Fopnuus vier hoogty in tye van onsekerheid

  • 0

“Fopnuus vind vrugbare aarde in tye van onsekerheid. En watter groter onsekerheid as die huidige wás daar al in ons heugenis? ’n Pandemie wat lei tot ’n ‘info-demie’. Dié faktor van onsekerheid gepaard met ‘n ander element, tegnologie, beteken fopnuus gedy.”

Só verduidelik Lizette Rabe van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch oor die toenemende verspreiding van fopnuus gedurende die COVID-190-pandemie.

Fopnuus is egter geen nuwe verskynsel nie, soos Herman Wasserman van die Sentrum vir Film en Media aan die Universiteit van Kaapstad dié verskynsel al in 2017 bespreek het in sy artikel “Moet ons bang wees vir vals nuus?”. Fopnuus het egter met die COVID-19-pandemie hoogty gevier. Boonop, danksy sosiale media raak dit al makliker vir enige persoon om inligting te versprei – ongeag of dié inligting waar of onwaar is.

“Sosiale-media-platforms soos Facebook en Twitter, asook interaktiewe nuuswebwerwe, maak dit nou vir Jan Publiek moontlik om ’n mening te lug én self nuus te genereer,” skryf joernaliste Susan Cilliers en Thalyta Swanepoel  in die LitNet Akademies-artikel “Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad” (Februarie 2020) waar hulle die kwessie van gehaltenuus onder die soeklig geplaas.

Rabe lewer kommentaar oor die verspreiding van fopnuus, wat gehalteberiggewing behels en hoe om fopnuus uit te ken.

“… ’n omgewing waarin elke Jan Rap en sy maat nuusverspreiders op veral sosiale platforms word. Hierdie sogenaamde burgerlike joernalistiek verhoog juis die behoefte aan opgeleide joernaliste om nuus wat uit alle platforms instroom, te kan beoordeel, verifieer en verpak (Stovall 2005:139; McNair 2013:77–81; Hanitzsch 2013:200).”

Soos bostaande aanhaling noem, lewe ons in ’n tyd waarin “almal” joernaliste kan wees met die klik van ’n knoppie. Sosiale media maak dit maklik om inligting vrylik te versprei, of dié inligting nou waar is of nie. Waarom voel mense so genoop om fopnuus te versprei? Is dit aspris of dalk uit onkunde?

Fopnuus vind vrugbare aarde in tye van onsekerheid. En watter groter onsekerheid as die huidige wás daar al in ons heugenis? ’n Pandemie wat lei tot ’n “info-demie”. Dié faktor van onsekerheid gepaard met ‘n ander element, tegnologie, beteken fopnuus gedy. Elke Jan (en San) Rap en hul maat kan inderdaad nou sommer met die druk van ’n knoppie óf fopnuus versprei, óf dit self skep. ’n Mens hoef nie eens baie behendig te wees met tegnologie om self iets te skep nie. ’n Nederlandse mediasielkundige sê as dit vir die publiek lyk soos nuus, dan glo hulle dit is nuus. Dit is baie maklik om ’n nuuswebwerf se argitektuur na te boots – en ja, as dit lyk soos nuus, dan glo ons dis inderdaad nuus. Boonop, met algoritmes word nét daardie soort nuus waarop jy gewoonlik klik, na jou toe aangestuur. En dan is jy in die valstrik van fopnuus. Gelukkig is daar maniere om dit dadelik te herken.

Net ’n opmerking oor die kwessie van sogenaamde burgerlike joernalistiek en dat enigiemand sommer ’n joernalis sou kon wees. Nee, joernaliste is professionele mense wat aan professionele kodes voldoen en dit moet nakom – dis die fondament van hul beroep. Daarom verskraal ons die joernalistieke professie deur van “burgerlike“ joernaliste te praat. Mense kan natuurlik self skryf, en hul eie mening gee, en dit ook goed doen, maar as hulle nie joernalistiek as beroep bedryf nie, hetsy as heeltydse werknemer van ’n hoofstroommediahuis of as vryskut, is hulle nie joernaliste nie. Dan skryf hulle oor ’n geleentheid, of doen bemarking vir iets, of wat ook al, maar dis nie onafhanklike, getoetste inligting nie. Dis eintlik eenvoudig: Alle joernaliste kan bloggers wees, maar alle bloggers is nie joernaliste nie.

Wat is die implikasies van die verspreiding van fopnuus?

Dis uiters gevaarlik vir brose samelewings, en Suid-Afrika is waarskynlik een van die broosste samelewings wat daar is. Mense glo wat hulle graag wil glo, en met algoritmes beland jy eintlik in ’n sleurstroom van dié soort nuus wat jy graag wil glo, en wat dan jou persepsies verder verdiep. Met ander woorde: ook jou vooroordele, onbegrip vir ander, ens. Daarom is fopnuus so gevaarlik, want dit kan baie gou viraal versprei. As jy iets sien op jou sosiale-media-platform waar jy nie die bron ook dadelik kan sien nie, moet ’n mens jou afvra: Kan dit moontlik wees? Dink byvoorbeeld aan die fopnuus wat versprei is met die vorige Amerikaanse presidentsverkiesing dat Hillary Clinton deel is van ’n pedofielnetwerk.

Buiten dat ’n mens dus moet vashou aan jou goeie oordeel, moet jy eenvoudig kyk na die bron. Vra jouself: Is dit ’n geloofwaardige bron? Net weer: Dis baie maklik om dit te laat lyk soos nuus – maak dus seker wie die bron is.

Die verskynsel van fopnuus het die “regte” nuus gehaal tydens die Brexit-proses, die Trump-verkiesing, en tans die pandemie. Fopnuus word links en regs versprei, wat tot verwarring lei. Waarom die skielike toename in die verspreiding van fopnuus gedurende belangrike politieke en maatskaplike momente?

In die Vierde Industriële Revolusie het ook die mens ’n produk van die digitale revolusie geword. Natuurlik is fopnuus nie ’n nuwe verskynsel nie – dit is deel van die mens se kultuurgeskiedenis. Maar met tegnologie is dit soveel makliker om dit te produseer, en as mag en geld op die spel is, soos juis in ons tyd, saam met die moontlikhede wat die tegnologie bied: Hoekom sal ’n mens nié ander se denke en dade manipuleer nie? Dis wat gebeur het tydens die grensverskuiwende oomblikke van Brexit, die Amerikaanse presidentsverkiesing, en die huidige pandemie. Die Amerikaanse presidentsverkiesing se fopnuuskurwe het egter nie met die verkiesing amper vier jaar gelede opgehou nie. Dit gaan steeds voort, en ons sal sien hoe dit verder momentum gaan optel soos wat die verkiesing nader kom. En natuurlik: Trump self misbruik Twitter as sy persoonlike seepkis om aanvalle op die hoofstroommedia te loods en hul geloofwaardigheid totaal onder verdenking te plaas terwyl hy self sy dermiljoene volgelinge vals nuus voer. En hulle natuurlik gretige ontvangers daarvan is, want dis wat hulle graag wil glo.

“Gehalte bly ’n sentrale vraagstuk in die joernalistiek en behoort op alle platforms gehandhaaf te word (sien Meyer 2010:223; Abrahamson 2010).”

In die artikel verwys die navorsers telkens na “gehaltenuus” – hoe sou jy gehaltenuus in vandag se tyd definieer? Hoe haalbaar is gehaltenuus in Suid-Afrika?

Dis van oorlewingsbelang vir die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia om oor hul gehalte te waak. Die enigste handelsmiddel waarmee joernalistiek handel dryf, is geloofwaardigheid. As jy jou geloofwaardigheid verloor het, het jy niks meer oor nie. En natuurlik is die nakoming van gehaltebeheer oor die nuusvloei een van die maniere om seker te maak jou geloofwaardigheid word nie aangetas nie. Paradoksaal is die nuusmedia juis een van die slagoffers van die digitale revolusie, en terwyl gehalte-inligting nodiger is as ooit, word nuuskantore al hoe kleiner. Nou is daar boonop die dubbele opstopper: die gevolge van die digitale revolusie wat sirkulasies en advertensie-inkomste op ’n glybaan laat beland het, plus die gevolge van die COVID-19-pandemie wat die ekonomie tot stilstand gebring het. Maar juis daarom: Ons moet daarteen waak om met sosiale-media-platforms te probeer kompeteer wat spesialiseer in sensasienuus en spookasem-oomblikke. Ons moenie in die valstrik beland deur byvoorbeeld alarmistiese (of sensasionele, of sexy) opskrifte te skryf net om die kliks te kry nie. Daarmee maak ons ons nuus goedkoop en oppervlakkig. Klikaasjoernalistiek is hoofstroommedia nie waardig nie. Ek is ook seker daar is nog genoeg teikenmarkte wat ernstige, soliede nuus en meningstukke met gravitas wil sien wat vir hulle gefokuste produkte skep waarop hulle kan inteken. Want: Daar is ook nie so iets soos gratis nuus nie. Jy kry nie gratis behandeling by jou dokter nie, en jy kan nie by die winkel uitstap met gratis kruideniersware nie. Net so moet ons publiek besef nuusversameling en -aanbieding is nie iets wat gratis kan wees nie. Buitendien: As iets verniet is, is jy die produk.

Wat is jou opinie oor sensasiegedrewe nuus, onder andere “klikaas”-opskrifte? Alhoewel die berig self dalk nie fopnuus is nie, is die opskrif of berig op so ’n manier geskryf dat dit oordrewe is of vrees ontlok – is dit eties?

Klikaas-opskrifte het natuurlik die doel om die leser te “vang” om op die berig te klik, en dan tel dit as ’n lees, al klik jy weer uit. Aan die een kant verstaan ’n mens dat unieke lesers letterlik tel, maar aan die ander kant moet nuuskantore waak daarteen om hulself goedkoop te maak. Natuurlik kan ’n mens lekker opskrifte skryf met kreatiewe woordspelings. Die idee is nie dat nuus droog moet wees nie. Allermins. Speel met taal en al haar moontlikhede. Maar moenie die nuus of jou handelsmerk verkoop vir ’n pot lensiesop nie. Natuurlik moet die opskrif eties gesproke die inhoud weerspieël, anders is dit oneerlike joernalistiek en bedrieg jy die leser. Dus: Daar moet weer gedink word oor klikaas-opskrifte. Die sous is dalk nie die kool werd nie.

Watter praktiese riglyne is daar vir mense om vas te stel of nuus waar is of nie? Hoe identifiseer ’n mens fopnuus?

Eerstens: Hoe geloofwaardig is die storie? Is dit moontlik dat so iets kon gebeur het? Ja, natuurlik is feite soms vreemder as fiksie, maar sorg maar dat jy wát dit ook al is, met die nodige knippie sout neem. Dan, tweedens: Kyk na die bron. Is dit ’n geloofwaardige bron? Is dit ’n bekende hoofstroomhandelsmerk, waarvan jy weet dat dit geloofwaardig is? Maak seker dit lyk nie dalk net soos een nie, want daar is baie maniere om ’n berig te laat lyk asof dit van ’n bekende hoofstroommediahandelsmerk kom, net deur die logo effens te verander, dieselfde kleure te gebruik, ens. Derdens: Op watter platform het jy dit ontvang? Wie het dit vir jou aangestuur? En laastens: Jy moet weet dat jou digitale voetspoor van jou ’n geteikende ontvanger maak van dít waarop jy normaalweg kliek. Die algoritme-Big Brother gaan vir jou voortaan daardie soort inligting “voer”, en dan beland jy in ’n eggokamer, of borrel, waar jy eintlik gebreinspoel word dat dít eintlik is hoe die heelal is en werk. En dit kan natuurlik alles gemanipuleerde inligting wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top