Sophia Oliphant gesels oor haar ervaring met COVID-19

  • 0

Sophia Oliphant, wie is jy? Vertel ons meer van jouself, asseblief?

Ek is ’n onderwyser en studeer tans teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Ek is geskei en woon saam met my twee seuns op Gouda.

Ek was een van baie mense wat in Januarie 2020 gedink het COVID-19 is net nog ’n griep. Hoe het jy aanvanklik oor die virus gedink?

COVID-19 was aanvanklik vir my ’n virus in ander lande, maar die spanning het reeds in Maartmaand 2020 sigbaar geword op die mense rondom my se gesigte. Tans is dit iets vreesaanjaend. Ek het gou besef ek moet kalm bly en by betroubare bronne meer uitvind oor die virus.

Het jou mening verander tussen Januarie 2020 en Januarie 2021? Kan jy verduidelik?

My mening oor die virus het definitief verander. Baie mense wat positief getoets het, het verskillend op die virus gereageer. Die persoonlike ervarings van mense is vir my belangrik, veral die persone rondom my en ook familielede. Ek probeer voorkomend leef en gee ook die raad vir my seuns en familie.

Een van die groot probleme is dat party mense dit kry en niks oorkom nie. Baie ander gaan dood. Hoe ervaar jou gemeenskap en vriende die virus?

Dis ’n raaisel dat sommiges geen simptome wys nie en dis juis hulle wat die meeste ander mense (onwetend) aansteek. Die dood is ’n onderwerp wat nou onvermydelik is. Die mense in my gemeenskap begin nou meer bewus word van die dodelikheid van die virus. Ons is verslae en verlate as die dood intree.

Werkloosheid is ’n geweldige probleem. Ek ken baie vriende wat swaarkry weens die inperking en die gebrek aan toerisme. Hoe gaan dit by julle?

Baie mense in Gouda het hul werk verloor. Die enigste trein, wat net soggens ry en saans terugkeer, is gestop. As gevolg van vervoer is mense werkloos gelaat. Seisoenwerk in fabrieke het darem in November 2020 weer begin en mense kon weer geld verdien.

Ons Suid-Afrikaners hou mos nie daarvan om gesê te wees nie, so baie mense wil nie ’n masker dra nie, al is dit een van die beste maniere om te keer dat ons ander aansteek, veral wanneer ons nie weet ons is siek nie. Hoe gaan dit daar by julle, dra mense maskers?

Baie volwassenes het aan die begin alreeds hul maskers gedra. Die jonger mense en kinders het eers later begin maskers dra. By die winkels hier is die maskers ook verpligtend. Dis goed om te sien dat die regte gesindheid so aansteeklik is.

En die inentings? Hoe voel jy, jou vriende en die gemeenskap oor die inentings wat hopelik sal kom?

Ek het baie vertroue in my land se dokters. Omdat ek die griepinspuiting jaarliks neem, weet ek dat elke entstof deur die Gesondheidsraad getoets word voordat dit versprei word. My vriende verwelkom die entstof, maar voel ook beangs.

Lees ook:

My pad met COVID-19: drie ervarings van die virus

My tuintjie het nie genoeg blomme nie

Elders gesien: Hoe gaan ons hierdie kollektiewe trauma vorentoe hanteer?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top