Marie Kondo: rondom minimalisme en die nut van boeke

  • 0

https://konmari.com/

Marie Kondo is 'n Japannese organiseringskonsultant. Marni Bonthuys skryf oor Marie Kondo se onlangse uitsprake rondom huis skoonmaak en die ontslae raak van boeke.

Marie Kondo en die algemene beginsels van minimalisme

Die minimalisme-beweging het die laaste paar jaar toenemend gewild geraak – veral onder millenniërs. Dit is 'n reaksie op die (veral Amerikaanse) verbruikerskultuur en staan krities teenoor die oormatige waarde wat die samelewing aan materiële besittings heg. Dit beklemtoon ook die voordele wat 'n geordende omgewing, sonder opgegaarde, nuttelose items, vir geestelike gesondheid inhou: 'n Mens moet in die oomblik leef, beklemtoon die minimaliste, en fokus op die noodsaaklike dinge wat vir jou belangrik is en jou gelukkig maak. Minimalisme gaan dus oor meer as netheid en orde en word beskou as 'n leefstyl of lewensbenadering. Dit strek verder as blote “spring cleaning”, organisering en herwinning, maar behels 'n manier van dink oor die verbruik en gebruik van goed/voorwerpe. (Nodeloos om te sê, is die meeste Westerse minimaliste nie arm nie. Mens het gewoon nie die luukse om te filosofeer oor watter besittings vir jou regtig belangrik is as jy in die eerste plek niks het nie.)

Marie Kondo skakel met die minimalisme, maar benader dit spesifiek vanuit 'n Oosterse hoek. Kondo is 'n Japannese organiseringskonsultant wie se boek The life-changing magic of tidying up 'n wêreldwye topverkoper was sedert dit in 2011 verskyn het en intussen in verskeie tale vertaal is. Haar organiseringsmetode (die “KonMari-metode”) inkorporeer beginsels van die antieke Japannese Sjinto-geloof, waarvolgens daar energie in alle dinge en voorwerpe is. Kondo motiveer kliënte dus om objekte te hou wat positiewe energie vir hulle inhou – spesifiek items “which spark joy”. Die hou/bewaring van items wat nie vreugde bring nie, moet tydens die organisering- en skoonmaakproses heroorweeg word en, indien nodig, laat gaan word nadat die eienaar hulle bedank het vir hulle diens. Dit gaan dus oor 'n bevrydingsproses ten opsigte van al die goeters wat ons lewe oorvol maak.

Om minder verbruikersgerig te leef, kan beslis positief wees. In 'n land soos Suid-Afrika waar daar soveel nood is, is daar ook baie waarde daarin om ongebruikte items uit te deel aan minderbevoorregte mense wat dit goed kan benut. Verder het Kondo goeie idees as dit kom by die organisering van 'n besige lewe wat beslis stres kan verminder en mense se lewens kan vereenvoudig.

In ooreenstemming met 'n interessante artikel in The Atlantic (https://www.theatlantic.com/entertainment/archive/2019/01/marie-kondo-fyre-fraud-and-tvs-millennial-burnout/580753) wonder ek egter dikwels as ek artikels oor minimalisme in die algemeen sien, oor ons hedendaagse obsessie met korrektheid en volmaaktheid: perfekte gesigte (keurig gegrimeer en plooivry – dankie Photoshop), perfekte etes (netjies voorberei en glutenvry – dankie Instagram), en nou, perfekte leefruimtes. Soos Sophie Gilbert in The Atlantic dit stel: “Amplified by social media, such perfectionism urges the posting of absurdly idealized images, which, transmitted, reinforce the cycle of unrealistic physical ideals and a sense of alienation.” Kondo maak dit duidelik op haar blog dat mens nie haar benadering moet volg bloot om jou huis vir gaste mooi te laat lyk nie, maar mens wonder hoe volhoubaar hierdie leefstyl is. Word die speelgoed nie maar 'n week na die Facebook-foto’tjie teruggebondel in die kas en die skoene onder die bed geskop nie?

Die hele konsep dat mens ontslae moet raak van die items wat nie vir jou vreugde bring nie, is natuurlik ook problematies. Ongelukkig is die noodsaaklikhede in die lewe dikwels nie die plesierigste nie (dink maar aan toiletborsels en skottelgoed!). Kondo se argument is egter nie van toepassing op dinge wat ons nodig het om te oorleef nie. Soos reeds gesuggereer, is haar aanhangers egter ook nie mense wat veg vir oorlewing nie. Die foto’s op haar stylvolle webtuiste (https://konmari.com), sowel as die items wat sy daarop verkoop en dienste wat sy bemark, gee 'n duidelike aanduiding van wie haar teikenmark is. Miskien is dít die ironie van Kondo se gewildheid – haar minimalistiese benadering resoneer juis met ons elektroniese verbruikerskultuur se strewe na kitsoplossings, hier kitsgeluk.

Kondo oor boeke

Wat Kondo tans so 'n gesprekspunt maak (terwyl ek hierdie stuk skryf, sien ek 'n insetsel oor haar op Sky News en Facebook-artikels opduik), is haar nuwe program op Netflix, Tidying up. Dit is egter veral as gevolg van haar uitsprake oor die hantering van boeke dat sy reaksie uitgelok het – veral negatiewe reaksie (sien hier Anakana Schofield se artikel in The Guardian https://www.theguardian.com/books/2019/jan/07/what-we-gain-from-keeping-books-and-why-it-doesnt-need-to-be-joy-marie-kondo). Kondo het naamlik aan kliënte te kenne gegee dat hulle ontslae moet raak van boeke wat nie vir hulle vreugde bring nie. Die vraag wat dus volgens haar oor boeke gevra moet word, is dieselfde as oor ander besittings: Hou dit positiewe energie vir die eienaar in – nou en/of in die toekoms? Ook die doel/effek van ongeleeste boeke moet daarom oorweeg word. Gaan die boek nog gelees geword? Hoekom moet dit dus behou word al dan nie?

Vir my as 'n boekemens het hierdie gesprek die aandag getrek, waarna ek meer oor Kondo begin lees het. Van die rapportering oor Kondo en haar reaksie op boeke skyn ietwat oordrewe te wees – sy het self intussen reageer dat sy nié, soos beweer word, meen dat alle mense 'n maksimum van 30 boeke moet besit of van al hulle ongeleeste boeke ontslae moet raak nie (https://bookriot.com/2019/01/14/marie-kondos-book-tidying-advice). Sy voel, soos in die geval van ander voorwerpe, net dat mense dít moet behou wat vreugde bring en hulle op 'n positiewe vlak vorentoe vat. Ondersteuners van Kondo beskuldig haar kritici gevolglik daarvan dat hulle aspris haar boodskap verkeerd oordra – 'n reaksie wat hulle toeskryf aan seksisme, rassisme, asook Westerse meerderwaardigheid. Dit mag inderdaad die geval wees by sekere individue. Ek reken egter dat die reaksie op Kondo vanuit boekgeledere te make het met die funksie van boeke, en spesifiek literatuur.

Die nut/funksie van boeke

Is die waarde van literatuur (en so ook ander kunsvorme) dieselfde as die waarde van ander objekte? As jy gaan oplees oor literêre waarde, blyk daar geen konsensus te wees oor hoe die nut van letterkunde gemeet kan word nie. Soos JJA Mooij in sy ikoniese artikel “Problemen rondom literaire waardeoordelen” (https://www.dbnl.org/tekst/_gid001197301_01/_gid001197301_01_0059.php) aandui, is literatuur nie soos 'n fiets nie – dit het nie 'n voor die hand liggende, eenduidige funksie nie. 'n Fiets kan mens weggooi as jy nie meer daarmee kan ry nie, want watter ander nut het dit dan? Maar wanneer gooi mens literatuur weg? Wanneer is literatuur nutteloos?

Literatuur/kuns het verskillende funksies en verskillende waarde vir verskillende mense. Om net vir plesier (of dan “joy” – vreugde) te lees, is sekerlik nie verkeerd nie. Dit kan 'n heerlike vorm van ontspanning en ontsnapping wees. Maar literatuur het ook ander funksies, en daar is 'n plek vir uiteenlopende soorte letterkundige tekste. Hetsy die sogenaamde lekkerleesboek of “hoë literatuur” (kategorieë waaroor lesers, letterkundiges en skrywers tog te lekker kan baklei), maar óók allerlei soorte niefiksietekste, ensiklopedieë, naslaanboeke, selfhelpboeke ens – in 'n boekrak vind mens 'n plesiertjie vir elke soort diertjie. Wat spesifiek negatiewe emosies en letterkunde betref (selfs erge negatiewe emosies soos skok, ontsteltenis en afsku), is literatuur dikwels hier soos die lewe: die donkerste/moeilikste lesse leer ons gewoonlik die meeste.

Naas die kwessie van emosie of effek moet mens ook nooit vergeet dat boeke léérsaam is nie. Ek begin graag my eerstejaarlesing oor letterkunde met die vraag: “Wat is die funksie van 'n boek?” En die meeste antwoord dan: “Dit verskaf inligting.” Veral as dit by kinders kom, is die blote teenwoordigheid van boeke al belangrik. Dit skep 'n geletterdheidskultuur, want dit maak kinders nuuskierig oor die onontginde verhaal of inligting wat daarin versteek is en bevestig dat boeke en, per implikasie, kennis, belangrik is. In die era van die internet, waar 'n magdom inligting letterlik 'n kliek ver is, sou mens reken dat kennis sentraal staan in ons lewens. Ons beleef egter 'n tyd waarin “fopnuus” (“fake news”) en misinformasie hoogty vier. Die toeganklikheid van kennis het juis tot gevolg dat werklike kundigheid soms nie meer gereken word nie – kyk byvoorbeeld hoe duisende mediese navorsers en dokters se kwalifikasies, bloedsweet, jare se ondervinding en behandeling van siek pasiënte deur die anti-inentingsbrigade as onbenullig verklaar word op grond van die paar Google-soektogte wat hulle een aand na 'n glas wyn gedoen het. Universiteitdosente vandag beleef geweldige uitdagings as dit kom by die taak om studente die verskil tussen betroubare en onbetroubare inligting te leer. Hoewel ons almal die internet benut (dit bly 'n fantastiese hulpbron), maak ons dikwels staat op boeke om studente bewus te maak van hierdie verskille. Geredigeerde, ewekniegeverifieerde, gedrukte en netjies gepubliseerde tekste is oor die algemeen meer betroubaar as 'n webblad vol spelfoute wat oornag verskyn en verdwyn.

Ten slotte

Mens sien gereeld op Facebook se koop-en-verkoop-groepe hoe ouers met hulle kinders se boeke smous, want sussie “het dit al gelees” of “hou nie (meer) daarvan nie”. So asof boeke maar net soos enige ander goedkoop speelding is – iets waarvan jy na 'n paar maande maklik ontslae raak. Uiteindelik is die vraag dus of die funksie van boeke dieselfde is as die funksie van ou klere of meubels of 'n fiets? Die antwoord hierop is 'n onbetwisbare nee. Daarom moet dit anders benader word as ander voorwerpe tydens (toegegee, soms broodnodige) skoonmaak- en organiseringsprosesse.

Beteken dit mens kan glad nie van boeke ontslae raak nie? Wel, ek self gee graag boeke weg. Veral aan my studente. En dié wat ek weggee, is nie noodwendig die verveliges of die onaangenames nie. Dikwels is dit juis dié wat vreugde gebring het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top