COVID-19-narratiewe: Is dit amper verby?

  • 0

Mercy Kannemeyer, Lizan Joubert en Danie van Wyk

Naomi Meyer het nog drie lesers oor hul pad met COVID-19 gevra. Danie van Wyk het verwoesting in sy eie gemeenskap gesien, Lizan Joubert en haar gesin was siek en Mercy Kannemeyer wonder hoe lank hierdie virus en die effek daarvan op die teatergemeenskap gevoel sal word. Hier is elkeen se storie.

Danie van Wyk

Danie van Wyk (foto: Naomi Bruwer)

Danie, ek sien op Facebook dat die winkelbestuurder van jou plaaslike Spar-winkel oorlede is aan COVID-19. Hoe ervaar jy die effek van die virus op die omgewing waar jy jou bevind?

.........

Die COVID-19-pandemie is besig om soos ’n verwoestende veldbrand alles in sy weg te verbrand en te vernietig.

..........

Die COVID-19-pandemie is besig om soos ’n verwoestende veldbrand alles in sy weg te verbrand en te vernietig. Dit is asof die mensdom onder beleg verkeer en geen uitkoms binne die afsienbare toekoms sien nie.  Almal was al op een of ander wyse deur hierdie bose gees geraak – jy  is heel moontlik geaffekteer of geïnfekteer. Ek self het tot op hierdie stadium goeie vriende aan die dood afgestaan weens die virus. 

Vriende soos Arthrob Petersen, voormalige bestuurder van die Springbokke, en oudstudentevriend van my. Wat my diep geraak het van sy dood, is die feit dat ek en hy drie weke voor sy afsterwe nog ’n ete in ’n bekende restaurant in Paarl geniet het. Ons het beplan om mekaar te herontmoet en dan sy betrokkenheid by die DAK Netwerk, waarvan ek die voorsitter is, te bespreek. Daardie ontmoeting was ons nie beskore nie.

Keith Harker was die bestuurder van Spar nie ver van waar ek woon nie. Sy skielike dood was ’n groot skok  vir die hele gemeenskap. ’n Saggeaarde, vriendelike mens, wat altyd tyd ingeruim het om ’n geselsie aan te knoop. Sy heengaan was ook ’n duidelike bewys dat die virus toeslaan sonder aansien des persoons. Ek vrees deesdae om WhattsApp-boodskappe te lees, want ons word daagliks beroof deur ’n onsigbare vyand wat groot verwoesting saai.

Dit het ’n effek op alle vlakke van die samelewing, en moes aanpassings gemaak word om by hierdie omstandighede in te skakel. Die mensdom was seker in die dae van die “swart griep” laas so onder bedreiging. Daar word vertel dat die kinderliedjie “Ring-a-ring-a-rosies … and we all fall down” juis sy ontstaan gehad as gevolg van daardie pandemie. Die gewoonte om te sê “Bless you” wanneer iemand nies, dateer ook uit daardie era. Die Pous het ’n opdrag uitgevaardig dat wie ook al in die teenwoordigheid van die afgestorwe persoon was, die persoon kon seën. Vandag is omstandighede nie anders nie, en vra mense ook vir seëninge en gebed.

Lizan Joubert

Lizan Joubert (foto: Facebook)

Lizan, ek weet dat jy en jou hele gesin onlangs COVID-19 onder lede gehad het. Ek weet julle was baie siek. Sien jy kans om van jou ervaring te vertel?

Ons het so uitgesien na 2020 se Kersfees, om weer iets normaal te beleef na die stormagtige 2020, maar toe sit ons Kersfees in isolasie. Die tweede golf het ons toe wel gevang, ons hele gesin.

Ek het regtig baie sleg gevoel, maar die ergste vir my was die "mental game", om positief te bly.

.........

Ek het regtig baie sleg gevoel, maar die ergste vir my was die "mental game", om positief te bly.

...........

Elke dag steek ’n nuwe simptoom sy kop uit, elke dag hoop ek dit gaan beter, elke dag wonder ek of ek môre nog gaan lewe. 

Ek was bang ek moet hospitaal toe gaan en kom nie weer daar uit nie. Ek was bang ek het wel die hospitaal nodig en daar is nie ’n bed nie. Ek was bang ek sal nooit weer gesond voel en my fiets kan trap nie.

.........

Ek was bang ek moet hospitaal toe gaan en kom nie weer daar uit nie. Ek was bang ek het wel die hospitaal nodig en daar is nie ’n bed nie. Ek was bang ek sal nooit weer gesond voel en my fiets kan trap nie.

...........

Ek het net weer besef: Die virus het nie reëls nie, of hy het die reëlboek iewers in die eerste golf verloor; hy maak nes hy wil en almal ervaar hom anders.

Mercy Kannemeyer

Mercy Kannemeyer (foto verskaf)

"Is dit amper verby?" Mercy Kannemeyer deel haar gedagtes oor COVID-19

Mercy, dis een ding om te sê die teaterbedryf is op sy kop gekeer; dis 'n ander ding om elke dag daarmee saam te leef. Jy is 'n aktrise en skrywer van wie almal in die Afrikaanse teaterwêreld weet. En toe kom COVID-19. Hoe beleef jy die afgelope paar maande?

Die virus.

Aan die begin van die inperking was ek ekstaties oor die idee om vir 21 dae in my woonstel te bly. Uiteindelik ’n bietjie stilte! Ek kon verf, aan my tesis werk, my gunstelingreekse kyk, aan my tesis werk, en lees vir pret. 21 dae word toe maande. En dit word maande. En nog maande.

.........

Teater, my bron van energie, samesyn en (ek is bang om te sê) geld, droog op.

.........

Teater, my bron van energie, samesyn en (ek is bang om te sê) geld, droog op. Ek troos my aan die idee dat ek nie alleen is nie. Fisies alleen, ja, maar talle mense het sonder werk gesit. Gesukkel. Ons is nie alleen nie, nè?

Op ’n kol was ek nie meer lus om nuus te kyk of koerant te lees nie, want wanneer hou dit op!? Fake news, histerie, bogpraatjies, sameswering ... Wat gaan van my word as ek nie nuus kyk of koerant lees nie? Hoe gaan ek ingeligte opinies kan vorm?

Meer mense gaan dood, Jacob Zuma wil nie voor die Zondo-kommissie getuig nie, polarisasie neem toe, oorsee en hiér, Trump woon nie Biden se inhuldiging by nie, wie is nou weer verregs, Ace Magashule moet waai. Sommige mense dink dis hul reg om te swem. En die entstof? Die entstof.

.........

Sommige mense dink dis hul reg om te swem. En die entstof? Die entstof.

.........

Gedurende hierdie pandemie voel dit asof die hamster wat op die wiel in my brein hardloop net nie moeg raak nie. Dis aaneen. Alles is vervleg. Is dit amper verby? 

Lees ook:

My pad met COVID-19: drie ervarings van die virus

COVID-19: Die jongste | The latest

Sophia Oliphant gesels oor haar ervaring met COVID-19

COVID-19: Februarie 2021 se virusnarratiewe

COVID-19 en Herklink-oudiogedenkdienste: ’n onderhoud met Anelia Heese

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top