Op 10 September het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n ernstige beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulle te laat inent ten einde die COVID-19-pandemie hok te slaan. In dié aankondiging het die Akademie dit beklemtoon dat dit hul verantwoordelikheid is om met Suid-Afrikaners te kommunikeer in sake van wyer belang, veral waar dit oor wetenskaplike en tegnologiese aangeleenthede handel. Hulle het voorts genoem dat die pandemie “met die gepaste mediese kennis en tegnologie aangepak moet word, en nie met drogredenasies bestry kan word nie”.
Melt Myburgh het vir Anne-Marie Beukes, die Akademie se hoof- uitvoerende beampte, oor dié standpunt-inname uitgevra.

Anne-Marie Beukes, hoof- uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Foto: verskaf)
Anne-Marie, dit is nie aldag dat ’n instansie soos die Akademie op hierdie manier standpunt oor ’n aangeleentheid inneem nie, veral as dit oor iets gaan wat alle burgers van die samelewing in hul daaglikse handel en wandel raak. ’n Mens sien ook die tendens van soortgelyke oproepe op die bevolking deur sake- en ander instellings, soos onlangs deur Sanlam en Discovery. Wat het aanleiding gegee tot die Akademie se besluit om dié verklaring uit te reik?
As ’n instelling van sosiaal-verantwoordelike en kundige wetenskaplikes en akademici ag die Akademie dit haar plig om alle Suid-Afrikaners aan te moedig om hulle teen die COVID-19-virus te laat inent. Ons laat ons lei deur die jongste wetenskaplike bevindings dat kudde-immuniteit deurslaggewend is om verdere lewensverlies te verhinder, en vir die stimulering van verdere broodnodige ekonomiese ontwikkeling en om sosiale kohesie te bevorder.
Indien alle landsburgers hulle nie gaan laat inent nie, gaan die mensdom tot aan die einde van dae vasgevang wees in ’n vernietigende siklus van infeksies met ’n virus wat aanhou muteer in variante wat selfs nog dodeliker as die huidige is. Wat is die groter prentjie in terme van die aanhoudende verwoesting wat die pandemie saai wat mense skynbaar onwillig is om onder die oë te sien?
’n Belangrike gevolg van hierdie pandemie is dat gewone gesondheidsorg nie na behore uitgevoer kon word nie, terwyl versekeringsmaatskappye ’n betekenisvolle toename aangeteken het van sterftes weens die verwaarlosing van gewone siektetoestande soos MIV, TB en ander chroniese siektes soos diabetes en hartsiektes. Die pandemie put die noodsaaklike mediese hulpbronne uit wat vir goeie pasiëntesorg benodig word. Daarbenewens gryp mense ook na medikasie wat nie as doeltreffend bewys is as ’n alternatief vir inenting nie en wat gevolglik die dood van duisende pasiënte veroorsaak het wat COVID-19 gekry het.
Die Akademie neem standpunt in oor sake soos hierdie op grond van haar strewe “na uitnemendheid, billikheid en hoë wetenskaplike, morele en demokratiese waardes”, en tree op grond van wetenskaplike bevindinge “meningsvormend, adviserend en fasiliterend in sake van nasionale belang op”. Maar soos elders in die wêreld hang ’n beduidende gedeelte van die bevolking samesweringsteorieë, “drogredenasies” en dies meer aan, en in Europa en Australië sien ons gewelddadige protesoptogte teen vaksinering. Wat is die Akademie se boodskap aan mense wat, om watter rede ook al, dink dat inenting hul persoonlike vryheid en regte ondermyn?
Die Akademie se standpunt is dat, naas wetenskaplike bevindinge oor COVID-19, ons siening ook berus op die praktyk maak van ’n etiek van verantwoordelikheid. Daarvolgens neem die Akademie aan dat Suid-Afrikaners nie net verantwoordelikheid slegs vir hulle eie gesondheid moet aanvaar nie, maar ook verantwoordelik teenoor ons ewemens moet optree. Ons standpunt is dus dat inenting teen ’n infektiewe siekte soos COVID-19 dwingend noodsaaklik is om in die beste openbare belang kudde-immuniteit teen die pandemie te bereik.
Die Akademie waarsku teen die rol wat sosiale media speel in die verspreiding van onkunde ten opsigte van hierdie krisis wat die wêreld in die gesig staar. Mense is eenvoudig nie almal in staat om “nugtere en ingeligte kundigheid” van twak te onderskei nie. Dink jy diepgaande besinning – ook met die navorsingsinsette van ’n instelling soos die Akademie – is nodig oor die wyse waarop sosiale media in die toekoms bedryf en gereguleer gaan word?
Diepgaande besinning is ongetwyfeld belangrik omdat daar, ten spyte van die beskikbaarheid van twee bewese effektiewe vaksiene in Suid-Afrika wat mense teen ernstige siektes, hospitalisasie en die dood kan beskerm, steeds ’n antivaksiensentiment en vaksienhuiwering heers. Inenting bied ’n opsie om die pandemie onder beheer te bring en daarom vind die Akademie hierdie sentimente problematies. Die demokratisering van die media in ons tydsgewrig kan benut word om “nugtere en ingeligte kundige inligting” oor die pandemie te versprei. Sosiale media in die besonder kan ongetwyfeld dieselfde funksie vervul en daarom span ons graag hierdie platforms in om “meningsvormend, adviserend en fasiliterend in sake van nasionale belang” verantwoordelik relevante inligting oor die huidige pandemie te deel.
Is die oplossing vir die krisis dat inentings deur die regering verplig moet word?
Verpligte inenting sou waarskynlik ’n geskikte en verantwoordelike benadering wees om die skrikwekkende gevolge van hierdie pandemie doeltreffend te minimaliseer, maar of dit haalbaar is, sal die tyd ons moet leer. Naas ’n etiek van verantwoordelikheid wat in hierdie situasie ’n belangrike oorweging is, is daar ook grondwetlike oorwegings wat in die spel kom.
Vir interessantheid: In watter ander dwingende situasies sou die Akademie byvoorbeeld ook ’n openbare standpunt, soos in hierdie geval, inneem? Oorlog?
Die SA Akademie, soos verwoord in ons Akte van Oprigting, laat ons in ons optrede en standpuntinname oor aktuele sake rig deur “hoë wetenskaplike, morele en demokratiese waardes” en – soos reeds genoem – ook deur ’n etiek van verantwoordelikheid. Ons neem graag deel aan nasionale gesprekke op terreine waar ons ’n bydrae kan lewer.
Het die Akademie destyds ook standpunt teen apartheid ingeneem?
Die Akademie het inderdaad in die verlede standpunt teen apartheid ingeneem deur ons hoogste eerbewys, naamlik erelidmaatskap ter erkenning van buitengewone lewenslange dienste aan Suid-Afrika toe te ken, soos aan die eertydse akademici en openbare figure Nelson Mandela, FW de Klerk, Desmond Tutu, Jakes Gerwel, Franklin Sonn en Adam Small.
In 2009, die Akademie se eeufeesjaar, ontvang Frederik Van Zyl Slabbert (as politieke ontleder) en Trevor Manuel (ekonomie en finansies) Eeufeesmedaljes. Adam Small ontvang eweneens ’n Eeufeesmedalje as skrywer-digter-dramaturg vir sy hele oeuvre, wat grootliks in Kaaps geskryf is. In 2012 word die Akademie se hoogste literêre onderskeiding, die prestigeryke Hertzogprys, aan hom toegeken vir sy drama-oeuvre waarin Kanna hy kô hystoe uitstaan as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse dramakuns.
Lees ook:
Persverklaring: SA Akademie versoek Suid-Afrikaners om hulle te laat inent
AKA 2016: Die ekologie van Afrikaans in ’n verander(en)de landskap
Onderwysbeurse slegs vir sprekers van inheemse Afrikatale: Anne-Marie Beukes reageer


Kommentaar
"... ag die akademie dit as haar plig ..."
Dit moet 'sy' plig wees; die akademie is nie vroulik nie, maar onsydig.
Melt Myburgh klink na 'n tipiese woke-gedrewe kreatuurtjie - en hoe kan ons nalaat om 'apartheid' deel van die gesprek te maak? 😐