My pad met COVID-19: drie ervarings van die virus

  • 19

Lorraine van Niekerk, Elmarié Dercksen, Juliana du Toit-Truter

Drie vroue in hul veertigs vertel vir Naomi Meyer hul onderskeie stories van hul pad met COVID-19.

Lorraine van Niekerk, assessor en moderator van die matriek-wiskunde-herprogram, praat oor wat sy ondervind het.

Lorraine van Niekerk

Lorraine van Niekerk, wie is jy?

Ek is ’n assessor en moderator van 'n matriek-wiskunde-herprogram en outeur van wiskundeboeke.

Hoe het jy aanvanklik oor die virus gedink, voordat jy dit gekry het?

Ek was bang en onseker oor die virus. Ek het gelees hoeveel gesondheidsprobleme mense oorgehou het na die 1918-griep, en dis wat my bang gemaak het. 'n Onbekende virus veroorsaak onbekende probleme. Ek het wel geweet indien ek dit sou kry, sou ek die bloedklontvorming wil aanspreek.

Hoe het jy geweet dat jy die siekte onder lede het?

Ek moes reis vir werk en het die Vrydag geland uit Johannesburg uit en die Saterdagmiddag het ek 'n stuk pynappel geëet en dit was smaakloos en toe het ek besef ek kan niks ruik of proe nie, en dit het eensklaps gebeur.

.........

Ek moes reis vir werk en het die Vrydag geland uit Johannesburg uit en die Saterdagmiddag het ek 'n stuk pynappel geëet en dit was smaakloos en toe het ek besef ek kan niks ruik of proe nie, en dit het eensklaps gebeur.

..........

Was daar ander simptome?

Later het ek erge hoofpyn gekry, hartkloppings, en die aartjies in my oë het begin bars; verder was my oë moeg, krapperig en branderig – asof ek 'n hele dag in die son deurgebring het.

Het jy enige idee waar jy dit moontlik kon gekry het?

Ek kan raai waar ek dit kon opgetel het, maar ek het gereis van Kaapstad na Johannesburg vir werk, so alhoewel ek baie versigtig was en my masker gedra het en my hande duisende kere skoongemaak het, het ek dit iewers opgetel. Een ding is ek wel oor seker, my viruslading was nooit baie hoog nie, so die masker en die hande skoonmaak het definitief gehelp dat ek nie 'n volle dosis sterk virusse ingekry het nie.

Beskryf asseblief hoe jy gevoel het en hoe lank die siekte voortgeduur het (of steeds aan die gang is).

Ek het eerstens vreeslik skuldig gevoel – ek weet my kring van aanraking strek regoor die land en ek kon moontlik duisende aangesteek het. Dan was ek bang – ons weet nog so min van hierdie virus en veral oor die nagevolge daarvan. Verder was ek moeg. Ek was nooit regtig baie siek nie, maar sjoe, ek was moeg! Die reuk- en smaakverlies is ook nogal moeilik om te hanteer. Ek was vir net so vyf dae lank siek.

Enige mediese raad vir mense wat nog nie die siekte gehad het nie?

.......

Neem aspirien of enige bloedverdunner sodra jy dink jy is siek – daar is bevind dat mense wat 81 g aspirien per dag inneem, hierdie siekte baie beter beveg as diegene daarsonder. Neem ook sink, vitamien C en vitamien D3 – dis wat die meeste dokters, ook myne, aanbeveel.

.........

Neem aspirien of enige bloedverdunner sodra jy dink jy is siek – daar is bevind dat mense wat 81 g aspirien per dag inneem, hierdie siekte baie beter beveg as diegene daarsonder. Neem ook sink, vitamien C en vitamien D3 – dis wat die meeste dokters, ook myne, aanbeveel. En al hierdie medisyne kan jy neem, al vermoed jy jy is blootgestel.

Hoe voel jy nou (fisiek)?

Heel goed; my reuk en smaak is nog nie heel terug nie, maar ek oefen dit.

Hoe sien jy die toekoms saam met hierdie virus – en die nuwe variant wat sy opwagting gemaak het?

Hierdie virus is hier om te bly en selfs met die inenting kan dit tot drie jaar vat voor ons groepsimmuniteit het. En hoe meer 'n virus oorgedra word, hoe vinniger muteer dit, so die enigste verweer wat ons het, is om maskers te dra, ons groepe klein te hou, ons beweging te beperk, hande te was en maskers te dra, totdat COVID-19, soos griep, deel raak van die virusse wat ons jaarliks moet aanpak.

Enigiets anders wat jy rondom jou ervaring wil deel?

Emosionele welstand is iets wat vir my baie belangrik is. Ons reuksintuig speel 'n groot rol in ons emosionele welstand, so die verlies van ons reuksintuig kan, veral in hierdie feesseisoen, beteken dat ons terneergedruk kan voel. Dis baie belangrik dat jy so vinnig as moontlik nadat jy jou reuksin verloor, begin met ruikoefeninge. Hoe gouer jy begin, hoe beter en gouer behoort jy jou reuksin te herwin.

Raak aan jou neus, sê die naam van die voorwerp hardop, byvoorbeeld "piesang". Ruik die piesang, terwyl jy probeer onthou hoe piesang ruik, of dink aan 'n aangename piesang-ervaring, byvoorbeeld jou ma se piesangbrood. Probeer soveel as moontlik voorwerpe en kosse ruik. As jy begin om sekere reuke te herken, selfs al is dit net vir 'n breukdeel van 'n sekonde, vra iemand om jou te help om 'n speletjie daarvan te maak – die verhoogde emosie behoort ook die reukherkenning te stimuleer.

Indien jy jou reuk- en/of smaaksintuig verloor het, hier is 'n vraelys wat jy aanlyn kan invul om te help met die navorsing oor hierdie simptoom. Jou antwoord help dalk iemand! https://gcchemosensr.org.

Elmarié Dercksen

Elmarié Dercksen, leraar by die NG Kerk Bloubergstrand, beantwoord dieselfde vrae en deel háár ervaring.

Ek het vertroue in die mediese wetenskap, omdat hulle met vaste en deursigtige beginsels werk. Toe die kenners in omgewingsgesondheid ons waarsku, het ek dit ernstig opgeneem (selfs al het die politieke magspeletjies rondom die inperkings ons gefrustreer, en die ekonomiese skade ons harte gebreek). Ek het getrou my masker gedra, hande gereinig en nabye kontak met mense vermy. Ek moet darem byvoeg dat ek geweier het om vrees in my hart toe te laat, omdat dit nie veel plek laat vir liefde nie – en ek verkies om met my fokus op laasgenoemde te leef.

Ek en my man, ook 'n predikant, het dit gelyk gekry (hoewel ek vermoed dat ek by hom aangesteek het!). Ons weet regtig nie waar ons dit gekry het nie. Ons het streng protokol en beperkte bywoningsgetalle by die kerk, en die enigste plekke wat ons besoek het buiten die kerk, was vir die nodige inkopies.

As ek terugdink, was ek die week voor ek begin simptome kry het, moeër as gewoonlik, behalwe die laaste simptoomvrye dag: Ek het 'n goeie agt kilometer gestap en het buitengewone energie gehad. My dokter sê dis 'n tipiese presiekte euforie.

........

Die nag daarna het ek wakker geword van 'n allemintige hoofpyn, en moes die volgende dag met koors gaan lê. Covid-toetse het ons vermoedens bevestig, en 'n volledige twee weke van pyn en koors het gevolg.

.........

Die nag daarna het ek wakker geword van 'n allemintige hoofpyn, en moes die volgende dag met koors gaan lê. Covid-toetse het ons vermoedens bevestig, en 'n volledige twee weke van pyn en koors het gevolg. Ons het 'n wonderlike dokter vir wie ons vertrou, en hy het daagliks met ons telefonies gekonsulteer. Suurstofsaturasie, polsslag en bloeddruk is gemonitor. Ons moes baie water drink – dis glo die witbloedselle se brandstof. Mukolitiese medisyne wat help om die longe skoon te hou, vitamienaanvullings en genoeg pynpille is wat 'n mens nodig het om daardeur te kom. Mense vra vir my: Is dit soos griep? Vir my was dit tien keer erger. Eers nadat ek kortisoon begin neem het op dag 10, het ek begin beter voel, en het my smaak- en reuksintuie begin terugkeer na normaal.

........

Die grootste impak is vanweë die moegheid – dit is werklik ingrypend. 

........

Die grootste impak is vanweë die moegheid – dit is werklik ingrypend. Tydens simptoomdae het jy nie eens die krag om badkamer toe te loop nie. My rustende polsslag was bo 100 per minuut vir die volle twee weke. Tans is ons 10 dae simptoomvry, maar ons moet steeds baie rus. Drie weke gelede was ek relatief fiks, nou kan ek skaars een stel trappe klim. Ek sukkel om vol sinne te praat of om te sing.

..........

Ek is bereid om mense te smeek om die mediese kenners ernstig op te neem.

........

Ek is bereid om mense te smeek om die mediese kenners ernstig op te neem. Navorsing oor 'n onderwerp beteken nie jy raadpleeg sosiale media of die internet nie; jou bron moet eerstehandse, relevante en getoetste informasie lewer. Praat met jou dokter, vra daar jou vrae, en glo wat sy of hy sê, nie een of ander duistere figuur wat eties betwyfelbare dinge kwytraak op die internet nie.

Ek glo ons sal volkome herstel en is dankbaar vir genesing en vir ons kinders wat ons so mooi versorg het. Die lewe is moeiliker sedert die pandemie, en niemand van ons kan beplan vir 2021 soos ons graag wil nie. Kerk hou lyk anders; ek mis veral die samesang, die groot en luisterryke koor- en aanbiddingsgeleenthede wat my vroeër besig gehou het.

Ek moes my prioriteite aanpas – die belangrikste is om nie weer die virus op te doen nie! En natuurlik om mekaar veilig en gesond te hou. Ons is almal versigtigheid verskuldig, terwyl ons met kalmte en lewensvreugde voortbeur.

Mag 2021 ook aangename verrassings inhou.

Juliana du Toit-Truter

Juliana du Toit-Truter, vioolonderwyser, beantwoord ook die vrae en deel haar pad met COVID-19

Ek moet erken ek was ’n bietjie blasé oor Covid gewees; gevoel ek is nou oor dit. So gou ek kon het ek my masker afgehaal, mense wat ek lanklaas gesien het, gegroet met 'n drukkie, ens. Ook gedink as ek dit moet kry, sal dit seker wees soos 'n ligte verkoue. Ek is mos fiks en baie gesond, kry onder normale omstandighede nie eers griep nie.

Ek het aanvanklik gevoel asof ek ligte verkoue het, maar wat vir my wel vreemd was, was dat ek die eerste aand wat ek gevoel het ek het iets onder lede, nie my oë kon oophou nie. Dag 2 en 3 was ek fine, ’n bietjie under the weather, maar nie gedink dit is ernstig nie. En toe op dag 4 het ek besef hier is nou fout. Ek was nog fine toe ek opstaan, en soos die dag gevorder het, het ek net al hoe slegter begin voel. Kan nie regtig beskryf nie, net all over terrible. En weer die verskriklike moegheid dat ek die middag vir drie ure gaan slaap het. Baie vreemd vir my, want ek vat selde 'n middagslapie. Dag 5 het ek begin hoes, hoofpyn en seer longe. Ek dink die beste om dit te beskryf is dit het gevoel of my kop, keel en longe gerasper is. Gelukkig geen koors gehad nie en ook nie my reuk en smaak verloor nie. Net heeltyd slegte smaak in my mond gehad, so kos was nie lekker nie. Al waarvoor ek lus was, was toast en lemoensap. Was ook nie lus eers vir lees of Netflix kyk nie. 

Sal sê ek het so na nege dae begin beter voel; energie begin terugkom, boek gelees en ingehaal op my series. 🙂 Na my 14 dae in kwarantyn het ek hoes oorgehou en seker nog vir vyf dae daarna elke oggend met hoofpyn opgestaan. Vermoed wel dat die hoes op daardie stadium veroorsaak was deur 'n sekondêre infeksie, sinusinfeksie en nasale drup.

Dit is nou omtrent vyf weke sedert ek begin simptome kry het. Ek het einde verlede week vir die eerste keer sedertdien weer begin draf; my longe is vir seker nog nie wat dit was nie. En ek raak gou moeg, so vat dit maar nog baie stadig! Dit bewys ook net dat hierdie nie 'n gewone verkoue of griep is nie. Maar verder kan ek genadiglik sê ek voel baie goed!

Geen idee waar ek dit kon gekry het nie!

Ek het nie regtig mediese raad vir iemand wat dit nog nie gehad het nie, want ek het getrou my vitamine C en sink gedrink om immuniteit op te bou (en my immuunstelsel is oor die algemeen sterk) en ek het dit nog steeds gekry. 

........

Ek voel vir seker nou anders oor die virus. Dit is nie 'n grap nie en dit is oral – jy kan dit op enige plek kry. So dra maar jou masker, vermy kuiers in groot groepe en amper belangrikste vir my is hou jou afstand.

.........

Ek voel vir seker nou anders oor die virus. Dit is nie 'n grap nie en dit is oral – jy kan dit op enige plek kry. So dra maar jou masker, vermy kuiers in groot groepe en amper belangrikste vir my is hou jou afstand. Ek sal nou nie eers iemand met die hand groet nie. Ek fokus maar nie te veel op die nuwe variant nie, want wat kan ons tog doen daaraan? Behalwe om maar net regtig versigtig te wees en nie onnodig tussen ander mense te kom nie, masker te dra en te sanitise nie. Ek dink tog daar is iets te sê vir in die buitelug wees saam met ander mense, dat dit vir seker veiliger is. In ons hardloopgroep is ons al drie wat Covid gehad het en ons het niemand anders in die groep aangesteek nie. Ons het ook nie mekaar aangesteek nie.

Ek dink ons gaan maar nog vir 'n tydjie moet maskers dra, ens. En ek hoop regtig dat almal dit meer ernstig begin opneem sodat dit nie nodig is om weer in 'n lockdown te gaan nie.

Ek kan ook net byvoeg nog 'n slegte deel van die siekte is die isolasie. Dit is sommer net goor om so op jou eie te lê en jou huismense is maar heeltyd bang dat hulle ook aangesteek het. Die siekte kan vreeslike mind games met jou speel! 

  • 19

Kommentaar

  • Erika Williams

    Dis 'n vreeslike siekte, wat jou bekruip en uitmergel. Ek kan ook net sê dat 'n mens nie té versigtig kan wees nie. Persone met komorbiditeite (diabetes, hoë bloeddruk, geneigdheid tot asmatiese bronchitis, thrombosis ens) moet bitter versigtig wees. Ons gesin het ook dieselfde simptome ervaar. Die moegheid is due ergste!!

  • Helene Meissenheimer

    Ek kan net saam stem hierdie is nie griep nie! En die spanning of jy jou geliefdes onwetend aangesteek het, is loutere hel.

  • Michelle van Niekerk

    Sjoe dis great om julle ervarings te lees en te voel ek was nie al een wat so vreeslik moeg was nie. En dit lank voor en na diagnose.

  • Jacobus van Heerden

    Is ook positief getoets die 03-01-21. Was 'n week voor dit in die bed met koors. Wat my erger gevang het, was: ek het blaaskanker. Die medies (Discovery) en die dokter was geen hulp nie. Ja, hulle het 'n sms gestuur om te sê hulle stuur my 'n gratis OXIMETER om my te monitor omdat ek "high risk " is. Na 2 weke nog niks ontvang nie. Gelukkig my eie gekoop. Dokter laat weet toe my lesings laag begin word, maar geen hulp gekry nie. Probeer kos aanlyn bestel. Net Checkers doen dit en hulle voedsel is laegraad. Het maar self gery en gaan koop. So, ek dink die virus word versprei omdat daar geen hulp is na jy positief getoets het nie.

  • Het gedurende November 2020 begin nies, wat gewoonlik die voorloper van 'n griep is.
    Groepsimptone het net vererger met erge moegheid.
    Gediagnoseer middel Desember 2020 en opgeneem.
    Ontslaan in Januarie '21 en huis toe, nog maar vrotterig.
    Medikasie getrou geneem en goed geëet.
    Stadig begin om te oefen sonder om liggaam te ooreis.
    Het 7-10 km per dag gestap, net nog baie gesukkel met trappe.
    Goed gevoel oor die algemeen.
    Begin Maart weer skielik moeg geword, met al die bekende simptome van erge griep, kopseer, lighoofdigheid, krampe, kortasem en ander simptome.
    Beteken dit ek het 'n nuwe aanslag van Covid, of is dit nog maar deel van die oorspronklike?
    Kan skaars 100 meter stap.
    Sal baie waardeer as iemand meer inligting kan verskaf.
    Baie dankie.

  • Ek het vier weke terug negatief getoets. Alle kos en drinkgoed was galbitter. Dit het gelukkig na 'n week weggegaan maar is nou weer terug. Moet ek weer gaan vir 'n toets?

  • Ek is 4 weke terug negatief getoets vir COVID-19. Ek het die toets gedoen omdat ek siekerig gevoel het en alle kos en drank wat ek gebruik het het 'n bitter smaak gehad. Nou is die bitter smaak weer terug. Moet ek my weer toets?

  • Sophie van Rensburg

    Ek is 18 April 2021 met ambulaans hospitaal toe. Was 4 week in hoësorg. By die dood omgedraai. Nou by huis. 24/7 op suurstof en natuurlik baie moeg en kortasem en my hartklop bly hoog. Sal graag wil hoor van iemand met dieselfde ondervinding. Dr sê herstel 3 tot 5 maande.

  • Andries Kotze

    Ek het 1 April haeltaksasie gedoen in die Kroonstad-distrik saam met 2 mede-takseerders.

    Ons het bietjie natgereën en ek het effens ongemak gehad.

    Ek het die dokter besoek aangesien ek 'n bosluisbyt gehad het en bosluiskoors vermoed het.

    Ek het voorskrifmedikasie geneem sonder enige sukses.

    Ek was die hele paasnaweek in die bed en het na die dak gestaar met koors. Ek het Dinsdag na die paasnaweek besef daar's groot fout; my mond was droog en my tong het aan my verhemelte vasgesit.

    Dog ek het suiker-moeilikheid en ek het my suiker gaan toets (suiker-toets: 6.4) by 'n vriend wat 'n lyer is.

    Ek het dadelik na 'n dokter gegaan, want ek het vermoed ek het COVID-19.

    Ek het my dogter, 'n apteker in 'n privaat hospitaal, geskakel, wat my dadelik laat opneem het, en ek het positief vir COVID-19 getoets.

    Ek het baie hoë koors gehad en was elke nag papnat gesweet.

    Ek is na 10 dae ontslaan.

    - Smaak was nie aangetas nie
    - Ligte longinfeksie
    - Geen asemnood
    - Hartritme vir lank 100 slae (+)
    - 9 kg gewig verloor: van 80 kg na 71 kg
    - Baie fisiese krag verloor
    - Baie goeie eetlus deur die hele ervaring

    Ek dank my Skepper dat Hy my deur hierdie ervaring gespaar het, en my familie en vriende vir gebede en morele ondersteuning.

  • Ek is 16 Julie 2021 positief getoets. Gedurende my isolasie kon ek nie eens uit my bed kom nie vir 'n dag of 2 sommer nie eers opgestaan vir toilet toe gaan nie. Verskriklike kopsere gehad, koors en diarree, ek't my smaak en reuk verloor. Ek bly alleen so ek het net gelê, niks vir myself gedoen nie. Ek kon nie. Ek't nooit geëet regtig gedurende die tyd nie. Ek het wel as ek opgestaan het bietjie swaar getrap op my voete, maar dit was vir my niks snaaks nie. Ek moes 26 Julie terugkeer werk toe, maar my dokter het my nog 'n week afgeboek, want ek het nog gesukkel met eetlus, kortasem, kopsere.

    Op 2 Aug her ek begin werk. 2 dae voor dit het ek probleme begin kry met my voete. My enkels het geswel en dit was verskriklik moeilik om te loop. Ek is terug dokter toe waar hy my meedeel dis edeem.

    Ek kom nou agter op sommige plekke van my onderlyf voel dit met tye dood. Soos ons sal sê my voet of hand slaap. Enkels nie meer regtig geswel maar kry die verskriklikste steke in my voete en bene. En ek sukkel nog met kortasem.

  • Magdeleen Richter

    Ek is positief getoets op 7 Augustus 2021 vir Vovid. My sintome was nierpyne, hoofpyne en my oë was baie seer, en ek was baie moeg. Dag 4 het ek my reuk en smaak verloor, vanaf dag 5 was ek lam, en oormoeg, ek het angsaanvalle gekry, dit was baie erg. Op dag 12 het ek my smaak en reuk teruggekry en vanaf dag 14 was ek beter. Ek het nou nog net 'n irriterende hoes, dan drink ek heuning met borrie, of heuning met swart peper, en dit verlig my hoes.

  • Anta shepherd

    Ek het carona gehad in Julie. Is beter na 6 weke, maar my bene, rug en boude brand nou nog, so dat ek nie kan lê of sit nie. Asb, is daar iets wat kan help?

  • Janetta Ackerman

    Ek het positief getoets vir covid in Julie 2021, hoofpyne, hoëkoors, moes my afsonder vir 10 dae, het begin beter voel, in Oktober 2021 voel ek weer dieselfde , maar kon nie asem kry nie, het oormatig begin hoes, en daar was bloed in my slym, het dadelik huisdokter gaan sien en is toe nood-opgeneem en dadelik op suurstof, waar hulle toetse gedoen het, en sê dit is die Delta, my longe was 'n massa bloed en baie infeksie, daar het hulle my met hoësorg behandel. Ek was so 10 dae daar en weer huis toe, dit nou Nov 28 2021, ek begin nou weer met baie hoofpyne, my hare val bosse uit, ek weet nie of dit net die nagevolge is nie.

  • Kan n mens binne een maand na Covid weer Covid kry? Ek het net alles in my bors gehad. Na 8 dae beter gevoel. 0p dag 18 erge maagvirus. Na dit voel ek die moegheid en bleek. Nou vandag griepsimptome. Kouekoors, lyfseer.

  • Ek het nou 7 dae Covid onder lede. Weet nie of dit die Omicron-virus is nie. Was net positief vir Covid getoets. Is nog baie moeg en kan nie veel doen nie. Ek sweet ontsettend baie, veral op my kopvel. Is dit maar ook 'n simptome van die virus?
    Ek het nie smaak of reuk verloor nie.

  • Rudolph van Wyk

    Ek vermoed ek het in Desember Omicron gehad. Was vir 4 dae siek met hoes, koue koors. Ek is 68 maar oefen gereeld. Dit is nou 6 weke nadat ek siek was en my fiksheid is steeds met nog nie waar dit voorheen was nie. My tyd oor 5 km is 20 sekondes per kilometer stadiger as voorheen. Ek oefen nou meer om my fiksheid terug te wen maar dit lyk na ‘n lang pad

  • Annalie vd Merwe

    My dogter het nou al 3 jaar sy geen smaak of reuk na Covid nie. Is daar dalk goeie raad vir haar om dit te terug te probeer kry?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top