Ek het myself laat inspuit met COVID-19.
Jip. Jy het reg gelees.
Ek het opsetlik toegelaat dat ’n naald in my arm gedruk word en het toestemming verleen dat die einste koronavirus wat ons wêreld lamgelê het, in my ingespuit word. Ek is nou amptelik deel van die Ox1Cov-19 Vaccine VIDA-Trial wat die teenmiddel ChAdOx1 nCoV-196 op gewillige mense toets.
Hoekom?
Want vir my is dit die regte ding om te doen, en hopelik vir miljoene ander ook. Boonop, as ’n mens ’n artikel hier op LitNet Akademies lees, was dit (dalk?) die etiese ding om te doen.
Vir ’n deeglike, dog toeganklike verduideliking van die studie waarvan ek deel is, kliek hier.
Die etiek van toetsing in Afrikalande
Op 1 Julie 2020 het ’n groepie mense naby die Universiteit van die Witwatersrand betoog en gesigmaskers verbrand. (Sien berig en video hier.)
Die plakkate wat hulle vasgehou het, was interessant. Hier is enkele aanhalings:
- #We NOT guinea pigs... NO unsafe VACCINE
- #Gates we are not your labrats ... AFRICA is not your playground
- #No to gates poison... we don’t want the gates of hell here
(Vir verdere beriggewing, lees hier.)
Dit is nie moeilik om die verwysing na Bill Gates, stigter van Microsoft, raak te lees nie. Die rede? ’n Enorme deel van die befondsing vir die studie hier in Suid-Afrika word befonds deur die Bill & Melinda Gates Stigting.
Die kwessies loop egter veel dieper. Die belangrikste hiervan is dat daar beweer is dat diegene wat deelneem, arm is en nie weet waarvoor hulle hulself inlaat nie.
“The people chosen as volunteers for the vaccination, they look as if they’re from poor backgrounds, not qualified enough to understand...”
“The people chosen as volunteers for the vaccination, they look as if they’re from poor backgrounds, not qualified enough to understand,” protest organizer Phapano Phasha told The Associated Press ahead of the event. “We believe they are manipulating the vulnerable.” (Aldus ABC News.)
Dit was teen presies dieselfde studie waarvan ek nou deel is dat die betoging gehou is.
Ook vanuit die buiteland is daar skeptisisme jeens toetsing in Afrika. Dieselfde artikel verwys na Jean-Paul Mira, ’n Franse navorser, se uiters pessimistiese siening oor toetse in Afrika. Mira het later die stellings teruggetrek, maar die sosiale media deel steeds sulke Afrika-pessimisme met genoegdoening.
Dit is teen hierdie agtergrond dat ek verlede Vrydag my warm baadjie uitgetrek het en toegelaat het dat die naald ook in my arm gedruk word.
Hierdie artikel is ’n persoonlike opinie; dit open hopelik die deur na verdere debatte rondom etiek en gesondheidsorg. Die verwysing na Pieter Botha se artikel hier op LitNet Akademies beteken ook nie dat Botha, of die redaksie van LitNet, noodwendig my sienings goedkeur nie.
Daar moet vrae gevra word
Die etiese vrae by Wits was nie uniek nie. In 2016 het ’n Nederlandse tydskrif, Wemos, ’n baie fel artikel gepubliseer oor wat hulle noem “dirty profits”. (Lees dit hier.)
Wemos se uitgangspunt is dat talle farmaseutiese maatskappye toetse in Afrika kom doen omdat die toegang tot gesondheidsorg hier so min is. Mense is dus desperaat en sal daarom deelneem aan studies sonder om te weet wat die newe-effekte mag wees. Uiteindelik is die wekroep: Moenie belê in maatskappye wat sodanige toetse doen nie.
Is ubuntu nie dalk ’n gevaar is in die konteks van mediese toetse nie?
In ’n totaal ander benadering vra The Journal of Medicine and Philosphy of ubuntu nie dalk ’n gevaar is in die konteks van mediese toetse nie. (Lees ’n opsomming hier.)
Die skrywer, Keymanthri Moodley, sê die keuse van ’n individu om deel te neem aan ’n kliniese toets is hoogs individueel, maar dit dra uiteindelik by tot die groter samelewing se beswil. Moodley vra of ons sin vir samehorigheid, of dan ubuntu, nie mense in Afrika blind maak vir die individuele keuse nie. Kyk ons nie dalk té veel na die groter geheel nie?
Moodley se vraag resoneer met my, en dit was een van die redes waarom ek my aangemeld het.
Gekoppel aan Moodley se kommer oor ubuntu, kom hierdie artikel uit die Land van die Individu, die VSA. Harriet Washington, die outeur van Medical apartheid. The dark history of medical experimentation on black Americans from colonial times to the present en ’n dosent in bio-etiek aan die Universiteit van Columbia, wys in ’n onderhoud met die radiostasie NPR daarop dat talle navorsers die gebruik van plasebo’s in die VSA problematiseer. Hoekom? Want as daar ’n moontlike hulpmiddel is, waarom mag hoopvolle mense nie daarmee toegedien word nie? Washington sê tereg dat daar in Suid-Afrika en in baie ander lande minder probleme met plasebokontroles is en dat maatskappye daarom daarvan hou om hier te toets. (Lees die onderhoud hier.)
Ek verduidelik plasebo se belang hier onder.

Jy kan dit nie bekostig nie, al het jy jou lyf gegee om dit te toets. (Foto Gerd Altmann | Pixabay)
Washington gee egter ’n uitklophou met haar volgende punt: Talle van die mense wat aan dié toetse deelneem, sal daardie selfde behandeling nie kan bekostig wanneer hulle liggame uiteindelik bewys het dat die medisyne werk nie. Dit is waarskynlik die skrynendste aantyging wat ’n mens voor die deur van die farmaseutiese maatskappye kan lê: Hulle gee mense hoop, dan neem hulle dit weg as mense nie kan betaal nie.
Talle van die mense wat aan dié toetse deelneem, sal daardie selfde behandeling nie kan bekostig nie.
Ek sal hierdie kwessie ’n bietjie later aanspreek, maar vir ’n oomblik moet ons stilstaan by die individu se reg om te weet en te verstaan wat gaan gebeur.
Om met genoegsame kennis in te stem
Verskeie mediese velde worstel met die kwessie van kennis en die reg van die pasiënt om in te stem tot ’n sekere soort behandeling, of om dit te weier. Die Engelse term is “informed consent”. Dit is een van die groot etiese kwessies in ’n mediese dokter se bestaan.
As jy kanker het, wat gaan daardie chemoterapie aan jou doen? Wat is die negatiewe gevolge en wat is die positiewe gevolge?
As ’n transpersoon uiteindelik vra vir hormone om hulle liggaam aan te pas by hulle genderidentiteit, moet hulle weet dat hulle veel sal verloor saam met dit wat hulle wen.
As jy ’n griepinspuiting kry om te keer dat jy siek word, mag jy dalk griepsimptome kry van die inspuiting.
Die meeste pille en medisynes het newe-effekte en die meeste mense weet nie werklik wat dit behels nie.
Dit is ’n bekende feit dat Pfizer nie Viagra as ’n ereksiepil beplan het nie.
Mediese toets kán soms vreemde gevolge hê. Dit is ’n bekende feit dat Pfizer nie Viagra as ’n ereksiepil beplan het nie. Hulle het mense gewerf om deel te neem aan ’n toets vir hartlyers en die mans het skielik ’n huppel in hul stap gehad wat totaal onverwags was. Lees ’n toeganklike mediese artikel daaroor hier.
Een van die redes waarom dit meestal jare neem vir enige nuwe medisyne om te koop aangebied te word, lê juis in die navorsing wat gedoen word op deelnemers ’n lang ruk ná hulle die aanvanklike middel ingeneem het – hou die middel dalk skade in wat eers later ontdek sal word?
Mense wat weet, kan kies. Pfizer waarsku mense dat Viagra ’n hartaanval kan veroorsaak, veral tydens die ... uhm ... oefening wat met ’n ereksie gepaardgaan, tog gebruik heelwat mans dit ten spyte van die waarskuwings.
Die vraag is: Weet mense in Afrika altyd waarvoor hulle hulself inlaat wanneer die farmaseutiese maatskappye proefkonyne soek vir hulle toetse?
Daar is etiese toetsers. Een van die beste artikels wat ek hieroor kon raaklees, is in 2017 in die tydskrif Human Vaccines and Immunotherapeutics gepubliseer. Dit verduidelik hoe sekere maatskappye tog daadwerklike pogings aanwend om die nodige kennis oor te dra aan die gemeenskappe waarin hulle werk. Die skrywe is besonder toeganklike en is die moeite werd om te lees. (Kry dit hier.)
Izak die proefkonyn is baie deeglik ingelig oor die studie, die moontlike gevolge, en die feit dat ek dalk ’n plasebo sal kan kry en nie die regte ding nie.
Toe ek navraag gedoen het, is ’n aantal dokumente aan my gestuur om deur te lees. Van die dokumente was taamlik gedetailleerd en nie noodwendig eenvoudig nie; ander het in eenvoudige Engels die prosedures en die moontlike newe-effekte verduidelik.
Toe ek, ten spyte daarvan, steeds instem het tot die toets, is ek genooi vir ’n onderhoud en ’n mediese ondersoek. Voor die onderhoud is die dokument weer aan my gegee – dié keer moes ’n aantal bome sneuwel want dit was op papier.
Daarna het ’n navorsingsuster deeglik die gevare met my deurgegaan. Tóé eers kon ek teken dat ek instem om medies getoets te word.
Dié keer moes ek ’n toets slaag oor die studie voor ek weer deur ’n onderhoud is, en eers daarna is is die inspuiting in my arm gedruk.
Drie dae later is ek teruggenooi en weer is ek papier in die hand gestop. Dié keer moes ek ’n toets slaag oor die studie voor ek weer deur ’n onderhoud is, en eers daarna is is die inspuiting in my arm gedruk.
Ek het dus geweet waarvoor ek my inlaat.
Maar wat van mense wat nie dieselfde opvoedingsvlakke as ek het nie?
Enige persoon wat wil deel hê aan die Ox1Cov-19 Vaccine VIDA-Trial, of ten minste belangstel, word ook gevra of hulle gemaklik is om Engels te lees, anders sal tolke aangebied word om die dokumente in ’n ander taal te verduidelik.
Ek het wel opgelet dat die vorms praat van Zoeloe en Sotho, maar daar was Xhosasprekende personeel by die instituut.
Is bovermelde genoeg?
Al wat ek kan sê, is: Ek het geweet wat om te verwag. (Behalwe dat niemand gesê het dit gaan ’n blerrie seer inspuiting wees nie.)

Covid-19 maak dat inentings teen 'n ongekende spoed vervaardig en getoets word (Foto: Fernando Zhiminaicela)
Die inentingstoetse wat fase 3 gehaal het
Dit neem dikwels jare om ’n inenting te ontwikkel.
COVID-19 het egter so ’n enorme impak op mense en op die ekonomie dat ’n plan gemaak moes word.
Nsikan Akpan van National Geographic verduidelik die gevare van versnelde toetse egter so: “Concocting a vaccine is not the same thing as proving a vaccine is safe and effective.”
National Geographic se beriggewing oor COVID-19 is gratis. Lees gerus die res van Akpan se artikel hier.
Hierdie tydskrif se berigte oor die virus en die teenmiddels is knap en baie toeganklik.
Dié artikel deur Amy McKeever verduidelik die wedloop om goeie, betroubare inentings te maak. Ek beveel dit hoog aan, want dit word boonop gereeld bygewerk. Lees dit hier.
McKeever verduidelik dat daar tans meer as 150 moontlike middels is wat getoets word, maar dat hulle agt maatskappye volg wat tans besig om toetse te doen op mense soos ek.
Die studie waarvan ek deel is, word derde gelys.

Verskeie mense is met soutwater ingespuit (Foto: Angelo Esslinger | Pixabay)
Het ek dalk ’n plasebo gekry?
Die problematisering van ’n plasebo is hier bo vermeld, maar ek het willens en wetens ingestem om moontlik niks anders as soutwater te kry nie.
Waarom?
Tydens my voorgraadse opleiding het ek as deel van my sielkundekursus ’n baie deeglike oorsig gekry in navorsingsmetodiek. Later, toe ek wetenskapfilosofie probeer verstaan het, was hierdie kennis toepaslik.
Suggestie kan ons vreemde goed laat doen en glo.
Die mens is ’n vreemde wese; ons breine is besonder knap. Suggestie kan ons vreemde goed laat doen en glo.
Hierdie artikel, nie maklik nie, ondersoek byvoorbeeld die effek van alkohol op deelnemers aan ’n aantal studies, asook die feit dat mense sekere gedrag kan openbaar wat verband kan hou met alkoholinname, al het hulle geen alkohol ingekry nie. Dit is egter ook ’n studie wat op die slaggate van die plasebo wys. Lees dit hier.
Waarom sou ’n plasebo nodig wees wanneer inentings getoets word? In eenvoudige terme kan die suggestie dat iemand in kontak was met COVID-19, daardie simptome by hulle laat verbeel. Daarom is dit nodig om kontrolegroepe te hê, want ons almal weet na watter simptome ons moet oplet tydens die studie.
In die proewe waarvan ek deel is, het selfs die dokter wat my ingespuit het, nie geweet wat in die houer is nie.
Almal se name is aan ’n apteker gestuur wat volgens ’n numereringstelsel sekere mense geallokeer het om die teenmiddel te kry, en ander om die plasebo (gewone soutwater) te kry. Ons inspuitings is volgens nommers aan ons toegedien.
Dit was ’n seer inspuiting – ek was vroeër ’n gereelde bloedskenker so ek ken naalde. Dié een was nie pret nie.
Ek het twaalf uur ná die inspuiting erge kouekoors gekry.
Ek het twaalf uur ná die inspuiting erge kouekoors gekry en was vir ’n verdere 12 uur redelik futloos. Daarna het my lewe normaal voortgegaan – behalwe dat my arm vier dae later steeds seer was.
Was dit die virus wat my immuunstelsel laat reageer het? My vrou, ’n mediese dokter, dink so. Ek weet nie. Dalk kon dit my brein gewees het wat my wou laat rus. Oor ’n jaar sal ek weet, want een van die beloftes wat gemaak word, is dat ons teen die einde van die studie sal hoor of ons die aktiewe middel gekry het of nie.
Die etiek van die proefkonyn
Reg aan die begin van hierdie artikel het ek Pieter Botha se LitNet Akademies-artikel genoem. Botha ondersoek Albert Schweitzer se etiek en beskryf dit as “eerbied vir die lewe”.
Schweitzer was ’n diep gelowige mens, en tog is sy etiese beskouings nie bloot ’n klakkelose najaag van Bybelversies nie.
Botha haal hierdie woorde van Schweitzer aan, uit die Duits vertaal: “Alle kennis is ten slotte kennis van die lewe. Alle erkenning is verstomming oor hierdie raaisel van die lewe – eerbied vir die lewe in sy oneindige, immer nuwe vergestaltings […]”
Ek is ’n nuuskierige blikskottel. Dalk is ’n deel van my gewilligheid om deel te neem juis om meer te leer.
Botha skryf voorts: “Schweitzer se eerbiedsetiek kan ook gesien word as ’n teorie oor deugsaamheid; ’n verheldering van dit wat mens ’n goeie mens maak. Deugsaamheid spruit voort uit eerbied vir die lewe en vind uiting in ’n toewyding tot die welsyn van lewende organismes. Met sy beginsel is daar nie net klem op ‘lewe’ nie, maar juis ook op ‘eerbied’.”
“Hê jou naaste lief soos jouself.”
Ek het maar swaargekry terwyl ek etiek bestudeer het op universiteit. Uiteindelik het ek besef dat ’n rebel van Nasaret ’n paar woorde gespreek het wat my steeds bybly: “Hê jou naaste lief soos jouself.”
Ek het nie ’n behoefte aan ’n eksterne godheid nie, maar om eerbiedig te lewe in diens van my naaste maak sin – soos dit skynbaar ook vir Schweitzer sin gemaak het.
Juis daarom spreek ’n paragraaf uit die gerekende mediese tydskrif The Lancet tot my: “Every life has equal worth. Yet global allocation of testing and other resources currently means that some are forced to wait, while those ahead in the global procurement line take precedence. In 2020, we have the opportunity to learn from past mistakes by countering market forces, thus ensuring that lives on the African continent count equally. Doing so will take both moral clarity and political courage.”
Lees gerus die res van die artikel. Dit kaats ’n taamlik positiewe lig op die politieke leierskap van Afrikalande in hierdie tyd van krisis.
Wat meer is: Danksy enorme skenkings van Bill Gates en ander sal hierdie toetse die uiteindelike inentings teen ’n bekostigbare prys aan ons regerings bied; miljoene arm mense sal hopelik baat by my seer arm, nie bloot die aandeelhouers van mediese maatskappye nie.

Mag Ubuntu en internasionale fondse die inentings bekostigbaar maak vir almal in Afrika (Skets: Gerd Altmann | Pixabay)
Ek is nie ’n politikus nie en my filosofieprof het nie gedink ek is ’n besonder goeie filosoof nie; my kennis van etiek is dus steeds verdag.
Tog, ten spyte daarvan, het ek met groot nuuskierigheid oor al die toetse gelees, en ek wil hê dat ons land se ekonomie moet terugkeer na normaal.
Ek wil weer oorsese toeriste in Suid-Afrika hê; ons wil weer sonder maskers in winkels kan rondloop. Ek wil mense weer drukkies gee.
Ek wil ’n inenting hê om die virus hok te slaan.
Ek het my bevoorregte agterent op daardie stoel neergesit en gesê: “Spuit maar, dokter, spuit my in.”
Dus? Ek het my bevoorregte agterent op daardie stoel neergesit en gesê: “Spuit maar, dokter, spuit my in.”
’n Groep mediese dokters van die Oos-Kaap het hierdie video gemaak. Hulle sê hulle is nie superhelde nie, hulle doen net hulle werk met liefde.
Kyk dit gerus. Dis wonderlik.
Redaksionele nota: Op 18 Mei 2021 het Izak bevestiging gekry dat hy die entstof, nie die plasebo gekry het nie. Hy is dus reeds drie keer ingëent, op 28 Augustus 2020, op 28 September 2020 en toe ’n derde op 18 Mei 2021.
Lees ook
Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met medikus Helmuth Reuter
Eerbied vir die lewe: Albert Schweitzer se etiek as lewensfilosofie