|
Opsomming
Protes is ’n algemene verskynsel in Suid-Afrika en het die afgelope dekade in omvang en geweld toegeneem. Dit is dus belangrik om die verskynsel te bestudeer. Heelwat is al geskryf oor protes in Suid-Afrika, maar houdingsverwante veranderlikes wat tot houdings oor vreedsame protesaksie en gewelddadige protesaksie bydra, is nog nie ondersoek nie. Hierdie studie spreek hierdie leemte aan op grond van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se South African Social Attitudes Survey wat in 2017 onderneem is. Hierdie datastel is aan die hand van geselekteerde houdingsveranderlikes statisties sekondêr ontleed. Daar is bevind dat die faktore wat voorspellers kan wees vir houdings oor vreedsame protesaksie aansienlik verskil van dié rondom houdings oor gewelddadige protesaksie. Houdings oor vreedsame protesaksie word gedryf deur ongelykheidservaring, persepsies oor die nasionale regering en gemeenskapsoriëntasie. Houdings oor gewelddadige protesaksie blyk deur ’n Marxistiese revolusionêre beskouing gevoed te word. Tog dui die studie ook op die kompleksiteit van hierdie bydraende faktore. Daar word verder op gewys dat die bevindings sekere kennisuitsprake oor protes bevestig, ander weerspreek en ook unieke insigte bied. Die uniekheid van hierdie studie is daarin opgesluit dat dit die aard van die verskille in houdings oor vreedsame en gewelddadige protesaksie omskryf.
Trefwoorde: armoede; burgery; ekonomiese kwessies; gemeenskapsake; gewelddadige protes; godsdiens; griewe; houdings; nasionale regering; plaaslike regering; politieke kwessies; protes; raskwessies; vreedsame protes
Abstract
Attitudes regarding protest action in South Africa
Protests are common in South Africa and have increased in number and intensity of violence over the past decade. It is therefore important to examine the phenomenon. For the purpose of this study, protest is defined as a local, collective, emotional, non-institutional and government-directed action used to express an experience of unhappiness over the state of affairs. Much has been written about protests in South Africa, but variables that contribute to attitudes towards peaceful protest action and violent protest action respectively have not yet been investigated. The purpose of this study is to investigate the significance of the relationship between a number of selected attitude-related variables and attitudes towards peaceful and violent protest action by means of a secondary analysis. The study is based on the Human Sciences Research Council’s South African Social Attitudes Survey conducted between 17 January and 31 March 2017. The survey generated a multi-stage random sample of 3 079 South Africans. Only one other study has used this survey to analyse the attitudes towards protest action, while it focused on biographical variables. In the present study the data set was statistically analysed secondarily on the basis of selected attitude variables. First, descriptive statistics were extracted for the chosen variables by using SPSS. Thereafter Spearman’s correlation or ANOVA was used to determine the relationship of the variables with the attitudes towards peaceful protest action and violent protest action respectively. Stepwise regression was then used on selected variables to determine predictors for attitudes towards peaceful and violent protest action. The data analysis demonstrated that most South Africans, namely 57%, view peaceful protest action positively. In contrast, South Africans are quite negative about violent protest action. Only 9% are positive about it. In addition, it was found that the factors that may be predictors of attitudes towards peaceful protest action differ significantly from those for attitudes towards violent protest action. For positive attitudes about peaceful protest action the best predictors are the view that income disparities in South Africa are too great; mistrust in the national government; and that communities should regulate their own security. It seems, therefore, that income inequality, concomitant with the view that the national government is accountable for addressing it, contributes to attitudes towards peaceful protest action. When these are combined with a feeling that the community should take responsibility for itself, attitudes towards peaceful protest can be expected. In contrast, the positive attitudes towards violent protest action had as predictors those who voted for the African National Congress or Economic Freedom Fighters in the 2014 national election; the view that black South Africans should demand restitution; the view that income differences are not too great; youth; the view that voting does not make a difference; those who are dissatisfied with life as a whole; and satisfaction with the economic situation. It seems that attitudes towards violent protest action seem to be fuelled by a Marxist revolutionary view. The two attitudes, namely that income differences are not too great and satisfaction with the economic situation in South Africa, are difficult to reconcile with a positive attitude towards violent protest action, which demonstrates the need for further investigation on this matter. Intriguingly, a number of variables that were expected to relate to attitudes on protest action did not, in fact, feature. For instance, satisfaction with life; race-related issues; perspectives on local government; and restitution, own socio-economic status and religion did not predict attitudes towards peaceful protest action. In the case of attitudes towards violent protest action, expected variables such as attitudes towards race, local government, police, own socio-economic status and religion were not prominent. The study reflects on some of these anomalies.
Furthermore, the findings serve to demonstrates the complexity of these contributing factors. Protest in all its variations cannot be explained by an unambiguous narrative. The article points out that the findings support certain knowledge statements about protest, while contradicting others and giving rise to unique insights. The uniqueness and contribution of this study are that it clarifies the nature of the differences in attitudes about peaceful and violent protest action as well as the factors that may contribute to each.
Keywords: attitudes; citizenship; community issues; economic issues; grievances; local government; national government; peaceful protest; political issues; poverty; protest; race issues; religion; violent protest
1. Inleiding
Protes is ’n algemene verskynsel in Suid-Afrika. Dit het ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse politieke bestel geword naas formele institusionele kanale van politieke deelname (Thompson en Tapscott 2010:21). Daar word selfs beweer dat Suid-Afrika nou die hoogste voorkoms van protes in die wêreld het (Klaasen 2020:479). Oor die algemeen is Suid-Afrika se protes in die wêreldkonteks uniek in die sin dat dit kleiner, korter en meer gedesentraliseerd is (Paret 2017:4). Die 9–17 Julie 2021-onrusuitbarsting het Suid-Afrika egter geruk met betrekking tot die omvang daarvan en die uitdaging wat dit aan die demokratiese begronding van Suid-Afrika gestel het. Dit het die noodsaak van navorsing beklemtoon wat onderskei tussen die houdings wat onderliggend is aan vreedsame protes (geen publieke ontwrigting nie) aan die een kant en gewelddadige protes (skade word aan eiendom aangerig en/of mense word beseer of gedood) aan die ander kant.
Oor protes in Suid-Afrika het al vele goeie en ingeligte publikasies verskyn, soos dié van Tournadre (2018); Paret, Runciman en Sinwell (2017); Ballard, Habib en Valodia (2006); Pithouse (2006); en McKinley en Veriava (2005). Hierdie artikel lewer ’n verdere bydrae tot die onderwerp deur die sosiale houdings van Suid-Afrikaners oor vreedsame en gewelddadige protesaksie te ondersoek. Met die oog hierop word die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se South African Social Attitudes Survey- (SASAS-) datastel gebruik. In hierdie opname is vrae gevra oor respondente se houdings oor protesaksie. Die datastel wat hieruit voortgespruit het, bied dus die geleentheid om hierdie houdingsverwante veranderlikes met houdings oor protesaksie in verband te bring.
Enige navorsing oor protes word egter gekonfronteer deur die definiëring daarvan. Daar bestaan nie ’n gestandaardiseerde definisie van protes nie. Chigwata, O’Donovan en Powell (2017:5) definieer protesaksie as ’n georganiseerde handeling in ’n lokale gebied wat op die munisipaliteit gerig is. Burgerlike ongehoorsaamheid gee dus uitdrukking aan griewe wat hoofsaaklik met munisipale dienste verband hou (Chigwata e.a. 2017:15). Alexander, Runciman, Ngwane, Moloto, Mokgele en Van Staden (2018:28) definieer protes as ’n populêre mobilisering ter ondersteuning van ’n kollektiewe grief. Hulle verduidelik die definisie deur aan te dui dat populêr “van die mense” beteken – ’n handeling deur mense wat relatief gemarginaliseer is en waar grief ’n sensasie van verontregting behels (Alexander e.a. 2018:28). Die term gemeenskap verwys na ’n geografies-geïdentifiseerde gebied (Alexander e.a. 2018:28). Alexander e.a. verkies “gemeenskapsprotes” bo “diensleweringsprotes”, omdat die kwessies wat tot protes aanleiding gee, dikwels verder as diensleweringsake strek (Alexander e.a. 2018:28). Mathekga (2006) en Tournadre (2018) problematiseer ook die tipering van protes as sou dit tot dienslewering beperk wees. Mathekga (2006:93) verwys na die regering se gebrek om die burgery op te lei ten opsigte van begrip vir deelnemende regering en dus vir deelname aan wykskomitees en konsultasiegeleenthede. Dit blyk dat die burgery dienslewering verwag sonder deelname aan die institusionele prosesse wat ’n onvergenoegdheid met die aard van die plaaslikeregeringstelsel kan verteenwoordig (Mathekga 2006:93).
Protes het ook ’n emosionele dimensie, waarvan woede, frustrasie en gegriefdheid belangrik is (Tournadre 2018:53; Beinart 2010:22). Protes bied ’n sterk emosionele uitdrukkingsgeleentheid wat deur byvoorbeeld sang, handeklappery en dans uitgedruk word waar klank, liggaamsensasie, beweging en emosie saamgevoeg word om gemeenskaplike emosionaliteit en identiteit te vestig en ’n gevoel van die viering van verset te skep (Jolaosho 2018:9, 23; Bekker 2021:9). Vir die doeleindes van hierdie artikel word protes dus gedefinieer as ’n plaaslike, kollektiewe, emosionele, nie-institusionele en regeringsgerigte optrede om uiting te gee aan ’n ervaring van ongelukkigheid oor die stand van sake.
Navorsing oor protes in Suid-Afrika fokus veral op die voorkoms van en die redes vir protes. Statistieke verskil oor die omvang van protes in Suid-Afrika. Die verskille hou verband met die maniere waarop die kategorisering en rapportering van protes aangedui word (Alexander 2010:26–8). Die Protest and Public Violence Monitor (PPVM) van die Institute of Security Studies en die Centre for Social Change versamel byvoorbeeld inligting van plaaslike, nasionale en internasionale nuusbronne asook nuusbriewe van vakbonde, politieke partye en universiteite (Lancaster 2018:30). Dit veroorsaak ondertelling, want dit blyk dat ongeveer net een uit vier protesaksies deur die media gerapporteer word in teenstelling met die polisie se statistiek (Lancaster 2018:31). Die media is ook geneig om protes as oproer te tipeer en rapporteer protesbyeenkomste op ’n groter skaal as die polisie (Mawokomayi en Dube 2018:49). Die media oorbeklemtoon ook protes in Gauteng en die Wes-Kaap (Alexander e.a. 2018:34–5). Plaaslik is ander bronne van protesstatistiek die Municipal Hotspots Monitor van Municipal IQ, die Civic Protest Barometer van die Universiteit van Wes-Kaapland en die Social Protest Observatory van die Universiteit van KwaZulu-Natal. Internasionaal rapporteer die Armed Conflict Location and Event Data Project en die Social Conflict Analysis Database van die Universiteit van Texas ook oor protes in Suid-Afrika. Alexander (2018:30–1) toon aan dat hierdie statistieke ingrypende verskille toon weens die gebruik van verskillende definisies van protes.
Ten spyte van hierdie verskillende metings toon al die metingsinstellings egter dat die vlakke van ontwrigting en geweld in protes toegeneem het sedert 2005 (Alexander e.a. 2018:38). Volgens Alexander (2010:37) het protes die karakter aangeneem van ’n rebellie deur die armes, waar beheer van woongebiede oorgeneem word. Dit gaan dikwels gepaard met intimidasie, persoonlike aanvalle en beskadiging van eiendom (Chigwata e.a. 2017:14). Protes ignoreer al hoe meer die oppergesag van die wet en na raming het 94% van proteste in 2018 geweldsdade ingesluit (Klaasen 2020:478–9). Die voorkoms van protes in Suid-Afrika is dus ’n komplekse en dringende onderwerp wat in die bestudering daarvan beide vreedsame en gewelddadige protesaksie in die oog moet hê (Duncan 2016:23).
Navorsing oor protes fokus ook veral op die identifisering van die redes daarvoor. Algemene redes wat aangevoer word, is die gebrek aan dienslewering of die oneffektiewe aard daarvan en ontoereikende verantwoordbaarheid van raadslede (Alexander 2010:37; Booysen 2009:17; Mawokomayi en Dube 2018:38; Klaasen 2020:479).
De Juan en Wegner (2019:33) poog om griewegedrewe verklarings vir protes, soos absolute en relatiewe deprivasie, te ondersoek. Hulle ondersoek ook geleentheidsgedrewe motiverings waarin die sukses van kollektiewe handeling beoordeel word op grond van die koste en vooruitsigte daarvan. Hulle vind nie in hulle navorsing empiriese gronde vir die handhawing van hierdie redes nie (2019:34). Hulle bevind eerder dat horisontale ongelykheid (ten opsigte van streke, etnisiteit, godsdiens en dienslewering) ’n belangriker rol in protes speel as vertikale ongelykheid (dit wil sê tussen individue) (2019:34). Horisontale ongelykheid sluit deprivasie en geleentheidsgedrewe benaderings in. Die waarskynlikheid van protes neem toe na gelang van die toename in horisontale diensongelykheid wat tot wantroue in regeringsinstellings kan lei (2019:37). Hulle bevind ook dat protes negatief korreleer met vlakke van dienslewering (dit wil sê, die persentasie van bevolking in ’n gebied wat toegang tot elektrisiteit, sanitasie, water en vullisverwydering het) (2019:39). Protes volg dus wanneer mense meen dat toegang tot behuising, elektrisiteit, water, sanitasie, onderwys, indiensneming en ander basiese oorlewingsbehoeftes buite hulle bereik is (Jolaosho 2018:8). De Juan en Wegner (2019:51) argumenteer verder dat protes verband hou met marginalisering en deprivasie van basiese regte deur die staat, gebrek aan demokrasie en die pro-armoede oriëntasie van die staat. Die staat se ontwikkelingsbenadering beteken dat hy verantwoordelikheid neem vir dienslewering, opvoeding, gesondheid en indiensneming, en dit skep hoë verwagtinge (De Juan en Wegner 2019:52). Die staat het nie die kapasiteit om aan die eise te voldoen nie, en na die Marikana-slagting ook nie die morele hoë grond om dit te onderdruk nie (Duncan 2016:179).
Ander redes wat gemeld word vir protes, is misdaad, nywerheidsgeskille, behuising en onderwys (Duncan 2016:39). Mishandeling van vroue en kinders gee ook aanleiding tot protesoptrede (Duncan 2016:167). Ander navorsing bied soortgelyke redes vir protes aan (Runciman 2017; Tournadre 2018). Wat egter ontbreek, is ’n nasionale oorsig oor die verband tussen Suid-Afrikaners se houdingsverwante veranderlikes en hulle spesifieke houdings oor protesaksie.
2. Probleemstelling
Twee ontledings oor protes is al op grond van die RGN se SASAS-datastelle onderneem. Die eerste is onderneem deur Bohler-Muller, Roberts, Struwig, Gordon, Rabebe en Alexander (2017). Hulle meld dat houdings oor protes nie nasionaal ondersoek was ten tye van die werk aan hulle artikel nie. Hulle is ook verantwoordelik vir die formulering van die vrae oor protes in die SASAS. Hulle vergelyk die data met soortgelyke vrae wat in 1995 in ’n RGN-opname gebruik is. Hulle bevind dat 64% van Suid-Afrikaners in 1995 vreedsame protesaksie ondersteun het, en in 2017 57% (Bohler-Muller e.a. 2017:85). Daar was dus ’n effense afname in die ondersteuning van vreedsame protesaksie. Wat gewelddadige protesaksie betref, was 88% deelnemers in 1995 negatief daarteenoor, maar hierdie negatiwiteit het in 2017 verminder na 74% (Bohler-Muller e.a. 2017:86). In die SASAS-datastel ondersoek hulle dan die verband tussen bevolkingsgroep, opvoedingsvlak, geslag, werkstatus, geografiese gebied, provinsie en politieke-party-identifikasie. Statisties beduidende verhoudinge is gevind tussen, aan die een kant, geslag (meer by vroue), opvoedingsvlak (meer by hoër vlakke) en provinsie (minder in Wes-Kaapland) en, aan die ander kant, positiewe houdings oor vreedsame protesaksie. Daarteenoor is daar net tussen geografiese gebied (meer in stedelike informele gebiede) en provinsie (meer in die Vrystaat) en positiewe houdings oor gewelddadige protesaksie ’n statistiese verband gevind (Bohler-Muller e.a. 2017:89–90). Bohler-Muller e.a. (2017:91) beveel aan dat verdere navorsing ondersoek instel na die houdings wat moontlik met protesbeskouings korreleer. Die huidige artikel poog om ’n bydrae in antwoord op hierdie versoek te lewer.
’n Tweede ontleding van die SASAS-datastel is deur Roberts, Bohler-Muller, Struwig, Gordon, Mchunu, Mtyingizane en Runciman (2017) onderneem om houdings oor die polisiëring van protes te evalueer; dit val egter nie binne die skopus van hierdie artikel nie. Daar is nog nie voorheen ’n studie onderneem om vas te stel hoe die houdings verskil tussen mense wat vreedsame en gewelddadige protesaksie ondersteun nie. Dit is ten opsigte hiervan dat die artikel ’n belangrike en unieke bydrae lewer.
Omdat die artikel oor ’n sekondêre ontleding verslag doen, word die houdingsondersoek gebind deur die temas wat in die SASAS voorkom. Gelukkig is die opname wydlopend, sodat verskeie faktore ondersoek kan word. Die breë houdingskategorieë wat in hierdie artikel oorweeg is, is houdings oor lewenservaring, politieke aangeleenthede en instellings, ekonomiese en gelykheidskwessies, rasverwante sake, gemeenskapsake en godsdienstigheid. Die keuse vir elk kan kortliks soos volg gemotiveer word (die spesifieke vrae vir elke afdeling in die opname word in Bylae 1 gelys):
- Lewenservaring is gekies omdat mense wat selftevrede is, nie die nodigheid mag insien daarvan om aan kollektiewe handeling deel te neem nie (Friedman 2018:148).
- Houdings oor politieke aangeleenthede en instellings hou verband met die demokratiese aard van Suid-Afrika. Dit beteken dat mense ’n populêre heerskappy verwag wat politieke inspraak veronderstel (Friedman 2018:24). Politieke funksionering tussen verkiesings is problematies. Mense se houdings oor demokratiese verantwoordbaarheid is daarom belangrik.
- Houdings oor ekonomiese en gelykheidskwessies hou verband met die uitgebreide debatte oor die invloed van armoede, ongelykheid en werkloosheid op protesaksie (Lancaster 2018:40). Houdings in hierdie verband kan ’n belangrike bydraende rol speel in mense se oorwegings rondom protesaksie en hulle beskikbaarheid daarvoor.
- Houdings oor rasverwante sake sluit aan by die Suid-Afrika wat uit ’n apartheidsverlede kom, waarin rassegroeperinge statutêr bepaal was. Die nuwe bedeling moet dit oorkom, maar houdings oor rasverwante sake kan vanuit die verlede en voortgesette sosiokulturele verskille bydraend wees tot verskille in houdings oor protesoptrede (Bohler-Muller e.a. 2017:81).
- Houdings oor gemeenskapselfstandigheid sluit aan by die oriëntasie dat ’n gemeenskap vir homself verantwoordelikheid moet neem. Lancaster (2018:39) beveel aan dat hierdie saak deur navorsing toegelig moet word.
- Houdings oor godsdienstigheid kan ook ’n verband hê met houdings oor protes. Jolaosho (2018:12) verwys byvoorbeeld daarna dat geestelike liedere omvorm word tot strydliedere gedurende protes. Tog sou verwag word dat godsdienstigheid ’n temperende invloed op gewelddadige protesaksie sou hê en is dus ’n ondersoek werd.
- Bohler-Muller e.a. (2017:88) het bevind dat biografiese faktore, en spesifiek ouderdom en vlak van opvoeding verband hou met houdings oor protesaksie. In hierdie studie word hierdie twee biografiese faktore ingesluit om dit teen houdings op te weeg.
Die probleem waarop hierdie artikel fokus, is dus die leemte in die literatuur oor die verband tussen houdingsverwante veranderlikes en houdings oor onderskeidelik vreedsame en gewelddadige protesaksie.
3. Empiriese ondersoek
In hierdie afdeling word die aard van die oorspronklike en sekondêre empiriese ondersoek beskryf.
3.1 Doelwitte van die ondersoek
Die SASAS-opname het ten doel om konseptueel en metodologies ’n deeglik-ontwerpte studie van sosiale houdings en waardes in Suid-Afrika te lewer. Omdat die opnames op ’n gereelde basis gedoen word, is die doel om insig rondom veranderings in die Suid-Afrikaanse samelewing te bied. Houdingsvrae oor protes is egter net in 1995 en 2017 in die opnames ingesluit. Hierdie artikel fokus uitsluitlik op die 2017-opname se data. Die doel van die artikel is om sekondêr die betekenisvolheid van die verband tussen ’n aantal geselekteerde houdingsverwante veranderlikes en houdings oor vreedsame en gewelddadige protesaksie te ondersoek. Al is die datastel ’n paar jaar oud, het hierdie ontleding steeds betekenis, omdat dit die enigste onlangse Suid-Afrikaanse opname oor die tema is en die bevindings ’n oorspronklike en nuttige bydrae tot die empiriese studie van protes in Suid-Afrika lewer.
3.2 Navorsingsbenadering en -ontwerp
Hierdie studie is gebaseer op ’n kwantitatiewe navorsingsbenadering. Dit behels dus ’n statistiese ontleding van die ingesamelde data. Vir hierdie artikel is reeds-ingesamelde data ontleed. Dit beteken dat die artikel se resultate op ’n sekondêre ontleding gegrond is. Sekondêre ontleding het die voordeel dat dit koste-effektief is, want die tyd en koste van data-insameling word bespaar. Verder bied dit nuwe interpretasiemoontlikhede op die bestaande data. Sekondêre ontleding het egter ook beperkinge. Met so ’n ontleding het die navorser nie eerstehandse kennis van, of beheer oor, die data-insamelingsproses en die veranderlikes wat in die opname ingesluit is nie (Bryman 2012:312–6). Beheer is dus beperk oor die betroubaarheid en geldigheid van die konseptualisering van die veranderlikes en die data-insameling. Daarteenoor toon die vraelys die vaardigheid van die RGN om konsepte te operasionaliseer en data daarvoor in te samel. Omdat die RGN al so baie jare se ondervinding met hierdie opnames het, word die gehalte daarvan vir die doeleindes van hierdie studie vertrou.
3.3 Steekproef
In die SASAS is gepoog om ’n verteenwoordigende steekproef onder 3 500 Suid-Afrikaners van 16 jaar en ouer te trek. Die steekproef is gebaseer op die 2011-sensus se klein-area-lae, of KAL’e (small area layers – SALs). In die eerste steekproefneming is hierdie KAL’e as die primêre steekproefeenhede ewekansig gekies proporsioneel tot die aantal huishoudings in ’n KAL. In die tweede steekproefneming is ’n voorafbepaalde aantal huishoudings uit die KAL ewekansig geselekteer. In die derde steekproefneming is ’n persoon van 16 jaar of ouer in die geselekteerde huishouding ewekansig vir die onderhoud gekies. Vervanging van huishoudings of persone is nie toegelaat nie. Uiteindelik is ’n steekproef van 3 079 gehaal.
3.4 Data-insameling en -ontleding
Veldwerkers het die data van 17 Januarie 2017 tot 31 Maart 2017 ingesamel deur middel van persoonlike onderhoude. Die onderhoude is in huishoudings gevoer met deelnemers van 16 jaar en ouer. ’n Omvattende vraelys is gebruik wat in ses van Suid-Afrika se amptelike tale beskikbaar was. Die RGN het hierdie ingesamelde SASAS-data verwerk aan die hand van omvattende gehaltemaatreëls. Na die inlees van die data is verskeie kontroles toegepas om inkonsekwenthede en foute na te speur. Sekere vrae is nie voltooi nie weens weierings deur deelnemers of foute deur veldwerkers. Vrae is ook soms nie korrek verstaan nie. Vir hierdie artikel is die datastel met SPSS sekondêr ontleed en is beskrywende statistieke asook Spearman se korrelasie, ANOVA en stapsgewyse regressie gebruik.
3.5 Etiese aspekte
Eties gesproke mag deelnemers in navorsing nie enige leed aangedoen word nie (Bryman, 2012:134–143). Daarom is dit onder andere belangrik dat deelnemers formeel moet instem tot hulle deelname. In SASAS het die deelnemers ’n instemmingsvorm ontvang wat verduidelik het hoe hulle geselekteer is, wat hulle deelname aan die opname sou behels en dat die inligting vertroulik hanteer sou word. Inligting oor die onderhoud en die kontakbesonderhede van die projekkoördineerder is ook verskaf. Deelnemers moes die instemmingsvorm teken om aan te dui dat hulle instem om aan die opname deel te neem en die voorwaardes verstaan. Waar die geselekteerde deelnemers 16–17 jaar oud was, moes die ouers toestemming verleen vir die gekose deelnemer om aan die opname deel te neem. Etiese klaring (NWU-00629-21-A7) is ook van die Noordwes-Universiteit (NWU) ontvang om hierdie sekondêre ontleding van die datastel te doen.
4. Resultate
As agtergrond vir die houdingsontledings gee Tabel 1 die frekwensiedata van Suid-Afrikaners se houdings teenoor vreedsame protesaksie, terwyl Tabel 2 hulle houdings oor gewelddadige protesaksie opsom. Bohler-Muller e.a. (2017:85–6) het ook oor hierdie frekwensies gerapporteer, maar nie in soveel besonderhede nie.
Tabel 1. Hoe positief of negatief is u oor vreedsame protesaksie?
|
Frekwensie |
Persentasie |
Uiters negatief |
205 |
7,0 |
Baie negatief |
198 |
6,8 |
Negatief |
430 |
14,7 |
Nóg negatief nóg positief |
419 |
14,3 |
Positief |
1 010 |
34,5 |
Baie positief |
388 |
13,2 |
Uiters positief |
279 |
9,5 |
Totaal |
2 929 |
100 |
Tabel 1 toon dat houdings oor vreedsame protes wydlopend is, maar 57,2% oorwegend positief daarteenoor was.
Tabel 2. Hoe positief of negatief is u oor gewelddadige protesaksie?
|
Frekwensie |
Persentasie |
Uiters negatief |
1 019 |
34,6 |
Baie negatief |
553 |
18,8 |
Negatief |
776 |
26,3 |
Nóg negatief nóg positief |
331 |
11,2 |
Positief |
194 |
6,6 |
Baie positief |
48 |
1,6 |
Uiters positief |
24 |
0,8 |
Totaal |
2 945 |
100 |
Tabel 2 toon dat 79,7% van die respondente negatiewe houdings oor gewelddadige protesaksie gehad het.
Hierdie houdings oor protesaksie is met die veranderlikes soos gelys in Bylae 1 gekorreleer deur middel van Spearman se korrelasie. Die resultaat word in Tabel 3 gelys.
Tabel 3. Lys van korrelasies
|
Hoe positief of negatief is u oor vreedsame protesaksie? |
Hoe positief of negatief is u oor gewelddadige protesaksie? |
Lewenshouding |
||
Alles in ag genome, hoe tevrede is u met u lewe as geheel deesdae? |
-0,016 |
0,102** |
Houdings oor politieke aangeleenthede en instellings |
||
Hoe tevrede of ontevrede is u met die wyse waarop demokrasie in Suid-Afrika werk? |
0,023 |
-0,020 |
Dui aan in watter mate u die volgende instansie in Suid-Afrika vertrou: die nasionale regering |
0,073** |
-0,083** |
Dui aan in watter mate u die volgende instansie in Suid-Afrika vertrou: die polisie |
0,024 |
-0,008 |
Dui aan in watter mate u die volgende instansie in Suid-Afrika vertrou: u plaaslike regering |
0,023 |
0,015 |
Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling: Of ek stem of nie, dit maak geen verskil nie. |
0,041* |
-0,105** |
Houdings oor ekonomiese en gelykheidskwessies |
||
Hoe tevrede is u met die algemene ekonomiese situasie in Suid-Afrika op die oomblik? |
0,083** |
-0,082** |
Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling: Verskille in inkomste in Suid-Afrika is te groot. |
-0,147** |
0,104** |
Tot watter mate stem u saam of stem u nie saam met die volgende standpunt nie? Swart Suid-Afrikaners moet op restitusie/kompensasie aandring. |
-0,029 |
-0,138** |
Hoe vergelyk u huishouding se inkomste met dié van ander huishoudings in u area/buurt? |
0,029 |
0,040* |
Totale maandelikse huishoudelike inkomste van alle persone in u huishouding voor belasting en ander aftrekkings |
0,028 |
-0,073** |
In ons samelewing is daar groepe wat geneig is om aan die bokant en groepe wat geneig is om aan die onderkant te wees. Waar sal u uself op hierdie skaal plaas? |
-0,037* |
-0,062** |
Houdings oor rasverwante sake |
||
Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling? Mense van verskillende rassegroepe vertrou of hou nie van mekaar nie. |
-0,055** |
0,018 |
Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling? Wanneer ek met mense van ander rassegroepe in aanraking kom, is die kontak amper altyd vriendelik. |
-0,031 |
0,075** |
Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stellings? Die tradisies en waardes wat belangrik is vir mense van my ras word bedreig as gevolg van die invloed van ander rasse in hierdie land. |
0,059** |
0,002 |
Houdings oor gemeenskapsake |
||
Tot watter mate stem u saam / verskil u met die volgende stellings? Elke gemeenskap behoort self hul eie sekuriteit te reël om hul teen kriminele te beskerm, selfs al stem die polisie nie daarmee saam nie. |
-0,114** |
0,093** |
Houdings oor godsdienstigheid |
||
Nieteenstaande of u aan ’n spesifieke geloof/denominasie behoort, hoe godsdienstig sou u sê is u? |
-0,029 |
-0,123** |
Biografiese beskrywers |
||
Ouderdom van respondent in voltooide jare. |
-0,022 |
-0,072** |
Wat is die hoogste vlak van opvoeding wat u ooit voltooi het? |
0,021 |
-0,036 |
* Korrelasie is betekenisvol op die 0,05-vlak (tweekantig).
** Korrelasie is betekenisvol op die 0,01-vlak (tweekantig).
Tabel 3 toon dus betekenisvolle korrelasies aan tussen positiewe houdings teenoor vreedsame protesaksies en houdings rondom vertroue in nasionale regering; dat om te stem ’n verskil maak; ontevredenheid met die ekonomiese situasie; dat verskille in inkomste te groot is; dat jy laer is as ander groepe op sosio-ekonomiese skaal; dat rassegroepe mekaar nie vertrou nie; dat waardes gekoppel aan ras nie bedreig word nie; en dat gemeenskappe nie eie sekuriteit behoort te reël nie. Tabel 3 toon ook betekenisvolle korrelasies aan tussen positiewe houdings teenoor gewelddadige protesaksie en ontevredenheid met die lewe; vertroue in nasionale regering; dat om te stem nie ’n verskil maak nie; tevredenheid met die ekonomiese situasie; dat inkomsteverskille nie te groot is nie; dat swart Suid-Afrikaners op restitusie moet aandring; dat die huishouding se inkomste laer is as gemiddeld is; dat huishoudinginkomste laer is; dat jy laer is op die samelewingskaal; dat rassekontak onvriendelik is; dat gemeenskappe nie eie sekuriteit behoort te reël nie; niegodsdienstigheid; en ’n jonger en laer opvoedingsvlak.
’n ANOVA-toets is op die response op die vraag “Wat is u huidige werkstatus?” onderneem. Statisties betekenisvolle verskille tussen die gemiddeldes van die antwoordkategorieë is nie gevind in hulle verhouding met die veranderlikes van beide vreedsame en gewelddadige protesaksie nie. ’n ANOVA-toets is onderneem rondom die response op die vraag “Vir watter party het u in die laaste nasionale verkiesing, wat in 2014 gehou is, gestem?” Tabel 4 gee die gemiddeldes vir die verskillende kategorieë weer. Omdat die metings op ’n 7-punt-skaal gemeet is, kan gemiddeldes gebruik word (Hancock en Mueller 2010:98).
Tabel 4. Gemiddeldes van stemkeuse teenoor houdings oor protesaksie
|
Hoe positief of negatief is u oor vreedsame protesaksie? |
Hoe positief of negatief is u oor gewelddadige protesaksie? |
African National Congress (ANC) |
4,49 a |
2,68 a |
Demokratiese Party |
4,22 a |
2,12 b |
Economic Freedom Fighters (EFF) |
4,41 a |
2,69 a |
Ander |
4,39 a |
2,23 b |
Het nie gestem nie |
4,42 a |
2,43 b |
Gemiddeld van totaal |
4,41 |
2,45 |
Verskillende letters dui statisties betekenisvolle verskille aan.
Die ANOVA-toets het aangetoon dat die verskille in gemiddeldes statisties betekenisvol was vir beide vreedsame protesaksie (p=0,024) en gewelddadige protesaksie (p<0,001). Die post hoc-Tukey B-toets het egter nie onderskei tussen die gemiddeldes vir vreedsame protesaksie nie, maar ’n onderskeid tussen die gemiddeldes van gewelddadige protesaksie aan die een kant en die ANC/EFF (a), en aan die ander kant DA / ander partye / het nie gestem nie (b). As gevolg hiervan is ANC/EFF herkodeer tot 1 en DA / ander partye / het nie gestem nie tot 0. Die daaropvolgende Spearman se rangordekorrelasietoets het aangedui dat stemming vir die ANC/EFF ’n beduidende korrelasie toon met ondersteuning vir vreedsame protesaksie (r=0,045 – betekenisvol op die 0,05-vlak) en gewelddadige protesaksie (r=0,149 – betekenisvol op die 0,01-vlak).
Vervolgens is stapsgewyse regressie onderneem om vir die veranderlikes wat statisties betekenisvol korreleer met houdings oor protesaksie, die beste voorspellers te identifiseer. Die gestandaardiseerde Beta-koëffisiënte dui die voorspellers aan. Die resultate word in Tabelle 5 en 6 weergegee.
Tabel 5. Resultate van stapsgewyse regressie met betrekking tot houdings oor vreedsame protesaksie
|
Gestandaardiseerde Beta-koëffisiënt |
Betekenisvolheid |
Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling: Verskille in inkomste in Suid-Afrika is te groot. |
-0,112 |
<0,001 |
Dui aan in watter mate u die volgende instansie in Suid-Afrika vertrou: die nasionale regering. |
0,066 |
<0,001 |
Tot watter mate stem u saam / verskil u met die volgende stellings? Elke gemeenskap behoort self hul eie sekuriteit te reël om hul teen kriminele te beskerm, selfs al stem die polisie nie daarmee saam nie. |
-0,060 |
0,001 |
Tabel 5 toon aan dat die beste voorspellers vir positiewe houdings oor vreedsame protesaksie in volgorde die volgende behels: 1. Beskouing dat inkomsteverskille in Suid-Afrika te groot is. 2. Wantroue in die nasionale regering. 3. Gemeenskappe behoort eie sekuriteit te reël.
Tabel 6. Resultate van stapsgewyse regressie met betrekking tot houdings oor gewelddadige protesaksie
|
Gestandaardiseerde Beta-koëffisiënt |
Betekenisvolheid |
Politieke-party-kombinasies: ANC / EFF en DA / ander partye / nie gestem nie |
0,131 |
<0,001 |
Tot watter mate stem u saam of stem u nie saam met die volgende standpunt nie? Swart Suid-Afrikaners moet op restitusie/kompensasie aandring. |
-0,099 |
<0,001 |
Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling: Verskille in inkomste in Suid-Afrika is te groot. |
0,105 |
<0,001 |
Ouderdom van respondent. |
-0,083 |
<0,001 |
Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling: Of ek stem of nie, dit maak geen verskil nie. |
-0,071 |
0,001 |
Alles in ag genome, hoe tevrede is u met u lewe as geheel deesdae? Oor die algemeen sou u sê u is baie tevrede, tevrede, ontevrede of baie ontevrede? |
0,064 |
0,005 |
Hoe tevrede is u met die algemene ekonomiese situasie in Suid-Afrika op die oomblik? |
-0,062 |
0,006 |
Tabel 6 lys die beste voorspellers vir positiewe houdings oor gewelddadige protesaksie. In volgorde is dit: 1. Stem vir ANC/EFF in 2014 nasionale verkiesing. 2. Swart Suid-Afrikaners moet op restitusie aandring. 3. Inkomsteverskille is nie te groot nie. 4. Jonger in ouderdom. 5. Om te stem maak nie ’n verskil nie. 6. Ontevredenheid met lewe as geheel. 7. Tevredenheid met ekonomiese situasie.
5. Bespreking
Hierdie afdeling bespreek die bevindings. Die unieke bydrae van die studie is dat dit afsonderlik fokus op houdings oor vreedsame en oor gewelddadige protesaksie. Eerstens word houdings oor vreedsame protesaksie behandel. Dit is duidelik uit die statistiek hier bo dat Suid-Afrikaners oorwegend positief is oor vreedsame protes. In die opname was 57% positief en 29% negatief. Dit stem ooreen met ander skrywers (Atkinson 2007:76; Booysen 2009:2; Paret 2017:8; Tournadre 2018:13) se standpunt dat protes in Suid-Afrika ’n populêre wyse van politieke deelname is. Soos Duncan (2016:177) dit stel: Protes is nie episodies nie, maar organies in Suid-Afrika. Dit is ’n gevestigde wyse om die Grondwet prakties te maak (Tournadre 2018:105). Duncan (2016:57) en Paret (2017:9) wys ook op die wydlopendheid van vreedsame protesaksie in Suid-Afrika, wat aksies deur nieregeringsorganisasies en die nywerheidsektor insluit en dus wyer strek as die politiek. Vreedsame protesaksie is dus ingeburger in die Suid-Afrikaanse samelewing om oor uiteenlopende sake druk toe te pas.
Die faktore wat as voorspellers van positiewe houdings oor vreedsame protesaksie gevind is, is die houding dat inkomsteverskille in Suid-Afrika te groot is; ’n wantroue in die nasionale regering; en ’n beskouing dat gemeenskappe hulle eie sekuriteit behoort te reël. Dit bevestig dat ekonomiese, politieke en gemeenskapsake belangrike oorwegings is wanneer dit gaan oor protes. Die SASAS se opname het nie ’n vraag gehad wat nadere toeligting sou kon gee vir gemeenskapsoriëntasie nie, maar ’n behoefte dat ’n gemeenskap na sy eie sekuriteit omsien onafhanklik van die polisiediens, kan vertolk word as teleurstelling oor dienste wat aan die gemeenskap gelewer word en as gemeenskapslojaliteit. Die teleurstelling hou verband met wantroue in die nasionale regering. Dat mense vanuit ’n vertrouensbreuk met die nasionale regering en ’n gemeenskapsverbintenis die sinvolheid van vreedsame protesaksie sal insien, is duidelik. Dit is ’n poging van gemeenskapslede om hulle gegriefdheid duidelik aan die nasionale regering te demonstreer. Wat egter belangrik is, is dat die eerste voorspeller ’n ontevredenheid met ekonomiese ongelykheid uitwys. Hierdie bevinding sluit nou aan by De Juan en Wegner (2019:48–51) se studie wat toon dat horisontale ongelykheid verband hou met protes en skakel met ’n ervaring van marginalisering deur die staat.
Ander literatuur ondersteun ook hierdie punt deur te meld dat die publiek beleef dat hulle konstitusioneel-gewaarborgde sosiale regte, en spesifiek die beginsel van gelykheid, nie aangespreek word nie (Klaasen 2020:478; Fakir 2014:6; De Juan en Wegner 2019:51). Die beskouing bestaan dat die elite hulle morele verantwoordelikheid versaak het (Tournadre 2018:120; De Juan en Wegner 2019:32). Die publiek voel die strukture van demokratiese verteenwoordiging het hulle in die steek gelaat (Duncan 2016:2, Fakir 2014:16). Hulle voel uitgesluit, misken, weerloos, onsigbaar en onvry (Tournadre 2018:126; Runciman 2017:41; Zaaiman 2021:12). Hierdie negatiewe ervarings van die publiek ontlok by hulle verset (Mathekga 2006:99; Friedman 2018:48). Protes is dan ’n poging van die publiek om erken en gehoor te word (Booysen 2011:130; Fakir 2014:19). Juis omdat die nasionale staat se ontwikkelingsbenadering homself opstel as die verantwoordelike entiteit vir transformasie en dienslewering, skep dit hoë verwagtinge van positiewe uitkomste (De Juan en Wegner 2019:52; Booysen 2011:135). Dit sluit aan by die publiek se beskouing dat dienslewering die taak van die regering is en nie van demokratiese funksionering nie (Mathekga 2006:104).
Hierdie studie bevestig dat inkomste-ongelykheid die publiek tot protes kan mobiliseer. Soos hier bo aangedui is, word die nasionale regering daarvoor verantwoordelik gehou om dit aan te spreek. Tesame met ’n gevoel dat die gemeenskap vir homself verantwoordelikheid moet neem, bestaan daar ’n motivering vir vreedsame protes. Die vraag is egter of ’n gevolgtrekking gemaak kan word oor die ander houdingsverwante veranderlikes, soos tevredenheid met die lewe, rasverwante sake, plaaslike regering, restitusie, eie sosio-ekonomiese status en godsdiens, wat nie voorspellers vir houdings oor vreedsame protesaksie blyk te wees nie.
Dat tevredenheid met die lewe, eie sosio-ekonomiese status en godsdiens nie voorspellers is nie, sluit aan by De Juan en Wegner (2019:34) se bevinding dat persoonlike kwessies nie so prominent blyk te wees in protesoptrede nie. Wat egter nie met die literatuur saamval nie, is dat wantroue in plaaslike regering nie in hierdie studie uitgelig word as ’n voorspeller nie. In die literatuur word proteste sterk geassosieer met swak plaaslike-owerheidsfunksionering (Mathekga 2006:93; Heydenrych en Zaaiman 2013:172; Fakir 2014:6). Dit word in verband gebring met ontoereikende plaaslike dienslewering aan behoeftiges, swak politieke oorsig oor amptenare en ’n gebrek aan responsiwiteit en verantwoordbaarheid deur politieke verteenwoordigers teenoor gemeenskappe (Duncan 2016:80; Heydenrych 2017:178). Protes is dan ’n plaaslike poging van die publiek om aan hierdie griewe uiting te gee (Fakir 2014:19; Von Holdt 2013:598). Maar dit is belangrik om daarop te wys dat meningsverskil bestaan oor die sentraliteit van dienslewering as motivering vir protes (Duncan 2016:39). Hierdie studie se bevindings, wat wantroue in plaaslike regering nie as ’n voorspeller vasstel nie, dra by tot kritiese nadenke hieroor.
Dit blyk dat die burgery eerder met die nasionale regering wat aan plaaslike regerings dikteer, gefrustreer is. Die ANC se toewysing van plaaslike leiers ontneem natuurlike leierontwikkeling in gemeenskappe en dit lei daartoe dat hulle opsy geskuif word en veroorsaak ontwrigting en spanning (Tournadre 2018:67; Duncan 2016:46). Hierdie onbehaaglikheid word verder versterk deur die verminderde hegemonie in die ANC en die regerende alliansie (Paret 2017:10). Protes behels dus ’n paradoksale protesverset teen die ANC se plaaslike regering / faksies / kompeterende patronaatskapnetwerke, maar aan die ander kant, partyondersteuning in verkiesings (Dawson 2017:126).
Nadere beskouing van die houdings oor gewelddadige protesaksie verander die prentjie. Suid-Afrikaners het in die algemeen nie positiewe houdings oor gewelddadige protesaksie nie. Slegs 9% was positief en die oorgrote meerderheid, 80%, negatief. Al is houdings so negatief oor gewelddadige protesaksie, blyk dit dat die meeste protesaksies tans gewelddadige uitkomste het. Protes behels ’n radikale pragmatisme en as dit eers begin het, kan dit maklik oorloop in ’n uitdaging van wet en orde (Tournadre 2018:90–1). Dit bring sosiopolitieke spanning en ekonomiese koste mee (Duncan 2016:52, 118). Dit is daarom belangrik om te kyk na wat voorspellers in hierdie verband kan wees.
Positiewe houdings oor gewelddadige protesaksie word veral voorspel deurdat diegene wat in die 2014 nasionale verkiesing vir die ANC of EFF gestem het, daarop aandring dat swart Suid-Afrikaners restitusie moet ontvang; oordeel dat inkomsteverskille nie te groot is nie; jonk is; glo dat om te stem nie ’n verskil maak nie; ’n gevoel van ontevredenheid met die lewe in sy geheel het; en tevrede is met die ekonomiese situasie in Suid-Afrika. Die beeld wat hieruit verkry word, is dat die revolusionêre ideologie van die ANC en EFF bydraend kan wees tot die ondersteuning van gewelddadige protesaksie. Hierdie Marxistiese ideologie het ’n gerigtheid op transformasie wat restitusie insluit. Dit is ook opvallend dat dit voorkom onder jeugdiges en dié wat glo dat om te stem nie ’n verskil maak nie. Gewelddadige protesaksie is ook ondersteun deur dié wat ’n gevoel van ontevredenheid met die lewe in sy geheel ervaar het. ’n Revolusionêre gees van veral ANC- en EFF-ondersteuners kan dus bydra tot ’n positiewe houding teenoor gewelddadige protesaksie – ’n gees van ontevredenheid en dat radikale verandering op ’n gewelddadige wyse moet plaasvind. Verskeie skrywers het al gemeld dat protes in Suid-Afrika herlei kan word na die Marxisties-gegronde vryheidstryd waaruit steeds energie, slagspreuke en motiverings onttrek word (Tournadre 2018:145–146; Paret 2017:5; Tournadre 2018:109; Friedman 2018:139). In hierdie geledere word ’n taktiek aangehang waarvolgens die vyand van sy magte of vermoëns gestroop moet word deur slu te werk te gaan (Tournadre 2018:112). Tournadre (2018:79) wys verder daarop dat jongmense meer ongestruktureerde politiek verkies as die ouer mense.
Hierteenoor staan klaarblyklik onversoenbare houdings. Die verband tussen, aan die een kant, beskouings dat inkomsteverskille nie te groot is nie en ’n tevredenheid met die ekonomiese situasie in Suid-Afrika en, aan die ander, positiewe houdings oor gewelddadige protesaksie, is moeilik te verklaar. In die lig van die beskikbare inligting kan net daaroor gespekuleer word; dit toon die nodigheid van verdere navorsing hieroor. Drie redes kan hier gesuggereer word. Eerstens kan dit wees dat hierdie groep ideologies dink en die werklikheid van inkomsteverskille en ekonomiese situasie nie vir hulle betekenisvol is nie. Tweedens is dit miskien ’n geïsoleerde groepering sonder breë blootstelling aan die werklikheid in Suid-Afrika – dit moet onthou word dat die ondersteuners van gewelddadige protesaksie ’n klein groepering is. Derdens kan ondersteuners van die Marxistiese ideologie miskien verskille in inkomste nie as te groot beskou nie omdat inkomste as ’n eienskap van die laer werkersklas beskou word, terwyl tevredenheid met die ekonomie kan dui op ’n beskouing dat die ekonomie beskou word as ryp vir ’n revolusie. Hierdie uiteenlopende verklarings bevestig maar net die noodsaaklikheid dat verdere ondersoek hier nodig is.
Rondom die houdings oor gewelddadige protesaksie is dit opmerklik dat verwagte veranderlikes soos houdings oor ras, plaaslike regering, polisie, eie sosio-ekonomiese status en godsdiens nie prominent is nie. Dit bevestig waarskynlik die ideologiese gronde vir die houding oor gewelddadige protesaksie en dat dit belangriker is as hierdie ander tipes houdings. Tournadre (2018:41), Duncan (2016:37) en Friedman (2018:138) tipeer protesaksie as ’n beweging deur die armes vir die armes. Hierdie artikel se ontleding toon nie dat gewelddadige protesaksie ’n rebellie van die armes is nie. Die sosio-ekonomiese-status-kategorieë toon nie statistiese korrelasies met gewelddadige protesaksie nie. Tog kom protes hoofsaaklik in arm woongebiede voor (Paret 2017:9). Hoe kan dit verstaan word?
Saam met Matisonn (2006:238) moet miskien daarop gewys word dat protesaksie dikwels namens armes georganiseer word, eerder as deur hulle self. Onderliggend aan protes is dikwels leierskap, voorbokkaders en bronne wat dit moontlik maak om die protes te mobiliseer. Ballard e.a. (2006) argumenteer dat die sosiale bewegings wat protes inisieer, poog om die armes en gemarginaliseerdes te verteenwoordig en druk op die regering te plaas om aandag aan hulle te gee. Bekker (2021:18) wys ook op die belangrikheid van organisering en dus die leierskap wat protes onderlê.
Ten slotte bevestig die bevindings dat ’n eenduidige narratief nie protes kan verklaar nie. Ek argumenteer in Zaaiman (2020) dat handelinge in plaaslike entiteite kompleks is. Tournadre (2018:9) bevestig die standpunt dat protes nie op ’n eenvoudige wyse verklaar kan word nie. Ten opsigte hiervan lewer die huidige studie ’n bydrae deur van bestaande empiriese studies te verskil en hulle te komplementeer. Dit is reeds gemeld dat Bohler-Muller e.a. (2017) die verband van biografiese veranderlikes met protesaksie ondersoek en verbande gevind het. Die huidige studie se fokus op houdings vul dus daardie studie direk aan, maar lewer ook ’n bydrae in die breër diskoers oor protes, veral rondom die verskille in houdings met betrekking tot vreedsame en gewelddadige protesaksie. Die studie help verder met die interpretasie van protes, maar beliggaam net nog ’n stap in die ontwikkeling van kennis oor hierdie belangrike saak in Suid-Afrika.
6. Samevatting
Hierdie studie dra by tot literatuur oor protes in Suid-Afrika. Die resultate ondersteun die beskouings dat die vertolking van protes in Suid-Afrika nie eenvoudig is nie, gegewe die uiteenlopende en kontrasterende faktore wat aanleiding daartoe gee asook verskillende menings oor wat protes behels. Die resultate van hierdie studie kan ingesluit word by hierdie veld van kennis, omdat dit ’n unieke bydrae lewer deur te onderskei tussen die houdings wat aan die een kant tot vreedsame en aan die ander kant tot gewelddadige protesaksie bydra. Die studie is gegrond op ’n tydspesifieke opname in 2017, maar dit lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die groeiende kennisveld oor protes in Suid-Afrika, omdat dit sekere kennisuitsprake oor protes bevestig, ander weerspreek en eie unieke insigte bied.
Bedankings
- Die PUK-Kanselierstrust se finansiële ondersteuning vir hierdie navorsing word met waardering erken. Die menings en gevolgtrekkings in die artikel is uitsluitlik dié van die skrywer.
- Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) word bedank vir die gebruikmaking van die 2016-SASAS-datastel. By die ontleding van die data is gehou by die voorskrifte van die RGN en die gevolgtrekkings in die artikel is uitsluitlik dié van die skrywer.
- Die Statistiekdiens van die NWU en spesifiek prof. Suria Ellis word bedank vir die ondersteuning met die statistiese ontleding van die data.
Bibliografie
Alexander, P. 2010. Rebellion of the poor: South Africa’s service delivery protests – a preliminary analysis. Review of African Political Economy, 37(123):25–40.
—. 2018. Frequency and turmoil. South Africa’s community protests 2005–2017. South Africa Crime Quarterly, 63:27–42.
Alexander, P., C. Runciman, T. Ngwane, B. Moloto, K. Mokgele en N. van Staden. 2018. Frequency and turmoil. South Africa’s community protests 2005–2017. South African Crime Quarterly, 63:27–42.
Atkinson, D. 2007. Municipal governance and service delivery: case studies from the Free State. In Buhlungu e.a. (reds.) 2007.
Ballard, R., A. Habib en I. Valodia. 2006. Voices of protest: social movements in post-apartheid South Africa. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.
Beinart, W. 2010. Popular politics and resistance movements in South Africa, 1970–2008. In Beinart en Dawson (reds.) 2010.
Beinart W. en M.C. Dawson (reds.). 2010. Popular politics and resistance movements in South Africa. Johannesburg: Wits University Press.
Bekker, M. 2021. Protest as an act of love. International Journal of Zizek Studies, 15(1):1–33.
Bohler-Muller, N., B.J. Roberts, J. Struwig, S.L. Gordon, T. Rabebe en P. Alexander. 2017. Minding the protest. Attitudes towards different forms of protest action in contemporary South Africa. South African Crime Quarterly, 62:81–92.
Booysen, S. 2009. Public participation in democratic South Africa: from popular mobilisation to structured co-optation and protest. Politeia, 28(1):1–27.
—. 2011. The African National Congress and the regeneration of political power. Johannesburg: Wits University Press.
Bryman, A. 2012. Social research methods. 4de uitgawe. Oxford: Oxford University Press.
Buhlungu, S., J. Daniel, R. Southall en J. Lutchman (reds.). 2007. State of the nation South Africa. Kaapstad: HSRC Press.
Chigwata, T.C., M. O’Donovan en D.M. Powell. 2017. Civic protests and local government in South Africa. Working Paper Series No. 2. The Civic Protests Barometer 2007–2016. Kaapstad: ACSL, Dulla Omar Institute.
Dawson, H. 2017. Protests, party politics, and patronage: a view from Zandpsruit informal settlement, Johannesburg. In Paret e.a. (reds.) 2017.
Death, C. 2016. Counter-conducts as a mode of resistance: ways of “not being like that” in South Africa. Global Society, 30(2):201–217.
De Juan, A. en E. Wegner. 2019. Social inequality, state-centered grievances, and protest: evidence from South Africa. Journal of Conflict Resolution, 63(1):31–58.
Duncan, J. 2016. Protest nation. The right to protest in South Africa. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.
Fakir, E. 2014. Circling the square of protests: democracy, development, delivery and discontent in Bekkersdal. 12th annual Ruth First Memorial Lecture (August). https://www.polity.org.za/article/circling-the-square-of-protests-democracy-development-delivery-and-discontent-in-bekkersdal-12th-annual-ruth-first-memorial-lecture-august-2014-2014-08-18 (25 Maart 2021 geraadpleeg).
Friedman, S. 2018. Power in action. Democracy, citizenship and social justice. Johannesburg: Wits University Press.
Hancock, G.R. en R.O. Mueller. 2010. The reviewer’s guide to quantitative methods in the social sciences. New York: Routledge.
Heydenrych, P.W. 2017 Deelname in plaaslike regering en demokratiese konsolidasie in Suid-Afrika – ’n analise. PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit.
Heydenrych, P. en J. Zaaiman. 2013. Changing local politics in South Africa: the power relationship between local government and the people. Journal for Contemporary History, 38(2):157–78.
Human Sciences Research Council. South African Social Attitudes Survey (SASAS) 2017: Questionnaire 1 – All provinces. [Data set]. SASAS 2017 Q1. Version 2.0. Pretoria South Africa: Human Sciences Research Council [producer] 2017, Human Sciences Research Council [distributor] 2020. http://dx.doi.org/doi:10.14749/1607119378.
Jolaosho, O. 2018. Singing politics. Freedom songs and collective protest in post-apartheid South Africa. African Studies Review, 62(2):6–29.
Klaasen, A. 2020. The quest for socio-economic rights: the rule of law and violent protest in South Africa. Sustainable Development, 28:478–84.
Lancaster, L. 2018. Unpacking discontent. Where and why protest happens in South Africa. South African Crime Quarterly, 64:29–43.
Mathekga, R. 2006. Participatory government and the challenge of inclusion: the case of local government structures in post-apartheid South Africa. Colombia Internacional, 63:88–107.
Matisonn, H. 2006. Book review of Voices of protest: social movements in post-apartheid South Africa. Onder redaksie van Ballard, Habib en Valodia. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press. Social Dynamics, 32(2):233–8.
Mawokomayi, B. en B. Dube. 2018. Muting the voices of the protesters: News24’s framing of the 2015 Malamulele service delivery protest in South Africa. Communicare, 37(1):38–55.
Mbembe, A. 1992. Provisional notes on the postcolony. Africa, 62(1):3–37.
McKinley, D. en A. Veriava. 2005. Arresting dissents: state repression and post-apartheid social movements. Research report. Johannesburg en Kaapstad: Centre for the Study of Violence and Reconciliation.
Paret, M. 2017. Southern resistance in critical perspective. In Paret e.a. (reds.) 2017.
Paret, M., C. Runciman en L. Sinwell (reds.). 2017. Southern resistance in critical perspective: the politics of protest in South Africa’s contentious democracy. Londen: Routledge.
Pithouse, R. 2006. Struggle is a school: the rise of a shack dwellers’ movement in Durban, South Africa. Monthly Review, 57(9). https://monthlyreview.org/2006/02/01/struggle-is-a-school-the-rise-of-a-shack-dwellers-movement-in-durban-south-africa (25 Maart 2021 geraadpleeg).
Roberts, B.J., N. Bohler-Muller, J. Struwig, S.L. Gordon, N. Mchunu, S. Mtyingizane en C. Runciman. 2017. Protest blues. Public opinion on the policing of protest in South Africa. South African Crime Quarterly, 62:63–80.
Runciman, C.M. 2017. South African social movements in the neoliberal age. In Paret e.a. (reds.) 2017.
Thompson, L. en C. Tapscott. 2010. Introduction: mobilization and social movements in the South – the challenges of inclusive governance. In Thompson en Tapscott (reds.) 2010.
Thompson, L. en C. Tapscott (reds.). 2010. Citizenship and social movements: perspectives from the global South. Londen: Zed Books.
Tournadre, J. 2018. A turbulent South Africa: post-apartheid social protest. Albany: State University of New York Press.
Von Holdt, K. 2013. South Africa: the transition to violent democracy. Review of African political economy, 40(138):589–604.
Zaaiman, J. 2020. Power and agency in the local domain: a reflection on the debates and pointers for research, Politikon, 48(1):115–34.
—. 2021. Power and freedom: reflecting on the relationship. Koers, 86(1):1–15. Doi: 10.19108/KOERS.86.1.2472.
Bylae 1. Onderhoudsvrae
Lewenshouding V1. Alles in ag genome, hoe tevrede is u met u lewe as geheel deesdae? Oor die algemeen sou u sê u is baie tevrede, tevrede, ontevrede of baie ontevrede? |
Houdings oor politieke aangeleenthede en instellings V5. Hoe tevrede of ontevrede is u met die wyse waarop demokrasie in Suid-Afrika werk? V8. Dui aan in watter mate u die volgende instansie in Suid-Afrika vertrou: die nasionale regering. V13. Dui aan in watter mate u die volgende instansie in Suid-Afrika vertrou: die polisie. V16. Dui aan in watter mate u die volgende instansie in Suid-Afrika vertrou: u plaaslike regering. V43. Tot watter mate stem u saam of verskil van die volgende stelling: Of ek stem of nie, dit maak geen verskil nie. V243 Vir watter party het u in die laaste nasionale verkiesing, wat in 2014 gehou is, gestem? |
Houdings oor ekonomiese en gelykheidskwessies V7. Hoe tevrede is u met die algemene ekonomiese situasie in Suid-Afrika op die oomblik? V165. Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling: Verskille in inkomste in Suid-Afrika is te groot. V232. Tot watter mate stem u saam of stem u nie saam met die volgende standpunt nie? Swart Suid-Afrikaners moet op restitusie/kompensasie aandring. V261 Wat is u huidige werkstatus? V157. Hoe vergelyk u huishouding se inkomste met die van ander huishoudings in u area/buurt? V302. Dui asseblief die letter aan wat die totale maandelikse huishoudelike inkomste van alle persone in u huishouding voor belasting en ander aftrekkings die beste beskryf. Sluit asseblief alle bronne van inkomste soos salarisse, pensioene, inkomste uit beleggings, ens. in. V270. In ons samelewing is daar groepe wat geneig is om aan die bokant en groepe wat geneig is om aan die onderkant te wees. Hier volg ’n skaal wat van bo na onder gaan. Waar sal u uself op hierdie skaal plaas? |
Houdings oor rasverwante sake V64. Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling? Mense van verskillende rassegroepe vertrou of hou nie van mekaar nie. V114. Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stelling? Wanneer ek met mense van ander rassegroepe in aanraking kom, is die kontak amper altyd vriendelik. V78. Tot watter mate stem u saam of verskil u van die volgende stellings? Die tradisies en waardes wat belangrik is vir mense van my ras word bedreig as gevolg van die invloed van ander rasse in hierdie land. |
Houdings oor gemeenskapsake V194. Wanneer ’n misdaad plaasvind, soek sommige mense hulp by ’n verskeidenheid ander plekke behalwe die polisie. Tot watter mate stem u saam / verskil u met die volgende stellings? Elke gemeenskap behoort self hul eie sekuriteit te reël om hul teen kriminele te beskerm, selfs al stem die polisie nie daarmee saam nie. |
Houdings oor godsdienstigheid V266. Nieteenstaande of u aan ’n spesifieke geloof/denominasie behoort, hoe godsdienstig sou u sê is u? |
Biografiese beskrywers V255. Ouderdom van respondent in voltooide jare. V258. Wat is die hoogste vlak van opvoeding wat u ooit voltooi het? |
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.