Die oorspronklike MI(SA) is saam met komponis Antoni Schonken in opdrag van NATi geskryf, en is in 2019 tydens die Toyota US Woordfees onder regie van Marthinus Basson saam met die Kaapstadse Operakoor en met Amanda Strydom as priester uitgevoer. ’n Korter gedeelte is tydens Poetry International se 2019-feesvieringe in Rotterdam onder leiding van Pieter Bezuidenhout uitgevoer. Die teks het intussen ’n eie pad geloop.
Antjie Krog het die volledige Afrikaanse teks en klankopnames waarin sy gedeeltes voorlees aan LitNet beskikbaar gestel.
..........
TEKSVERS: hoe kan ons die planeet versorg as ons nie mekaar versorg nie / hoe kan ons mekaar versorg as ons nie die planeet versorg nie?
asem … asem … asem … asem … asem … asem …
OPENINGSWOORDE
PRIESTER:
Wees gegroet in die naam van die Aarde
die liefde van die Son
en die gemeenskap van die Heilige Suurstof
Amen.
Kom, laat ons ons sondes bely:
GEMEENTE:
Ons bely dat ons uitermate sondig deur mekaar,
en die aarde wat ons onderhou, daagliks
te beskadig en te vernietig
deur wat ons doen
en versuim om te doen.
Skuld, ons dra skuld.
Ons dra almal groot skuld.
Wees ons genadig.
O Allesomvattende Aarde – wees ons arme stommerike genadig.
Amen
1. INTROITUS & MISERERE NOBIS
by watter naam roep ons die universum aan
anders as die on-ontslote naam God:
ek is God! roep die wintergras wat die vlaktes rypwit vlas
ek is God! roep die kindertjies wat sokkerballe deur die stowwe stuur
ek is God! roep die gesin langs die deinende rubberboot
ek is God! glans die plastiekbesmette see
heilig heilig heilig hef die heuwels hulle tulle-blou asems
en ons kniel voor die onuitspreekbare genade van Boomheid:
O Allerhoogste Bergheid, maak ons u gesante van Wolkheid
u proseliete van Herfs, u ab van Water
ons strek ons in aanbidding neer, O Somerappelkoosheid
ons lofprys die leefsuisende suurstofmantels van Sterlipsaligheid
SOL MISERERE NOBIS: Son, erbarm u (oor ons)
AQUA MISERERE NOBIS: Water, ontferm u (oor ons)
AER AMPLECTERE NOS: Suurstof, omhels ons
2. HOSANNA: SOL, LUNA, TERRA
O Son, O Moederster –
ruim skil van helium-verbranding
kernkrag inferno – kolossale reusin
pulserend as traag kloppende hart in u gasmantel:
U tril. U beef. U loei sonwind en gas.
U setel die sentrum.
O Maan, O silwerwit Begeleier –
geknie uit klodders
en beletsel deur geweld:
U stabiliseer die waggelende aarde
U getye troos die strande uit verwoesting
U liefkoos die ondermaanse met verstilde rus.
O Aarde, O Waterplaneet –
kastyblou-bonsend in ligte vingerafdrukke van wasem.
O prille Planeet uit tumultueuse begintye
titaniese skroot tref U in die flanke
en bring water, bring bakterieë …
U maak suurstof met groen groen Alge.
ARIA VIR DIE UNIVERSUM
ons liggaam walm die pokdalige Mercurius na
ons liggaam weer die vretende sonwind van Venus
op ons gewrigte pols ons die Aarde omhoog –
weergaloos haar majesteit
ons liggaam ploeg ysslibbende sulfurbevlekte stofstorms uit Mars
ons liggaam begin die blondbaardige twee maantjies meet
ons liggaam neem die enormiteit van Jupiter op sleeptou
die sirkulerende boos-rooi sweer die tros mane in romerige bane
slegs deur ons liggaam kan ons die vriesende beeldskone Saturnus
bemin – die stil geel kanteling die vertroetelde gevangenisskap van ringe
die hartnaas gladheid die uitgelate perfeksie
ons liggaam staar oogvingerend na die pêreloog van Uranus
outisties sink ons liggaam in die onweersblou Neptunus weg
ons hurk verwonderd: o welgeluksalig is ons
dat hierdie smal
benerige
erfsterflike liggaam
soveel oorvloed stemvurk
3. CREDO
BENEDICTUS QUI VENIT IN NOMINE CREATIONIS
(Geseënd is hy wat kom in die naam van die Skepping)
Ek glo in die enige God, die Almagtige Son, G2V, Moederster en Skepper van ons planeet en sy ellips;
En in die Aarde, haar enig lewegewende Seun, onse Allerhere
Wat gebore is uit die Maagd Water en gestabiliseer is deur die Heilige Maan
Wat ly onder homo sapiens, besoedel, vernietig en vermoor word;
Maar wat sal opstaan uit die dodende selfsug,
Sal kantel, steier en die mens van sig afskud
En voortleef met wat glip in ekostelsels.
Ek glo in Heilige Suurstof.
Ek glo aan Heilige Sianobakterieë, Fotosintese en die Gemeenskap van Bome,
Die almag van Water,
Die seëviering van die Son,
Die wederopstanding van die Planeet,
En ’n lewe van Ewige Omgee
Amen
4. GLORIA
GLORIA IN EXCELSIS SOLI: Ere aan die Son in die hoogste
ET IN TERRA VITA QUAE AERI PLACET: en lewe op aarde wat die atmosfeer behaag.
LAUDAMUS TE, SOL: Ons loof U, Son.
ADORAMUS TE, AQUA: Ons aanbid U, Water.
AMAMUS TE, TERRA: Ons bemin U, Aarde.
GLORIFICAMUS TE, OXYGENIUM: Ons verheerlik U, Suurstof.
Aardonyx celestae, Alikreukel, Akkedis
Bantu, Bradysourus, Boegoe, Blaasopvis
Chlorofil, Chromista, Cactoblastis, Codlingmot
Damara Dik-Dik, Diederikie, Dikkop
Ekostelsel, Eland, Eurasiese plaat
Fotosintese, Fitoplankton, Fynbos, Flagellaat
Gemsbok, Grieke, Gondwana, Galjoen
Homo habilis, Homo erectus, Naledi, Vermiljoen
iMpevu, Invertebrae, Iyengar, Ibis
Jakkals, Janfrederik, Jagluiperd, Jellievis
Khoi-San, Kraanvoël, Kelte, Korhaan
Lintwurm, Ligeen, Lystrosaurus, Likkewaan
Massospondylus, Mahem, Mesizto, Maraboe
Nqwebasaurus, Nimmersat, Njala, Ghnoe
Ouvolk, Oorbietjie, Orde Liliales, Orgidie
Plankton, mevrou Ples, Pêrelgryskop, Swie
umQaqoba, iQwane, umQwashu, Quito-mond
Ratel, Roerdomp, Rinkhals, Rot
Speg, Selakant, Shongololo, Saagvlerkswael
Sponse, Stekelkelp, Slymskimmel, Strandgarnaal
Tiptol, Tsetsevlieg, Troupant, Tarentaal
Taung-kind, Tamboekie, Trichopteraal
Uil, Uterus, Umuvi-wodaka
Vlakvark, Vleiland, Vredefort krater
Wielewaal, Wespes, Wulk, Walvisbul
/Xam, umGxina, Xerofiet, Xantofil
Ysterkruid, Ystydperk, Yi Yao, Ystervark
Zoeloelipvis, umZane, Zebra, Zambezi-karp
ADORAMUS TE
GLORIFICAMUS TE
5. SANCTUS
Heilig, heilig, heilig.
Hosanna aan die Bome.
SANCTUS umBaba – heilige Kastaiingboom
SANCTUS umGuza – heilige Broodboom
SANCTUS isiKhoba – heilige Geelhoutboomwoud
SANCTUS umKhangele – heilige Kiaat
O Bosbakermat
die nerfste Asemwende van Woude
verby mirte, verby varingverGroende Groendeurglansdheid
Ere aan die suis van stomata, eerste lig en verste Alge
SANCTUS umSintsi – heilige Koraalboom
SANCTUS umuNga – heilige Soetdoring
SANCTUS umNgcunube – heilige Wilgerboom
SANCTUS umNimbithi – heilige Stinkhoutboom
Hosanna aan die Bome wat alle Asem tolk
Hosanna aan hulle los gewrigte van twye
hulle ligladende skouerblaaie van takke
SANCTUS umNquma – heilige Olienhoutboom
SANCTUS isiQwane – heilige Boekenhout
SANCTUS umQaqoba – heilige Pendoring
SANCTUS umQokolo – heilige Keiappelboom
Ere die Groen-omborrelende geluid van vinkvagte
Ere die suurstofjambes vrygelok en kernverGroend
O kyk hosanna, hoe galm die Onsienlike orent:
SANCTUS umSenge – heilige Kiepersol
SANCTUS umThombe – heilige Wildevyeboom
SANCTUS umVumvu – heilige Stinkhoutboom
SANCTUS umThombothi – heilige Tambotie
6. DIES IRAE
Dies iræ, dies illa,
dies tribulationis et angustiæ,
dies calamitatis et miseriæ,
dies tenebrarum et caliginis,
dies nebulæ et turbinis …
Dit is die dag van wraak
die dag van vergelding en angs
die dag van rampspoed en ellende
die dag van duisternis en wraak
die dag van aardbewings en orkane
die dag van virus en alarm maak
Dit is die dag van wraak.
1.
terwyl sy haar beursie toezip
dobber sy skaduwee links van haar hand
terwyl sy uit die parkeerplek tru
klop hy aan haar venster
terwyl sy kafee toe stap
roer hy onder ’n karton
terwyl sy haar rose snoei
kom vra hy water
terwyl sy die skottelgoedwasser pak
staan hy by die hek
hy soek ou klere, leë bottels
geld vir ’n taxi, geld vir ’n begrafnis
geld vir sy kinders, geld vir sy ma
terwyl sy slaap, skrop hy in die vullisdromme
terwyl sy koffie maak
skyt hy op die trappe tussen Buxton en Rosmead
terwyl sy gaan stap
kom hy tussen die suikerbosse orent met ’n mes
sal sy weer hangers koop of draaddiertjies van die Senegalese
of sal sy gewoon vir die seuntjie gee met die verstopte neus
of die man met een been en nuwe aluminiumkrukke
of liewer op die volgende hoek
vir die ma met die kind in die uitlaatgasse
buite die supermark veg twee om die trollie te stoot
drie beduie hulle het haar kar opgepas en wag vir geld en kos
oor die telefoon kollekteer iemand vir die dowes
oor die pos kollekteer World Vision vir Mthetheleli
terwyl sy kos opskep, probeer sy dink: ysige water stoot deur die shack
voor die verwarmer onthou sy: hulle bondel saam op die enigste bed
in St George’s Mall lê hulle in swygsame rye dol van koue of honger of gom
in Canterburystraat staan hulle in moerige rye by die sopkombuis
in Robert Sobukwe rylaan slaan hulle haar ruit stukkend vir ’n selfoon en handsak
vanuit die uithoeke van die aarde
kom die armes na ons toe aan
hulle skreeu en wys vuis op die bergterrasse
hulle drom in die leegtes saam
en daar is niks te doen nie of hulle is met ons
en ons onvermoë om ’n eerbare lewe
in verhouding met hulle te lewe
elke keer wat mens nie gee nie
is mens minder
minder mens
2.
ons loop met ons ma ons loop al baie lank so ons
kyk nie op nie ons sien net die navyblou skoene hulle loop
vandag anders asof iemand anders hulle loop ons ma
praat sedert die vorige dag nie sy het gesit totdat die baba
ophou huil het vanoggend sit sy nog so asof sy die hele
nag nie haar oë geknip het nie toe tel sy die baba op
haar rug steek haar voete in haar skoene vat ons hand sonder
om dit te weet nou loop ons asof niks ’n einde het
ons wil water hê maar ons vra nie ons ma loop asof
sy in klip toegesluit is daar’s gruis onder ons voete ons ruik
roes ons ma gaan sit skielik op die spoor sy tel die
baba van haar rug af met die ander trek sy ons versigtig
op haar skoot ons sit saam in die wit son asof ons
uit een klip gemaak is ons gooi een skadu ons hoor iets
aankom die grond roer oor haar skouer sien ons
iets afpyl ons skeur ons wil weg sy gryp ons kyk terug
haar gesig ’n donker knoop teen ’n groot wissing
met krag ruk sy ons terug in haar skoot
3.
my bekken is ’n liedgetilte kneg van lig
nooit weer sal sonlig so onderdeur ’n bruggie bars
terwyl ’n swaan meteens onder kastaiingbome uitswem –
hals in glas gevuur om te dui presies waar kurf
openbaring se kraakwit majesteit
my binneste ruk deur die sublieme
4.
ons is die groot beminsame oë die vêrsiendheid
die slanke grasieuse genade van die kameelperd
ons is haar vuurgeveegde intiemgeometriese vel
ons is die sagsinnigheid op haar skedel ons is haar horinkies vlam
5.
dit sing sy-blink sing die rooigrasstingels boontoe
die pronkerige roesbruin sade
skitter met sprinkaantjies wat spat
dit ritsel dit lispel enkelruig dit knetter sy en sprietseine
ligvoets die rooigrasvoetpad die voel
hoe ratsfyn worteltjies splyt
en ademend staan mens in die eerste pol orent
ek bemin Themeda triandra soos ander mense God bemin
6.
Recordare – Ag! Onthou:
Praat oor die verlede: Nee!!! Nee! Nee, ek kan nie. Nee!!!
Praat oor die toekoms: Nee!!! Nee! Nee, ek kan nie. Nee!!!
Ah! Lacrimosa – geen kerse nie
die hele nag in die pikdonkerte
met die geluide van diarree
en die bang nat reuk van dood
my kleines my vyf kleines
god sal ek gee vir seep
hier is nie groente nie nie vrugte nie
haar mond vol sere ’n gapende stank
vannag val haar verhemelte in
tande en al hou sy so in haar hand
Praat oor die verlede: Nee!!! Nee! Nee, ek kan nie. Nee!!!
Praat oor die toekoms: Nee!!! Nee! Nee, ek kan nie. Nee!!!
Recordare – Ag! Onthou:
op 24 Oktober is my 17-jarige dogter Anna dood
’n dag later Magdalena, die vrou van my broer
twee dae later op 30 Oktober een van my dogters, Rykie
agt jaar oud – gevat deur die engel van die dood
my enigste kleindogter is dood op 20 Desember
en op 15 Januarie my 15-jarige dogter Aletta-lie
Ah! Lacrimosa: ‘my kind, my Nomzamo’s in die huis!’
ek staar haar aan
my kameraad
haar hare in vlamme
haar borskas ’n kaggel
die baba het ek op die gras neergesit
haar vel het aan my hande gebly
Recordare – Ag! Onthou:
hulle wou my aan die brand steek
my man het op die grond gaan lê
en ’n geluid gemaak
wat ek nog nooit uit ’n mens gehoor het nie
sedert daardie dag lewe ons ten dele
Ah! Lacrimosa: ek het hom vasgehou
hy was volkome verbrand
behalwe sy gesig
hy het sy mond oop en toe gemaak
soos ’n voël
toe verander die kleur van sy oë
Recordare – Ag! Onthou:
hulle sleep hom aan sy bene soos ’n hond
hulle skraap sy brein in ’n gat in die grond
hulle trap dit vas met hulle stewels
dit was helder oordag
en stikdonker
dit hou nooit op in my hart nie
dit kom altyd terug
dit vreet my uitmekaar
Sonnyboy, rus in vrede my kind
Praat oor die verlede: Nee!!! Nee! Nee, ek kan nie. Nee!!!
Praat oor nou: Nee!!! Nee! Nee, ek kan nie. Nee!!!
7.
die gesigte van woedende massas onthuts my
die gesigte van verhongerdes hou my in kruisverhoor
dit gaan my begrip vooraf dit eis geregtigheid dit onderbreek my
die gesigte word die voorportaal van my verwildering
hoe
hoe leef
hoe leef ek
hoe leef ek op ’n manier dat ek
haatdraende mans kan liefhê hoe?
die feit is: ek het hulle nie lief
nie – ek kan hulle gesigte skaars verduur
maar deur hulle nie lief te wil hê nie
vra: hoe waaragtig
durf ek dan sê is my liefde vir die aarde?
hoe
hoe leef
hoe leef ek
hoe leef ek asof die wredes, die hongeres, die woedendes
reeds ekself is dat hulle gesigte myne is
want die aarde lê as donker gebreekte skadu
omdat ons geen sinapses na mekaar maak nie
hoe
hoe leef
hoe leef ons volslae kosmies-helend?
8.
hoe asem mens te midde van al die geweld
doodmaak korrupsie verkragting die mens
se oop en uitsweer van haat in hierdie land
die skroei en skeur van kinders – onmenslik
die armoede die armoede die verontmensliking
daarvan die oumas met hulle pensioene
en flonkering kinders die falankse jeugdiges
verveeld en skurfvellig gevoed op verwronge tradisie
Korrupsie/hebsug/misbruik/fasades/koopsiek/agloosheid/praal/leuens/inkompetensie/magsiek/uit-buitery/hebsug/hebsug/die onvermoë om te deel/om om te gee/om om te gee
En so verstik ons die strande, vergiftig die riviere
skyt in die see, lê die aquifere droog
moor mekaar om in te breek in die gasvate
en die aardmantel se olieborrels leeg te suig
ons vat en vat en vat en vat en vat en vat en vat
vat en vat en vat en vat en vat en vat en vat
dit is die dag van wraak
die dag van vergelding en angs
die dag van rampspoed en ellende
die dag van duisternis en wraak
die dag van aardbewings en orkane
die dag van virus en alarm maak
dit is die dag van wraak.
ek kreun as die skuldige een
o kyk, my gesig bloos van skuld;
spaar die pleiteraar, O God, onse Son, onse liewe Aarde en Heilige Water,
spaar ons.
7. AGNI TERRAE
DIE LAMMERS VAN DIE AARDE
Aanskou die Wolke
vlaktes vol haelwit stapelende Wolke
die Cumulus – ’n weerlig-wit weldaad bloei leeg in die ondergaande son
dan duisel die makrielhemel
en nog later net die donker-pruim veeragtige veegsels Cirrus
en dan is dit nag
maar diep diep in die troposfeer galm die blomkoolwit
aambeeld-kop van ’n Cumulonimbus
o enig reëndraende
o gelatene wat opstengel in borshoë blouwit binnebloei
’n ligorgidie die godganse skemer
Aanskou die See
O die geruis van die metaalglinsterende see ver uit oor die baai
waar die eerste deining ’n moedswil word
’n golf uit die wiegende gestreepte water
rys op – deurskynend en glasdun groen – pralend
fynsproeiend na agter en juwelig van inbors
dan gee sy haar terughouendheid prys
sy stort! in ekstase snak sy vooroor
bars uiteen met opkralende spattende skuim
– sissende diftonge skiet sy na die wydope strand
o skulpskroot bruis om ons enkels
waar ons stukke plastiek optel
Aanskou die Berg
sy weier om haarself te berde te bring
sy het swaar stomende vlerke vandag
soos toe dit ’n duisend jaar gereën het
sy mopper in die mis sy lig vir ’n oomblik
haar karos dan blits daar seningwit
’n pasgebore waterval
die Berg gooi die wolkmantel van haar af
en staan eensklaps met klipnat kamaste
stralend soos ’n openbaring in die son
dan stapel sy haar stem in die volle toonhoogte van klip
en sing kopbeenwit die klipsuiwerste klanke van blind, van blou
die Berg duisel van geluk sy skud haar fynbosmatte uit in die son:
die blomme sluk lig – klikkend soos juwele
die silwerboom kamerjasse jaag sy oor na Leeukop
sy skrop haar noutes groen ryg snoertjies water in elke gleuf –
dan kyk sy op – roerloos uit oor die see
sy ry ons uit soos ’n storm
sy breek ons tot ’n bries
en as ons gaan lê, skil sy oor die baai
die dun spil van stilte – ’n duif gee dit asem
’n valk span roerloos die verre vlerkwydte
ons slaan ons oë op na die Berg
waar sal ons lyf vandaan kom?
ons lyf is van die Berg wat arms en hemel gemaak het
O Berg, is dit wyd hier?
so wyer as die wydste van water en wind?
is dit sag hier?
is dit groen hier
en immer blou?
in my ontbrand dit van liefde
kom dag! kom Berg!
ombloes met blou
kom maak my joue
raap my teen jou aan
ligsagte bondels
en blouborslug
vadems en vadems
en vadems van
Genieter van geweld, kyk hoe knars die Berg uit die blou –
kyk hoe boen sy haar stoep
kyk hoe was sy haar lateie
haar geute is groen haar drumpels staan in bloei:
geluk lek by haar borskliere in ...
– kom broers en susters, ons kan niks anders doen
as om op staande voet snyskoon en brulhelder
in haar op vaar.
8. LUX AETERNA
want dit is natuurlik ons versugting:
om tot insig te kom:
ek is die bedelaar
ek praat leeu
ek sneeu
ek is die boom waarteen die saag skreeu –
lig, lig moet ons op die aarde leef
en sag omgaan met mekaars horingvlies
mekaars oerstof en asem
– klein jasmynjorte is ons: nywerig en windversnik –
GEMEENTE:
Onse Brose Aarde wat onder die universum uitstrek,
laat U Bestaan vir ons heilig word,
laat ons U sien as ’n koninkryk,
laat ons U oppas,
u ganse oppervlakte
net soos ook u dieptes.
U gee ons elke dag
ons daaglikse lig, getemperde water, fotosintese en brood
maar ons besoedeling kan U nie vergeef nie,
ook nie ons mishandeling en vernietiging van mekaar nie;
lei ons in die versoeking om U bo alles lief te hê
U te verlos van alle etterende ontering.
Want aan U behoort dié punt in die heelal
en sy krag, sy oorvloed en heerlike ewewig tot
in die oneindigheid.
O vergeef ons ons skulde
en wees ons genadig.
PRIESTER:
Gaan in vrede en verheerlik die Broosheid van die Lewe
Gaan heen en verkondig die himne van Water,
die pag van die Aarde, en alles wat volhoubaar daarin, daarop en daaruit bestaan.
Gaan heen, word Versorgers van die Aarde en skouer die Juk van Kosbaarheid.
Amen
asem … asem … asem … asem … asem … asem …
Die klankgrepe deur Gys Loubser geredigeer.
Bronne:
Schilling, Govert. 2003. Evoluerend Heelal – de biografie van de kosmos. Leuven: Fontaine Uitgewers.
Van As, Jo, Johann du Preez, Leslie Brown, Nico Smith. 2013. Die verhaal van Lewe & die Omgewing - ’n Afrika-perspektief. Kaapstad: Random House Struik.
Kommentaar
Ek het nie woorde nie. Antjie Krog, die volk se gewete.
Skitterend... op haar beste!
Asemrowend mooi, dankie Antjie.
'n Wonderlike enorme voorreg om hierdie Verbondsteks te mag lees. Net die Aarde self sal die dankie kan sê ‒ ek wens die VN was nie gedoem om in gebreke te gaan bly om u planeetskaals te vereer nie.
Wat is dit van een ontroerende schoonheid. Antjie Krog op haar best!
Kosbaar en ontroerend wonderskoon een met die water die wolke die lug, die ewigveranderende bergelig, die grootse bome, die helder visse... En met my sagte kat op my bors wens ek ek kon in 'n ronde hut met 'n blaredak bly met bokke en net na aan die aarde wees soos daai vrou in Wallis, maar hier by my vanaand is ek bly vir my lekker warm bed, want die winter is aan die kom en die grote natuur, o sy byt-byt aan my ouerwordende lyf.
Diep dankbaar en ontroer dat ek dit kon deel.
Hierdie aangrypende Verbondsteks is so van toepassing op grendeltyd. Die aarde haal asem en sê dankie vir hierdie kort verposing, sonder die vernietiging deur onse spesie.
Dit is so Maretha. Die aarde skep nou bietjie asem. Mag dit so bly. Mag mense nou altyd minder rondry, rondvlieg, verbruik en bemors en net met tye geniet en dan met oordeel en sorg. Mag die aarde weer gedy. Soveel liefde waarmee hierdie werk geskep is. Asem.
Roerende en kragtige oproep dat ons lewe tot die beswil van mense en die omgewing…