Bly weg van dié woorde om aanstoot te vermy

  • 21

Met Suid-Afrika se politieke geskiedenis, en die manier waarop Afrikaans in die verlede gekaap is om in diens van apartheidsideoloë te staan, moet Afrikaanssprekers uiteraard versigtig wees om nie met hul taalgebruik aanstoot te gee nie. Deesdae, met ’n intense bewustheid van politieke korrektheid die hele wêreld oor, is dinge nog meer kompleks. Vir watter woorde en uitdrukkings moet sensitiewe Afrikaansprekendes versigtig wees om nie aanstoot te gee nie? Melt Myburgh het by die woordeboekmaker Jana Luther van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en Afrikaans Vandag gaan kers opsteek.

.........

Jana Luther (Foto: Naomi Bruwer)

Jana, is daar nog baie ras-onsensitiewe woorde wat in die omgang gebruik word sonder dat Afrikaanssprekers eers hoegenaamd besef dat daardie woorde aanstoot gee? Dit is nou buiten die voor die hand liggende raspejoratiewe wat Suid-Afrikaners van mekaar vervreem.

In 1977, dus meer as 40 jaar gelede, vind daar in Barrow, Alaska, ’n konferensie plaas. Hier word amptelik, as voorkeurbenaming om na die groep mense van Noord-Kanada, Groenland, Alaska en Oos-Siberië gesamentlik te verwys, die term Innuïet (of Inuïet – die AWS erken beide spellings) aangeneem. Innuïet beteken “mens”; die meervoud is Innuïete. Vir die mense in die weste van Alaska is die aanvaarbare benaming Aleoete. In die binnelandse streke van Alaska verwys die Innuïete na hulleself as Athabaskans. Omdat Eskimo as ’n term beskou word wat “eters van rou vleis” beteken (party sê dalk verkeerdelik so), verkies baie Innuïete, maar nie almal nie, dat dié term eerder nié gebruik word nie. Tog berig Rapport op 28 Junie 2020 dat ’n pensioentrekker ’n voormalige pastoor as ’n fantastiese spreker beskryf, iemand wat “ys aan ’n Eskimo kan verkoop”. In ’n Afrikaanse tydskrif verskyn op 7 Julie ’n resep vir “karamel-eskimo-roomys”.

Die internasionale federasie van die Roma, ’n nomadiese volk, sprekers van die taal Romani, maak beswaar daarteen dat hulle Sigeuners, in Engels Gypsies, genoem word. Tog staan daar in Januarie, oor ’n besoek aan Rusland, in Rapport: “Ons ry verby woonstelblokke en die sigeuners se ghetto’s.”

“In Lapland word ’n hele dorp aan Kersfees gewy,” vertel ’n Afrikaanse tydskrif in Desember. Die Sami-mense self? Hulle beskou die benaming Lap, wat “uitgeworpe(ne)” beteken, as verouderd en neerhalend.

In Namibië is daar die Basters, ’n verkorting van Rehoboth-Basters, inwoners en boorlinge van die dorp en distrik Rehoboth, afstammelinge van Khoivroue en veeboere wat in die 18de eeu uit die Kaap getrek het. In die meeste ander gevalle sou dié woord met verwysing na mense gebruik, aanstoot gee. Hier verkies die gemeenskap self dié benaming, wat hulle glad nie as neerhalend of rassisties beleef nie.

By die woord Boesman sien ’n mens ’n soortgelyke verskynsel. Omdat die gebruik van dié woord in sommige omstandighede aanstoot gee, as neerhalend, rassisties aangevoel word, gee baie mense voorkeur aan die benaming San. Maar lede van die gemeenskap self beskou die benaming Boesman nóg as neerhalend nóg as rassisties. Baie verkies dit. Aan Willemien Brümmer sê wyle Dawid Kruiper: “Ons is Boesmans en ek is trots daarop om ’n Boesman te wees.”

Behalwe in blokkies op vorms nog, is verwysings na kleur meestal onnodig. Is dit werklik nodig om ’n karakter in ’n storie of ’n slagoffer van ’n misdaad aan ’n kleur te koppel? Dink daaroor. Let op: As dit moet, word die woord wit, swart of bruin met ’n kleinletter, los van die daaropvolgende naamwoord geskryf. Party mense verkies vir hulleself die benaming “mense van kleur”. Hierteenoor is die term kleurling gelaai, maar terwyl die meeste mense dié benaming deeglik verwerp, dui sommige aan dat hulle wel nog met dié woord na hulleself wil verwys.

Hoe gemaak as ’n mens sensitief wil wees? Belangrik is sekerlik om nie van die onderwerp weg te skram nie. As groepe mekaar van buite af etiketteer, is dit altyd problematies. Die regte name vir individue is die name wat hulle vir hulleself kies. As jy nie weet wat so ’n naam in ’n betrokke geval is nie, vra. Een van die mees basiese maniere om te wys dat jy ander respekteer, is om 1) die name te gebruik waarmee mense hulself vereenselwig, en 2) dié name wat hulle as beledigend beskou, te vermy.

Is troeteldiername soos Boesman rassisties?

Waarskynlik nie, maar wat mooi is vir die een, is nie noodwendig mooi vir ’n ander nie.

Aan die een kant is daar woorde wat altyd, in al hulle betekenisse, rassisties is. Sulke woorde is altyd en oral taboe. Andersyds is daar egter ook woorde wat gedeeltelik rassisties is, en gedeeltelik dalk nie, woorde wat benewens ’n rassistiese betekenisonderskeiding, binne ’n bepaalde gesin, familie of groep dalk ook ’n neutrale betekenis het, dalk selfs liefkosend, as troetelwoord, gebruik word, byvoorbeeld deur ’n ouer of grootouer teenoor ’n kind.

’n Taal behoort aan al die mense wat dit gebruik. Dit moet ons altyd onthou. Geen taal behoort aan taalkundiges of woordmakers of skrywers of teksredakteurs nie. ’n Taal word beheer en gestuur deur al sy sprekers. Oor dié proses het geen enkele mens beheer nie.

In elke woord is daar minstens een betekenis opgesluit, dikwels meer as een. By die gebruik van ’n woord kan woordeboeke soos die WAT, HAT, WAV jou help slegs deur van die betekenisse van elke woord aan jou ’n genommerde lys te verskaf. Die woordeboek probeer jou aandag daarop vestig, maar dis jy self wat daarop moet let dat ’n enkele woord soms beide positiewe én negatiewe betekenisse het. Watter betekenis wanneer ontsluit word, berus nóg by die woord nóg by die woordeboek. Die betekenis waarin ’n woord gebruik word, word altyd toegeken deur die spreker of skrywer wat daardie spesifieke woord kies om dit in ’n spesifieke konteks te gebruik, en dan nog ’n maal geaktiveer deur die ontvanger. As die boodskap suksesvol oorgedra word en die kommunikasie geslaagd is, het die hoorder of leser dieselfde betekenis geaktiveer as wat die spreker of skrywer in gedagte gehad het, maar geslaagde kommunikasie is nooit ’n uitgemaakte saak nie. Die spreekwoord lui nie verniet “Tussen die hand en die mond val die pap op die grond” nie. Daar is altyd die gevaar dat ’n positiewe betekenis wat iemand wil oordra – sê nou maar wanneer ’n seun die hond wat hy liefhet, “Boesman” noem, of ’n neutrale, dalk skertsende Namakwalander na sy skoolmaats van weleer as “klongens” verwys – deur iemand anders wat dié woorde hoor of lees, as negatief ervaar kan word. Hoe mense woorde hoor, weeg altyd swaarder as etimologie of woordeboekdefinisies. Veral by naamgewing is dit belangrik dat ons dit onthou.

Die mag gaan uit van die een wat die naam gee. Daarom is naamgewing een van die mees sensitiewe kwessies in ’n taal. Niemand weet méér van ons en ons lewe as ons self nie; ander kan hulle nooit volledig in my skoene indink nie. Maar die omgekeerde geld in gelyke mate: Ander mense weet oneindig meer van hulle lewe as ons; ek kan my nooit volledig in iemand anders se skoene indink nie. As ’n woord my nie kwets nie, beteken dit nie dat dit jou nie kwets nie. En andersom.

Die woord bediende is lankal uit die mode. Herinner ons lesers asseblief waarom dit aanstootlik is, en wat aanvaarbare woorde is om iemand wat in jou huis of tuin werk, te beskryf.

’n Bediende is iemand wat ’n ander bedien, wat ander tot diens is. Met diens is daar nie fout nie. Daar is ook geen fout daarmee om iemand te bedien nie. As jy in ’n restaurant eet, bedien iemand jou aan tafel. As jy ’n bank of winkel besoek, staan iemand reg om jou te bedien. Maar na kelners en bankklerke en winkelassistente verwys niemand as bediendes nie. Mense word benoem volgens die werk wat hulle doen, of die plek waar hulle werk. Hotelwerkers, hospitaalwerkers, fabriekwerkers, mynwerkers. Ook tuinwerkers en huiswerkers.

Die woord bediende impliseer nie net diens nie, maar ook gedienstigheid, onderdanigheid, ondergeskiktheid van iemand aan iemand anders. Die ekwivalent van bediende of dienaar, uit Germaans, is die Latynse servus, in Engels servant, wat pynlik naby lê aan slaaf.

In ’n gender-ongelyke samelewing is dit belangrik dat die skeefgetrekte magsposisies tussen geslagte reggetrek moet word. Is vroulike vorme van woorde (skryfster, aktrise, danseres, minnares) nog enigsins aanvaarbaar? Wanneer behoort mens genderneutraliteit te handhaaf?

In die verlede was die man sentraal. Kyk vir sooibrand na gebruiksvoorbeelde in ou woordeboeke: “Die vrou is andersoortig en ’n aanvulling van die man”; “Sy vrou loop met ’n ander man rond, maar hy is asvaal”; “As sy ’n ander man s’n word terwyl haar man lewe, sal sy ’n egbreekster genoem word” (Rom 7:3); “Die emosionaliteit van die vrou teenoor die intellektualiteit van die man”; “Wat die man by die voordeur inbring, dra die vrou by die agterdeur uit” …

In korpusse van eietydse Afrikaans gaan dit met gendervrye, genderbillike en genderspesifieke terme gelukkig beter. Gendervrye woorde kry duidelik vandag die voorkeur: argitek, bestuurder, dokter, geoloog, klerk, pasiënt, persoon, stapper, tandarts, werkgewer, werknemer … Dit wil sê woorde wat vir enigiemand gebruik kan word.

Die agtervoegsels wat aan manlike vorme gelas word om vroue aan te dui (-in, -es, -e, -iese, -ster), word toenemend vermy. ’n Onderwyser is ’n onderwyser, ’n digter dig, ’n skrywer is iemand wat skryf. Of dit ’n man of ’n vrou is, is nie ter sake nie. Deur by ’n manlike vorm ’n stertjie te las om ’n vrou aan te dui (onderwyseres, digteres, skryfster) word die idee bestendig dat die man die norm is. ’n Norm waarvan die vrou op een of ander manier, as ’n sekondêre klassifikasie, afwyk. Moderne vroue ervaar dié gebruik as verkleinerend. Die doel van ’n agtervoegsel is om die kernwoord te kwalifiseer. Die moderne mens het so ’n kwalifikasie nie nodig nie.

Die aanbeveling is dus om liefs, op enkele uitsonderings na (waarvoor jy ’n goeie rede moet kan gee), die basiswoord te gebruik: burgemeester, redakteur, voorsitter, woordeboekmaker. Woorde soos burgemeesteres, redaktrise, voorsitster, woordeboekmaakster is lank reeds in die doofpot. As die geslag van ’n individu werklik ter sake is, deug ’n byvoeglike naamwoord dikwels ewe goed: ’n Manlike akteur vertolk soms die rol van ’n vrou. Of: Theron is onder die voorste tien vroueakteurs wat die meeste geld verdien. Dikwels is ’n voornaamwoord genoeg: Sy is as die beste akteur aangewys.

Genderbillike taal behels ’n simmetriese gebruik van genderspesifieke woorde. As kinders ter sprake is, behoort seuns en meisies eenders en gelyk behandel te word. As jy na ’n beroepsvrou wil verwys, moet jy seker maak dat jy ook van ’n beroepsman praat.

As dit by die spektrum van seksualiteit kom, moet mens ook twee keer dink voordat terme soos gay, lesbies, queer ens gebruik word. Watter raad het jy vir Afrikaanssprekendes in dié verband?

Met hierdie terme verleen Afrikaanse woordeboeke ongelukkig nog nie veel hulp nie. Van hulle is wel onlangs in die Woordeboek van Afrikaans Vandag opgeneem: genderidentiteit, genderbinariteit, genderneutraliteit, genderqueer, genderstereotipering, genderswerwer, gendervloeibaar, LGBTQIA, transgender, transseksueel, transgemeenskap, queer, en so meer.

Raad? In ’n neutedop: Vermy stereotipes. Die beste manier om onbevooroordeeld te skryf en onbevooroordeeld te praat, is om na mense te kyk en hulle as individue te beskryf.

Die tradisionele gebruik van hy om “hy” en “sy” te bedoel, is grammatikaal regverdigbaar, maar dikwels problematies. Veral as kinders daardeur onder die indruk kom dat hulle grootword in ’n wêreld wat die klem op manlikheid plaas.

As albei geslagte by ’n aktiwiteit betrokke is of betrokke kan wees, moet dit duidelik wees. Daarom word manlike en vroulike voornaamwoorde deesdae dikwels afwisselend gebruik, maar dit kan steurend raak. Eksperimenteer dus ook met ander tegnieke. Die frases hy of sy, sy of haar kan op verskillende maniere vermy word: deur dit weg te laat; deur dit te vervang met die woord iemand, jy of ’n mens, of deur ’n persoons- of eienaamwoord. In plaas van die enkelvoud kan dalk die meervoud gebruik word, of in plaas van ’n besitlike voornaamwoord, ’n lidwoord. Om na die passief oor te skakel, bied dikwels ’n oplossing.

Sensitiwiteit omtrent mense se ouderdom is deesdae ook ’n turksvy waarvan die fyn dorinkies in die mond bly sit. Mag mens nog van “oumense” of “bejaardes” praat?

Wanneer is iemand bejaard? Is dit dalk nodig om daarop te wys dat ’n 77-jarige presidentskandidaat ’n ou man is? Moet ek hier vermeld dat ek middeljarig is? Of raak-raak ek op 56 al aan bejaard? Is dit belangrik? Moet ek nou daaraan dink om af te tree?

Praat eerder byvoorbeeld van mense van 65 jaar en ouer, of pasiënte tussen 70 en 90, of kinders onder 16 . Praat van mense oor 60 as ouer volwassenes. Maar net as dit regtig nodig is. Net soos velkleur en geslag meestal irrelevant is, net so is ouderdom baie gereeld irrelevant. Party mense tree af op 50, ander op 90. Dink gerus maar twee keer voordat jy ’n eufemisme soos goue oues, gryskoppe, skimmelkoppe, oues van dae, selfs senior burgers gebruik. Vermy verkleinwoorde – soos in ons ou oumensie(tjies), hoe goed jy dit ook al bedoel – soos COVID. Dit is altyd neerhalend, altyd kwetsend.

Is daar ’n goue reël wat mense kan volg om veilig te speel wanneer hulle praat, of is ’n toe bek ’n heel bek?

Moet niemand bedoos nie (Ingrid Jones se mooi skepping). Moenie kleur, geslag, ouderdom, siekte, ongeskiktheid, wat ook al as etiket gebruik om mense te klassifiseer en almal oor dieselfde kam te skeer nie. Word wakker en sien elke mens raak as die unieke persoon wat hy of sy is. Selfs al gebruik jy nie ’n enkele bevooroordeelde, ongunstige of negatiewe term nie, kan jy steeds ’n bevooroordeelde boodskap stuur.

Aan studente in die skryfkuns word gesê: Herlees jou teks asof jy ’n transgender persoon is, blind is, in ’n rolstoel sit, honger is, werkloos is, ouer is as 80, jonger is as 16 … As jy op enige manier uitgesluit, afgeskeep, te na gekom voel, is jy nog nie wakker genoeg nie. Vra ander om op jou skryfwerk kommentaar te lewer.

Deur ons taalgebruik te ontleed, daaroor na te dink, dit te bespreek, verhoog ons ons bewustheid van ongelykhede wat ons onbewustelik deur ons woordkeuses weerspieël. Deur van veralgemenings en clichés ontslae te raak, leer ons om ons beter uit te druk.

 

  • 21

Kommentaar

  • Berdéhan Brand

    Die enigste ding in die artikel wat my erg bedoos maak is dat die Afrikaanssprekende wéér hier beklemtoon word. Om substansie aan jou eie mening te gee, waarom voeg jy nie “wit” in nie? – die wit Afrikaanssprekende. Die kernwoord hier is myns insiens “wit” (wat weggelaat word) en nie Afrikaanssprekende nie, want die norm wat jy voorstel geld nie vir alle Afrikaanssprekendes nie. Dít het geen kwalifiksie nodig nie. (Gee “wit” aanstoot?) Politieke korrektheid is pynlik en die veralgemening, bejaard.
    * Dankie vir die insiggewende artikel. Almal weet dit, maar min steur hulle daaraan.

  • My moeder het ’n storie vertel van ’n dogtertjie wat afwesig was in die skool. Die onderwyseres vra toe haar boetie wat sy makeer en hy antwoord: “Hy’t ’n pyn in sy se sy gekry”. Dit was lank voor hulle vir Jordan Petersen wou kruisig omdat hy geweier het om sewe(?) aanspreekvorme vir die mense wat nie ’n hy of sy wil wees te gebruik.

  • Henning Janse van Vuuren

    • “He is such a German.”
    • “... because he is a rude German, he cannot go away without insulting our honour and calling us thieves ...”
    • “... he lends money and take interest like any Jew.”
    • “… well dressed, not in the least like a Jew or a second-hand dealer.”
    M’milieu …
    Só rol Kafka en Dostojefski se karakters konteksgedrewe oor die doek: ongesensureer en vry van vaal kantoorknapies se irrasionele vrees vir die lewe ‒ lewensgetrou.
    Keep it real.

  • Henning Janse van Vuuren

    Is voëlperspektief dan ’n ieder en elk beskore?
    Gaan die bedoosde gender uit die oude doos mettertyd voëlvry verklaar wôd ‒ ʼn voëlwip wôrre, as’t ware.
    Hou eksistensialisme nie tog verband met solopsisme nie? ‒ al sê Google nee. Verstaan ek reg? Wat ʼn snotterbel.
    Al die onsekerheid. Lê my lam.

  • Ek voel vere vir of eksistensialisme verband hou met solopsisme of nie. Filosofie het lank gelede al gesterf toe haas nie vir skilpad kon klop nie.
    Wat my lam lê, is hoe ’n snotterbel, ’n hoes en kortasem ’n toiletpapiertekort kan veroorsaak.

  • Henning Janse van Vuuren

    Met die wynwinkels toe, is filosofie dalk inderdaad op sy sterfbed. Die spotters het gesê drank kan maar duur raak, dit moet net nie opraak nie, en kyk nóú.

    Dis helaas alles oor.

    Papier word weliswaar oral uitfaseer, maar ek glo daar sal straks e-toiletpapier beskikbaar wees. Ek verstaan die huilboom se blare, ou e-tolstrokies of repe koerantpapier kan tydelik uitkoms bied. Die gebruik van die woord ‘tol’ (veral tollie) laat my skielik onrustig voel en stel ek my waarskynlik bloot. Aan kritiek.

  • Knap artikel, Jana. Ek wys net graag daarop dat woorde soos "gender", "gay", "lesbies" en "queer" onlangs in die Aanlyn WAT herbewerk is volgens hedendaagse opvattings. Die WAT het ook 'n gender-medewerker wat advies verskaf oor gendersake. Dit is dus nie korrek om te beweer dat slegs die Woordeboek van Afrikaans Vandag in hierdie verband leiding gee nie.

    Die WAT het ook reeds in 1994 'n internasionale kongres oor die leksikografiese hantering van beledigende leksikale items gehou. Dit het uiteraard ook seksismes en rassismes ingesluit wat in jou artikel aangesny word.Die resultaat was 'n revolusionêre beleid vir die hantering van onder andere seksismes en rassismes. Hiervolgens word hierdie items wel opgeneem, maar duidelik geëtiketteer as (seksisties) of (rassisties); die definisies word so neutraal as moontlik geformuleer met die hulp van ons medewerkers vir seksisme en rassisme; geen rassistiese sinonieme word vermeld nie en geen voorbeeldsinne word verstrek nie. Slegs dekoderende inligting en geen enkoderende inligting nie word dus gegee: die woordeboekgebruiker word gehelp om die betekenis van die woord of uitdrukking te begryp, maar word nie gehelp om die woord te gebruik nie. Die perpetuering van die gebruik van die seksisme of rassisme word dus nie bevorder nie.

  • Henning Janse van Vuuren

    As ek reg onthou, het Neels van Jaarsveld een aand op TV te vertelle die Eskimo het slegs een kind, want die winter het sy tol geëis.

    Dit was uiters onvanpas, want: "Vir die mense in die weste van Alaska is die aanvaarbare benaming Aleoete. In die binnelandse streke van Alaska verwys die Innuïete na hulleself as Athabaskans. Omdat Eskimo as ’n term beskou word wat “eters van rou vleis” beteken (party sê dalk verkeerdelik so), verkies baie Innuïete, maar nie almal nie, dat dié term eerder nié gebruik word nie."

  • Dankie, Willem. Ek sê darem wel woordeboeke verleen “nog nie veel hulp nie” (nie “slegs” nie!), bv. wat betref die lysie samestellings.

  • Die sin “In die binnelandse streke van Alaska verwys die Innuïete na hulleself as Athabaskans” is nie korrek nie, en mag dalk aanstoot gee aan beide die Innuïet en die Dené.

    Die etnolinguïstiese term Eskimo-Aleoet verwys na ‘n taalfamilie wat van Groenland in die ooste tot Siberië in die weste deur sowat 150,000 sprekers gepraat word. Inuktitut is ‘n amptelike taal in Groenland en in die Nunavut- en Noordwestelike gebied van Kanada. Aleoet word in die Alaska Skiereiland, Aleoet- en Pribilof-eilande en in Kamchatka gepraat.

    Die etnolinguïstiese term Athabaskan verwys na die sprekers van Na-Dené-tale, wat in die binneland van Alaska, Noordwes-Kanada, langs die weskus van die VSA en die suidweste van die VSA gepraat word. Onder laasgenoemde is 170,000 sprekers van Diné bizaad, ook bekend as Navajo, wat die grootste Amerindiese taal noord van Meksiko is.

  • Henning Janse van Vuuren

    Quinn
    (The Mighty Quinn) - Written by Bob Dylan (Soos gewysig)

    Ev’rybody’s building the big ships and the boats
    Some are building monuments
    Others, jotting down notes
    Ev’rybody’s in despair
    Ev’ry girl and boy
    But when Quinn gets here
    Ev’rybody’s gonna jump for joy
    Come all without, come all within
    You’ll not see nothing like the mighty Quinn

    I like to do just like the rest, I like my sugar sweet
    But guarding fumes and making haste
    It ain’t my cup of meat
    Ev’rybody’s ’neath the trees
    Feeding pigeons on a limb
    But when Quinn gets here
    All the pigeons gonna run to him
    Come all without, come all within
    You’ll not see nothing like the mighty Quinn

    A cat’s meow and a cow’s moo, I can recite ’em all
    Just tell me where it hurts yuh, honey
    And I’ll tell you who to call
    Nobody can get no sleep
    There’s someone on ev’ryone’s toes
    But when Quinn gets here
    Ev’rybody’s gonna wanna doze
    Come all without, come all within
    You’ll not see nothing like the mighty Quinn

    https://www.youtube.com/watch?v=UAe6wqeOmzE

  • Henning Janse van Vuuren

    Beste Jana
    Dalk ken jy vir Dana? Dana Snyman. Ieder geval. Só trek ek vanoggend ’n Dana en knoop ’n informele gesprekkie aan met ’n sonverweerde vrou met ’n blou laphoedjie wat buite Checkers na die veiligheid van my motor omsien. ’n Karwag? Iemand wat so by ’n kar wag klink net te veel na ’n bediende en ons weet nou al daai is ’n groteske en besliste nee-nee – amper soos ʼn waghond: Woef-woef!
    Nee.
    Haar naam het ek nou vergeet, maar toe sy in Engels groet, laat waai ek in Afrikaans. (Terloops, sy is met ’n Portugees getroud (in die eg verbind) en daar is ’n buitekans vir migrasie na Madeira. Is dit nie verblydend nie?)
    Nietemin.
    Sy het my sommer gou in haar vertroue geneem en erken dat sy al te bang is om in Afrikaans te groet, want sommige van die kroonjuwele woonagtig te White River gaan sommer aan die skel jeens sulke voorbarigheid. Ek sê toe vir haar, “ag fok hulle man!”
    Nou, moet asseblief nie terughoudend wees nie, Luther vir Luther volgens die Luther-leer, hoe aanstootlik vind u hierdie tipe gedrag?

  • Ja, ek vind dit uiters aanstootlik! Die woord “fok” kan egter nie verban word nie; anders sal baie welsprekendes met toe monde sit.

  • In die army van uncle PW het ek baie dinge geleer soos bv wat ’n “springmoer” is. So lê ons dan een aand en gesels die manne oor alles en nog wat en wag om hul wagbeurt waar te neem in skofte van so 4 uur elk.
    Dan kom die manne van dorpwag terug, dis nou die ouens wat kyk dat ander ouens nie stilletjies by die kamp uitsluip en hul aan die dorp se lekkernye vergryp nie.
    “Enige talent gesien” wil die manne weet. “Nee niks nie man, net ’n klomp ‘springmoere’. Dadelik wil almal weet wat ’n ‘springmoer’ is. Die woordvoeder verduidelik dan: dit is nou die ouens met lang hare wat tot op hul boude hang, van agter af gesien wil jy dit bespring en van vooraf moer om van die slegte gedagte ontslae te raak. En so leer ek dan dat Afrikaans ’n ryke beskrywende taal is wat nie in almal se smaak val nie.

  • Henning Janse van Vuuren

    Dikmond, ook.
    Scheiße, bid jou net aan, hoe maklik letter en klank tot konfrontasie kan lei ‒ das ist ja Kinderkacke. “Ficken,” daarteenoor, klink betreklik onskuldig, maar “fuck those seamstresses” gaan taamlik gekrui af as: fok julle naaiers! (Google Translate).
    Die solopsisme reken oënskynlik alles gebeur in jou kop ‒ begin en eindig als by jou. Ek weet die filosofie verveel jou, maar Lana wil nie met my in gesprek tree nie.
    Eintlik wou ek vanoggend hare gaan sny het (in Illanga Mall ‒ wat ’n droefgeestige affêre), maar Harry Kalmer se “In ’n land sonder voëls” is toe teen ’n skrapse R99.00 by Bargain Books beskikbaar. Huh! Fok, dis mos ’n no-brainer. (En bygesê: “En die lekkerste deel van dood wees”, is prima.) Op die agterblad staan geskrewe: “‘In ʼn land sonder voëls’ is ʼn verdoemende ondersoek na die impak van ’n totalitêre bestel en een man se besinning oor sterflikheid en dít wat ons mense maak.”
    Merk jy ook die contradictio in terminis? Enkeling, vreemdeling, man alleen in ’n land sonder voëls. (Man moet eerder “mens” lees.)
    ’n Totalitêre bestel? Sterflikheid. M’m. In Fyodor Dostojefski se Crime and Punishment word soortgelyk bespiegel oor “dít wat ons mense maak”. Ek haal moedswillig buite konteks aan: “... it discusses the question, ‘Is woman a human being?’ And, of course, triumphantly proves that she is. Heruvimov is going to bring out this work as a contribution to the woman question; I am translating it.”
    The woman question ...
    Ek onthou meteens van ’n oom wat na vrouens verwys het as: “waens met wolwiele”; sy Skepper het hom intussen weer opgeskep.
    Ek dink dit is maar beter so.

  • Hierdie kaboel modernismes and sensitiwitismes bestaan net in moderne uitgawes van woordeboeke en in die koppe van diegene wat lyk my laaank en diieeppp gaan dink oor hoe om nuwer weergawes bietjie te moderniseer. Dis baie ver verwyder van die deursnee Afrikaanse spreker in Suid-Afrika. Dus hoef mens jou nie te veel steur aan die geite nie. Vermy net die wat jou in die tjoekie kan laat beland. Of uiter dit op die regte tyd; plek voor die regte mense ... Soos Daniel vra, bedoos neig bietjie na die seksistiese kant. As man, kan ek ook nou nie juis bedoos raak nie (in elk geval nie as ek boos bedoel nie ...)

  • Hello Daniel, my woord is bedoosd. Van die Engelse box. Die uitlaat van 'n konsonant kan moeilikheid veroorsaak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top