Woordfees-onderhoud: Melt Myburgh raak opgewonde in die week voor die Woordfees

  • 0

Melt, dis die laaste dae voor die Woordfees en ek neem aan jou lewe is tans chaoties. Waarna sien jy die meeste uit wanneer die Woordfees Vrydag afskop?

Dit gaan inderdaad woes, Bibi, maar dis heerlike adrenalien wat vloei. Die lekkerste is om te sien hoe liefhebbers van die woord in al sy vorme Stellenbosch binnestroom en entoesiasties raak oor dinge waarvoor mens ’n passie het.

 
  Foto: Alwyn van Zyl

Gaan jy tyd hê om agteroor te sit en 'n paar van die aanbiedings by te woon? Watter kan 'n mens absoluut nie bekostig om mis te loop nie?

Nee, ek het ongelukkig nie tyd om aanbiedings by te woon nie. As ’n gasheer van die skrywersprogram maak ek uiteraard die meeste items op dié feesafdeling mee.

Dinge wat mens nie kan bekostig om mis te loop nie, is daar vele van. Self sien ek uit na Inheems met Antjie Krog. Krog se optrede saam met voordraers en musiekmakers in inheemse tale is ’n belewenis. Ek kan ook nie wag om die volgende skrywers aan te hoor nie: André P Brink, Marita van der Vyver, Leon Rousseau, Alexander Strachan, Mongane Wally Serote, Jan van Tonder, Sonja Loots, en ander. Moet ook nie van die ikone Riaan Cruywagen en Sandra Prinsloo vergeet nie. Dan is daar jongeres wat my baie opgewonde maak: Ronelda Kamfer, Luna Paige, Pieter Odendaal en Bateleur ... Riana Scheepers se ontbytgesprekke met Murray la Vita, Louis Janse van Vuuren en Reuben Riffel is ook nie te versmaai nie. En dan het ek nog nie eens by die drama- en Sanlam-musiekfees-items gekom nie.

Jy is self op die program dié jaar, met voorlesings by Nuwe Stemme 5 en ook Om die droogte groen te skryf. Kan jy ons meer oor hierdie geleenthede vertel? Gaan jy slegs uit oewerbestaan voorlees, of ook nuwe verse?

NB-Uitgewers en Protea Boekhuis het my gevra om by dié geleenthede op te tree en ek het my laat ompraat. By Nuwe Stemme 5 gaan ek ’n gedig of wat voorlees en ek sal seker getuig hoe publikasie in Nuwe Stemme 2 my digtersloopbaan help koers gee het.

In Om die droogte groen te skryf gaan Daniel Hugo gesprek voer met my, Louis Esterhuizen, Elias P Nel en Lené Malan. Ek sal waarskynlik probeer rekenskap gee oor hoe die dorre wêreld van die Noord-Kaap in my poësie verander in die “groener weivelde van die gees” – of so iets!

Of ek ’n nuwe gedig gaan voorlees, betwyfel ek. Ek volg vanjaar ’n MA in Kreatiewe Skryfkunde onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker. Ek is op die oomblik dus hiperselfbewus oor moontlike tekortkominge. Jy ken mos die gevoel!

Van die kaartjies is seker al heeltemal uitverkoop, omdat mense reeds goed vertroud is met bekendes soos die Bakkes-broers. Is daar ook relatief onbekendes op die program wat julle aandag getrek het toe julle die program saamgestel het en van wie Woordfeesgangers gerus kan kennis neem?

Mense wat verras wil word deur iets anders en nuuts, sou ek aanraai om moeite te doen met die beroemdes en berugtes van die toekoms. Doen jouself ’n guns en gaan luister na Susan Smith se lesing “Die groen in die gedig”. Dié knap akademikus sal jou kop swaai en jou siening van die wêreld radikaal wysig.
Gaan ondersteun ook nuwe talent van die Kaapse Vlakte: In En soe kap ôs an! bring Willem Fransman jr vrolike gevestigde én snydende jonger stemme saam op die verhoog. Heerlik! Dieselfde met Rondelsa Kamder in Ons is nuut hier!.
Debutante Aniel Botha, Karen Kuhn, Reney Warrington en Fourie Botha beloof ook om nog diep spore te trap. Gaan ondersteun hulle gerus.

Dis opvallend dat die musiekprogram vanjaar behoorlik uit sy nate bars. Daar is iets vir elke smaak, van klassieke koormusiek tot klipharde rock en reggae tussenin. Watter musiekproduksies staan jou persoonlik aan?
 
Danksy die ondersteuning van Sanlam spog ons met ’n formidabele musiekprogram. Omdat ek soos ’n ou doodsengel by skrywersaanbiedinge rondfladder om te kyk of alles vlot, kan ek nie musiekproduksies maak nie. Ek sou egter my voortande gee om die volgende kunstenaars in aksie te sien: die Duitse harmoniese blaaskwintet uit München, wat in die Endler optree in Concerto Festivo; enigiets waarin Zorada Temmingh verskyn; Amazink Live!; Ping! met Lizz Meiring en CH2 – ek is gek oor CH2!; Vusi Mahlasela in konsert saam met Lize Beekman; Karen Zoid en Zolani Mahola; Distell en die ATKV se Spirito, Coenie de Villiers se Hart van Glas (reeds uitverkoop) en Amanda Strydom in Binnekamer (ook al uitverkoop!). Coenie en Amanda is persoonlike gunstelinge.

En terwyl ons nou musiek gesels: Het jy al kans gehad om na van die Sing 'it-opnames te gaan luister? Indien wel, wat dink jy?

Ek is verskriklik beïndruk met jul Sing ‘it-projek. Elke keer wanneer ek met die Sanlam-mense vergader, wens ek hulle geluk met hul ondersteuning daarvan. Dit moet fantasties vir die liriekskrywers wees om te sien hoe formidabele kunstenaars lewe in hul woorde blaas. Mag dit nog lank aanhou!

Melt Myburgh by die US Woordfees  

NBfees 2012
Nuwe stemme 5
Die inskrywings vir Nuwe stemme 5 sluit binnekort. Kom luister na digters wat in dié bekende Tafelberg-reeks gedebuteer het, soos Melt Myburgh, Fourie Botha, Danie Marais, Toast Coetzer en Bibi Slippers. Heilna du Plooy en Loftus Marais, die samestellers van die nuwe bloemlesing, gesels ook oor die opwindende projek wat voorlê.
7 Maart 18:00 | Boektent | 50min | Gratis

Skrywersfees 2012
Om die droogte groen te skryf
Aangebied deur Protea Boekhuis
Met Daniel Hugo, Louis Esterhuizen, Elias P. Nel, Melt Myburgh en Lené Malan
Die noordweste van ons land is ’n ongenaakbare, droë wêreld, maar dit lewer van Afrikaans se mooiste skryfwerk op. Hoekom? Daniel Hugo, self ’n samesteller van ’n digbundel oor die dorre Namibië, gesels hieroor met ’n paneel skrywers wat goed vertroud is met die konsep “droogte”.
8 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Keer terug na die program-indeksblad.  

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top