DJ van Niekerk: 1928–2022

  • 0

By die bekendstelling van Jan Spies se Pille vir servette: Jan Spies en Danie van Niekerk (foto verskaf deur Elmari Rautenbach)

Met die afsterwe van Danie van Niekerk het grasie uit die wêreld gegaan. As daar een mens was van wie jy met reg kon sê hy was gedistingeerd, was dit hy. In die uitgewerswese sweef daar ’n frase rond wat af en toe vatplek op ’n individu kry: gentleman publisher. Dit was hy.

........

Danie was waarlik veelkantig, maar ek het hom net as uitgewer geken, dit wil sê in die laaste been van sy skitterende loopbaan, waar hy in 1992 na 18 jaar as besturende direkteur van Tafelberg-Uitgewers uitgetree het.

...........

Danie was waarlik veelkantig, maar ek het hom net as uitgewer geken, dit wil sê in die laaste been van sy skitterende loopbaan, waar hy in 1992 na 18 jaar as besturende direkteur van Tafelberg-Uitgewers uitgetree het. Hy het my daar aangestel. Na sy aftrede het ek ander weiwaters gaan soek. Hy het my vir ’n drankie uitgenooi; hy wou my oorreed om aan te bly, moontlik om iets daar te bereik. Die koeël was egter klaar deur die kerk.

Maar so was hy. Hy het kanse gewaag op mense. Met aanstellings ewe as net die uitgee van boeke. Gaan mens sy lewensloop na, kan jy die indruk moeilik ontwyk dat hy gemaak het soos wat hy self ervaar het. Hy het self groot geleenthede in die lewe gekry, nie sonder verdienste nie, en hy het hulle aangegryp.

Daniel Johannes van Niekerk is in 1928 op Rustenburg gebore, sy pa magistraatsklerk in die Departement van Justisie en later magistraat op verskeie dorpe in die destydse Transvaal, Vrystaat en Natal. Sy kinderjare was beskeie maar waardig, swerwend maar behoudend. Hy meld hom op Stellenbosch as admissant aan, maar sy ywer vir die bediening gaan weldra oor in ’n buitengewone belangstelling in tale. Hy verlaat die universiteit met krediete vir Duits, Frans, Latyn en Grieks.

Danie van Niekerk en PG du Plessis (foto verskaf deur Elmari Rautenbach)

Dit sou hom lewenslank as ’n mens van die lettere afteken, van die kunste, ’n deurleefde klassikus in styl en substansie. Hy was dit in sy beginjare as verslaggewer en later rubriekskrywer by Die Burger, waar hy Anneke Keyter, sy latere eggenoot, sou ontmoet. Hy was dit toe hy vir die Departement van Inligting gaan werk en hom kort voor lank in New York bevind het; vyf jaar van skakeling met invloedryke mense; van die oprigting van ’n gesinslewe te midde van daardie magtige land. Hy was dit vir seker toe hy later as hoof van die Rembrandt-stigting die Rupert-kunsversameling van oor die wêreld gehelp byeenbring en bestuur het. Ook toe hy daarna vir sewe jaar hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns word, midde-in die jare toe die stryd tussen verlig en verkramp op sy felste gewoed het, veral in die noorde.

..........

En heeltemal die man van boeke en van suiwer oordeel toe hy in 1974 besturende direkteur van Tafelberg word. Danie (maar almal het vir hom “Meneer” gesê – dis eers na sy aftrede dat hy op die voornaam aangedring het) was ’n hoof wat mens so trots gemaak het om by Tafelberg te werk.

..........

En heeltemal die man van boeke en van suiwer oordeel toe hy in 1974 besturende direkteur van Tafelberg word. Danie (maar almal het vir hom “Meneer” gesê – dis eers na sy aftrede dat hy op die voornaam aangedring het) was ’n hoof wat mens so trots gemaak het om by Tafelberg te werk. Trots op ons boeke en ons skrywers, trots op die standaarde wat ons verinnerlik het, en trots op hóm. So prinslik kon hy staan in die kring van skrywers en intellektuele wesens wat om die Waalburg-gebou in Kaapstad gewentel het. So vorstelik het hy van agter sy lessenaar in die groot kantoor met die houtpanele geregeer.

Anneke van Niekerk (Danie se vrou), Elmari Rautenbach (Danie se dogter) en Danie van Niekerk (foto verskaf deur Elmari Rautenbach)

............

Wanneer ’n Elsa Joubert of ’n Klaas Steytler of ’n JC Steyn of ’n Anna M Louw of ’n Etienne van Heerden ’n nuwe manuskrip ingebring het, kom hy uit en ontmoet hulle in die portaal saam met Charles Fryer, die hoof van fiksie, en met die verantwoordelike redakteur. Die geleentheid het ’n okkasie geword, met Danie wat luister verleen, opgewonde om die manuskrip oor die naweek tuis te gaan lees.

...........

Wanneer ’n Elsa Joubert of ’n Klaas Steytler of ’n JC Steyn of ’n Anna M Louw of ’n Etienne van Heerden ’n nuwe manuskrip ingebring het, kom hy uit en ontmoet hulle in die portaal saam met Charles Fryer, die hoof van fiksie, en met die verantwoordelike redakteur. Die geleentheid het ’n okkasie geword, met Danie wat luister verleen, opgewonde om die manuskrip oor die naweek tuis te gaan lees. Vir Danie was die “grand gesture” meer as ’n kwessie van styl. Dit was ’n erkenning van verdienste en van potensiaal. Hy sou vir Charles ’n hotelkamer in die stad laat bespreek sodat hy ongesteurd – en in ’n klein bietjie weelde – ’n belangrike nuwe manuskrip kon lees. My het hy eenkeer vir twee weke huis toe gestuur om die 40 inskrywings van ons eerste romanwedstryd te gaan lees.

’n Ander keer het hy vir my verblyf in Frankfurt betaal sodat ek die edifikasie van die groot boekebeurs kon meemaak, al was ek ’n junior en sonder funksie by Tafelberg se uitstalling. My reiskoste moes ek self betaal, maar ook daarmee het hy te make gehad – hy het mens aangemoedig om te reis, om skuld te maak as dit moet, solank jy maar die selfuitdyende ervaring van reis nie sou ontbeer nie.

Ek was vir seker ook nie die enigste personeellid vir wie hy geleenthede gegee het nie. Soos ook vir skrywers. Toe die digter Barend Toerien terugkeer van Moskou, waar hy hom trompop geloop het teen die revolusie van Boris Jeltsin, het Danie hom opdrag gegee om ’n boek daaroor te skryf. Dit was ’n bekwame boek om op die fondslys te hê, maar dit was ook so dat Barend dit nie breed gehad het nie en dat die voorskot wat Danie hom gegee het, die verknorsing vir eers op ’n afstand gehelp hou het.

Tafelberg het goed gevaar onder Danie se leiding. Die skoolvoorskryfmark het ons goed behandel, en die fondslys was diep. Danie het dié voordeel gebruik om verdienstelike boeke wat nie goed sou verkoop nie, nogtans uit te gee. Sulke kruissubsidiëring kan nie meer in vandag se verkorporatiseerde uitgewerswese, onder die tirannie van “aandeelhouersbelang”, gedoog word nie.

Danie van Niekerk saam met Marie en Dirk Opperman (foto verskaf deur Elmari Rautenbach)

..........

Danie was ’n kind van sy tyd. Hy was van ’n geslag wat kompas gehou het by die waardes van harde werk, goeie maniere, dissipline, hoë standaarde. Hy was daarby stylvol, slim, imposant en suksesvol.

..........

Danie was ’n kind van sy tyd. Hy was van ’n geslag wat kompas gehou het by die waardes van harde werk, goeie maniere, dissipline, hoë standaarde. Hy was daarby stylvol, slim, imposant en suksesvol. Die meetsnoere het skynbaar argeloos vir hom in lieflike plekke geval. Die sinikus sal byvoeg “danksy die Broederbond”. Maar ek weet nie. As jy Homerus lees, en Vergilius, en Voltaire, is jy nie uitgelewer aan die giere van die oomblik nie, vertrou jy nie sommer die vrede nie, en betrag jy die wêreld met die oog van die eeue.

En as hy lewensvoordele geniet het deur konneksies, was dit omdat hy sedert sy vroegste werksjare by die koerant blywende vriendskappe gesmee het met geesgenote – en dus groot geeste, mense wat invloedryk deur die lewe gevorder het.

..........

Sy invloed is so groot as wat dit onbepaalbaar is.

..........

Sy invloed is so groot as wat dit onbepaalbaar is. Wie kan sê waar gaan draai die inspirasie wat ’n jong mens vind in ’n boek wat die werk is van ’n skrywer op wie Danie van Niekerk ’n kans gewaag het of wat hy eenkeer aangemoedig het?

Lees ook:

Danie van Niekerk: hulde aan die uitgewer

’n Pad met Danie van Niekerk

’n Sinvolle lewe: herinneringe aan Danie van Niekerk

Huldigingsgeleentheid: Danie van Niekerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top