’n Sinvolle lewe: herinneringe aan Danie van Niekerk

  • 1

Foto van Anneke en Danie van Niekerk op hul sestigste huweliksherdenking (foto: verskaf deur Elmari Rautenbach)

In 1974 het ons Tafelbergers, ons die onderdane, aangevoel dis ’n nuwe regeringstydperk. 

..........

Danie van Niekerk het JD Pretorius opgevolg as bestuurder van Tafelberg-Uitgewers. Later word hy selfs besturende direkteur.

...........

Danie van Niekerk het JD Pretorius opgevolg as bestuurder van Tafelberg-Uitgewers. Later word hy selfs besturende direkteur.

Kyk, Danie is dan toe bekend as hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Met ervaring as: rubriekskrywer en toneelresensent; diplomaat in New York; hoof van die Rembrandt en Peter Stuyvesant-kunsstigting.

Verskillende kunsvorme kon hy beslis waardeer. In die latere jare het ek dikwels gedink: Hy sou baie eerder alleenlik kunsboeke wou uitgee in plaas van rillers en stories oor soeteliefies. Boeke óór die skilderkuns én ook besonder kunstig ontwerp en ’n voorbeeld van baie goeie drukwerk. Onder sy bestuur ís daar wel sulke boeke gepubliseer,

Én ook boeke vir ander smake.

Uit Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 (Nasionale Boekhandel 1992) met WD Beukes as redakteur kan ’n mens lange lyste van allerlei boeke aanteken­ – almal wat onder sy bestuur gepubliseer is. Gevestig en debuterend. Lukraak gekies: Elsa Joubert, Anna M Louw, Sheila Cussons, Etienne van Heerden, IL de Villiers, Maretha Maartens, SV Petersen, TO Honiball, Pieter Fourie, Hennie Aucamp, Koos Prinsloo, Lucas Malan, ens. En die versamelde werk van WEG Louw en NP Van Wyk Louw, JC Kannemeyer en JC Steyn se biografieë. Daar was talryke bekronings. Sekere boeke het moeilkhede veroorsaak as ’n gedeelte, selfs ’n woord, na laster neig.

Hy sou ’n rol speel in Standpunte en in die totstandkoming van Leserskring.

Hy het JD Pretorius juis ook nágevolg. Pretorius het baie boeke laat vertaal, veral kinder- en jeugboeke, en saamgewerk met oorsese uitgewers. Nou woon Van Niekerk en ander personeel boekeskoue by, byvoorbeeld in Bologna en Frankfurt. Met saamdrukke word kleurdrukwerk bekostigbaarder in 1976 en verskyn besonderse jeugboeke. Rosa Nepgen vertaal byvoorbeeld die teks wat ’n Breughel-kunswerk van ’n Boerekermis toelig. Feiteboeke oor lughawens en televisie word ryklik geïllustreer gepubliseer.

Danie van Niekerk, Marie en Dirk Opperman (foto: verskaf deur Elmari Rautenbach)

Dit is ook vir my ’n buitengewone tyd. Juis nou moet ek volwassenefiksie eers tydelik vir hierdie boeke verruil. Ai, moes maar baie leer van die ontwerpers Linda Vicquery en Gerda Pretorius.

En nou slaag ek my stemtoets by RSG en Springbokradio. By laasgenoemde vertolk ek vir regisseur Driaan Engelbrecht skurke. Behalwe in sy verwerkings van romans vir Uit die skatkis van ons skrywers. Dit is ook Driaan se gewoonte om die opname te stop wanneer ons ’n toneel besonder treffend vertolk het, Dan laat hy ons daarna luister, gevolg deur gelukwense.

Daardie keer is dit Dricky Beukes se Een wat ’n muur afbreek. Driaan stop dit ná ’n liefdestoneel. Ek is heel verlief in ’n toneel teenoor ‘n aktrise met wie Danie in 1957 getroud is: Anneke Keyter. Ons het hom darem vertel van ons “geslaagde liefde”. Ek en sy het iets gemeen: voorliefde vir toneel. Ook Danie. In die tyd toe die gesin nog nie gevestig was in Kaapstad nie, het ek en hy ’n paar maal Ruimte-produksies bygewoon.

Wanneer jy ’n teks geredigeer het, het Danie dit eers gelees en kon jy duidelike foute regstel of vir hom verduidelik hoekom dit so hoort. Iets baie ontstellends was dit as hy proewe of selfs ’n gedrukte boek nie alleen in rooi bekrap het nie, maar ook bladsye geskeur het. Hy het darem nie té dikwels dít nodig geag nie.

Op ’n keer word hy kwaad op ’n redaksievergadering. “Hoekom moet ek alles verduidelik!? Moet ek ’n koerant uitgee?”

Hy hét. Dit was die begin van die gefotostateerde Onder Tafelberg. Ek en ander redakteurs was die “joernaliste”. Daarin is Tafelbergers gelukgewens en gebeurtenisse sterk humoristies gedramatiseer. Ook babafoto’tjies is geplaas. Bemarker Eulalia Krige het herinneringe aan haar ouers, Uys en Lydia, laat opneem en dis ook na NALN versend. John Kannemeyer het in die Krige-biografie daaruit aangehaal.

In daardie tyd het ons nogal dikwels feesgevier. As daar goeie wins behaal is; etes met skrywers voor en met die verskyning van die boek; en dan natuurlik die jaareindfunksie. Danie het my en Gerda so vyf jaar lank aangestel as beplanners. Ons moes byvoorbeeld lokale besoek; kostes uitvind. So het ons een jaar ’n bekende restaurant afgekeur weens die reuk van katte. En dan was daar ’n historiese plaas waar laataand op misvloer gesakkie-sakkie kon word. Maar eers pas Gerda die middag die eetgoed op in die skuur terwyl ek by die Kaaps-Hollandse huis na ’n telefoon gaan soek. Moet uitvind waar bly die span met die drank dan. Toe loop ek verby ’n piesangbos. En ek sien ’n Eva wat lustig langs die swembad vroetel. Ek kyk maar net na die piesangbos.

Oom Danie was nie daardie aand saam op die plaas nie.

Met die inwyding van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl het Danie verneem dat skrywers nie genoeg betrek is nie. Toe reël hy ’n viering by ’n uithangrestaurant in die Kaapse middestad. Daar is daardie aand baie besonderse foto’s van die skrywers geneem wat later ’n ereplek in Danie se kantoor ingeneem het.

Danie het publikasies oor die geskiedenis van Tafelberg-Uitgewers aan my toevertrou: Hulde aan JD (1987) en In ons goeie boekies. Skrywers en redakteurs oor Tafelberg (1991, toe die uitgewery 40 geword het).

Hy het my ook aangewys as redakteur van verskeie skrywersbiografieë deur JC Kannemeyer en JC Steyn. ’n Hoogtepunt vir my was Steyn se tweedelige NP Van Wyk Louw. ’n Lewensverhaal (1998).

Ek besit nog my dagboeke van dertig jaar. Daarin het ek baie oor mnr Van Niekerk geskryf. Bewonderend; dankbaar; onseker opstandig; depressief. Aan die einde van elke jaar verskyn ’n opsomming maandsgewys: Hoeveel keer was ek met so en so in verbinding? Wat het alles gebeur?

Ek dink ek moet sommer 1992 s’n gryp en nou met mnr Van Niekerk se heengaan iets herbeleef.

Deesdae kyk ek juis in ’n resensie na “Tafelberg-Uitgewers” en raak aangedaan. Vir my ’n tyd wat nooit weer in my lewe sal wees nie.

Nou spesifiek ook sonder Danie van Niekerk.

Lees ook:

’n Pad met Danie van Niekerk

DJ van Niekerk: 1928–2022

Huldigingsgeleentheid: Danie van Niekerk

 

 

  • 1

Kommentaar

  • tilla diedericks

    Danie, wat 'n pragtige huldeblyk aan Danie van Niekerk! Goeie ou dae waarvan jy praat, veral die radiowerk! Ek dink ek en Anneke het ook saamgewerk in 'n radiodrama of twee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top