’n Vreemdeling in die land: ’n kortverhaal uit 1965 van Karel Schoeman in die Ierse taal

  • 0

As jongman van 21 jaar het Karel Schoeman in Augustus 1961 na Ierland gereis. Hy gaan as kloosterling by die Fransiskaner-gemeenskap in Killarney bly, ’n stadjie in die weste van die land. Schoeman het dit gedoen om sy spirituele vervulling verder vorm te gee. Hierdie kloosterlewe het hy egter na twee en ’n half jaar afgebreek. Die andersheid van die Ierse doen en late en die striktheid van die orde het sy doel in die weg gestaan. Dit het nie gewees wat hy daarvan verwag het nie. Bowendien het hy swaar heimwee gehad.1 Op tye dat hy geen lus gevoel het om mee te doen aan aktiwiteite wat die ander seuns op skool onderneem het nie – die meesters het begrip vir sy situasie gehad en die teuels van dissipline by geleentheid laat vaar – is Schoeman in die kloosterbiblioteek te kry. Dit is die enigste plek waar hy hom op sy gemak voel. Hy het die spiritualiteit in die stilte van die geskrifte gevind. Veral boeke in die Ierse taal het sy aandag gevang en hy het die begeerte gehad om die taal te leer.

Hierdie artikel handel oor ’n unieke skryfstuk van Karel Schoeman: ’n kortverhaal wat afspeel in die Anglo-Boereoorlog, met die besondersheid dat dit in die Ierse taal geskryf is en wat sy bibliograwe tot sover meestens oor die hoof gesien het. Die titel van die essay is “Scéal ón Aifric: strainséar sa tír”, wat “’n Verhaal oor Afrika: ’n vreemdeling in die land” beteken. Dit het op 5 Mei 1965 in die Ierstalige tydskrif Comhar Teorante verskyn .2

Geplaas met die skriftelike toestemming van Comhar.

Die opmerklikste resultaat uit Schoeman se Ierse tyd is dat hy dié taal, die Ierse Gaelic, tot hom geneem het. Die Iers is ’n baie moeilike taal om te leer, nie alleen vir uitlanders nie, maar ook vir de Iere self. Deur die Engelse oorname van die eiland vanaf die 12de eeu het die Engelse taal die Iers gaandeweg verdring.3 Dit was net in die westelike deel van die land, die sogenaamde Gaeltacht regio’s, waar die Iers in die daaglikse gebruik behoue bly. Aan die einde van die 19de eeu het in Ierland ’n nasionale Keltiese kulturele oplewing ontspring wat onder meer daartoe gelei het dat die Ierse grammatika weer in skoolboeke verskyn.4 Kinders wat Engelstalig opgevoed is, moet nou hul eie taal as ’n buitelandse taal tot hulle neem. In die sestigerjare van die vorige eeu, en nog lank daarna, moes hulle skoolvakke verplig in Iers volg. Die vereiste om eksamens van vakke soos aardrykskunde en geskiedenis in Iers af te lê het so ’n mentale druk op die kinders uitgeoefen, dat die meeste ’n hekel aan hul taal kry. Hulle praat liewer Engels.

Die herkenning van dié feit, en van die ooreenkoms met die taalgebeure in Suid-Afrika, dat baie van sy landgenote volgens sy segge liewer Engels as Afrikaans praat, vorm ’n tweede leerervaring uit Schoeman se kloostertyd: hy het ín Ierland, via sy getuienis van die Iere se onvermoë om hul taal hoog te hou, ’n grotere simpatie vir die Afrikaans ontwikkel. Toe hy in die begin van 1964 uit Ierland terugkeer, het hy dan ook geweier om in ’n andere taal as Afrikaans te kommunikeer5 en soos bekend, was dit die taal waarin hy sy outeurskap neersit.

Sy liefde vir die Ierse taal het altyd by hom gebly. Daar was lang periodes in sy loopbaan as outeur waarin hy net navorsing gedoen het na die geskiedenis van Suid-Afrika en historiese werke en romans geskryf het. Maar af en toe duik sy vertalings van Ierse legendes, verhale en gedigte op in Suid-Afrikaanse tydskrifte, soos vir laas in 1985, toe hy “Uit die Iers: Mac Conglinne se droom”’ in Standpunte publiseer.6 Dat sy passie vir die Iers aangehou het, weet ek van sy sending met drie boeke van Ierse legendes en gedigte, wat hy in 2017 tydens ’n opruimingswerk vir my aangestuur het. Een van die boeke, Filíocht Ghra ná Gaeilge. Love poems in Irish, is ’n betrekkelik nuwe boek uit 2010.7 Daarenbowe het ek en Schoeman gekorrespondeer oor ons beider ervarings in Ierland en het ek via e-posse die geluk gehad om van Schoeman se herinnerings oor sy kloostertyd kennis te neem. Schoeman se “Ierse” publikasies is ter inligting opgeneem in die bronnelys.

’n Verdere verduideliking en illustrasie hoe Schoeman die Iers met die Afrikaans vergelyk en daar daarenbowe ooreenkomste in hulle geskiedenisse sien, vind ons in sy tweede Ierse dagboek: Van ’n verre eiland. Die jong Schoeman skryf: “Die moeilikheid is dat die gewone [Ierse] mense geen belangstelling in die Ierse taal het nie. Veertig, vyftig jaar gelede was dit ’n simbool van hulle nasieskap om hulle teen die Engelse te verenig, maar nou is hulle onafhanklik, alles gaan goed, en hulle kom uitstekend oor die weg sonder Iers.”8 Schoeman observeer ’n keer ’n Ierse man wat praat en gesels in Engels, en tref dit só raak: “Ek het nie geluister na wat hy sê nie, net na sy uitdrukking en gebare gekyk, en skielik het ek besef dat die Engels wat hy praat nie by hom pas nie. Sy hele voorkoms en manier van praat, het gewys dat die taal wat hy gebruik nie die taal is wat hom geslag op geslag deur ’n eindelose ry voorvaders gevorm het nie. Dit is moontlik om Iers te laat herlewe; [...] en die Afrikaans van die kombuis is in ’n halfeeu opgehef tot die taal van salon, ateljee en laboratorium.”9 Dit was Schoeman se hoop en wil. Afrikaans en Iers moet lewende tale wees en in dié sin het hy as vreemdeling in die land ’n verbinding gevoel met die Iers-sprekendes.

Hy het die taal lief gekry en veral ’n simpatie ontwikkel vir die Oud-Ierse literatuur, waarvan hy die essensie in 1964 só beskryf: “Die fynheid van waarneming, die ongekunsteldheid, die gevoeligheid waarmee klein dingetjies saamgevoeg word om ’n betekenisvolle geheelbeeld te gee, die begrip van die waarde wat alledaagse dinge besit en van die skoonheid wat daar in hulle skuil.”10 Is dít ook nie hoe ons Schoeman se eie werk kan aandui nie? Hoe hy met die stille stemme van gewone mense sy romans ’n betekenisvolle inhoud gegee het? En hoe hy sy historiese werke deur die versamel van – so noem hy dit – klein steentjies in mosaïeke neergesit het? Die hooftrek van die eenvoud en letterkundige musiek van die Oud-Ierse literatuur klink deur in Schoeman se eie werk.

Wat nou intrigerend is, is die vraag waaróm het Schoeman ’n verhaal oor Suid-Afrika in Iers in ’n Ierse tydskrif wil laat uitkom? Ons kan net vir die redes raai. Die publikasie het in dieselfde jaar plaasgevind as Schoeman se debuutbundel, Veldslag: twee novelles. Die kortverhaal “Scéal ón Aifric: strainséar sa tír” is dan ook ’n omwerking van Veldslag. Veldslag is ’n verhaal oor ’n Afrikaanse burgersoldaat wat gewond deur sy strydmakkers in ’n desolate huisie by twee Boerevroue, ’n ouer en ’n jonger vrou, agter gelaat word. Die man is ’n vreemde vir hulle, maar nietemin verpleeg en versorg hulle hom asof hy een van hulle is. Uiteindelik sterf hy en word begrawe op ’n plek waar ook hul familie rus. Schoeman het hierdie novelle reeds in 1960 geskrywe. Toe hy in 1964 na Suid-Afrika terugkeer, was dit sy bedoeling om sy Ierse dagboeke as debuut uit te bring, maar Human & Rousseau het gemeen dat dit beter was om eers Veldslag, tesaam as ’n bundel, met In ballingskap te publiseer.11 Hierdie eerste sukses van ’n op hande synde publikasie in boekvorm, in kombinasie met die gevoelde gemis van die Ierse kloosterbiblioteke wat nou voor altyd vir hom afgeslote sal wees, het hom moontlik gedryf om die novelle Veldslag om te werk tot ’n kortverhaal in die Iers, dit vir die redaksie van Comhar aan te stuur en so ’n literêre spoor in Ierland agter te laat.

“Scéal ón Aifric: strainséar sa tír” handel, nes in Veldslag, oor ’n gewonde soldaat wat versorging by twee Boerevroue in ’n huisie op die veld vind en as ’n vreemdeling, ver van huis, sterf. Daar is egter ’n paar verskille tussen die novelle en die kortverhaal. Waar in Veldslag die man ’n Afrikaanse burgersoldaat is, is die karakter in die kortverhaal ’n Engelsman. In Veldslag is sprake van ’n groeiende en onuitgesproke liefde tussen die man en die jonger vrou. In die kortverhaal is vir ’n dergelike kompleksiteit geen ruimte nie en is dit met name die ouer dame wat Schoeman langs die bed van die gewonde laat sit. ’n Ooreenkoms is die tiperende styl van “stilte” van Karel Schoeman. Die dowwe stilheid van die veld, die swye van die mense, die onheilspellende stilte wat heers voordat die oorlog nader kom en die onderdrukte, onnoembare emosies wat baie herkenbaar is uit sy andere fiksie. En daar is natuurlik die echo van “’n vreemdeling in die land” wat Schoeman self ooit in Ierland was.

Die publikasie van Schoeman se Ierse kortverhaal het tot nog toe ’n verborge lewe gelei. Comhar het die kortverhaal tesaam met Schoeman se aanbiedingsbrief aan die redaksie gepubliseer. Die laaste sin van die briefie lui: “Le gach dea-chroi do na Gaeilgeoiri go léir as an Afraic”, wat “Met ’n saluut van Afrika aan die Iers-sprekendes” beteken. Ek ervaar dit as ’n troos dat Schoeman se Ierse tydgenote, en moontlik enkele van sy destydse medestudente – waarvan een seun ’n digter was en vermoedelik ook in Comhar gepubliseer het – hierdie kortverhaal opgemerk het en met ’n glimlag aan “Karl Schoeman” teruggedink het. Karl was Schoeman se kloosternaam.12 Met my essay het ek sy stem as ’n huldeblyk vir sy sterfdag, nou twee jaar gelede, uit die stilte wil wegruk en eer doen aan een van Schoeman se uitsprake: “Die stille stem kan soms verder dra as die luider krete.”13

 

Bronne

Gregor, Doughlas B. 1980. Celtic. A comparative study of the six Celtic languages: Irish, Gaelic, Manx, Welsh, Cornish, Breton, seen against the background of their history, literature and destiny. Cambridge, New York: The Oleander Press.

Human, Koos. 2006. ’n Lewe met boeke. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kerryman-koerant, 16 september 1961.

Mac Murchaidh, Ciarán (red). 2010. Filíocht Ghra ná Gaeilge. Love poems in Irish. Clódóirí: Nicholson & Bass Ltd.

Schoeman, Karel: Publikasies oor Ierland

1964. Uit die Iers: “Die Heer van die skepping”, “Die skrywer in die woud”, “My berig aan jou”, “Aileall se liefdeslied”, “Die twaalf winde”, “Gráinne het gesê”, “Die fort”, “By die Ierse gedigte”. Standpunte, 17(6):1–3, 67–8.

1965. Scéal ón Aifric: strainséar sa tír. Bealtaine: Comhar Teoranta (24):24–5.

1965. Veldslag: twee novelles. Kaapstad: Human & Rousseau.

1965. Uit die Iers: Deirdre en die seuns van Usnach. Standpunte, 19(1):26–32.

1966. Berig uit die vreemde; ’n Ierse dagboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

1966. By fakkellig. Kaapstad: Human & Rousseau

1968. Van ’n verre eiland. ’n Tweede Ierse dagboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

1970. Uit die Iers. Middeleeuse gedigte vertaal deur Karel Schoeman. Kaapstad: Human & Rousseau.

1973. Helde van die rooi tak. Kaapstad: Human & Rousseau.

1974. Ierse kwatryne: “Etan”, “Soggens of saans”, “Die monnik se klokkie”, “Die pelgrim”, “Die Noormanne”, “Die lof van God”, “Die by”, “Die koning van Muaidhe se seun”, “Die jong man”. Standpunte 27 (6): 15-16.

1975. Gode, helde en konings; Middeleeuse verhale. Kaapstad: Human & Rousseau.

1976. Finn en sy mense; die avonture van die fianna van Ierland. Kaapstad: Human & Rousseau.

1985. Uit die Iers: Mac Conglinne se droom. Standpunte, 38(3):14–32.

Andere aangehaalde bronne van Schoeman:

1986. Rekenskap van ’n getuie. In MJ Daymond, JU Jacobs en M Lenta (reds), Momentum. On recent South African writing, ble 96{8. Pietermaritzburg: University of Natal Press [1984].

2002. Die laaste Afrikaanse boek; outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau.

Persoonlike e-pos-kommunikasie van die outeur met Karel Schoeman, van 8 April 2014 tot 1 Mei 2017.

Dankwoord

Ek bedank James C Armstrong vir die aanwysing van Karel Schoeman se artikel in Comhar en sy hulp by die opstelling van die oorsig van Schoeman se publikasies. Ek is Seán Ó Laoi dank verskuldig vir sy belangelose vertaling uit die Iers van “Scéal ón Aifric: strainséar sa tír”.

Eindnotas

1 Schoeman, 1966. Berig uit die vreemde, 29. Die laaste Afrikaanse boek, 2002:345.

2 Die artikel “Scéal ón Aifric: strainséar sa tír” is hierby onverkort opgeneem, met die vriendelike toestemming van die redaksie van Comhar. Ria Winters het 'n persoonlike vertaling in Engels (met dank aan Seán Ó Laoi, Ionad na Gaeilge Labhartha, van die University College Cork) in besit wat nie vir publikasie beskikbaar is nie.

3 Gregor, 1980. A comparative study of the six Celtic languages, ble 284–346.

4 Gregor, 275.

5 Schoeman, 2002. Die laaste Afrikaanse boek, bl 367.

6 Schoeman, 1985. Standpunte 38(3):14–32.

7 Mac Murchaidh, 2010. Filíocht Ghra ná Gaeilge. Love poems in Irish.

8 Schoeman, 1968. Van ’n verre eiland. ’n Tweede Ierse dagboek, bl 123.

9 Ibidem, bl 124.

10 Schoeman, 1964. Aantekeninge by die Ierse gedigte, Standpunte, 17(6):67.

11 Human, 2006. ’n Lewe met boeke, bl 85. Schoeman, 2002. Die laaste Afrikaanse boek, bl 365.

12 Kerryman-koerant, 16 September 1961, bl 10.

13 Schoeman, 1984. Rekenskap van ’n getuie. In Daymond, Jacobs en Lenta (reds), Momentum. On recent South African writing, bl 98.

Lees ook

Die ingewikkelde Karel Schoeman

Karel Schoeman (1939–2017)

Huldeblyk aan Karel Schoeman – ’n Lewe en oeuvre wat getuig van ’n inwaartse reis in die teken van gasvryheid teenoor die laaste gas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top