Persverklaring: SA Akademie versoek Suid-Afrikaners om hulle te laat inent

  • 1

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulle teen COVID-19 te laat inent om die voortgesette verspreiding en verwoesting wat die SARS-CoV-2-virus saai, te beperk.

..........

Die SA Akademie doen hiermee ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om ag te slaan op die inentingsveldtog in die lig van wetenskaplike bevindinge, en beveel aan dat COVID-19-inenting universeel opgeneem word deur alle volwassenes, en veral volwassenes ouer as 35 jaar, asook diegene met onderliggende toestande wat die grootste risiko loop vir ernstige COVID-19-siekte.

Die SA Akademie is ’n multidissiplinêre organisasie wat die belange van alle Suid-Afrikaners wil dien en wat streef na uitnemendheid, billikheid en hoë wetenskaplike, morele en demokratiese waardes. Die SA Akademie beywer haar vir die bevordering van die wetenskap en tegnologie, met ’n fokus daarop om voortdurend aktuele aangeleenthede van openbare belang te ondersoek, standpunt daaroor in te neem en op grond van die bevindinge meningsvormend, adviserend en fasiliterend in sake van nasionale belang op te tree. Dit is vir die SA Akademie baie belangrik om met die hele Suid-Afrikaanse samelewing te kommunikeer in sake van wyer belang, veral waar dit oor wetenskaplike en tegnologiese aangeleenthede handel.

Die COVID-19-pandemie is van ongekende dodelike omvang. Gegewens oor sterftes wat onlangs deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad ontleed is, beraam dat reeds ongeveer 240 000 sterftes aan COVID-19 toegeskryf kan word. Dit gee aan Suid-Afrika ’n geraamde COVID-19-sterftesyfer van ongeveer 400 per 100 000, wat ons een van die top 10-lande in die wêreld maak wat die swaarste geraak word deur die siekte. Die goedgekeurde COVID-19-entstowwe wat tans in Suid-Afrika beskikbaar is, is goed ondersoek, veilig en handhaaf ’n hoë doeltreffendheid teen ernstige COVID-19, ondanks mutasies in nuwe variante van die virus wat die piekproteïen beïnvloed.

Vir die meeste COVID-19-entstowwe is die doeltreffendheid van entstowwe >80–90% teen hospitalisasie en dood, alhoewel dit wissel volgens risikogroep. Bykomend hiertoe word daar beraam dat COVID-19-inenting die risiko van oordrag van die virus met 2–2,8 maal verlaag. Die bewese doeltreffendheid van COVID-19-entstowwe in die voorkoming van ernstige siekte, hospitalisasie, sorg op intensiewe vlak en dood as gevolg van COVID-19 maak daarvan die primêre hulpmiddel (en tans enigste bewese mediese ingryping) tot ons beskikking om die pandemie te bestry en beheer.

Die SA Akademie se standpunt is dat die pandemie met die gepaste mediese kennis en tegnologie aangepak moet word, en nie met drogredenasies bestry kan word nie. Ongelukkig lei maklike toegang tot inligting en kommunikasie deesdae tot ’n hoë vlak van disinformasie en wantroue oor inenting onder ’n deel van ons bevolking, terwyl die mediese wetenskap aanbeveel dat inenting die gepaste middel is om die pandemie te bestry en lewens te red. As ’n akademie van sowat 950 erkende wetenskaplikes oor alle dissiplines heen is dit ons standpunt dat nugtere en ingeligte kundigheid die deurslag behoort te gee.

Opgestel deur prof Nico C Gey van Pittius (lid van die SA Akademie)

  • 1

Kommentaar

  • Zylie Joubert

    Baie goed uiteengesit en verduidelik. Die regering behoort inenting te verplig soos gedoen is met die inperkings. Niemand het 'n keuse gehad nie en was verplig om regulasies te handhaaf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top