Op 23 November het die wêreld gehoor dat die AstraZeneca COVID-19-intenting tot 90% effektief is, dat dit goedkoper is as die ander twee inentings wat reeds met produksie begin het, en dat dit nie so koud hoef te bly soos die ander twee entstowwe nie. Gewone kommersiële vrieskaste kan gebruik word om hierdie entstof mee te versprei.
Dit is hierdie einste entstof, bekend as ChAdOx1 nCoV-196, waarvoor ek ’n proefkonyn was. Hulle het dit op my en duisende ander vrywilligers getoets.
Die storie ágter hierdie program, oor ’n slim vrou en ’n siek aap, is egter flippen interessant.

Foto: Thomas Skirde | Pixabay
Die vrou wat vir Virus-X gewag het

Sarah Gilbert (Foto: Nuffield department of Medicine, Oxford University)
Deon Meyer het vier jaar lank navorsing gedoen om sy fantastiese roman Koors te skryf. Hoe op aarde het wetenskaplikes binne tien maande ’n effektiewe teenmiddel ontwikkel?
Meyer se boek bevat juis die antwoorde.
Wetenskaplikes het lank reeds geweet dat daar ’n epidemie gáán uitbreek. Daardie koronavirus in Koors was dalk ekstreem, maar beslis nie sonder wetenskaplike gronde nie.
Inteendeel.
Sarah Gilbert, ’n hoogleraar aan Oxford-universiteit, het reeds jare gelede begin werk aan ‘n plan om ’n virus soos dié van Meyer se roman hok te slaan.
Sy het ChAdOx1 ontwikkel.
ChAdOx1 is eintlik sjimpanseesnot – wel, soort van.
ChAdOx1 se volle naam is Chimpanzee Adenovirus Oxford One.
’n Adenovirus veroorsaak verkoues, of diarree, of dit gee jou pienkoog. Daar is natuurlik verskeie soorte adenovirusse, so jou simptome sal afhang van watter tipe virus jy kry.
Sjimpansees kry ook verkoue, en dit word ook deur adenovirusse veroorsaak.
Gilbert en haar span het toe ’n sjimpanseevirus geneem en dit omskep in ’n bousteen vir ’n entstof wat teen feitlik enige soort virus sou kon werk.
Reeds voor COVID-19 kop uitgesteek het, was sy al reg vir Siekte X.
Daardie spykers maak dit moontlik
Dit het reeds twee keer tevore gebeur dat koronavirusse van diere na mense gespring het. In 2002 het SARS (Severe Acute Respiratory Syndrome) die wêreld op hol gehad en in 2012 was dit MERS (Middle East Respiratory Syndrome) Coronavirus.
Die nou baie bekende stekels was in albei teenwoordig.
Dit is daardie stekels wat maak dat die virus selle kan binnedring.
In Januarie 2020 het die Chinese regering COVID-19 se volle genoom gepubliseer. Gilbert het dadelik aan die werk gespring om dié bepaalde stekel in te bou in haar Trojaanse perd genaamd ChAdOx1.
Dit is hoe ChAdOx1 nCoV-196 ontwikkel is.
Toetsing
Teen die tyd dat Gilbert se span ChAdOx1 nCoV-196 in mense begin inspuit het, was die teorie reeds baie goed ondersoek.
COVID-19 is egter ’n bliksem. Talle mense dra dit sonder om simptome te kry – dit is hoekom dit so maklik versprei en hoekom maskers so geweldig belangrik is. My spoegdruppels, so klein dat niemand dit kan sien nie, maak jou siek. Ek kan gesond wees, maar die virus in my hê.
Jy kan dalk een van die mense wees wat in die hospitaal beland weens die virus en dan is dit ’n probleem, want ons het nie genoeg hoësorgbeddens nie.
Die vreemde gedrag van die virus was ook hoekom dit nodig was om soveel as moontlik betreklik gesonde mense eerste te toets; ons risiko’s is fyn uitgewerk voor die entstof in ons arms ingespuit is.
Ek was deksels siek ’n paar uur ná die inspuiting, maar 24 uur later was ek weer springlewendig. Ek oefen weer en het reeds ’n volle marathon en ’n aantal halfmarathons gehardloop ná die inenting.
My tweede inspuiting, wat waarskynlik die volle viruslading bevat het, was sonder enige nagevolge.
Ek was een van meer as 30 000 mense op verskillende kontinente wat met ChAdOx1 nCoV-196 ingespuit is. Dié toetse is om twee redes gedoen:
- Ten eerste moes uitgevind word of ChAdOx1 nCoV-196 veilig is.
- Ten tweede moes uitgevind word of ChAdOx1 nCoV-196 effektief is.
Die aankondiging van 23 November beteken dat die antwoord op beide ja is.
Vervaardiging en verspreiding
Daar is twee ander entstowwe wat ook groot hoop inhou. Albei is RNA-gebaseerd.
Dié metode is baie nuut, maar ook baie opwindend. In beide gevalle word slegs die mRNA, daardie molekule wat aan ander selle die opdrag gee om nuwe selle te bou, in die ontvanger ingespuit.
Die liggaam herken hierdie molekules as moeilikheidmakers en bou só ’n weerstand op. Wanneer die volle virus dan die liggaam indring, is die immuunsisteem gereed om die geveg te begin.
ChAdOx1 nCoV-196 werk effens anders. Saam met die sjimpansee se verkouevirus het ek in effek ook ’n baie verswakte weergawe van die COVID-19-virus gekry. Die liggaam baklei dan teen die verswakte weergawe en bou sodoende die nodige kennis op om ’n die volle viruslading hok te slaan.
RNA-tegnologie gaan waarskynlik in die toekoms nog baie gebruik word. Tans is dit egter nog redelik nuut en die onbekende faktore is groot. Dit is een van die groot redes waarom entstowwe wat só vervaardig word, ontsettend koud gehou moet word.
ChAdOx1 nCoV-196, gebaseer op ouer, bekende tegnologie, kan gewoon in ’n normale vrieskas gestoor word – een wat enige mediese fasiliteit by ’n plaaslike winkel kan gaan koop. Laasgenoemde gaan steeds baie dele van Afrika ontneem van die reg om inentings te kry, maar mobiele spanne met koelsakke en yspakkies sal dus diep plattelandse gebiede kan bedien. Dit is hoe die koueketting vir die huidige nasionale inentingsprogram werk.

Foto: Marcel Langthim | Pixabay
Slotsom
Gister se aankondiging was nie die eerste nie, maar ChAdOx1 nCoV-196 is ’n entstof wat hoop bied aan baie mense in Afrika, Indië en ander armer streke.
Danksy ’n slim dokter wat soos ’n fiksieskrywer dink, ’n siek sjimpansee, en talle vrywilligers, sal ons hopelik teen die middel van 2021 ’n baie groot deel van die wêreld se kwesbaarste mense kan inent.
Die res van ons moet maar maskers dra, hande was en veilig bly tot ons almal ingespuit kan word.
Lees ook:
Die etiek van inentings en toetsing: Izak de Vries as proefkonyn
Kommentaar
Ek is 58 jaar oud en wil graag die vaksiene kry. Waar is die beste om te gaan? Ek bly in Durban.
Leonie, die regering is besig om uit te werk hoe om almal wat wil, in te ent. Daar sal groot berigte in die verskillende media wees.
Ek weet ongelukkig nie waar en wanneer nie.
As ek wel Ivermectin gebruik, hier waar ons bly is die infeksies nou baie. Hoe lank kan ek van laaste dosis ingeënt word?
Elena. Ivermektien het geen invloed op die inenting nie. Kry asseblief die inenting so gou as wat moontlik is. Ek het reeds drie dosisse van die inenting in, juis om te toets. Die inenting is veilig.
Baie dankie. Kry jy die menslike aansmeer-Ivermectin, en is dit beter of slegter as die pille?