Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging onder redaksie van Karen de Wet het onlangs by Naledi verskyn. Melt Myburgh het met Karen gesels oor Müller se skrywerskap en die publikasie wat deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks aan Hertzogprys-wenners.

Foto’s: Menán van Heerden, Naledi
Die skerpgevylde oomblik is die nuutste publikasie in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks aan Hertzogprys-wenners. Vertel asseblief kortliks hoe jy by hierdie waardevolle inisiatief as redakteur betrokke geraak het en jou werk aan die publikasie oor Petra Müller.
Baie dankie, Melt, vir die geleentheid om met LitNet oor Die skerpgevylde oomblik te kan praat.
Dit is gaaf om te kan begin met die reeks waarvan hierdie boek deel is. Die inisiatief met die SAAWK se reeks lewer ’n beduidende bydrae tot die kritiese diskoers in die Afrikaanse literêre sisteem. In die jaar nadat die laaste uitgawe van Perspektief en profiel (2016) verskyn het, het die eerste titel in die huldigingsreeks vir Hertzogpryswenners verskyn, dit was Adam Small: denker, digter, dramaturg onder redaksie van Jacques van der Elst (2017), wat ook saam met ’n taakspan verantwoordelik was vir die inisiatief en stukrag vir die oprig van die reeks.
“Spesifiek tydens die skryf van ’n resensie-essay vir LitNet het ek ’n paar van Müller se reëls oor haar skrywerskap geneem as ’n vlaggie vir my belangstelling in hierdie digter en skrywer se werk …”
Sedertdien het die reeks bekend geraak vir die bydrae wat dit lewer tot Afrikaanse literatuurgeskiedenis en literatuurkritiek. Binne ses jaar (2016 tot 2022)1 het die reeks die publikasie van 87 hoofstukke ewekniebeoordeelde navorsing met nuwe insigte, ander of bykomende teoretiese invalshoeke en rame, en/of herwaarderings moontlik gemaak. Die reeks het ook al aanleiding gegee tot ’n ander inisiatief, waar Stilet begin het om skrywers van faam aan wie die Hertzogprys nié toegeken is nie, met ’n spesiale uitgawe te huldig.2 Die eerste voorbeeld hiervan was in 2020: Joan Hambidge: ikonoklas(ties). Die aktiwiteit en produktiwiteit wat die reeks meegebring het en bly moontlik maak, is waardevol en verblydend.
Dit is daarom ook ’n wonderlike geleentheid vir voornemende redakteurs wat ’n projekvoorstel vir ’n boek in die reeks voorlê, wanneer dit deur die SAAWK se publikasiekomitee aanvaar word. Die voorstel vir die boek oor Petra Müller is in 2020 voorgelê met ’n projekplan waarvolgens die manuskrip teen Julie 2022 gelewer sou word. Op die ou end het die span dit moontlik gemaak dat ons aan die einde van Februarie 2022 kon lewer. Dit is die tegniese antwoord.
Maar die antwoord op hoe lank mens aan ’n publikasie van hierdie aard werk, is eintlik dit: ’n leeftyd. In die negentigs het ek pas begin klas gee in Afrikaans. Die dwerg van die Infanta en ander verhale (1993) en In die omtes van die hart en ander verbeeldings (1995) was boeke wat die asem uit jou longe gepers het, op ander frekwensies in jou brein begin vibreer het. Maar die poësie was nog altyd my hartland en navorsingspesialiteit, en met die verskyning van Swerfgesange vir Susan en ander (1997), en spesifiek tydens die skryf van ’n resensie-essay vir LitNet, het ek ’n paar van Müller se reëls oor haar skrywerskap geneem as ’n vlaggie vir my belangstelling in hierdie digter en skrywer se werk, en miskien was dit reeds toe waar die werk aan hierdie huldigingsboek oor Petra Müller begin het:
Daar lê ’n leeftyd voor
om klaar te plet aan hierdie
oggend-alfabet.
(Slotreëls van “Aan ’n verdrinkte”, bl 17 in Swerfgesange vir Susan en ander (Petra Müller 1997.)

’n Jong Petra Müller (Foto verskaf deur die Grütter-familie)
Om ’n akademies georiënteerde publikasie soos hierdie saam te stel, verg monnike-arbeid. Met watter uitdagings het jy te doen gekry?
Daar is reeds baie boeke in hierdie reeks; daar is ’n aansienlike lys skrywers wat met die Hertzogprys bekroon is; daar is besonder kundige vakspesialiste in die Afrikaanse lettere – maar die poel is klein. Om medewerkers te vind wat nie net geïnteresseerd is nie, maar op daardie stadium die tyd het om ’n hoofstuk van minstens 6 000 en in die meeste gevalle ongeveer 10 000 woorde te skryf oor nuwe navorsing, dit bly ’n uitdaging, en die praktiese uitvoer van die proses vir dubbelblinde ewekniebeoordeling, met daarna die persklaar maak van die manuskrip, is eweneens uitdagend.
Maar iewers tussen navorsing, bibliografiese verwysings opteken, argiewe fynkam, en die opwinding wanneer eerste weergawes begin opdaag, begin die boek ’n eie lewe en karakter kry. Van dan af is die monnikewerk se sleur minder en die uitkyk vir patrone wat vorm aanneem en hoe verskillende afdelings en onderdele voelers uitsteek na mekaar en met presies die regte nate voeg, die groot verwondering en plesier.
Benewens die uitdagings, moes dit sekerlik ’n verrykende ervaring wees om Petra se werk te hertakseer, so kort na haar dood. Wat het jou in die proses opnuut geïnspireer oor Petra se literêre nalatenskap?
Die laaste woord oor Petra Müller se oeuvre is nog lank nie gespreek nie. Dít is werklik inspirerend. Miskien is Müller dié fenomenologiese digter van die Afrikaanse poësie – die resepsie van haar werk suggereer dit, die leser van haar poësie en korttekste kan dit onmiddellik eien, maar ’n ondersoek hierna wag nog. Dan is daar die klein vondsies wat groot vondse is, wat navorsers goed ken. Dít is wat mens bly inspireer – ook ter wille van die bestendiging, om inligting wat in databasisse en papierargiewe lê, weer onder die aandag te kan bring.
Daar was ’n paar sulke oomblikke in die boek – die vind van ’n handgeskrewe nota van Jack Cope wat haar gelukwens met die gedigte wat sy in New Contrast gepubliseer het (twee Afrikaans, twee Engels, Müller se eerste gepubliseerde gedigte) en aanmoedig om nie haar talent te verwaarloos nie; die vind van ’n knipsel met ’n foto van die 22-jarige wat in 1957 Die Huisgenoot se kortverhaalkompetisie gewen het (Müller se eerste gepubliseerde verhaal); die afkom op skuilname waaronder Müller geskryf het – een via ’n verhandeling oor volkspoësie en ’n brief van Hennie Aucamp, een via Amanda Botha en PJ Nienaber se bibliografieë en die besef dat daar moontlik nog meer is; die adrenalien wat jou ore laat suis wanneer jy ’n boek wat aan Petra behoort het oopmaak, en ’n perfek afgeronde, handgeskrewe en tot nog toe ongepubliseerde gedig lê voor jou oë.
Die boek is saamgestel uit ’n versameling akademiese artikels, ’n klompie essays, pragtige foto’s en ook gedigte ter herdenking aan Petra. Wat was jou visie met dié benadering tot die inhoud?
Die basiese grondplan vir hierdie reeks boeke is, soos jy noem, die navorsingsartikels, essays en ’n foto-essay, maar ook ’n uitgebreide, uitgesoekte bibliografie. Die hoeveelheid navorsing en navorsingstyd om so ’n bibliografie van ’n skrywer se werk op te stel het my herhaaldelik verstom, maar ek noem dit omdat die reeks deur en deur as akademiese werk opgestel is en aangebied word. Toekomstige navorsers het in die uitgesoekte bibliografieë van die skrywers ’n onskatbare vertrekpunt vir verdere navorsing.
“Die feit is ook dat ’n redakteur op die skouers van die medewerkers staan. En wat my betref, staan die hoofstukke in hierdie boek op stelte.”
Vir my is die grootste wins van die reeks, en daarom ook van Die skerpgevylde oomblik, dat dit wel grondige akademiese navorsing aanbied, maar nie uitsluitlik gerig is op slegs akademiese lesers nie. Mens wil hoegenaamd nie ’n nóg-vis-nóg-vlees boek sien ontstaan nie, ook nie ’n bloedlose een nie, so in ’n sin is dit ’n hoogspanningsdraaddans – om uitstekende literêre insigte, nog ongebaande weë in en rondom Müller se oeuvre, takserings en herwaarderings met onverwagte insigte, simbioties te laat saambestaan met essays waarin die persoon, met haar sienings en seggings, aan die woord gestel word, terwyl die commendatio’s vir die toekennings wat sy ontvang het, ’n verdere perspektief op haar werk en skrywerskap gee. Die feit is ook dat ’n redakteur op die skouers van die medewerkers staan. En wat my betref, staan die hoofstukke in hierdie boek op stelte.

Petra by haar geliefde Waterval (Foto voorsien deur die Grütter-familie)
Petra was 42 toe sy in 1977 as digter met Obool debuteer het. Hoekom so laat in haar lewe?
Ja, Melt, die vraag hier is eintlik wát ons verstaan onder “debuteer” en “debuutpublikasie”, en daarmee saam ook of dit steeds waardevol is, en so bepalend moet bly wees, dat skrywerskappe met verwysing na hulle debuutwerk geplaas en bespreek word.
’n Eerste enkelouteur-boekpublikasie, en gewoonlik, of min of meer tot en met ons huidige tydsgewrig dan, uitgegee deur uitgewershuise waar ’n proses van keuring, manuskripontwikkeling en redigering die finale produk help beslag laat kry het, is in die geperiodiseerde literatuurgeskiedenis belangrik. Die gepubliseerde produk (’n boek, nie maar net ’n gepubliseerde gedig of reeks gedigte in tydskrifte of versamelbundels, of tekste wat via digitale forums verskyn nie) merk die eerste formele toetrede van die skrywer tot die wêreld van wat daardie boek is of wil wees – ’n nuwe digter, ’n nuwe misdaadromanskrywer.
“Dit is bekend dat Müller self meerdere male genoem het dat dit die verlies aan haar broer was wat haar na die poësie gedryf het.”
Hiermee beland mens onmiddellik in die verskuiwende wêreld van wanneer is ’n debuut ’n debuut en hoeveel debute kan een skrywer hê? Een vir elke nuwe genre en subgenre wat deur die skrywer aangepak word? En beskrywings volgens genre bied immers weer ander verskuiwende uitdagings. Kan self- of tuispublikasies wat ’n debuut aankondig (Diana Ferrus is ’n goeie eietydse voorbeeld van ’n gekanoniseerde digter wat met ’n eie publikasie gedebuteer het), later opgevolg word met ’n publikasie deur ’n (meer gevestigde?) uitgewershuis en dan is die selfpublikasie nie meer ’n debuut nie, of is die nuwe publikasie ’n “tweede” of “ware” debuut?
Ja, binne die gekanoniseerde literatuurgeskiedenis was Obool Petra Müller se digdebuut. Mens sou dit ook haar literêre debuut kon noem. Maar dit is nie deesdae ongewoon om te verwys na debute in terme van genre nie, en dit is ook so in Petra Müller Grütter se skrywerskap. So sal mens kan verwys na byvoorbeeld haar debute as kortverhaalskrywer, kinderboekskrywer, of skrywer van populêre romans. Die verskil wat ’n inklusiewe beskouing van die breër literêre sisteem maak, is die verskil tussen ’n skrywerskap wat beskryf word in terme van bellettristiese werk, sodat Müller se oeuvre in 1977 begin op die ouderdom van 42 en vier kortverhaalbundels en sewe Afrikaanse digbundels insluit, en ’n skrywerskap waarin daar deur die loop van vier dekades 53 kreatiewe items gepubliseer word: vier bundels korttekste, agt digbundels (een in Engels), vier kinderboeke, vyf vertaalde kinderboeke, agt populêre romans, 24 gepubliseerde verhale.
Natuurlik is Müller se skrywersprofiel nie die enigste wat verander wanneer inklusief daarna gekyk word nie, maar dit beïnvloed wel die vraag waarom hierdie skrywer eers op die ouderdom van 42 jaar sou “debuteer”. Dit is bekend dat Müller self meerdere male genoem het dat dit die verlies aan haar broer was wat haar na die poësie gedryf het. Dit is die ander antwoord op waarom eers in 1977 ’n eerste digbundel. Maar die feit bly staan dat sy twee dekades tevore, toe sy 22 jaar oud was, ’n eerste tydskrifverhaal gepubliseer het. En tussen 1957 en 1977 was haar skryfpen nie stil nie, en ook nie die skryfpen van die skrywersname waaronder sy gepubliseer het nie – dit is ook waarom sy “eers” in 1977 “gedebuteer” het.

Petra op die Kaapse hawehoof, Oktober 1958 (Foto: Len Gallaghar, met die vergunning van Naledi)
Die Hertzogprys vir poësie is in 2005 aan Petra Müller toegeken vir die oorrompelende Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde uit 2002. In jou voorwoord haal jy die volgende beskrywing van Petra se statuur en werk aan: “Die naaste wat mens seker ooit sou kon kom aan ’n gebore sjamaan of aardse mistikus.” Waar sou jy Petra Müller in die galery van Afrikaanse digters plaas? Wat is haar unieke bydrae tot die digkuns?
’n “Galery” van digters bring mens nou terug by die gesprek oor debute en periodisering. Müller se digdebuut in die sewentigerjare het haar deel gemaak van ’n dekade waarin ’n voorheen ongekende opvlam in bundels deur vrouedigters ervaar is. As mens in gedagte hou dat daar ongeveer een vrouedigter per dekade ’n bundel laat verskyn het vir die eerste ses dekades van die Afrikaanse poësie, naamlik Elisabeth Eybers (1936), Olga Kirsch (1944), Ina Rousseau (1954), Ingrid Jonker (1956), Freda Plekker (1966) en Marié Blomerus (1968), en dat volgens Annemarie van Niekerk (2016) se bespreking van Die vroueskrywer in die Afrikaanse letterkunde daar tot 1969 slegs 12 vrouedigters was van wie daar in Afrikaans digbundels verskyn het, is die 15 debute deur vrouedigters in die sewentigerjare opspraakwekkend.
Dit is digters wat die aangesig van die Afrikaanse poësie verander het, en mens kan tien onder hulle uitsonder: Antjie Krog, Marlise Joubert, Sheila Cussons en Wilma Stockenström (1970); Jeanne Goosen en Lina Spies (1971); Petra Müller, Rika Cilliers en Marlene van Niekerk (1977) en Eveleen Castelyn (1978). Aan vyf van hierdie digters word die Eugène Marais-prys toegeken, vyf van hulle word met die Hertzogprys vereer, en sewe van hulle het vir meer as drie dekades bly publiseer en die Afrikaanse poësie tot in die derde millennium bly verryk – en telkens was Petra Müller een.
As mens egter die fokus skuif en kyk na tydgenote van Müller in terme van skrywers wat in die dertigerjare gebore is en dus saam met haar, of op min of meer dieselfde tydstip, op universiteit was, wat die Wêreldoorloë deurleef het, alles tot by e-pos- en vir sommige nou ook KI-gedigte, verander die prentjie. Dan hang Petra Müller se portret saam met dié van Hennie Aucamp (’n universiteitsvriend wat saam met haar DJ Opperman se Afrikaansklasse bygewoon het), Wilma Stockenström (wie se debuut in 1970 uitgegee is deur Wilhelm Grütter se Reijger-Uitgewers), Jeanne Goosen (wat goed met Petra bevriend was en by wie se werk Petra soms as keurder betrokke was), Ingrid Jonker, André P Brink (wat dikwels deur Petra die uitgewersredakteur genader is vir keurverslae), tydgenote wat haar werk resenseer (soos Hennie Aucamp, André P Brink en Abraham H de Vries), tydgenote oor wie se werk sy resensies skryf, soos Dalene Matthee, Margaret Bakkes, Ronnie Belcher, Karel Schoeman (oor drie van sy boeke) en Breyten Breytenbach (oor vier van sy boeke), en ook ander digters en skrywers wat in die dertigerjare gebore is, soos Marié Blomerus, Wilhelm Knobel, Adam Small, Lina Spies, Philip de Vos, Peter Snyders en Chris Barnard.
Oor die uniekheid van Müller se werk is die laaste woord nog nie gesê nie, maar lees gerus die boek, of raadpleeg die uitgebreide bibliografie van werk deur en oor Müller. Die vermoë wat sy gehad het om ráák te sien, dieper en meer as oppervlak, eienskap of essensie, en hoe sy hierdie (fenomenologiese) vermoë om die oomblik onmiddellik te deurskou, te eien, te beleef en onder woorde te bring, daardie “skerpgevylde oomblik / waarmee ’n landskap gekloof sou kon word / as dit moet, / hierdie mes van ’n uur” en dit “(n)ie vir enige groot silwer waarheid / in die wêreld nie / maar, as jy dit so sou wou hê, / vir ’n stuiwertjie stilte”,3 dit is dit.

Petra se een broer, Nico (links op die foto), het op 22-jarige ouderdom verdrink en hierdie tragiese gebeurtenis was die impetus wat haar in die rigting van die digkuns gelei het (Foto deur Anton Grütter aan LitNet verskaf)
Wat het jou gelei na die keuse van die akademiese besinnings oor Petra se werk wat in die bundel opgeneem is?
Mens moet nou ook nie die skoenmaker vir sy lees vra nie! Maar aan die ander kant gee ek graag erkenning aan die medewerkers wat nie net vakspesialiste is nie, maar ook, soos duidelik uit nog net maar die inhoudsopgawe blyk, baie goed gekyk het na Müller se oeuvre en dan navorsing aangebied het oor uiteenlopende aspekte daarvan wat tog tot ’n samehangende geheel in die boek bymekaar gebring is: van die posthumanisme (Louise Viljoen), mens-dier-verbintenisse (Sonja Loots) en totemisme (Francois Smith) tot ondersoeke na sin-beeld-verhoudings (Adéle Nel), ekokritiek (Susan Meyer), erotiek (Marius Crous) en die elegie (Riëtte Botma).
Daar is ook ’n uitgebreide weergawe van Erika Terblanche se ATKV|Skrywersalbum op LitNet oor Müller waarin die fokus op die tydgenootlike resepsie van Müller se oeuvre val, en ’n perspektief op Müller se die veelsydigheid en produktiwiteit as skrywer wat meerdere skrywersname gebruik het en in verskeie genres gewerk het.
Soos dit maar verloop met die beplanning van ’n boek, het ek ’n raamwerk en moontlike onderwerpe voorgestel, en ook merkers waar mens moontlik graag die kollig van besinning en navorsing sou wou laat val, maar daarna het die boek sy eie loop geneem, deur die medewerkers gelei. So gee die boek dan hopelik ’n perspektief op temas en poëtika in Müller se werk wat ingewyde lesers en aanhangers sal verras en terugstuur na haar werk, en ook hopelik lesers wat dalk nog nie, of nog net ’n bietjie Petra Müller gelees het, na haar werk mag lok. As navorsing, insigte en perspektiewe verdere navorsing kan ontlok en aanspoor, sal die boek meewerk aan die bestendiging en uitbrei van perspektiewe van nie net die literêre nalatenskap van Petra Müller nie, maar ook die Afrikaanse literêr-historiese diskoers. As die boek hiertoe kan meewerk, dat die Die skerpgevylde oomblik nie die laaste woord is nie, nie ’n einde nie, maar ’n volgende begin.

Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Julian Melck van Kersefontein, Dominique Botha, Breyten Breytenbach en Petra Müller. Dansende Digtersfees, 2013 (Foto: Toast Coetzer, met vergunning van Spier)
Huldigingsverse deur digters soos die volgende is in Die skerpgevylde oomblik opgeneem: Dominique Botha, Breyten Breytenbach, Marius Crous, Johann de Lange en Clinton V du Plessis. Is dié verse spesiaal vir die bundel geskryf? Hoe was jou interaksie met die digters? Dit moes opwindend gewees het om die verse te ontvang en onder oë te kry?
Die aanbied van huldigingsgedigte wat in bundels tydens spesiale geleenthede soos verjaarsdae versamel word, het ’n lang tradisie in Afrikaans, en natuurlik duik huldigingsgedigte elders ook op. Mens dink onmiddellik aan Verse vir Opperman (handgeskrewe gedigte met die digter se 60ste verjaarsdag in 1974),4 Verse vir Ernst (toe Van Heerden in 1991 sy 75ste verjaardag gevier het)5 en Johann de Lange se virtuele versameling Verse vir Eybers.6 ’n Omvangryke projek is deur Ronel Johl (redakteur van die huldigingsreeks se boek oor NP Van Wyk Louw) via Versindaba geloods met nuwe gedigte waarin met Louw en sy digterskap in gesprek getree word en ook ’n bibliografie van bestaande gedigte waarin ’n digterlike gesprek met Louw gevoer word.7 Om die waarheid te sê is dit goedskiks moontlik om ’n uitgebreide bloemlesing van huldigingsgedigte saam te stel, en met die insigte, aansluitings, opmerkings, ophemelings, betragtings en betigtings in daardie gedigte, sou dit ook soos ’n miniliteratuurgeskiedenis lees!
“Dit is die onderskeie digters wat aan die woord is óór Petra, maar dit is ook Petra wat aan die woord gestel word, onder die woord kom.”
Dit is teen hierdie agtergrond dat digters genader is met ’n versoek om ’n gedig oor enige herinnering aan Petra Müller die mens en digter, of in reaksie op enige tema, reël, verhaal of gedig in haar oeuvre, te skryf. Daar was ook ’n paar gedigte wat in memoriam geskryf is direk ná Petra se afsterwe en wat aanlyn verskyn het, waarvoor ek toe die digters kon nader om dit op te neem in die boek – juis dié van Clinton V du Plessis en Breyten Breytenbach, maar ook Thomas Deacon se gedig waarvoor ons toestemming ontvang het om dit postuum te publiseer. Die ander gedigte is almal spesifiek vir die boek geskryf, ook Joan Hambidge se “Die Tao swyg” wat inmiddels ook op Versindaba verskyn het.
En ja, jy is reg: Die opwinding om ’n digter se naam in jou posbus te sien, en die voorreg van daardie eerste lees! Nie alle digters verkies om huldigingsgedigte te skryf nie, en veral nie noodwendig op aanvraag nie, maar elke liewe gedig in Die skerpgevylde oomblik is net verbysterend lieflik uit eie reg. Dit het my geweldig beïndruk, en dit sê dan ook veel oor die werk van digters wat deelgeneem het dat elke gedig en digter se eie karakter duidelik is: Dit is die onderskeie digters wat aan die woord is óór Petra, maar dit is ook Petra wat aan die woord gestel word, onder die woord kom.
En soos dit die geval is met die foto-essay, veroorsaak ook die gedigte binding in die boek – dit sluit aan by sake wat in die hoofstukke en die essays ter sprake kom, dit word geïllustreer deur die foto’s. Ek dink ook die gedigte is ’n groot aanmoediging om die boek te koop – Petra Müller deur die oë en in die woorde van ander digters. Laat my toe om hulle almal op te noem: Dominique Botha, Breyten Breytenbach, Marius Crous, Johann de Lange (twee gedigte), Clinton V du Plessis, Heilna du Plooy, Thomas Deacon, Tom Dreyer, Melanie Grobler, Joan Hambidge, Marlise Joubert, Loftus Marais, Charl-Pierre Naudé, Carina Stander.

Petra aan die skryf (Foto voorsien deur die Grütter-familie)
Waar kom jy aan al die lieflike foto’s van Petra wat in die boek opgeneem is?
Die idee om ’n foto-essay op te neem in die boeke in hierdie reeks is deel van die suksesstorie: Die boeke balanseer tussen deeglike navorsing met nie net interessante, nuwe of herwaarderende insigte nie, maar wat ook helder en leesbaar geskryf is, aan die een kant, en die meer biografiese inligting en nader blik op die skrywer en persoon in die essays aan die ander kant. Die fotobeeld neem deel aan al twee hierdie kante en bewerkstellig ook binding in die boek deurdat dit aspekte waaroor geskryf word, illustreer: die student wat opdaag om een van die eerste inwoners van Lydia te word; die jong skrywer agter haar tikmasjien; die vrou, ma, dogter en skoondogter; die skrywer in die ruimte van haar huis, met haar hond, aan die hang van Tafelberg, op die klipplasie met die bamboespoel, met vriende, met medeskrywers.
“Selfs ná 2000, wanneer digitale joernale en koerante in Suid-Afrika beskikbaar is, is dikwels geen foto’s meer by die berigte nie, net die kruisie van ’n plekhouer.”
Die eerste groot skok met die verkennende navorsing vir die boek was die besef dat Müller deel is van daardie generasies skrywers wie se aanvanklike werk verskyn het in ’n tyd voor die internet. Foto’s van lewensgebeure en tydens boekbekendstellings en optredes by kunstefeeste is nie somaar beskikbaar nie. Selfs ná 2000, wanneer digitale joernale en koerante in Suid-Afrika beskikbaar is, is dikwels geen foto’s meer by die berigte nie, net die kruisie van ’n plekhouer. Ook wat papier betref, met foto-essays oor Müller wat in tydskrifte verskyn het, is geen rekords of argiewe beskikbaar nie, terwyl ook haar uitgewer nie ander foto’s kon aanbied as die paar wat in die media sirkuleer nie.
Die meerderheid van die foto’s in die boek is goedgunstiglik beskikbaar gestel deur Anton, Herman en Philip Grütter, terwyl digitale beelde van foto’s uit tydskrifte wat in argiewe opgediep is, ook gebruik kon word. Daar is ook literêr-histories belangrike foto’s deur Amanda Botha van waar Petra saam met skrywers en uitgewers verskyn, soos IL de Villiers, Sheila Cussons, Ernst van Heerden, Merwe Scholtz, Charles Fryer, Hennie Aucamp, Audrey Blignault en Danie van Niekerk. En Philip de Vos het byvoorbeeld ook baie moeite gedoen om die negatief te vind vir ’n foto van Petra in Vlagmanshoogte wat destyds nog in die LitNet-reeks “Gogga se oog” gepubliseer is.8
Die boek is onlangs landwyd bekendgestel. Wat is jou ervaring hiervan en hoe reageer mense tot dusver?
Natuurlik is mens ontsettend dankbaar dat die boek onder die aandag kom, in mense se besit en onder hulle oë kom, maar ek kan onteenseglik sê dat ek diep onder die indruk is van hoe geliefd en gewild Petra as persoon, as skrywer, as digter was, en daarby veral ook as spreker by skryfskole.
Die persona van Petra Müller die redakteur, keurder, mentor en resensent, die spreker aan die woord oor boeke by leeskringe en kunstefeeste, troon bo die boek uit. By die boekbekendstelling vir Die skerpgevylde oomblik wat die Akademie in Pretoria aangebied het, vertel twee digters afsonderlik dat Petra Müller die keurder van hul eerste bundels was. By die geleenthede op Petra se tuisdorp, Swellendam, en ook op Stellenbosch, waar sy in die vyftigerjare student was, daag leeskringlede uit naburige dorpe en voorstede op, letterlik van Robertson en Barrydale, van Tafelbaai, Helderberg, Durbanville en Kylemore, en die meeste kom deel ná die tyd ’n herinnering of ’n anekdote.
Die refrein bly klink dat by leeskringe Petra nie oor haar eie werk gepraat het nie, maar telkens nuwe skrywers en ook internasionale skrywers kom bekendstel het. Miskien kan Die skerpgevylde oomblik op haar beurt dan die werk van Petra Müller opnuut aan lesers bekendstel, met nuwe belangstelling en ander oë daarheen terug laat keer, of nuwe lesers interesseer soos wat sy immers ’n leeftyd lank mense begeester het om ander skrywers te ontdek en te bestudeer.
Bronne
Müller, P. 1977. Obool. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1993. Die dwerg van die Infanta en ander verhale. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1995. In die omtes van die hart en ander verbeeldings. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1997. Swerfgesange vir Susan en ander. Kaapstad: Tafelberg.
Van Niekerk, A. 1998. Die Afrikaanse vroueskrywer: van egotekste tot postmodernisme (18e eeu – 1996). In Van Coller, H.P. 1998. Perspektief en profiel, Deel 2. Pretoria: JL van Schaik (e-boek).
Eindnotas
1 Die titels wat in die eerste ses jaar (2017–2022) verskyn het, was:
Adam Small: denker, digter, dramaturg (redakteur Jacques van der Elst 2017)
Pieter Fourie: teatermaker (redakteur Fanie Olivier 2019)
breyten breytenbach: woordenaar, woordnar (redakteur Francis Galloway 2019)
PG du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier (redakteur Heilna du Plooy 2019)
Reza de Wet: die dramaturg as dromer (redakteurs Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris 2020)
Johann de Lange 60 (redakteur Daniel Hugo 2020)
NP Van Wyk Louw: silwer herberg in die sneeu (redakteur Ronél Johl 2020)
Anna M Louw: fassinerende, veelkantige skrywer (redakteur Chris van der Merwe 2021)
Elsa Joubert: die verste grens verby (redakteur Thys Human 2022)
Petra Müller: die skerpgevylde oomblik (redakteur Karen de Wet 2022).
2 Die uitnodiging word in 2018 in Stilet gepubliseer: “As deel van ’n ‘alternatiewe’ reeks huldigingsuitgawes, wat parallel tot die Akademie se huldigingsbundels oor Hertzogpryswenners gelees kan word, moedig stilet.digital medewerkers aan om voorstelle vir artikels oor Joan Hambidge voor te lê.” https://journals.co.za/doi/10.10520/EJC-1b6cd2ef9a (6 Februarie 2023).
3 Reëls uit “Praagse gedig”, bl 5 in Swerfgesange vir Susan en ander (Petra Müller 1997).
4 1974. Verse vir Opperman. Kaapstad: Human & Rousseau.
5 1991. Verse vir Ernst. Kaapstad: Tafelberg.
6 http://johanndelange.blogspot.com/2012/11/verse-vir-eybers.html (6 Februarie 2023).
7 Kyk https://versindaba.co.za/2020/01/08/van-wyk-louw-50-jaar en https://versindaba.co.za/tag/huldigingsgedigte-n-p-van-wyk-louw (6 Februarie 2023).
8 https://oulitnet.co.za/gogga/muller.asp (6 Februarie 2023).
- Die fokusprent van hierdie artikel is saamgestel uit John Paisley se foto van Petra Müller in Vlagmanshoogte in die sewentigerjare, en Naledi se boekvoorblad.
Lees ook:
Karen de Wet se artikel oor Petra Müller se Swerfgesange vir Susan in die LitNet-argief.

