Moet ons bang wees vir vals nuus?

  • 2

Swede, van alle plekke. Dat daar ’n terreuraanval sou wees, is sekerlik ’n groot verrassing vir mense regoor die wêreld. Veral vir die Swede self. Want, het woordvoerders uit Stockholm laat weet, president Donald Trump se onlangse verwysing in ’n toespraak na ’n aanval wat skynbaar die vorige dag in hul land sou plaasgevind het, is die heel eerste nuus wat hulle daaroor verneem.

Julle laat nie die feite in die pad van ’n goeie storie staan nie, word joernaliste dikwels gespot. Maar die feite staan skynbaar ook nie meer in die pad van ’n goeie opswepende toespraak nie. En Trump het homself reeds bewys as iemand wat eerder sy volgelinge se emosies wil gaande maak as om hulle met feite te oortuig.

Welkom in die “postwaarheid” era. Dit is die toestand wat verlede jaar aan die Oxford-woordeboek sy Woord van die Jaar gegee het, en beskryf is as ’n byvoeglike naamwoord “verbandhoudend met of denoterend van omstandighede waarin objektiewe feite minder invloedryk is in die vorming van openbare mening as appèlle tot emosie of persoonlike geloof”.

Dit is laasgenoemde appèl tot emosie of persoonlike geloof, ten koste van geverifieerde feite, wat ’n mens nie alleen by Trump sien nie, maar ook by sy personeel. Sy perssekretaris Sean Spicer het reeds in Januarie lekker spekgeskiet oor die grootte van die gehoor by Trump se inhuldiging, en toe hy uitgevang word, het sy kollega Kellyanne Conway tot sy redding probeer kom deur ’n ander neologisme in te span: volgens haar het Spicer nie gelieg nie, net “alternatiewe feite” voorgehou.

Hiermee hang saam die verskynsel van “vals nuus” (in Engels “fake news”, of in Nederlands die mooi allitererende “nepnieuws”) wat ook Trump se veldtog gekenmerk het. Allerlei leuens oor sy teenstander Hillary Clinton is versprei deur verregse mediaplatforms, in ’n poging om – nes die kraking van haar e-posse – haar kanse op die presidentskap in die wiele te ry. Ironies genoeg het Trump self ook al die term “vals nuus” gebruik om CNN se bewerings oor sy gekonkel met Rusland te verwerp.

Die probleem strek verder as Amerika: ook hier te lande sirkuleer daar dikwels nuusberigte oor verregaande verskynsels, sommige op die oog af onwaar (krokodille ontsnap tydens vloede in Johannesburg!) en ander gebaseer op werklike gebeure, maar met ’n onwaar stertjie bygelas (soos biskop Tutu wat sy stryd teen siekte sou verloor het, of ’n studente-aktivis wat in aanhouding gesterf het).

Heelwat ernstiger as hierdie sogenaamde kliek-aas (“clickbait”) is die bewerings wat onlangs in hofstukke gemaak is dat die ANC ’n geheime “oorlogskamer” bedryf het in die aanloop tot verlede jaar se munisipale verkiesings. Na bewering is daar vervalste verkiesingsplakkate gedruk om die EFF te ondermyn, ’n netwerk van twieters opgestel om sekere onderwerpe op sosiale media te bevorder en is ’n webtuiste vir vals nuus, The New South African, gestig om die ANC se lof te besing. Honderde vals Twitter-rekeninge is ook na bewering geskep om kritici van die Guptas die mond te snoer deur hulle uit te kryt as verteenwoordigers van “wit monopolistiese kapitaal”. Hierdie bewerings volg op die propaganda oor ’n kwansuise geheime wegbreek-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat aan die Sunday Times gevoer is en wat die koerant se reputasie, asook die loopbane van beswadderde werknemers by die SAID (SARS), onberekenbare skade aangedoen het.

Is die vrese vir “vals nuus” in ’n “postwaarheid” era slegs ’n sogenaamde morele paniek, in die sosioloog Stanley Cohen se terme, die proses waarvolgens groot groepe mense angstig raak (gewoonlik juis aangesweep deur die media) oor ’n bepaalde verskynsel wat gesien word as ’n bedreiging vir gevestigde sosiale norme en waardes? Of is dit werklik die begin van die einde vir tradisionele joernalistiek, en gaan ons dalk uiteindelik ’n postmoderne era binne waar nie net “groot narratiewe” ongeldig gemaak word nie, maar ons in ons alledaagse leefwêreld ook nie meer gaan weet wat waar of wolhaar is nie?

Hoe bang moet ons werklik wees vir vals nuus?

Dit sal moontlik help om eers ’n paar terme op te klaar. Danksy die Oxford, soos hier bo genoem, weet ons reeds wat bedoel word met ’n postwaarheid era. Maar hoe hou die verskynsel van vals nuus verband met ander joernalistieke begrippe soos “objektiwiteit”, “opinie” en “inligting”?

Die eerste vraag om te vra is dié oor bedoeling. Hoewel joernaliste dikwels foute begaan, onakkuraat kan berig of in die belang van sensasie kan oordryf, doen hulle dit gewoonlik onwetend, of uit versuim. Die makers van vals nuus smee hul produk egter doelbewus om die leser te mislei deur die formaat en aanbieding van hul berig te laat lyk soos die ware Jakob, maar die “feite” uit hul duim te suig. Soms is die dryfkrag hieragter gewoon kommersieel, om lesers te lok ten einde advertensie-inkomste te verdien gebaseer op die getal klieks op hul webtuiste. Ander kere is die motivering egter meer sinister, soos die politieke beweegredes agter die beweerde “oorlogskamer” van die ANC.

Ter sprake hier is dus nie of ’n joernalis ’n sekere standpunt huldig, nie “objektief” (’n hoogs problematiese term, in elk geval) of gebalanseerd berig nie. Ook nie of ’n joernalis sy/haar eie mening in ’n opiniestuk uiteensit nie. Daar is verskeie tipes joernalistiek in wisselende grade van waardevryheid – in sommige joernalistieke tradisies is dit byvoorbeeld heel aanvaarbaar om ’n bepaalde politieke party te ondersteun en word dit op deursigtige wyse gedoen. Ander joernaliste (byvoorbeeld rubriekskrywers) loop juis te koop met hul menings en opinies, wat weer nie heeltemal dieselfde is as byvoorbeeld ’n grondige politieke ontleding wat uitloop op ’n sterk standpuntinname nie. Die sogenaamde Rashomon-effek in joernalistiek (genoem na die Japanse regisseur Akira Kurosawa se film) het te doen met hoe verskillende mense uiteenlopende interpretasies van dieselfde gebeure kan hê. Dit is juis die argument wat ten grondslag lê aan pogings om groter diversiteit in die medialandskap te weeg te bring. Suid-Afrika, as ’n land met van die mees gekonsentreerde mediamarkte in die wêreld, het hopeloos te min mediadiversiteit. Dit is dus in die belang van die waarheid om soveel moontlik verskillende beskouings oor gemeenskaplike feite te laat sirkuleer. In vals nuus is dit egter nie soseer die interpretasies of opinies wat ter sprake is nie, maar juis die feite self wat versin word of geïgnoreer word.

’n Verdere onderskeid is nodig. Feite is nie dieselfde as die waarheid nie. Feite kry slegs binne ’n bepaalde konteks betekenis, ’n diskoers wat dit omvou, en as sulks kan feite moontlik wel korrek en verifieerbaar wees, maar binne ’n misleidende of irrelevante konteks aangebied word. Dit is ook belangrik om te oorweeg watter feite geselekteer en aangebied word in beriggewing. As daar oor ’n diensleweringsprotes berig word, kan die joernalis kies om te fokus op die brandende bande wat die pad versper en sy/haar gehoor aanbeveel om ’n ander roete werk toe te kies. Alternatiewelik kan die joernalis eerder kies om met die protesterendes te gaan praat om te hoor wat hul griewe is en hoekom hulle so kwaad is. Die brandende bande is ’n onbetwisbare feit, maar die perspektief wat gekies word, gaan bepaal of die gebeure in die eerste plek gesien gaan word as ’n daad van vandalisme en ontwrigting, of as ’n legitieme meningsuiting binne ’n disfunksionele demokrasie.

Waar kom vals nuus vandaan, en hoekom is dit juis nou ’n probleem?

Een van die redes hoekom ons in die afgelope tyd ’n skerp toename in vals nuus opmerk, het waarskynlik te doen met ’n veranderde media-ekologie. Hoofstroommedia – veral die gedrukte media – se invloed het wêreldwyd aansienlik gekwyn namate die gewildheid en invloed van aanlyn media gestyg het. Hoewel televisie en radio in Afrika nog die gewildste mediums is, is daar ook hier oor die laaste jare aansienlik besnoei aan ondersoekende joernalistiek. Gepaardgaande hiermee het tegnologie sodanig ontwikkel dat dit baie makliker is vir enigeen om inligting te skep en op sosiale media te versprei. Een van die gevolge hiervan is dat die internet oorspoel word met menings, opiniestukke, ontledings en uitbarstings, terwyl daar al minder beleggings gemaak word in gehaltejoernalistiek. (Hoeveel Suid-Afrikaanse mediamaatskappye het byvoorbeeld nog korrespondente in ander Afrikalande?) Desondanks het van die belangrikste nuusontledings van die afgelope paar jaar juis op aanlyn tuistes soos Daily Maverick en Groundup verskyn, dus moet die skuld nie aan die internet-platform self gegee word nie. Die probleem is eerder dat baie webtuistes korttermyngewildheid najaag deur klieks en delery (“shares”) alleen as aanduiding van gehalte te beskou. Die gevolg is dikwels die erosie van goeie joernalistiek en die kweek van ’n teelaarde vir kliek-aas en vals nuus om pos te vat.

“n Belangrike aspek van hierdie nuwe nuusekologie is die deel-ekonomie – ’n kommersiële nuusomgewing waarin lesers aangemoedig word om aanlyn poste aan te stuur of op hul sosialemedia-tydlyne te plaas – in ’n poging om die reikwydte van stories te verbreed. Stories wat “viraal” word, is goeie nuus vir redakteurs en eienaars van webtuistes binne hierdie nuwe omgewing. Dit gee ook groter agentskap aan lesers, aangesien hulle tot ’n mate dus medeskeppers en medekurators van nuus word. Die skadukant van hierdie proses is egter dat dit juis niksvermoedende lesers is wat vals nuus verder versprei en wat dit so moeilik maak om die golf van vals nuus te keer.

“n Politieke neweproduk van hierdie proses is die sogenaamde filterborrels (“filter bubbles”) wat aanlyn geskep is. Omdat gebruikers van sosiale netwerke geneig is om die stories uit te filter waarmee hulle nie saamstem nie, en deur die argitektuur van sosiale media aangemoedig word om dit te doen (bv op ’n “hou van”-ikoon te kliek, of “vriende” met dieselfde agtergrond en belangstellings aan jou voor te stel), word ’n nuusomgewing en denkwêreld geskep waar mense slegs dit hóéf te hoor wat hulle graag wíl hoor. Skeppers van vals nuus kan dus hul stories inklee op ’n manier wat bevestiging sal bied vir mense se fassinasies, vooroordele of behoefte om te skinder, en kan daarop reken dat gebruikers heel gewillig sal wees om dit verder te versprei.

Is vals nuus ’n nuwe verskynsel?

Van die beginsels onderliggend aan vals nuus se sukses is nie veel anders as dié wat hoofstroomnuus ook aandryf nie. Alle joernalistiek is gebaseer op ’n proses van seleksie, inkleding en aanbieding met die oog daarop om aansluiting te vind by die skrywers se gehoor se belangstellings, vrese en behoeftes. Wanneer sekere feite verhul of verdraai word in ’n poging om politiese of kommersiële belange te dien, het ’n mens te make met werk wat sigself êrens op die spektrum tussen swak en onetiese joernalistiek bevind. Wanneer “feite” egter gewoon versin word, is ons op die terrein van vals nuus.

Vals nuus is iets heel anders as die satiriese nuus wat die afgelope dekade of wat baie gewild geword het. Een van die eerste en bekendste voorbeelde hiervan was die koerantjie The Onion en Jon Stewart se Daily Show. Vele ander, van The Colbert Report tot ons eie ZANews, het in hierdie kielsog gevolg, insluitende ook parodierekeninge op Twitter. In Afrika, waar ’n groot proporsie van die media deur die staat besit word, is die idee van ’n “postwaarheid” era dalk nie so ’n nuutjie nie. Dink maar aan die Inligtingskandaal uit die apartheidsera, toe die Nasionale Party-regering in die geheim The Citizen van stapel gestuur het om sy propagandaveldtog te voer. In verskeie ander lande op die vasteland gee regerings se onderdrukking van persvryheid of die onvermoë van hoofstroomjoernalistiek om regerings tot verantwoording te roep, steeds aanleiding tot die totstandkoming van satiriese nuus, soos die poppespel Redykyulass op Keniaanse televisie of die Facebook-persona Baba Jukwa wat in Zimbabwe die spot dryf met Mugabe. Dit kan gesien word as deel van ’n sosiale werklikheid in baie Afrikalande waar die nuus op die straat – die ‘sypaadjieradio’ oftewel radio trottoir in die historikus Stephen Ellis se terme – dikwels as meer gesaghebbend en veral meer relevant tot mense se ervaringswereld is as die amptelike of hoofstroomnuus’. Die verskil tussen hierdie satire en vals nuus is dat satire juis daarop gemik is om ons te help om die nuus beter te verstaan, of die tekortkominge van die joernalistiek self uit te lig en bespotlik te maak, of om nuwe perspektiewe op die nuus na vore te bring. Vals nuus wil eerder die werklikheid verdraai of verdoesel deur nuusgebruikers doelbewus op ’n dwaalspoor te lei.

Wat is die oplossing?

Aangesien gewone mediagebruikers in die nuwe media-ekologie ook medeskeppers, medekurators en medeverspreiders van nuus is, moet hulle ook verantwoordelikheid neem om die verspreiding van vals nuus aan te help. Mediagebruikers moet hulself vergewis van die belangrikste valsnuus-webwerwe (daar is verskeie lyste op die internet beskikbaar met name van sulke webtuistes), en leer om vals nuus raak te sien. Klink die berig te goed, te snaaks of te sensasioneel om waar te wees? Dan is die kans goed dat dit is. Gebruikers moet ook self navorsing doen oor die naam waaronder die berig verskyn: Is dit ’n bekende joernalis of skrywer, of ’n onbekende naam? Hoe lyk die webtuiste – professioneel, met gesaghebbende bronne en personeel? Watter adverteerders vereenselwig hulle met die webtuiste? Kan jy die berig verifieer deur ander, gesaghebbende bronne soos openbare uitsaaiers of belangrike hoofstroompublikasies te raadpleeg?

In hierdie omgewing is goeie, ondersoekende en kritiese joernalistiek dalk belangriker as ooit vantevore. Joernaliste en nuusplatforms sal onkreukbaar moet omgaan met feite, media-etiek baie ernstig moet opneem en ’n goeie verhouding met hul bronne en hul gehore moet bly kweek en jaloers bewaar. Maar dit kos geld om die kaf van die koring te skei. Finansiële steun en beleggings – deur maatskappye, burgerlike organisasies en die publiek self – sal al hoe belangriker word om seker te maak dat gesaghebbende joernalistiek volhoubaar is.

Maar dalk selfs belangriker nog as om seker te maak alles moontlik word gedoen om ware feite in die openbare domein te kry en daar te hou, is om daardie feite ook aan te bied op ’n manier wat met mense se ervarings resoneer. In hierdie opsig is die kritiek dat vals nuus juis nou in Amerika posgevat het omdat baie mense voel daar word nie na hulle geluister nie, dalk nie vergesog nie. In ons eie land het navorsing ook getoon dat baie burgers – veral die armes, sosiaal gemarginaliseerdes en jongmense – nie voel dat die media regtig hul bekommernisse, ervarings en vrese verwoord of na hulle luister nie. Te veel van die nuus het nog betrekking op ’n ekonomiese elite, of is ’n tipe stenografie uit die parlement, die raadsaal of die sakekamer, wat nie resoneer met baie mense se ervarings nie, of waarvan die relevansie vir hul lewens nie altyd duidelik genoeg gemaak word nie. Goeie joernalistiek berus op feite, maar feite alleen is nie genoeg nie. Vir joernalistiek om as die waarheid gesien en ervaar te word, sal gehore moet voel dat daar na hulle geluister word, dat hul perspektief op gebeure geldig en belangrik is. Daarom moet feite in ’n relevant konteks geplaas word, uitgepluis word, en gesien word vanuit die oogpunt van diegene wat te dikwels buite die rande van die nuus beweeg. Daarom dat joernalistiekopleiding nie net tegnies van aard moet wees nie, maar die verbeelding moet stimuleer en studente se blootstelling aan verskillende werklikhede moet verbreed.

Die eertydse redakteur van die Britse koerant The Guardian, CP Scott, het reeds in 1921 dié bekende stelling gemaak: “Comment is free, but facts are sacred.” In die sogenaamde postwaarheid era sal goeie joernalistiek steeds feite as heilig moet beskou om uit te styg bo die droesem van vals nuus. Maar feite alleen is nie genoeg nie. Net die waarheid, en niks minder as die waarheid nie, sal deug.

  • Herman Wasserman is professor van Mediastudies en direkteur van die Sentrum vir Film- en Mediastudies aan die Universiteit Kaapstad.
  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    As Russiese xenophobia (Russophobia) weg is uit die Nazi geo-politieke model, waaroor gaan hoofstroom media spekuleer teen die Wêreldkontinent? Sou die wêreld ontslae raak van die Nazi geo-politieke denkmodel, wat sal hul verwysingsraamwerk anders as Xenophobia wees, want die Weste is gebaseer in Xenokrasie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top