Elma de Vries is die kliniese bestuurder van ’n 200-bed-veldhospitaal wat op kort kennisgewing geopen is om COVID-19-pasiënte te behandel. Lees die volledige persverklaring hier.
Jy is betrokke by ’n veldhospitaal wat 200 pasiënte kan bedien wat positief getoets is vir COVID-19 en sorg nodig het. Dit is binne twee weke opgerig. Hoekom was dit nodig om skielik so ’n hospitaal oop te maak?
Die tweede golf van COVID-19 het tot gevolg dat die aantal mense wat hospitaalsorg benodig, so toegeneem het dat die hospitale uit hulle nate bars. Die groot getalle COVID-19-pasiënte in noodeenhede in hospitale dra daartoe by dat pasiënte langer wag vir ’n bed in ’n saal. Die leierskap in die Gesondheidsdepartement het besef dat dit nodig is om meer beddens beskikbaar te stel om voorsiening te maak vir die groot getalle pasiënte wat hospitaaltoelating en suurstof benodig.
Baie mense kry Covid en moet dan ’n paar dae lank by die huis bly. Hoekom het julle dan soveel hospitaalbeddens nodig?
Dis ’n vreemde virus hierdie. Met gewone griep sal net 1–2% mense hospitaaltoelating benodig, so 98% kan tuis aansterk. Met COVID-19 is dit anders, met omtrent 14% wat ernstig siek word en tot 5% wat krities siek word en intensiewe sorg mag benodig.
Die Wes-Kaapse regering bedryf ook die Brackengate Hospital of Hope as veldhospitaal – wat steeds oop is sedert die eerste golf. Hoe verskil die sorg wat julle en ander veldhospitale kan verleen van dit wat in intensiewesorgeenhede, soos by Groote Schuur of Tygerberg of in die privaat hospitale, kan verskaf?
Die meeste pasiënte wat baie siek word met COVID-19, kan in ’n gewone mediese saal behandel word met suurstof. Dit is net ’n klein persentasie wat intensiewe sorg benodig. Vir intensiewe sorg is baie menslike hulpbronne nodig, veral verpleegpersoneel wat opgelei is in intensiewe sorg. Die verpleegster-tot-pasiënt-verhouding in intensiewe sorg is baie anders as in ’n gewone saal of ’n veldhospitaal. Met COVID-19-longontsteking is behandeling op ’n ventilator nie altyd effektief nie, en is hoë-vloei- nasale suurstof dikwels die beste behandeling. Veldhospitale kan hoë-vloei-nasalesuurstofbehandeling toedien, maar nie behandeling op ’n ventilator nie. Die voordeel van hoë-vloei- nasale suurstof is dat pasiënte wakker is en self kan eet terwyl hulle suurstof ontvang, terwyl iemand op ’n ventilator totaal afhanklik is van verpleegsorg.
Kom ons kyk na die term veldhospitaal. Dit is gewoonlik ’n militêre term vir ’n hospitaal wat op kort kennisgewing op enige plek opgerig kan word. In vredestye het die term na ’n tydelike, gespesialiseerde hospitaal begin verwys wat vir ’n kort tydperk hulp verleen. Is ek reg?
Korrek.
Die privaat hospitale is ook vol. Is ek reg?
Korrek. Beide publieke en privaat hospitale kry baie swaar op die oomblik met groot getalle COVID-19-pasiënte en ander noodgevalle wat nie COVID-19-verwant is nie.
Jy is ’n spesialis in huisartskunde, of dan family medicine in Engels. Hoe verskil jou werk in ’n hospitaal van dié van iemand wat in longe spesialiseer (’n pulmonoloog) of iemand wat in byvoorbeeld interne geneeskunde spesialiseer en dan ’n intensiewesorgeenheid bedryf?
Huisartse word opgelei om enigiemand te behandel, ongeag hoe jonk of oud hulle is, of watter orgaansisteem aangetas is. Deesdae is palliatiewe sorg ook deel van ons opleiding (sorg vir mense met lewensbedreigende siektes). Dit sluit sorg aan die einde van mense se lewens in. Spesialiste word opgelei in ’n spesifieke veld; dus fokus ’n pulmonoloog byvoorbeeld op longsiektes. Die COVID-19-pasiënte wat ons in die hospitaal behandel, het dikwels multimorbiditeit, met ander woorde verskeie gesondheidsprobleme. ’n Voorbeeld is iemand wat op behandeling is vir MIV, diabetes, hartversaking en depressie. En nou nog ’n COVID-19-longontsteking daarby. ’n Pulmonoloog of intensivis sal baie goed na die longontsteking kan kyk, maar dalk hulp van ander spesialiste inroep, byvoorbeeld ’n infeksiesiektespesialis vir die MIV of ’n psigiater vir die depressie, terwyl ’n huisarts ’n holistiese benadering volg en aan al die aspekte aandag gee, insluitend kommunikasie met die pasiënt se familie. Ek het groot waardering vir spesialiskollegas en vind dat ons in die pandemie selfs beter saamwerk as voorheen.
Julle en Brackengate gebruik die logo van die Hospitaal van Hoop wat tydens die eerste golf in die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) bedryf is. KIKS was ’n simboliese ruimte om die staat se toewyding te bewys, maar is ek reg dat jou span besig is om bestaande infrastruktuur sodanig te modifiseer dat dit uiteindelik, in ’n post-Covid wêreld, weer gebruik kan word deur die staat se hospitaaldienste?
Ja, ons word ook nou ’n Hospitaal van Hoop genoem. Dit is baie meer effektief op lang termyn om bestaande infrastruktuur te benut, en dit is deel van die Wes-Kaapse regering se nalatenskap na COVID-19. Die sale van Aquarius Intermediêre Sorg by Lentegeur kon vinnig ingerig word as ’n veldhospitaal. Die infrastruktuur-aanpassings was hoofsaaklik suurstofpunte, ’n groot suurstoftenk asook ruimtes vir die personeel om beskermende klere aan- en uit te trek (in Engels bekend as donning en doffing). Wanneer die tweede golf verby is, is die infrastruktuur steeds daar vir voortgesette gebruik deur die Gesondheidsdepartement. Die bestuur van Aquarius Intermediêre Sorg het ’n groot rol gespeel om dit moontlik te maak om binne nege werksdae ’n veldhospitaal gereed te kry.
Dokters sonder Grense, of dan Médecins Sans Frontières (MSF), rig dikwels veldhospitale op. Ek dink aan hulle werk in oorlogsones, ook meer onlangs met die Ebola-uitbraak hier in Afrika. Is MSF betrokke by Covid?
Ons is baie dankbaar vir die hulp van MSF. Met die eerste COVID-19-golf het MSF ’n veldhospitaal in Khayelitsha bedryf. Toe die Khayelitsha-MSF-span in Desember hoor dat ons ’n nuwe veldhospitaal gaan oopmaak, het hulle personeel met COVID-19-ervaring beskikbaar gestel om te help. Die tegniese ondersteuning sowel as die menslike hulpbronne het ’n groot verskil gemaak.
Jy was die eerste voorsitter van MSF in Suid-Afrika, maar dis lank terug?
MSF het in 2007 ’n Suid-Afrikaanse tak gestig. Ek is genooi om betrokke te raak, omdat ek deel was van RuDASA (Rural Doctors of Southern Africa) wat aktiviste is vir beter gesondheidsorg in die platteland. Tot my groot verbasing is ek as voorsitter verkies, en is toe later opgevolg deur Hermann Reuter, wat bekend geword het as die dokter wat in Lusikisiki bewys het dat mense in die platteland antiretrovirale middels verantwoordelik kan gebruik. Dit was die dae van ’n stryd teen ’n ander virus as hierdie een. MSF raak betrokke waar die nood groot is; een van my MSF-kollegas by die veldhospitaal is beskryf as ’n “tornado chaser”.
Jy was met vakansie in KwaZulu-Natal toe jy hoor dat jy aangestel is as die kliniese bestuurder van die nuwe veldhospitaal. Daarna het dinge vinnig gebeur, deels omdat jy baie steun van die provinsiale regering gekry het. Hoe het julle binne dae mense, trollies, suurstof, druppe, naalde, doeke, kos ... en nog baie meer bymekaargekry?
Dit was ’n groot spanpoging. Die span van Klipfontein Mitchells Plain-substruktuur wat die veldhospitaal moes begin, was verstom oor die ondersteuning van alle kante. ’n Hospitaal is ’n komplekse sisteem met baie komponente. Die bestuur van Aquarius Intermediêre Sorg het baie gehelp met die logistiek en menslikehulpbronbestuur, en hulle bestaande kombuispersoneel verskaf die kos vir pasiënte. Die provinsie se infrastruktuurspan, mediese-tegnologie-afdeling en laboratoriumdienste het almal hulle deel bygedra, en dit oor die feesseisoen! Mitchells Plain-hospitaal se apteek het gehelp om die nodige medikasie gereed te kry. Die mediese nooddienste het die veldhospitaal geregistreer as ’n ambulansbestemming op die stelsel, en verskaf die interfasiliteitvervoer vir pasiënte. Die bestuur van Brackengate Hospitaal van Hoop het ons ook baie gehelp, met beide raad en voorraad. Die span van Klipfontein Mitchells Plain-substruktuur is toegewyde mense wat regtig die ekstra myl geloop het oor die Kersnaweek en Nuwejaarsnaweek, om seker te maak alles is gereed om ons eerste pasiënte op 1 Januarie op te neem. Dit is mense met passie wat regtig die gemeenskap onselfsugtig dien. Die leierskap van die Gesondheidsdepartement het ons regtig ondersteun in die proses en is altyd beskikbaar om te luister en te help wanneer daar uitdagings is.
Julle het byvoorbeeld skale nodig. Hoekom? Daar is soveel goed waaraan ek nooit sou kon gedink het nie.
Omtrent 40% van die hospitaalpasiënte met COVID-19 het diabetes wat gewoonlik nie goed beheer is nie. Om insuliendosisse te bereken, help dit om te weet hoeveel die pasiënt weeg. Gelukkig kon ons van Aquarius Intermediêre Sorg se bestaande toerusting gebruik maak, soos beddens, drupstaanders, monitors en inderdaad ook ’n skaal.
Hoeveel personeel is betrokke by ’n 200-bed-hospitaal?
Dis moeilik om presies te sê – ons is steeds besig om personeel aan te stel sodat ons die volle 200 beddens kan bedryf. Behalwe verpleegsters, dokters, fisioterapeute, maatskaplike werkers en dieetkundiges het ons ook klerke, skoonmakers, stoorpersoneel, kombuispersoneel en portiere nodig. ’n Hospitaal is ’n komplekse sisteem, soos ek reeds gesê het, en elke kategorie van personeel vervul ’n noodsaaklike funksie.
Dokters, en jy is een, ly aan katastrofilie. Ek kry die idee dat talle van die jonger dokters in jou span besef dat hulle nooit weer ’n geleentheid soos hierdie sal kry nie en dus die ongelooflik lang ure met ’n mate van genoegdoening benader. Is ek reg?
Ja, party mense floreer as daar ’n katastrofe is. Dit laat ons nodig voel, dat ons ’n verskil kan maak. Van die jong dokters voel dat dit ’n geleentheid is om deel te wees van ’n historiese oomblik. Dit is bitter harde werk, maar soos ’n kollega onlangs gesê het na ’n uitputtende Kersnaweek: “Ek het ’n werk.” Ons het die voorreg om werksbevrediging te kry – meer as 80% van ons COVID-19-pasiënte word beter en gaan huis toe, terug na hulle families. Die glimlag van ’n pasiënt wat beter is, gee ons krag om aan te hou.
Ek hoor egter dat die jonger dokters baie swaar kry weens al die sterftes. Hoekom?
Veral interndokters in die hospitale kry baie swaar. Ons ouer dokters het al baie doodsertifikate ingevul oor die jare, maar vir die jong dokters is dit nuut. Die sterftesyfer op die oomblik is baie hoër as die gemiddelde voor die pandemie. Senior dokters verskaf wel steun aan die jonger dokters om hulle te help om te aanvaar dat dood deel is van die prentjie, dat ons nie altyd kan genees nie, maar altyd kan ondersteun. Dit is vir my die wonderlike ding van ’n palliatiewe-sorg-benadering, dat ons as gesondheidswerkers ’n verskil kan maak aan mense se laaste dae en ure, om daarna te strewe “to cure sometimes, to relieve often, to comfort always”.
Lees ook:
Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met medikus Helmuth Reuter
Kommentaar
Ongelooflik. Ek het een voorstel. Ons Predikante, Pastore en beraders word vergeet. Ons pedikante kry swaar. Nog nooit soveel begrafnisse in hulle lewe hanteer nie.
Wie kyk na hulle?