
Johan Zaaiman (Foto verskaf)
Johan Zaaiman se navorsingsartikel in LitNet Akademies, “Houdings in verband met protesaksie in Suid-Afrika”, belig interessante aspekte oor die aard van protesaksie in Suid-Afrika. Die grootskaalse plundery wat die land ’n jaar gelede geruk het nadat oudpresident Jacob Zuma tronk toe gestuur is, is nog vars in die geheue. Melt Myburgh wou by Johan weet of dié protesoptredes voorkom kon wees as die ANC-regering sy vinger sterker op die pols van akademiese navorsingsresultate gehou het.
***
Johan, maak die regering hoegenaamd gebruik van die waardevolle navorsingsresultate wat deur instellings soos universiteite tot hul beskikking gestel word – en wat boonop deur die owerhede gesubsidieer word? Het die regering adviseurs wat navorsingsresultate in ag neem voordat besluite oor beleidsake geneem word, of word akademici as konsultante ingespan?
Dit is gebruiklik dat regerings, wat hulle deur ideologie laat lei, nie die betekenis daarvan insien om hulle besluite volgens onafhanklike navorsingsresultate te rig nie. Die ANC is so ’n regering wat ideologies georiënteerd is. Die ANC se Strategy and tactics-dokument en die Nasionale Ontwikkelingsplan gee voor dat dit al die antwoorde vir die party bied. Navorsing binne die ANC behels dus om ’n Leninistiese politieke ideologie se toepassing in die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing te bedink.
Daarteenoor behoort navorsingsresultate in ’n demokrasie op minstens drie terreine ’n rol te speel. Eerstens behoort politieke partye in die parlement navorsing te gebruik om hulle beleide se toepaslikheid en optimaliteit te bedink. Tweedens behoort staatsdepartemente navorsing te gebruik om te verseker dat beleidstoepassing so effektief moontlik ten behoewe van die burgery toegepas word, en derdens behoort die burgery deur eie leeswerk en deur middel van die media toegang tot navorsingsresultate te kry wat hulle kan help om die mees toepaslike politieke party te kies.
Dít is egter in ’n ideale wêreld. Politieke partye volg dikwels leiers se geite. Staatsdepartemente volg gemaklike of gebruiklike roetines of politieke opportunisme. Die burgery volg wat die sosiale media opdis. So, ongelukkig het ek nie vir jou ’n positiewe antwoord op jou vraag nie.
Jou artikel in LitNet Akademies ontleed die “houdingsverwante veranderlikes” wanneer die ingesteldheid van mense oor vreedsame en gewelddadige protesaksie ter sprake is. Vir politieke maghebbers sou dit seker darem ideaal gewees het as ’n mens vooraf sou kon voorspel of ’n protesaksie gewelddadig gaan raak of nie?
In die definiëring van protes in die artikel meld ek dat protes ’n emosionele optrede is om uiting te gee aan ’n ervaring van ongelukkigheid oor die stand van sake. Die potensiaal vir geweld lê dus altyd opgesluit in die aard van protes. Die emosionaliteit daarvan kan in ’n oogwink oorslaan in gewelddadige optrede.
In die 1970’s en 1980’s was geweld sinoniem met protes in Suid-Afrika. Om die geweld in toom te hou, moes ’n groot polisie- en weermagteenwoordigheid in stand gehou word. Die geweld wat uit ’n protes gevloei het, is met owerheidsgeweld gekonfronteer. Dit het dus ’n siklus van geweld geskep. Die oorgang in 1994 was daarom ook ’n poging om ’n stand van sake te skep wat vir die burgery aanvaarbaar sou wees.
Ons het egter gevind dat daar sedert 2005 ’n ontnugtering onder Suid-Afrikaners ontwikkel het oor wat die nuwe bestel vir hulle bied. Mettertyd het protes weer algemeen in Suid-Afrika geword en toenemend gewelddadig. Die geloofwaardigheid van ’n bestel op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak lei daartoe dat protes maklik in geweld kan oorgaan omdat die nut van selfbeheersing nie vanselfsprekend in so ’n bestel ingesien word nie.
Van “houdingsverwante veranderlikes” gepraat – jou artikel wys tereg daarop dat dinge nie so eenvoudig is soos wat dit op die oog af lyk nie. Daar is opvallende teenstrydighede. Ongeveer 80% van Suid-Afrikaners staan negatief teenoor gewelddadige protesaksie, maar dit blyk terselfdertyd “dat die meeste protesaksies tans gewelddadige uitkomste het”. Wanneer dit by partypolitiek kom, beklemtoon jy die punt dat sekere protesteerders byvoorbeeld die ANC aan bewind wil sien, maar dat hulle sterk gekant is teen “die ANC se plaaslike regering / faksies / kompeterende patronaatskapnetwerke”. Wat moet mense wat hulle oor die politiek wil uitlaat, in gedagte hou ten opsigte van dié ooglopende teenstrydigheid?
Die opname toon dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners nie gewelddadige protes voorstaan nie. Dit is so dat protes in geweld oorgaan, maar daarby moet gemeld word dat dit ’n klein deel van die bevolking is wat aan protesoptredes deelneem. Dié wat deelneem, is juis hulle wat emosioneel daartoe aangetrokke voel as ’n wyse om uitdrukking aan hulle gevoel van uitsluiting te gee.
Daarteenoor is die voorkeur van die oorgrote deel van die bevolking vir positiewe probleemoplossing. Die probleem is dat geloofwaardige kanale daarvoor nie beskikbaar is nie.
Die ondersteuning tans vir die ANC hou daarmee verband dat dit steeds as ’n erkende bevrydingsbeweging beskou word en daarom as waardig van ondersteuning beoordeel word. Daarby ontsluit die party ook toegang tot staatsbronne. Protes hou daarom dikwels verband met ANC-twiste waar ongelukkigheid bestaan oor die gebrek aan billike en aanvaarbare interne metodes om staatsverwante voordele te verdeel. Die voortgesette ondersteuning van die ANC, veral in gebiede waar alternatiewe ekonomiese hulpbronne skaars is, kan dus begryp word.
Hoe vaar die ANC-regering in die uitvoering van sy mandaat om veiligheid en ekonomiese gelykheid onder Suid-Afrikaners te bevorder? Is Suid-Afrika ’n mislukte staat?
Die politieke goedere wat ’n staat aan ’n bevolking behoort te lewer is sekuriteit, vrye politieke deelname (dit beteken menseregte word gerespekteer) en publieke goedere (soos gesondheidsorg, onderwys, fisiese infrastruktuur, ens). ’n Staat misluk as hierdie politieke goedere nie meer gelewer kan word nie. In Suid-Afrika is sekuriteit en openbare geriewe swak.
Ironies genoeg is openbare protes ’n wyse van vrye politieke deelname. Die voorkoms daarvan is dus ’n goeie teken. As dit egter op geweld uitloop, kan dit ’n teken wees van ’n staat wat nie beheer kan uitoefen nie. Waar geweld sporadies, maar kortstondig, voorkom, is dit ’n teken van ’n swak staat. Swak state word gekenmerk deur onder andere: gierigheid, interne antagonisme, despotisme, verval van gesondheidsorg, onderwys en fisiese infrastruktuur, onopgeloste spanning tussen etniese, taal- en godsdienstige groepe, hoë vlakke van korrupsie, ’n regstelsel wat onder druk is en ekonomiese verswakking.
’n Mislukte staat is in ’n ernstiger toestand omdat die samelewing ernstige konflik moet verduur tussen strydende faksies wat in ’n bittere stryd vasgevang is. In so ’n situasie het die staat nie beheer oor die konflik nie en is dit nog net die uitvoerende instelling wat funksioneer. Geweld word in so ’n staat aangedryf deur kriminele sindikate, krygshere en bendes met verbandhoudende onwettige wapen- en dwelmhandel.
Suid-Afrika is dus tans ’n swak staat, maar sterk en mislukte staatselemente kom ook voor. Die land is dus by ’n kritieke punt waar verbetering of verswakking ’n beslissende impak op die samelewing van die toekoms sal hê.
As regering besit die ANC inderdaad die mandaat om positiewe politieke goedere aan die land te lewer, soos veiligheid en ekonomiese gelykheid. Dit beheer staatsinkomste, -begrotings, -bates en die staat se betaalstaat en mynregte. Die ANC is dus in ’n posisie om positief die bevolking ter wille te wees in die lewering van goedere. Ongelukkig het elite-faksies in die ANC in ’n stryd verval oor magsposisies en die invloed om kaders te ontplooi, tenders toe te ken en werksgeleenthede te versprei.
Wanneer dit by gewelddadige protesoptrede kom, blyk dit uit jou navorsing dat die “revolusionêre ideologie van die ANC en EFF” motiverende faktore is. Terselfdertyd dui navorsing daarop dat “protesaksie dikwels namens armes georganiseer word, eerder as deur hulle self”. Wat is jou indruk oor die rol wat “leiers” in die agtergrond speel om die massas te mobiliseer, ook gesien binne die konteks van die Julie 2021-plundertogte?
Dit is in die hart van die Leninistiese politieke uitkyk dat revolusionistiese leiers ’n elite verteenwoordig wat namens die massas moet handel. Terloops, ’n soortgelyke beskouing kom natuurlik ook voor in die liberale tradisie, waar leiers wat geag word om op meriete verkies te word, ook namens die bevolking handel.
Die Leninistiese uitkyk het natuurlik nie agting vir meriete nie. Leierskap word beoordeel aan die hand van ’n verbintenis tot transformatiewe en revolusionêre agendas en prestasie daarin. So ’n leierskap kan in konflik verval, omdat die definisie van die voorgestelde radikale verandering ideologies geïnterpreteer word en dus oop is vir vertolking, en veranderlik is. Dit beteken dat leiers in faksiegevegte kan verval en protes ’n middel vir hulle eie agenda word om hulle invloed te demonstreer.
Die Julie 2021-proteste kan vanuit so ’n oogpunt geïnterpreteer word. Vaardige leiers het ’n groot invloed oor die massas en kan resultate uit hulle verkry wat sonder hulle ingryping nie sou voorgekom het nie. Vir hierdie doel is sosiale media vir leiers baie nuttig. Dit help om ’n gevolg en netwerk op te bou wat gemobiliseer en gekoördineer kan word.
Leiers staan voor die uitdaging om die breë samelewing se belange of sektorale belange waaraan hulle ondersteuning gekoppel is, te dien. Hierdie twee kante kan in spanning met mekaar staan. Leierskap kan misluk om dit te versoen. Die Julie 2021-plundering is ’n paslike gevallestudie om die leierskapskeuses te bestudeer in hoe die lewering van positiewe politieke goedere op nasionale, provinsiale en plaaslike positiewe gebalanseer kan word.
Wat is die vlam in die kruitvat wat telkens daartoe lei dat vreedsame protesoptredes oorgaan tot gewelddadige insidente?
Op 24 Oktober 1991 is die Goldstone-kommissie in Suid-Afrika aangewys. Die kommissie moes in die lig van die endemiese gewelddadige proteste in Suid-Afrika ’n ondersoek doen oor die voorkoming van publieke geweld en intimidasie. Protesoptredes van Julie 1991 tot April 1994 is ondersoek.
Die aanbevelings van die kommissie is wêreldwyd hoog geag. Dit het neerslag gevind in die Regulering van Samekomste Wet 205 van 1993. Daarin word die proses duidelik uitgestippel oor hoe protes beheer kan word om samekomste met positiewe uitkomste te verseker. Hierdie regulering het tot 2005 goeie sukses gehad. Die probleem is egter dat die wet bepaal dat vir protes om plaas te vind, die plaaslike regering en polisie daarvoor toestemming moet gee. Hierdie twee instellings se geloofwaardigheid het na 2005 so gedaal dat eerder as om die instansies se goedkeuring te verkry, dié instansies die teiken van protes geword het.
Soos reeds gemeld, behels protes ’n emosionele optrede. Goeie beheer en gedeelde selfbeheersing kan hierdie emosie positief kanaliseer. As beheerinstellings hulle geloofwaardigheid verloor en leiers en volgelinge se frustrasies oorloop, is geweld ’n waarskynlike gevolg. Vreedsame protesoptrede word deur die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners verkies. Mislukking in die staat se lewering van positiewe politieke goedere veroorsaak egter dat protesteerders se geduld opraak, en dit het dikwels gewelddadige gevolge.
- Lees Johan Zaaiman se LitNet Akademies-artikel hier:
Lees ook die volgende artikels in LitNet Akademies:
Andie Stegen en André Duvenhage: Die evolusie van eietydse intelligensie en die rol van sosiale-media-intelligensie (Socmint)
André Duvenhage: Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario?
Andreas Velthuizen: Die buigsaamheid van demokratiese verkiesings in Afrika: Manipulasie in belang van faksiebeskerming of mensgerigte veiligheid?
Chris Nelson: Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel