Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario? 

  • 0

Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario? 

André Duvenhage, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Selde was die Suid-Afrikaanse politieke omgewing so onseker soos tydens 2020. Kombinasies van politieke, ekonomiese en sosiale omstandighede berei tans die terrein voor vir radikale politieke verandering en talle politieke en ekonomiese kommentators is uiters bekommerd oor selfs die korter-termyntoekoms van Suid-Afrika. Die COVID-19-dinamika het hierdie situasie verder laat versleg deur nog meer negatiewe stukrag te veroorsaak, wat die moontlikheid van ’n sogenaamde slegte-saak-scenario verder versterk. Faktore waaronder politieke onstabiliteit; geweld en onverdraagsaamheid; sosiale konflik en geweld; en negatiewe ekonomiese groei met gepaardgaande vraagstukke soos werkloosheid, armoede, xenofobie, swak dienslewering en die vlug van kapitaal en kundigheid dra by tot onsekerheid en uitsigloosheid. Endemiese korrupsie en die politieke implikasies van die Zondo-kommissie van ondersoek (polities gesproke vir die skuldiges) is die grootste uitdaging waarvoor die oppergesag van die reg (en waarskynlik die grondwetlike staat) sedert 1994 te staan gekom het. Iets moet êrens bes gee en dit is geen uitgemaakte saak dat politieke kragte nie sterker is as die grondslag van die huidige staatkundige bestel nie. Ernstige vrae word gevra oor die politieke uitkomste van die toepassing van wat soms voorgehou word as “die beste grondwet ter wêreld”. Daar is selfs kommer oor die Suid-Afrikaanse staat as staat en sy toekoms as ’n eenheidstaat oor die lang termyn (Johnson 2015:221–46). Die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet beloof om konflik te laat toeneem tot op ’n stadium waar dit moeilik bestuur sal kan word.

Deur ingewikkelde stelsels as teoretiese vertrekpunt en verwante begrippe soos stelsel-entropie, deterministiese chaos, die swak-staatverskynsel en stelseltransformasie te gebruik, word ’n verkennende eietydse ontleding van die Suid-Afrikaanse politiek gemaak met slegte- en beste-saak-scenarioperspektiewe as uitkoms. Veranderlikes soos die staatkundige konteks; die politieke ekonomie van die land; sosiale faktore en gepaardgaande dinamika; en die ANC-dinamika teen die agtergrond van ’n onstabiele en dinamies-veranderende wêreldorde word beklemtoon. Die gevolgtrekking van hierdie verkennende studie is dat die politieke kantelpunt reeds bereik is en dat ’n slegte-saak-scenario voor die deur lê. Trouens, getuienis dui daarop dat ’n slegte-saak-scenario die waarskynlikste is. Dit het verreikende implikasies vir ons toekoms oor die kort asook lang termyn. Kan dit wees dat die Ramaphosa-regering, ongeag die omstandighede, die spreekwoordelike gety nog kan omkeer, of is ons onbepaald op ’n weg van staatkundige en politieke verval wat selfs vir Ramaphosa en sy regering as slagoffers gaan eis? Volgens my is ’n omkeer van die situasie net nie meer moontlik nie.

Die artikel is verkennend en probeer om op grond van ’n teoretiese raamwerk en empiriese getuienis lig te werp op Suid-Afrika by ’n kantelpunt met die moontlikheid van ’n slegte-saak-scenario.

Trefwoorde: politieke entropie; politieke kantelpunt; politieke transformasie; politieke verval; scenario’s; Suid-Afrika; swak staat

 

Abstract 

South Africa at a tipping point – a bad-case scenario?

The South African political environment has seldom been as uncertain as during 2020. Combinations of political, economic and social conditions are currently preparing the ground for radical political change and many political and economic commentators are seriously worried about even the shorter-term future of South Africa. The COVID-19 dynamics worsened this situation further by causing even more negative dynamic force, which further strengthens the possibility of a so-called bad-case scenario. Factors including political instability; violence and intolerance; social conflict and violence; and negative economic growth with accompanying issues, like unemployment, poverty, xenophobia, poor service delivery and the flight of capital and expertise, add to uncertainty and bleak existence. Endemic corruption and the political implications of the Zondo commission of investigation (politically spoken for the offenders) have been the biggest challenges to face by the supreme authority of law (and most probably the constitutional state) since 1994. Something has to give somewhere and it is no foregone conclusion that political forces are not stronger than the basis of the current political dispensation. Serious questions are asked about the political outcomes of the application of what is sometimes presented as “the best constitution in the world”. There is even concern about the South African state as a state, and its future as a unitary state over the long term (Johnson 2015:221–46). The envisaged amendment to section 25 of the Constitution promises to lead to increasing conflict until a stage where it will be difficult to manage.

By taking complicated systems as theoretical point of departure and using related concepts like systemic entropy, deterministic chaos, the weak-state phenomenon and system transformation, an explorative contemporary analysis is made of the South African politics, with worst-case and best-case scenario perspectives as outcomes. Variables like the political context; the political economy of the country; social factors and accompanying dynamics; and the ANC dynamics against the background of an unstable and dynamically changing world order are emphasised. The conclusion of the explorative study is that the political tipping point has already been reached and that we are faced with a bad-case scenario. Indeed, evidence indicates that a bad-case scenario is the most probable. It has far-reaching implications for our future over the short term as well as the long term. Can the Ramaphosa government, notwithstanding the circumstances, turn the tide, or are we indefinitely en route to political decay that will even claim Ramaphosa and his government as victims? According to me a reversal of the situation is no longer possible.

The article is explorative and tries to shed light on South Africa at a tipping point on the basis of a theoretical framework and empiric evidence, with the possibility of a bad-case scenario.

Keywords: political decay; political entropy; political tipping point; political transformation; scenarios; South Africa; weak state

 

1. Inleiding1 

Die Ministerie van Finansies het onlangs aangekondig dat Suid-Afrika nie enige beduidende ekonomiese groei vir 2020 moet verwag nie. Dit is in ooreenstemming met die IMF se perspektief dat iets drasties gedoen moet word om ekonomiese groei aan te wakker. Die Wêreldbank en die Verenigde Nasies het onlangs sy vooruitskouing vir ekonomiese groei vir 2020 afwaarts na 0,9% aangepas. Die IMF het onlangs ’n lening ter waarde van R71 miljard aan Suid-Afrika toegeken om die negatiewe gevolge van die COVID-19-dinamika teë te werk – skynbaar net die oortjies van die seekoei in terme van dit wat vorentoe benodig gaan word (Anon. 2020). Hierdie realiteit moet verstaan word teen die agtergrond van die krisis in die mynbedryf en die vervaardigingsektor; die ernstigste droogte in onlangse dekades met verreikende implikasies vir die landbou; en opeenvolgende jare van lae ekonomiese groei en swak dienslewering. Dit hang saam met ’n verhewiging van gewelddadige protesoptredes; toenemende geweldsmisdade; die roof van infrastruktuur; die plundering van voertuie; hoë vlakke van sosiale en politieke onverdraagsaamheid; ernstige voorvalle van rassisme; endemiese korrupsie en staatskaping; beleidsonsekerheid; die uittog van kundigheid na die buiteland; ’n verhoogde werkloosheidsyfer; en die verplasing/onttrekking van kapitaal na oorsese bestemmings. Dit was die stand van sake voor COVID-19. Sedertdien is die vooruitsigte verder negatief aangepas betreffende veral ekonomiesegroeivooruitsigte, werkloosheidsyfers, verminderde belastinginkomste ensovoorts. Na verwagting kan tot 7 miljoen werksgeleenthede deur die COVID-19-dinamika geraak word, die ekonomie met tot 10% inkrimp en werkloosheid tot bykans 50% styg (Wicks en Ash 2020:23).

Met die toenemende skuldlas van staatsondernemings soos Eskom, Denel, die SABC, die Poskantoor en Transnet (met reddingsboeie wat begin minder raak), is die skrif nou aan die muur vir die meeste semi-staatsinstellings. SAA is tans die beste voorbeeld waardeur die regering se vermoë getoets word om moeilike finansiële besluite te neem. Ingrypende herstrukturering word tans vir ten minste sommige van bogenoemde instellings in die vooruitsig gestel, maar dit is onseker of die politieke wil daar is om die nodige besluite te neem (vergelyk veral die vakbonde se reaksie op moontlike verkleinings van die personeelkorpse van hierdie instellings). Bogenoemde laat inderdaad ’n donker skadu val oor die toekoms van Suid-Afrika en wat die volgende aantal jare vir Suid-Afrikaners mag inhou. Dit is veral populiste binne die ANC, radikale vakbonde en lede van die SAKP wat sterk weerstand bied teen besluite waarvolgens herstrukturering mag lei tot werksverliese of die privatisering van instellings. Dit is veral die hervormers binne die ANC (onder leiding van Tito Mboweni en Pravin Gordhan) wat hier onder skoot kom. Soos die finansiële adviseur Magnus Heystek dit stel: “RSA Titanic is in groot k#k – don’t let those patriotic swimsuits fool you...” (in Cameron 2019).

Verskeie ekonome, waaronder Mike Schüssler, Dawie Roodt en Azar Jamine, beklemtoon die negatiewe vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie – vergelyk in hierdie opsig Jamine (2020) se ontleding van ekonomiese vooruitsigte vir Suid-Afrika. Schüssler (in Anon. 2020) wys byvoorbeeld daarop dat Suid-Afrika tans tussen R60 en R65 miljard maandeliks oorspandeer teen die agtergrond van ’n krimpende belastingbasis en swak belastinginvordering. Dit is ook duidelik dat die gevolge van die COVID-19-dinamika reeds die situasie verder laat versleg het en die moontlikheid van ’n slegte-saak-scenario verder laat toeneem het. Die finansiële joernalis Jonathan Katzenellenbogen (2020) vra openlik hoe na die Suid-Afrikaanse ekonomie aan ’n algehele ineenstorting is.

Bogenoemde verslegtende ekonomiese situasie moet verder geplaas word teen die agtergrond van groot verdeeldheid binne en tussen partye op die politieke spektrum (vergelyk die konflikte binne die ANC-familie, die DA en selfs die EFF); endemiese korrupsie en staatskaping waarvan ondersoeke deur die Zondo-kommissie senior leiers van partye soos die ANC en EFF impliseer; die inploffing van die staat op talle vlakke, waarvan die krisis binne plaaslike regering die beste voorbeeld is; toenemende patrone van politieke onstabiliteit (xenofobie, diensleweringsprotesoptredes, gewapende misdaad en arbeidsonrus); en boonop die COVID-19-dinamika met sy besondere uitwerking op die politieke ekonomie van die staat. (Empiriese getuienis om bogenoemde te motiveer sal hieronder toegelig word.) Hierdie agtergrond onderskryf inderdaad die waarneming van Clem Sunter (in Cronje 2017:9) ’n tyd gelede dat:

[...] South Africa is at a tipping point where small random events can have a major effect on the system as a whole because of all the feedback loops contained in the system reinforcing one another and producing extreme results.

Hierdie artikel berus op die hipotese dat Suid-Afrika reeds ’n politieke kantelpunt bereik het en dat ’n slegte-saak-scenario (polities gesproke) op die agenda is met die vooruitsig dat sake nog verder kan versleg. Sien ons in die huidige omstandighede moontlik selfs die einde van ’n politieke era (1994–2020), wat histories gesproke vorentoe baie negatief beoordeel gaan word?

Die doel van hierdie artikel is om ’n bondige strategiese ontleding van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing te gee (alleen enkele kernsake word aangeraak) met die doel om die geldigheid (al dan nie) van bogenoemde hipotese te probeer bepaal. Die onderhawige artikel kan ook beskou word as ’n poging om struktuur te bied vir die huidige politieke gesprek oor die toekoms van die land (’n gesprek wat tans al wyer en omvattender gevoer word) en ’n standpuntinname binne die raamwerk van die groter debat wat tans aan die gang is. In dié verband het die navorsing ’n polemiese strekking, gerig op debat en gesprek.

Fokuspunte van die artikel sluit in:

  • Die formulering van enkele teoretiese vertrekpunte.
  • Die veranderlikes en hul waarskynlike uitkomste.
  • Scenario-perspektiewe.
  • Gevolgtrekkings en die pad vorentoe.

 

2. Teoretiese vertrekpunte

Die begrip kantelpunt (“tipping point”) is aan die fisika ontleen en beteken die punt waar ’n voorwerp wat betreklik stabiel is deur ’n krag (of kombinasie van kragte – soms van klein omvang) sy ewewig verloor en ’n nuwe dinamika (rigting- of koersverandering) ervaar wat nie altyd voorspelbaar is nie. Skrywers waaronder Morton Grodzins, Thomas Schelling en Mark Granovetter het die begrip kantelpunt ook op die Sosiale Wetenskappe van toepassing gemaak. Die werk van Malcolm Gladwell, The tipping point: How little things can make a big difference (2000), kan as vertrekpunt geneem word. Hiervolgens (en met betrekking tot die artikel) word kantelpunt soos volg in teksverband gebruik: 

  • In makroverband (die onderwerp is die samelewing/politieke stelsel/regime) is die kantelpunt van toepassing op ’n raamwerk van onderling afhanklike dele (oftewel ’n politieke stelsel) of stelsel voorgehou as ’n ingewikkelde stelsel.
  • Die bestaande stelsel (of regime as sinoniem daarvoor) ervaar dikwels reeds elemente van onstabiliteit (oftewel dinamiese ewewig) maar is op ’n wyse in staat om die ewewig te kan herstel. Stabiliteit word derhalwe behou te midde van moeilike omstandighede en die kantelpunt word nog nie bereik nie.
  • Soms is daar dan net ’n kleiner krag of dinamika nodig om die ewewig/dinamiese ewewig te verplaas na ’n punt van stelsel-ewewigversteuring of kantelpunt.
  • Hierdie dinamika kan onder meer ’n stelsel-inploffing (disfunksionaliteit) of ontploffing (toevoeging van nuwe energie) beteken, wat die stelsel oor die spreekwoordelike afgrond kan laat stort.

In die artikel val die klem op die politieke regime (oftewel politieke stelsel) en die vraag is of die politieke stelsel in Suid-Afrika ’n kantelpunt bereik het, besig is om dit te bereik, of moontlik reeds by die kantelpunt verby is. Die vertrekpunt (hipotese) van hierdie ondersoek is dat die kantelpunt reeds bereik is en dat ’n nuwe politieke dinamika in die vooruitsig gestel kan word. Hierdie scenario word versterk deur die COVID-19-uitdaging en die dinamika verbonde aan hierdie tendens.

Ten einde bogenoemde vertrekpunt sterker toe te lig, is ’n kort konseptualisering van sleutelterme binne ’n ingewikkelde stelsel as makro-raamwerk noodsaaklik. Die teoretiese vertrekpunte wat in die vooruitsig gestel word, is gemik op die toeligting van enkele begrippe binne die raamwerk van ingewikkelde stelsels. Die doel daarvan is om kriteria te identifiseer ten opsigte van die verstaan van kantelpunte in die politiek, soos toegepas op Suid-Afrika. 

2.1 Ingewikkelde stelsels 

Ingewikkelde stelsels kan voorgestel word as raamwerke bestaande uit uiteenlopende komponente (dikwels ingewikkelde substelsels in eie reg), ook voorgehou as netwerke wat in dinamiese, selfs asimmetriese wisselwerking verkeer, maar binne ’n groter samehang (verband – lees hier staatsverband) is met byvoorbeeld ekostelsels, vervoerstelsels, weerstelsels, kommunikasie- en inligtingstelsels. Kenmerke van hierdie tipe stelsels sluit in ’n ingewikkelde samestelling en asimmetriese wisselwerking van samestellende dele; ’n netwerk-oriëntasie waar onderdele die vorm van netwerke aanneem, met eiesoortige ingewikkeldhede en gepaardgaande dinamika. Hulle is nie-lineêr met betrekking daartoe dat insette en uitsette oneweredig aan mekaar kan wees (groot inset – klein uitset en andersom), met ’n sporadiese, tydelike sekerheid tot selfs onsekerheid betreffende die wese en aard van hierdie tipe stelsels (ontluikende aard/“emergent character”). Hulle kan spontaan en selforganiserend reageer binne die raamwerk van ingewikkeldheid en verandering (die groepsdinamika); het ’n vermoë tot aanpasbaarheid binne die raamwerk van onstabiele verandering; en toon sensitiwiteit vir hul eie geskiedenis en ontwikkeling (dit wil sê ’n leer-organisasie) (Cronje 2017:29–33).

Gerig op hierdie navorsing word die groter staatkundige bestel in Suid-Afrika as ’n ingewikkelde stelsel voorgehou met die vereiste/beperking dat die politieke stelsel toegespits is op: “[...] those interactions through which values are authoritatively allocated for society” (Easton 1965:21). Politiek beteken in hierdie verband: “die vermoë om steun binne ’n samelewing te mobiliseer en te organiseer, met as doel die verkryging en/of konsolidasie van ’n politieke magsbasis (meestal institusioneel gefundeer), waardeur bindende besluite (toedeling van waardes) met betrekking tot die samelewing of dele daarvan kan plaasvind, of wat kompeterende en selfs vyandige magsbasisse vreedsaam of nie-vreedsaam kan inhibeer (en selfs verhoed) om hul besluite/waardes op die samelewing of onderdeel van die samelewing af te dwing” (Duvenhage 1998:2–3).

Politiek is generies aanwesig in enige omgewing, hetsy stabiel of onstabiel. Die toepassing van politieke spelreëls (die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele, volgens Easton 1965) verskil egter tussen stabiele en onstabiele omgewings. (Vergelyk ook Duvenhage 1998:2–4 vir die onderskeid/samehang tussen staat en politiek soos van toepassing in hierdie beredenering.) Die Suid-Afrikaanse konteks is tans uiters onstabiel (polities, ekonomies en sosiaal) en word met die oog op dié artikel geplaas binne die raamwerk van ingewikkelde stelsels wat met die uitdagings van politieke, ekonomiese en sosiale onstabiliteit gekonfronteer word. Bogenoemde vorm die raamwerk vir ’n poging om te verstaan wat tans besig is om in Suid-Afrika te gebeur as grondslag vir waarom daar geargumenteer word dat Suid-Afrika reeds ’n kantelpunt bereik het.

’n Aantal kleiner begrippe moet nietemin ook toegelig word ten einde die dinamika van ingewikkelde stelsels beter te verstaan met die oog op toepassing binne die Suid-Afrikaanse konteks. 

2.1.1 Stelsel-entropie 

Stelsel-entropie is ’n breë begrip wat talle ander terme omsluit. Dit verwys na die mate van wanorde binne stelsels en die teenwoordigheid van wisselvalligheid, onreëlmatigheid en inkonsekwentheid ingevolge die suksesvolle funksionering van die betrokke stelsel. Die huidige situasie wat binne plaaslike regering in Suid-Afrika heers, kan as ’n voorbeeld van politieke entropie voorgehou word. Dit hou verband met vorme van stelsel- en institusionele verval. (Vergelyk Huntington 1968:1–8 vir sy konseptualisering van institusionele verval.) Stelsel-entropie staan teenoor hoë vlakke van institusionalisering. Laasgenoemde verwys volgens Huntington (1968:13–24) na die mate van ondersteuning wat ’n stelsel geniet asook sy vlak van institusionalisering gemeet aan maatstawwe soos aanpasbaarheid, differensiasie, outonomie, asook die eenheid en samehang van komponente. Vir hierdie ondersoek raak dit die doelmatigheid asook die nuttigheidswaarde van die stelsel (regime) soos hier gekonseptualiseer. Politieke en institusionele verval, die begrip van ’n verswakkende staat, chaotiese stelsels, inploffings en ontploffings, asook kantelpunte is verbandhoudend en kan as vorme van stelsel-entropie voorgehou word. Hierdie verbandhoudende begrippe word kortliks behandel.

2.1.2 Politieke en staatkundige verval

Vanuit ’n Weberiaanse vertrekpunt en as voorbeeld van ’n ingewikkelde stelsel, kan ’n “sterk staat”, dit wil sê ’n staat met hoë vlakke van institusionalisering (Huntington 1968) gedefinieer word as:

An organization composed of numerous agencies led and coordinated by the state’s leadership (executive authority) that has the ability to make and implement rules for all the people as well as the parameters of rulemaking for other social organizations in a given territory using force if necessary to have its way (Weber 1964:15; Migdal 1988:214–26).

Maatstawwe soos die mate van politieke beheer oor die gebied; toesig (nie noodwendig beheer nie) oor nasionale hulpbronne; vermoë ten opsigte van belastingheffings en invordering; die ontwikkeling en uitbouing van infrastruktuur; die vermoë om dienste te lewer; en die instandhouding van gebruike wat met goeie regering en administrasie verband hou, is belangrik vir die bepaling van die vlakke van institusionalisering asook die kragtigheid van ’n betrokke staat. Politieke en institusionele verval of die verswakkende staat [vroeër voorgehou as stelsel-entropie en die teenoorgestelde van ’n sterk staat, aldus Weber (1964) of hoë vlakke van institusionalisering, aldus Huntington (1968)] gee beslag aan staatsverswakking en drie kategorieë kan in hierdie verband onderskei word: 

  • Sagte state: verdraagsaam ten opsigte van korrupsie en grensbeheer.
  • Swak state: ding met ander magsbasisse binne die gebied van die staat mee vir die gesaghebbende toewysing van waardes en skaars middele.
  • Ingeplofde state: die staat verloor beheer oor die gebied van die staat en daar is sprake van gefragmenteerde soewereiniteit.
    (Geldenhuys 1999:38−46; Migdal 1988:214−26; Zartman 1995:1−8; Duvenhage 2007:15−8.)

2.1.4. Stelselinploffing/-ontploffing

Stelselstabiliteit/-onstabiliteit is gelyk aan die vermoë/onvermoë van die stelsel om omgewingseise doelmatig aan te pak. Die bekende sosioloog Talcott Parsons (1951:480) het by geleentheid verwys na “the processes of change of social systems as systems [...]”. Dit kan twee betekenisse hê, naamlik stelselprogressie, byvoorbeeld stelseltransformasie, of stelselregressie, met ander woorde die vernietiging of geleidelike tot niet gaan van ’n bestaande stelsel. Laasgenoemde het op hierdie ondersoek betrekking. Stelselinploffing beteken ’n uiterste toestand van entropie met as uitkoms ’n stelsel wat verbrokkel en vervang word met ’n nuwe stelsel of stelsels. Die balkanisering van state met verwysing na onder meer die ou Sowjetunie is ’n goeie voorbeeld van die inploffing van ’n stelsel. (Die ou Sowjetunie het gebalkaniseer in sowat 15 outonome politieke entiteite.) ’n Stelselontploffing dui op ’n onvermoë om inset na uitset om te skakel, wat lei tot die gewelddadige vernietiging van die stelsel. Revolusie verskil van evolusionêre en transformatiewe veranderinge ingevolge die mate van geweld en soms die snelheid waarmee die politieke verandering plaasvind. Binne die verband van ’n politieke stelsel kan dit moontlik ’n politieke revolusie beteken waarin die regime vernietig word, wat volgens Huntington (1968:265–6) ’n “ontploffing van politieke deelname” (inset) beteken en wat gewelddadig manifesteer. Klassieke en moderne revolusies is voorbeelde hiervan. Frankryk (1789) is ’n voorbeeld van ’n klassieke revolusie en China (1948) ’n voorbeeld van moderne revolusie (Huntington 1968:267−74).

2.1.5 Stelseltransformasie

Stelseltransformasie kan voorgehou word as ’n poging tot die radikale, omvangryke, snelle en fundamentele verandering van ’n stelsel deur ’n meer progressiewe uitkoms te verseker. Dit verskil van revolusie omdat geweld op ’n laer en minder opvallende vlak voorkom en daarom ’n kleiner faktor in die veranderingsproses is. Stelseltransformasie verteenwoordig in sekere opsigte die teenpool van vorme van stelsel-entropie tot die mate wat ontwikkeling (in al sy vorme en dus ook transformatiewe verandering) teenoor institusionele en staatkundige verval staan.

Sedert die nuwe bedeling in werking getree het, was die primêre doel transformasie van die “apartheidgerigte politieke bestel” na ’n bedeling wat die waardes nierassig, nieseksisties, demokraties/verteenwoordigend en ontwikkelingsgerig huldig, in ooreenstemming met ’n waardestelsel ontleen aan die beskouing van die idee van n nasionaal-demokratiese revolusie. Dit behels die gelyktydige uitbestuur van die ou stelsel en die infaseer van die nuwe stelsel op deurlopende wyse. Histories-staatkundig gesproke het dit baie beperk voorgekom. Voorbeelde in hierdie verband was Bismarck se unifikasie van Duitsland (1870); die unifikasie van Italië; Mustafa Kemal se hervormings in Turkye (1920’s); De Gaulle in Frankryk met die totstandkoming van die Vyfde Republiek; en Mao Zedong in China na 1948 wat as revolusionêr beskou sou kon word, met vergelykbare transformatiewe uitkoms. Ander voorbeelde van historiese transformasies sluit in die Meiji-Restourasie in Japan na 1865, asook die val van die Berlynse muur, met verandering gerig op transformasie in state soos Oos-Duitsland, Hongarye en Tsjeggo-Slowakye. Laasgenoemde het saamgeval met die sogenaamde Derde Golf van demokratisering (1974–2000). (Vergelyk ook Huntington 1991:13–26.) 

2.1.6 Chaotiese stelsels 

Chaotiese stelsels hou verband met ingewikkelde stelsels, maar word verskillend vertolk, afhangend van die toepassingsverband. In hierdie studie word chaotiese stelsels geassosieer met wisselvalligheid, onreëlmatigheid en inkonsekwenthede, voorgestel as ’n wanordelike stelsel met onvoorspelbare gedragspatrone. In hierdie verband beteken ingewikkeldheid dinamiese verhoudings wat tot chaotiese gedrag kan lei – soms voorgehou as “deterministiese chaos”. Die volgende is kenmerkend van chaotiese stelsels:

  • Klein veranderings in die oorspronklike gesteldhede van ’n stelsel kan tot groot veranderings lei. Hier is sprake van die toenemende groei van ’n klein foutfaktor wat die stelsel oor sy kritiese drempel stoot. Die bekende uitdrukking: “The flap of a butterfly’s wings in Brazil set off a tornado in Texas”, waarna ook as die “butterfly effect” verwys kan word (Stewart s.j.:141), verwoord bogenoemde duidelik. Anders as tradisionele ingewikkelde stelsels wat oor ’n geheue (dit wil sê ’n geskiedenis) beskik, is dit nie die geval met chaotiese stelsels nie. Dit is ’n onbekende veranderlike wat in ’n oogwink ’n stel veranderlikes aan die gang sit (sneeubal-effek) en die stelsel oor sy kritiese drempel stoot.
  • Onderliggend aan die chaos is daar wel ’n struktuur en orde (selfs ’n nuwe stelsel) wat ontleed kan word indien ingewikkelde en andersoortige inligting binne nuwe stelselbegrippe beding word. (Hoewel dit op die oppervlak as ’n teenstrydigheid mag voorkom – orde binne chaos – word hier verwys na ’n andersoortige orde, ritme en patroon wat wel as’t ware in direkte konflik is met die aanvanklike orde en struktuur van die stelsel.) (Duvenhage 2007:3–15.)

Met bogenoemde as konseptuele verwysing moet kantelpunte beoordeel word teen die agtergrond van ingewikkelde stelsels, hul eiesoortige kenmerke en dinamika soos van toepassing op die huidige Suid-Afrikaanse staatkundige bestel van 2020. Verskeie prosesse (soos aangedui) kan tot ’n kantelpunt lei, waarvan vorme van stelsel-entropie en noodwendige chaos voorbeelde is. Betreffende die politieke verband is die vraag of ’n kombinasie van politieke kragte binne die Suid-Afrikaanse politieke bestel (voorgehou as ’n ingewikkelde stelsel of regime) kan lei tot ’n kantelpunt wat die voortbestaan van die regering, bestaande politieke elite of selfs die groter regime in gevaar kan stel. Wat is die staatkundige uitkomste oor die korter en medium termyne? Is ons onherroeplik verbind tot vorme van stelsel-entropie en die uiteindelike tot niet gaan van die huidige stelsel, of bestaan daar nog ruimte vir stelselhervorming en uiteindelik (in uiterste geval) stelseltransformasie? Dit is die uitgangspunt van hierdie ondersoek dat die kantelpunt reeds bereik is en dat die Suid-Afrikaanse politieke stelsel toenemend kenmerke vertoon wat vroeër aangedui is, naamlik stelselentropie, institusionele en politieke verval en ook dinamikas wat verband hou met chaotiese stelsels. Vanuit ’n ingewikkelde stelselperspektief (toegespits op die hipotese van hierdie ondersoek) word daar voorts aandag gegee aan ’n strategiese ontleding van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing.

2.7 Makro-strategiese verband 

Vanuit die vertrekpunt dat die Suid-Afrikaanse politieke stelsel ’n ingewikkelde stelsel is, kan die verwikkeldheid tans beskou word in die samehang van vyf kernomgewings, naamlik die staatkundige verband; die sosiale omgewing; die politieke ekonomie; die ANC-dinamika; en ’n veranderende wêreldorde. Elkeen van die omgewings word kortliks toegelig.

2.8 Staatkundige verband

Hierdie omgewing veronderstel die staat en raak aspekte soos soewereiniteit (staatsgrense, veiligheid ens.); owerhede (en ander onderdele van die politieke stelsel of regime); die burgery (landsburgers); asook die beleidsomgewing. Enkele kernperspektiewe word hier gebied.

Die primêre funksie van enige staat is die handhawing van wet en orde en die beskerming van die veiligheid van sy burgery. Verskeie peilings waaronder die Gallup Index asook die Global Peace Index plaas Suid-Afrika in die groepering van een van die onveiligste state ter wêreld, waaronder Liberië, Gaboen, Venezuela, Sirië, Irak en Afghanistan. (Global Peace Index (2018) plaas Suid-Afrika wat veiligheid betref 127ste uit 163 state.) Tans is daar sowat 9 000 geregistreerde privaat veiligheidsmaatskappye met ’n werksmag van sowat 500 000 wat steeds groei, in vergelyking met die SAPS se 150 000 personeellede en die SANDF se 73 844 soldate (219 generaals en admiraals) (Krige 2019:1). Dit is duidelik dat die verslegtende veiligheidsituasie bydra tot die groei van privaat veiligheidsinstellings, met gepaardgaande risiko’s in terme van magsverliese en implikasies vir die soewereiniteit van die staat. Dit is ’n direkte aanklag teen die basiese vermoë van die staat om selfs sy grondliggendste en kernfunksie van orde, stabiliteit en sekuriteit suksesvol te vervul. Dit laat die staat kwesbaar ten opsigte van bedreigings van sowel binne as buite en tas die staat se status as eienaar van die swaardmag binne ’n bepaalde grondgebied aan. Dit is juis hierdie aspek wat state onderskei van ander samelewingsinstellings wat hierdeur onder risiko geplaas word. 

Bogenoemde risiko word verder beklemtoon deur die haglike toestand van die strafregstelsel wat volgens die jaarverslag van die Nasionale Vervolgingsgesag bykans in duie gestort het. In die woorde van Shamila Batohi (die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings) is die heersende scenario toenemende misdadigheid, met net ongeveer 2% sukses wat behaal word met die ondersoek van gevaarlike misdade (Versluis en De Lange 2019:2). Verder, ten spyte van toenemende misdaad binne talle sfere, het die aanmeldkoers van misdaad met sowat 10,7% (888 053 sake tot 792 895) afgeneem – waarskynlik vanweë wantroue in die vermoë van die strafregstelsel. Vigilantisme, dit wil sê die gebruik van eie reg en die ontstaan van vigilantegroepe, bevestig ook die gebrek aan vertroue in die strafregstelsel (Swanepoel 2008:3–8; 126–8). Hierdie tendens hou verband met wat vroeër as stelsel-entropie voorgehou is en is ook in ooreenstemming met die swakstaatverskynsel. 

Die getal onwettige immigrante in Suid-Afrika is onseker en verskillende syfers word verskaf. Die 2011-sensus dui op 2,2 miljoen onwettige immigrante in Suid-Afrika, terwyl die International Organization for Migration in 2017 die totaal op 4 miljoen gestel het, en ander bronne verwys selfs na 10−15% van die bevolking (Eisenberg 2019; Heleta 2018:1−4). Volgens die 2011-sensus is sowat 75% van onwettige immigrante uit Afrika afkomstig (Heleta 2018:3). Bostaande, ongeag die spesifieke getal, is ’n duidelike aanduiding van wat hierbo as ’n verswakkende staat aangedui is. Ten spyte van verswakkende staatsomstandighede binne Suid-Afrika, is toestande noord van die land, veral in Zimbabwe en Mosambiek, sodanig dat burgers van daardie gebiede in hul duisende na Suid-Afrika stroom, wat groter druk op maatskaplike en ander dienste plaas. In Zimbabwe, wat tans in ’n ernstige ekonomiese krisis verkeer (en boonop gebuk gaan onder een van die ergste droogtes in onlangse geskiedenis), gaan na beraming sowat 7 miljoen mense (bykans 50% van die bevolking) in ’n voedselkrisis vasgevang raak, met ’n verwagte toestroming na Suid-Afrika. Dit is ’n duidelike aanduiding dat verskerpte grensbeheer op hierdie tydstip al nodiger raak – ’n maatreël wat deur die COVID-19-dinamika nog noodsaakliker gemaak word. Onlangse pogings tot groter grensbeheer tussen Suid-Afrika en Zimbabwe was grootliks onsuksesvol en nuut opgerigte heinings word byna oornag verwyder.

Vlakke van geweld op talle terreine van die samelewing hou ’n wesenlike bedreiging in vir staatkundige stabiliteit. Hieronder val arbeidsonrus, xenofobiese aanvalle, taxi-oorloë, diensleweringsproteste en selfs gewelddadige misdaad. Diensleweringsprotesoptredes, ’n bekende verskynsel in Suid-Afrika, het oor die jare nie net toegeneem nie, maar veral sedert 2012 ook meer gewelddadig geraak. Die groeipatroon kan so voorgestel word: 2004 (10); 2005 (34); 2009 (107); 2014 (191); 2018 (237); en 2019 (140 – oor die eerste ses maande) (Gous 2019:1–2). Die hoogste voorkoms hiervan was in die stede, met Gauteng 26%; KZN 19%; Oos-Kaap 17%; Wes-Kaap 16%; en die Vrystaat 9% van die totaal. Tussen 3 en 11 April 2019 het protesoptrede in Alexandria begin en toe letterlik oornag uitgebrei na onder meer Roodepoort, Vereeniging, Kroonstad, Blackheath, Tshwane, Orange Grove, Bekkersdal en Soweto – ’n voorbeeld van voortstuwing of die sneeubal-effek kenmerkend van onstabiele ingewikkelde stelsels met elemente van deterministiese chaos – die uitkoms is onafwendbaar, naamlik ’n verswakkende staat, soos vroeër gekonseptualiseer.

Die hoekstene van enige staat en die middelpunt van noodsaaklike dienste is plaaslike regerings. Die 2019-verslag van die Ouditeur-generaal toon dat net 8% (oftewel 18 munisipaliteite) skoon oudits ontvang het, met onreëlmatige uitgawes van altesame R21,2 miljard (Kekana 2019:1–7). Tussen 80% en 90% van munisipaliteite word ingevolge artikel 139 A, B en C van die Grondwet onder administrasie geplaas. In Noordwes is bykans twee-derdes van munisipaliteite tans onder administrasie. Die onvermoë om dienste soos water, elektrisiteit en sanitasie volhoubaar te lewer word toenemend groter. Kortliks gestel is die hoekstene van die staat besig om te verbrokkel en ’n staatkundige krisis wat al groter word, is aan die orde. Bostaande ontleding beklemtoon die ontoereikende en in sekere opsigte wanfunksionele aard van die groter staat en sy strukture. Dit is ’n duidelike patroon van enersyds staatkundige inploffing en andersyds stelseluitwyking binne die raamwerk van uitgebreide korrupsie tot die vlak van staatskaping.

Tendense wat teoreties verband hou met staatsverswakking, stelsel-entropie en die komplekse dinamika van ingewikkelde stelsels word geïllustreer deur onder meer swak grensbeheer en die instroming van buitelanders; ’n gebrek aan orde en stabiliteit; die inploffing van staatstrukture asook semi-staatstrukture; korrupsie en nepotisme; asook ’n onvermoë om dienste te lewer. Oor die jare heen het hierdie tendense ’n negatiewe patroon gevorm wat geleidelik vererger het. Die COVID-19-dinamika en die verwagte uitspeel hiervan kan die toedrag van sake verder laat versleg.

 

3. Polities-ekonomiese aanwysers

Die goue jare van ekonomiese groei en voorspoed (kenmerkend van die termyne van Mandela en selfs Mbeki) het tydens die Zuma-era verlangsaam en die land is tans in ’n fase van negatiewe groei. Met verwysing na die steeds groeiende skuldlas van die staat wys Heystek (in Cameron 2019) daarop dat die spreekwoordelike ysberg op die Titanic wag en beklemtoon dat: “this is a death spiral for any country even more so where the unemployment rate is close to 30% of the working population.” Met die COVID-19-pandemie het hierdie syfers drasties versleg en word daar in sekere kringe van ’n “ekonomiese ineenstorting” gepraat (Katzenellenbogen 2020). Om die ekonomiese en finansiële prentjie beter te verstaan word die volgende sake uitgelig: trajekte van ekonomiese groei; groeiende staatskuld; ’n beperkte belastingbasis; die vlug van kapitaal; deïndustrialisering; die posisie van die mynbou- en vervaardigingsektore; asook die implikasies vir die afgradering van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

3.1 Trajekte van ekonomiese groei

Met ’n bevolkingsaanwas van sowat 2% moet die ekonomie teen ’n koers van byna 4% groei om werksgeleenthede te kan skep. Tans verkeer die ekonomie in een van sy langdurigste afwaartse groeisiklusse na die Tweede Wêreldoorlog. Onlangse syfers (per kwartaal uitgedruk) toon negatiewe groeipatrone vir die tweede kwartaal van 2015; die eerste kwartaal van 2016 asook 2017; die eerste en tweede kwartale van 2018; en die eerste en derde kwartale van 2019 (Brink 2019:1–2). Onlangs het die Wêreldbank sy vooruitskouing vir ekonomiese groei in Suid-Afrika vir 2020 afwaarts aangepas tot 0,9%. Sedert die implementering van COVID-19-regulasies het die ekonomiese vooruitsigte nog verder versleg. Johan Els, hoofekonoom van die Old Mutual Beleggingsgroep, reken dat die ekonomie hierdie jaar met 7,3% kan krimp, ’n begrotingstekort van 15% sal hê en staatskuld wat hoër as 80% van die bruto binnelandse produk (BBP) van Suid-Afrika is (De Lange 2020:11). Bogenoemde gelees in samehang met toenemende skuld dra inderdaad by tot ’n uiters negatiewe toekomsverwagting.

3.2 Groeiende staatskuld

Staatskuld as persentasie van die BBP vergelyk tans nie noodwendig sleg met dié van vergelykbare state nie, maar die groei hiervan oor ’n betreklik kort periode, tesame met wat in die vooruitsig gestel word, skets ’n baie donker prentjie. Waar die verwagting vroeër was dat toenemende staatskuld teen 2023 ’n piek van 60% sou bereik (en daarna sou afplat) word dit nou op 74% geprojekteer met sowat 80% teen 2027 wat ’n uiters ontstellende prentjie is. Neem verder in ag dat, as die staatskuld van staatsondernemings hierby gereken word (Eskom se skuld alleen beloop meer as R450 miljard), die prentjie selfs nog meer negatief is, met nie veel lig aan die einde van die tonnel nie (Heystek in Cameron 2019). Veral die Eskom-scenario is ’n ernstige bron van kommer aangesien dit ’n kernfaktor is ten opsigte van die versekering van volhoubare ekonomiese groei. Bogenoemde beteken dat die nasionale skuld van R3 triljoen tot R4,5 triljoen sal groei binne ’n periode van ongeveer drie jaar.

Heystek (in Cameron 2019) kom tot die gevolgtrekking dat: “South Africa’s fiscal situation is so dire that, unless something drastic is done in 100 days between the MTBT and the 2020 budget, SA will be downgraded [...] by Moody’s, cost of loans will go up and which will push down the already feeble growth rate even more […]”. Johnson (2019:1), in ondersteuning van bogenoemde, beskryf die verslegtende staatskuldprobleempatroon as: “South Africa’s slow-motion momentum towards a financial train crash (that) has begun to speed up.” Met ’n beperkte en oorbenutte belastingbasis is daar verdere rede tot kommer aangesien dit dui op ’n beperkte vermoë tot die handeling met onder meer toenemende staatskuld. Dit word selfs in die vooruitsig gestel dat Suid-Afrika teen 2023−4 ’n soewereine skuldkrisis kan bereik met ’n onvermoë om skuld terug te betaal (Parsons 2020:1). 

3.3 Beperkte en ontoereikende belastingbasis

In ’n studie van die Solidariteit Navorsingsinstituut het Paul Joubert in 2011−2 die volgende bevind ten opsigte van Suid-Afrika se belastingbasis: 3,3 miljoen mense betaal 99,9% van alle persoonlike belasting; 2,3 miljoen betaal 93%; terwyl net 1,5 miljoen mense verantwoordelik is vir die betaling van 84% van persoonlike belasting. (Vergelyk Joubert (2013) vir besonderhede oor hierdie belastingontleding.)

In die laaste byna ’n dekade het hierdie beperkte belastingbasis geensins vergroot nie, maar in belangrike opsigte (veral betreffende die bevolkingsgroei) selfs verder verklein. Persoonlike belasting vorm die grootste deel van die belastingbasis en beloop sowat 38,3% van die groottotaal. Die getal geregistreerde belastingbetalers staan tans op sowat 22 miljoen (die groot meerderheid betaal geen belasting nie) waarvan net sowat 5 miljoen se belasting tydens 2019 deur SARS behandel is. Ten spyte van hierdie klein aantal belastingbetalers wat persoonlike belasting betaal (soos gemeet ingevolge die algehele bevolking) wys Steenkamp (2019:3) daarop dat werklike belastingbetalers (onderskei van geregistreerde belastingbetalers) van 5 991 934 in 2013−4 tot 4 898 565 belastingbetalers in 2016−7 verminder het. Die belastingbasis het dus tussen 2014 en 2017 met sowat 18,2% verklein. Verder het die jaarlikse belastinglas per individu in dieselfde tydperk met 43,5% toegeneem van ’n gemiddeld van R45 702 tot R65 601 per belastingbetaler (Steenkamp 2019:3).

Wat verkoopbelasting betref, is die situasie anders en die basis is inklusief. Die persentasie inkomste hieruit is nietemin kleiner as die gedeelte afkomstig van persoonlike belasting. Toenemende werkloosheid veroorsaak verdere uitdagings rakende verkoopbelasting, wat voortgestu word deur die swak bestuur van die COVID-19-dinamika. Schüssler het onlangs bereken dat as gevolg van die COVID-19-pandemie (en die wyse waarop dit deur die regering bestuur word) die verwagte belastingtekort van R325 miljard kan toeneem tot tussen R710 en R800 miljard (in Anon. 2020). Dit is in enige opsig verreikend, baie moeilik bestuurbaar en ’n voorspel tot ’n scenario waar rente op staatskuld selfs groter as reële inkomste kan word.

Met ’n staat wat verder ambisieuse politieke/sosiale projekte aanpak waarvan die Nasionale Gesondheidsversekering ’n goeie voorbeeld is, en staatsondernemings wat toenemend afhanklik raak van die staat, is die belastingbasis totaal ontoereikend en sal selfs net die bestaande staatskuldlas (soos hierbo voorspel) ’n reuse-uitdaging stel. Verder moet daar in berekening gebring word dat die belastingbasis tans ook bedreig word deur wat soms in die media voorgehou word as ’n belastingopstand (waarna Helen Zille ook verwys het) wat insluit belastingvermyding (bv. die herstrukturering van belasting om minder uitgawes te verseker); aktiewe weerstand teen belasting (bv. die weerstand teen die e-tolstelsel); die migrasie van belastingbetalers na die buiteland; en die vlug van kapitaal as gevolg van ’n verskeidenheid redes (Steenkamp 2019:1–3).

Die uitkoms hiervan is ’n krimpende aantal belastingbetalers (’n belasting-elite) wat ’n steeds groter belastinglas moet dra, wat nie volhoubaar is betreffende bestaande finansiële verpligting nie – om nie eens te noem wat in die vooruitsig gestel word nie. Die probleem van ’n beperkte belastingbasis is moontlik selfs groter as die Eskom-krisis waarna vroeër verwys is. Die situasie word verder versleg deurdat ’n verdere verhoging van persoonlike en sommige ander belasting (ooreenkomstig die uitgangspunt van die Laffer-kurwe) nie verhoogde belastinginkomste sal meebring nie, aangesien die belastingdrempel reeds bereik is en nie suksesvol verder verhoog kan word nie. Dit was min of meer die uitkoms met die verhoogde verkoopbelasting wat in die vorige belastingjaar gehef is. Hierdie faktor is ’n reuse- strategiese bedreiging vir ’n falende staat, dienslewering en die vooruitsigte vir infrastrukturele ontwikkeling. 

3.4 Vlug van kapitaal 

Vlug van kapitaal verwys na die grootskaalse uitvloei van kapitale en finansiële bates as gevolg van politieke, ekonomiese en finansiële onstabiliteit. In die 18 maande tot en met die einde van 2017 het daar na berekening R350 miljard die land verlaat (Soobramoney 2017:1). Die redes hiervoor hou verband met die afwesigheid van finansiële leierskap en negatiewe politieke ideologie en beleid. Dit is veral die beleid van radikale ekonomiese transformasie (RET) wat hier as sondebok geïdentifiseer word. In samehang met bogenoemde bereken Heystek (in Cameron, 2019) dat sowat R500 miljard die Johannesburgse Effektebeurs oor die laaste vyf jaar verlaat het. Inderdaad wil dit voorkom of kapitaal besig is om uit Suid-Afrika te vlug vanweë ’n omgewing van ideologiese verstardheid, beleidsonsekerheid en swak ekonomiese omstandighede.

3.5 Deïndustrialisering

Die term deïndustrialisering verwys na die verwydering of vermindering van industriële vermoë in ’n streek of staat met spesifieke verwysing na swaar nywerhede en vervaardiging. In ’n bekende artikel wat wyd op sosiale media gepubliseer is, getiteld “Going backwards – the de-industrialization of the South African economy” verwys Anthony Turton (2019) na:

What shocks me is the rate of de-industrialization in SA [...] In two decades that world-class capacity has been lost and raw sewage now floods the basements of buildings [...] This speaks of the inability of a liberation movement to govern. This is a shocking truth that few want to admit. The army that just 25 years ago produced the most sophisticated artillery in the world and created an attack helicopter equal to the Apache, is now retreating from Emfuleni, unable to execute the mission given to it last year.

In dieselfde trant maak die gewese Adjunk-Direkteur-Generaal van Handel en Nywerheid, Garth Strachan (2017:1) die stelling: “[w]ith some exceptions, South Africa’s industrial policy is not working, leaving the nation to continue down its current path of de-industrialization...” Dit is ’n baie negatiewe vooruitsig vir die toekoms met verreikende implikasies vir ekonomiese groei (baie negatief) en geleenthede om werk te skep. Dit ondersteun die hipotese van hierdie artikel asook die slegte-saak-scenario as uitkoms. 

3.6 Posisie van die mynbou- en vervaardigingsektore

Gedurende 1980 het die vervaardigingsektor 27% tot die BBP van Suid-Afrika bygedra. Teen 2015 was dit net 15%. Ooreenkomstig algemene norme moes dit tans tussen 28% en 32% van die BBP gewees het en moes dit tussen 800 000 en 1,1 miljoen nuwe werksgeleenthede geskep het. In 2017 het hierdie sektor egter met ’n verdere 3,4% gekrimp (Van de Groenendaal 2017:1). Johnson (2015:146–74) beklemtoon die agteruitgang van die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die laaste dekades met verwysing na die mynbou-, vervaardiging- en landbousektore met as kenmerke lae groeikoerse, verlaagde investering en verhoogde werkloosheid. Twintig jaar gelede is Suid-Afrika beskryf as ’n staat met een van die mees indrukwekkende mynboubedrywe in die wêreld. Tans is dit heeltemal anders. Tydens 2012 het die Fraser Instituut se ontleding van die stand van sake wat mynbou in state betref, Suid-Afrika net 54ste uit 93 state geplaas en dit het in die daaropvolgende jaar tot die 64ste posisie verswak (Johnson 2015:155). 

3.7 Politieke implikasies vir die afgradering van die Suid-Afrikaanse ekonomie 

Beperkte ekonomiese groei versus hoë vlakke van gemobiliseerde verwagtinge (die sg. J-kurwe); groeiende staatskuld en die inploffing van semi-staatsinstellings; ’n onvermoë om grondwetlik-gewaarborgde dienste te lewer teen die agtergrond van ’n staat wat besig is om in te plof; ’n baie beperkte en selfs krimpende belastingbasis; die vlug van kapitaal; en die deïndustrialisering van sleutelsektore in samehang met die groter staatkundige omgewing beklemtoon allermins ’n gunstige vooruitsig. Plaas boonop bogenoemde omstandighede in die hande van politici wat populisties besluit en nie bereid is om ongewilde, maar noodsaaklike besluite te neem nie (vergelyk Eskom, SAL, ens.) en die vooruitsigte verswak selfs verder.

’n Verdere verswarende faktor (met die moontlikheid van groter chaos en onstabiliteit – aldus Kgalema Motlanthe – vergelyk Du Toit 2019) is die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding asook versnelde grondhervorming gerig op die bereiking van transformasieteikens. In samehang met die staatkundige omgewing lyk die polities-ekonomiese vooruitsigte allermins goed vir die jare wat voorlê. 

3.7.1 ANC-dinamika

Selfs binne demokratiese bedelings is die rol van elite-groepe ten opsigte van rigtinggewende besluite heelwat groter as dié van die massa. Wanneer ’n bedeling sentraliseer of meer diktatoriaal word, is dit selfs nog meer die geval. Wanneer die toekoms beoordeel en beskou word, is elite-besluitneming krities belangrik en dit maak die ANC-dinamika ’n kernfaktor op die pad vorentoe. Op ’n bepaalde wyse is die politieke toekoms van die ANC baie nou vervleg met die dinamika wat vorentoe in die land gaan uitspeel en moet daarom deeglik verreken word. Sake wat hier aangeraak word, sluit in ideologiese begronding; faksiegevegte; korrupsie en nepotisme; en die noodsaak vir hervorming.

3.7.2 Ideologiese begronding 

Met die idee van ’n nasionaal-demokratiese revolusie en die toepassing hiervan ingevolge transformasie en die totstandkoming van ’n nasionaal-demokratiese samelewing – met “Strategy and Tactics” as die handleiding – het die ANC ’n ideologiese verbintenis tot ’n 19de-eeuse Westerse ideologie ingebed in Marxisties-Leninistiese denke met ’n revolusionêre grondslag. Tans, ooreenkomstig dié ideologie, bevind ons onsself in die tweede fase van die revolusie waar die klem val op gelykheid en die gelyke verdeling van produksiefaktore (grond, kapitaal, arbeid en onderneming) ingevolge die transformatiewe norm van verteenwoordigendheid. (Vergelyk in hierdie verband Duvenhage 2005:1–40.) Vandaar die klem op onteiening sonder vergoeding; die gesondheidsversekeringsplan; en die beoogde nasionalisering van die Reserwebank, om net enkele resolusies te noem wat by die ANC se Nasionale Konferensie van 2017 aanvaar is. Hierdie uiters radikale beleid met ’n populistiese fokus is tans die rede vir groot debat en konflik binne die raamwerk van die party.

3.7.3 Faksiegevegte

Die opbou ná die 2017-konferensie van die ANC; die oorwinning van Ramaphosa; die aanvaarding van populistiese resolusies; en die klem op staatskaping en die implikasies daarvan vir politieke elite-groepe, is ’n omgewing waarin faksiegevegte die punt bereik het waar dit die ANC as organisasie bedreig. Nie net heers daar ernstige verdeeldheid tussen die ANC, COSATU en die SAKP nie, maar ook ten opsigte van lidorganisasies (ANCJL, ANCVL) en selfs die moederorganisasie.

Die omstrede wyse waarop Ramaphosa die presidentskap bekom het (die koop van stemme en veral die rol wat David Mabuza in hierdie verband gespeel het) was verdere olie op bestaande vure van verdeeldheid, ook omdat dit groot risiko’s vir Zuma-lojaliste binne die raamwerk van staatskaping inhou (Johnson 2019; Lagardien 2020). Verdeeldheid binne die moederorganisasie sou op ’n spits gedryf word met die Algemene Raadsvergadering van die ANC wat vir Junie/Julie 2020 geskeduleer was. Met die COVID-19-inperking het hierdie vergadering verval, maar daar is aanduidings dat die binnegevegte toeneem en selfs heftiger raak. (Vergelyk Lagardien (2020) vir besonderhede oor die binnegevegte in die ANC en selfs die moontlike herroeping van Ramaphosa as president van die land.) Die ondersoek van die Zondo-kommissie en getuienis wat in hierdie verband gelewer word, dui daarop dat leiersfigure soos Jacob Zuma, Nkosazana Dlamini-Zuma, Supra Mahumapelo en ander wat reeds as staatskapers geïdentifiseer is, aan die pen kan ry. Dit hang saam met tendense van uitgebreide en endemiese korrupsie wat tans na vore kom en waaroor binne die raamwerk van die Zondo-kommissie verslag gedoen word.

3.7.4 Korrupsie en nepotisme

Die endemiese aard van korrupsie het vlakke bereik waar die begrip staatskaping algemeen gebruik word. Wesenlik beteken dit ’n vorm van endemiese korrupsie waar private belange georganiseerd en ook polities bevorder word deur die formulering en beïnvloeding van wette (meer as die selektiewe toepassing van wette) sodat algemene belang ondergeskik gestel word aan private belange. Begrippe soos “institutional looting”; “the criminalization of the South African state” (Johnson 2015:49; 57; 237–46); en “the criminalization of the party as a whole” (Myburg 2019:ix–xiii) word gebruik om die situasie te beskryf wat tydens die Zuma-termyn tot wasdom gekom het. Die omvang van die korrupsie is van so ’n aard dat ’n finale syfer van die skade waarskynlik nooit bepaal sal kan word nie. In politieke en mediakringe word ’n bedrag van sowat R500 miljard as beraamde hoeveelheid genoem.

Hoewel die Ramaphosa-regering sukses behaal het met byvoorbeeld die “ontkaping van die Nasionale Vervolgingsgesag” en beter aanstellings in strategiese bestuursposisies, is die vlak van endemiese korrupsie so hoog en word soveel senior lede van die ANC betrek dat dit polities gesproke moeilik bestuurbaar geraak het. Die probleem is dat Ramaphosa ernstige weerstand van binne sy party (lees Zuma, Magashule, Mahumapelo) ervaar en nie altyd besluite kan deurvoer nie. Vergelyk Lagardien (2020) en Johnson (2019) vir die aard van konflik en binnegevegte in die ANC-familie. Verder word Ramaphosa self ook by korrupsie betrek (BBBEE-projekte, stemkopery, BOSASA, en sake wat sy familie/seun betrek). Hy word ook as voormalige adjunkpresident gesamentlik verantwoordelik gehou vir sake wat nou as staatskaping ondersoek word. Ramaphosa-lojaliste soos Mboweni en Gordhan verval ook in onguns en word ook toenemend polities gemarginaliseer. Bostaande kwessies verswak Ramaphosa se posisie om daadwerklik teen korrupsie op te tree en beperk sy vermoë om noodsaaklike ekonomiese en politieke hervormings in te stel. (Vergelyk Johnson 2020 se ontleding van Ramaphosa as ’n middelmatige president en sy uitdagings in hierdie verband.)

3.8 Noodsaak vir hervorming

In sekere opsigte vergelykbaar, maar net so ingewikkeld as in die vroeë 1990’s, bevind Suid-Afrika hom in ’n situasie waar strukturele hervorming op talle terreine van die staat en groter samelewing dringend noodsaaklik is. Hierdie hervorming is noodsaaklik ten opsigte van:

  • Die party en sy uitgediende revolusionêre oortuigings, insluitend die ideologie van transformasie.
  • Die staatsektor ten opsigte van onderwys, gesondheid, infrastruktuur, die strafregstelsel, die intelligensiedienste, provinsiale en plaaslike regering en maatskaplike dienste.
  • Veiligheid en sekerheid waarbinne die veiligheid van burgers beskerm word en behoorlike grensbeheer toegepas word.
  • Deregulering van die ekonomie en die arbeidsomgewing ten einde investering, groei en ontwikkeling te verseker.
  • ’n Verbreding van die belastingbasis om bronne te ontsluit wat noodsaaklik is vir groei en ontwikkeling.
  • Maatreëls asook regstoepassing om korrupsie, nepotisme en staatskaping suksesvol teen te staan.

Bogenoemde is alleen moontlik as die president, sy binnekring en sommige onder die groter politieke elite (lees ANC en die regime) oor die nodige leierskap beskik. Dit kan geplaas word binne die raamwerk van stelseltransformasie, met die herstrukturering van ’n falende stelsel as uitgangspunt. Die hoop dat Ramaphosa die persoon is wat ons na die “nuwe dagbreek” gaan lei, vervaag egter daagliks teen die agtergrond van ’n onvermoë van die president om moeilike besluite te neem (SAA, Eskom en ander staatsinstellings se finansiële situasies; ’n gebrek aan steun van binne sy eie party as gevolg van onder meer faksiegevegte (die onvermoë om ’n kabinet na wense saam te stel; botsende standpunte tussen die presidensie en Luthuli-huis); die gebrek aan politieke beweegruimte binne die ideologiese raamwerk van die party (grondhervorming en die wysiging van artikel 25 van die Grondwet); en die resolusies soos by die 2017-Nasionale Konferensie aanvaar, byvoorbeeld versnelde grondhervorming; ’n nuwe rol vir die Reserwebank; en ’n benadering ten gunste van armoede. Verskille is veral geleë in leierskapkonflikte wat onder meer met staatskapingsondersoeke verband hou, asook uiteenlopende vertolkings van die sentrale ideologiese raamwerk van die ANC, soos veranker in die idee van ’n nasionale demokratiese revolusie (NDR).

’n Uitgediende ideologiese raamwerk (die NDR), gebrekkige steun vir die party tydens onlangse verkiesings, asook leierskapuitdagings (Ramaphosa se afwesige leierskap, Mabuza se siekte en Zuma en Magashule se verbintenis tot staatskaping en waarby talle senior ANC-lede en kaders betrek word) is van die uitdagings waarmee die party/regering tans te kampe het. Endemiese korrupsie binne die party en regime veroorsaak ’n situasie waarbinne kragdadige besluite op staatkundige, politieke en partyvlakke geneem moet word; herstrukturering moet waarskynlik ook binne hierdie strukture plaasvind. Plaaslike regering, semistaatsinstellings en waarskynlik ook die ANC as struktuur, moet hervorm word of andersoortig bestuur word om politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings daadwerklik die hoof te bied. Dit raak toenemend duidelik dat Ramaphosa nie die man is om die spreekwoordelike “volk” die “beloofde land” in te lei nie. Sy leierskap en bestuur van die land kom toenemend onder skoot, nie net van opposisiepartye nie, maar ook vanuit eie geledere. Lagardien (2020) verwys selfs na ’n moontlike scenario waarin die radikale-transformasie-faksie van die ANC beheer neem, nuwe leierskap identifiseer en ’n radikale politieke agenda bevorder in ’n omgewing waar Ramaphosa, Gordhan en Tito Mboweni as leiers verwyder kan word.

 

4. Sosiale aanduiders en faktore

Dit is korrek dat die stand van die staat, politiek en ekonomie grootliks ’n weerspieëling is van omstandighede binne die groter samelewing. Suid-Afrika is ’n uiterlik diepverdeelde samelewing met ’n geskiedenis van konflik en geweld wat oor eeue heen strek. Hierdie verdeeldheid het te make met ras, kultuur, klas en ook gender. Enkele belangrike kenmerke van die Suid-Afrikaanse samelewing word kortliks uiteengesit. 

4.1 Gewelddadige aard van die Suid-Afrikaanse samelewing

Sedert die prekoloniale en koloniale tye is Suid-Afrika deur konflik en geweld gekenmerk. Dit word weerspieël in die “Mfecane”; die talle oorloë op die Oosgrens asook die Lesotho-grense; die Anglo-Zoeloe-oorloë; Bloedrivier en ander gebeure; die Anglo-Boereoorlog; die tyd van apartheid; die slagvelde van KZN in die 1980’s; en patrone van geweld na 1994. Daar word bereken dat bykans ’n halfmiljoen mense sedert 1994 vermoor is – gelykstaande aan alle mense wat in Midde-Oosterse oorloë gedood is sedert die middel-1990’s (Cronje 2017:58). Die voorkoms van geweld na 1994 neem verskeie vorme van rasse-, kultuur-, klasse-, gender- en xenofobiese geweld aan. Veral laasgenoemde is deesdae aan die toeneem, met buitelanders wat op ’n gereelde basis geteiken word. Eskalerende politieke konflikte en patrone van geweld, soms buite die beheer van die staat en veiligheidsinstellings, beklemtoon die verval van die staat in terme van sy kernfunksie naamlik die handhawing van wet en orde asook die sekuriteit van burgers. Hierdie tendens beklemtoon die sentrale hipotese van hierdie ondersoek en die groterwordende moontlikheid van die slegte-saak-scenario.

4.2 Verval van ’n maatskaplike orde 

Die geskiedenis van apartheid en kolonialisme, die kragte van modernisasie en verstedeliking en sosio-ekonomiese omstandighede soos werkloosheid, armoede en ’n kultuur van geweld is verantwoordelik vir ’n uiters wanfunksionele maatskaplike orde. Sowat 55,5% van die bevolking (bykans 30 miljoen) lewe onder die beraamde armoedelyn van R992 per maand en hierdie getal is besig om toe te neem (Gous 2018:2). Suid-Afrika word geklassifiseer as een van die samelewings met die grootste gaping tussen ryk en arm ter wêreld, waar die top 1% burgers 70,9% van die rykdom besit en die onderste 60% sowat 7% (Gous 2018:2). Van die 19 miljoen kinders in Suid-Afrika lewe 6,5 miljoen sonder enige ouers en sowat 7,5 miljoen met enkelouers (vergelyk Cronje 2017:39–61, vir ’n volledige uiteensetting van patrone van sosiale en maatskaplike verval in Suid-Afrika, of wat hy noem die “breakdown of South African family life”). Plaas bogenoemde in ’n omgewing van beperkte ekonomiese groei, hoë werkloosheidsvlakke, wanfunksionele skole, behuisingsnood en swak dienslewering op veral plaaslike vlak, dan vorm dit ’n resep vir sosiale onstabiliteit, konflik en verval. Dit verskaf ook ’n volhoubare grondslag vir misdaad en die florering van misdaadsindikate en bendes. Dit is gevolglik nie verbasend nie dat Suid-Afrika as een van die gevaarlikste plekke ter wêreld beskou word. Die aanwesigheid van ’n stabiele sosiale grondslag (lees samelewing) is die fondasie van ’n stabiele staat en ontwikkeling wat hiermee geassosieer word. Hiersonder word politieke onstabiliteit en ’n slegte-saak-scenario ’n gegewe werklikheid. 

4.3 Praetoriaanse samelewingstoestande

Die begrip praetoriaan is afgelei van die Latynse woord praetor, en verwys na lyfwag en beskermheer binne ’n onstabiele politieke omgewing. Dit word ook in verband gebring met die tussentrede van militêre instellings op die terrein van die politiek (Perlmutter 1966:306). Huntington (1968:72–92; 192–4) beaam hierdie vertrekpunt, maar gebruik ook die term “praetorian society” om na ’n onstabiele samelewing te verwys, die teenoorgestelde van wat as ’n burgerlike samelewing beskryf word. Dit dui op ’n eiesoortige praetoriaanse politiek waarin die veiligheidsinstellings verskillende rolle kan speel, soms eiesoortig binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse verswakkende staat. Met die oog op hierdie ondersoek word na die samelewingskonteks (“praetorian society”) verwys, en nie soseer na die vorme van militêre tussentrede wat dikwels hiermee geassosieer kan word nie, en wat ook as sodanig verskeie vorme en patrone kan aanneem (vergelyk Huntington 1968:198–237). Huntington (1965:416) beskryf ’n praetoriaanse samelewing as een:

[...] which lacks law, authority, cohesion, and discipline and consensus, where private interests dominate public ones, where there is an absence of civic obligation and civic duty, where in short political institutions are weak and social forces strong.

Bogenoemde is myns insiens ’n akkurate beskrywing van die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit beklemtoon die onstabiele en onveilige aard van die Suid-Afrikaanse samelewing in die huidige tydperk en verklaar waarom daar in 2015 altesame 150 952 polisiebeamptes was, maar sowat 451 656 privaatveiligheidsbeamptes – ongeveer drie maal meer as dié in amptelike hoedanigheid (Cronje 2017:60).

So onveilig raak toestande in die Suid-Afrikaanse samelewing dat dit in bepaalde opsigte herinner aan die Middeleeue, toe daar mure rondom stede gebou is om ongewenste en misdadige elemente buite te hou. Selfs die argitektuur van geboue en die beplanning van woongebiede in Suid-Afrika weerspieël deesdae die steeds verslegtende veiligheidsituasie in die land. Die verswakkende staat en die skynbare onvermoë van veiligheidsinstellings om veiligheid en sekuriteit te waarborg, is tans van die grootste uitdagings waarmee die burgery te make het. 

Uitgaande van die vertrekpunt dat die Suid-Afrikaanse samelewing praetoriaans van aard is, met reusagtige sosiaal-maatskaplike uitdagings asook ’n kultuur van geweld wat ’n grondslag daarstel vir politieke en institusionele verval, raak die burgery toenemend daarop aangewese om vir hulle eie veiligheid te beplan en voorsiening te maak – anders as volgens die meer tradisionele praetoriaanse vertrekpunt. Veiligheid word nou ’n vorm van selfbestuur en gemeenskappe neem toenemend self verantwoordelikheid hiervoor. 

Tot ’n groot mate is enersyds politieke stabiliteit en demokratiese waardes en andersyds volhoubare ekonomiese ontwikkeling afhanklik van sosiale stabiliteit en bestendigheid – juis dit wat tans grootliks afwesig is. Met die voorafgaande rekonstruksie as agtergrond en vertrekpunt, wat is die toekomsverwagting ten opsigte van die uitspeel van hierdie kombinasie van veranderlikes, voorgestel as scenario’s?

 

5. Scenario-perspektiewe vir Suid-Afrika 

Perspektiewe vanuit die onderskeie omgewings kan soos volg voorgestel word:

Klik op die figuur vir ’n groter weergawe.

Figuur 1. Scenario-perspektiewe 

Met bogenoemde as verwysing kan met reg gevra word wat die uitkomste gaan wees soos gelees ooreenkomstig ’n scenario, ingevolge ’n klassieke teenstelling tussen ’n beste-saak-scenario en ’n slegte-saak-scenario. Hierdie twee pole word behandel, gevolg deur ’n evaluering.

5.1 Beste-saak-scenario: Die herstel van grondwetlike demokrasie

5.1.1 Kernbeskouing

Hierdie scenario veronderstel dat, deur bewustelike politieke optrede en handeling, die slaggate onderweg na ’n kantelpunt vermy kan word en dat hervormings ingestel kan word wat die grondwetlike demokrasie en sy funksionerende strukture in ere kan herstel; ekonomiese groei en ontwikkeling kan verseker; en sosiale samehang kan bevorder. Volgens die teoretiese raamwerk maak dit aanspraak op die verband van stelseltransformasie. Sterk optrede teen korrupsie word as uitgangspunt geneem. 

5.1.2 Veronderstelling 

  1. ’n Klassieke hervormingsituasie bestaan waarin ’n politieke elite die leierskap en wil het om daadwerklike veranderinge aan te bring met teenstanders aan beide die linker- en regterkant van die politieke spektrum.
  2. ’n Omkeerstrategie moet gevolg word waarin uitgebreide hervormings toegepas word op die terreine van die politiek, ekonomie, asook die maatskaplike orde (stelseltransformasie).
  3. Die herstel van staatsinstellings waarby grensbeheer, hoofstuk 9-instellings, die strafregstelsel, provinsiale en plaaslike regering ingesluit word.
  4. Daadwerklike maatreëls om endemiese korrupsie, nepotisme en vorme van staatskaping teë te werk deur doeltreffende regsprosesse in werking te stel.
  5. Die daadwerklike hervorming van die ANC van ’n bevrydingsbeweging met ’n revolusionêre inslag na ’n politieke party met ’n verbintenis tot die grondwet en staatkundige orde.
  6. Die uitskakeling van botsende ekonomiese beleid en wetgewing; die beskerming van die privaat besit van produksiefaktore; ekonomiese stabiliteit en die vestiging van ’n investeringsvriendelike omgewing.
  7. Die opbou van ekonomiese bande met kernvennote wat bereid is om in die Suid-Afrikaanse ekonomie te belê.
  8. ’n Sosiale projek moet geloods word om nasionale integrasie en eenheid binne die raamwerk van diversiteit te bevorder. 

Daar is geen twyfel nie dat dit uiters moeilik gaan wees om bostaande te verwesenlik. Die voorafgaande makro-ontleding beklemtoon die uitdagings wat ten opsigte van die uitvoer van hierdie scenario bestaan. Die ander uiterste van die spektrum kan as institusionele en politieke (lees staatkundige) verval beskryf word. 

5.2 Die slegte-saak-scenario: Staatkundige verval

5.2.1 Kernbeskouing

’n Kombinasie van politieke, ekonomiese en sosiale faktore skep ’n omgewing van toenemende konflik, geweld en onstabiliteit. Institusionele verval op alle terreine van die groter samelewing bereik ’n punt waar die staat as staat se vermoë om waardes en skaars middele gesaghebbend toe te wys, in twyfel getrek word en selfs in uiterste geval kan lei tot ’n verdeelde soewereiniteit. Die grondwet as die gesaghebbende dokument vir die toewysing van waardes en skaars middele word bevraagteken en selfs verwerp.

5.2.2 Veronderstellings 

  1. Bestaande patrone van politieke onstabiliteit vererger as gevolg van die interne konflik binne die ANC; die vervolging van staatskapers; magsverliese ten opsigte van die plaaslike verkiesing van 2021; asook toenemende patrone van geweld wat verband hou met verskeie sake waaronder dienslewering, xenofobie, arbeidsgeskille en ander punte van potensiële konflik en geweld.
  2. Beleidsonsekerheid, ingesluit die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet; die inploffing van semi-staatsinstellings soos Eskom; en die verval van wet en orde asook infrastruktuur dra by tot verslegtende ekonomiese groei en ’n onvermoë om aan toenemende verwagtinge te voldoen. Oorregulering enersyds en nietoepassing van wetgewing andersyds benadeel die vervaardigingsektor asook die mynboubedryf. Deïndustrialisering is aan die orde van die dag.
  3. ’n Verslegtende ekonomie asook die vlug van kapitaal en kundigheid dra by tot ’n verkleinde belastingbasis en ’n onvermoë om selfs bestaande verpligtinge na te kom (ongewone projekte soos Nasionale Gesondheidsversekering ens. is nie ter sprake nie). Die moontlike uitwerking van ’n wysiging aan artikel 25 van die Grondwet kan verreikende gevolge hê, vir enersyds investering, maar andersyds ook toenemende disinvestering.
  4. Die wysiging van artikel 25 van die Grondwet lei tot grond- en eiendomsbesettings en toenemende patrone van politieke onstabiliteit met die potensiaal om op ’n rassebasis te kan toeneem. Dit word ’n kwessie van “bloed en bodem”.
  5. Sosiale en sosio-ekonomiese omstandighede waaronder enersyds armoede, werkloosheid, swak dienslewering en andersyds hoë politieke verwagtinge, dra tot verdere onstabiliteit by en is ook ondersteunend en aanvullend tot konflik hierbo genoem.
  6. Verslegtende ekonomiese omstandighede en onsekerheid oor grondeienaarskap dra by tot gebrekkige voedselsekerheid, en onstabiliteit wat ooreenstem met die Arabiese Lente kan hieruit ontwikkel.
  7. Radikale en populistiese politiek is aan die orde van die dag en skep verdere spanning op die skeidslyne van die groter samelewing.
  8. Die swakstaat-tendens gaan voort tot by die punt van ’n gevalle staat (“failed state”) met geografiese gebiede waaroor die staat nie meer beheer het nie. Die militarisering van hierdie gebiede dra by tot ’n situasie waar krygshere die toon aangee en die soewereiniteit van die staat verbrokkel. (Dit is reeds die geval ten opsigte van die onwettige mynbedrywighede van die Zama Zamas, tradisionele leierskap ens.)

Daar kan geen twyfel wees dat die slegte-saak-scenario reeds teenwoordig is nie; die vraag is nie soseer of dit hier is nie, maar eerder of dit nog omkeerbaar is.

5.3 Suid-Afrika – ’n slegte-saak scenario

Die voorafgaande ontleding beklemtoon dat ’n kombinasie van faktore Suid-Afrika reeds verby ’n kantelpunt geneem het. Die COVID-19-dinamika het verswarend ingewerk op die veranderlikes en was bydraend om Suid-Afrika verby die kantelpunt en binne ’n slegte scenario te definieer. Die faktore (in onderlinge samehang) het betrekking op die politieke, ekonomiese en sosiale omgewings en toepaslike geïdentifiseerde veranderlikes soos gemeet aan teoretiese vereistes. Dit kan soos volg gemotiveer word:

  1. Nie-liniariteit ingevolge insette en uitsette is duidelik betreffende enersyds hoë verwagtinge en andersyds soms ’n totale onvermoë om hieraan (uitsette) te voldoen. Diensleweringsuitdagings op plaaslike regeringsvlak wat dikwels omskakel in gewelddadige protes is ’n sprekende voorbeeld hiervan – ’n patroon wat besig is om toe te neem.
  2. Onsekerheid en onvoorspelbaarheid (in samehang met die gebrek aan vertroue) het deel geword van elke Suid-Afrikaner se leefwyse. Onsekerheid ten opsigte van die voorsiening van krag en water; onveiligheid en gebrekkige sekerheid op bykans alle terreine van die samelewing; ’n tekort aan noodsaaklike middele en dienste; ontoereikende gesondheidsorg; beperkte toegang tot hoëgehalteskole en universiteite; en die nypende tekort aan werksgeleenthede soos blyk uit hoë werkloosheidsyfers is enkele voorbeelde hiervan.
  3. Die bedeling raak ook in sekere opsigte meer “selfversorgend” namate die burgery hulself organiseer om self dienste te lewer wat die staat nie kan of wil nie. Die sowat 9 000 privaat veiligheidsmaatskappye is voorbeelde in hierdie opsig, soos ook privaat skole, universiteite, die herstel van infrastruktuur deur inwoners en die selfvoorsiening van water en elektrisiteit. Met die tendens van ’n verswakkende staat wat steeds verder verswak, raak die moontlikheid al groter vir die vorming van parallelle staatstrukture, met verreikende implikasies vir die Suid-Afrikaanse staat as staat. Die grondslag vir die tot niet gaan van die Suid-Afrikaanse staat as ’n eenheidstaat raak oor die langer termyn ter sprake.
  4. Die aard van ingewikkelde stelsels hou in dat hulle noodwendig aanpasbaar moet wees. Hierdie aanpasbaarheid word die beste aangedui deur die ontwikkeling en vestiging van parallelle strukture, byvoorbeeld ten opsigte van veiligheid, dienslewering en privatisering binne Suid-Afrikaanse verband. Dit maak die moontlikheid van oorlewing van die stelsel en sy veerkragtigheid beter, maar kan ook stelselverbrokkeling in die hand werk. Dit is reeds besig om in Suid-Afrika te gebeur. Tot die mate wat stelsel-entropie aan stelselverval beslag gee en vorme van enklawe-politiek (’n vorm van selfbeskikking) in die hand werk, kan dit uiteindelik tot vorme van beëindiging van ’n stelsel lei. Soos Johnson (2015:242) dit stel: “[...] South Africa under the ANC is fast slipping backward and that even the survival of South Africa as a unitary state cannot be taken for granted.” Oor die langer termyn raak dit beslis ’n moontlikheid. Die poging van groepe om die Wes-Kaap van ander dele van Suid-Afrika af te skei, is ’n voorbeeld in hierdie verband.
  5. Suid-Afrika as ’n ingewikkelde stelsel is ook uiters sensitief oor sy geskiedenis en ’n groot deel van die huidige beleidsraamwerk is ingestel op ’n reaksie teen die apartheids- en koloniale beleid van die verlede. Juis hierin is die krisis van die stelsel geleë aangesien onwerkbare politieke beleid in alle opsigte (en ten alle koste) uitgevoer moet word al beteken dit die vernietiging van die ekonomie, die vlug van kapitaal en uitkomste soos lae ekonomiese groei, armoede, die vlug van kundigheid, werkloosheid en lae lewensverwagting. Die nastreef van die politieke koninkryk is so allesoorheersend dat die vernietiging wat hiermee gepaard gaan doodgeswyg word, soos in Zimbabwe, waar die rampspoedige grondhervormingsinisiatiewe daartoe bygedra het dat sewe miljoen mense vandag aan hongersnood blootgestel word, maar Mugabe word ongeag hiervan steeds as ’n held vereer. Die wysiging van artikel 25 van die Grondwet van Suid-Afrika is ’n belangrike waarskuwingsteken in hierdie opsig.

Suid-Afrika (as ingewikkelde stelsel) is ongetwyfeld vasgevang in ’n fase van fyn dinamiese balans, en onsekerheid en onvoorspelbaarheid is kenmerkend van die huidige situasie. Myns insiens, met bogenoemde argumente en verifiëring as grondslag en aangehelp deur die COVID-19-dinamika, het Suid-Afrika reeds ’n kantelpunt bereik en is ’n nuwe politieke normaal ’n werklikheid. Tans is ons besig om aan hierdie nuwe normaal vorm en inhoud te gee. Hierdie dinamika kan in uiterste vorm lei tot wat Parsons (1951:458) die verandering van stelsels as stelsels noem. Met uitgebreide vorme van stelsel-entropie, ’n verswakkende staat en in sommige opsigte die dinamika wat kenmerkend is van chaotiese stelsels, staan Suid-Afrika aan die einde van ’n era. Die kantelpunt is reeds bereik en die toekoms is tans onseker. Oor die langer termyn is selfs die Suid-Afrikaanse staat (nie net die grondwetlike demokrasie nie) in sy huidige formaat nie seker van sy voortbestaan nie en is die woorde van Johnson (2015:246) van toepassing: “So, somewhere out ahead of us lies a regime change towards a form of governance which is closer to South Africa’s underlying social realities.

 

6. Evaluerende perspektiewe 

Die bedeling wat sedert 1994 histories tot stand gekom het, staan by ’n kantelpunt wat nie omkeerbaar is nie. Selfs met leierskap wat hervormingsgesind is, is die kragte te groot en omvangryk om te stabiliseer. Die stelsel is so sensitief gebalanseer dat selfs kleiner kragte of snellers die groter orde fundamenteel kan verander en binne die verband van chaotiese stelsels ’n bykans “skoenlapper-effek” kan veroorsaak. Snellers vir versnelde onstabiliteit sluit in:

  • Verslegtende ekonomiesegroeivooruitsigte, verhoogde werkloosheid en verlaagde lewenstandaarde en armoede. (Die Arabiese Lente dien as waarskynlike voorbeeld van ’n moontlike uitkoms.)
  • ’n Inploffing van die strafregstelsel, ’n toename in korrupsie en praktyke van staatskaping asook die verlies aan vermoë en dienslewering (wat hieruit voortspruit) kan lei tot toenemende geweld, verset en vigilante-optredes.
  • Populistiese denke en leierskap tesame met ’n onvermoë om moeilike en noodsaaklike besluite in algemene belang te neem. Dit beteken die situasie versleg totdat dit onomkeerbaar raak.
  • Die verswakkendestaattendens wat tot groter selfstandigheid (enklawe-politiek) kan lei, maar ook kan bydra tot verdere konflik en geweld, is ’n dinamika met verreikende uitkomste.
  • Die wysiging van artikel 25 wat daartoe lei dat burgers (soms polities gemobiliseer – lees EFF en BLF) die reg in eie hande neem met konflik, geweld en selfs in die uiterste vorm burgeroorlog as uitkoms.
  • Rasse- en identiteitspolitiek wat tot konflik en geweld kan lei.
  • Die COVID-19-dinamika, veral die onbeholpe wyse waarop die regering dit hanteer, bevestig die bereiking van die kantelpunt en die einde van ’n politieke era. 

Die toekoms is tans baie onseker en onvoorspelbaar, met winde van verandering wat waai oor ’n “wye en droewe land” (N.P. Van Wyk Louw). Met ’n kantelpunt wat reeds bereik is, is my bevinding in hierdie artikel dat die slegte-saak-scenario tans die waarskynlikste is. Dit is vanuit die argumentasie en bewysgronde duidelik dat die kantelpunt reeds bereik is en dat die argitekte van nuuts af sal moet dink. Tekens van ’n politieke gesprek oor die toekoms begin in kringe reeds pos te vat met instellings soos die Mbeki-stigting, die F.W. de Klerk-stigting, die Helen Suzman Foundation, Solidariteit en die Afrikanerbond wat reeds in hierdie rigting dink en/of werk. Hopelik kan ons leer uit die lesse van die verlede en ’n beter toekoms daarop bou. Die alternatief sal ons hopelik gespaar bly.

 

Bibliografie

Anon. 2019a. South Africa is one of the least safe countries in the world. Businesstech, 24 November. https://businesstech.co.za/news/lifestyle/355519/south-africa-is-one-of-the-least-safe-countries-in-the-world (29 Junie 2020 geraadpleeg).

—. 2019b. These 3 graphs show who’s paying South Africa’s income tax. Businesstech, 24 Desember. https://businesstech.co.za/news/finance/363120/these-3-graphs-show-whos-paying-south-africas-income-tax (29 Junie 2020 geraadpleeg).

—. 2020. South Africa is in deep financial trouble. My Broadband, 10 Augustus. https://mybroadband.co.za/news/business/363364-south-africa-is-in-deep-financial-trouble.html (12 Augustus 2020 geraadpleeg).

Brink, F. 2019. Ekonomiese groei uiters kommerwekkend. Nuusvrystelling/Onafhanklike ekonoom. 3 Desember, Bothaville. In artikelskrywer se persoonlike argief.

Cameron, J. 2019. Magnus Heystek: RSA Titanic is in groot k#k – don’t let those patriotic swimsuits fool you. BizNews, 18 November. https://www.biznews.com/wealth-building/2019/11/18/magnus-heystek-rsa-titanic-groot-kak (29 Junie 2020 geraadpleeg)

Complex system. s.j. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Complex_system (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Cronje, F. 2017. A Time Traveller’s Guide to South Africa in 2030. Kaapstad: Tafelberg.

De Lange, R. 2020. Ekonomie kan met 7,3% krimp. SakeRapport, 26 Junie, bl. 11. 

Du Toit, P. 2019. Land reform: Motlanthe warns of “anarchy and chaos” if property rights aren’t protected. News 24, 11 Julie. https://www.news24.com/news24/southafrica/news/land-reform-former-president-kgalema-motlanthe-warns-of-anarchy-and-chaos-if-property-rights-arent-protected-20190711 (26 Augustus 2020 geraadpleeg). 

Duvenhage, A. 1998. Die krisis van die nasiestaat. Acta Academica, 31(3):1–35.

—. 2003. Politieke verval as ’n patroon van politieke verandering: ’n Teoreties verkennende perspektief. Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 28(3):44–71. 

—. 2005. Politieke transformasie – ’n konseptuele oriëntering en Suid-Afrikaanse toepassing. Acta Academica, 37(3):1–40.

—. 2007. Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing: ’n Strategiese ontleding en scenario-analise. Professorale intreerede, NWU (Potchefstroom). 

Easton, D. 1965. A systems analysis of political life. New York: John Wiley & Sons.

Eisenberg, G. 2019. Is it time for a blanket amnesty for illegal foreigners living in SA? Daily Maverick, 28 Augustus. https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2019-08-28-is-it-time-for-a-blanket-amnesty-for-illegal-foreigners-living-in-south-africa/#gsc.tab=0 (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Finkle, J.L. en R.W. Gable (reds.). 1966. Political development and social change. New York: Wiley. 

Geldenhuys, D. 1999. Staatsverval. Politeia, 18(2):37–56. 

Gladwell, M. 2000. The tipping point: How little things can make a big difference. New York: Little Brown. 

Global Peace Index. 2018. https://reliefweb.int/sites/reliefweb.int/files/resources/Global-Peace-Index-2018-2.pdf (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Gous, N. 2018. SA most unequal country in the world: Poverty shows apartheid’s enduring legacy. Times Live, 4 April. https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2018-04-04-poverty-shows-how-apartheid-legacy-endures-in-south-africa (29 Junie 2020 geraadpleeg).

—. 2019. Service delivery protests are on the rise this year, warn experts. Times Live, 11 Junie. https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2019-06-11-service-delivery-protests-are-on-the-rise-this-year-warn-experts (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Granovetter, M. 1978. Threshold models of collective behavior. American Journal of Sociology, 84(6):1420–43.

Grodzinz, M. 1957. Metropolitan segregations. Scientific American, 197:33–47.

Heleta, S. 2018. How many immigrants live in South Africa. https://africasacountry.com/2018/10/how-many-immigrants-live-in-south-africa (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Huntington, S.P. 1965. Political development and political decay. World Politics, 17(2):386–430. 

—. 1968. Political order in changing societies. Londen: Yale University Press.

—. 1991.The third wave: Democratization in the late 20th century. Londen: University of Oklahoma Press.

Jamine, A. 2020. Assessment of supplementing budget. Potchefstroom: NWU Business School Think Tank, 25 Junie. PowerPoint-aanbieding.

Johnson, R.W. 2015. How long will South Africa survive? The looming crisis. Kaapstad: Jonathan Ball.

—. 2019. Our coming train crash. Politicsweb, 1 Augustus. https://www.politicsweb.co.za/opinion/our-coming-train-crash (29 Junie 2020 geraadpleeg).

—. 2020. Cyril Ramaphosa: ’n middelmatige man. Rapport, 23 Augustus, bl. 7.

Joubert, P. 2013. How many taxpayers are there in really (2013)? Pretoria: Solidarity Research Institute. 

Joubert, P. en P. le Roux. 2014. 100 years of income taxing SA – SRI. Politicsweb, 24 Februarie. https://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/100-years-of-income-tax-in-sa--sri?sn=Marketingweb+detail (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Katzenellenbogen, J. 2020. How close are we to economic collapse? South African Institute of Race Relations. 17 Augustus. https://irr.org.za/media/how-close-are-we-to-economic-collapse-agri-news-net (26 Augustus 2020 geraadpleeg). 

Kekana, M. 2019. Financial state of municipalities has worsened – Auditor-General. Mail & Guardian, 26 Junie. https://mg.co.za/article/2019-06-26-financial-state-of-municipalities-has-worsened-ag (29 Junie 2020 geraadpleeg). 

Krige, N. 2019. Bheki Cele has the private security industry in his sights. The South African, 20 Junie. https://www.thesouthafrican.com/news/bheki-cele-has-the-private-security-industry-in-his-sights (29 Junie 2020 geraadpleeg). 

Lagardien, I. 2020. With history as guide, it’s not hard to imagine Ramaphosa being recalled. Opinionista. Daily Maverick, 12 Augustus. https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2020-08-12-with-history-as-guide-its-not-hard-to-imagine-ramaphosa-being-recalled (24 Augustus 2020 geraadpleeg).

Migdal, J.S. 1988. Strong societies and weak states: State-society relations and state capabilities in the third world. Princeton: Princeton University Press.

Myburg, P-L. 2019. Gangster state – Unravelling Ace Magashule’s web of capture. Kaapstad: Penguin.

Odendaal, N. 2017. South Africa on path of deindustrialization. Creamer Media’s Engineering News, 5 Oktober. https://www.engineeringnews.co.za/article/south-africa-continues-on-path-of-deindustrialisation-2017-10-05/rep_id:4136 (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Parsons, R. 2020. Note of comment – immediate release. Potchefstroom. NWU: Business School.

Parsons, T. 1951. The social system. Londen: Routledge.

Perlmutter, A. 1966. The praetorian state and the praetorian army: Towards a taxonomy of civil-military relations in developing politics. In Finkle en Gable (reds.) 1966.

Private security in South Africa. s.j. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Private_security_industry_in_South_Africa#:~:text=The%20private%20security%20industry%20in%20South%20Africa%20is%20among%20the,South%20African%20police%20and%20army (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Schelling, T. 1971. Dynamic models of segregation. Berkeley: Department of Statistics.

Service delivery protests. s.j. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/2019_service_delivery_protests#:~:text=The%202019%20service%20delivery%20protests,Alexandra%20on%203%20April%202019 (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Soobramoney, V. 2017. Capital outflow: R350 million has left South Africa. IOL. Business Report, 13 Julie. https://www.iol.co.za/business-report/capital-outflow-r350billion-has-left-south-africa-10264790 (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Steenkamp, L. 2019. South African taxpayers will bear the brunt of National Health Insurance. The Conversation, 29 Augustus. https://theconversation.com/south-african-taxpayers-will-bear-the-brunt-of-national-health-insurance-122409 (29 Junie 2020 geraadpleeg). 

Steward, I. 1990. Does God play dice? The mathematics of chaos. Cambridge, MA: Blackwell Publishers.

Strachan, G. 2017. South Africa on path of deindustrialization. In Odendaal (red.) 2017.

Swanepoel, M.P. 2008. Vigilantism as a feature of political decay in the post-1994 South African dispensation: A theoretical perspective. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Turton, A. 2019. Going backwards – the deindustrialization of the South African economy. Facebook-blad.

Van de Groenendaal, H. 2017. We are captured by deindustrialization. EE Publishers, 6 Julie. https://www.ee.co.za/article/we-are-captured-by-de-industrialisation.html (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Versluis, J-M en J. de Lange. 2019. Rising crime, low prosecution rates: How law enforcement in SA has all but collapsed. City Press, 21 Oktober 2019. https://www.news24.com/citypress/News/rising-crime-low-prosecution-rates-how-law-enforcement-in-sa-has-all-but-collapsed-20191021 (29 Junie 2020 geraadpleeg).

Weber, M. 1964. The theory of social and economic organization. New York: Free Press.

Wicks, J. en P. Ash. 2020. It’s going to have a devastating effect: Jobs axe hangs over half of SA workforce. Sunday Times, 3 Mei, bl. 23.

Zartman, I.W. (red). 1995. Collapsed states: The disintegration and restoration of legitimate authority. Boulder, CO: Reiner.

 

Eindnota

1 Die navorsing vir hierdie artikel is onderneem voordat COVID-19 in Suid-Afrika uitgebreek het. Ek ag dit belangrik om ’n bestekopname te verskaf van die situasie voor COVID-19; sedertdien het die situasie in Suid-Afrika waarskynlik versleg en in enkele gevalle word daar wel hierna verwys.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top