Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

  • 13

Gerd Altmann | Pixabay

Kom ons kyk na entstowwe. Polio is feitlik uitgewis, wêreldwyd, weens entstowwe. Verduidelik asseblief hoe masels, polio en ander siektes hok geslaan word weens entstowwe?

Entstowwe, of vaksines, om die wetenskaplike naam te gebruik, word gewoonlik vervaardig wanneer ’n verswakte weergawe van die virus wat die siektes veroorsaak, in ’n persoon ingespuit word om ’n immuunreaksie te ontlok. Die persoon se eie immuunstelsel vervaardig dan teenliggaampies teen die virus.

Die poliovirus en die maselsvirus is redelik stabiel en ondergaan nie meer mutasies wat van so ’n aard is dat dit nuwe vaksines vereis nie, dus bly die vaksines wat dekades gelede al ontwikkel is, steeds effektief vir immunisering (inenting) teen hierdie siektes.

So wat is ’n virus, en hoe maak dit my siek?

’n Virus is ’n baie klein deeltjie wat nie vanself kan voortplant nie, en dit word nie as lewend beskou nie. Sodra ’n virus egter ’n vatbare sel infekteer, kan die virus die selmasjinerie flous om meer virusdeeltjies te produseer. Die meeste virusse het DNS of RNS as genetiese materiaal. (In Engels DNA en RNA.)

Virusse het dus óf DNS óf RNS, nie albei nie.

Hier moet ek gou vertel wat DNS en RNS is.

DNS staan vir desoksiribonukleïensuur. Dit is die groot molekule wat in elke lewende sel teenwoordig is en die kode dra vir die vorming van byvoorbeeld ensieme, proteïne en talle ander noodsaaklike verbindings in die liggaam.

’n Tweede tipe molekule wat ook in alle lewende selle teenwoordig is, is RNS (ribonukleïensuur) – dit speel ’n rol in die “lees” van die DNS en dan in die bou van die belangrike molekules in elke sel – dit word hoofsaaklik deur ribosome gedoen.

Albei bevat dus nukleïensuur. Die nukleïensuurmolekule kan uit ’n enkel- of dubbelstring bestaan (die dubbele heliks is die bekende beskrywing van die DNS-molekule).

Terug na die virus: Die hele besmetlike virusdeeltjie, wat ’n virion genoem word, bestaan ​​uit die nukleïensuurmolekule en ’n buitenste dop van proteïene. Een van hierdie proteïene op die buitenste dop (die sg stekelproteïen; spike protein in Engels) is die bekende een waarmee die koronavirus menslike selle binnedring. Die stekels lyk soos ’n kroon (of korona), vandaar die naam.

Die eenvoudigste virusse bevat net genoeg RNS of DNS om vier proteïene deur die geïnfekteerde sel se eie selmasjinerie te laat produseer (“kodeer”). Sommige komplekse virusse kan selfs 100 tot 200 proteïene kodeer.

Die koronavirusse is RNS-virusse – hulle het dus geen DNS nie.

Daar word elke jaar griepvaksines vervaardig. Hoe werk hulle en hoekom moet ons elke jaar ’n nuwe een kry?

Griepvirusse verander gedurig deur mutasies in hulle DNS. So, hoekom verander griepvirusse se vaksines elke jaar? Want daardie groep virusse verander gedurig weens die mutasies in hulle DNS.

Die wêreld word in twee dele verdeel met die bekamping van die griepvirusse – die Noordelike en Suidelike Halfrond.

In Suid-Afrika en in ander lande in die Suidelike Halfrond word ’n mengsel (cocktail) van griepvaksines in die somer vervaardig op grond van die virusse wat in die Noordelike Halfrond se winter daar versprei en griep veroorsaak het. Die mengsel bestaan uit vaksines teen die griepvirusse wat die grootste aantal infeksies en hospitalisasie in die Noordelike Halfrond veroorsaak het. Die samestelling van die mengsel word deur ’n paneel kundiges bepaal.

Party mense kry steeds griep, al het hulle die entstof gekry. Hoekom?

Omdat die samestelling van die mengsel vir die wintergriepseisoen op waarskynlikhede berus, kan dit gebeur dat ’n variant, of meer as een, wat in die winter in sekere lande versprei, nie deur die mengsel gedek word nie en mense kan dan dus griep kry weens daardie variant. Dit is bykans onmoontlik om drie tot ses maande voor die tyd te voorspel presies watter variante in die winter hier teenwoordig gaan wees. Nogtans is hierdie metode van vaksinasie baie effektief en word talle sterftes weens griep so verhoed.

Dieselfde proses word in die Noordelike Halfrond gevolg, met die mengsel wat gebaseer is op die virusse wat in die Suidelike Halfrond se winter daar versprei het.

Wat is ’n koronavirus?

Koronavirusse is, soos ek vroeër genoem het, RNS-virusse. Die genetiese kode (inligting) waarmee hulle selle binnedring en daar vermeerder en meer viruspartikels (deeltjies) vervaardig, is dus RNS. Dit onderskei hulle dus van al die ander virusse wat DNS gebruik.

Daar is letterlik duisende verskillende koronavirusse. Daar is ’n groot aantal van hulle wat jaarliks gewone verkoues veroorsaak. Omdat hulle so vinnig verander en nie dodelik is nie, is daar nog nooit probeer om vaksines teen hulle te vervaardig nie.

Die koronavirus wat vir die pandemie van 2020 verantwoordelik is, het in Wuhan in China ontstaan weens ’n mutasie van ’n toe reeds bestaande koronavirus. Koronavirusse kom algemeen voor in vlermuise wat in kolonies van letterlik miljoene in grotte in die Wuhan-omgewing voorkom. Dit is die ideale “broeiplek” vir koronavirusse, en nuwe variante wat deur mutasies in die RNS veroorsaak word, kan baie vinnig in sulke kolonies versprei.

Aanvanklik, vroeg in 2020, was die hipotese (in volksmond sommer “teorie”) dat dit in ’n sogenaamde “nat mark” in Wuhan vanaf vlermuise na mense gespring het en so wêreldwyd versprei het. Daar is tans ’n alternatiewe hipotese wat ondersoek word, naamlik dat dit uit ’n koronaviruslaboratorium in Wuhan “ontsnap” het. Daar is egter nog geen sekerheid oor watter van die twee hipoteses die werklikheid verteenwoordig nie. *

Soos ek reeds genoem het, muteer alle virusse teen ’n bepaalde tempo – na skatting een mutasie per maand. Die meerderheid mutasies is nadelig vir die virus en versprei nie. Sommige mutasies het geen nadelige effek nie, maar ook geen positiewe effek vir die virus nie, wat dit nie meer of minder verspreibaar en dodeliker as die vorige variant maak nie.

Soms gebeur dit egter dat ’n mutasie die virus beter kan laat versprei en dodeliker kan maak. Die sogenaamde tweede vlaag wat Suid-Afrika tans tref, en veel groter skade as die eerste vlaag veroorsaak, is veroorsaak deur ’n mutasie wat hier in Suid-Afrika plaasgevind het; dié variant word tans ook in oa die VK, VSA en Australië gevind.

Die enigste maniere om infeksies en verspreiding deur die koronavirus te verhoed is maskers, sosiale-afstand-houding en vaksines.

  • Maskers verhoed oordrag vanaf jouself na ander persone en ook omgekeerd. Dit is hoekom die dra van maskers in die openbaar en in winkels ens verpligtend is. Jy kan die virus hê en dit nie weet nie.
  • Hou jou afstand tussen jouself en ander persone op ten minste 1,5 m. Dit is eenvoudig waar dat die meeste oordragte van die virus tuis plaasvind tussen inwoners en kuiergaste wat nie maskers dra en sosiale afstande handhaaf nie. Die koue feit is dat jy niemand kan vertrou nie. Mense kan die infeksie met ’n hoë virale lading vir tot vyf dae hê sonder dat hulle simptomaties is.
  • Vaksines. Die doel van ’n vaksine is eerstens om die aantal mense wat geïnfekteer word en die virus se verspreiding te verminder. Tweedens is die doel om soveel van die bevolking as moontlik immuun te maak sodat die aantal persone wat die virus kan opdoen, al hoe kleiner gemaak word en die virus ophou versprei. Dit staan bekend as kudde-immuniteit (herd immunity). Die mite dat jongmense (kinders, tieners, jong volwassenes) nie die virus kry nie en nie siek raak nie, is nou finaal hokgeslaan. Hulle kan dit opdoen, versprei en ernstig siek raak en selfs sterf.

* [Op 12 Januarie 2021, toe dié berig geplaas is, was dié vraag op baie mense se lippe. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het intussen ondersoeke ingestel na hierdie bewerings en daar is geen bewyse gevind van ’n virus wat uit ’n laboratorim ontsnap het nie, maar toe is daar vanuit die Withuis besluit om wel ’n nuwe ondersoek te loods.]

Daar word nou twee soorte entstowwe gemaak om die huidige pandemie hok te slaan. Die een tipe is ’n RNS-entstof, en die ander is ’n outydse soort entstof wat ’n verswakte weergawe van die virus in jou liggaam inspuit. Verduidelik asseblief die verskil?

Die “outydse” vaksine is ’n goedgevestigde en betroubare manier om vaksines te maak. Dis egter nog nooit voorheen teen RNS-virusse ingespan nie. Die huidige AstraZeneca/Oxford-vaksine is die eerste van sy soort met hierdie metode, soortgelyk aan die manier waarop griepvirusvaksines vervaardig word. Die voordeel van hierdie vaksine is dat dit geen spesiale maatreëls vereis vir die verspreiding daarvan nie.

Die ander metode wat binne 12 maande ontwikkel is (baie vinnig, want dit duur gewoonlik dekades om ‘n vaksine te ontwikkel) en getoets is en goedgekeur is vir verspreiding, is die gebruik van RNS-vaksines. Hier word ’n gedeaktiveerde RNS-deeltjie van die virus gebruik om die liggaam se natuurlike immuunreaksie te aktiveer en om teenliggaampies teen die RNS van die virus te bou. Daar is tans twee groot vervaardigers wat hierdie vaksine beskikbaar stel. Een van die groot nadele van hierdie RNS-vaksines is dat dit moeilik is om hulle te versprei, omdat hulle teen ontsettend lae temperature gehou moet word tydens die hele proses.

Ek was een van die proefkonyne wat myself vrywillig laat inspuit het met een van die entstowwe (AstraZeneca/Oxford s’n). Ek is twee keer ingespuit. Dit was toe dit nog in ’n proefstadium was. Hierdie weergawe is intussen goedgekeur vir gebruik en Suid-Afrika gaan waarskynlik groot hoeveelhede hiervan invoer uit Indië, want Indië is al jare lank die wêreld se grootste vervaardiger van vaksines. Ná die eerste inspuiting het ek olik gevoel vir ’n dag lank, maar nie na die tweede nie. Kan jy dit verklaar?

Enige vaksine veroorsaak inflammasie en dit is die rede hoekom jy olik gevoel het. Die mate van inflammasie verskil van persoon tot persoon. Dit word ook met griepvaksines ondervind. Uit die toetse wat met hierdie vaksines gedoen is, is slegs ’n handjievol ernstige reaksies uit die letterlik derduisende mense wat dit gekry het, aangeteken. Dit is te verwagte – geen vaksine kan ooit 100% veilig wees nie – dit is net nie moontlik nie. Maar as mens die voordele teenoor die moontlike nadele opweeg, is vaksinering baie beslis die beste benadering teen die bekamping van die virus.

Daar is tans allerlei valse informasie deur mense wat beweer entstowwe kan jou DNS verander. Hoekom is dit loutere bog?

Daar is geen meganisme bekend hoe RNS daarin kan slaag om die menslike DNS te beïnvloed nie. Daar bestaan nie eens enige hipoteses in hierdie verband nie.

Wat kan gebeur as mens onverskillig optree ten opsigte van die koronavirus?

Om dit eenvoudig te stel, jou kans om die virus op te doen, ernstig siek te word en selfs in ’n hospitaal opgeneem te moet word en om onnodig te sterf is uiters groot. Moenie met jou lewe en die lewens van jou geliefdes en vriende dobbel nie.

Talle mense wat van die virus herstel het, ly vir tot ses maande aan die nagevolge van die infeksie, onder andere ’n afname in kognitiewe funksie – jou vermoë om jou omgewing waar te neem en te interpreteer en onafhanklik van hulp te leef.

Lees ook:

Reguit met Robinson: A Zoom interview with Glenda Gray

Die etiek van inentings en toetsing: Izak de Vries as proefkonyn

Oxford se breins, ’n siek sjimpansee en my linkerarm: Ons gaan COVID-19 dôner

Koud, bitter koud, vrekkoud

COVID-19 en ’n entstof: Wie gaan die resies wen?

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met medikus Helmuth Reuter

  • 13

Kommentaar

  • Ek het n stemcell-transplant gehad (leukemia-kanker) en my immune system is nog baie laat sal dit veilig wees om die inenting te ontvang. So hoe veilig is dit in die algemeen vir pasiënte met ’n lae immunsisteem wat chemo ontvang? Dankie byvoorbaat.

  • Dawn Kellerman

    Baie dankie. Die kommentaar is duidelik en verstaanbaar.
    Ek hoop die inligting sal wys versprei word.

  • Bennie Bobejé

    Die anti-teenentingskamp het ook allerlei geloofwaardige wetenskaplike verduidelikings en teorieë in hierdie debat. Mens weet nie meer wat om te glo nie.

  • 1) Met alles wat aangaan, kan ek niks meer op die internet vertrou nie. Self nie 'n mediese publikasie nie. Dis so maklik om iemand met geen kennis in 'n sekere veld te oorweldig met tegniese beskrywings, net verstaanbaar deur 'n spesialis in hierdie veld. Bv. ek kan jou 'n lang verduideliking gee van "binary heap implementations to keep subtrees in a single page", en jy sal geen clue het of ek nonsens praat nie. Net omdat die bespreking tegnies is, maak dit dinge nie noodwendig reg nie.

    2) Al is die navorsing al gedoen oor twee dekades heen, is dit die eerste keer dat mRNA op mense gebruik word ... waar bestaan daar iets wat die mens maak waar version 1 goed werk?

    3) As ek klaar herstel het van die natuurlike virus, wat maak hierdie mensgemaakte verswakte een, dan soveel beter dat my immuniteitstelsel dit EERDER moet gebruik om vanaf te "leer"?

    4) Wat as jy verkeerd is? Is jou kennis gebaseer op boeke of op ondervinding? Dokters en dieetkundiges het ook gesweer carbs is die regte roete vir almal, geleer uit voorgekrewe boeke, en kyk nou die vetsug- en diabetes-epidemie wat baie meer mense doodmaak as hierdie nuwe virus (op die laaang termyn).

    Elke ou moet maar vir homself besluit t.o.v. voordele vs nadele vs risiko, ens.

  • Dit klink alles goed en wel, maar hoekom gaan daar so baie mense dood van die griep? Dis wat my bang maak.

  • Dr Awie Badenhorst

    Guss Davey - jy vergelyk goed wat nie met mekaar verband hou nie - die griepvirusse en die Korona-virusse. Niks wat ons van die griepvirusse weet gee vir ons 'n goeie basis vir besluitneming ten opsigte van korona-virusse nie. Dieselfde geld vir Jenny se vraag oor sterfes agv griep. Dit is onvermydelik dat baie tegniese begrippe bespreek moet word tov die Korona-virusse. Dis is 'n komplekse situasie wat meer as net 'n oppervlakkige beskrywing vereis. Guss, jou verwysing na "carbs" hou geen verband met die Covid-19-pandemie nie. Dan "Elke ou moet maar vir homself besluit t.o.v. voordele vs nadele vs risiko, ens" - hoe gaan jy dit objektief regkry? Waar gaan jy jou inligting kry hiervoor? As jy niks en niemand vertrou nie.

  • Dr Awie Badenhorst

    Bennie - die teeninentingskamp het geen maar geen "geloofwaardige wetenskaplike teorieë" oor spesifiek die Korona-virusvaksienes nie. Hulle skram trouens weg van 'n objektiewe wetenskaplike benadering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top