Sterf JM Coetzee se biograaf én sy argief albei in een jaar?

  • 0

 

’n Groot kanon van die Afrikaanse kanon, JC Kannemeyer, is op Kersdag 2011 oorlede. Kort voor sy dood het Kannemeyer JM Coetzee se biografie afgehandel, wat in 2012 verskyn. Maar hoe gemaak as ’n volledige argief skuif? Die Universiteit van Texas se Harry Ransom-sentrum het juis JM Coetzee se argief in Oktober 2011 gekoop. Naomi Meyer het vir Malcolm Hacksley, wat twee jaar gelede afgetree het as direkteur van NELM, die Nasionale Engelse Letterkundige Museum op Grahamstad, hieroor gevra.

Is die nuus dat die Universiteit van Texas se Harry Ransom-sentrum JM Coetzee se volledige argief aangekoop het, goed of sleg?

Die HR-sentrum is ’n indrukwekkende inrigting wat oor die algemeen goed bestuur word. Dit wat daar gehuisves word, word redelik goed bewaar en toeganklik gemaak aan navorsers wat dit kan bekostig om die hele pad Texas toe te reis. Ek het die geluk getref om etlike jare gelede met Amerikaanse geld daar besoek af te lê, dus praat ek uit persoonlike ondervinding.

Dit is ’n basiese argivale beginsel dat enige argief so volledig moontlik op een plek bewaar behoort te word. Dat die HR-sentrum daarin geslaag het om so te sê alles van Coetzee te koop, is dus goed.

Dat Coetzee se dokumente nou in Texas gaan beland, is egter uiters betreurenswaardig, aangesien daar in Suid-Afrika, en met name by NELM in Grahamstad, uitmuntende bewaring van spesifiek die Engelstalige Suider-Afrikaanse letterkundige argiewe geskied.

Die HR-sentrum hengel al dekades lank in ons letterkundige viswaters. Sy opslurptogte het al in 1960 begin, toe ene prof Joseph Jones ál Herman Charles Bosman se persoonlike dokumente vir ’n skamele 200 pond gekoop het. Daarna het hulle alles van wie weet hoeveel ander van ons vernaamste skrywers opgekoop – bloot omdat hulle dit kán koop. Die Universiteit van Texas te Austin is al jare der jare lank die besitter van ’n paar olieputte. Die inkomste daaruit mag glo slegs gebruik word vir niepersoneelverwante sake – dus moet hulle koop, koop, koop.

Dit sou gaaf wees as ons regering toereikende fondse aan ons plaaslike letterkundige museums beskikbaar sou stel om darem te kan bie vir sulke versamelings. Maar dit kan ons maar op onse magies skrywe ...

Hoe is dit gesteld met skrywersargiewe in Suid-Afrika?

Daar word uitstekende werk hier gedoen: veral in Bloemfontein by NALN, en in Grahamstad by NELM. Al twee die inrigtings ly egter onder ’n skreiende tekort aan ondersteuning, en ek praat nie net van geldelike ondersteuning nie. Ten spyte van die uitmuntende werk van pligsgetroue en hoogs kundige argivarisse, word al twee instansies misken en die letterkundige erfenis van die volk word gruwelik verontagsaam. Pleidooie word jaar na jaar aan die owerhede gerig, maar min daadwerklike aandag word daaraan geskenk. NELM wag al 31 jaar op ’n eie, ordentlike gebou. NALN se personeel is skandelik ingekort en onmisbare kundigheid het die afgelope tien of wat jare daar verlore gegaan.

Is die feit dat vir skrywersargiewe betaal word, ’n relatief nuwe verskynsel?

Nee. Die Amerikaners doen dit al baie lank. Oor hulle die geld het, natuurlik. Maar in lande soos Frankryk word belastingvoordele toegeken aan skrywers wat inwillig om nié hul argiewe in die buiteland te gaan verkwansel nie. Daar is al in die VK gepoog om iets soortgelyks daar van stapel te stuur – sonder welslae. Daar moet ook bygevoeg word dat talle skrywers nié bloot geldgierig is nie, en dat hulle hulle persoonlike argiewe aan instansies soos NELM en NALN skenk. Sonder sulke welwillendheid en vrygewigheid sou ons letterkundige argiewe maar bedroef gelyk het.

Sal Suid-Afrikaanse navorsers ooit besoek aflê by Texas? Word ’n kultuurskat nie ver verwyder nie?

Die antwoord is ooglopend: maak die sommetjie vir ’n vlugkaartjie en reken dan self hoe ’n akademikus dit sal bekostig. Maar daar het tog al Suid-Afrikaanse navorsers in Texas gaan werk – David Attwell, Craig Mackenzie en Stephen Gray en ander het besonder goeie werk daar gedoen – onder andere in die argief van HC Bosman. Daardie navorsing het hulle dan – en dan vir die heel eerste keer – in Suid-Afrika laat uitgee. Daardeur het dit uiteindelik, na 50 jaar in Texas, algemeen toeganklik geword. Die HR-sentrum het niks daarmee gedoen nie, dit slegs bewaar. Dit het twee Suid-Afrikaners geneem om talle onbekende Bosman-stories die lig te laat sien. Dit is slegs een voorbeeld. En Texas is beslis nie die enigste Amerikaanse instelling wat ons kultuurskatte kom wegrokkel nie: die Universiteit van Bloomington, Indiana, het ook baie van ons waardevolste skrywersargiewe opgekoop. Daar is ook ander.

Wat is die lewensduur van skrywersargiewe aan instansies? Sal die US, of NALN, byvoorbeeld, nog oor ’n dekade of ses ’n tuiste bied vir die argief van ’n Afrikaanse skrywer?

Tel Saul onder die profete? Ek kan maar net hoop dat daar betyds verantwoordelike besluitneming sal plaasvind en dat daar besef sal word dat die letterkundige erfenis van die Suid-Afrikaanse gemeenskap dié betroubaarste, mees rykliks geskakeerde, volledigste geheelbeeld bied van die gemeenskap in al sy geskiedkundige ontwikkeling en sy verbasende verskeidenheid. En, ja, ek glo: de hoop schaamt niet.

Maar sulke argivale werk sal kwalik deur die universiteite gedoen kan word. Hul prioriteite is deesdae noodgedwonge anders. Dit is slegs by die letterkundige museums dat sulke werk beoorlik gedoen sal kan word.

Nog ’n saak wat ons al dekades lank onder die aandag van die amptenary probeer bring het, is die bykans algehele gebrek aan bewaring van die werk van skrywers in ons plaaslike Afrikatale. Met nog minder sukses as met Engels en Afrikaans.

 

Lees ook Rob Gaylard se Big Book Chain Chat oor Coetzee in Texas.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top