Heupvuur-vrae aan Joan Hambidge

  • 0

Die literator en skrywer Joan Hambidge tree by die volgende geleenthede op tydens die Stellenbosse Woordfees wat van 3 tot 8 Maart 2008 gehou word: Die Poësie Skryfskool op Dinsdag 4 Maart vanaf 09:00 tot 13:00 in die Botaniese Tuin se lesingsaal, die Skrywersgala op Saterdag 7 Maart om 20:15 in die HB Thom Teater, Vier digters eet tesame op Dinsdag 4 Maart om 13:30 in die Botaniese Tuin se Katjiepiering-restaurant en Palindroom/Koesnaatjies vir die proe op Saterdag 8 Maart om 12:00 in die Erfurthuis.

Melt Myburgh het met hierdie heupvuur-vrae by haar probeer aanlê:

By die Poësie Skryfskool neem jy en mense soos Petra Müller, Bernard Odendaal en Danie Marais “nuwe” digters onder hande. Waarby vind voornemende digters in so ʼn sessie gewoonlik baat?

Hulle leer dat skryf harde werk is en dat 'n mens tegnieke onder die knie moet kry. Jy moet vorme aanleer en jy moet herskryf.

Voel jy gemaklik met die “glans”-aspek van die Skrywersgala wat jaarliks in die HB Thom Teater aangebied word?

Ja. Digters kan 'n bietjie doen met glans. Ons is wel volgens sommige die stiefkind van die letterkunde, maar almal weet tog dat 'n letterkunde sonder digters soos 'n soen sonder 'n snor is. Of wat praat ek alles?

Louise Viljoen gesels op 8 Maart met jou oor jou dubbeldoorboek, Palindroom/Koesnaatjies vir die proe, wat by Genugtig! verskyn. Is dié samestelling van ernstige roman en parodiërende gedigte ʼn nuutjie in Afrikaans?

Ja. Die twee boeke word saam gepubliseer. Soos 'n speelkaart. Hier die Koningin – in die tarot het 'n kaart twee betekenisse: na bo positief; onderstebo negatief. Die dubbeldoor-aard van my persoonlikheid word so vergestalt.

Watter aanbiedings by die Woordfees sou jy graag self wou bywoon?

Omtrent alles. Ek hou van teater.

Wat loop jy gewoonlik doelbewus mis?

Dit hang van my bui af.

Waaroor sou jy by die Woordfees in ʼn diskoers betrokke wou raak?

Oor alles en nog wat. Dalk oor die feit dat daar te min polemiek in Afrikaans is?

Wil jy my nie asseblief op Dinsdagaand 4 Maart vergesel op die “Aandwandeling met spoke” nie?

Ek kan nie. Ek is by die UP-boekefees in DeurnagPREToria. Anders graag! Die Woordfees en die UP-Boekefees gebeur vanjaar op dieselfde tyd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top