Petra Müller is op 25 Junie 2021 oorlede. Sy was 85 jaar oud. Een van haar seuns, Anton Grütter, het vir LitNet laat weet dat Petra se naasbestaandes ’n klein private teraardebestelling sal hou sodra Covid-inperkingsmaatreëls dit toelaat. By dié geleentheid sal haar werk gehuldig word deur voorlesings, toonsettings en stories wat vertel word.
***
André P Brink het Petra se Die aandag van jou oë, wat in 2005 met die Hertzogprys vir poësie bekroon is, beskryf as “een van die grootste digbundels in Afrikaans”. Hannes van Zyl het die volgende toespraak by die bekendstelling van die bundel gelewer op die Hidding-kampus van die Universiteit van Kaapstad. Riana Barnard vertel dat Petra vooraf gevra het vir ’n eenvoudige geleentheid waar sop bedien word en baie wit kerse moes brand. Petra het haar gedigte in die eenvoudige lig van die kerse voorgelees.
Petra is, soos haar naam sê, ’n rots van ’n vrou.
Haar werk, sê sy self, is nie van ons tyd nie … dit is gekap uit ou klippe, is klipperig soos ’n antieke pad …
Aardse beelde in haar werk, klip en rots, versamel betekenis met tyd, van teks na teks. Dié beelde, soos klippe glad en rond gevryf in water, vertel van tydsame prosesse, is óú kennis van die aarde. Wanneer die son op water blink waar dit oor die klippe loop, ervaar ons die wonder en misterie van ’n oneindige proses in ’n oomblik. Petra se fyn aandag by die onmiddellike skep ’n primitiewe onmiddellikheid. Dit is tegelyk ’n ruim en ’n belese belewenis van die aardse, en ontsluit geskiedenisse, verhale en kuns. In Louise Viljoen se woorde, die maniere waarop mense oor geslagte heen hul saambestaan op die aarde moet uitwerk.
Petra se werk beliggaam ’n bewussyn van aandag, van noukeurig en sorgsaam bedag wees op die oomblik en die fyn besonderheid. Dit gee aandag aan dit wat mense dikwels verkies om nie raak te sien nie. Dit is aandag in die oomblik, met ’n deurleefde kennis van die oeroue en die oneindige.
Dit ter inleiding. Tyd word opgeskort wanneer ’n mens raak aan die rykdom van die wêreld wat Petra in haar werk skep. Maar die versoek is dat ek ’n kort oorsig gee van haar loopbaan, as inleiding tot die gesprek wat hierná volg.
Dus:
- Petra Müller het haar as skrywer, as boekjoernalis, en as uitgewer onderskei.
- Sy geniet wye erkenning as digter, in Afrikaans, en ook in Engels.
- As skrywer is sy in die eerste plaas verteller – haar verhale is vertellings van mense en die aarde.
- Sy skryf ook kinderboeke, en ligte romans onder die naam Magriet Smalberger.
- Petra ontvang in 1980 die Eugène Marais-prys vir Patria en in 2005 die Hertzog-prys vir Die aandag van jou oë.
In haar noukeurige huldigingswoord vir die Hertzog-prys noem Louise Viljoen namens die paneel onder meer dat hulle Petra Müller se bundel takseer as ’n waardige genoot vir Louw se Tristia, dele van Breytenbach se werk, Cussons se Die swart kombuis en Opperman se Komas uit ’n bamboesstok.
Charles Fryer, Petra se kollega, vriend en eertydse redakteur, sê Petra is:
- ’n Mengsel van die sublieme en alledaagse. ’n Lekker skuins grap, en dan ’n meesleurende insig van oerwysheid en wye belesenheid. Soos Marthinus Versfeld, ’n mentor, lewe sy in die heiligheid van elke dag se ervaring.
- As ’n Overbergse skrywer transformeer sy die landskap van die lewe, en kyk anderkant die oënskynlike.
As joernalis wat lesers en skrywers simpatiek na mekaar begelei het, is Petra Müller in 1995 welverdiend bekroon as boekjoernalis van die jaar.
As uitgewer, meesal by Tafelberg maar ook by ander uitgewers, is Petra ’n keurder van manuskripte en begeleier van skrywers. Sy doen uitsonderlike werk om manuskripte verder te ontwikkel. Sy het gehelp om aan letterlik honderde werke struktuur te gee.
Haar teenswoordige uitgewer, Riana Barnard, het al ’n keer genoem die metafoor waarin sy Petra die maklikste vind, is dié van tuinier. In dié metafoor is Petra die een wat lewe gee, talent ontwikkel, groei stimuleer. Vir dié taak het ’n mens ’n verskeidenheid uiteenlopende vaardighede en vermoëns nodig:
- om te kan sien (eien elke plant, en ken elkeen se spesifieke behoeftes, met enorme grondkennis, veral van die inheemse, die eie)
- om te kan versorg en te koester (elke ding op die regte tyd, son en water, wanneer om ’n wurm wat verwoes tussen duimnaels dood te druk)
- om te kan snoei (reguit, sekuur, en versigtig)
- skeppende verbeelding (om ’n groter samehang te kan verbeel),
- binne die grense van dit wat is (die seisoene en elke streek se klimaat).
Voor Petra se kamervenster het sy ’n tuin vir haar kleinseun Daniël aangelê. Struike en blomme is met liefde en verbeelding geplant, sodat hy in magiese paadjies kan verdwaal. Daar is ’n klip vir ’n bankie, blomme om vir hom te wys wat mooi is, water waar die voëls kan drink en hom geselskap kan hou. Dit alles kan sy onopvallend deur haar kamervenster dophou, sonder dat hy van haar bewus is. Naby genoeg as hy haar nodig het, maar sonder onnodige inmenging. Só word hy speel-speel groot terwyl hy, die klein mikrokosmos, ook aan die magtige natuurkragte blootgestel word. Soos haar aandag aan skrywers, is haar aandag hier respek vir die kind, en vir die natuur, wat ’n eie ritme en gang het. Sy sien die kind in die samehang van die skepping.
In Petra se tyd by Tafelberg versorg sy in nege uit tien opeenvolgende jare elke jaar ’n digbundel wat met die Eugène Marais-prys bekroon word.
Petra Müller sê baie met min woorde.
In “Skemergesprek” word die digter geroep om ’n onbekende, woeste see te kom sien. Dit is ’n gedig oor lewe en dood, en oor skryf en skep. “Jy moet kom voor donker” het in die gedig ’n dringende, onmiddellike, letterlike betekenis. ’n Volgende reël, “jy moet kom voor nag”, verplaas die leser na dit wat oneindig ver strek.
Oë en sien verkry, soos ander sleutelbeelde in haar werk, ’n heel verbysterende diepte aan betekenis. Wanneer ’n gedig begin met die woorde “ek wil jou sien”, lees ’n mens in die reël wat daarop volg nie net die onmiddellike raak nie, maar ook ’n beskrywing van die wese van liefde, ’n hierdie geval liefde vir ’n geliefde op sterwe in sy bed.
In “Pa se klip”, die slotverhaal in Desembers, skryf sy oor ’n groot rivierklip op haar pa se graf. Dit is ’n klip glad gewas in oneindigheid, ’n wilde ding tussen bewerkte stene. Later kry die kinders ook veldklippe op aanliggende grafte. Op haar eie klip, toegegroei met perdeblom, kyk sy na die uitsig, veral na die merk van ’n sleephelling op die berg oorkant die rivier. Jan van Blom het die merk gelaat toe hy in voortye stinkhout uit die berg gebring het met osse wat teen die steilte sonder vastrap aan rieme hang en in doodsangs bulk, alles om die stinkhout uit te kry. Ander kon daardie tyd nie met hom praat nie. Vir haarself sê sy: “Ek moet met oom Jan gaan gesels oor daardie sleeppad. En ek moet gou maak …” Weer eens ’n oënskynlik alledaagse vertelling waarin elke woord veel meer sê as dit wat onmiddellik bedoel word.
’n Mens kan Petra Müller se lewe nie in ’n paar minute intrek nie. As ’n laaste woord, net dit: Oor manuskripte en skrywers het ek al met Petra verskil. Maar ook geleer: As sy eers haar voorvinger lig en jou toespreek, is dit wys om te luister. Baie goed te luister.
Lees Petra Müller se ATKV-Skrywersalbum hier op LitNet: