchefstroom Universiteit.

Harvey, D. 1994. The social construction of space and time: A relational theory. Geographical Review of Japan, 67(2):126–35.

—. 2004. Space as a key word. Referaat gelewer tydens Marx en Filosofie-kongres, 29 Mei, Londen: Institute of Education.

Ingham, J. 2007. The function of physical space in the Cuban novel of the 1950s. PhD-proefskrif, University of Wolverhampton.

Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Pretoria: Academica.

Killarney. 2021. The official website for Killarney, Count Kerry, Ireland. https://killarney.ie/ (24 September 2021 geraadpleeg).

Kort, W.A. 2004. Place and space in modern fiction. Florida: University Press.

L.T.T. (Literêre terme en teorieë). 2021. Ruimte (Epiek). https://www.litterm.co.za/index.php/r/208-ruimte-epiek (18 Oktober 2021 geraadpleeg).

Lucas, R.G. 2005. Review of: Place and space in modern fiction by Wesley A. Kort. Religion & Literature, 37(3):145–7.

Merriam-Webster. 2021. Space. https://www.merriam-webster.com/dictionary/space (3 November 2021 geraadpleeg).

Pickvance, C.G. 2001. Four varieties of comparative analysis. Journal of Housing and the Built Environment, 16:7–28.

Ravysts, E. 2006. “Die verlede is ’n ander land”: De ruimteverkenning in het Stemme-drieluik van Karel Schoeman. De graad van licentiaat in de taal- en letterkunde: Germaanse talen, Universiteit van Gent.

Rivers, J. 2007. Place and space in modern fiction. South Atlantic Review, 72(1):269–74.

Royal, S.A. 2012. Beyond the boundaries in the island of Ireland. Journal of Marine and Island Cultures, 1:91–8.

Ryan, M-L. 2014. Space: The living handbook of narratology. https://www-archiv.fdm.uni-hamburg.de/lhn/printpdf/article/space (3 Oktober 2021 geraadpleeg).

Schoeman, K. 1966. Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1968. Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2002. Die laaste Afrikaanse boek: Outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Eck, E. 1986. Die funksie van ruimte in die narratologie. HTS Teologiese Studies, 42(2):339–49.

Viljoen, L. 2002. “Die verlede is ’n ander land”: Ruimtelike geskiedskrywing in Karel Schoeman se roman Die uur van die engel. In Burger en Van Vuuren (reds.) 2002:214–28.

Walk, K. 2007. Comparative analysis. Realism and sentimentalism in American Literature. https://www.k-state.edu/english/eiselei/realsent/comparative.pdf (18 Oktober 2021 geraadpleeg).

Winters, R. 2019a. ’n Vreemdeling in die land: ’n Kortverhaal uit 1965 van Karel Schoeman in die Ierse taal. LitNet: Boeke en skrywers. https://www.litnet.co.za/n-vreemdeling-in-die-land-n-kortverhaal-uit-1965-van-karel-schoeman-in-die-ierse-taal/ (18 Oktober 2021 geraadpleeg).

—. 2019b. Kleurgebruik in taal: Die palet van Karel Schoeman. LitNet: Seminare en Essays. https://www.litnet.co.za/kleurgebruik-in-taal-die-palet-van-karel-schoeman/ (18 Oktober 2021 geraadpleeg).

—. 2020. Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer. Pretoria: Protea.

 

Eindnota

1 Die volgende afkortings is gebruik in hierdie en die volgende afdeling[s]:

  • RW verwys na die boek van Ria Winters, Reise met Schoeman: In die voetspore van die skrywer, 2020; waarna die bladsynommer gemeld sal word. RW15 verwys dus na Winters (2020:15).
  • KSa verwys na Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek deur Karel Schoeman (1966). KSa15 sal dus gebruik word om te verwys na Schoeman (1966:15).
  • KSb verwys na Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek deur Karel Schoeman (1968). KSb15 sal dus gebruik word om te verwys na Schoeman (1968:15).

 

Die fokusprent by hierdie artikel bevat ’n kombinasie van die volgende boekomslae: Reise met Schoeman deur Ria Winters (Protea Boekhuis, 2020) en Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (Human & Rousseau, 1966) en Van ’n verre eiland: ’n Tweede Ierse dagboek (Human & Rousseau, 1968) deur Karel Schoeman.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top