COVID-19: die perspektief van Marni Bonthuys, ’n Suid-Afrikaner in België

  • 4

Marni Bonthuys (foto: https://www.researchgate.net/profile/Marni_Bonthuys)

My en my gesin se storie is dié van talle Suid-Afrikaners. In 2018 word my man en al sy kollegas ontslaan toe die maatskappy waar hulle werk, bankrot speel as gevolg van wanbestuur deur direkteure wat die meeste werknemers nog nooit eers ontmoet het nie. My man sit maande werkloos, uitstekende kwalifikasie en tallose werksaansoeke ten spyt. Na ek ’n kongres in Oktober 2018 bygewoon het in België – ’n land wat ons beide ken, te danke aan my vroeëre nagraadse studies – doen hy vir twee poste daar aansoek. Drie maande later word hy as prosesingenieur aangestel by die Belgiese kernenergienavorsingsentrum op die Nederlandse grens. Ons besluit om nie blindelings te emigreer nie. Ek gaan in elk geval nie maklik werk in België kry nie. Ek hou dus my werk by die Universiteit van Wes-Kaapland en benut ’n affiliasie met Universiteit Gent waar ek jaarliks begin klasgee. Hy het baie verlof en kom gereeld Suid-Afrika toe. Ons kind word ingeskryf by twee skole met ondersteuning van fantastiese onderwysers in Somerset-Wes en België. Meestal moet ek egter maar alleen die fort in Suid-Afrika hou.

’n Kennis sê onlangs vir my dat ek en my gesin nou swaeltjies is soos die ryk Duitse bejaardes wat agter die somer aantrek na hulle huise in die Kaap en Europa. Dit klink baie opwindend. En soms is dit. Meestal voel ek egter meer soos ’n eend wat ek eenkeer in ’n tekenprent gesien het. Hy vlieg rustig voort totdat ’n vliegtuig agter hom opstyg. Al flappend en kwakend klap hy dan sy vlerke dat dit bars om uit die vliegtuig se skroewe te bly.

Dié eend verloor met die koms van die COVID-19-pandemie en die gepaardgaande reisbeperkings dan ook ’n hele paar stertvere, so naby draai die lemme. Met die eerste golf in Maart 2020 is ons gesin vasgekeer in Suid-Afrika. My man kom vir ’n vakansie huis toe toe  daar ‘n handjievol gevalle in België is. Twee weke later maak die spreekwoordelike deure agter hom toe. Hy sit vyf maande in Suid-Afrika vas (terwyl hy gelukkig kan telewerk) en vlieg in Julie terug na België met ’n peperduur repatriasievlug. Na allerlei dramas met verstreke vreemdelingkaarte en ontoeganklike burokrasie volg ek en ons kind in Oktober. Ons sou aan die begin van Suid-Afrika se nuwe skooljaar in 2021 terugkeer, maar intussen is België se grense weer (voorlopig) toegemaak tot begin Maart.

In Suid-Afrika maak ons al die bisarre lockdownbeperkinge aangaande sigarette en gereguleerde oefenure mee in Maart tot Junie 2020. In België tref ons met die tweede golf in Oktober tot Desember die rare “knuffelcontact”-reëls (’n knuffel is ’n drukkie) aan. Oor die feesdae behels dit onder meer dat jy net een persoon van ’n ander huishouding op ’n slag mag nooi as jy binnenshuis kuier. Sien jy kans om die ysige winter in jou tuin met jou gaste aan te durf, mag dit vier mense wees. Hierdie area moet egter via ’n buitehekkie toeganklik wees, want net een van die vier gaste mag deur jou huis loop. (Tensy Ouma of Oupa oor die muur kan klouter?) Dié reël geld ook vir die gebruik van die toilet – net een gas mag oor Kersfees binnenshuis plassen.

In België geld ook reëls wat talle Suid-Afrikaners dink net hulle regering spesiaal vir sy mense uitgedink het. Horeca (hotelle, restaurante en cafés) was ook met die eerste golf toe. Sedert die aanvang van die tweede golf in Oktober is die horeca se deure weer dig. Die doelpale vir opening verskuif heeltyd – tans word gepraat van April. “Ja,” skryf ’n Suid-Afrikaanse vrou op Facebook vir my, “maar in België sorg hulle vir hulle mense. In Suid-Afrika word ons uitgelewer.” Finansiële steun van die staat is hier dalk inderdaad meer, maar mens sien ook die verhuringsbordjies die een na die ander agter skielik leë kafeevensters opduik.

Ons bly in ’n piepklein Belgiese dorpie, Dessel, met ’n inwonertal van minder as 10 000 mense. Om die hoek van ons huis is die buurt se dorpscafé. Soos die gebruik is hier, kuier gesinne dikwels daar na werk vir ’n vinnige pintje. Veral hier in die platteland is goedkoop arbeid afwesig – die eienaar van die café/kroeg, wat dikwels bo sy/haar besigheid woon, maak skoon, kook, is kroegman en kelner. Die eienares van hierdie Desselse café staan elke week op ’n leer voor die groot vensters van haar plekkie en vryf die ruite blink. Sy doen dit steeds na maande se toe deure. Intussen het sy ’n lang boodskap op haar deur geplak getiteld “Doodsklokken luiden in de horeca” waarin sy vertel hoe sy “Kerstmis 1983” haar “tienerdroom vervul” en haar eerste “echt dorpscafé” oopgemaak het. Die verlies in hierdie skrywe, wat ek ten slotte deel, sal my nog lank bybly.

Voorts is kappers ook al sedert Oktober toe. Daar is sprake dat hul 13 Februarie gaan oopmaak op streng voorwaarde dat deure weer sal sluit as die infeksiesyfer styg. ’n Suid-Afrikaanse haarkapperkennis se teorie dat die (swart) Suid-Afrikaanse regering haarkappers toegemaak het omdat “hulle hare mos nie ’n blaas en ’n knip nodig het soos ons s’n nie”, is ook hier in die hartjie van Wes-Europa dus grondig verkeerd bewys.

.........

Soos in Suid-Afrika is die openbare gesprek tans hier oor vaksiene en die opinies van medici.

........

Soos in Suid-Afrika is die openbare gesprek tans hier oor vaksiene en die opinies van medici. In België is daar ’n aantal “celebrity”-viroloë en -dokters wat elke dag in die koerant of op televisie is. Hulle lewer uitsprake oor maatreëls en behandeling – dikwels tot irritasie van die publiek. Soos dikwels die geval is in die wetenskap, het kundiges verskillende opinies oor sake. Hierdie medici se uitsprake oor maatreëls is soms vir die publiek verwarrend en hulle word toenemend verkwalik vir die land se streng Covid-beperkinge. Só dreig een internasionaal bekroonde Belgiese sjef, Vincent Florizoone, die gerekende viroloog prof Marc van Ranst van die Universiteit Leuven met die dood. In reaksie op die geslote horeca skryf Florizoone: “Kan iemand Van Ranst de kogel geven met zijn bangmakerij, ge wordt bedot, media is corrupt, de staat nog corrupter.” Van Ranst, wat dikwels sy hekel aan politici vermeld en betaling vir sy diens op die regering se Covid-advieskomitee weier omdat hy voel dat dit sy wetenskaplike etiek sal belemmer, deel Florizoone se plasing op Twitter en vra die plaaslike polisie om dié “oproep tot geweld” te ondersoek.

.........

Suid-Afrikaners vra my oor die gebruik van ivermektien hier. Die antwoord is dat dit gewoon nie ’n gesprekspunt in België is nie. Geen vermeldings in koerante of op sosiale media of deur Belgiese kennisse en kollegas nie.

..........

Suid-Afrikaners vra my oor die gebruik van ivermektien hier. Die antwoord is dat dit gewoon nie ’n gesprekspunt in België is nie. Geen vermeldings in koerante of op sosiale media of deur Belgiese kennisse en kollegas nie. Vir die doeleindes van hierdie skrywe google ek dit om seker te maak. Ek kry byna niks. Volgens die amptelike riglyne vir die behandeling van COVID-19 (in Februarie 2021 bygewerk) van die Belgische Vereniging voor Infectiologie en Klinische Microbiologie toon die middel goeie resultate in enkele studies. Van hierdie resultate word egter steeds in twyfel getrek as gevolg van die navorsingsmetodes wat gebruik is en gevolglik word aanbeveling vir die behandeling van COVID-19 met ivermektien weerhou totdat verdere navorsing gedoen en betroubare resultate verkry is. Diegene wat Belge ken, sal weet dit is ’n nasie wat bekend is daarvoor dat hulle getrou reëls volg (selfs onder luidkeelse protes). Verder is Belgiese dokters nie lief daarvoor om sommer “sterk” medisyne voor te skryf nie – op Suid-Afrikaanse ekspatgroepe raai hulle jou altyd aan om Myprodols in jou tas te pak as jy in Suid-Afrika was vir ’n vakansie. My eie ervaring is dat jy duskant die dood moet wees om meer as ’n voorskrif vir ’n Panado’tjie te kry. Om van antibiotika nie te praat nie. Die amptelike voorskryf van ongetoetste medikasie met moontlike ernstige newe-effekte is dus haas ondenkbaar.

.........

Die onbekendheid met ivermektien geld egter ook in ander EU-state. ’n Duitssprekende Suid-Afrikaanse vriendin wat ’n reisagentskap bestuur, vra op Facebook wie van haar internasionale kennisse van ivermektien weet. Niemand nie. Net die Suid-Afrikaners.

..........

Die onbekendheid met ivermektien geld egter ook in ander EU-state. ’n Duitssprekende Suid-Afrikaanse vriendin wat ’n reisagentskap bestuur, vra op Facebook wie van haar internasionale kennisse van ivermektien weet. Niemand nie. Net die Suid-Afrikaners. Een vrou sê sy dink dat die Suid-Afrikaners kronies in die steek gelaat voel deur hul regering en die “’n boer maak ’n plan”-motto in situasies soos hierdie oorneem. Boererate en medisinale kruie was uiteraard al vir generasies in Afrika mense se redding. Hoewel mens Suid-Afrikaners se gebruik van die produk kan verstaan, slaan die óf-óf-benaderings tot ivermektien en vaksiene my dronk. Sommige mense is bereid om wat effektief veegif is, blindelings te drink, maar trek die streep by vaksiene omdat hulle kwansuis nie weet wat die newe-effekte gaan wees nie, hoewel laasgenoemde deur die top medici in die wêreld ontwikkel, getoets en goedgekeur is. En dit onder die wêreld se oë wat net wag vir rare simptome om te ontwikkel na die gebruik daarvan. Iewers het die ivermektien-versus-vaksien-gesprek lyk my gepolitiseerd geraak – nes hidroksichlorokien versus vaksiene in die VSA. Die feit dat die medikasie wat jy gebruik, jou politieke oriëntasie moet weerspieël, is bitter gevaarlik. Politici se belange lê nooit by die individu se unieke stel uitdagings (soos sy/haar unieke mediese probleme) nie, eerder by eie politieke mag/invloed en ekonomiese gewin. Om besluite te neem op grond van of jou dokter van Trump en AfriForum hou en of hy/sy vir die ANC stem, maak ook gewoon nie sin nie. As ek aan ons ongelooflike algemene praktisyn en pediater in Suid-Afrika dink wat ons sieklike baba kleintyd nagte sonder tal gesond gedokter het, gee ek nie ’n snars om oor hul politieke oortuigings nie. Hul kundigheid en medemenslikheid is vir my genoeg.

........

Iewers het die ivermektien-versus-vaksien-gesprek lyk my gepolitiseerd geraak – nes hidroksichlorokien versus vaksiene in die VSA. Die feit dat die medikasie wat jy gebruik, jou politieke oriëntasie moet weerspieël, is bitter gevaarlik.

..........

Wat die sogenaamde Merk van die Dier-argument teen vaksiene betref, is mens net so verstom. Wat van die maselsinenting wat omtrent almal van ons as kinders gekry het? Waai dier se merk was daai? En die mikroskyfie in die vaksien waarmee die regering ons gaan agtervolg? Is dit dan nodig? As ek en my kind in Suid-Afrika na my skoonfamilie in die Swartland ry, volg my man ons vordering op sy iPhone terwyl hy voor die televisie in ons woonstel in Dessel sit.

Die een ding waaroor al die Belgiese viroloë, nes hul kollegas in die res van die wêreld én die gerekende Suid-Afrikaanse medici saamstem, is dat vaksiene die enigste manier is om weer ‘n normale wêreld te hê. Dit is nie ’n waarborg teen infeksie nie, maar behoort ernstige siekte en die gepaardgaande oorweldiging van hospitale (die hoofmotiverings agter lockdowns) te stuit. Al word daar voortdurend meer goeie behandelings vir COVID-19-infeksies ontwikkel, is voorkoming altyd beter as genesing.

Soos pres Ramaphosa in Suid-Afrika aangekondig het, word in België ook amptelik aangedui dat jy nie verplig sal word om die vaksien te kry nie. Terselfdertyd word al meer geluide gemaak met betrekking tot die wys van vaksinasiesertifikate as jy wil bus ry, of jou kind staatskool toe stuur, of ’n musiekfees wil bywoon. Selfs ’n restaurant besoek. En beslis as jy wil vlieg. Marc van Ranst sê hieroor: “Als iedereen de kans heeft gehad, dan is het iets anders. Dan mogen landen of vliegtuigmaatschappijen wat mij betreft best zeggen: zonder vaccinatiebewijs kom je er niet in. Beslissingen hebben gevolgen, dat is zo met elke keuze in ons leven.”

Dis reeds vir ’n paar maande die geval dat jy ’n bewys van ‘n negatiewe Covid-toets moet toon voor jy toegelaat word om te vlieg. Dit het ’n paar opskuddings veroorsaak – op sosiale media lees ek dis glo teen mense se menseregte om getoets te word. (Skynbaar is dit egter nie teen mense se menseregte om op ’n vliegtuig siek te raak oor ’n ongetoetste Covid-asem aangedring het om saam met jou te reis nie.) Onder baie van hierdie soort menseregte-gillers was die konsensus op sosiale media dat hulle “sommer die toetsbewys vinnig sal vervals soos wat hulle met hulle kinders se vaksinasierekords vir staatskole gedoen het”. Danksy dié tipe narstreke moet almal nou twee toetsuitslae wys om na talle lande te reis: die 72-uur-PCR-toets-uitslag plus die uitslag van ‘n “rapid antigen test” óp die lughawe. Alles natuurlik op eie onkoste.

Ons uit Afrika sal verál in die toekoms moet kan bewys dat ons Covid-vry is – daarop kan mens maar reken. Dit is al vir dekades so dat as jy langer as drie maande in die EU wil bly en van Afrika kom, jy vir mediese toetsing moet gaan. In my studentedae was dit slegs ’n TB-toets (in die vorm van ’n longskandering). In 2019 moes ons hele gesin naas die TB-toets vir ’n volledige ondersoek gaan na ’n dokter wat deur die Belgiese konsulaat aangewys is. Van ons BMI’s tot ons tande is ondersoek. Weier jy? Wel, dan word jy verblyfreg in België geweier. Net so.

........

Die realiteit is egter dat niemand vorentoe jou ivermektiensertifikaat gaan vra nie. Inentingsertifikate gaan egter waarskynlik verplig word – in elk geval tot die meerderheid mense immuniteit teen COVID-19 het.

..........

Mens verstaan dat Suid-Afrikaners hulself probeer help in hierdie vreesaanjaende tye – veral as die persepsie is dat hulle nie op hulle regering kan staatmaak nie. Die Suid-Afrikaanse regering hét inderdaad ook weer talle foute gemaak met die inentingsprogram. Wanneer Covid-inentings eendag vrylik in Suid-Afrika beskikbaar sal wees, is dus ’n raaisel. Die realiteit is egter dat niemand vorentoe jou ivermektiensertifikaat gaan vra nie. Inentingsertifikate gaan egter waarskynlik verplig word – in elk geval tot die meerderheid mense immuniteit teen COVID-19 het. Miskien dink jy jy gaan nie reis nie? Ek het nie drie jaar terug gedink ek gaan vandag in die Belgiese Kempen sit nie. Verder het die ligspoed waarteen die virus versprei het, gewys hoe verweef ons wêreld vandag is. Een siek Chinees in ’n stad waarvan die meeste mense nog nooit gehoor het nie en enkele weke later stort ons lewens ineen van Somerset-Wes, Suid-Afrika tot Dessel, België. Dis maklik om te sê “my liggaam, my keuse”. Maar maatskappye het ook keuses oor hoe en aan wie hulle dienste lewer. Lande het ook keuses oor wie hulle binnelaat. Soos Van Ranst dit mooi stel: “Besluite het gevolge, so werk dit met alle keuses in ons lewens.” Ek dink nie enige van ons besef nog regtig hoe radikaal die pandemie ons realiteit op die lange duur verander het nie. Een ding wat ek wel weet, is dat ek die keuse maak om alles in my vermoë te doen om my en my gesin se lewe weer te normaliseer sover ek kan. Hierdie eend vlieg dus September België toe vir háár vaksien.

*

Laastens die slotparagraaf van die cafébaas in Dessel se boodskap op haar deur. Miskien bring dit vir die leser troos in solidariteit – ons word almal tans geteister deur dieselfde eensaamheid en onsekerheid:

Tot 14 maart 2020 had ik nooit veel vrije tijd.

Maar plots werd heel de wereld wakker geschud door een virus met de naam Corona. De regering sloot de horeca 3 maanden. Wij mochten NIET MEER WERKEN. Sluiten wanneer de klanten gingen slapen zat er dus niet meer in. Velen hielden hier een financiële kater aan over. Ik had nooit gedacht dat ik dat in mijn carrière nog moest meemaken.

Nee, op 61 jarige leeftijd wil ik nog niet gaan leven van mijn zelfverdiende spaarcentjes. Ik wil dat mijn kleinkinderen, heb er eentje van 9 maanden, mij nog herinneren als “Moeke Café”. Want waar wordt er gefeest, gelachen, gehuild, gedanst en gezongen? Toch wel in het gewone café waar Jan met de pet en Mijnheer met die hoed samen, aan de toog, kunnen discussiëren over koetjes en kalfjes. Ik ben na 37 jaren een ervaren horecamens.

Nu moet ik luisteren naar niet-horecaspecialisten. (Verplichte sluiting opnieuw vanaf 12 oktober.)

DE DOODSKLOKKEN LUIDEN IN DE HORECA.

Als die fiscus ons nu ook vergeet, zoals de politici, komt het misschien nog een beetje goed. Laat aub dit “sociaal netwerk” niet verdwijnen. Ze lossen de grootste problemen op. Geen enkele iPhone, tablet of pc zal jullie dit kunnen vertellen.

Groetjes, Sonja

 Lees ook:

COVID-19: Februarie 2021 se virusnarratiewe

COVID-19-narratiewe: Is dit amper verby?

"Ek hettie ge-expect om te survive nie": ’n COVID-19-survivor se storie

COVID-19: Die jongste | The latest

COVID-19: Ons lewens | Our lives

  • 4

Kommentaar

  • Ronel de Goede Foster

    Baie dankie, Marni, vir jou informatiewe essay en die interessante vergelykings wat jy trek. Hartlike groete

  • Terselfdertyd word al meer geluide gemaak met betrekking tot die wys van vaksinasiesertifikate as jy wil bus ry, of jou kind staatskool toe stuur, of ’n musiekfees wil bywoon. Selfs ’n restaurant besoek...

    Was hierdie maatreëls ooit in die tyd van die "groen/swart/rooi" griep vereis?

    Nooit voorheen was die wêreld en ons lewens "bedreig" met uitsluiting nie. Waarom nou?

    Niemand ontken die realitiet vd corona virus nie, maar die beheer waaronder die mensdom skielik nou ingedwing word, is sterk te bevraagteken.

  • Wannie Carstens

    Marni, dankie vir 'n insiggewende beskouing oor die opset in die twee lande. En ja, die 'Zuid-Afrikaanse variant" maak dinge seker ook nie makliker vir julle as Suid-Afrikaners daar nie. Ek het nie geweet julle het die skuif gemaak nie. Parys, Vrystaat lê nou ver terug in die verlede. Sterkte met die Belgiese verblyf en wat dit inhou. Dit laat my natuurlik ook terugverlang na Vlaandere!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top