|
Sêgoed van “My familie leef poësie en hulle het elke dag daarmee te doen. Hulle is goeie waarnemers. Wat hulle sien, vergeet hulle nooit. Hulle is natuurverskynsels self en is deel van die Overbergse berge en grond. Ek self voel my ook deel van die fynbos.” “Om ’n gedig te skryf, is nie eens werk nie; jy moet net bereid wees om dit te doen.” Oor hoekom sy nie romans skryf nie: “Ek is ’n kortasemskrywer. Ek wil gaan sit en met ’n intensiteit skrywe. Ek wil oorval word. En oor ’n lang tyd kan ek dit nie volhou nie.” “Met tien rand in my sak sou ek in Julie 1995 ’n bruin brood koop en dan dadelik afsit na Langstraat in Kaapstad om ’n boek te koop. Ek koop altyd tweedehandse boeke – ek hou van so ’n lekker lapgeleeste boek. As ek my brood geëet en my boek gelees het, sal al my hongertes gestil wees en sal ek doodgelukkig wees.” (Sarie) Haar broer, Manie, oor Petra nadat sy die Hertzogprys ontvang het: “Nee wat, ons is eintlik heel ontspanne. Sy is maar net een van ons. Sy is maar net Sus.” “Hy is dood die boek, maar hy bevat die lewe, want hy het aan twéé kante die lewe opgevang aan die kant waar hy geskryf is, en aan die kant waar hy gelees word. ’n Boek is, soos ’n mens, tweehandig. Hy kan aanvat en hy kan aangee daarom is hy van alle dooie dinge seker die lewendigste op aarde.” (Uit: Skryfateljee: gesprekke oor skryfwerk. Pretoria: Van Schaik, 1992) “Sover ek weet, het ek nog nooit by die waarheid gehou in enigiets wat ek geskryf het nie. Ek is ’n verteller van verhale: iewers neem ’n verhaal sy eie loop en glip onder jou uit, op sy eie koerse.” (Uit “Die luiperd”) Aan Gerrit Brand oor literêre pryse: “Dis ’n belangrike stasie langs die pad, ’n aanmoediging, maar mens kan nie daarby stilstaan nie; die werk moet voortgaan. Letterkunde is soos ’n see, soos bewustheid. Dit verander soos mense verander. Die skrywer Borgius het byvoorbeeld nooit die Nobelprys gekry nie. ’n Prys spreek nie die finale woord nie. Die dorp se oordeel is net so belangrik soos die Akademie s’n. Jy word deur jou dorp getoets, tussen jou eie mense.” (Volksblad, 7 April 2005) “Skrywery is ’n vorm van ekstase. Dis ’n vorm van vervoering. Terwyl daardie verhaal jou beet het, gaan die tyd verby en jy is nie daarvan bewus nie. Dít kan enige kreatiewe mens vir jou sê. Ék skryf om in daai toestand te gaan. Want dis lekker. Dis hoekom ek sê dit is nie werk nie. Ek stel nie besonder belang in my eie skryfwerk nie. Dis iets wat ek dóén, dis nie iets waarin ek belangstel nie.” (Die Burger, 31 Augustus 2007) “My gedigte is net notisies oor my lewe. As ek hulle klaar geskryf het, gaan hulle weg. Ek het duisend dinge te sê oor ander se poësie, maar nie oor my eie nie. Walter Benjamin het my geleer: ‘Een gedig kan net met ’n ander beantwoord word.’” (Volksblad, 7 April 2005) “Ek wil graag gedigte skryf. En gedigte skryf, is ’n ongelooflike lekker bedryf. Al wat jy nodig het, is ’n pen en ’n stuk papier. Dis ’n bevlieging. Dis een reël wat na jou toe kom en die volgende oomblik dan groei die ding só. Kreatiwiteit is ’n metgesel, jy weet. Kreatiwiteit word ’n lewensvriend.” (Die Burger, 31 Augustus 2007) “Kan nie eintlik sê waaroor ek dig nie. Dis ’n soort bevlieging wat oor my kom. As ek dit nie oombliklik raakvat of neerskryf nie, al is dit net die kern van die gedig, dan is dit verby. Vir altyd verlore. Ek skryf met ’n potlood op papier omdat ’n potlood altyd beskikbaar en gewillig is. Mens kan gewoon aaneen skryf, lig of donker en mens kan iets aflei van die hand wat dit neerskryf.” (Versindaba) “Ek skryf oor eenvoudige goed en hoop dat my kleinkinders eendag belang sal stel in my stories. Ek het nie ‘n goeie verhouding met die dood nie maar ek sien ek gaan nie hierdie oorlog wen nie. Mens probeer om die dood te omseil met mens se skryfwerk.” (Versindaba) Oor Afrikaans: “Ja, die taal wat ons so sleg behandel het met dooie amptenare-Afrikaans en vermenging. Die toekoms daarvan lê in ons eie hande. Ons sal moet leer wat dit is om verantwoordelik te wees vir ons voorregte. Afrikaans is deel daarvan.” (Die Burger, 13 Oktober 1993) Oor die skryf van resensies: “Ek kan nie namens ander mense praat nie, maar as ek ’n resensie skryf, is dit vir my vanselfsprekend dat ek my verplaas in die sfeer van die boek. Die boek skep sy eie kriteria, sy eie beskrewe wêreld waarin hy verstaan wil word. En wanneer jy dit so doen, gee dit jou baie plesier, want die resensie word ’n voortsetting van die werk. Walter Benjamin het gesê: 'Die regte hulde aan die teks is dat jy dieselfde teks met jou hand sal oorskryf. ’n Resensie moet ’n gesprek wees. Jy het tog niks by te voege by die teks nie. Dis ’n kwessie van deelname. Jy moet word soos daardie teks. Jy as resensent moet verdwyn. Dis ’n proses van osmose.” (Aan Nanette van Rooyen op LitNet) “Ek glo daar is in enige skeppende kunstenaar se lewe ’n beslissende oomblik wanneer insig kom. ’n Mens moet ’n bietjie ervaring hê voordat jy dié oomblik herken. En dan moet jy dit beskerm. Al wat ek vir ’n skrywer kan gee, is een stoot vorentoe, maar my hand bo sy kop vir die res van sy lewe.” (Beeld, 22 Maart 2016) “Nie alle skrywers is dieselfde nie, wéét ek. Party hardloop as jy te strik in hulle oë kyk. Maar kreatiwiteit, dis ’n evolusionêre gegewe. Dit groei in stilte. Dikwels in isolasie en meestal vergesel van pyn.” (Beeld, 22 Maart 2016) |
Gebore en getoë
Petra Helena Müller is op 27 Julie 1935 op Botrivier gebore as een van vyf kinders van Hermanus Barend Müller en Anna Susanna Dippenaar. Haar pa was ’n polisieman en toe die kinders “groot skool” toe moes gaan en Petra tien was, trek hulle na Swellendam.
Petra vertel aan Beeld (20 September 2011, onderhoudvoerder nie vermeld in berig): “My ma was een van 25 kinders. Sy was die laaste oorlewende. Daar was darem drie vrouens ná mekaar. My oupa Arend was bekend in die Swartland as Mooi-Arend Dippenaar Stywesnaar. Dit was sy bynaam vir hom gegee deur Kloppie Galoppie Hanekam, die rymelaar van Malmesbury. Hy was van die rooi Hanekamme. So, ek het grootgeword in hierdie web van verhale, want my ma was ’n manjifieke storieverteller.”
Haar pa, ’n berede polisieman, kom uit ’n volstruisboer-familie. “Hulle het ’n woeste streep in hulle wat ek toe geërf het. En gelukkig nog nie ontgroei het nie,” vertel sy aan Riana Scheepers (Die Burger, 13 Oktober 1993).
Na ’n paar jaar op die dorp tree haar pa uit die polisie en gaan boer op ’n plaas, Eenzaamheid, onder die Langeberge. In 1951, op sestienjarige ouderdom, matrikuleer Petra. Sy het met haar vinger in die sand geskryf voordat sy kon lees en het altyd geweet dat sy ’n skrywer wil word.
Petra se ouers was vertellers, haar ma “’n storieverteller soos min” en die wêreld waar sy vandaan kom, vol storiemense. En as jy oor haar liefde vir die mitologie vra, sê sy dat Homerus se stories vir haar so vanselfsprekend was soos dié van haar pa en ma. Boeke ontdek sy in Swellendam se dorpsbiblioteek. Op 12 lees sy die hele Dickens en Shakespeare, en nie omdat sy dit moes doen nie.
As kind, voordat sy geweet het sy gaan gedigte en kortverhale skryf, het sy al sprokies, raaisels en fantasieë vertel, skryf Riana Scheepers (Die Burger, 13 Oktober 1993). “Ons het grootgeword sonder ’n televisie en radio, maar ons het geluister, én afgeluister, en self vertel. Die ryk wêreld van stories wat om ons vertel is, was ons boeke.”
Riana wou weet hoe ’n soort kind sy was: “Onregeerbaar,” sê sy, “en tot sterwens toe nuuskierig.” En daar is in haar later jare nog altyd ’n sweem van daardie meisie wat in haar kinderjare lang tye in die veld kon rondgespeel het. Hierdie meisiekind wat maar redelik wild grootgeword het, kon vir haarself stories vertel.
Op tienjarige ouderdom word ’n storie van Petra in Die Jongspan gepubliseer en kry sy ’n tjek in die pos. Haar pa raai haar aan om die geld in grond te belê, want “dit loop nooit weg nie”, maar sy koop toe eerder "scent" en ruik lekker. Later koop sy wel haar stukkie grond, want “ek kan nie daarsonder nie.”
Oor watter digters ’n invloed op haar uitgeoefen het, vertel Petra aan Gerrit Brand (Volksblad, 7 April 2005): “Die dorpsbiblioteek in Swellendam het ’n ou Victoriaanse boekery bevat van die Swellendam Reading Circle: pragtige, goedgebonde volumes. Gelukkig het ek op my eie daar ingesak; ek is nie voorgesê nie, en kon alles self ontdek. Tennyson het my geleer dat woorde musiek is. Die musikale komponent is nog altyd die eerste ding. Ek het Shakespeare daar deurgelees, op die vloer. By hom kry jy die gewone volk, die rustics.
“My wêreld was vol sulke mense. Dis nie boekmense nie. Hulle het gepraat uit die Psalms en Gesange, en die Bybel. Ek was ’n verskriklike kraai, wat alles namaak, afluister, onversadigbaar en krimineel nuuskierig is. Van my ma, en uit daardie ongeskoolde praat, het ek oor poësie geleer. Dan was daar Bêrnd van As, ons weerprofeet. Die boere wou ’n keer weet of dit sou reën. Toe sê hy: ‘’n Vroemôre reën en ’n ou vrou se dans hou net ewe lank.’
“Dis Delfies! Ek het dié ‘oertigheid’ probeer behou. Daar is niks nuuts in my poësie nie. Ek gebruik voor-Christelike fragmente. In die voor-Sokratiese digters ontmoet jy die aristokratiese persoonlikheid. Van Wyk Louw se Nuwe verse verbind al dié wêrelde; so ook Leipoldt en Boerneef. Op skool het ons Gezelle gelees – ’n reguit pad in die diepste, diepste mistiek. Dan is daar die Bergpredikasie en die Zen-natuurgedig.”
Verdere studie en werk
Na matriek werk Petra vir ’n jaar as klerk by Nasionale Pers in Kaapstad, waarna sy na die Universiteit van Stellenbosch gaan en haar BA-graad in 1955 verwerf met Afrikaans en Engels as hoofvakke. Direk daarna is sy na Die Burger om as verslaggewer te werk.
Sy trou met Wilhelm Grütter, ook ’n joernalis, en omdat ’n getroude vrou in daardie dae nie toegelaat is om ’n joernalis te wees nie, tree sy uit as verslaggewer. Onder die skuilnaam Magriet Smalberger skryf sy ontspanningsverhale terwyl sy hulle drie seuns, Anton, Herman en Philip, grootmaak.
Petra het vir haar ’n plasie naby Piketberg gekoop waar sy haar intense liefde vir die natuur kan indrink. Sy het haar later in haar lewe gaan vestig by die Lamenier Village van die Nazareth-klooster-hospitaal in Vredehoek in Kaapstad.
Vanaf 1969 is sy vir tien jaar verhaleredaktrise by Sarie en dit is daar waar sy leer hoe ’n storie inmekaar gesit word – iets wat haar later as keurder en skrywer baie help. Vanaf 1980 tot 1989 is sy redaksielid by Tafelberg Uitgewers, waar sy keuring doen en veral werk met die ontwikkeling van jong skrywers. Petra besit die vermoë om skrywerstalent raak te sien en dit te ontgin. By Tafelberg-Uitgewers werk sy in die bellettristiese afdeling en dit bly vir haar ’n wonderlike ervaring om die eerste te wees wat die manuskrip oopmaak en lees. Sy dring dan ook daarop aan dat die manuskripte onoopgemaak by haar aankom, want sy wil dit self oopmaak.
Petra se een broer, Nico, het op 22-jarige ouderdom verdrink en hierdie tragiese gebeurtenis was die impetus wat haar in die rigting van die digkuns gelei het. “Poësie is so ’n intense manier waarop jy probeer om jou smart uit te druk.” (Die Burger, 31 Augustus 2007)
Petra vertel aan Beeld (20 September 2012) dat haar broer se verdrinking “sinneloos” was. Voor sy dood het veral Petra gemeen dat almal vir altyd sou lewe en met Nico se dood het dit vir haar gevoel of die wêreld opgehou draai het. En dit was as gevolg van hierdie verdriet wat sy toe begin gedigte skryf het, maar aanvanklik net vir haarself.
Obool, haar eerste digbundel, is eers in 1977, ongeveer twintig jaar na Nico se dood, gepubliseer. “Ek het nie gedink ek kan ’n gedig publiseer en ’n bydrae maak nie, man. Maar iewers in daai tyd sê ek op ’n dag vir Uys Krige en Jan Rabie, wie ek goed geken het, ek skryf gedigte. Toe sê Uys vir my maar stuur dit vir [die poësie-tydskrif] Contrast. En ek sit toe ses gedigte bymekaar – drie in Engels en drie in Afrikaans.
“En daar publiseer hulle die gedigte – net een het hulle betwyfel – en [die redakteur] Jack Cope het vir my ’n kaartjie teruggestuur waarop gestaan het: ‘Never neglect your talent.’ Ek het nog altyd daai kaartjie. En as ek die dag moeg is vir skryf, dan dink ek net aan daai vier woorde van Jack Cope wat al lank onder die grond lê.” (aan Beeld)
Daar is ’n goeie kombinasie van “eenvoud, gedrae skoonheid en die mitologie” in Petra se werk, skryf die joernalis in Beeld ((20 September 2012). Hierop reageer Petra: “Die probleem met die mitologie is mense dink dis iets fantasties daar anderkant die berge. Die mitologie is hiér. Ou Martin Versfeld het my dit geleer. Hy was ’n wonderbaarlik eenvoudige ou man, maar ’n totaal bevryde siel. In sy kop het ’n spul kennis gesit wat verwerk is.
“Ons het dikwels op sy plasie in daai tweevertrek-kliphuisie van hom gekuier. (Onheilige vriende van ons het dit genoem ‘die broeikamer’ en ‘die stoeikamer’.) As dit koud word in die winter, sit ons ’n halwe boom in die vuur en dan gesels ons met ons kaalpote op die lip van die haard. En daar het hy my geleer – al die groot konsepte, al die groot narratiewe, is goed wat hiér geskied: die wederkoms van Christus is die opkoms van die son; die hemel is as jy vrede in jou huis het en die hel is as julle so baklei dat julle soos katte in die bossies wegraak.
“Maar weet jy wat het Martin Versfeld ook een keer met my gedoen? Ek het vir hom een van my digbundels gegee, ek onthou nie meer watter een nie, en vir hom gevra of hy my sal sê wat hy daarvan dink. En weke gaan verby en ek hoor nie ’n stomme woord van hom nie. Eendag is ek toe weer in daai spelonk van ’n studeerkamer van hom waar die wysheid van die wêreld in sulke bruin volumes teen die dak verdwyn het. Hy’t so ’n katedertjie gehad en ek sien my boek lê daarop. Ek vra toe vir hom: Nou wat dink jy daarvan? En hy sit sy hand so troostend op die boek asof dit ’n kind se kop is en hy sê: ‘Eendag sal jy nog ’n goeie digter word.’ Ek skryf nog altyd agter daardie eendag aan.”
Sy dig ook oor die dood van haar ouers, haar man, Wilhelm Grütter, se afsterwe en vriende soos Martin Versfeld wat ook oorlede is. Hieroor vertel sy aan Murray la Vita (Die Burger, 31 Augustus 2007): “Martin Versfeld het vir my gesê: ‘As dit by die dood kom, word almal behalwe die malles stil.’ Die verlies, daai gat, jy sien hom dán. En die dood word vir jou baie bekend. Hy’s nooit weer ’n vreemdeling as jy hom een keer in die oë gekyk het nie. Ek was al twee keer naby die dood gewees. Water is my ding. Ek kan nie van water af wegbly nie.”
Voor die verskyning van Petra se eerste digbundel, Obool, in 1977, word twee romans, Verlore vallei (1962) en Die windskerm (1963) gepubliseer. Sy volg Obool op met Patria in 1979. In 1980 word Patria met die Eugène Marais-prys bekroon. Van Petra se ander digbundels is Liedere van land en see, My plek se naam is Waterval, Swerfgesange vir Susan en ander en Die aandag van jou oë.
Met die publikasie van My plek se naam is Waterval skryf Joan Hambidge (Die Burger, 3 Desember 1987) dat ná die verskyning van Liedere van land en see (1984) Petra al die eienskappe van ’n besondere digter getoon het en hierdie belofte word bevestig met My plek se naam is Waterval. Hambidge gaan voort: “Hierdie bundel bevat poësie wat getipeer kan word as die soort wat sê: die voël is in die lug; die vis in die water . . . En juis hierom is sóveel verse (dikwels fragmente, ‘stukkies woorde’) omtowerings van bekende Japannese én Sjinese voorbeelde. Die digteres voorsien die leser ook van ’n bruikbare inleiding: ‘Die Sjinese en Japannese gedigte hier weergegee, is nie lettergetroue weergawes van die oorspronklikes nie. Soms word hulle, in ooreenstemming met die Oosterse tradisie van die verbruik van tradisionele poësie, by die Afrikaanse landskap aangepas.’ Poëtiese omdigting is dus hier aan die orde van die dag. Die wind, gras en water blyk die belangrikste simbole (eintlik ding-e) te wees in die Oosterse poësie en hóé hierdie simbole omgedig word, sal vir die leser van die poësie ’n heerlike leeservaring wees. En bely die digteres: die plasie Waterval is ná ’n brand verwoes en daarom het hierdie verse hul beslag gekry. So bevestig sy dan ’n oeroue beginsel dat die poësie (dikwels) uit verlies ontstaan. Ek het lanklaas ’n digbundel gelees wat uitroeptekens in die kantlyn ontlok het. Maar by die lees van Müller se My plek se naam is Waterval, was hierdie leser dikwels só verruk deur ’n beeld (of hele vers) dat ’n kompliment soos ‘pragtig’ of ‘mooi’ onwillekeurig neergepen is.”
Vir Hambidge is hierdie bundel een wat jy stadig moet lees en ook nie alles op een slag nie. Die bundel moet ook geniet word, want dit sal ’n “leeservaring wees wat die moeite” werd sal wees. Hambidge beskou Petra Müller as een van die Afrikaanse poësie se voorstes.
In 1997 verskyn Swerfgesange vir Susan en ander. Dit handel oor afskeid van vriende en ander bekendes en die verdriet wat daarmee saamhang. Geliefde vriende waaroor gedig word, is onder andere Susan Rudnitzky, Eraine Nankin en Martinus Versfeld. En as Petra nie oor hulle geskryf het nie, sou hulle grootliks onbekend in Afrikaans gebly het, skryf Joan Hambidge (Die Burger, 23 Julie 1997).
Sy vervolg: “Swerfgesange vir Susan en ander bevestig Müller se posisie as liriese digter. Sy is nie akademies ingestel nie; eerder spiritueel. En as sy in gesprek tree met ander digters, dan is dit op ’n praatvlak: een mens tot ’n ander. (Terloops, agterop verskyn nie ’n foto van haar nie, maar van Osip Mandelstam (1891–1938).
“Dit is ’n ars poetica van Petra Müller: haar poësie is soos ’n helder landskap. Of dit is eenvoudige weefwerk wat ’n mens imponeer om die helder kleure. Sy het al dikwels oor die Russiese digters geskryf – ek dink hier aan haar gedig oor Martina Tsjwetajewa. Die gesprek met Anna Akhmatowa. En die verdigtings van Osip Mandelstam, die Russiese digter wat in ’n kamp naby Wladiwostok gesterf het tydens die Stalinistiese vervolging. Snags het hy sy gedigte aan sy vrou Nadezjda voorgedra, en sy het dit gememoriseer en sodoende het sy poësie oorlewe. Die bundel praat dan in die idioom van oorlewing.
“Dit is ’n bundel wat sy beslag gekry het in ‘helderte en pyn’. Die digter knoop ook ’n gesprek aan met haar eie poësie en sy word al suiwerder. Die eiesoortige aanslag van Petra Müller se poësie, en die onbekende of minder bekende verwysings wat sy aan lesers voorstel, moenie onvermeld gelaat word nie.
“Haar poësie is uiters sintuiglik. Sy dig aards, konkreet. Dit is iemand wat die wêreld om haar sién. Sy praat terug met Leipoldt, met Boerneef en met Opperman. Vir die leser lê daar ’n leeftyd voor om uit te pluis aan hierdie digter se alfabet (om haar woorde aan te pas.) Dis die moeite werd om saam te reis.”
Vir TT Cloete in Beeld van 8 September 1997 is daar “baie herinneringe in die gedigte, baie onthou, wat ’n vashou, ’n staning of opdam in die swerftog is, daar is ’n opskort of ’n sesuur, ’n klont in die vloei van Herakleitos, ’n duur in die aftik van die tyd, ’n talm in die werklike oomblik. Soos die lewe, word die dood vanselfsprekend met groot intensiteit belewe, soos in die digter se vroeër werk. Van die beste gedigte is aan die een kant vreugdevolle genieting van ’n nietige skoonheid (‘Die vraat’), en aan die ander kant is van die mooiste verse elegies, van ’n mooi droefheid.”
In 2005 ontvang Petra die Hertzogprys vir Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde. Petra se man, Wilhelm, is in 2001 na ’n huwelik van 45 jaar oorlede en hierdie bundel bevat gedigte rondom sy dood en is geskryf tydens sy lang siekbed en na sy dood. Nadat sy gehoor het dat die Hertzogprys aan haar toegeken is, sê Petra aan Anastasia de Vries (Rapport, 3 April 2005) dat sy “skoon verstadig” is. “Verstadig, omdat ‘verstom’ nie haar gevoel so lekker kan beskryf nie. Vandat die bundel verskyn het, sê my vriende en van die digters saam met wie ek werk dat ek die prys moet wen, maar ek het vir hulle gesê hulle moet hul groot monde toehou. Want wen jy nie die prys nie, lyk jy soos ’n pampoen. Die prys is nie iets waaraan ek gedink het nie, want ek het gedink dit lê nog vorentoe. En nou is die toekenning so onverwags.”
Oor Die aandag van jou oë skryf Joan Hambidge in ’n brief aan Die Burger (29 Julie 2010) dat nadat sy die bundel die eerste maal gelees het, “het my hele liggaam begin bewe. Dit was, soos Ted Hughes se Birthday letters, ’n leeservaring wat ek nooit sal vergeet nie. En dit, volgens Emily Dickinson, is die waarmerk van egte poësie. Petra Müller is 75 en haar ‘gedigte vir die liefde’ is bepaald ’n hoogtepunt in die digkuns. Haar lykdigte en hartgrypende verse oor haar gestorwe broer Nico, wat regdeur haar digkuns vibreer, verdien vermelding.
‘met poësie wat inwoon soos ’n mak rot/
in die skuifelende lasvrag van die lyf.’
“Dit staan in die onvergeetlike vers oor Marina Tsvetaeva. Haar gesprekke met buitelandse digters en portrette van skilders en filosowe is eweneens onthoubaar. Haar natuurverse kan ’n mens nooit vergeet nie, nes haar uitspraak dat wanneer jy ’n gedig skryf, dit eenvoudig en in sigself afgerond moet wees soos ’n klip of ’n druppel water, aldus die inskrywing op Poetry International se webruimte. Jong lesers geniet en waardeer ook haar werk in sowel Afrikaans as Engels (Night Crossing het in 2006 verskyn, ’n bundel wat sy vir haar kleinkinders in die buiteland geskryf het). Op 75 drink ons ’n heildronk op haar digterlike kwashale.”
Bernard Odendaal skryf in Die Volksblad (5 Augustus 2002) dat die bundel bestaan uit verse oor die liefde wat, as gevolg van Petra se man, Wilhelm, se afsterwe, algaande meer ontroerend en elegies word. Petra het ook al in Obool en Swerfgesange vir Susan baie suksesvolle elegiese verse geskryf.
Odendaal gaan voort: “Die bestek van ’n resensie kan nie naastenby die volle tematiese en verwysingsrykdom van dié diggeweefde bundel blootlê nie. Trouens, juis die verweefdheid van die persoonlike met ’n verskeidenheid bowe-persoonlike verwysingsvelde werk, deur die interpretasieweerstande wat dit meebring, plek-plek stroefheid in die hand. Die aandag van jou oë is egter ’n besonderse mylpaal in die oeuvre van Müller, waarmee sy ’n werklik uitstaande bydrae tot die Afrikaanse poësieskat lewer”
Petra waag ook haar hand aan die skryf van kinderboeke en Die kind van konings (1968), Klein Wiek se groot pampoen (1980) en ’n Reënboog vir Hannatjie (1990) is die goeie gevolg daarvan. Petra skryf nie net self kinderboeke nie, sy is ook die vertaler van etlike uit Engels, Duits en Sweeds (Die groot sneeustorm, Ferdinand die fluitspeler, Die drie konings, Die lepelboom en Die verhaal van die drie bome).
As kortverhaalskrywer maak Petra haar merk in die Afrikaanse letterkunde met bundels soos Werf in die rûens (1980), Voëls van die hemel (1982), Die dwerg van die Infanta en ander verhale (1993) en In die omtes van die hart (1995).
Die verhale in Petra se eerste twee bundels kortverhale, Werf in die rûens en Voëls van die hemel, openbaar ’n “werklike, plaaslike aardsheid”, skryf Fanie Olivier in Beeld (15 November 1993). Maar met Die dwerg van die Infanta wil dit met die intrapslag blyk (as gekyk word na die titel en die buiteblad) asof die leser met nuwe en minder bekende wêrelde gaan kennis maak.
Dit is egter net waar van die eerste drie verhale van die bundel. Die ander veertien verhale “staan vierkant in ons gemeenskap en byna uitsluitlik in die verkenning van die plattelandse saamleef wat ook in Müller se vroeëre prosa treffend gestalte gekry het. Soek ’n mens na deurlopende motiewe in hierdie ongelyke versameling, lyk dit my dat die hooffigure byna deurgaans voorgestel word as buitestaanders met fisieke of sielkundige gebreke.”
Olivier voel egter dat die skrywer “in die meeste verhale dalk net nie duiwel genoeg (is) om die spanning tussen goed en boos bedrieglik en bedrieglik genoeg hier gestalte te gee nie. Müller is ’n knap woordkunstenaar wat telkens met ’n skerp of gevatte formulering haar tekste kan knoop, of met vaart verder kan stuur. Sy is ’n betroubare verteller (hoewel sy nie altyd die perspektief suiwer hou nie) wat deur die gebruik van enkele woorde (deur haar verteller of in die mond van haar karakters) die taal- en geografiese wêreld van die karakters vaspen en wys hoe Afrikaans pretensieloos lééf.”
In die omtes van die hart en ander verbeeldings is aan Petra se kleinkinders opgedra: “om eendag te lees wanneer sy deel word van húlle stories” (Die Burger, 27 Julie 1995). Met hierdie bundel kortverhale gaan Petra nie net terug na die plekke van haar kinderjare nie, maar ook na die verhale en gebeure van daardie tyd.
Vir Gretel Wybenga (Beeld, 8 Januarie 1996) is In die omtes van die hart ’n baie spesiale bundel wat “van die mees beleë prosa in Afrikaans bevat”. Die bundel bevat 76 “kortverhale” wat dikwels soos poësie klink.
Oor In die omtes van die hart skryf Hennie Aucamp (Die Burger, 27 September 1995) dat Petra Müller met hierdie bundel “die waardige alchemie-tradisie in die vertelkuns voortsit. Sy is ’n moderne Sjeherazade; ’n vennoot van skrywers soos Karen Blixen en Calvino. Op haar beste spin sy goud uit strooi en pers sy attar uit rose. Bundels soos In die omtes van die hart van Müller en Die donker melk van daeraad van George Weideman kom byna as antwoorde op Salman Rushdie se pleidooi dat die oerbron van alle stories teen besoedeling beskerm moet word. Müller en Weideman probeer die begrippe tel en vertel in vertelling heraktiveer; hulle vra, elk op ’n eie komplekse manier, respek vir helder fonteinwater.” (…)
Vir Aucamp is daar ongelukkig verhale in In die omtes van die hart “waar die verteller via toon en aanslag ’n spelbederwer binne eie werk raak. Ek dink aan daardie tekste waar Memórie die verteller na die oerherinnerings van die Westerse beskawing lei, en die verteller ’n Laertes, ’n Kirke, ’n Antigone laat word. Dié identifikasies is al oor en oor deur skrywers aangegaan, en wat sonder uitsondering gebeur, is dat die oermodelle te sterk is vir hul nabootsings. Dié leser is hom bewus daarvan dat hy vooroordele het, en dat sy ontvangs van sekere Petra Müller tekste hierdeur gekleur mag word. Die wêreld van haar ‘wilde verbeeldings’ (sien reklameteks) spreek my met weinige uitsonderings minder aan as die fantastiese wêreld van haar werklikhede; of laat ek dit só stel: ’n werklike wêreld wat deur die magiese vermoë van ’n Petra Müller tot wonderwêreld getransformeer word.”
As Petra self die Hertzogprys aan een van haar boeke sou moes toeken, sou dit aan In die omtes van die hart wees, erken sy teenoor Gerrit Brand (Volksblad, 7 April 2005). Want “dit teken verskillende taferele uit die lewe, en bestaan uit ’n groot reeks transformerende tekste.”
In 1996 ontvang Petra die Leserskring se toekenning as Boekjoernalis van die Jaar. Haar werk word ook in Frans, Nederlands en Russies vertaal.
In 2001 is Petra ook betrokke by die publikasie van Nuwe stemme 2 toe sy as samesteller saam met Nèlleke de Jager optree.
Petra vertel in 2001 aan Breyten Breytenbach in Ja-nee (poësie) op kykNET dat sy op daardie stadium in haar lewe haar gedigte net in Engels skryf. Petra het vir die eerste keer amptelik met Engelse gedigte in aanraking gekom toe sy as kind die biblioteek op die dorp besoek het en dit daar gekry het. Dit was veral die liedjies in Shakespeare se drama wat vir haar bekoor het. “Ek is baie lief vir Engels, maar ek gooi dit nie in my eie taal in nie,” sê sy aan Breytenbach. Sy beskryf haarself as ’n “primitiewe mens”, net soos haar pa was en ook een van haar kleinkinders. Poësie is vir Petra “so eenvoudig as om water te drink” en dit moet “’n deurskouing van die sluiers van illusie” wees, skryf Carel Lessing (Beeld, 3 April 2001).
Petra se eerste bundel Engelse gedigte, Night crossing, word in 2006 uitgegee. Dit was die gevolg van ’n beroep wat haar vier kleinkinders in Kanada op “ouma Petra” gedoen het om tog asseblief iets te skryf wat hulle ook kan verstaan.
In Die Burger (18 Desember 2006) skryf Carrol Clarkson hierdie Engelse bundel ’n interessante skuif is binne die opset van al Petra se werke. “Haar poësie vra nou om ’n gesprek in verband met die werk van ander tweetalige digters. Elisabeth Eybers, Ingrid de Kok, Antjie Krog en Joan Hambidge is van die ander name wat by ’n mens opkom.
Wat die temas sowel as die taalvorm betref, vind Müller se gedigte hul stem in ’n enigmaties liminale ruimte. Die gewaarwording van ’n drumpel, van ‘betekenis in afwagting’, geld ook die leser se ervaring: Die gedigte laat hulle nie eenduidig vertolk nie; resterende betekenisse kan nie netjies afgedig word nie; dis asof die taal bly weerklink nadat die boek toegeslaan is.
“Tematies vleg Müller ’n delikate draad tussen tradisionele teenoorgesteldes, en destabiliseer sodoende die beperkende logika van wedersyds uitsluitende tweedelings. Skynbaar duidelike onderskeide tussen land en see, dag en nag, lewe en dood, taal en die wêreld, word verdof en die begrippe verbeelding ryk herverbind deur die taal van die gedig.”
Vir Clarkson is Night crossing op sy beste wanneer die digter in ’n “eietydse, persoonlike idioom praat – dis die beelding van ‘cellphone souls’, van die ‘bitter backbite of the strong beer’, wat help verhoed dat Engels in Suid-Afrika artrities en vergange raak.”
In 2007 verskyn Desembers, ’n keur uit Petra se kortverhale saamgestel deur Rachelle Greeff. Hierdie bundel is opgedra aan “Charles Fryer, leermeester en bron”, destyds uitgewers by Tafelberg Uitgewers en ’n kollega van Petra. “Ek het ’n dekade lank in die kantoor langs hom gewerk. Hy’t langs jou gaan sít . . . Hy het jou elfuur in die nag gebel oor ’n komma. Vakmanskap. Maar hy het ons almal geleer; hy’t die hele trop van ons daar geleer. Daar het nie destyds ’n boek met ’n drukfout in verskyn nie,” aan Murray la Vita. (Die Burger, 31 Augustus 2007)
Vir Hennie Aucamp is die titelverhaal in Desembers een van die uitstaande verhaal oor hoe om skeppend te werk te gaan in Afrikaans. Petra Müller se verteltrant is nie ingewikkeld nie, maar tog beeldend. Sy slaag daarin om nie pretensieus te wees nie, deur die “subteks aan homself oor te laat” (Rapport, 7 September 2007).
Aucamp vervolg: “Die operatiewe woord by Müller is ‘beeldend’. Wat jou ná jare bybly in ’n Müller-verhaal is ’n bepaalde beeld. Vir my staan van Müller se mooiste poësie in haar kortverhale. Hou in gedagte dat ’n luiperd destyds in die volksmond ’n tier genoem is – en wie vergeet dan ooit hierdie beeld van ’n dooie ‘tier’’? ‘Hy is lig en donker soos hy daar lê, maanlig en skaduwee. Hy leef nie, maar dit lyk of hy leef. Sy patroon vloei om sy kop en bene saam asof hy leef. Sy kop is ’n deel van die boom waarin hy gevind is. Sy liggaam is ’n veld vol donker blomme. Sy dooie oë is twee splete waarin maanlig opdam, vlak soos sanderige poele water.’ In die aangehaalde gedeelte gebeur wat net in suiwer elegieë gebeur: dít wat dood was, mens, dier, blom, boom, herleef in die woord.
“Greeff het uitstekend gekies. Byna al Müller se groot verhale is opgeneem in Desembers: ‘Koendoes’, ‘Engel by die vleiland’, Dis dag, Hans Klou’, ‘Brooddoek’, ‘Junkheap in Oktober’. Een sterk verhaal is ongelukkig nie daar nie, ‘Jerusalem is omgeploeg’ (uit Werf in die rûens), een van die beste tekste in Afrikaans oor Joods-Afrikaanse verhoudings. Maar geen bloemleser kan alle lesers bevredig nie – bloemlees is op stuk van sake ’n subjektiewe onderneming.
“Müller is nie net ’n knap verteller nie. Sy het, soos Wiesa in Joernaal van Jorik, die gawe om ‘die vuurtjie binne alle dinge’ raak te sien, en dit is hierdie vermoë wat aan baie van haar tekste hul blywendheid gee.”
Nadat Wium van Zyl Desembers gelees het, het hy weer eens onder die indruk gekom van hoe ryk en divers Petra Müller se kortverhaalskat is. Desembers beklemtoon net Müller se “ryk prosastem” wat hy hoop nog lank gehoor sal word. (Die Burger, 20 Oktober 2007)
Van Petra se gedigte is ook al getoonset en Die aandag van jou oë is deur Lize Beekman opgeneem en kan op haar CD Draadkar oor die see gehoor word.
Petra se jongste werk is haar digbundel Om die gedagte van geel wat in 2012 verskyn het. In ’n onderhoud met Melanie Grobler op Versindaba vertel Petra oor hoe sy (in die algemeen) te werk gaan as sy skryf aan ’n nuwe bundel, maar ook spesifiek toe dit Om die gedagte van geel gegaan het.
Petra vertel aan Melanie Grobler dat haar redakteur, Francois Smith, wat sulke goeie werk doen, moes in gryp om Om die gedagte van geel korter te maak. Sy wou by Petra weet watter impak dit op die bundel gehad het.
Petra se antwoord: “Ek het opgemerk in my laaste twee digbundels dat my gedigte soos ’n jaghond in kringe loop. Ek skryf die gedigte oor maande of jare en as dit tyd word vir ’n bundel pak ek die verse uit op ’n tafel of op die vloer waar ek hul rondskuif sodat een gedig op die ander volg. Weldra begin die een na die ander tema ook na vore tree; temas verander van bundel tot bundel. In my vorige bundel was dood ’n sterk aanwysende tema. Maar hier het geel na vore gekom en word dit ‘n bundel van die lewe. Opwindend vir die digter om te sien wat uit die onbewuste na vore tree. Geel is oorheersend: die skildery op die voorblad is lewendig geel, ek skryf oor die son as bron van energie, die sonblom, die graanvelde van die Overberg, die lemoen, die lemoenboorde, die lemoenduifie en die geel lappe waarvan my ma klere gemaak het. In die namiddag het sy so gesit in die sagte lig van die son en dan op die naaimasjien gewerk. Geel kring uit en word die titel van die bundel. Ek werk op ’n organiese wyse, dig totdat die interne goed na vore tree. Die gedigte vermenigvuldig en word soos deeg wat uit ‘n kom uitrys. Dit word onhanteerbaar. My redakteur, Francois Smit, neem van die gedigte weg. Daarna moet nuwe hegtinge gemaak word sodat niks los staan nie. Die hele proses verbeter die bundel.”
Petra vertel verder aan Grobler dat Om die gedagte van geel ’n verhaal geword het – daar is ’n begin, ’n middel en ’n einde en dat daar ook karakters daarin is. Dit vertel die verhaal van ’n dogter wat opgroei met ’n pa wat eers polisieman was en toe ’n boer met sy eie plaas naby Swellendam. As kind het die meisiekind pal weggeloop en in die bundel vind die leser gedigte oor “paadjies en waterslote”.
Spesifieke mense kom ook in die gedigte voor, soos die pa en ma wat altyd daar is. “Dan is daar iemand met ’n demoniese geaardheid, Mal Elsie. Ander figure wat opgeroep word is Hanna Bladcher, ‘n Jodin, ‘n ouer vrou en Harold, ’n gespreksgenoot. Hanna het groot donker oë soos ’n panda, ‘n wyse vrou. Reis saam met haar in Sjina, deel ’n kamer met haar. Terug in Kaapstad word ons vriende. Elsie, die draer van my biografiese gegewe kom sterk na vore. Dis die storie van ’n kind wat groot word, van jeugliefde, en grootmens hartstogte, verliese.
“In die volgende afdeling word daar weg gespring na Griekeland, na Ceres, die Godin van Graan en die tema van geel, ’n verbinding met die wêreld waar die kind groot word met die alomteenwoordigheid van geel. Ek moes by die vader gode verby na die moeder gode. Die digbundel is verhaalmatig; geen vry-swewende gedigte met ’n bepaalde liriese element nie. Die werk staan op ’n manier nader aan die nuwer digkuns wat genoem word ‘gewone praat poësie’. Die karakters praat gewoon en daar is nie bewysbare poëtiese konstruksies nie, maar eerder stories wat iets wil openbaar. WA de Klerk het destyds ’n opwerking gemaak oor die digterlikheid in my verhale en iets verhalend in my gedigte. In In die omtes van die hart is daar sprake van impressiewe prosa wat neig na die poësie. In hierdie bundel is die gedigte verhalend.”
Melanie Grobler (Versindaba) vra Petra nader uit oor die magiese in Om die gedagte van geel: “Magiese goed is dit wat saam met kinders gebore word en wat hul vir ’n tyd saam met hulle dra. Dan begin hulle die realiteit deur taal ervaar. Maar vir ’n lang tyd bly die magiese en dan beweeg dit weg en dan word die kinders deel van hierdie wêreld. Ek is een van die mense wat in ’n groot mate in die kinderwêreld vas gesteek het. Het die kinderlike magiese kwaliteite behou en op ’n manier is ek nog altyd aan die speel. Dit is wat die magiese is, ’n vrye toegang tot die moontlikhede van die wêreld, tot fabulasie, tot die geweldige verlenging van betekenis wat mens in die simboliese wêreld vind. As mens oud word keer mens terug na daardie ding toe; mense word mos kinderlik, op ’n mooi manier en die ‘getier’ van die wêreld val weg en hulle word weer eenvoudig. Ek self is baie kinderlik en soms ook kinderagtig en is op my gelukkigste as ek met klein kindertjies speel. Miskien het iets hiervan oorgebly in die gedigte. Ek sal bly wees as dit die geval is.”
Met die bekendstelling van Om die gedagte van geel het Petra die skildery van Neil Armstrong wat as omslag vir die bundel gebruik is, saamgevat om vir die gehoor te wys. Vir Petra het die skildery aanleiding gegee tot haar denke en die daaropvolgende skrywery oor geel. Die sewe telefoonpale in die skildery kan beskou word as ’n belangrike “bindingselement” in die bundel, aangesien die bundel in sewe afdelings verdeel is. Die eerste afdeling is dan ook getitel “Telefoonpale”. (Bibi Slippers, LitNet)
Daar is rondom 187 gedigte in Om die gedagte van geel wat beteken dat dit ’n redelike dik bundel is. Fanie Olivier (Rapport, 31 Augustus 2012) skryf dat daar ’n wye verskeidenheid gedigte in so ’n lywige bundel is: “Soms is daar vrye vers wat herinner aan die sogenaamde praatpoësie (maar tog telkens met sterk klankbinding); oorwegend is egter die indruk van losser liriese gedigte waar veral teen die slot met rym geknoop word.
“Die geel waarvan die bundeltitel praat, is iets wat as ’n sentrale gegewe deur die hele bundel loop. Reeds in die bandontwerp met Neil Armstrong se skildery word die leser daarmee gekonfronteer en telkens kom ons dit weer teë: As kleur in die landskap wat die spreker in die gedigte omring, as teken van die son en warmte, vuur uiteraard en as aanduider van rypwording. (…)
“Daar is in hierdie bundel, soos mens kan verwag in so ’n opgawe, mindere gedigte. Maar selfs daar bly jy as leser bewus van die ongewone in die gewone, die oënskynlik lewelose dinge wat vol lewe is; wat met oop oë en vingers deur die digter raakgesien en in verwondering in gedig op gedig gestalte kry of aan die woord kom.
“Om die gedagte van geel is ’n oorweldigende bundel. Nie op die wyse waarop byvoorbeeld Breyten Breytenbach se oorweldigende bundels jou asemvoete onder jou uitslaan nie, maar op ’n rustiger wyse, sodat jy saggies asemhaal en prewel omdat hierdie verse jou laat besef: ‘Is ons nie ’n mooi gedig vir onsself nie’.”
Vir Marius Crous (LitNet) lees Om die gedagte van geel “soos ’n impressionistiese skildery. Dit is die werk van ’n beleë digterskap en sal net soos sy voorgangers sedert Liedere van land en see vir lesers visueel en intellektueel stimuleer.”
Petra was vir baie jare ’n baie kundige resensent in koerante en tydskrifte, maar na haar man, Wilhelm, se dood in 2001 het sy die praktyk gestaak, “want ek het gedink: wat het ék nou soveel te sê oor ander mense se werk. Ek sal nie maklik weer klompe resensies skryf nie. Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Jy moet élke woord tel. Jy weet, kreatiwiteit is ’n lewende ding, ’n organiese ding. Jy moet versigtig wees vir organiese prosesse; hulle vang jou. Ek dink enige vorm van kreatiewe lewe het absoluut iets onberekenbaars daaraan. En dít is wat my trek. Die wilde gedeelte daaraan. Want ek is eintlik nog maar ’n halfmak mens. Ek het nog nooit mak geword nie. Ek wil dit ook nie wees nie. Dit is ’n streep wat in my familie is,” aan Murray la Vita (Die Burger, 31 Augustus 2007).
Petra beskou nie gedigte skryf as werk nie, vertel sy aan Anastasia de Vries (Rapport, 3 April 2005). Sy is ook deeglik bewus daarvan dat daar ander digters is wat glad nie van hierdie stelling sal hou nie. “Dis net iets wat ek doen, soos brood eet, want skryf is vir my gewoon net lekker. Werk is mos iets wat vir jou swaar is. As iemand my sou vra om ’n ete vir twintig mense te kook, slaan ek net daar dood neer. Dit is werk. Digkuns is nie werk nie. Dis ook nie iets om oor huis toe te skryf nie. Want die digter is eintlik ’n afhanklike, iemand wat die aarde bewandel en mense beluister wat nie eens besef hulle praat poësie nie.”
Ná sy onderhoud met Petra sluit Murray la Vita só af: “Sy praat oor haar plasie waar sý ’n storie geword het wat daar ronddwaal; oor hoe sy as kind in die nag onder haar bed met ’n kers weggeraak het in die wêreld van lees; die Zen-kern van die Bergpredikasie; hoe die Boeregrap vry maak; die gewone mens as held; heersers wat stadigaan mal word; drome wat verlei; haar kleinseun wat taal ontdek. Om ouer te wees is lekker, sê sy. En fluister: ‘Jy kan maak wat jy wil.’”
Met Petra se 75ste verjaardag het Willem de Vries (Die Burger, 27 Julie 2010) met persone gesels wat Petra goed ken. Charles Fryer het in die 1980’s saam met Petra by Tafelberg Uitgewers gewerk: “Petra is ’n onblusbare 75. As Dalene Matthee nog hier was, sou sy gesê het: ‘Skaam jy jou nie voor die Here dat jy nie ouer word nie?’ Maar dit het te doen met goeie gene en blymoedigheid wat elke dag opnuut sprankel. Petra het ’n ingebore wysheid, ’n springbron van onbesoedelde menslikheid, wat met die jare net toegeneem het. Die wens wat ek vandag vir Petra het, is om die lewe te vier in sy heilige aardsheid. En vir vorentoe: Skryf nog poësie wat asemhaal, wat die stilte besweer – die stilte wat ons omsluit ten spyte van ons baie woorde, ons strome klank, die stilte van ons onbeantwoorde vrae, van ons dooies, van die misterie van God.”
Toe Petra die Hertzogprys vir Die aandag van jou oë in 2005 ontvang het, het Louise Viljoen oor haar digkuns gesê: “Petra Müller is ’n waardige genoot vir ... Louw se Tristia, dele van Breytenbach se werk, Cussons se Die swart kombuis en Opperman se Komas uit ’n bamboesstok.”
Jeanne Goosen het vir Petra in die 1970’s ontmoet tydens Petra se tydperk by Sarie as verhaleredakteur: “Daar bestaan net een pil wat werk teen sinisme en dis Petra Müller.”
Hennie Aucamp het Petra beskou as ongetwyfeld een van die uitmuntendste kortverhaalskrywers in Afrikaans. “En as ek dit sê, kyk ek terug oor meer as ’n eeu. Op haar beste skryf sy ‘klassieke’ verhale wat haar in geselskap van Jan van Melle, ID du Plessis, Abraham H de Vries, Elise Muller en ander ‘groot kanonne’ plaas. Is dit toevallig dat sy verlangs verwant is aan Elise Muller wat die Hertzogprys vir haar kortverhale gewen het? Ook Petra sou dié gesogte prys vir haar verhale kon verower het. Sy hét die Hertzogprys gewen, maar vir haar poësie, wat vir my op ‘poëtiese geregtigheid’ neerkom: Is die kortverhaal in die hand van ’n meester nie ook maar poësie nie?
“In ’n telefoongesprek het Petra onlangs vir my gesê: ‘Om die menswetenskappe te verstaan, moet jyself mens wees’. Met ’n toegewing hier en daar sou ’n mens kon beweer die letterkunde is by uitstek ’n menswetenskap. Het Terentius nie al gesê: ‘Ek is ’n mens: niks mensliks is aan my vreemd nie?’ Party skrywers is gelukkiger as ander: Hulle is vroeg al geskool in die menskunde. Petra se vader was ’n polisieman, en van hom het sy twee van haar allermooiste verhale gekry: ‘Dis dag, Hans Klou’ en ‘Brooddoek’. Verder het sy in landelike omgewings grootgeword, dié van die Overberg, en MER en Anna Rothmann baie goed geken: mens-mense. Maar die inkyk in die psige van die medemens, dié het Petra verfyn tot iets wat bó wetenskap uitgaan, en wat by gebrek aan ’n woord kuns moet heet. Die kuns, onder meer, van mededoë, van oorwoë vertel, met besondere aandag aan toonwaardes.”
Nèlleke de Jager, uitgewer, en saam met Petra Müller het sy ook Nuwe stemme 2 saamgestel, praat as volg oor Petra: “Dit sou moeilik wees om haar bydrae tot veral die Afrikaanse boekebedryf na waarde te skat. Ontelbaar hoeveelheid skrywers het al by haar insig en kundigheid gebaat? – om maar ’n paar op te noem met wie ek al saam gewerk het: Pat Stamatélos, Kgebetli Moele, Ilse van Staden, Anchien Troskie (die skrywer van Dis ek, Anna). Die boekebedryf sou sowaar ’n leër, dowwer plek sonder Petra gewees het.”
Riana Barnard, ’n uitgewer van Tafelberg-Uitgewers, sê: “As uitgewer is sy sekerlik een van die onbesonge helde. Sy is wel in 1995 bekroon as Boekjoernalis van die Jaar, maar haar bydrae tot die uitgewersbedryf het hoofsaaklik ágter die skerms geskied. Oor menige manuskrip wat onopvallend in ’n plastieksak op haar tafel land en uiteindelik topverkopersukses behaal, plaaslik én in die buiteland, daaroor praat sy nié. In die tien jaar dat sy vir manuskripontwikkeling by Tafelberg verantwoordelik was, is publikasies van dié uitgewershuis nege keer met die Eugène Marais-prys bekroon.”
Abraham H De Vries, samesteller van Die Afrikaanse Kortverhaalboek, sê: “Wie van Müller se sensuele, malse, aardse verhale net die ‘kontrei’- aspek raaksien, mis die skagte insig in die menslike toestand. Ja, natuurlik is die werwe van haar wêreld die glooiinge van die Rûens. Maar die bestes stuur nie af op die omtes van die kontrei en sy knoetsige bewoners nie, maar op die intes van ons gedeelde menswees: In die ‘hulle’ skuil daar telkens ’n ‘ons’.”
Met Petra se 80ste verjaardag in 2015 het skrywers ter viering die volgende oor haar geskryf:
- Cas van Rensburg: “Sy het ’n onuitputlike bron van veld- en menseverhale, kan diep delf in die letterkunde, die moderne gedagtewêreld en soms selfs ons hartsake. En dan, altyd as die see daar onder oop lê, altyd die versnapering: ’n vet, sappige boeregrap, meesterlik vertel met stout oë wat onder die slap rand van die hoed loer. Kort ná Wilhelm se dood het sy sowat ’n maand in die huis agter myne in Vermont kom woon terwyl sy aan die bundel Die aandag van jou oë gewerk het. Nooit is een woord oor Wilhelm gesê nie, maar elke oggend vroeg het die laphoed by my venster verbygekom op ’n lang wandeling na die see. Alleen. Met groot empatie het ek en die honde haar agternagekyk. Wie het nou ooit kon dink dat ’n laphoed ’n vriendskap kan definieer? Eintlik meer as vriendskap, want voor in Die aandag van jou oë het sy geskryf: ‘Vir my liewe kleinboet, Cas, op ’n reënerige Sondag.’” (Die Burger, 27 Julie 2015)
- Joan Hambidge: “Sy is soos háár mentor, Martin Versfeld, iemand sonder tierlantyntjies en fieterjasies. Tereg is sy bekroon met die Hertzogprys in 2005 vir haar deurgekomponeerde bundel Die aandag van jou oë. En almal wat Petra ken, weet hóé sy jou met ’n kompromislose, geen-nonsens-blik kan uitkyk. Haar kennis van opera en lieder is merkwaardig. En kuiers saam met haar en haar eggenoot, oorlede Wilhelm Grütter, het altyd gewissel tussen die grappige en die diepsinnige; die skunnige en die Verhewe Gedagtes. Boereadel, in die oorspronklike sin van die woord: mense van die land. (…) Petra se belesenheid en haar kennis van Osip Mandelstam en vele ander digters is indrukwekkend. Geluk aan jou vriendin. Jy wat vroedvrou is en was vir soveel skrywers deur soveel jare. En wat ons digkuns verryk het met jou aardse, aangrypende verse wat die aandag van ons oë opeis. En ook dank ek jou vir jou lewenswysheid.” (Die Burger, 27 Julie 2015)
- Melanie Grobler: “As ’n mens die dag gelukkig is, vertel Petra Müller jou van die stories van die Overbergse stoepsitters. Die mense van Müller se kindertyd het op die stoep gaan sit en dan het hulle die wêreld verken deur verhale te vertel of ’n relaas te gee van wat hulle dié dag gedoen of wat hulle gehoor het. As jy mooi luister na die stoepsit-geselsery word jy bewus van ritmes en frases. Dan hoor jy die koning wat aan Odusseus gesê het: ‘Kom sit nou hier en vertel my wie is jy.’ Dan lewer jý ’n relaas van jouself, waar jy was en wat jy gedoen het, wat die verskuiwings en verskrikkinge is wat jou oorgekom het, net soos Odusseus dit vertel het. Dis ’n deurlewing van tyd, persoonlike tyd wat in daardie narratiewe na vore tree, meen Müller. (…) Vir die besprekings van boeke vir leeskringe onderneem Müller groot studies. Sy is ’n ware, nederige intellektueel en openbare figuur en word gereeld gevra om lesings aan te bied. Sy dra kennis van die jongste biologiese navorsing en is ook ’n skerp analitiese ontleder van die politiek.” (Die Burger, 27 Julie 2015)
Petra Müller word in 2016 deur die KKNK vereer met die toekenning van die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys vir Lewensbydrae. In die commendatio is gesê dat dit veral vir haar invloed op die Afrikaanse literatuur in Suid-Afrika is. Maar dit is ook ’n lewensbydrae wat nie tot prosa en poësie beperk is nie en ongetwyfeld sal voortleef. As redakteur toon sy haar sensitiwiteit vir die taal, asook vir die misterie van skryf. (https://en.calameo.com/read/002811018c6e890b26e57)
Petra het aan die KKNK gesê dat sy kinderlik opgewonde oor die prys is: “Dit laat my dink aan my ouma wat moedeloos agter ’n stout Müller aangepraat het en gewonder het wat tog eendag van die kind gaan word. Ek is baie bly daar het tog iets van die kind geword.” (https://en.calameo.com/read/002811018c6e890b26e57)
Petra Müller het ook aan Hettie Scholtz (Beeld, 22 Maart 2016) gesê: “Dis ’n baie goeie aankoms vir ’n wegloopkind! Ek sê nou nog vir myself: Word groot! Die tyd is wel min om groot te word, maar ek voel uiteindelik oud genoeg om met my kopgrotte te praat. Maar ek gee altyd bietjie pad as mense met my wil praat oor my skryfwerk, want ek wéét my voormense sit vir my en luister …”
Petra Müller is op Vrydagoggend 25 Junie 2021 in Kaapstad oorlede.
Huldeblyke:
- Amanda Botha, boekjoernalis: “Sy was gewis haar Overbergse voorgangers MER, Con de Villiers, Susanne van Rensburg en Audrey Blignault waardig. Haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde het onder meer gelê in haar vlymskerp insig en intuïsie. Sy kon talent dadelik onderskei en het ’n onmiddellike aanvoeling gehad vir ‘die regte titel’. Sy het ’n insig en aanvoeling gehad wat deur skrywers en lesers vertrou is. As digter het sy gewoeker om die raak woord te vind en in haar kortverhale het sy met haar Overbergse agtergrond haar karakters geken en ingeklee in die idioom van haar wêreld.” (Netwerk24, 25 Junie 2021)
- Rachelle Greeff, skrywer: “Petra Müller was my skryfma. Sy het my aangemoedig met klein, handgeskrewe briefies wat na my huis in Nuweland gepos is voordat my debuutbundel verskyn het. Sy was so entoesiasties oor ’n mens, maar sy het ’n ding by die naam genoem en het nie nonsens gepraat nie. Sy het geen airs gehad nie. Sy was ’n gewone mens van die aarde wat vir jou tee gemaak het en vertel het hoe om lekker sop te maak. Sy het nie Foucault of so aangehaal nie, maar sy was ontsaglik belese en slim.” (Netwerk24, 25 Junie 2021)
- Annari van der Merwe, ouduitgewer: “Müller het ’n unieke styl gehad. By Tafelberg-Uitgewers het ek altyd met verwondering haar briewe aan skrywers wat manuskripte voorgelê het, gelees. Sy het die saak ver gaan haal, die voorlegging eers in ’n literêre konteks geplaas, dikwels die skryfwerk vergelyk met indrukwekkende groot name, plaaslik of internasionaal. Sodat wanneer sy by die slegte nuus kom dat die manuskrip helaas nie vir publikasie aanvaar kan word nie, was die skrywer waarskynlik so ingenome met die konteks waarin dit beoordeel is en die sagte manier waarop die verwerping oorgedra is, dat dit meestal as bemoediging ervaar is.” (Netwerk24, 25 Junie 2021)
- Hannes van Zyl, ouduitgewer: “Petra is, soos haar naam sê, ’n rots van ’n vrou. Haar werk, sê sy self, is nie van ons tyd nie … dit is gekap uit ou klippe, is klipperig soos ’n antieke pad … Aardse beelde in haar werk, klip en rots, versamel betekenis met tyd, van teks na teks. Dié beelde, soos klippe glad en rond gevryf in water, vertel van tydsame prosesse, is óú kennis van die aarde. Wanneer die son op water blink waar dit oor die klippe loop, ervaar ons die wonder en misterie van ’n oneindige proses in ’n oomblik. Petra se fyn aandag by die onmiddellike skep ’n primitiewe onmiddellikheid. Dit is tegelyk ’n ruim en ’n belese belewenis van die aardse, en ontsluit geskiedenisse, verhale en kuns. In Louise Viljoen se woorde, die maniere waarop mense oor geslagte heen hul saambestaan op die aarde moet uitwerk. Petra se werk beliggaam ’n bewussyn van aandag, van noukeurig en sorgsaam bedag wees op die oomblik en die fyn besonderheid. Dit gee aandag aan dit wat mense dikwels verkies om nie raak te sien nie. Dit is aandag in die oomblik, met ’n deurleefde kennis van die oeroue en die oneindige. (Deel van Hannes van Zyl se toespraak by die bekendstelling van Die aandag van jou oë in 2002 op die Hidding-kampus van die Universiteit van Kaapstad.) (LitNet)
- Hettie Scholtz, ouduitgewer (met die toekenning van die KKNK Afrikaans Onbeperk-prys aan Petra vir haar lewensbydrae): “Gedigte is vir Petra Müller soos dolfyne. Hulle kom uit die dieptes op, speel met die elemente. Dit geskied vinnig, anders is hulle weg. Eers wanneer haar gedigte liedere word, is sy daarmee tevrede, wanneer hulle sing soos dolfyne. Dit het te make met frekwensie, glo sy, waar jy moet wees op daardie oomblik. Momenteel hóórbaar.
“Haar verhale weer is dun, helder membrane waaragter hele wêrelde skuil. Hier is ’n skrywer wat taal tot uiterstes span en strek, en dan soepel in die mooiste patrone ’n plek laat kry. Nog ’n uitstaande kenmerk van haar werk is haar erbarming met haar karakters.
“Vir menige Afrikaanse skrywer wat onder haar hand gepubliseer het, is Petra die Delfiese orakel. Een met die sonderlinge vermoë om die kollektiewe gedagtestroom raak te sien soos dit by skrywers aandoen. By haar het skrywers deur die jare geleer dat mens nie voor die groot donker in jou werk stop nie, maar dat jy daar ingaan, vreesloos daarin skryf.” (Beeld, 22 Maart 2016)
Publikasies:
Publikasie |
Verlore vallei |
Publikasiedatum |
1962 |
ISBN |
Geen |
Uitgewer |
Johannesburg: Dagbreek-Boekkring |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die windskerm |
Publikasiedatum |
1963 |
ISBN |
Geen |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die kind van konings |
Publikasiedatum |
1968 |
ISBN |
Geen |
Uitgewer |
Kaapstad: John Malherbe |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Obool |
Publikasiedatum |
1977 |
ISBN |
0624010570 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Patria |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0624013278 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Eugène Marais-prys 1980 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Werf in die rûens |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624014002 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Klein Wiek se groot pampoen |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
0624014703 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Voëls van die hemel |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
0614018628 |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Liedere van land en see |
Publikasiedatum |
1984 |
ISBN |
0624021238 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
My plek se naam is Waterval |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
0624024784 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
’n Reënboog vir Hannatjie |
Publikasiedatum |
1990 |
ISBN |
0624027643 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die dwerg van die Infanta en ander verhale |
Publikasiedatum |
1993 |
ISBN |
0624032221 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
In die omtes van die hart |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
0624034259 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Swerfgesange vir Susan en ander |
Publikasiedatum |
1997 |
ISBN |
0624035727 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0624041042 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Hertzogprys vir Poësie 2005 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Night crossing |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0624044645 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Desembers. Saamgestel deur Rachelle Greeff |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9780624045519 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Om die gedagte van geel |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
9780624054467 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
As Magriet Smalberger
Publikasie |
Die elande van Kruisberg |
Publikasiedatum |
[195-?] |
ISBN |
Geen |
Uitgewer |
Johannesburg: Dagbreek-Boekkring |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Hy wat die goud bring |
Publikasiedatum |
1966 |
ISBN |
Geen |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die koue vuur |
Publikasiedatum |
1970 |
ISBN |
Geen |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Tant Madeleine se somer |
Publikasiedatum |
1974 (Grootdrukuitgawe) |
ISBN |
0909231044 |
Uitgewer |
Pretoria: Makro |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Sanlamprys vir Afrikaanse Teater |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die Magriet Smalberger-omnibus |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
07981113170 |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Petra Müller as redakteur:
- Nuwe stemme 2. Saam met Nelléke de Jager. Kaapstad: Tafelberg, 2001 [ISBN 9780624040170 (sb)]
Petra Müller as vertaler:
- Baumann, Kurt. 1982. Die drie konings: ’n Kerslegende. Kaapstad: Tafelberg.
- Godden, Rumer. 1969. Die muisvroutjie.
- Hunt, Angela Elwell. 1990. Die verhaal van die drie bome. Kaapstad: Tafelberg.
- Palmer, Mary B. 1967. Die lepelboom. Saam met Wilhelm Grütter. Kaapstad: John Malherbe.
- Peterson, Harold A. 1975. Die groot sneeustorm. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Watts, Bernadette. 1975. Ferdinand die fluitspeler.
’n Keur van artikels deur en oor Petra Müller beskikbaar op die internet:
- 2016 se Afrikaans Onbeperk-pryswenners
- Botha, Danie: Herinneringe aan Petra
- Brand, Gerrit: Petra “in toestand van poësie”
- De Vries, Anastasia: Petra Müller kry die Hertzog-prys
- De Vries, Willem: Petra Müller op 75 onblusbaar
- Foster, Ronel: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (LitNet)
- Grobler, Melanie: Petra Müller 80: “Soetlief, kom ek lees vir jou ’n gedig van Rumi”
- Grové, Stefans: Simfoniese gestalte verleen aan Müller-gedig
- Hambidge, Joan:
- Jacobus, JCJ: Bybelse verwysings in die poësie van Petra Müller
- La Vita, Murray: Petra Müller: die vrou wat nie wil mak word nie
- Lessing, Carel: Petra Müller dig nou net in Engels
- Meyer, Susan: Ingeplaaste skryf as vergestalting van ekosentriese ingesteldheid in Petra Müller se verhaalkuns
- Meyer, Susan: Natuur en (skrywende) mens: Petra Müller se verhaalkuns binne die raamwerk van letterkunde as kulturele ekologie
- Mittner, Esme: Petra het “’n glasie te veel van die fontein van die jeug”
- Om agter eendag aan te skryf
- Petra Müller in Kaapstad oorlede
- Müller, Petra: In memoriam: Charles Fryer
- Müller, Petra: Translations in English; by the author and Charl-Pierre Naudé
- Pople, Laetitia: Bekroonde Petra Müller: Vlymskerp, maar “sonder airs”
- Scheepers, Riana:
- Scholtz, Hettie: Die vrede van gedigte wat sing soos dolfyne
- SkryfNet II: Inwonende skrywer (LitNet)
- Smith, Francois:
- Strutt, FC: Kindverwysing in die poësie van Petra Müller
- Van Rensburg, Cas: ’n Onuitputlike bron van veld- en menseverhale
- Van Rooyen, Nanette: Petra Müller (LitNet)
- Van Zyl, Hannes: Petra Müller: “’n mengsel van die sublieme en alledaagse”
- Van Zyl, W: Bespreking van "Junkheap in Oktober" uit Douspoor, saamgestel deur Rudi Daniels en Gordon Julies (LitNet)
- Voorlesing van Petra Müller se gedigte by Woordfees 2016
- Greeff, Rachelle: Sondagoggend en nege Post-its van Petra
Biografiese artikels oor Petra Müller op die internet
Gedigte en artikels deur Petra Müller beskikbaar op die internet
- Versindaba: Gedigte
- Petra Müller oor Rumi: een van die Dansende Digtersfees se beskermfeeste
- Die roman wat Tsjechof nié geskryf het
- Skrywersberaad – Wat wild is, en wat mak (LitNet)
- Müller, Petra: Winderige lente [gedig]
Petra Müller se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2014-05-18 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Kan `n mens hierdie stuk in verkorte vorm kry of anders?
Hierdie stuk is slegs as geheel beskikbaar - LitNet
Lief en sag verder reis, Tannie. En dankie vir die insigte ...
Ek het vir Petra in 94 vlietend ontmoet. ‘n Meesterverteller in ‘n eenvoudige Swellendamse sitkamer waar haar ryke woord die Overbergse herfs nuwe kleure laat kry het en die Russiese kulturele landskap beklee het met rûenshumor. Ek het geweet ons paaie sou nooit weer kruis nie. Dit het, deurlopend, en dit sal.