COVID-19: Februarie 2021 se virusnarratiewe

  • 0

Bo: Trisa Hugo, Sonja Paulse; onder: Theo Kemp

Is inentings die antwoord? Hoe voel jou gemeenskap in hierdie tyd oor COVID-19? Wie dra nog maskers? 

Naomi Meyer het ’n paar lesers oor hul ervarings van COVID-19 gevra. Sommige van die deelnemers aan die gesprek wou anoniem reageer, of was bereid om oor hul ervaring te gesels sonder om hul foto’s te deel. Hier is ’n paar narratiewe in die tyd waarin ons ons nou bevind.

Trisa Hugo

Trisa Hugo, eienaar van 'n gastehuis in Kleinmond:

It was the best of times, it was the worst of times. Charles Dickens het waarskynlik 2020 in gedagte gehad toe hy hierdie woorde geskryf het. Vir my was dit aanvanklik die stil siekte. Die siekte waaroor almal praat, behalwe dié wat dit het. Dit het nie vir my reg gevoel nie en ek het daaroor geskryf op my blog, wat stringe privaat boodskappe tot gevolg gehad het. Mense het baie duidelik 'n behoefte om daaroor te praat, want dit is 'n eensame siekte.

.........

Vir my was dit aanvanklik die stil siekte. Die siekte waaroor almal praat, behalwe dié wat dit het. Dit het nie vir my reg gevoel nie en ek het daaroor geskryf op my blog, wat stringe privaat boodskappe tot gevolg gehad het. Mense het baie duidelik 'n behoefte om daaroor te praat, want dit is 'n eensame siekte.

...........

Wat ek glad nie verstaan nie, is waarom daar so 'n stigma kleef aan Covid. Mense wil nie erken dat hulle of hulle gesinslede dit het nie. As mense meer openlik daaroor is en erken dat hulle siek is, gaan minder mense by hulle aansteek en meer mense waarskynlik hulp aanbied. Selfs net 'n bietjie simpatie help; mens voel ongelooflik weerloos, en emosionele bystand is net so nodig soos hulp met inkopies of iets anders. Ons leef in 'n eeu waar ons deur verantwoordelike optrede besmetting kan vermy. Totdat vaksiene geredelik beskikbaar is, is ons uitgelewer aan mekaar. Dis 'n siekte, nie 'n skande nie. Elkeen wat swyg, versterk die stigma. En die stigma veroorsaak dat mense emosioneel ekstra swaarkry, het my vriendin Alta tereg gesê.

Ons bedryf 'n gastehuis in Kleinmond. Aanvanklik het die inperking ons nie erg affekteer nie, want daar was 'n man van Duitsland wat taamlik lank gebly het, omdat hy moes wag vir 'n repatriasievlug. Ons het ook 'n aflosonderwyser gehad wat 'n rukkie by ons gehuur het. Die groot probleem is natuurlik dat mense Kleinmond toe kom vir 'n seevakansie, so ons hoogseisoen is nou stiller as die winterseisoen, met die verbod op strande en die rotspoele. Gelukkig het ons nie personeel wat geaffekteer is nie, omdat ek en my man self al die werk doen. Dan bespaar ons ook geld op uitstappies, uiteet en ons kort binnelandse wegbreke. Van ons 2020-vakansie in Amerika wat nie kon gebeur nie, sê ons maar niks ... Ons is bevoorreg om te midde van lieflike natuurskoon te woon, en ons waardeer dit nou meer as ooit om 'n entjie met die fietse te ry of naby die see te stap.

Emosioneel is ons sterk. Ek spandeer meer tyd met my man en ons kyk lekker Netflix-reekse en lees baie. Fisiek gaan dit maar rof – ek was siek aan Covid in September en het steeds nare nagevolge van moegheid en allerhande pyne. (Ek het die proses volledig in my blog beskryf.) 'n Lastige knieligament het my oefenprogram in Junie gekniehalter. Letterlik. Ek begin nou eers weer stadigaan met paalfiksheid, maar ek kan voel hoe die besering en toe Covid my geknou het – dit voel of dit my vinnig ouer gemaak het, nie net met 'n paar maande nie. Ons eet baie gesond, meestal vars kos, en dit help ook seker om reg te kom en ek neem die voorgeskrewe aanvullings.

Nadat ek wyd gelees en geluister het, het ek ook nou ingegee en ivermektien gekry om te hou vir ingeval een van ons weer siek word. Want niks anders het regtig vir my gehelp nie, behalwe tyd, geduld, meditasie, realistiese denke, kreatiewe tydverdryf en gesonde kos. Ek hoop maar ons kry dit nie nodig voordat die vaksiene geredelik beskikbaar is nie, want ons word ouer en ek wil nie weer 'n halwe jaar van my lewe afgee as dit nie nodig is nie.

Net voor die eerste inperking in Maart 2020 het ek die voorreg gehad om my ma te gaan groet. Sy is kort daarna, in Mei, oorlede en ek is bitter dankbaar dat sy nie hierdie ellende, spanning en bekommernis oor haar (middeljarige) kinders hoef te ervaar nie. 'n Hele paar mense na aan my is in 2020 oorlede. Ek kon alles aanvaar en hanteer, maar om op Facebook Live na jou ma se begrafnis te moet kyk was nie maklik nie. Tog is ek bitter dankbaar vir tegnologie wat ons in staat stel om dit te kon doen.

Ons het nie 'n baie bedrywige sosiale lewe nie. Danksy Facebook bly ek in kontak met mense en dit help baie as jy dit reg bedryf. Ons het egter weer geleer om ander mense te waardeer. Kort, noodsaaklike besoeke sien ek nie nou as iets wat my uit die werk hou nie, maar as 'n voorreg.

Alles was nie net sleg nie! Die hipnosekursus waaraan ek die afgelope drie jaar studeer het, het ek suksesvol voltooi. Cum laude. Ek kan nou "CHyp" ook agter my naam skryf en as hipnoterapeut praktiseer. Die lekkerste lekker: LAPA het in 2020 Oor en weer uitgegee, wat ek saam met Analize Viljoen geskryf het. Hoe cool is dit? Dit was 'n geweldige hoogtepunt vir my! Danksy my tegniese vaardighede en my liefde vir lees het Boekemakranka weer vlamgevat, en ek en Analize het baanbrekerswerk gedoen vir aanlyn boekgesprekke en -bekendstellings. Die inisiatief het begin toe boekbekendstellings deur die inperking geraak is. Dit was so gewild dat ons nou voortgaan daarmee.

.......

Die lekkerste lekker: LAPA het in 2020 Oor en weer uitgegee, wat ek saam met Analize Viljoen geskryf het.

.........

Die inperking was tot dusver vir my vol absolute hoogtepunte, en by my ook laagtepunte, hartseer en blydskap. Alles was intens. Ek het hoog gevlieg en laag geswaai. 2020 was 'n baie uitdagende jaar op alle vlakke. Tog het ek my tyd wyslik gebruik. Baie gelees, ’n bietjie geskryf, baie gedink, ’n bietjie geleer, min moeilikheid gemaak. 

.........

Mashi Sauls

I live with family. I am currently a first-year teacher. 

Mashi, what are the people in your community’s thoughts on COVID-19?

I am not really chatty with the neighbours in my community, but I have family members who contracted the virus. It was very hard as we had to social distance during a very delicate time as a family.

What are your views on the vaccine or on any alternative methods of treatment?

I will not be participating in the vaccine / getting it as I stopped getting the flu vaccine because it made me horribly sick. 

........

I shall use methods such as steaming, eating healthy, having exercise and sleeping enough. 

..........

I shall use methods such as steaming, eating healthy, having exercise and sleeping enough. 

Sonja Paulse

 

Sonja Paulse, inligtingsbeampte by Stellenbosch se openbare biblioteek, en ma van twee skoolgaande dogters

Ek self het  nie COVID-19 ervaar nie en niemand in my nabye familie was positief nie, maar tog was mens bang. Dit was by die tweede golf dit dit vreesaanjaend begin raak het. Elke dag was daar bekende mense wat gesterf het. My oom het die dag olik gevoel: benoude bors. Ons het na die hospitaal gegaan en hy is die volgende dag oorlede. Sy uitslae: COVID-positief. Dit was so koud; jy kan nie familie besoek en afskeid neem van geliefdes nie.

.........

My oom het die dag olik gevoel: benoude bors. Ons het na die hospitaal gegaan en hy is die volgende dag oorlede.

...........

Ek is tog bekommerd oor inenting, ek het lank terug die griepinspuiting geneem en toe ek verkoue was, was ek meer siek en die afgelope jare het ek dit nie geneem nie. Nou wonder ek of dit dieselfde uitwerking gaan hê as daardie inentings?

'n Mediese dokter van Kaapstad, wat verkies om anoniem te bly:

Ek is nie teen nie vaksiene nie. Ek glo dat hulle sal help om die epidemie te beëindig. Ek is wel bekommerd dat ons nie genoeg data oor langtermyn-newe-effekte en -effekte het nie. Dis hoekom ek en ’n paar van my kollegas nie gaan registreer vir die eerste ronde nie. SAHPRA behoort te vra vir data in verskillende ouderdomsgroepe en vir langtermyndata.

Ek is kwaad oor SAHPRA se vergrype met ivermektien.

It’s turned into an either-ivermectin-or-vaccines debate, en dit behoort nie so te wees nie. Ivermectin and vaccines moet dit wees.

Die nuwe SAHPRA-vergunnings rondom ivermektien is ’n belaglike vergrype van administrateurs wat dink hulle mag dokters beheer. Hulle doen dit want hul rol in medisynestudies is om elke beweging van die ondersoekende dokter te beheer. Dis in die konteks van studies en dis reg so. Nadat ’n middel egter geregistreer is, word dokters en aptekers verantwoordelik. Ons is daarvoor opgelei.

In die werklikheid daar buite praktiseer miljoene dokters sonder SAHPRA wat in hulle nekke blaas.

Statiene, cholchisien, antitrombotiese medisyne, hidroksiklorokien om maar ’n paar te noem, is van meet af aan teen COVID-19 in die stryd gewerp. Al hierdie middels is vir ander indikasies geregistreer in Suid-Afrika, maar omdat dit wel beskikbaar was, kon dokters dit gebruik om te kyk of dit help. Dokters is bevoeg om ’off-label’ medisyne voor te skryf, veral in ’n krisis.

En SAHPRA het nie gevra vir R300 per pasiënt, ’n agtbladsyvorm, ’n SMS van die behandelende dokter, en nog ’n verdere opvolg van die dokter later in die behandeling vir die gebruik van hierdie middels teen Covid nie.

Dis dubbele standaarde.

Die vaksiene kan nie ons enigste strategie teen Covid wees nie en om alleenlik daarop te vertrou is kortsigtig.

.........

Die vaksiene kan nie ons enigste strategie teen Covid wees nie en om alleenlik daarop te vertrou is kortsigtig.

...........

Israel het onlangs hulle voorlopige data bekendgemaak as een land wat die meeste mense reeds gevaksineer het. Die studies op vaksiene word gewoonlik op gesonde jongmense gedoen. Israel het data oor mense bo 60 bekendgemaak en die vaksien gee maar 40%-beskerming. Duitsland het gevra dat AstraZeneca eers data oor mense bo 60 moet voorlê voordat hulle die vaksien in hulle land aan die groep sal gee. Ek wonder of SAHPRA hierdie vrae gevra het?

Hoe lank die beskerming gaan hou, is debatteerbaar en daarvoor het ons ook nie studies nie. COVID-19 muteer konstant en gaan deel word van ons almal se lewens vir ewig. Hopelik met die vaksien sal minder mense ernstig siek word en hospitale nie so oorweldig soos in golf een en twee nie.

Nog ’n vaksienbekommernis is dat ten spyte van SAHPRA se gewillige goedkeurings van vaksienstudies wat nie "peer review" deurgegaan het nie, ons regering bloot nie die verspreiding daarvan vinnig genoeg en effektief genoeg sal kan doen nie.

Ons het net nie bestaande strukture vir ’n vinnige uitrolprogram nie en alle aanduidings uit Europa is dat golf drie bitter vinnig gevolg het op golf twee.

Dit is baie duidelik dat ’n middel soos ivermektien ’n groot rol in ’n bankrot land soos Suid-Afrika kan speel. Dis juis hoekom dokters wat op die front werk van Covid, almal die petisie teen SAHPRA sê blokkering van ivermektien teken.

Ek sê weer: Ek glo dat vaksiene die antwoord sal hou om die epidemie te beëindig, maar dit gaan nog maande vat vir ons regering om genoeg mense te vaksineer vir beskerming. Daar lê vandag siek mense oral oor die land vir wie die vaksien niks sal kan bied nie.

Watter opsies het ons oor?

Lees ook:

https://www.bbc.com/news/world-europe-55839885

https://www.livemint.com/news/world/worlds-most-vaccinated-country-struggles-with-coronavirus-variants-11611915235022.html

https://www.bbc.com/news/health-55734257

https://www.theguardian.com/world/2021/jan/10/south-africa-is-going-to-get-a-third-wave-of-coronavirus-even-a-fourth

 

Rosa Lombard, ’n ma van Stellenbosch

.........

Om te ent of nie te ent nie is deesdae die nuwe verdeler.

...........

Om te ent of nie te ent nie is deesdae die nuwe verdeler. Die anti-inent-beweging is al ’n paar jaar besig met bewerings dat dit die hoë outismesyfers veroorsaak en self het ek al 'n kind gehad wat 'n anafalaks gehad het met haar 12-maande-inenting. Dit het my maar skrikkerig gemaak vir verdere inentings. Tog, sou alle inentings stop, en siektes soos polio breek weer uit, sal dit 'n tragiese afgee wat vermy kon gewees het. Dus, inenting het sy plek.

Met COVID-19 is die vrees besig om mense wêreldwyd desperaat te maak en gryp hul na enige nuus wat moontlik hoop bied om weer 'n normale lewe soos voorheen te mag hê. Die grootste hoop is in 'n entstof, omdat dit maar die oplossing deur die jare was wat slim wetenskaplikes uitgedink en getoets het en goedgelowige burgers hul regerings vertrou het om goeie besluite namens hul te neem en te sorg om veilige mediese-raad-beproefde middels te bied tot almal se voordeel. Is dit wel nog die geval? Moet ons goedsmoeds nog glo dat als wat ons aangebied word, in ons belang is? WhatsApp-boodskappe gons oor die Covid-vaksiene wat in rekord tyd uitgedink en getoets is, en nie almal het iets goed te sê nie. Om die waarheid te sê, die meeste is maar skepties daaroor – met aantygings dat dit die DNS verander, 'n opsporingskyfie het, dat selfs Bybelse profesieë ons waarsku dat dit die Merk is, en aantygings maak teen Bill Gates en sinistere planne met die vaksiene.

Tog is dit die logiese wat my meer dryf, die wetenskaplike benadering, die dokters wêreldwyd wat opstaan teen die vaksiene wat hul die eksperimentele vaksiene noem, juis omdat dit nog in eksperimentele fase is. In 'n onderhoud met Anthony Fauci, die hoof-mediese adviseur vir president Biden van die VSA, erken hy dat vaksiene nie gaan keer dat jy Covid kry nie, dat dit nie gaan keer dat jy ander aansteek nie, dat daar gevare is en dat hul hoop om kudde-immuniteit te kry met inenting. Swede het reg aan die begin van die pandemie besluit om  kudde-immuniteit te gebruik as metode om die virus te hanteer. Groot debatte is nou in die media aan die gang oor die resultate en ons kan hier ook ons eie meningsgeveg hê, maar dit laat ons nog steeds sonder 'n wetenskaplike oplossing, en intussen woed die tragedie om ons.

So waar staan ons, en wat maak ons? Ek voel as ek die analise doen van die magdom feite, fopnuus, menings van elke nuwe Google-kenner en dan die getuienis oor 'n nuwe "speler", die wonder-ivermektien, dan is my keuse maar die Engelse spreekwoord, "The proof of the pudding ..." Daar is soveel kontroversie oor vaksiene dat ek my dan eerder skaar by die ivermektien, wat terloops oor die 30 jaar gelede ontdek is en alreeds jare deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as 'n essensiële medisyne goedgekeur is en gebruik word vir verskeie siektes in veral arm lande. Ten minste weet ek dit is beproef en veilig wanneer die regte dosis en manier van dosering gebruik word en is daar reeds mense, ook mense bekend aan my, wat dit met sukses gebruik vir die COVID-19-virus.

'n Suksesvolle griepentstof kon nog nooit gevind word nie. Ons kan wel aanhou probeer, maar dan nie ten koste van menselewens nie. Waarom skop regerings nog so vas? Dit gee dan mos mense skietgoed om samesweringsteorieë te glo. Ek bekommer my oor die sielkundige langtermyneffek van 'n tyd wat voel asof die wêreld 'n Hollywood-riller geword het, met superkieme, agterdog, verraaiers, vreemde rituele en kinders wat kosbare belangrike maande, wat nou jare word, verloor en dalk nooit weer sal kan opvang nie. Heimwee tref my as ek die spontaniteit van ons mense onthou waar 'n drukkie om te troos of sommer net hallo te sê, nou iets is wat taboe is. Selfs goeie maniere om iets vir iemand op te tel of vir 'n ouer persoon te help om 'n swaar sakkie dra, word nou as 'n aksie van selfsug gesien. Mag daar gou 'n ware oplossing kom.

Theo Kemp, skrywer en uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting

Ek het my lankal oorgegee aan die totale teenstrydighede wat die pes gebring het. Nog nooit was my vryheid so lieflik ingeperk nie. Ek sit tussen die 3 x 2,4 meter-mure van my nuwe Wendy-huis-studeerkamer wat ek so genadiglik met die Jan Rabie-wenprys kon bou. Hier bekrap en beloer ek Suid-Afrika se are; slaggereed om die blou paaie van ons land te deurkruis vir my nuwe skryfprojek, waarvoor ek genadiglik befondsing kon kry. Ek sou nie kon gedroom het om  voor die inperking so grensloos deur ons provinsies te reis nie.  In hierdie dae van gebalde vuiste maak prysbeoordelaars en borge hulle hande vir my oop. 

Soggens sit ek in die bed en koes vir die harde woorde in die koerant – gerugte van inentings wat dalk in stoorkamers gaan eindig, van mense wat glo dis doodsinspuitings, van 'n bakleiery oor dieremedisyne, van hongerte en werksverlies. Nog nooit vantevore skram ek so weg van die waarheid nie. Ek droom feite uit my sisteem soos nagsweet. Ek wil mense op Facebook ontvriend wat my voortdurend wil herinner aan die aakligheid van die nou. Wat voorgedoen word as rasioneel, laat my my kop skud in ongeloof. Nog nooit was ons so irrasioneel van paniek nie.

........

Nog nooit was ons so irrasioneel van paniek nie.

.........

Ek swem veel eerder in die leë branders van my oorvol verbeelding; ek roep graag eerder beelde op van hoe ons in lang toue staan – soos met die ’94-verkiesing. Ons gaan ingeënt word, ons hele verwonde land, met genesing wat ons so ontsaglik nodig het. Ek vrees vir my mense se lewens, saans as ek "touch wood" speel op die tuintafel met 'n glas gesmokkelde wyn in die hand. Hoe verder ek van mense staan, hoe nader voel ek aan hulle en myself. Nog nooit was die dood so deel van my lewe nie. Nog nooit het ek met soveel opwinding my vrese probeer doodleef nie.

Lees ook:

COVID-19: Die kliniese bestuurder van ’n 200-bed-veldhospitaal vertel

My pad met COVID-19: drie ervarings van die virus

Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

Sophia Oliphant gesels oor haar ervaring met COVID-19

Ivermektien, entstowwe en die wetenskap – ’n veearts verduidelik

COVID-19: Die jongste | The latest

Reguit met Robinson: ’n Tweede Zoom-gesprek met Helmuth Reuter

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top