Ivermektien, entstowwe en die wetenskap – ’n veearts verduidelik

  • 13

Beeld: Peggy en Marco Lachmann-Anke | Pixabay

This post is also available in English, click here.

Bygewerk op 3 Februarie 2021, volgens die nuwe verklaring deur SAHPRA.

...
Ivermektien buit juis hierdie kommunikasiestelsel uit: Hy maak dit onmoontlik vir die verskillende dele van ’n wurm of ’n ander parasiet om met mekaar te praat.
...

Ivermektien is lank reeds vir diere geregistreer. Wat is dit en waarvoor gebruik veeartse dit?

Ivermektien word teen wurms, luise en ander parasiete gebruik. Die molekule werk op ’n baie interessante manier. Net soos in ’n sportspan, moet die verskillende selle in ’n wurm of ’n luis se liggaam met mekaar kommunikeer sodat hulle saam kan werk – daarsonder sal elkeen van die luis se bene in sy eie rigting loop en sal die arme luis nêrens heen kan gaan nie! Lede van ’n sportspan praat met mekaar, maar binne ’n mens of ’n dier se liggaam gebeur kommunikasie deur spesifieke chemikalieë wat tussen selle rondgestuur word, amper soos briewe. En ivermektien buit juis hierdie kommunikasiestelsel uit: Hy maak dit onmoontlik vir die verskillende dele van ’n wurm of ’n ander parasiet om met mekaar te praat, deur ’n stof met die naam Gaba (gamma-Aminobutyric acid) te blokkeer. Die gediertetjies kan dus nie op ’n gekoördineerde manier beweeg nie. Hulle word effektief verlam en sterf van die honger.

Ivermektien word gebruik in pluimvee en ander plaasdiere, asook in honde en perde, en in sommige lande ook in mense, om parasietinfeksies teë te werk. Werweldiere en mense het ook Gaba as ’n kommunikasiemiddel, maar die enigste selle wat Gaba gebruik om te kommunikeer is in ons brein, en gelukkig het ons ’n bloedbreinversperring wat vermy dat ivermektien teen ’n gewone dosis binnedring en ons affekteer.

Die regulerende liggaam wat medisyne in Suid-Afrika registreer, bekend as die South African Health Products Regulatory Authority (SAHPRA), het  in ’n verklaring (van 6 Januarie) gesê hulle keur dit nie goed vir algemene menslike gebruik nie, maar ivermektien word wel aan mense gegee in die behandeling van tropiese siektes wat nie in Suid-Afrika voorkom nie, asook in gevalle wat myte (skabies / jeuk- of brandsiekte), lyfluise of kopluise iemand baie siek gemaak het. My vrou, ’n mediese dokter, het dit bevestig. Op 28 Januarie is baie beperkte menslike gebruik goedgekeur onder Afdeling 21. Dit is dus nie giftig nie?

Juis as gevolg van die bloedbreinversperring waarvan ons nou net gepraat het, kan die meeste gesonde mense ’n dosis van ivermektien wat lyfluise doodmaak, weerstaan. Maar feitlik enige medikasie kan giftig wees teen die verkeerde dosis of met oorgebruik, of indien ’n individu sensitief is vir die stof.

...
Maar feitlik enige medikasie kan giftig wees teen die verkeerde dosis of met oorgebruik, of indien ’n individu sensitief is vir die stof.
...

Sommige honde, soos border collies, het byvoorbeeld ’n swakker bloedbreinversperring, en selfs ’n dosis wat veilig is vir ander honde, kan hulle vergiftig. Sekere medikasies kan ook die ivermektien-molekule toelaat om deur die bloedbreinversperring te glip en ernstige, soms selfs dodelike, newe-effekte te veroorsaak in andersins gesonde mense. En jong kinders se bloedbreinversperring is nie sterk genoeg om ivermektien uit te hou nie.

Maar jy praat nou van parasiete. Covid is egter ’n virus ...?

Jy is heeltemal reg. COVID-19 word veroorsaak deur ’n virus. En virusse is nog kleiner as ’n enkele sel, so hulle hoef nie te kommunikeer nie. Hier is nou ’n fassinerende ding: Virusse dring mense en diere se selle binne, tot diep in die sel, en kaap dan effektief die fabriek binne die sel wat selonderdele vervaardig om dié wat met die loop van tyd beskadig word, te vervang. Die virus gebruik die sel se onderdelefabriek om meer viruskopieë te maak. In laboratoriumstudies op selle (ons noem dié studies in vitro- of proefbuisstudies omdat hulle nie op lewende mense of diere gedoen word nie) het navorsers gevind dat ivermektien teen ’n relatief hoë dosis die koronavirus wat COVID-19 veroorsaak, boei. ’n Geboeide virus kan nie die sel se fabriek binnedring nie, dus kan die virus nie so maklik vermenigvuldig nie. Ons weet ook dat mense met ’n hoër viruslading gewoonlik sieker is as mense met ’n laer viruslading, daarom het wetenskaplikes begin ondersoek instel na die moontlikheid dat ivermektien kan help om die erns van COVID-19 te verminder deur die tempo van vermenigvuldiging in ons liggame te verminder.

Jy het netnou gesê: “Maar feitlik enige medikasie kan giftig wees teen die verkeerde dosis of met oorgebruik ...” Een van die verskaffers van ivermektien, ’n maatskappy met die naam Merck and Company, waarsku self dat die dosisse wat nodig sal wees om COVID-19 moontlik teen te werk, veel hoër is as enige iets wat tans as “veilig” beskou word. Hoe weet ons wat is veilig?

En daar slaan jy die spyker op die kop. Voor ’n geneesmiddel goedgekeur en geregistreer kan word vir gebruik in ’n nuwe spesie, moet toetse gedoen word om te bepaal teen watter dosis die middel giftig begin raak. Daar is korttermyn- sowel as langtermyn-effekte, onder andere nierversaking en lewerversaking, waarvoor dokters en veeartse op die uitkyk is wanneer hulle die veilige dosis bepaal.

Ivermektien is effektief teen parasiete soos luise en wurms teen ’n redelik lae dosis, omdat hulle baie sensitief is vir die middel. Ongelukkig lyk dit of die hoeveelheid wat mense moet inneem om die voortplanting van die koronavirus betekenisvol te verminder, veel hoër is, en dit beteken daar is ’n kans dat die middel teen die effektiewe dosis skade kan doen. ’n Kliniese studie is die enigste manier om seker te wees dat ’n middel veilig is teen ’n sekere dosis.

Ek wil net verstaan: Ivermektien word dus toegedien aan diere (en in erge gevalle mense) ná die pasiënt reeds besmet is met parasiete? Of kan dit voorkomend ook aangewend word om parasiete te keer?

Ivermektien is nie ’n afweermiddel nie. Luise en wurms moet nog steeds byt om geaffekteer te word. Dus ja, ivermektien is ’n behandeling vir besmetting. Maar soms is die besmettingsvlak so laag dat die dier geen simptome toon nie. In dié geval kan ivermektien vermy dat die parasiet voortplant, en ons praat dus daarvan dat die middel infestasie kan voorkom. Maar dis nie rêrig waar nie. Ivermektien voorkom net ’n situasie waar die parasietlading so swaar word dat die mens of dier siek begin voel.

Infeksie beteken enige hoeveelheid van iets in jou liggaam. Besmetting, of infestasie, beteken jy word heeltemal daardeur oorval. Omdat ivermektien nie ’n afweermiddel is nie, maar die vermenigvuldiging kan vertraag, kan dit nie infeksie voorkom nie, maar dit kan help om die risiko van ernstige besmetting te verminder.

Goed, as dit nie ’n afweermiddel is nie, kom ons praat dan oor vaksiene, of inentings: Honde, katte en talle ander diere word deur veeartse vaksiene ingegee, is ek reg?

Feitlik alle diere word ingeënt teen die diere-ekwivalent van kindersiektes, asook teen hondsdolheid. Virusse kan nie maklik doodgemaak word nie, dus is die heel beste manier om ons diere veilig te hou teen virusse, om hulle teen die virusse in te ent. In teenstelling met ivermektien, wat slegs ernstige besmetting voorkom, help entstowwe om infeksie te voorkom.

Ons landboubedryf is afhanklik van sekere inentings, of nie?

Absoluut. Elke hoender wat ons eet of wat die eiers lê vir ons ontbyt, is geënt. Dieselfde geld vir skaapvleis, beesvleis en melk.

...
Elke hoender wat ons eet of wat die eiers lê vir ons ontbyt, is geënt.
...

Jy sal byvoorbeeld nie ’n hond of kat by ’n diereherberg kan aflaai as hulle inentingsprogram nie op datum is nie. Hoekom nie?

Ek is seker ons lesers het al gelees dat die COVID-19-entstof nie 100% effektief is nie, maar êrens tussen 70 en 99%. Alle entstowwe werk so. Trouens, alle geneesmiddels werk so. Ons liggame reageer nie almal presies dieselfde nie. My man drink byvoorbeeld Panado vir hoofpyn, maar dit help my glad nie. Ek verkies Nurofen. So kom ons sê jou hond is ingeënt teen katgriep. Hy het net ’n 10%-kans om besmet te raak indien ’n ander hond die virus aan hom oordra. Maar ’n ongeënte hond het ’n 100%-kans om geïnfekteer te word, en dan die infeksie oor te dra aan 10% van die ingeënte honde waarmee hy in kontak kom. Ons vra troeteldiereienaars om hulle honde in te ent voor hulle in ’n diereherberg kom bly nie slegs om hulle self te beskerm nie, maar ook om die ander viervoetgaste se onthalwe.

So klein hondjies en klein katjies kry inentings, net soos klein mensbabatjies ingeënt word teen gevaarlike siektes soos polio – is ek reg?

Presies. Ons het nou net gesels oor die feit dat ’n hond wat geënt is teen katgriep, slegs ’n 10%-kans het om deur die virus besmet te raak, maar selfs die ongelukkige 10% kan gewoonlik die virus baie makliker teenstry, wat beteken hulle word baie minder siek.

Onthou jy dat ons oor die verskil tussen infeksie en besmetting (ook genoem infestasie) gesels het? Selfs as ’n dier se liggaam nie 100% op die inenting gereageer het nie, is die gedeeltelike reaksie baie effektief om die dier te help om die virus te beveg voordat dit ernstig word. Dus kán ’n ingeënte dier soms wel ’n infeksie kry, maar die kans is groot dat hulle dan ’n baie laer virale lading sal hê en baie minder siek sal voel en baie minder aansteeklik sal wees.

Ons het onlangs ’n jong pitbull geneem vir ’n sesmaande-inenting en daar het ’n paar dae later ’n klein knoppie ontstaan op die plek waar hy ingespuit is. Kan jy dit as veearts verduidelik?

Ag, ek is só lief vir pitties! Deels omdat hulle eintlik baie sensitiewe outjies is. En dis juis die sensitiwiteit wat die knoppie veroorsaak. Jy sien, ’n entstof werk soos ’n selfverdedigingsklas. Binne die entstof is ’n baie, baie klein hoeveelheid van die virus, en die virus is klaar geboei of op ’n ander manier verswak, sodat hy jou nie naastenby so siek sal kan maak soos die gewone virus nie. Maar jou liggaam leer die virus ken, en hy leer watter karateskoppe die virus ’n kishou kan slaan. Indien jy dan later blootgestel word aan die gevaarlike, “wilde” weergawe van die virus, sê jou liggaam: “Aha! Ek ken jou soort!” en skop die virus uit voor hy siekte kan veroorsaak.

...
Binne die entstof is ’n baie, baie klein hoeveelheid van die virus, en die virus is klaar geboei of op ’n ander manier verswak, sodat hy jou nie naastenby so siek sal kan maak soos die gewone virus nie. Maar jou liggaam leer die virus ken, en hy leer watter karateskoppe die virus ’n kishou kan slaan.
...

Maar selfs al kan die weergawe van die virus wat binne ’n entstof is, nie ernstige siekte veroorsaak nie, is daar tog nog ’n klein geveggie tussen die virus en jou lyf terwyl jy leer hoe om die virus te verslaan. Dit kan ’n klein lokale reaksie soos ’n knoppie veroorsaak, of selfs een of twee dae van effens moeg of liggies verkoue voel. As ’n veearts is ek glad nie bekommerd daaroor nie. Trouens, ons vind dat diere wat ’n klein plaaslike reaksie soos ’n knoppie toon, baie sterk weerstand opbou teen die siekte waarvoor hulle ingeënt is.

’n Inenting, vir mense of diere, is dus iets wat die persoon, of dier, baie effentjies siek maak, om seker te maak hulle word nie baie siek nie. Verstaan ek dit reg?

100%. Maar nie net dit nie. ’n Entstof maak ’n mens of dier ook minder geneig om die siekte oor te dra aan ander. So dit beskerm jou en die mense of diere waarmee jy in kontak kom teen ernstige of dodelike siekte. Dis mos ’n knoppie of ’n dag of twee se moeg voel werd!

Ek was een van die mense wat ’n proefkonyn was vir die AstraZeneca-entstof. Kort ná my eerste inenting was ek olik, maar net vir ’n dag lank. Ná my tweede inenting, waar ’n groter viruslading in my ingespuit is, was daar geen simptome nie. Kan jy as veearts dit verduidelik?

Ek is nie ’n menslike viroloog nie, maar ek kan vir jou sê hoekom dit my nie verbaas nie. Met die eerste dosis moes jou lyf leer hoe om die virus teë te werk. Die eerste paar pogings – die eerste paar karateskoppe – was waarskynlik nie effektief nie. Dis mos ’n nare virus hierdie, en hy het sy eie kung fu-bewegings! Met elke mislukte poging het jou liggaam selle gebruik wat jy moes vervang, en dit kos energie en kan jou olik laat voel. Maar na ’n dag of twee het jou liggaam die regte skop geleer. Die tweede inenting het dalk ’n groter viruslading gehad, maar jou lyf se vegters was klaar opgelei. Dié keer was dit nie nodig vir hulle om ’n nuwe verdediging te leer nie – hulle kon sommer onmiddellik die kishou slaan sonder om enige van hulle troepe te verloor.

...
Maar na ’n dag of twee het jou liggaam die regte skop geleer. Die tweede inenting het dalk ’n groter viruslading gehad, maar jou lyf se vegters was klaar opgelei. Dié keer was dit nie nodig vir hulle om ’n nuwe verdediging te leer nie – hulle kon sommer onmiddellik die kishou slaan sonder om enige van hulle troepe te verloor.
...

Ek wil gou iets oor virusse in die algemeen vra. Hoekom kry ek nie virusse wat honde en katte kry nie?

Dis ’n superinteressante vraag, Izak. Onthou jy toe ons vroeër gesels het oor hoe virusse ons selle se onderdeelfabrieke binnedring en kaap sodat hulle kan voortplant? Wel, ons selle is nie dom nie! Hulle los nie die deur na hulle fabrieke oop nie! Om ’n sel se fabriek binne te dring, moet ’n virus hom kan oopsluit. Jy het seker al prente gesien van die koronavirus wat COVID-19 veroorsaak. Hy het mos ’n klomp knoppies op sy oppervlak. Nou één van die knoppies is per toeval naby genoeg aan die vorm van die sleutel wat ’n menslike sel se fabriek oopsluit. Maar elke spesie se fabriekslotte het ’n ander vorm. Dis dus baie seldsaam om ’n virus te kry wat die slot van meer as een spesie se fabriek kan oopsluit.

Is dit dus waar dat my hond of my kat my nie COVID-19 kan gee nie?

Presies. Honde en katte het beide hulle eie weergawes van koronavirus, maar selfs as een van ons virusse hulle liggaam binnedring, of een van hulle ons s’n, kan hulle nie sommer ons selle se fabrieke binnedring nie. Dit beteken dat ons troeteldiere se virusse nooit genoeg kan repliseer om ons siek te maak nie. Wêreldwyd het een of twee katte en honde positief getoets vir die weergawe van die koronavirus wat mense COVID-19 gee, maar om dié rede het hulle nooit so siek geword soos ons nie. Hulle virusse pas nie ons selfabrieke se slotte nie, en andersom.

Dit het reeds twee keer tevore gebeur dat koronavirusse van diere na mense gespring het. In 2002 het SARS (Severe Acute Respiratory Syndrome) die wêreld op hol gehad en in 2012 was dit MERS (Middle East Respiratory Syndrome). Nou het COVID-19 glo van vlermuise na mense gespring. Hoe sou jy dit as veearts verduidelik?

Ons het nou al ’n paar keer die kaping van die selfabriek genoem. Binne die fabriek gebruik die virus die masjinerie wat ons gebruik om ons eie selle te herstel om kopieë van homself te maak. Maar hy moet vinnig werk, want hy werk op gesteelde masjiene! Virusse plant dus so vinnig moontlik voort, en as jy só haastig werk, kruip daar klein foutjies in die kopieë in. Probeer dit self. Skryf so vinnig soos jy kan die woord “entstof” 100. Wanneer jy kyk na wat jy geskryf het, sal jy sien dat nie twee van die 100 presies eenders is nie. Hoe vinniger jy skryf, hoe slordiger word die kopieë. Virusse werk net so. Vir elke miljard kopieë wat in ’n vlermuis gemaak word, kan één dalk bloot per ongeluk ’n knoppie op sy oppervlak kry wat nie die regte vorm is om ’n vlermuis se selfabriek oop te sluit nie, maar wel ’n mens s’n. Indien ’n mens dan in kontak kom met hierdie rare mutasie van die virus, kan die persoon besmet raak.

...
Virusse plant dus so vinnig moontlik voort, en as jy só haastig werk, kruip daar klein foutjies in die kopieë in. Probeer dit self. Skryf so vinnig soos jy kan die woord “entstof” 100. Wanneer jy kyk na wat jy geskryf het, sal jy sien dat nie twee van die 100 presies eenders is nie.
...

Terug na ivermektien. Is ivermektien ’n geregistreerde inenting (of vaksiene) vir diere?

Nie ’n entstof nie, maar wel ’n geregistreerde geneesmiddel. ’n Entstof, of vaksien, is ’n ongevaarlike weergawe van ’n kiem (virus of bakterie) wat die liggaam se eie immuunstelsel leer hoe om die wilde, gevaarlike weergawe te bestry. Ivermektien doen dit glad nie. Hy werk direk teen die parasiete en word dan deur die liggaam uitgeskei, maar diere se immuunstelsels word nie sterker of slimmer as gevolg van die gebruik van ivermektien nie.

In Januarie het die Mediclinic-groep maatskappye gewaarsku mense dat hulle nie ivermektien sonder meer moet gebruik nie. Hulle sê daar is nie genoeg data beskikbaar om die middel aan mense te gee nie. Is dit ’n lekker manier om meer mense op ventilators te hou?

Kom ons begin met die wetenskap: Ons weet dat iemand met ’n hoër viruslading sieker is. Ons weet ook dat ivermektien in daardie proefbuisstudies waarvan ons gepraat het, gehelp het om die virus se vermenigvuldiging te verstadig. Logies gesproke is die middel dan tog nodig vóór iemand siek genoeg is om ’n ventilator nodig te hê vir oorlewing.

Nee, die rede hoekom die dokters wat kliniese protokolle opstel by hospitaalgroepe soos Mediclinic nie wil hê dat ons ivermektien gebruik nie, het te doen met die eed wat elke dokter aflê om hulle pasiënte nie kwaad aan te doen nie. Omdat ivermektien nie langtermyn getoets is in mense teen die dosisse wat nodig is om virusreplikasie beduidend te verminder nie, weet ons bloot nie genoeg om te kan waarborg dat mense wat daarmee behandel word, geen langtermynprobleme gaan opdoen nie. Tot ons dit uitvind, is dit ’n redelike besluit om pasiënte nie aan onbekende gevare bloot te stel tensy daar geen ander opsies is nie.

Mense, ook dokters, neem moeilike besluite oor ’n virus waaroor ons steeds meer vreemde dinge uitvind. Die besluite word geneem op grond van mense se veiligheid.

Jy is ’n wetenskaplike – kom ons praat dan data. Ek wil weer terugkeer na SAHPRA se oorspronklike verklaring oor ivermektien, wat ongelukkig van hul webruimte verwyder is. Hulle skiet nie die gebruik daarvan af nie. Hulle erken selfs dat dit in enkele gevalle skynbaar positiewe resultate gelewer het in mense wat reeds siek was, maar hulle sê die korrekte metodes is nie gevolg om skoon genoeg data te trek nie. Kan jy hulle groot woorde in eenvoudige Afrikaans verduidelik?

Toemaar, veeartse sukkel ook soms ook om sulke stellings te ontsyfer!

Die maklikste manier om dit te verstaan is om te kyk na een mens se voorbeeld. Die voormalige president van die VSA, Donald Trump, was seker een van die mense met die hoogste profiele wat onlangs vir COVID-19 behandel is. Lesers wat sy storie gevolg het, sal onthou dat hy met suurstof, teenliggaampies, malariamedikasie en minstens drie ander dinge behandel is. Ek dink ek het sewe verskillende goed getel waarmee hy tegelykertyd behandel is. En hy’t beter geword. Maar watter een van die sewe middels was dit wat die meeste gehelp het? Sou dit vinniger of stadiger gebeur het indien hulle net ses van die sewe gebruik het? Of net vyf?

Wanneer ons praat van die korrekte metodes om skoon data te trek, bedoel ons dat daar verkieslik net één ding op ’n slag gebruik moet word, en op genoeg mense om oor en oor te sien of die groep met of sonder daardie één middel beter vaar as die ander.

...
Wanneer ons praat van die korrekte metodes om skoon data te trek, bedoel ons dat daar verkieslik net één ding op ’n slag gebruik moet word, en op genoeg mense om oor en oor te sien of die groep met of sonder daardie één middel beter vaar as die ander.
...

In Covid-pasiënte wêreldwyd gebruik dokters verskillende mengsels middels, afhangend van wat goedgekeur is in hulle land en watter simptome die pasiënte toon. Dit beteken dat sommige studies van die gebruik van ivermektien wys dat die pasiënte wat ivermektien gekry het, beter vaar. Maar ander studies wys nie noodwendig dieselfde verskil nie, en ons weet nie of die wisselvallige resultate te doen het met die ivermektien, of die pasiënt, of een van die ander geneesmiddels wat gebruik is nie.

En ons kan nie sommer alles wat Donald Trump gekry het, vir almal spuit nie. Nie net dra dit ongelooflike onkostes nie, maar dit kan ook gevaarlik wees om meerdere medikasies te meng, om twee redes: Eerstens moet die lewer of niere elke geneesmiddel wat ons inneem, afbreek en uitskei. Te veel geneesmiddels wat tegelyk deur een van die organe uitgeskei moet word, kan die orgaan oorweldig en vergiftig, wat soms meer dodelik kan wees as die virus self. En tweedens: Onthou jy die bloedbreinversperring? Verskillende medikasies kan die versperring verswak, wat die ivermektien dan toegang gee tot die brein met nare, nare effekte.

So wat wil SAHPRA hê? Genoeg mense met ligte COVID-19-infeksies wat instem om deur die loop van hulle siekte al hulle simptome en ander goed soos hulle bloed te laat meet, sodat navorsende dokters kan sien of hulle werklik altyd beter vaar as mense sonder ivermektien, en ook kan sien wat die ander effekte van ivermektien is op die liggaam van iemand met Covid. Dit sal ’n klomp mense moet wees, want indien die virus wel vererger, sal hulle uit die studie moet uittree sodat hulle meer intensiewe terapie met ander middels kan kry.

Wat is artikel 21 van wet 101? Baie mense praat nou hieroor.

Artikel 21 van wet 101 van 1965 is ’n deel van die wet wat veeartse en dokters toelaat om aansoek te doen by die regering om in noodgevalle ’n plaaslik ongeregistreerde (dus ongetoetste of ongoedgekeurde) geneesmiddel of vaksien in te voer en/of te gebruik in ’n baie spesifieke pasiënt, vir ’n vooruit-afgesproke doel.

Die SAHPRA moet na elke aansoek kyk om te bepaal of die moontlike nut van die produk die potensiële negatiewe effekte oorskry of nie, sowel vir die pasiënt as vir die dokters, veeartse en verpleegsters wat die middel moet toedien, en vir die omgewing.

As veeartse gebruik ons artikel 21-aansoeke wanneer ons entstowwe wil invoer vir siektes wat nie gereeld hier voorkom nie byvoorbeeld, of vir behandeling van seldsame kankers waarvoor die middele in Europa of Amerika bestaan maar nie in Suid-Afrika nie.

Artikel 21 is om die dokter, veearts en gemeenskap te beskerm indien iets fout gaan met die produk. Ons het mos gepraat oor die registrasieproses wat dinge soos langtermyn-newe-effekte in ag neem asook ander aspekte van die middel se veiligheid. Elke middel wat volgens Artikel 21 gebruik word, mis van hierdie toetse. Indien iets skeefloop, is daar dus twee belangrike dinge: Eerstens kan SAHPRA die ander vergunnings vir dieselfde medikasie gebruik om ander dokters of veeartse te waarsku vóór hulle pasiënte ook probleme kry. Tweedens gee die permit die dokter of veearts ’n mate van beskerming, want as ons heeltemal sonder vergunning ’n middel op ’n onortodokse manier gebruik en ons pasiënt sterf, kan ons aangekla word van wanpraktyk.

Die koerante is vol van klein groepies dokters en aptekers wat sê hulle is reg om met ivermektien te begin. Hier is twee voorbeelde, een van IOL en een op Netwerk24. En op 27 Januarie het SAHPRA self gesê dat hulle ivermektien nou beskikbaar sal stel vir “compassionete use” kragtens artikel 21. Verander hulle dus van plan?

Nee. SAHPRA, en hul eweknieë in Europa, die VSA en die Verenigde Koninkryk, hou nog steeds vol dat meer kliniese toetse nodig is voordat hulle sal weet of die gebruik van ivermektien geregverdig is by Covid-pasiënte, en indien wel, teen watter dosis en op watter stadium van die siekte.

Magtigings vir proefgebruik word aan menslike dokters verleen as hulle ’n pasiënt het wat ernstig siek is en nie reageer op ander behandelings vir die siekte wat hulle beveg nie. Dit word in Engels compassionate use genoem, omdat dit oor die algemeen gereserveer is vir gevalle waar die dokter oortuig is dat niks anders die pasiënt se lewe sal red nie, juis omdat alle ander metodes reeds probeer is.

Individuele, buitengewone magtiging vir proefgebruik beteken dus nie dat SAHPRA ivermektien nou veiliger beskou as voorheen nie, en dit maak dit ook nie minder onwettig vir menslike dokters of veeartse om ivermektien op mense te gebruik of dit vir menslike gebruik te verkoop nie. Dokters kan dit op mense gebruik slegs as skriftelike toestemming van SAHPRA ontvang is.

Vriende het my as veearts al gevra dat ek ivermektien vir hulle, of hul gesinne se gebruik, moet verkoop. Dit is regtig onwettig vir ’n veearts om dit te doen. Moet dit asseblief nie teen ons hou nie. Ons doen ook die beste om nie menselewens in gevaar te stel nie.

Vir lesers wat meer hieroor wil lees, is SAHPRA se volledige redenasie hieragter op hul webwerf beskikbaar.

Kan ivermektien jou DNS verander?

Nee. Gewone geneesmiddels kan nie jou DNS verander nie. Maar ivermektien kan wel jou organe, insluitend jou brein, beskadig, en die ongewenste effekte kan dodelik wees. Dis nié ’n middel om te gebruik tensy jou dokter dit goedkeur en jou tydens die gebruik monitor nie.

Kan enige van die entstowwe (vaksiene) wêreldwyd waarvan jy weet, mense of diere se DNS verander?

As dit die geval was, sou ek al lankal die entstof gebruik het wat my so mooi sou maak soos Michelle Obama! Maar ernstig: Ons DNS bepaal hoe ons lyk, hoe lank ons is, of ons blou of bruin oë het. Dis die bloudruk van ons lywe, in elke sel gestoor, en dit verander nie deur ons lewens nie.

...
Iemand wat jou Toyota kaap gaan hom dalk effe stukkend ry, maar hy gaan hom nie verander in ’n Porsche nie!
...

Entstowwe – alle entstowwe – werk deur jou liggaam se wit bloedselle te leer hoe om ’n kiem te erken en te beveg. Die entstof is net ’n klein hoeveelheid van ’n niegevaarlike weergawe van die wilde kiem. Die virus self is baie gevaarliker, en selfs ’n virus wat ’n sel se fabriek binnedring en die proteïenreplikasiemeganisme oorneem, verander nie die DNS nie. Iemand wat jou Toyota kaap gaan hom dalk effe stukkend ry, maar hy gaan hom nie verander in ’n Porsche nie! Virusse maak ons siek, maar verander nie ons DNS nie. Entstowwe nog minder, want hulle is tog net swakker weergawes van die virusse.

Sal jy ’n entstof teen COVID-19 neem wanneer dit aan Suid-Afrikaners verskaf word?

Ek sal voor in die ry staan. Nie net vir my eie onthalwe nie, maar ook vir die mense wat ek lief het. Ek wil alles in my vermoë doen om die dokters en verpleegsters in ons hospitale veilig te hou. Nadat ek ingeënt is, sal die kans dat ek ernstig siek word van COVID-19, drasties afneem, en daarmee saam die kans dat ek ander mense kan aansteek sonder my medewete. Elkeen van ons wat geënt is, is soos ’n voorbrand wat die verspreiding van die virus kan vertraag.

Die Dalai Lama het gesê: “Be the change you want to see in the world.” Ek wil ’n wêreld sien waar ek my vriende drukkies kan gee. En deur geënt te word kan ek daardie dag nader bring.

Lees ook:

Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

Oxford se breins, ’n siek sjimpansee en my linkerarm: Ons gaan COVID-19 dôner

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met medikus Helmuth Reuter

Reguit met Robinson: A Zoom interview with Glenda Gray

  • 13

Kommentaar

    • Korrek. En dankie. Ek het die vraag verbeter, want die formulering was verwarrend. Dankie. (Izak.)

  • Marietjie Warrington

    'n Uitstekende relaas wat die misterie rondom die middel opklaar! Dankie Izak en Marianne

  • Theodore Kloppers

    My seun en familie het covid, ek is baie bekommerd. Hoe kan ek so gou moontlik vir hulle van die medisyne kry?

  • Elmien Benson

    Meer inligting asb, almal het op die Ivermax-trein gespring ek is baie deurmekaar, alhoewel ek uit hierdie berig verstaan dat dit gevaarlik is vir mense om te gebruik.

  • Fanie Herholdt

    Ek vind die inligting baie interessant .Ek sal self graag die middel wil gebruik - maar- daar is nog te veel onduidelikheid oor die veiligheid daar van en sal graag meer te wete wil kom soos ondersoeke vorder vir die veilige gebruik vir menslike doeleindes.
    Die vraag is natuurlik ook wanneer mag mens nie die produk gebruik nie. Wat van asmaleiers en mense met hoë of lae bloeddruk en vel- en ander kankers ens ...

  • Petrus Phillipus Christoffel Robberts

    Baie dankie vir die inligting, ek wil graag hoor kan ek ivermektien gebruik nadat ek 'n aneurisme gehad het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top