Gevare van sosiale media belig in Jan van Riebeeck-toneelproduksie met feesvennote

  • 0

Belangrike nota: Opvoerings wat aanvanklik vir Die klaskamer-produksies op 16 en 19 Junie 2021 om 11:00 en 15:00 geskeduleer was, moes ongelukkig gekanselleer word ingevolge nuwe COVID-19-regulasies wat op 15 Junie 2021 deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is.

***

Met die viering van Jeugdag 2021 neem die Suidoosterfees, KKNK en NATi teaterliefhebbers terug skool toe. Die klaskamer is ’n reeks kort plekspesifieke produksies wat in verskillende ruimtes van Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad aangebied word. Vertonings vind op 16 en 19 Junie om 11:00 en 15:00 plaas.

Melt Myburgh het met Sanet Taljaard, ’n personneellid van Hoërskool Jan van Riebeeck, gesels oor die skool se betrokkenheid by die projek. Die skool se dramaleerders neem met Kanya Viljoen se Om teen treine te skree aan die program deel:

Om teen treine te skree
Teks en regie: Kanya Viljoen
Met: Elzaan Daniels, Darren Cloete, Andoné Strydom, Karla Luyt, Faylene van Rooyen, Lisa Best, Seth Louw, Lucas Wildenboer, Louis Botes en Mickaylah Japhta
Mercy en haar vriende hang gereeld by die treinspoor naby haar huis uit. Maar nadat ’n foto van haar in die skool versprei word, bly vriendskappe, verhoudings en vertroue in die slag. In die nadraai van gebeure word die betrokkenes uitgeroep om rekenskap te gee van wat een aand op die spoor gebeur het. Tussen vingerwys, leuens en beloftes lê die waarheid iewers teen die trein se geskree.

*

Sanet Taljaard van Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad (Foto: verskaf)

Vertel asseblief van die dramabedrywighede by Hoërskool Jan van Riebeeck. Word drama as vak aangebied, of as buitemuurse aktiwiteit? Presies hoe is jy betrokke?

Ons skool se leuse is Wees uself. Vir my is die drama-nes die plek waar kinders kan mens word, waar hulle kan sê wat hulle voel en werklik hulleself kan wees.

Ek bestuur die drama-aktiwiteite, maar het die voorreg om omring te wees deur professionele energie in die bedryf. Alma Nel bied eksterne dramaklasse by die skool aan. Die leerders doen ’n mondelinge-kommunkasie-eksamen wat hulle onder andere voorberei vir enige toekomstige werksonderhoud en by hulle die vaardigheid ontwikkel om op hulle voete te dink.

Alma het ook ’n monoloogskryfkursus by die skool aangebied, en Kanya Viljoen het die regie van die monoloë behartig. Die uiteinde is dat drie Jan van Riebeeckers, Elzaan Daniels, Guilia Nel en Merizé Vlietstra, skitter op die nasionale top 20-lys in vanjaar se ATKV-DigiToneelkompetisie.

Die belangstelling in drama as buitemuurse aktiwiteit het so gegroei dat drama van volgende jaar af as ’n vak by Jan van Riebeeck aangebied gaan word. By al die vorige skole waar ek was, het ek die verskil beleef wat drama as ’n vak in leerders se selfaktualisering maak.

Die vak rugsteun alle mensgeörienteerde beroepe. Twee van ons leerders, Elzaan Daniels en Darren Cloete, het ook aan die Nasionale Toneelkompetisie by Kunstekaap deelgeneem. Al het hulle nie deurgedring tot die finale ronde nie, het hulle soveel wysheid deur hierdie ervaring opgedoen. ’n Groot hoogtepunt vir Jan van Riebeeckers is om te kyk of hulle dit kan regkry om in die tienertoneelgroep in te kom!

Leerders van Hoërskool Jan van Riebeeck se tienertoneelgroep speel in Om teen treine te skree. (Foto: Suidoosterfees)

Vertel asseblief meer van die leerders wat by die tienertoneelgroep betrokke is. Hoe kom mens in by die groep?

Veral na verlede jaar se inperkings was die leerders meer as gereed om deel te word van die tienertoneel se ongelooflike energie. Ek het nou al jare by soveel skole met tienertoneel te make, en elke jaar sien ek die son in die kinders se oge opkom!

Leerders wat aan toneel wil deelneem, is so uiteenlopend soos die lewe self. Daar is die voorbeeldiges, babbelbekke, introverte en stoutgatte wat ek telkens uit die Vrydag-detensie moet bekonkel om toneel te kom oefen. My klas is gewoonlik stampvol met hoopvolle leerders wat ’n oudisie moet aflê voor hulle deel kan word van die tienertoneelgroep. Ons regisseur, Kanya Viljoen, het vanjaar leerders ’n gedig van hul eie kleuse laat vertolk as deel van die oudisie.

Kanya Viljoen, wie se talent geslyp is deur die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre-projek. (Foto: verskaf)

Julle werk aan die toneelstuk Om teen treine te skree, wat juis deur Kanya Viljoen, een van die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre, geskryf is. Hoe het dit gebeur dat julle vir Kanya as skrywer en regisseur betrek het?

Ons vorige regisseur, Philip Rademeyer, het Kanya aan ons voorgestel. Ons het mekaar oor die maskers getakseer en alhoewel ek van al haar prestasies en vaardighede bewus was, het sy vir my baie jonk voorgekom. Maar haar oë het ’n energie en entoesiasme uitgestraal wat my oortuig het dat ons haar ’n kans moet gee. Sy is ’n bondel lig en kreatiwiteit en sy werk met soveel liefde en empatie met ons kinders. Sy’t ’n manier om net te sê: “Oukei julle, dankie”, dan is almal doodstil. As sy dan weer ’n huppelstappie gee en “Yes!” uitroep, voel almal in die wolke. Sy’s werklik ’n towenaar.

Ek neem aan Om teen treine te skree het ’n opvoedkundige boodskap vir ouers en leerders oor die gevare wat sosiale media kan inhou? Het jy raad vir ouers hieroor?

Tegnologie en al die sosialemediaplatforms is deel van ons almal se lewe. Dit toets ons waardes tot in die wortels. Die boodskap vir ons almal lê heel waarskynlik daarin dat ons die regte keuses moet maak.

Ons waarsku leerders teen kitskeuses wat mens met die druk van ’n knoppie maak. Veral as jy emosioneel is en nie mooi dink nie. Een van ons tienertoneellede se ouers het nou die dag by die skool met ouers kom gesels oor die gevare van sosiale media en sinvolle voorstelle gemaak om hulle te bemagtig.

Oop kommunikasie tussen ouers en tieners is uiters belangrik. Tieners kla deesdae oor hulle ouers wat nie luister nie en met oë vasgenael op hul selfone sit. Ons is almal semiverslaaf aan al die sosialemediaplatforms wat so vrylik beskikbaar is, dink ek. My eie selfoon is ’n rukkie terug gesteel en dit het gevoel of my hele lewe inkonk.

Indien dit werklik in ’n skool sou gebeur dat daar foto’s van ’n leerder versprei word met die doel om verleentheid te veroorsaak, hoe moet ’n skoolgemeenskap te werk gaan om die probleem aan te spreek?

Die groot probleem is dat leerders baie keer skaam voel as so iets gebeur en dit probeer wegsteek. Ons het ’n berader by die skool wat ’n oop verhouding met die leerders het en ook die vriende van ’n persoon wat probleme ervaar, aanmoedig om hom te kom spreek. Ons skoolhoof is ’n toeganklike, dinamiese mens wat onmiddelik sal werk maak van die probleem en die nodige dissiplinêre stappe sal volg.

Om teen treine te skree is een van ses produksies wat onder die vaandel van Die klaskamer op Jeugdag, en ook op 19 Junie 2021, deur die Suidoosterfees by julle skool aangebied word. Watter waarde lê daar vir die skool in om betrokke te wees by so ’n projek deur Kaapstad se bedrywigste fees?

Wat ’n ongelooflike voorreg om deel te wees van die Suidoosterfees! Ons kinders is superopgewonde om deel te neem saam met van die grootste name in die bedryf. Veral die ouers van tieners het nou die geleentheid om eerstehands die gevoel van ’n klaskamer te ervaar, kompleet met klokke wat lui om mense na die volgende toneelstuk met professionele akteurs te neem. Met al die inperkings wat ons tans beleef, is ons almal uitgehonger vir die lewende energie van teater.

Watter betekenis het dit vir die skool dat dié projek juis in die week van Jeugdag 2021 by julle aangebied word?

Ek dink dis wonderlik dat die projek juis op Jeugdag aangebied word. Ons land se jeug het nog altyd die ingebore vermoë gehad om ongeregtigheid te ontbloot en te bekamp.

Drama is die spieëlbeeld van ’n samelewing. Die jeug hou nou die spieël met Die klaskamer na ons op. Afgesien van die feit dat ons op Jeugdag jong individue onthou wat hul lewens opgeoffer het sodat ons ’n vrye en inklusiewe Suid-Afrika mag beleef, moet die huidige generasie nou die toon aangee, geleentheid kry om te rebelleer en vrae te vra.

Ek neem aan almal is ekstra versigtig met die derde COVID-19-vlaag wat op hande is. Watter voorsorgmaatreëls tref julle? En hoe hanteer julle die ontwrigting wat die grendelstaat in die onderwys veroorsaak het?

Ons tref die gewone voorsorgmaatreëls wat ons in ons daaglikse roetine toepas. Die klasse sal tussen produksies gesaniteer word voordat die volgende groep die klaskamer binnestap. Net soos ons elke dag die leerders se hande saniteer, sal ons dieselfde doen met die gehoor. Ek dink ons is nou al so gewoond aan die ontwrigting dat voorsorgmaatreëls tweede natuur geword het.

Kaartjies vir Die klaskamer is beskikbaar by Computicket teen R120 vir volwassenes en R80 vir skoliere, studente en groepe. Die vertonings is nie geskik vir kinders onder 14 jaar nie. Vertonings vir beperkte gehore vind op 16 en 19 Junie om 11:00 en 15:00 plaas. COVID-19-protokolle sal streng gehandhaaf word.

 

Lees ook:

Persverklaring: Op Jeugdag neem die Suidoosterfees jou terug skool toe

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top