Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging onder redaksie van Karen de Wet – ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 1

Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging onder redaksie van Karen de Wet
Naledi
ISBN: 978-1-77617-258-0

 

1.

Soveel vreugde het ek in die huldigingsbundel vir Petra Müller gevind, soveel bekommernisse. Saam met die opdrag kom ook die versoek van LitNet dat die essay vanuit ’n bepaalde teoretiese oogpunt benader moet word. Ek moes uiteindelik besluit op geen teoretiese uitgangspunt nie, weens ’n problematiek wat ek weldra sal verduidelik. Genoop om deur die bril van ’n ouduitgewer van Afrikaanse boeke daarna te kyk as ’n flitsende rooi waarskuwingslig binne ’n spesifieke kulturele en taalsfeer, wil ek die vraag aanspreek oor die erns van Afrikaans-lesendes om die hele literêre korpus toeganklik te hou vir toekomstige geslagte.

.............
Genoop om deur die bril van ’n ouduitgewer van Afrikaanse boeke daarna te kyk as ’n flitsende rooi waarskuwingslig binne ’n spesifieke kulturele en taalsfeer, wil ek die vraag aanspreek oor die erns van Afrikaans-lesendes om die hele literêre korpus toeganklik te hou vir toekomstige geslagte.
...............

As skrywer is ek uiteraard daaroor besorg, maar ek moet my haas om by te voeg dat dit vir my eerder gaan oor daardie deel van die gepubliseerde skatkis wat vóór die era van digitalisering gekom het.

 

2.

Die probleem het sig gepresenteer toe ek Karen de Wet se “Vooraf” in die begin lees, en afkom op die enigmatiese opmerking: “Onstilbaar op die noot van E#”. Ek onthou dat E-kruis en F dieselfde noot is, maar wanneer daardie noot in ’n drieklank figureer, verskil E-kruis se twee vennote kwaai van F s’n. Dit is ’n kwessie van konteks, en sowel klassieke komponiste as jazzmusici het dit met groot vrug en vondste benut.

Wat wil De Wet daarmee suggereer – dat ’n mens by Petra Müller se werk bedag moet wees op dubbelsinnigheid, op meelopende moontlikhede, of, gode behoed ons, die modieuse parallelle bestaansfere van ons era? Ek het haar gebel, en haar antwoord het my laat wakkerskrik.

 

3.

In die eerste dekade waarin Suid-Afrika ’n televisiediens gehad het, het koerante gereeld resensies oor die vorige aand se vermaaklikheid of stigtelikheid gepubliseer. Op ’n aand moes Deon Viljoen, die kunskritikus van Die Burger, diens doen. Toe hy sy motor gaan sluit, het die wind die huis se deur agter hom toegeklap, en was hy by die huis uitgesluit. Hy het deur die venster na die TV gestaan en kyk, maar vir homself rympies gemaak oor wat die pratende koppe vir mekaar sê, en toe sy vrou later die aand van ’n afspraak terugkeer, het hy ’n resensie geskryf waarin hy werklikheid en die fantasieë wat hy daaroor gemaak het, met mekaar probeer versoen het. Baie prakties, maar Die Burger se redakteur (die Vrystaatse humoris Wiets Beukes) was glad nie daarmee beïndruk nie.

Karen de Wet (foto: https://www.litnet.co.za/skrywersonderhoud-karen-de-wet-oor-die-bloemlesing-vers-vrou/)

 

Ná my gesprek met Karen de Wet het ek besef dat ek u, my geduldige leser, in Wiets Beukes se posisie sou plaas as ek Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik sou resenseer sonder Petra Müller se publikasies byderhand. Dit is die eerste en belangrikste oorweging by ’n publikasie van hierdie aard. Die leser moet onmiddellike toegang hê tot die werk onder bespreking.

..............
Dit is die eerste en belangrikste oorweging by ’n publikasie van hierdie aard. Die leser moet onmiddellike toegang hê tot die werk onder bespreking.
................

Dit spreek vanself dat huldigingsbundels soos hierdie een gevoed sal word vanuit die geledere van akademici, en tot ’n verstaanbare mate gerig sal wees op hul geledere, buiten natuurlik die toekomstige bestudeerders van Afrikaanse letterkunde. Hoe anders met ’n publikasie onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns?

Namate my lees van die bundel gevorder het, het ek ook tot die gevolgtrekking gekom dat Müller se werk, veral haar prosa, gerig is tot ’n baie wyer gehoor as net die studente van die letterkunde, en dat diegene wat nog toegang tot haar publikasies het, hulself baie gelukkig kan ag. So uniek as wat sy as mens was, só uitsonderlik goed is haar skeppings – en praat sy met ’n groter gehoor.

“Onstilbaar op die noot van E#” is een van die indrukwekkende stukke kortkuns in Petra Müller se bundel In die omtes van die hart, het Karen my ingelig. Dit is in 1995 gepubliseer, lank voor uitgewers boeke gelyktydig digitaal en in bedrukte vorm gepubliseer het. My eksemplaar het saam met al haar ander publikasies in die slag gebly toe ek verhuis het en my boekery moes weggee. Ek het na die biblioteke in my omgewing gery en met leë hande teruggekeer. Sommige bibliotekarisse het aangebied om dit elders af te bedel, maar die tydsraam het my laat besef dat dit nie sou deug nie. Amazon kon eweneens nie help nie, buiten een bundel, Om die gedagte van geel, wat sedert 2012 digitaal beskikbaar is.

https://www.litnet.co.za/petra-m-ller-1935/

 

4.

Dié huldigingsbundel vir Petra Müller bevat agt akademiese beskouings van aspekte van haar prosa en digkuns, ’n chronologie van haar lewe en publikasies, sewe essays (insluitende die commendatio’s vir haar diverse bekronings), ’n fotoseksie en vyftien gedigte deur ’n verskeidenheid digters aan haar opgedra. Biografiese inligting oor die bydraers en ’n omvattende register sluit die publikasie.

 

5.

As die doel met hierdie publikasie slegs die verering van Petra Müller was, sou lofprysing ten volle geregverdig gewees het. Alles binne die omhelsing van die buiteblad is gepaste, toereikende en geregverdigde eerbetoon.

Verering is egter net die uitgangspunt. Wat Karen de Wet ook vermag het, was om deur die akademiese beskouings ook vir die leser ’n sleutel te gee tot die lees van Müller se oeuvre. Hierdie insigte beier wyd en maak dit vir die leser onmoontlik om nie te wil gehoor gee aan die bekoring van Müller se skryfwerk nie. Mens sou dus ook kon sê dat dié huldigingsbundel dit ten doel het om Müller se skryfwerk lewend te hou.

En daar lê vir my die knoop.

As ouduitgewer weet ek ook dat ’n publikasie soos hierdie waarskynlik slegs ’n deel is van dít wat die samesteller oorspronklik in gedagte gehad het. Maar daar is leidrade, soos mens in Joan Hambidge se essay vind, na ’n aspek van Petra Grütter se aktiwiteite wat nie behoorlik onder die loep kom nie. Meer later daaroor.

 

6.

.............
Mens lees die akademiese beskouings met een oog onder ’n klap. Jy wil na die bron gaan, maar kan nie.
...............

Mens lees die akademiese beskouings met een oog onder ’n klap. Jy wil na die bron gaan, maar kan nie. Dit bly ’n probleem, met die uitsondering van Marius Crous se insiggewende beskouing van die gedig “Die vel is liefde se moerland”.

Louise Viljoen (https://www.litnet.co.za/author/louise-viljoen-1/)

Ek het Louise Viljoen se “Die posthumanistiese subjek in Petra Müller se In die omtes van die hart en ander verbeeldings” gelees met die bevredigende gevoel dat sy vir my klaarheid oor die hele oeuvre bring via haar analise van die sluitstuk van Müller se prosa. Deur dit te lees in samehang met die greep wat Francois Smith mens gee met sy “Petra Müller se totemistiese verbeelding” kry die leser van Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik ’n suiwer toetrede tot die ratwerk van Petra Müller se kosmologie.

Ek weet, sonder ’n oomblik se onsekerheid, dat had ek In die omtes van die hart en ander verbeeldings byderhand om te lees voordat ek Viljoen en Smith weer nagaan, dit vir my ’n onvergeetlike belewenis sou gewees het, intellektueel en andersins, soos wat ek laas ervaar het toe ek Ernst Lindenberg se analise van Van Wyk Louw se “Groot ode” gelees het. Dít is wat Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik vir ’n mens deels moontlik maak.

Sonja Loots (https://www.litnet.co.za/author/sonja-loots/)

Sonja Loots neem op haar beurt twee kortverhale, “Maria se oë” uit Werf in die Rûens en “Die oë, die oë” uit Die dwerg van die Infanta en ander verhale, en illustreer op indringende wyse hoe ’n mens se begrip vir die verlede verander wanneer ’n mens spesie voeg by ras, klas en geslag. Hoe speel dié benadering verder uit vir ’n leser van Petra Müller se prosa? Loots rus ’n mens toe met ’n invalshoek en benadering wat wyer sal resoneer hoe verder mens in haar gepubliseerde werk lees – mits jy kan.

Marius Crous se analise van die gedig “Die vel is liefde se moerland” het ek met groot genoegdoening gelees. Diegene wat in 1979 teenwoordig was by die derde beraad van die Afrikaanse Skrywersgilde by Maselspoort, sal onthou hoe Petra Grütter gereageer het op ene ds De Vos (’n ongenooide gas van die Gilde) se opmerkings oor pornografie. Haar presiese woorde kan ek nie onthou nie, maar dit het daarop neergekom dat nie alle vlees in ’n pornografiese konteks bestaan nie. Jare later het sy my, maande ná die dood van my vrou, gewaarsku dat die “velhonger” sou terugkeer. Hierdie herinneringe was in my gedagtes toe ek Crous se bydrae begin lees; dit was ná die lees op die verre agtergrond – Crous se analise is uiters knap. En vir diegene wat die digter geken het, is daar die herinneringe wat dit oproep van die wonderlike wyse waarop ’n mens haar serebrale verkenning van die fisieke sfeer deur haar digkuns en prosa ervaar, hierdie vrou wat haarself op ’n keer ’n “skrander hedonis” genoem het.

Adéle Nel lewer met “ek sien dit soos ’n mens met oë stip kyk na ’n prent” ’n uiteensetting van die rol van sien en gesien wees wat kardinaal is vir die verstaan van Petra Müller se poësie. Met die dood van Wilhelm, Petra se man, was mens geneig om die gedigte té eng te wil lees, veral as jy Vlagmanshoogte in Wilhelm se laaste maande besoek het. Adéle Nel dwing jou om jou insig in en begryp van die gedigte te hersien.

Susan Meyer se bydrae, “Verhaalkuns uit die pen van ’n poëet”, het ek met gespitste aandag gelees. Sy wend haar hoofsaaklik tot In die omtes van die hart en ander verbeeldings en ondersoek veral die wyse waarop die digter nie kan verhelp om in die prosa sigbaar te word nie. Ek sou graag self verder op Meyer se ondersoekende spoor wou loop.

Ek het eweneens groot waardering vir Riëtte Botma se “Petra Müller se elegiese poësie”, waarin sy fokus op Petra Müller se verse oor geliefde gestorwenes van haar debuutwerk tot by haar laaste gepubliseerde verse. Ek sal later terugkeer na Botma se slotopmerking, “Müller se hantering van die elegiese tradisie demonstreer op kragtige wyse hoe dit aangewend kan word om nie net die gestorwenes te laat voortleef nie, maar ook die stem van die digter wat sedertdien stil geraak het.”

Die voorlaaste van die akademiese bydraes is deur die samesteller van die huldigingsbundel, Karen de Wet: “Skryfstemme en skrywersname by Petra Müller Grütter”. De Wet neem Petra Müller Grütter se hele skrywerskap in oënskou, en dui aan hoe die gebruik van skuilname naas haar getroude naam en nooiensnaam en -van met die verloop van jare haar spesifieke omstandighede weerspieël. Dit is nie sommer ’n luttele onderwerp nie – dit lei mens na joernalistieke gebruike in Suid-Afrika en hoe Petra en Wilhelm Grütter daardeur geraak is.

Hierdie bydrae hang ten nouste saam met die laaste in hierdie afdeling, waarin De Wet, Erika Terblanche en Louis Gaigher die lewens- en publikasiechronologie van Petra Müller uiteensit. Dit is nie duidelik wie waarvoor verantwoordelik was nie, maar ek neem aan Terblanche se wonderlike navorsing, wat op LitNet beskikbaar is, was die raamwerk daarvoor. Laat ek net volstaan met die opmerking dat hierdie laaste twee akademiese bydraes as die Bybel oor Petra Müller Grütter beskou kan word.

.............
Laat ek net volstaan met die opmerking dat hierdie laaste twee akademiese bydraes as die Bybel oor Petra Müller Grütter beskou kan word.
...............

 

7.

Die tweede afdeling van die bundel bestaan uit essays deur Joan Hambidge, Melanie Grobler en Frederik de Jager en die commendatio’s by vier bekronings wat sy ontvang het, deur Elize Botha, Louise Viljoen en Hettie Scholtz.

Commendatio’s is meestal pasgemaak en uit die aard van die saak kanoniserend. Hierdie essays gaan oor afgehandelde sake, maar by Joan Hambidge en Hettie Scholtz is daar opmerkings waarby ek wil aansluit, omdat dit aansluit by dinge wat in Terblanche, De Wet en Gaigher se oorsig vermeld word en verdere verheldering verdien.

Hambidge verwys in “Petra Müller” na Müller se rol as mentor vir jong digters en prosaskrywers: “Sy kon ’n digter raaksien wat iets anders of nuuts doen. Sy was mentor vir Gert Vlok Nel en Donald W Riekert.”

Hettie Scholtz skryf weer in haar commendatio vir die toekenning van die Afrikaans Onbeperk-prys vir Lewensbydrae aan Petra Müller die volgende:

Sy het rondom 30 begin werk met skrywers en onmiddellik
broeis geraak oor die skryfsels wat oor haar lessenaar gekom het. Toe
sy later keurder by Tafelberg word – so loop die storie – het sy soms
in die gang in uitgeroep: “’n Digter! ’n Digter!”

Sy glo jy kan dadelik in ’n beginnerskrywer sien, net soos jy dit in
’n kind kan sien, of hy soek na daardie ding wat hy nog moet word.
“Hy is nie teenwoordig nie,” sê sy. “Hou hom dop.”

Dit is nodig om Petra Müller Grütter nie alleen as digter en prosaskrywer te sien nie, maar as uitgewer in ’n spesifieke tradisie. Hoewel sy haar eie en haar skuilnaamwerke by verskillende uitgewers gepubliseer het, was sy van 1969 tot 1979 verhaleredakteur van die tydskrif Sarie, en van 1979 tot 1989 fiksieredakteur by Tafelberg-Uitgewers.

Foto van Danie van Niekerk (verskaf deur Elmari Rautenbach - https://www.litnet.co.za/n-pad-met-danie-van-niekerk/)

Die fiksieredaksie wat Danie van Niekerk by Tafelberg-Uitgewers ontwikkel het, was gegrond op die ou vertroude patroon wat in die VSA gevestig is deur Maxwell Perkins en veral Saxe Commins. Toe Koos Human my in 1989 gewerf het om na Human & Rousseau te kom, het hy vir my ’n eksemplaar van Dorothy Commins se boek What is an editor?: Saxe Commins at Work in die hand gestop met die opmerking dat Commins se werkswyse by H&R en die cousins (=Tafelberg-Uitgewers) gevolg word.

Uiteraard was daar klemverskille, maar by Tafelberg het die span – met Charles Fryer, Danie Botha en Petra Grütter aan die kern – publikasies van die hoogste gehalte gelewer, en die basis gelê vir al die redaksionele veranderinge wat in die jare negentig en daarna gekom het. Fryer en Botha het die redigering en skrywersbegeleiding hanteer, terwyl Petra Grütter meer gefokus het op die identifisering van skrywerstalent en die ontwikkeling van potensiaal. Vir elke prins wat Fryer en Botha ter perse kon bring, moes Petra Grütter ’n ontsaglike klomp paddas soen.

Haar termyn as verhaleredakteur by Sarie het haar goed voorberei. Sy is die persoon wat Dalene Matthee se talent by Sarie raakgesien het en haar in Koos Human se visier geplaas het. Matthee se Die judasbok het eers in 1982 verskyn, maar in daardie stadium, vermoed ek, het die Tafelberg-span reeds met Matthee begin gesels oor Kringe in ’n bos, wat in 1984 gepubliseer is. 

Waar Maxwell Perkins die man was wat F Scott Fitzgerald, Ernest Hemingway en Thomas Wolfe gehelp het om hul skrywerstemme voor publikasie te vind, het Saxe Commins weer geglo dat dit nodig was om noue persoonlike bande met skrywers te ontwikkel. Dit is hoekom hy daarin geslaag het om publikasie- en manuskripbegeleiding aan William Faulkner, Eugene O’Neill, WH Auden, Franklin D Roosevelt en Albert Einstein te gee.

Presies hóé goed Petra opgegaan het in haar rol van skrywers vind en ontwikkel tot die punt waar Fryer en Botha hul monnikewerk met die manuskripte kon verrig, kon ’n mens in haar leesverslae oor nuwe manuskripte sien. Sy had ’n ontsaglik goeie aanvoeling vir die soorte persoonlikhede wat agter die manuskripte skuil. Al was haar verslae uiteindelik dalk soms negatief, was hulle besielend en het hulle die ontvangers aangespoor om steeds daarop te verbeter. Talryk is die skrywers wat sal kan getuig dat Petra saam met hulle gaan sit het en hulle die lig laat sien het.

Haar diens aan die Afrikaanse letterkunde was nie net beperk tot haar gepubliseerde werk nie.

 

8.

Clinton du Plessis (foto: Naomi Bruwer - https://www.litnet.co.za/clinton-v-du-plessis-1963/)

Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik word afgesluit met ’n fotoseksie, vyftien huldigingsgedigte deur veertien digters (Joan Hambidge, Heilna du Plooy, Johann de Lange, Charl-Pierre Naudé, Tom Dreyer, Marius Crous, Loftus Marais, marlise joubert, dominique botha, Carina Stander, Melanie Grobler, Thomas Deacon,  Clinton V du Plessis en Breyten Breytenbach), en ’n uitgesoekte bibliografie en register.

Carina Stander (https://www.litnet.co.za/lesersindruk-die-wonderwese-deur-carina-stande/)

Dit is netjies uitgegee, hoewel die letterwerk en ontwerp soms ’n visuele allegaartjie skep. ’n Meer konserwatiewe tipografiese benadering sou hier baie van pas gewees het.

 

9.

Nou terug na die opmerking wat ek in die begin gemaak het oor die lewend hou van boeke wat voor die digitale era gepubliseer is. Ons bevind ons in ’n tyd waarin soveel dinge ineenstort weens gebrekkige instandhouding van infrastruktuur. Ek wil nie in besonderhede daarop ingaan nie.

Ek wil wel ’n vraag opper wat my al sedert die vroeë jare negentig kwel: Watse versekering het die teenswoordige burgery dat toekomstige Suid-Afrikaanse geslagte sal sorg dat die openbare biblioteekdienste in stand gehou word, en dat boeke wat sedert die jare dertig of vroeër gepubliseer is, nog beskikbaar sal bly?

...........
Ek sê doelbewus nie “beskikbaar vir navorsing” nie, maar beskikbaar vir lees deur die publiek.
.............

Ek sê doelbewus nie “beskikbaar vir navorsing” nie, maar beskikbaar vir lees deur die publiek. Mens hoop dat universiteitsbiblioteke en provinsiale en stadsbiblioteke steeds aankoop, maar soos sake staan, word uitgewers verplig om vier pligeksemplare aan die staat te verskaf. Kan ons gerus wees dat daardie eksemplare bewaar en veilig bly?

Ek glo nie dat daar van uitgewers verwag kan word om tot in lengte van dae voorraad te dra van boeke wat nie meer verkoop nie. Ek weet ook dat Petra Müller se publikasies hul verkoopleeftyd agter die rug het, en dat ’n publikasie van haar versamelde werke nie in die huidige klimaat finansiële sin vir enige uitgewer sou gemaak het nie.

Wat ek wel besef het met die lees van Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, is dat hierdie huldigingsbundel (en eweneens dié oor enige ander voormalige groot literêre geeste) volle sin sal maak alleen as mens dit met al haar publikasies byderhand kan lees. Ek is nie ’n akademikus nie, maar ek weet daar is heelwat mense soos ek wat al jare lank baie gewillig en gereed is om “vergete” publikasies te herlees.

Kyk ’n mens na die lys van Hertzogpryswenners vir Prosa, en jy kontroleer dit met die beskikbaarheid van elektroniese weergawes by Amazon Kindle, is die prentjie versoberend. Die volgende pryswenners is nie gedigitaliseer nie en daarom slegs in biblioteke beskikbaar:

1917 – Jochem van Bruggen (Teleurgestel)
1920 – Leon Maré (Ou Malkop)
1925 – Jochem van Bruggen (Ampie: die natuurkind)
1926 – DF Malherbe (Die meulenaar)
1927 – Jochem van Bruggen (Ampie: die meisiekind); CJ Langenhoven (Skaduwees van Nasaret); Sangiro (Diamantkoors and Twee fortuinsoekers).
1930 – DF Malherbe (Hans-die-Skipper); GC en SB Hobson (Kees van die Kalahari)
1933 – Jochem van Bruggen (Die sprinkaanbeampte van Sluis)
1936 – Mikro (Toiings en Pelgrims)
1939 – DF Malherbe (Saul die worstelheld en Die profeet)
1942 – CM van den Heever (Laat vrugte)
1945 – Sangiro (hele oeuvre)
1953 – MER (hele oeuvre)
1957 – Elise Muller (Die vrou op die skuit)
1958 – NP Van Wyk Louw (Die mens agter die boek, Maskers van die erns en Berigte te velde)
1961 – FA Venter (Swart pelgrim en Geknelde land)
1970 – Karel Schoeman ('n Lug vol helder wolke en Spiraal)
1973 – Chris Barnard (Duiwel-in-die-bos)
1982 – Hennie Aucamp (hele oeuvre, buiten Volmink)
1984 – Henriette Grové (Die kêrel van die Pêrel).

En dis net die wenners van die prys. Vir elke driejaarsiklus waarin die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys aan ’n prosawerk toegeken het, was daar ’n stewige klomp niewenners wat steeds verdien om vir die leespubliek beskikbaar te bly.

Gestel iemand probeer ’n werk soortgelyk aan Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik saamstel oor die lewe en werk van Abraham H de Vries (’n skrywer wat deur die jare skandaliglik deur die Akademie oor die hoof gesien is). Mens hoef nie heldersiende te wees om te weet dat al die skitterende kortverhaalbundels uit De Vries se pen voor Verbeel jou dis somer (2009) slegs in biblioteke te vinde sal wees nie, en dat met die verloop van jare al hoe minder mense enige bewussyn van die inhoud van Uur van die idiote, Volmoed se gasie, Nag van die Clown en so meer sal hê. En dit is maar één van die skrywers wat nie op ’n voëlvlug oor die Akademie se bekroningslyste opfladder nie.

By die dramas (’n genre waarvoor uitgewers om praktiese redes lugtig is, want dit verkoop nie) is die prentjie nog troosteloser. Hoe gaan toekomstige geslagte weet wat in die werke van Pieter Fourie en Reza de Wet te vinde is? Om net twee name te noem. En by die digkuns is dit eweneens nag. Nou weet mens ook dat die belangstelling in hierdie genre dermate getaan het dat uitgewers nie meer outomaties elektroniese weergawes van nuwe bundels maak nie, buiten van digters soos Antjie Krog, Breyten Breytenbach en in geringer mate Joan Hambidge. Maar daar is ’n enorme aantal baie goeie bundels, deur die jare gepubliseer, wat die gevaar loop om totaal vergete te raak.

En verlore – ek kan eenvoudig nie in die huidige politieke klimaat ’n rosige toekoms vir Afrikaanse boeke binne die brose biblioteekdienste sien nie. Watse kans het biblioteekdienste as nie eens noodsaaklike dienste soos elektrisiteit- en watervoorsiening in stand gehou kan word nie?

...........
Die tyd is ryp vir die digitalisering van publikasies wat uit druk is.
.............

Die tyd is ryp vir die digitalisering van publikasies wat uit druk is. Moderne skanderingstegnieke is al só verfynd dat sulke projekte al met groot vrug  vir Engelse, Duitse, Franse en Spaanse boekliefhebbers geloods is. In die meeste gevalle – soos Project Gutenberg, die Nederlandse Hathi Trust en gedeeltelik die DBNL (Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren) – word gefokus op boeke wat reeds in die openbare domein is; vir ’n taal soos Afrikaans, wat onder beleg is en nie meer ’n regerende party as patronaat het nie, sal dit moontlik nodig wees om ’n ander model te moet volg en boeke wat nog nie in die openbare domein is nie, ook onder die net te bring deur die benutting van die regte betreffende elektroniese publikasies in kontrakte wat uitgewers met outeurs het.

Dít, of die soek na ’n ridder op ’n wit perd wat begerig is om die Afrikaanse boekeskat beskikbaar te hou. As ’n boek eers gedigitaliseer is, kry dit ’n nuwe vorm van ewigheidswaarde. Ek dink hier aan die Hiemstra-Trust, die Dagbreek-Trust, en die Het Jan Marais Nasionale Fonds. Dit sal groot beleggings verg, en ek sê dit met die wrange wete dat só ’n onderneming nie finansiële winste gaan lewer nie.

Waaroor ons nou moet gesels, is of die boekehoek van die Afrikaanse kultuur steeds ons erns is. Verwag ons waaragtig van uitgewers om hope geld en baie tyd te belê in publikasies wat binne ses maande van winkels se rakke verdwyn en nooit weer sal kan terugkeer nie? Is ons heeltemal gemaklik met die feit dat misdaadverhale die gewildste is by die kopende, lesende publiek? Wat vertel dit vir ons van ons tyd en kultuur?

............
En dan blaai ek weer deur Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, kyk na die fotoseksie, en onthou haar in aksie by leeskringe, of op die dek van Vlagmanshoogte met Wilhelm, haar wange rosig pienk van die Chat Lib, en haar krom vinger wat swaaiend beklemtoon wat sy ook al besig is om te sê. Ek is bly oor hierdie boek. Ek is dankbaar vir die manier waarop al die betrokkenes Petra Müller só deeglik aan die vergetelheid ontruk het. Ek is verheug oor die manier waarop my insig in en begrip van haar skryfkuns daardeur vergroot is.
...............

En dan blaai ek weer deur Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, kyk na die fotoseksie, en onthou haar in aksie by leeskringe, of op die dek van Vlagmanshoogte met Wilhelm, haar wange rosig pienk van die Chat Lib, en haar krom vinger wat swaaiend beklemtoon wat sy ook al besig is om te sê. Ek is bly oor hierdie boek. Ek is dankbaar vir die manier waarop al die betrokkenes Petra Müller só deeglik aan die vergetelheid ontruk het. Ek is verheug oor die manier waarop my insig in en begrip van haar skryfkuns daardeur vergroot is.

Ek onthou hoe Petra op ’n keer vir my verduidelik het presies wat sy met “’n donker hart” bedoel het, en ek is bevrees sy had heeltemal reg. Mens kan jou oë knip vir die helder lig, maar as daar donkerte in jou hart is, gaan dit swaarder weeg.

Lees ook:

Petra Müller se impressionistiese bundel

Desembers deur Petra Müller: Daar is veel in hierdie verhale waaraan ’n mens plesier kan hê

Petra Müller: "’n Mengsel van die sublieme en alledaagse"

Petra Müller (1935–2021)

’n Pad met Danie van Niekerk

Sterf JM Coetzee se biograaf én sy argief albei in een jaar?

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir 'n uitstekende artikel. Ek hoop daar verskyn ook binnekort boeke in hierdie reeks oor die skrywers DJ Opperman, Etienne Leroux, Karel Schoeman, Elisabeth Eybers en Wilma Stockenström. Afrikaans het sulke boeke nodig, broodnodig. Dis tereg kommerwekkend dat boeke van skrywers soos Müller, en die wat ek genoem het, nie meer beskikbaar is nie. Ek het al op die webblad bidorbuy.co.za goeie ou Afrikaanse boeke in die hande gekry. 'n Mens kry ook soms in tweedehandse boekwinkels en liefdadigheidswinkels vir dierebeskermingsverenigings goeie ou boeke.
    Dit sal interessant wees om die reaksie op hierdie artikel te lees. Hopelik is daar reaksie, of gee mense net nie meer om vir Afrikaans nie? Is die taal se beste boeke al reeds onredbaar op die ashoop van die geskiedenis?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top