’n Pad met Danie van Niekerk

  • 3

Teks: Annari van der Merwe
@ Annari van der Merwe: Kopiereg voorbehou op alle foto’s.

Ek het Danie van Niekerk in Poort van Cleve in Amsterdam ontmoet, net om die draai van die Athenaeum Boekhandel op die Spui. Hy het toe pas die jaarlikse boekebeurs in Frankfurt as hoofbestuurder van Tafelberg-Uitgewers bygewoon en was besig met opvolgbesoeke aan uitgewers in Nederland en elders, sou ek later uitvind.

“Heb je zin een van je landgenoten te ontmoeten?” het Adriaan van Dis, toe nog joernalis en nie beroemde skrywer nie, my die vorige dag gevra. Hy het Danie van Niekerk in 1975 aan huis van WEG Louw ontmoet terwyl hy drie maande lank Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch studeer het.

Ek was huiwerig. Dis Oktober 1977, midde-in die apartheidsjare en intense anti-Suid-Afrikaanse sentiment in Nederland. Ná meer as twee jaar van blootstelling aan televisiebeeldsendings van dom Afrikanermans met diep stemme en dik nekke en ’n onwrikbare geloof in die owerhede en die Opperste wat betref hul eie duistere toekoms, was dit nie juis ’n opwindende vooruitsig nie.  

.........

En daar stap Danie van Niekerk die restaurant binne. Ek kon my oë kwalik glo. ’n Lang, aantreklike man geklee in ’n liggrys snyerspak – nie in ’n broek met te wye pype wat te los sit nie, dinge waaraan Nederlanders glo Afrikaanse mans kon uitken.

...........

En daar stap Danie van Niekerk die restaurant binne. Ek kon my oë kwalik glo. ’n Lang, aantreklike man geklee in ’n liggrys snyerspak – nie in ’n broek met te wye pype wat te los sit nie, dinge waaraan Nederlanders glo Afrikaanse mans kon uitken. En toe hy begin praat, wis hy meteens al die onvleiende wanvoorstellings uit wat van my mense in my kop opgebou het – iets wat my welopgevoede, verligte mede-Afrikaanse studente in Utrecht nie kon vermag nie. Hulle was al te lank in Europa om te tel, het ek gevoel.

Alida Bothma en Linda Rode, onderskeidelik illustreerder en samesteller van Goue lint my storie begint, saam met Annari van der Merwe en Danie van Niekerk by die bekendstelling in die destydse Boekhandel-winkel in Kerkstraat, 1985.

Dis die eerste keer dat ek vars mossels eet. Ek loer hoe ’n mens maak om die vlesie uit die skulpvlerke in jou mond te kry, maar Danie van Niekerk hanteer mossels asof hy daarmee grootgeword het, terwyl die gesprek van die jongste beduidende Nederlandse publikasies vloei tot wat in die Rijksmuseum en die Amsterdamse Stadsschouwburg te sien en te hoor is, wat op die Afrikaanse literêre toneel gebeur en hoe dit met die Louws van Sondraai, ou vriende van die Van Niekerks, gesteld is. Net die Suid-Afrikaanse politiek en die kultuurboikot word nie aangeroer nie.

Ons verlaat die restaurant en ek dink verlig: Dié landgenoot van my, minstens, is klaarblyklik ’n wêreldburger – wel ter tale, berese, belese, verstommend goed ingelig.

Later sou ek uitvind dat die Van Niekerks vier jaar lank in New York gewoon het, waar Danie kunsattaché by die Suid-Afrikaanse Inligtingsdiens was; dat hy Anton Rupert se kunsstigting op die been gebring en later die hoof daarvan geword het; dat hy sewe jaar lank hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria was. Tot JD Pretorius hom in 1974 genader het om hom as hoof by Tafelberg op te volg. Maar wat my byna die meeste geïmponeer het, was dat hy klassieke tale op universiteit bestudeer het en Grieks kon lees.

Ek het, ná ek in Kaapstad gematrikuleer het, besluit dat daar net een plek op aarde is waar ek eendag wil woon: die Kaap. As ek nie daar werk kry nie, dan bly ek swerf, was my vaste voorneme. Toe daar dus nie by een van die drie universiteite in die Wes-Kaap ’n aanstellingsmoontlikheid was nie, maak ek in Augustus 1978 as laaste poging ’n afspraak met Danie van Niekerk. Tafelberg-Uitgewers was toe nog “onafhanklik” binne Nasionale Boekhandel, en in Waalburg, die besonderse Art Deco-gebou op die hoek van Waal- en Burgstraat, gevestig. Op die tweede vloer, met die Stadsbiblioteek gerieflik op die grondvlak.

.........

Wanneer hy ’n onderhoud met ’n voornemende boekredakteur gevoer het, was Danie van Niekerk se openingsvraag aan jou: Watter boek lees jy op die oomblik?

.........

Wanneer hy ’n onderhoud met ’n voornemende boekredakteur gevoer het, was Danie van Niekerk se openingsvraag aan jou: Watter boek lees jy op die oomblik? En dan het hy in jou teenwoordigheid baie noukeurig na jou matriekuitslae gekyk, want hy het geglo as iemand reeds op hoërskool presteer het, dit ’n goeie aanduiding is dat sy of hy gedissiplineerd – en intelligent – genoeg sal wees om te beskik oor die toegewyde aandag wat teksversorging verg.

Danie kon agterna nooit verklaar hoekom hy my sommer op die daad aangestel het nie, want ek was heeltemal óórgekwalifiseer en hopeloos ónderervare. Miskien was dit my matrieksimbole, miskien die boek wat ek aan die lees was, miskien omdat ek, soos hy, gehou het van reis, maar ek vermoed dit was my antwoord op sy vraag: “Watter salaris het jy in gedagte?” Ek het net die vergoeding wat ek as tydelike lektor by Rhodes Universiteit ontvang het vóór ek oorsee is, as verwysing gehad. Ek noem die karige bedrag, maar voeg dadelik by: “Dit kan maar minder wees, as ek tog net nie elke dag op dieselfde tyd by die werk hoef op te daag nie. Ek het ’n kunstenaarstemperament,” voeg ek ter verduideliking by. Sonder om ’n oog te knip, knik Danie instemmend. “Jy kan maar die einde van die maand begin.” My salaris moes drie keer binne my eerste twaalf maande as kinderboekredakteur aangepas word en ek het binne ’n week of twee besef uitgewery is nie kinderspeletjies nie en soggens net effens laat begin opdaag. Danie van Niekerk en die uitgewerswese het my vasgetrek.

.........

Tafelberg was ’n hawe van vrede en verdraagsaamheid. Wit en bruin, Christen en Moslem, mans en vroue, oud en jonk het rustig skouer aan skouer hul dagtake verrig. Daar was geen aparte ablusiegeriewe soos ek gevrees het nie.

..........

Tafelberg was ’n hawe van vrede en verdraagsaamheid. Wit en bruin, Christen en Moslem, mans en vroue, oud en jonk het rustig skouer aan skouer hul dagtake verrig. Daar was geen aparte ablusiegeriewe soos ek gevrees het nie. Wel verskillende plekke van aanbidding. Vrydag is Slamse Sondag en dan is Achmat Brown net ná twaalf vir ’n uur of twee weg masjied toe. As ons hoofbestuurder nie self ingestem het nie, het hy sienderoë toegelaat dat allerlei toegewings aan individuele personeellede gemaak word, want, het hy eenkeer opgemerk, ’n gelukkige werknemer is meer produktief en werk met groter oorgawe en lojaliteit as ’n ongelukkige, gefrustreerde een.

Die personeel is bedagsaam en met respek behandel, of hulle nou redaksielede was of bemarkers, aan die administrasie- of produksie-afdeling verbonde was. Toe Kerstyd aanbreek en daar geen eetplek gevind kon word waar ons almal saam gesellig kon verkeer nie, besluit die baas dan gaan ons na die vyfster-Mount Nelson, die enigste ‘internasionale hotel’ in Kaapstad en omgewing waar wit en gekleurd aan die einde van die sewentigerjare van die vorige eeu wettig saam onthaal kon word.

.........

Danie van Niekerk was iemand na wie jy kon opsien en na wie jy kon luister. In die tyd toe algemene uitgewery bekend was as “a gentleman’s profession” was hy die regte persoon op die regte plek. Hy was ’n heer in die ware sin van die woord – waardig, stylvol, besadig, uitermate beleefd, iemand wat elkeen in sy omgewing leefruimte gegun het.

............

Danie van Niekerk was iemand na wie jy kon opsien en na wie jy kon luister. In die tyd toe algemene uitgewery bekend was as “a gentleman’s profession” was hy die regte persoon op die regte plek. Hy was ’n heer in die ware sin van die woord – waardig, stylvol, besadig, uitermate beleefd, iemand wat elkeen in sy omgewing leefruimte gegun het. En hoewel hy ’n skerp oog oor alles gehou het, het hy hom nie onnodiglik met die personeel ingemeng nie, selde ’n uitgeebesluit bevraagteken, redaksielede ondersteun – en soms, as ’n krisis dreig, teen ’n onredelike skrywer beskerm. Baasspelerig was hy nie. Hy het trouens geglo dat ’n voortreflike baas/bestuurder se afwesigheid nie ’n verskil behoort te maak nie, want elke personeellid werk selfstandig en weet wat haar of hom te doen staan.

Die wynetiket wat Cora Coetzee ontwerp het om Tafelberg se veertigste bestaansjaar te vier.

In ons goeie boekies is in 1991 deur Tafelberg uitgegee om sy veertigjarige bestaan te herdenk.

Vir Danie van Niekerk was die skrywer die spilpunt waarom alles gedraai het. Hy het ’n persoonlike verhouding met gevestigde skrywers sowel as nuwelinge opgebou, homself op die hoogte gehou van hoe ’n manuskrip vorder en ’n ophef gemaak wanneer dit afgehandel is. Soms het hy ’n idee vir ’n boek by ’n skrywer geplant, wat met dank aanvaar en met geesdrif en welslae uitgevoer is. Gereeld het hy ’n koevert met knipsels of fotostate van artikels waarin hulle sou belangstel, aan skrywers besorg. By geleentheid het hy selfs spesiaal ’n boek oorsee gekoop om aan ’n skrywer te skenk van wie hy gedink het sy sou dit waardeer en boeiend vind.

As ’n skrywer hoegenaamd binne ryafstand gewoon het, het hy dikwels die voltooide manuskrip persoonlik in ontvangs gaan neem – by Rona Rupert op Stellenbosch, Alba Bouwer in Somerset-Wes later, FA Venter in die Strand. Elsa Joubert, Anna M Louw, Audrey Blignault en Sheila Cussons het gelukkig redelik naby gewoon. Ek herinner my dat hy op ’n keer selfs Hartenbos toe is om die manuskrip van Fiela se kind (1988) by Dalene Matthee te gaan haal en terselfdertyd ’n draai by Ena Murray op Wildernis te maak. Soms is hy op korter besoeke vergesel deur Charles Fryer, die puntenerige maar briljante redakteur en hoof van Fiksie. Met die kinderboekskrywers was hy nie so vertroud nie, buiten natuurlik met Rona Rupert.

 

Koos Human en Jürgen Fomm (van regs na links) by die 1992 Frankfurter Buchmesse. Danie van Niekerk het Tafelberg reeds op 1 Julie verlaat. Annari kan in die agtergrond gesien word.

Skrywers wat verder noord gewoon het, is tydens sakebesoeke opgesoek en onthaal – Ernst van Heerden, Koos Prinsloo, TT Cloete, Chris Barnard, Pirow Bekker, PG du Plessis, Engela van Rooyen Linde. Sommige skrywers het op besoek aan Kaapstad onverwags by Tafelberg ingeval. Die tweede verdieping van die Waalburg-gebou was ’n gewilde aanloopplek vir skeppende geeste, of dit vryskutmedewerkers of skrywers of akademici was. Sommige skrywers het gekom om manuskripte in te lewer, ander sommer net om te kuier of spesifiek met die hoofbestuurder ’n afspraak na te kom. Almal is hartlik verwelkom en waar paslik beloon met ’n middagete in een of ander betaamlike restaurant, met groot plesier vergesel deur die betrokke redakteur-gasheer. Almal het almal geken. Die bodes, Fatima Armino wat met die teetrollie gesange in die gange af loop en sing het, die sekretaresses, die hoofrekenmeester en administratiewe personeel, selfs die boekontwerpers in die produksieafdeling, het mense soos Hennie Aucamp, Freda Linda, Cora Coetzee, Niki Daly, Koos Kombuis, Hester Heese, Marzanne le Roux-Van der Boon, Barrie Hough, Zander Strachan, Etienne van Heerden, George Weideman, Lucas Malan, Philip de Vos, Linda Rode – te veel om te noem – net so vinnig herken wanneer hulle by die voordeur instap as die redakteur na wie hulle op pad was.

.........

Die bodes, Fatima Armino wat met die teetrollie gesange in die gange af loop en sing het, die sekretaresses, die hoofrekenmeester en administratiewe personeel, selfs die boekontwerpers in die produksieafdeling, het mense soos Hennie Aucamp, Freda Linda, Cora Coetzee, Niki Daly, Koos Kombuis, Hester Heese, Marzanne le Roux-Van der Boon, Barrie Hough, Zander Strachan, Etienne van Heerden, George Weideman, Lucas Malan, Philip de Vos, Linda Rode – te veel om te noem – net so vinnig herken wanneer hulle by die voordeur instap as die redakteur na wie hulle op pad was.

..........

Danie van Niekerk was ook ’n jintelman wat betref sy houding teenoor geld. Vir hom was gehalte, nie winsgewendheid nie, die hoofsaak. Die eerste sou die tweede tot gevolg hê, het hy geglo. Twee vrae moes jy jou afvra wanneer jy voor ’n uitgeebesluit staan: Sal die wêreld armer wees as dié manuskrip nie as boek die lig sien nie? Waarmee hy wydweg bedoel het die Afrikaanse literatuur, die wyer gemeenskap, die land; eintlik die mensdom. En dan: Regverdig die gehalte van hierdie manuskrip die afkap van ’n boom (om papier van te maak)?

Dit was in die dae toe die wins op blitsverkopers en populêre fiksie, tesame met die opbrengste uit die rendabele skolevoorskryfmark, deur Tafelberg en Human & Rousseau aangewend is om die uitgee van niewinsgewende genres soos literêre essays, filosofie, digbundels, dramas en dies meer te subsidieer. Aan die einde van elke jaar het ons verskillende afdelingshoofde – van Fiksie, Niefiksie, Kinder- en Jeugboeke – saam met Danie om ’n tafel gesit en gekyk na hoe die verskillende titels verkoopsgewys en andersins gevaar het. By een so ’n geleentheid merk hy op: “As daar die jaar net één eksemplaar van ’n pryswenner verkoop, voel ek nie so sleg nie, maar as Ena Murray se verkope power is, het ek slapelose nagte.” Ena Murray se liefdesverhale was verreweg die grootste geldmaker vir Tafelberg toentertyd, ná Heinz Konsalik veel vroeër en vóór Daleen Matthee later. Die bemarkers is selde by dié soort vergadering betrek.

Danie van Niekerk kon onverwags streng wees by ’n redaksionele vergadering. Hy moet die dag omgekrap by die kantoor opgedaag het, want gewoonlik was hy toegeeflik en vol begrip. Die telefoon lui net toe ek my kantoor vir die vergadering wil verlaat. “Alida Botma in Port Elizabeth,” fluister Anita Romburg by die skakelbord. “Sy sê sy sukkel om jou in die hande te kry.” Ek kan kwalik weier om eers ‘n bietjie te gesels. Toe ek by die vergaderkamer instap, heers daar doodse stilte en Danie van Niekerk sit aan die kop van die tafel met sy arms styf oor sy bors gevou. “Weet jy hoeveel geld van die maatskappy jy nou net vermors het?” vra hy geïrriteerd. “In jou afwesigheid het ek die koste van vyf minute van almal wat om hierdie tafel sit en wag se salaris bereken, en dit is ...” My mond val oop, nie oor die verbysterende bedrag nie, maar oor die onverdiende dwarsklap.

Danie van Niekerk en Annari kuier by Klaas Steytler en Elsa Joubert te Belvederelaan 35, Oranjezicht, laat-negentientagtigs.

En daar was die keer toe die onderskeie redakteurs inligting moes verskaf oor boeke wat vir die Kersmark beskikbaar sal wees. Een van Danie Botha en Petra Grütter se boeke was WEG Louw se versamelde gedigte. Die twee merk lighartig op dat Louw se vroeë gedigte nie juis watwonders is nie, maar natuurlik nie uit die versamelde werk weggelaat kan word nie. Danie van Niekerk trek hom regop en vra vererg: “Nou waarom gee julle 'n boek uit wat julle nie goed vind nie? Word julle nie ’n salaris betaal om verantwoordelike besluite te neem nie?” En sonder huiwering trek hy ’n streep deur die titel en gaan doodluiters met die vergadering aan. ’n Paar dae later moes Petra en Danie Botha druipstert gaan mooipraat om WEG se versamelde gedigte weer op die publikasielys te kry. Ek het ook die keer ’n paar dae gewag en toe beleefd vir Danie gaan inlig dat ek dink dis darem baie onregverdig dat hy my so voor die ander in die vergadering uitgetrap het. Hy gee ’n verleë glimlaggie. “Jy weet mos hoe dit is,” sê hy; “jy is kwaad vir jou vrou en dan skop jy die hond.”

Danie van Niekerk se aanprysing van gehalte eerder as wins het egter nie beteken dat hy nie ’n kop vir sake en ’n sin vir bemarking gehad het nie. Toe die oorsese vertaalregte vir Dalene Matthee se Kringe in ‘n bos (1984) vlot begin verkoop te danke aan die Londense literêre agent Dinah Wiener, besluit hy om die vrystelling van die oorspronklike Afrikaans terug te hou, al was die boek reeds geskeduleer en gereed om gedruk en versprei te word en al sou die verkope die jaar se syfers beter laat vertoon. Want, het hy geweet, die plaaslike mark sal uit sy nate bars as daar gesê kan word dat dié debuutroman binnekort in 14 oorsese lande in vertaling beskikbaar sal wees. Hy was reg. Kringe se verkope het alle vorige rekords verpletter. Die verkoopsukses van Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie (1993) was eweneens te danke aan Danie se slim reklameplan, dié keer om – in ’n tyd toe vroue nog nie op so ’n manier in Afrikaans oor seks geskryf het nie – die gewaagdheid van die roman te beklemtoon.

Elsa Joubert in gesprek met Danie van Niekerk (regs) en Jürgen Fomm, Annari se bokamer, om en by 2000.

Veel vroeër had hy ook ’n groot aandeel aan die reuse- plaaslike én internasionale sukses van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena (1978). Deur sy toedoen is dit byvoorbeeld in Spaanse vertaling in Argentinië uitgegee, een van die vele lande waarin die veelbekroonde Poppie uiteindelik verskyn het. Maar die grootste lof verdien hy vir die waagmoed wat hy aan die dag gelê het om die roman, gebaseer op werklike gebeure, hoegenaamd te publiseer. In die krisisjare van apartheid het die roman op roerende manier die uitwerking van hierdie politieke stelsel op gewone swart mense uitgebeeld, iets waarvan die meeste wit Suid-Afrikaners nie wou weet nie en wat die destydse regime nie wou erken nie. Veral nie komende uit die hart van die Nasionale Pers en Afrikaner-establishment nie. Baie later, toe AHM Scholtz se Vatmaar pas by Kwela verskyn het, het Danie vir my gesê dat daar in elke uitgewer se loopbaan één publikasie is wat bo alle ander uitstaan, en bygevoeg: “In mý geval is dit Die swerfjare van Poppie Nongena.” 

Elsa Joubert en Danie en Anneke van Niekerk, omstreeks 2005.

Danie van Niekerk was gulhartig en mededeelsaam. In ’n stadium toe winste dit toegelaat het, het hy vir senior personeellede op Die Burger ingeteken en dit daagliks tuis laat aflewer. Oor ’n hele klompie jare het hy twee seisoenskaartjies vir die Kaapse Simfoniekonserte gekoop wat belangstellende redaksielede om die beurt kon benut. Sy gulheid was nie net tot sy kollegas of Tafelberg se skrywerskorps beperk nie. Toe Dinah Wiener, Dalene Matthee se literêre agent, die eerste keer Suid-Afrika besoek om haar mees suksesvolle skrywer te ontmoet, doen Dalene navorsing vir ’n volgende boek in Italië. “Gaan wys jy dan maar vir Dinah die Knysna-bos,” gee Danie my opdrag, “en sommer ’n bietjie van die res van die land ook.” Ons het noord van Durban in Umhlanga Rocks gaan draai. Ek was toe lank nie meer kinderboekredakteur nie maar skakelredakteur – eintlik Danie se stuurman (my Karoo-ma se woord vir iemand wat jy opdrag kan gee om enigiets onder die son vir jou te gaan doen).

Om die veertigjarige bestaan van Tafelberg in 1991 te vier, stel Danie Botha spesiaal In ons goeie boekies saam – ’n klein, pragtige boekie oor die eerste of vroeë leeservaring van enkele Tafelberg-skrywers (Leipoldt, Alba Bouwer, en ander), uitgesoek deur Hennie Aucamp, en aangevul met die herinneringe wat ’n klompie veteraanskrywers en -kollegas gevra is om te skryf, verduidelik Danie van Niekerk in die “Vooraf”. Cora Coetzee word gevra om spesiaal ’n etiket te ontwerp om flesse geskenkwyn aan uit te ken. In 1991, terwyl die uitgewery op ’n kruin van sukses ry, stel Danie ook Tafelberg se Ronde Tafel in. ’n Tyd lank vergader twaalf stuks een maal per maand letterlik om ’n swierige ronde tafel – om gedagtes uit te wissel en gesellig saam te verkeer en mekaar beter te ken en waardeer. Hy is altyd teenwoordig, so ook ek wat as skakelredakteur hierdie geleenthede moet reël. Die genooide skrywers, altyd minstens vier of vyf, het bepaal watter redakteurs teenwoordig sou wees. Soms is ’n joernalis bygehaal, of ’n gewaardeerde vryskutmedewerker – ’n illustreerder miskien, of iemand uit Produksie wat gereeld betrokke was by die visuele versorging van een van die gaste se boeke.

Anneke van Niekerk, Elsa Joubert, Danie van Niekerk en Jürgen Fomm in Annari se voorkamer, Mei 2008.

Tafelberg se Ronde Tafel is nie net in Kaapstad aangebied nie. Ook in Johannesburg het ons met skrywers om ’n ronde tafel vergader, én in Pretoria. Selfs in Windhoek was daar ’n Ronde Tafel, want Jan Spies was in Windhoek die redakteur van Die Republikein; Gawie Kellerman het in Gobabis skoolgehou; Pieter Pieterse en sy medeskrywende Ingelsman, Jenny Winter, was langs die Skedelkus aan die swerf; en Piet van Rooyen iewers in Namibië met navorsing besig.

.........

Danie van Niekerk was die perfekte gasheer, want hy was gevoelig vir ander se behoeftes en dit het hom plesier verskaf om mense ontspanne en gelukkig te sien. Maar eintlik was hy skugter en dikwels in sy eie wêreld gekeer.

...........

Danie van Niekerk was die perfekte gasheer, want hy was gevoelig vir ander se behoeftes en dit het hom plesier verskaf om mense ontspanne en gelukkig te sien. Maar eintlik was hy skugter en dikwels in sy eie wêreld gekeer. Hy kon diep in gedagte by jou in die gang verbystap sonder om jou raak te sien en sonder om jou te groet, wat soms vir arrogansie aangesien is. In die middel-tagtigerjare gee Tafelberg Lyftaal uit, ’n Afrikaanse vertaling van Alan Pease se Body language. Ek is mateloos opgewonde oor hoe jy iemand kan lees net deur na sy of haar houding te kyk. Ek en Danie is op pad na ’n skrywersgeleentheid op Stellenbosch. Om hom te vermaak, wei ek uit oor die boek. “Hmm,” sê hy, “wat verklap jou lyftaal as jy in ’n vergadering jou voorkop op jou twee ineengestrengelde hande laat rus terwyl iemand praat?” Ek het die boek met fyn aandag gelees. “Dat jy verveeld is en wens die een aan die woord hou op met praat,” antwoord ek. Danie bly ’n lang ruk stil voor hy sê: “En ek dag al die tyd dat mense dit as geïnteresseerdheid sou sien.”

..........

Die voorkoms en tegniese versorging van ’n boek, hoe dit lyk, lees en in die hand voel, was vir Danie net so belangrik soos die inhoudelike.

..........

Die voorkoms en tegniese versorging van ’n boek, hoe dit lyk, lees en in die hand voel, was vir Danie net so belangrik soos die inhoudelike. Hierin het hy ’n gees- en bondgenoot gehad in Jürgen Fomm, hoof van Produksie, wat in 1955 deur die destydse Nasionale Boekhandel uit Hamburg, Duitsland ingevoer is om die mense in die boekbedryf hier te kom leer hoe jy éintlik ’n boek behoort te ontwerp en te maak. Jürgen was ’n perfeksionis, en omdat jy nie ’n boek durf ontwerp as jy nie goed vertroud is met die inhoud daarvan nie, het hy al gou Afrikaans, naas Engels, vlot gelees en gepraat. Ook uit bedagsaamheid, omdat hy hom in ’n Afrikaanse omgewing bevind het. Nie dat al die boekontwerpers in sy afdeling, meestal jong meisies, eens die destydse twee amptelike tale magtig was nie. Afrikaans of Engels, hy het hulle grondiglik in die fyn kuns van boekmaak opgelei – vir Linda Vicquery, Phaldiela Booley, Bobby Vasiljkovich, Gerda Pretorius, Nazli Jacobs, om maar ’n paar te noem. Hy was streng en sy standaarde hemelhoog en nalatigheid het hom laat ontplof. Die hoë eise wat hy aan sy personeel gestel het, was merkbaar aan die uitsonderlike gehalte van boeke wat deur sy afdeling hanteer is. Elke boek is as uniek beskou en sorgvuldig vooraf beplan: hierdie formaat, hierdie lettertipe, soveel bladsye op hierdie spesifieke papier. Alles met die kop uitgewerk en met die hand gedoen. Geen kitsknoppies of digitale programme om dit vir jou te doen nie.

Danie van Niekerk, Mei 2008

Dit was ’n tyd toe kunstenaars soos Helmut Starcke, Cecil Skotnes en Jan Vermeiren spesiaal opdrag gegee is om toepaslike kunswerke te maak, en boekomslae daaromheen ontwerp is – uit die aard van die saak is daar van die kunstenaars ook verwag om die manuskrip vooraf te lees. Kalligrawe soos Willem Jordaan, Abdul Amien en Jürgen Fomm self het destyds dikwels boektitels en skrywersname met handletterwerk op die boekomslag aangebring; so nie moes titels baie noukeurig letter vir letter van deursigtige Letraset-velle afgevryf en op papier oorgedra word.

Anneke en Danie van Niekerk by ’n onthaal vir vriende, Oranjezicht, September 2011.

Danie en Jürgen was ewe oud, tyd- en geesgenote. Hoewel heeltemal verskillend is hulle albei gekenmerk deur beleefdheid en ruimhartigheid, goeie smaak en ’n aweregse humorsin. Danie was my mentor ten opsigte van veel meer as net uitgewery; van Jürgen Fomm het ek net soveel geleer. Bloot deur saam met hom aan boeke te werk, het ek leer onderskei tussen goeie en swak uitleg en ontwerp, het ek kleur en die waarde van skoon ruimtes leer waardeer. Maar ek het ook van integriteit, eerlikheid en pligsgetrouheid by hom geleer. Toe dié twee here in 1992 gelyktydig aftree, onderskeidelik as besturende direkteur en produksiebestuurder, het ek besef die tyd het aangebreek dat ek ook skuif. Ek kon my Tafelberg nie sonder dié twee aan die roer van sake voorstel nie. En so het daar vir my ’n einde gekom aan ’n uitgewerswêreld wat nooit herhaal kan word nie. Van agterna beskou, lyk daardie goue era na ’n onwerklikheid, kry dit die gevoel van “Lank, lank gelede was daar ...”

Danie Botha deel ’n foto met Anneke en Danie van Niekerk by ‘n gedenkgeleentheid vir Jürgen Fomm in Seepunt, April 2015.

...........

"Ik zal zolang ik leef Danie als vriend in mijn hart dragen. Danie was een Afrikaner én een ruimdenker met wijdse horizonnen."

..........

Op 8 Februarie 2022 skryf Adriaan van Dis aan Anneke van Niekerk, na aanleiding van die heengaan van haar man: “De beste herinneringen bewaar ik aan de talloze keren dat hij, voor of na de Buchmesse in Frankfurt, Amsterdam aandeed. Wij dineerden dan. Ook in tijden van die akelige culturele boycot bleef hij een bruggenbouwer. We bleven gelukkig altijd in gesprek. Ik zal zolang ik leef Danie als vriend in mijn hart dragen. Danie was een Afrikaner én een ruimdenker met wijdse horizonnen.’

Danie en Anneke van Niekerk en Braam de Vries saam met Adriaan van Dis aan die begin van 2009, toe hy in Waenhuiskrans aan ’n manuskrip gewerk het.

Anneke en Danie van Niekerk saam met Gwen Fagan in Oktober 2013 tydens ’n Open Gardens-naweek.

Lees ook:

Danie van Niekerk: hulde aan die uitgewer

’n Sinvolle lewe: herinneringe aan Danie van Niekerk

Huldigingsgeleentheid: Danie van Niekerk

DJ van Niekerk: 1928–2022

  • 3

Kommentaar

  • Anne-Marie+Mischke

    Annari, Frederik, ek het nog van die koerante se kant af daardie gloriedae van Tafelberg beleef. Ek lig my hoed vir Danie en vir julle almal. Dit was groot dae, voor die "verkorporatisering van die uitgewersbedryf"en die "tirannie van aandeelhouersbelang", soos Frederik sê.

  • Al is ek 'n (Afrikaans-)taalgestremde Engelssprekende, kon ek sien hoé liries, elegant, vol respek en liefde Annari se skrywe is. Só 'n man verdien só 'n skryfster.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top