Desembers deur Petra Müller: Daar is veel in hierdie verhale waaraan ’n mens plesier kan hê

  • 0

Klik en koopDesembers, 'n kortverhaalbundel

Petra Müller

R140.00

Tafelberg-Uitgewers

ISBN: 9780624045519

Sagteband

300 bladsye

Naas digter met ’n Hertzogprys agter haar naam is Petra Müller ook ’n kortverhaalskrywer wat in haar skrywersloopbaan reeds vier kortverhaalbundels gepubliseer het. In 1980 was daar Werf in die rûens, twee jaar later Voëls van die hemel, in 1993 Die dwerg van die Infanta en twee jaar dáárna In die omtes van die hart. Uit hierdie vier bundels het Rachelle Greeff, self ’n gerekende kortverhaalskrywer, nou ’n keur van 56 verhale versamel onder die titel Desembers.
 

Greeff het die interessante besluit geneem om die verhale uit hulle bundelverband en die volgorde waarin hulle verskyn het, te haal. Sy plaas hulle in ’n nuwe volgorde wat ruweg saamhang met verskillende fases in die verteller (wat in die meerderheid van die verhale baie na lê aan die skrywer) se lewe. Daardeur skep sy nuwe verbande tussen die verhale en ’n samehang wat strek vanaf ’n jong kind se ervaring van die wreedheid en wonder van die wêreld in die eerste verhaal, “Die luiperd”, tot by ’n ouer vrou se gereedmaak om onder ’n ruwe grafsteen deel van die ryk-beleefde aarde te word in die laaste verhaal, “Pa se klip”. Ten spyte van die feit dat elkeen van hierdie kortverhale op sy eie kan staan as klein greep op die wêreld, word daar dus deur die rangskikking in hierdie keur ’n groter verhaal gekonstrueer.
 

Verdere samehang word geskep deurdat bepaalde topografieë langsamerhand in hierdie verhale neergelê word. In die eerste verhale vorm die polisiehuis en -werf, die bloekombos en die watersloot die primêre ruimte waarin die gebeure hulle uitspeel. Vandaar vertak dit na die ruimtes waarin die verteller se ouers en grootouers bepaalde dinge beleef het, sowel as ruimtes soos ’n huis in die stad, tydelike verblyfplekke in ander lande en ‘n plasie op die Piketberge. Elkeen van hierdie kortverhale bestaan by grasie van die algemeen-menslike insig wat uiteindelik afgelees kan word uit gebeure wat hulle binne hierdie spesifieke ruimtes en op bepaalde tye afspeel. Elke verhaal stuur as ’t ware af op ‘n helder oomblik (daar is nie verniet twee verhale met die titel “’n Helder oomblik” nie) waarin daar ingekyk word in die misterie van leef; al is daardie insig dan net ’n bewuswording van die onverstaanbaarheid van dinge en ’n onbegrip vir die eie bemoeienis daarmee. “Waarom skryf ek oor hierdie dwaalligte?” vra die verteller haarself byvoorbeeld aan die einde van die verhaal “Op Ghaap se berge” af.
 

Ten grondslag van hierdie verhale lê daar ook ’n diep verbondenheid met die landskap. Naas ’n byna Leipoldtiaanse vreugde in die representasie van landskappe is daar in hierdie verhale ook sprake van ’n byna Oosterse aanvoeling vir die landskap as ’n liggaam waarin sekere kosmiese vloeipatrone en energieë hulle manifesteer, soos in die verhale “Koendoes” en “Kamers”. Om hierdie rede is daar sprake van ‘n deurlopende bemoeienis met elemente soos son, klip en water. Veral laasgenoemde vloei deur hierdie verhale soos die stroming van ’n kragtige en bepalende onbewuste.
 

Saam met die landskappe kom daar ’n stel karakters wat deel uitmaak van die skrywer se biografie. Daar is byvoorbeeld die pa wat hom as polisieman en later boer bevind in omgewings waar die “verhale dwaal”, soos wat “Brooddoek” sê. Daar is ook haar ma, wat volgens “Op Ghaap se berge” en “Warm aand” die verhaal van ’n tragiese liefdesdriehoek met haar saamdra; haar skerpsinnige ouma, Annie Dippenaar, wat in die verhaal “Soet, wit lig” tussenbeide tree om die jong verteller van molestering te red; ‘n geliefde broer wie se ontydige sterfte terugwerkend ’n skadu gooi in verhale soos “Afsondering” en “Wildeals”; ’n eggenoot wie se Europese familie eerder as hyself beskryf word; en haar seuns.
 

Die spanning tussen outobiografiese feit en fiksie word egter delikaat in ewewig gehou: naas die outobiografiese onthullings is daar ook verhullings en versinsels en verbeeldings. Dit is ’n tergende spel wat begin wanneer die verteller aan die begin van die eerste verhaal in die versameling sê: “Sover ek weet, het ek nog nooit by die waarheid gehou in enigiets wat ek geskryf het nie. Ek is ’n verteller van verhale: iewers neem ’n verhaal sy eie loop en glip onder jou uit, op sy eie koerse.” Onmiddellik daarna sê sy egter: “Híerdie verhaal het nie ruimte vir enigiets anders as die waarheid nie.”
 

Naas bogenoemde stel karakters fokus die verhale dikwels op uitsonderlike randfigure, diegene wat begenadig is om iets van die hartklop van die ewigheid te hoor, soos wat Meerschaum in die verhaal “Kamers” met sy ewigheidsmasjien probeer doen. Hulle is die kompulsiewes, die swaksinniges, die niehorendes, die weeskinders, die skisofrene, die swerwers en die eksentrieke sonderlinge uit wie se verhale die verteller ryk insigte in verband met die aard van die lewe kan aflees. Hulle is, ironies genoeg, diegene wat in die Jungiaanse terminologie die wyse manne of vroue van die wêreld genoem sou word.
 

Alhoewel hierdie verhale dikwels terugdelf in die verlede en ’n vervloë, byna primordiale wêreld oproep, is hulle nie die soort herinneringsverhale waarin daar ’n vergoelikende of geïdealiseerde beeld van die verlede geskep word nie. Dit blyk onder andere uit die verteller se hantering van die vroulike gestalte wat sy Memórie noem in haar deurlopende nadenke oor hoe stories tot stand kom. Hierdie figuur het ’n eie, buierige soort lewe waaroor die verteller slegs gedeeltelik beheer het. Sy is, volgens die verhaal “Oupa se aalwyn”, ‘n “verflinterde ou skepsel” wat veral by krisispunte of kruispaaie in die verteller se lewe waghou. Soms wil sy nie die verlede volledig openbaar nie, en op ander kere vertroebel sy die verteller se vreugde in sekere momente met haar teenwoordigheid. Die versamelbundel se titelverhaal, “Desembers”, toon byvoorbeeld hoedat die terugkeer na ‘n kindertyd ook pynlike, maar deurslaggewende ervarings kan oproep. Die verhaal handel oor ’n jong kind wat Desembermaande by die see vroegoggend, voordat enige van die vakansiegangers strand toe kom, ’n sprokiesagtige kasteel op die strand bou, maar dit vernietig wanneer sy besef dat iemand anders in die nagte verder daaraan bou. Die verhaal vertel heel subtiel iets oor skeppingsdrif, die moeisaamheid van kontak-maak met ander, en die pyn van grootword, sonder om vir een moment sentimenteel te wees.
 

Die taalgevoeligheid wat van Petra Müller so ’n sterk digter maak, het ook ’n belangrike plek in hierdie verhale. Hier word dit egter gerig deur die ritmes van praat en vertel: sy skryf haar verhale in ’n suiwer Afrikaans wat sonder skroomvalligheid die geure, teksture en kleure van ’n wye verskeidenheid ervarings oordra. Verder is dit self ’n Afrikaans met ‘n “memorie” wat heelwat van die verlede daarin vasgevang hou.
 

Die bundel Desembers gee ’n uitstekende toegang tot dit wat Petra Müller se kortverhaal-oeuvre die leser bied. Daar is veel in hierdie verhale waaraan ’n mens plesier kan hê: hulle boei jou op die vlak van die storie, verras jou met hulle verskeidenheid en stig jou met die insig wat hulle gee in menswees.

Hierdie resensie is vroeër uitgesaai op die boekeprogram van Fine Music Radio 101.3fm (Kaapstad)
en word met hulle toestemming gepubliseer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top