Literêre pryse in Afrikaans: ’n geskiedenis besaai met distels en dorings

  • 0

Marni Bonthuys en Ronel Foster se navorsing oor literêre pryse in Afrikaans is onlangs in LitNet Akademies gepubliseer: “Literêre pryse: ’n Oorsigtelike bespreking met voorbeelde uit die Afrikaanse literêre veld”. Die artikel werp lig op die manier waarop literatuurpryse die status van boeke en skrywers beïnvloed, en dit raak verskeie omstrede insidente in die geskiedenis van Afrikaanse literêre toekennings aan. Melt Myburgh het met die navorsers gesels.

LitNet Akademies-navorsers: Ronel Foster en Marni Bonthuys (Foto’s: verskaf)

 

Ronel en Marni, het Afrikaans nie te veel literêre pryse vir so ’n klein taaltjie nie? Dit is sekerlik die taal met die meeste “bekroonde” skrywers in die wêreld? Is dit ’n gesonde situasie? Is daar genoeg Afrikaanse skrywerskouers om geklop te word?

Ronel Foster: Ja Melt, gemeet aan die grootste tale – soos Mandaryns, Spaans, Engels, Hindi, Arabies, Bengaals, Portugees en Russies – is Afrikaans maar ’n baie klein taaltjie. Maar Afrikaans is een van die heel jongste tale ter wêreld – blykbaar die derde jongste taal wat amptelik erken is.

Dat daar soveel literêre pryse in Afrikaans is, kan ’n gevolg van ’n veelheid faktore wees: die geskiedenis van die taal en die vroeëre nasionalistiese strewe om die taal te vestig; die feit dat dit ’n jong taal is wat in die Nuwe Suid-Afrika “onder bedreiging” is; die gegewe dat dit deel van die globale literêre sisteem is en vir sigself ’n plek daarin wil verwerf; en die toename van die aantal pryse in ander tale.

Marni Bonthuys: Soos ons artikel betoog en Ronel hier bo noem, is die toename in literêre pryse ’n wêreldwye verskynsel. In my proefskrif het ek vergelykend met Afrikaans en Nederlands gewerk. In die Nederlandse en Vlaamse literêre veld is daar nóg baie meer pryse as by ons, hoewel Nederlands ook maar ’n klein taal binne die Europese konteks is.

In ons land, waar boekverkope dikwels beperk is (veral as dit by digbundels en dramatekste kom), verskaf literêre pryse in baie gevalle ’n groter finansiële beloning as die tantième wat skrywers uit verkope kry. Boonop suig die kunste in Suid-Afrika aan die agterspeen as dit by staatsbefondsing kom (ook hierdie situasie is in die Lae Lande heelwat anders).

My gevoel is dat die verskillende literêre pryse dus op ’n heel konkrete wyse ons letterkunde bevorder. Pryse is daarom, asook om die talle ander redes waarop ons in ons artikel wys, wel belangrik.

Antjie Krog saam met Wessel Pienaar en Hein Viljoen toe die Hertzogprys vir poësie in 2017 aan Krog vir die bundel Mede-wete toegeken is (Foto: Naomi Bruwer)

 

In die artikel verwys julle na die belangrikheid van literêre pryse se “kanoniserende en vormgewende” funksie. As julle kyk na die toekennings die afgelope vier, vyf jaar, tel julle vernuwende tendense op in terme van hoe die Afrikaanse literêre kanon uitgebrei word? Begin die letterkunde anders lyk as in die verlede?

Ronel: Dit is so dat literêre bekronings ’n aanduiding van kanonisering kan wees, omdat dit ’n erkenning en “goedkeuring” van bepaalde skrywers en hul werk is. Dit bied aan sowel ervare as opkomende skrywers ’n maatstaf om hul eie werk mee te beoordeel. In die geval van aspirerende skrywers kan hulle selfs bekroonde werke “naboots”, soos wat verskeie epigone in die sestigerjare Breyten Breytenbach se werk nageskryf het. Tendense kan ook nie slegs van enkele literêre pryse afgelei word nie – ’n mens moet die hele literêre toneel in oënskou neem om tendense vas te stel.

Breyten Breytenbach se debuutbundel die ysterkoei moet sweet het die Afrikaanse poësielandskap in 1964 dramaties verander (Foto’s: LitNet-argief).

In die afgelope dekade is vernuwing bewerkstellig deur klemverskuiwings wat onderwerp, tematiek, vormgewing en taal betref. Dit is veral bruin digters wat met interessante debuutbundels na vore getree en pryse verower het: Ronelda Kamfer (Noudat slapende honde, 2009-Eugène Marais-prys), Nathan Trantraal (Chokers en survivors, 2015-Ingrid Jonker-prys), Jolyn Phillips (Radbraak, 2018-UJ-debuutprys en Bientang, 2021-Eugène Maraisprys), Lynthia Julius (Uit die kroes, 2021-Sala-debuutprys), Ryan Pedro (Pienk ceramic-hondjies, 2021-Ingrid Jonker-prys en -UJ-debuutprys) en Ashwin Arendse (Swatland, 2022-UJ-debuutprys en -Eugène Maraisprys). Hierdie digters het ’n verruiming van onderwerpe en temas bewerkstellig. Hulle skryf oor hul komvandane, hul sosiale omstandighede, politieke ongeregtighede en hul pogings om sin te maak van die werklikhede waarin hulle hulle bevind – ook dié van hul voorgeslagte. ’n Groot wins is hul gebruik van verskillende variante van Afrikaans.

Wat tematiek betref, is ’n gerigtheid op die kosmos en die ekologie opvallend in byvoorbeeld Johann Lodewyk Marais se digbundel In die bloute (2012), Ingrid Winterbach se roman Die troebel tyd (2014) en Susan Smith se digbundel Die aarde is ’n eierblou ark (2016). Heelwat romans wat die afgelope dekade verskyn het, word as toekoms- of futuristiese fiksie beskou (of distopiese spekulatiewe fiksie). Voorbeelde hiervan is Lien Botha se Wonderboom (2015), Deon Meyer se Koors (2016), Rouxnette Meiring se jeugromans Kraak en Snak (albei 2018), Alettie van den Heever se Stof (2018), Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls (2019), Willem Anker se Skepsel (2020), Willem Krog se Alleen onder die maan (2020), Anton Roodt se Weerlose meganika (2020) en Jaco Fouché se Simoelégri (2021).

 

Die Hertzogprys dra ongetwyfeld die grootste prestige onder literêre bekronings in Afrikaans. In die artikel verwys julle na drie gevalle waar die prys deur ontvangers van die hand gewys is – CJ Langenhoven in 1927, NP Van Wyk Louw in 1937 en Breyten Breytenbach in 1984. Herinner ons lesers asseblief weer aan waarom die toekenning deur dié here geweier is, en waarom dit betekenisvolle insidente was.

Dankie, maar nee dankie! Naas Breyten Breytenbach het NP Van Wyk Louw en CJ Langenhoven op hul dag die Hertzogprys van die hand gewys. (Foto’s: CJLanhenhoven.co.za; LitNet-argief)

Marni: Interessant genoeg weier Langenhoven in 1927 en Van Wyk Louw in 1937 die Hertzogprys om dieselfde rede as Johann de Lange die Sala-prys in 2021. Langenhoven maak kapsie teen die feit dat hy die Hertzogprys in prosa vir Skaduwees van Nasaret met Jochem van Bruggen (vir Ampie: die meisiekind) en Sangiro (vir Diamantkoors en Twee fortuinsoekers) moet deel, en Van Wyk Louw dat hy die Hertzogprys vir poësie vir Alleenspraak met ID du Plessis (vir Vreemde liefde en Ballades) moet deel. Hierdie polemieke is reeds voorafgegaan deur beide Langenhoven en Van Wyk Louw (en ook WEG Louw, Van Wyk Louw se broer) se kritiese uitsprake oor verdeelde bekronings deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

In 1984 weier Breyten Breytenbach die Hertzogprys vir poësie vir (‘Yk’) omdat hy, volgens ’n amptelike verklaring, die Akademie beskou het as “the bulwark of the Afrikaner establishment” (sien Pieter Kapp, 2009, se Draer van ’n droom) en deur die prys te aanvaar nie enige legitimiteit aan “illusions of flexibility” wou gee met betrekking tot ’n uitsluitende literêre veld en organisasie nie.

 

Omstredenheid en skouspel is dikwels die kenmerk van narratiewe wat uit literêre toekennings voortspruit, soos wat julle in die artikel aandui, en dié “scandalous currency” dra juis by tot die vestiging van die status wat boeke in ’n letterkunde geniet. Terselfdertyd dink mens byvoorbeeld ook aan die nietoekenning van die Rapport-prys in 1988 met Koos Prinsloo se Die hemel help ons nadat die prys teruggetrek is omdat PW Botha beledig gevoel het. Prinsloo het agterna darem die prysgeld ontvang nadat hy gedreig het om te prosedeer! En dan was daar omtrént ’n rel oor die Hertzogprys vir Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins in 1964. Watter omstrede insidente staan vir julle uit in die Afrikaanse literêre geskiedenis?

Koos Prinsloo en Etienne Leroux (Foto’s: Rapid Access Publishers, Hennie van Coller)

Marni: Breyten Breytenbach se geskiedenis met die Akademie is ’n interessante geval. Sy weiering van die Hertzogprys wat hier bo vermeld word, is voorafgegaan deur ’n negering deur die Akademie van sy grondverskuiwende vroeë bundels (soos Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes, albei in 1964).

Om die omstredenheid hiervan te beklemtoon, kan ek byvoeg dat hy wel internasionale erkenning in hierdie tyd ontvang. Breytenbach se Lotus (1970) word byvoorbeeld in die Lae Lande met die belangrike Nederlandstalige debuutprys die Lucy B en CW van der Hoogt-prijs in 1972 bekroon. Dit was en is steeds ’n absoluut uitsonderlike bekroning, aangesien hierdie prys, wat uitgereik word deur die eeue oue Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, feitlik nooit aan nie-Nederlandstalige tekste gaan nie.

Eers meer as ’n dekade later, in 1984, gee die Akademie dus uiteindelik, na heelwat spekulasie in die koerante, aan Breytenbach die nodige erkenning – ’n eer wat hy toe effektief van die hand wys. In 1999, vir Oorblyfsels: ’n rougedig en Papierblom, asook in 2008 vir Die windvanger, word die Hertzogprys weer aan hom toegeken. Te midde van die “ander omstandighede” waarbinne die prys in ’n nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika toegeken word, aanvaar Breytenbach wel hierdie twee toekennings. Sy aanvaarding in hierdie gevalle, ná die vorige polemieke, het uiteraard weer heelwat media-aandag gegenereer.

 

Hipotetiese vraag: Gestel jy was ’n Afrikaanse digter (soos Ronel) en jy word as die Sala-poësiepryswenner aangewys. Sou jy die prys aanvaar, of sou jy dieselfde gereageer het as Johann de Lange verlede jaar?

Ronel: Dit is ’n moeilike vraag! Ons kan dit eintlik terugkaats na jóú – jy is mos self ’n digter, wie se debuut, oewerbestaan, in 2011 met die Ingrid Jonker-prys bekroon is! Elke digter moet volgens sy of haar gewete handel.

Bygesê: Prysadministrateurs behoort die doelstelling, reglement of riglyne van hul pryse voor die inskrywingsdatum bekend te maak. In baie gevalle is dit ongelukkig nie beskikbaar nie. Wat die rede vir die verswyging van riglyne van hierdie en ander pryse is, is onduidelik. Het hierdie “versluiering” miskien ten doel om probleme met sekere inskrywings of moontlike polemieke vry te spring? Dit kan ook wees dat riglyne aangepas of gewysig moet word soos wat omstandighede of die literêre toneel verander. So byvoorbeeld lui die oorspronklike reglement van die Ingrid Jonker-prys (1966) dat die prys toegeken word “aan ’n jonger digter wie se werk gedurende die betrokke twee jaar in Suid-Afrikaanse literêre tydskrifte verskyn het, of wat sy debuut met ’n eerste bundel gemaak het”.

Die lys pryswenners bewys egter dat daar van die begin af slegs digbundels bekroon is, nie werk in tydskrifte nie. Verder kan die term jonger digter as problematies beskou word indien dit op ouderdom betrekking het – TT Cloete was in sy laat vyftigerjare toe hy die Ingrid Jonker-prys vir Angelliera ontvang het.

Johann de Lange (Foto: LitNet-argief)

Marni: Ek was in 2011 eenmalig deel van die Sala-beoordelingspaneel met betrekking tot die Afrikaanse pryse. Dit was vir my ’n baie positiewe ervaring. Die algemene gevoel onder die uitgebreide paneel was dat hulle Suid-Afrikaanse letterkunde wou vier en soveel skrywers as moontlik wou vereer. Afrikaans is volledig hierby as taal van Suid-Afrika ingesluit – ’n sentiment wat hartseer genoeg soms nie in amptelike kringe herhaal word nie (dink byvoorbeeld aan die uitsprake van die minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, Blade Nzimande, dat Afrikaans ’n “uitheemse” taal sou wees).

Die Sala-beoordelingspaneel waarvan ek deel was, het reeds tóé al meerdere toekennings binne ’n kategorie gemaak vir tekste van verskillende tale. As een van die min literatuurpryse wat nog ’n vorm van staatsbefondsing kry, kan mens wel verwag dat die “narratief van die prys” (soos ons dit in ons artikel noem) van die Sala-toekennings sal verskil van dié van die meeste ander pryse in die Afrikaanse literêre veld.

Wat De Lange betref, is dit nie vir my om te sê of die prysweiering korrek was al dan nie – dit is uiteindelik die outeur se persoonlike keuse. Soos hier bo genoem, is die weiering van pryse ’n verskynsel wat ons in alle literêre velde sien. In my proefskrif vermeld ek gevalle in die Nederlandse veld waar outeurs pryse weier omdat hulle voel dat die prysgeld so klein is dat die bekroning nie getuig van enige ware erkenning of prestige nie. Jeroen Brouwers weier byvoorbeeld om hierdie rede in 2007 die beroemde Prijs der Nederlandse Letteren.

 

Dit gebeur soms dat boeke en skrywers belangrike toekennings deel, soos nou weer met Ashwin Arendse se Swatland en Frederik de Jager se Man op ’n fiets êrens heen se bekroning met die UJ-debuutprys. En dan is die Eugène Maraisprys in afsonderlike kategorieë aan hulle toegeken. Wat is julle gevoel oor pryse wat gedeel word? Moet beoordelaars nie maar net gedruk word om tussen die bestes te kies nie?

Bekroonde stokers: Frederik de Jager, skrywer van Man op ’n fiets êrens heen, en Ashwin Arendse, skrywer van Swatland (Foto’s: Protea Boekhuis en kknk.co.za)

Ronel: In beide die gevalle wat jy noem, gaan dit om debuutwerk in poësie en prosa – maar die betrokke pryse onderskei nie tussen genres nie. Vir beoordelaars is dit dikwels ’n groot probleem. Daar word dan gevra: Hoe vergelyk ’n mens appels met pere?

Dit is so dat beoordelaars dikwels die moeilike besluit moet neem om één wenner te kies, ongeag genre. Die Akademie was wys om die prys afsonderlik vir Arendse se digbundel en De Jager se kortverhaalbundel toe te ken, sodat elkeen as volwaardige wenner geld, en nie slegs as medewenner nie. (’n Mens hoop net dat die prysgeld nie verdeel word nie!)

Dit kan egter gebeur dat daar in ’n spesifieke jaar nie waardige wenners vir verskillende genres is nie en dat die prys nie dan verdeel hoef te word nie. Of dat beoordelaars “gedruk word om tussen die bestes te kies”.

Die Eugène Marais-prys is die eerste keer in 1961 toegeken. Daar is ’n paar voorbeelde van pryse wat volgens genre gedeel is. So is Joan Hambidge en Deon Opperman in 1987 albei met dié prys bekroon – Joan vir poësie (Bitterlemoene) en Deon vir drama (Môre is ’n lang dag / Die teken). Ook in 1974, 1994 en 1996 is verskillende genres saam bekroon – in 2017 selfs drie genres: poësie (Bibi Slippers vir Fotostaatmasjien), drama (Amy Jephta vir Kristalvlakte) en prosa (Lien Botha vir Wonderboom). Botha se roman het egter reeds in 2015 verskyn en moes dus vir die 2016-prys ingeskryf gewees het, toe Stephanus Muller die prys gewen het vir Nagmusiek.

In enkele gevalle is pryse binne dieselfde genre gedeel: in 1964 prosa (Elsa Joubert en Dolf van Niekerk) en in 2009 poësie (Ronelda Kamfer en Loftus Marais).

By die Hertzogprys, wat in 1914 tot stand gekom het, kom poësie, prosa en drama elk al om die drie jaar aan bod, dus is verdeling oor genregrense nie ’n probleem nie. Dit het wel al gebeur dat skrywers ’n prys moes deel – naas die skrywers wat by ’n vorige vraag vermeld word, die volgende: AG Visser en CM van den Heever (1928, poësie), Totius, C Louis Leipoldt en WEG Louw (1934, poësie), DF Malherbe en GC en SB Hobson (1930, prosa) en Gerhard Beukes en WA de Klerk (1952, drama).

Hoewel genre-onderskeidings by prysbeoordelings nuttig is, is daar werke wat genre-omskrywings oorskry, soos die reeds genoemde Nagmusiek. Dit is ’n driedelige, multigeneriese werk: biografie én roman. Dit geld ook vir Antjie Krog se getoonsette werk Die nuwe verbond – ’n misorde vir die universum van 2019. Die bygewerkte teks verskyn in 2020 op LitNet, onder die titel O brose aarde. ’n Misorde vir die nuwe verbond.

Antjie Krog se O brose aarde. ’n Misorde vir die nuwe verbond is hier op LitNet beskikbaar.

 

Julle artikel belig die belangrikheid van die rol van hekwagters in die toekenning van pryse. Hekwagters dien egter nie net in pryskomitees en op beoordelaarspanele nie. ’n Klompie jare gelede het Joan Hambidge en Johann de Lange byvoorbeeld hulle stemme dik gemaak toe daar besluit is dat die Ingrid Jonker-prys moet oorstaan, en hulle het nie teruggehou met slae uitdeel in die media nie. Die Ingrid Jonker-prys is toe wel in die betrokke jaar toegeken. Wat presies het nou weer daar gebeur?

Ronel: Jy verwys hier na die gebeure rondom die Ingrid Jonker-prys van 2010. Hekwagters en polemieke speel inderdaad ’n belangrike rol in enige literêre sisteem. Mits debatte konstruktief gevoer word, kan dit nadenke bevorder en ’n kritiese bewustheid kweek.

Die Ingrid Jonker-prys word sedert 1965 jaarliks beurtelings aan Afrikaanse en Engelse debuutdigbundels toegeken. Toe Louis Esterhuizen in Maart 2010 as voorsitter uittree, het komiteelid Rustum Kozain die voorsitterskap by hom oorgeneem, op voorwaarde dat daar eers ’n behoorlike reglement opgestel word en dat die prys nie in daardie jaar toegeken sou word nie. Die nietoekenning van die prys het tot groot omstredenheid gelei, totdat Kozain op 9 September namens die komitee ’n verklaring uitgereik het wat op Versindaba verskyn het.

Naas Hambidge en De Lange het onder meer Daniel Hugo, Johann Lodewyk Marais, Lina Spies en Charl-Pierre Naudé kommentaar gelewer, spesifiek oor die nietoekenning van die prys. Kort nadat Kozain op 17 September uit die komitee bedank, het Danie Marais en Gus Ferguson (die oorblywende lede) ’n nuwe komitee saamgestel. In ’n persoonlike stellinginname het Danie geskryf dat Kozain nie die persoonlike aanval op hom verdien nie, omdat hy moeite gedoen het om skenkings te verkry, ’n webblad te laat ontwerp en groter publisiteit aan die prys te verleen.

Verder skryf hy: “Ek was nooit ten gunste daarvan om die prys vanjaar te laat oorstaan nie, maar het tot Kozain se voorwaarde ingestem omdat ek oortuig was dat hy ’n langtermynvisie gehad het, wat die prys en digters tot voordeel sou strek. Dit was ’n oordeelsfout wat die nuwe komitee ongedaan sal maak.”

Die nuwe komitee (waarin ek self en Finuala Dowling ook gedien het, met Louis in ’n raadgewende rol) het ’n reglement opgestel. Die publiek het twee maande lank kans gehad om kommentaar hierop te lewer, maar die komitee het niks ontvang nie. Die reglement is steeds van krag. ’n Uitnodiging vir die voorlegging van Engelse bundels is op 12 November uitgestuur en op 6 Desember is aangekondig dat Tanya van Schalkwyk die wenner is, vir haar debuutbundel, Hyphen. Die Ingrid Jonker-prys is nooit gedeel nie, maar is enkele kere nie toegeken nie (1971, 1980, 1985, 1986 en 1994).

 

In 2020 het die Media24-pryse onder skoot gekom ten opsigte van “borgskappe en die samestelling van beoordelingspanele” nadat ’n debat daaroor in die Johannesburg Review of Books gewoed het. In julle artikel verwys julle dan ook na ’n “bisarre nadraai” tydens dié polemiek toe mense in die uitgewersbedryf en Rapport verskoning gevra het omdat hulle in ’n artikel “van slegs een bruin beoordelaar in die wit paneel (van 18 mense) melding maak, terwyl daar inderwaarheid twee bruin beoordelaars was”. Dié debat het die fokus geplaas op die stand van transformasie in die plaaslike uitgewersbedryf en in die toekenning van literêre pryse. Hoe voel julle oor transformasie in die Suid-Afrikaanse literêre veld?

Marni: Ek gaan my antwoord bepaal by die Afrikaanse literêre veld, aangesien ek minder bekend is met wat presies in ander Suid-Afrikaanse tale tans gebeur.

In die eerste plek is dit belangrik om te onderstreep dat dit, soos jy eintlik in jou vraag noem, hier oor die transformasie van ’n hele literêre veld gaan, nie net oor een prys of een uitgewer nie. Die literêre veld bestaan ook nie net uit skrywers, uitgewers en pryse nie, maar sluit ook letterkunde-onderrig (op skool en universiteit), biblioteke, die boekhandel, resensies en letterkundige navorsing in, en deesdae selfs boekgroepe op sosiale media, soos in ons artikel betoog. Pryse weerspieël maar net hierdie atmosfeer/konteks waarbinne dit toegeken word.

In aansluiting by Ronel se antwoord hier bo: Dit is opvallend dat daar ál meer bruin skrywers in Afrikaans met sterk debute na vore tree. Wat my navorsing betref, is ek veral geïnteresseerd in die werk van bruin Afrikaanse vrouedigters. Ronelda Kamfer was die eerste bruin vrou wat ’n volledige Afrikaanse digbundel by ’n hoofstroomuitgewer gepubliseer het, en dit was maar so onlangs as 2008.

Jolyn Phillips se Bientang het in 2020 verskyn (Foto’s: Human & Rousseau)

Sedertdien het talle bruin vroue uitstekende poësie begin publiseer – Jolyn Phillips se Bientang (2020) en Lynthia Julius se Uit die kroes (2020) is van die mees fassinerende Afrikaanse digbundels wat in die laaste jare in Afrikaans verskyn het.

Voorts is al meer studente in Afrikaans-departemente bruin. By die Universiteit van Wes-Kaapland het ons vanjaar ’n groep van byna 30 nagraadse studente (honneurs, MA en PhD). Dit is die rolspelers wat binne die volgende tien jaar die uitgewers, resensente, onderwysers, dosente, beoordelaars ... kortom, die hekwagters in Afrikaans gaan wees. Ek is dus positief oor transformasie in die Afrikaanse literêre veld. Hopelik raak dit so vanselfsprekend dat ons binnekort nie meer in nuusberigte hoef te lees dat daar één, nee wag, darem ’n volle twéé, bruin beoordelaars op ’n beoordelingspaneel van 18 mense dien nie.

 

Is daar na julle mening belangrike boeke wat oor die hoof gesien is met belangrike literêre pryse – ek dink byvoorbeeld aan Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie wat nie die Hertzogprys ontvang het nie? En is daar na julle mening vrot boeke wat, veral voor die sestigerjare, bekronings ten koste van beter publikasies ontvang het?

Ronel: Ja, Wilma Stockenström se magistrale novelle Die kremetartekspedisie (1981) het nie in 1982 die Hertzogprys vir prosa ontvang nie, maar wel Hennie Aucamp vir sy prosa-oeuvre. Stockenström is een van die min dubbelwenners van die Hertzogprys: in 1977 vir haar digbundel Van vergetelheid en van glans en in 1992 vir haar roman Abjater wat so lag.

Wilma Stockenström, deur Henk Serfontein (Foto: LitNet-argief)

Ten spyte van die groot waardering wat deur letterkundiges en die leserspubliek uitgespreek is (en word) oor Die kremetartekspedisie, het dit ook geen ander Afrikaanse prys ontvang nie, maar is spoedig deur JM Coetzee in Engels vertaal as The expedition to the baobab tree (1983). Verder is dit in Italiaans, Duits, Frans, Sweeds, Nederlands, Hebreeus en Portugees vertaal. Die Italiaanse vertaling, Spedizione al baobab, wen die Grinzane Cavour-prys vir die beste vertaalde boek van 1988. (Dit is interessant dat Julian Barnes se Flaubert’s parrot ook op die kortlys was.) Die novelle is ook tot drama verwerk wat sowel hier te lande as in die buiteland opgevoer is.

Op 9 Augustus 2003 (twee dae na haar 70ste verjaardag) sê Wilma Stockenström in Die Burger die volgende oor literêre pryse: “Pure gelukskote. Kyk watter faktore speel mee: die huidige mode, politieke tendense en die smaak van die beoordelaars. Nou ja, as jy dit alles in aanmerking neem, is dit net ’n gelukskoot as jy een kry.”

Marni: Naas Stockenström word die kortverhaalskrywer Abraham H de Vries dikwels vermeld as een van die outeurs wat spytig nooit met die Hertzogprys bekroon is nie, hoewel hy baanbrekerstekste in Afrikaans geproduseer het. Belangrike tekste van André P Brink en natuurlik Adam Small is ook oor die hoof gesien, oënskynlik, soos Breytenbach, as gevolg van die politiek van die dag.

Beide Brink en Small het egter na 1994 wel Hertzogbekronings verwerf (Brink in 2000 vir Die jogger en 2001 vir Donkermaan) en Small in 2012 vir al sy dramatekste. Hierdie bekronings was egter ook omstrede. Oor Donkermaan het sommige kritici gevoel dat dit nie Brink se beste werk is nie, maar bekroon is om reg te maak wat in die verlede verbrou is.

Wat Small se bekroning betref, is gevoel dat die prysreglement geïgnoreer is (Small het naamlik geen tekste in die beoordelingsperiode gepubliseer nie) om historiese tekste te bekroon wat meegebring het dat goeie, onlangse tekste oor die hoof gesien is. Beide bekronings is dus as “regstellende bekronings” gekritiseer.

Die hele bekroningsproses is gewoon maar ’n komplekse saak. Vanuit ’n agternaperspektief is dit baie makliker (en geriefliker!) om ’n oordeel te vel oor tekste wat eintlik bekroon moes word of miskien minder goed was. Die aard van hierdie kompleksiteite is egter belangrik om te ondersoek om die literêre veld beter te verstaan.

 

  • Lees Marni Bonthuys en Ronel Foster se LitNet Akademies-artikel oor literêre pryse in Afrikaans hier.

LitNet Akademies- en ander artikels deur Marni Bonthuys:

Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips

Marie Kondo: rondom minimalisme en die nut van boeke

COVID-19: die perspektief van Marni Bonthuys, ’n Suid-Afrikaner in België

LitNet Akademies- en ander artikels deur Ronel Foster:

Met Theo Kemp as medeskrywer: Deur die loergat: ’n Ondersoek na die voyeuristiese elemente in Johann de Lange se "Olympia"

Krap uit die see deur Fourie Botha: ’n resensie

Oor die toekenning van die Hertzogprys in LitNet Akademies:

Burgert Senekal: ’n Ontleding van Hertzogpryswenners se uitgeweryprofiele in terme van die Afrikaanse literêre netwerk en met behulp van Sosiale-netwerk-analise (SNA)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top