Huldeblyk aan Karel Schoeman – ’n Lewe en oeuvre wat getuig van ’n inwaartse reis in die teken van gasvryheid teenoor die laaste gas

  • 6

Sedert my eerste kennismaking met Karel Schoeman se werk in die laat tagtigs, het ek ’n besondere aanklank daarby gevind. Daar was van meet af iets in sy prosa wat op dieper vlakke tot my gespreek het. Dit is ’n “iets” wat nie maklik peilbaar is nie, maar wat ’n leser soos ek voortdurend laat terugkeer na sy boeke. Ek het nooit die voorreg gehad om hom te ontmoet of selfs eers te sien nie. Enkele jare gelede het iemand sy e-pos-adres vir my gegee en sedertdien skraap ek moed bymekaar om vir hom te skryf. Veral omrede ek die afgelope paar jaar aan ’n manuskrip oor sy kreatiewe tekste gewerk het en daarom redelik intensief met sy boeke besig was, het die behoefte om kontak te maak mettertyd gegroei. Op 27 April 2017 het ek uiteindelik genoeg moed gehad om wel die e-pos te tik en hom net kortliks te vertel dat ek ’n boek oor sy werk geskryf het wat oor ’n maand by African SUN MeDIA verskyn. Ek kon hom ook meedeel dat die titel van die boek Die reis gaan inwaarts. Die kuns van sterwe in kreatiewe tekste van Karel Schoeman is.

Op 29 April 2017 het ek ’n pragtige en besonder waarderende e-pos van hom terug ontvang. Dit is uiteraard private korrespondensie, maar ek glo ek kan noem dat hy waardering uitgespreek het vir beide die titel (afkomstig uit sy werk) en die ondertitel (insgelyks geïnspireer deur sy kreatiewe skryfwerk). Die klem op sterwe wat ’n proses is eerder as dood as ’n abrupte en skrikwekkende gegewe was volgens sy skrywe vir hom belangrik; so ook die feit dat sterwe inderdaad ’n kuns is. Hy het ook in die korrespondensie genoem dat hy dit jammer vind dat so min mense die moeite doen om hierdie kuns aan te leer. Verder het hy die hoop uitgespreek dat die werk met belangstelling en veral ook begrip ontvang sal word. Ek het gehoop om aan hom ’n kopie te besorg wanneer die boek in Juliemaand in Bloemfontein bekendgestel word, maar hy het gesê dat hy liewer geen verpligtings so ver in die toekoms soos Julie wil aangaan nie. Ek koester hierdie kontak wat ek wel met hom gehad het.

In hierdie huldeblyk gaan ek nie uitwei oor verskillende aspekte van sy skryfwerk nie, maar slegs fokus op die dood as tema in sy prosa.

Tereg skryf Gerrit Olivier ten opsigte van Schoeman se oeuvre: “[O]m dit enigsins sinvol te benader, moet ’n mens kyk na die rol wat taal en optekening, die uitreiking na menslike kontak, en ten slotte die dood by Schoeman speel.” Alreeds in Schoeman se debuut, Veldslag, lê die tema van sterwe soos ’n saadkorrel wat in die verdere verloop van sy oeuvre ontkiem en in sy latere werke bykans soos ’n koringaar groei. Met sy afsterwe is my huldeblyk aan hom veral ook ’n huldeblyk vir die wyse waarop hy hierdie tema, ’n tema wat in ons eie dag vir baie ’n taboe is, dapper en met diepgang vir etlike dekades lank verken het. Karel Schoeman was nie onbekend met die ars moriendi oftewel die kuns van sterwe nie; inteendeel. Hierdie kuns van sterwe is ’n kuns wat beoefen word deur diegene wat sterf en diegene wat die sterwende bystaan en dít geskied deur middel van beide versorging en ritueel. Enkele opmerkings oor Karel Schoeman se lewe, en spesifiek met betrekking tot versorging en ritueel, sal ek vervolgens uitlig voordat ek enkele opmerkings oor hierdie tema in sy kreatiewe tekste maak. Ek maak hier gebruik van sy eie boeke en ook artikels en boeke wat oor sy lewe en werk handel en nie van beskrywings van mense se persoonlike kontak of verhoudings met hom nie.

In sy outobiografie gee Schoeman heelwat aandag aan sy tyd as versorger en verpleër in Engeland en Skotland. Met betrekking tot versorging en sterwe het Schoeman dus nie alleen oor boekekennis beskik nie, maar het hy ook praktykervaring en moontlik ook oor phronesis (praktiese wysheid) ten opsigte van die ars moriendi gehad. Een beskrywing wat na my terugkom, is ’n herinnering wat hy beskryf en uitbeeld ten opsigte van die tyd wat hy in ’n hospitaal buite Glasgow as versorger werksaam was: “En die ou man sterwend aan dermkanker wie se bed gereeld verskoon moes word maar vir wie alle beweging pynlik was: hoe ek hom, lig en uitgeteer soos hy geraak het, versigtig op my uitgestrekte arms optel terwyl die laken onder hom vervang word, en hy sy kop na my toe draai en met sy laaste krag dankbaar fluister, ‘You do that so well.’” Dit was Schoeman die versorger wat die ars moriendi beoefen en wie se beoefening daarvan deur die persoon wat versorg word, positief beoordeel word, maar in dieselfde boek tref ons ook Schoeman die liturg by die laaste oorgang in die lewensloop van die mens aan.

Treffend is die beskrywing in Die laaste Afrikaanse boek waar hy self optree as voorganger in ’n ritueel wanneer hy sy moeder se as in die Vrystaat gaan strooi:

Dit het daardie jaar goed gereën en die veld was geil, die plaasdam was vol en op die water het voëls na mekaar geroep. Uit my moeder se ou Bybel het ek psalm 103 gelees wat ek gedurende die laaste jare vir haar voorgelees het wanneer sy beangstig was by die gedagte aan dood, oordeel en straf: “Want zoo hoog de hemel is boven de aarde, is Zijne goedertierenheid geweldig over degenen, die Hem vreezen. Zoo verre het oosten is van de westen, zoo verre doet Hij onze overtreedingen van ons.” Die lug was vol los drywende wolke, skitterend in die middagson: die hele vlak, wye golwende land, uitgestrek van horison tot horison, was ’n patroon van deinende lig en skadu.

Oor die afgelope dae het dit duidelik geword dat Schoeman ook baie spesifieke keuses uitgeoefen het gegewe die kuns van sterwe in sy eie lewe. Insiggewend is sy eie oordeel oor die kuns van verpleging wat inderdaad dikwels ook die versorging van sterwende mense insluit:

Om goed te kan verpleeg of versorg, is dit nodig om jou oop te stel en onvoorwaardelik te gee, het ek uitgevind, en hoe ernstiger die toestand van die persoon met wie jy te make het, des te groter die eise en oorgawe wat gestel word: in so ’n situasie moes ek ervaar, kon jy liggaamlik voel hoe iets uit jou voortstroom en afgetap word, vanuit die bors langs die arms en deur die hande na die liggaam van diegene wat jy versorg.

Wat waar is ten opsigte van die uitbeelding van die mens (karakter) Karel Schoeman in sy outobiografie, is ook waar ten opsigte van baie van sy karakters in sy romans. Ek haal hier ’n kort deeltjie aan uit my bovermelde boek waarin ek karakters wat deur middel van ritueel en versorging die dood hanteer, bestudeer het. Ek vertrou dat die meeste lesers van hierdie huldeblyk vertroud is met die karakters waarna verwys word en die romans waarin hulle voorkom.

In al die gevalle van die karakters wat positief uitgebeeld word in hulle beoefening van die ars moriendi, is daar ook die feit dat hulle “iets” meer sien. Danie Versies het ’n engel gesien. Ds Heyns se kort lewe staan deurgaans in die sfeer van die “iets” en spesifiek ook vanuit sy roepingsbelewenis. Pastoor Scheffler se prediking getuig van sy oortuigings en geloof. Selfs die ateïs Meester staan in hierdie tradisie, of is miskien in die kader van hierdie studie die vader van hierdie tradisie, deurdat hy as a-teïs steeds ruimte skep vir die geloof van ander en nuwe moontlikhede ontsluit. Meester het nie ’n engel gesien nie, maar vanaf ’n Lug vol helder wolke deur ’n Ander land tot en met die Stemme-drieluik en selfs in Die laaste Afrikaanse boek is daar nie alleen spore van die inwaartse reis nie, maar tekens dat daardie reis ook verband hou met ’n bepaalde beskouing rakende die aard van die werklikheid. Die “iets” is deur die lens van die dood en die ars moriendi terug te vind in al hierdie tekste, alhoewel dit heelwat verder geneem word in Die uur van die engel sodat die hele roman ’n pneumatologiese of sakramentele tekstuur verkry. Dit is nie alleen die “iets” van die panteïsme van die plaasroman-tradisie nie (Van Coller, 2009:15), die “iets” wat te vinde is in die landskap en die natuur nie, maar die “iets” wat deur die dood as misterieuse gas ’n moontlikheid word. Sodoende is dit ’n besonder brose “iets”.

Karakters se verstaan en belewenis van die werklikheid beïnvloed hoe hulle die kuns van sterwe beoefen en dit wil voorkom asof hulle inwaartse reis, wat saamhang met hulle reflektering oor die dood, ’n ander venster oopmaak op die (harde) werklikheid van die lewe. Dit is deur reisend besig te wees met die dood, of anders geformuleer, deur gasvryheid te betoon teenoor die dood as vreemdeling, dat engele reisgenote word. Die dood as gas wat ontvang word, word erken as (doods)engel, maar maak van die gasheer insgelyks ’n engel wat self weer ander kan besoek, maar belangrik hier, wat ook ander engele kan eien.

Iemand vra die afgelope dae op sosiale media met watter karakters in Schoeman se romans sou mense Schoeman self vereenselwig. Dit is natuurlik nie ’n nuwe vraag nie en kenners het al in hierdie verband vir byvoorbeeld Adriaan in Afskeid en vertrek en Nico in Die uur van die engel in verband met die skrywer gebring. Ek het absoluut geen goeie literêre gronde vir wat ek hier skryf nie, maar vir my is Karel Schoeman ook Meester. Meester in Veldslag, Meester in ’n Lug vol helder wolke, Meester in Hierdie lewe. Daardie liminale Hollandse karakter wat sag in die skaduwees werksaam is. Dit is daardie karakter wat van kritieke belang is om Kobus te help om dieper, inwaarts te reis in ’n Lug vol helder wolke; wat die hoofkarakter in Hierdie lewe ’n kruisie gee wat sy in die ringmuur bewaar en waarna sy telkens terugkeer.

Ek bly vir ’n oomblik by Meester in Hierdie lewe en die hoofkarakter in daardie roman. Vir my is Schoeman die Hollandse Meester wie se kreatiewe oeuvre die misterieuse Roomse kruisie is wat ek tussen die klippe in die ringmuur van my lewe bewaar en gereeld weer besoek. Dis ’n kruisie, ’n kruisie in die ringmuur van ’n kerkhof, ’n kruisie wat die hoofkarakter van Hierdie lewe help om op ’n laat leeftyd ’n geneser te word. In haar eie refleksie oor hierdie ontwikkeling in haar lewe besef sy dat mense na haar gekom het omdat sy bereid was om te luister. ’n Beskrywing word in die roman gebied van hoe sy ’n sterwende vrou op ’n wa versorg: “Ek het opgestaan en oor haar gebuk om die sweet van haar gesig af te vee, want die man het geen gebaar gemaak en poging aangewend om iets te doen nie; toe sy haar hand ylend en onseker oor die kombers laat rondbeweeg met soekende vingers, het hy dit nie eers opgemerk nie, en dit was ek wat voor hom verbygeleun het om dit beet te neem, en op hierdie manier is sy dus dood, met haar hand in myne.” Hierdie oomblik beskou sy self as ’n oomblik van insig en besef sy dat dit is hoe Sofie gesterwe het en ook Pieter. In die sterwensoomblikke van die besoekende vrou en gebaar van versorging vervloei die kuns van sterwe en die inwaartse reis sodat die insig in die daad verkry word. Dit is ’n kennis wat opgedoen word wat woorde transendeer, maar wat wél bestaan en wat die mens wat dit beleef, dieper laat reis, inwaarts. “Vir vyftig of sestig jaar het ek gewonder en my onsekerheid en my onuitgesproke vrae met my rondgedra, en nou was die vrae beantwoord en die kring voltooi.” Dit is in die ritueel, in die daad van versorging, in die swye en neem van die sterwende se hand dat die antwoord opgesluit lê ten opsigte van die misterie wat as die inwaartse reis beskryf kan word. En ’n belangrike karakter wat haar reis gedien het, was Meester.

Karel Schoeman se kreatiewe oeuvre is ’n oeuvre wat getuig van ’n inwaartse reis in die teken van gasvryheid teenoor die laaste gas op die lewensreis van die mens. Vir sommiges mag dit te morbied klink, maar die ars moriendi is ’n fyn kuns wat in die lewe en werk van Karel Schoeman op ’n meesterlike wyse beoefen is. In ’n dood-ontkennende samelewing huldig ek hom daarvoor.

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    E van der Berg

    Dankie, spesiaal. Ek het hom goed geken (so goed as wat hy hom laat ken het) en onthou dat hy vertel het hoeveel bejaarde en sterwende mense by wie se versorging hy betrokke was, aanraking waardeer het. Net terloops.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top