Oewerbestaan ’n soepel-gekonstrueerde en welbeleë debuut

  • 0

Oewerbestaan
Melt Myburgh
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869193690

Die woord oewer roep in die geestesoog ’n idilliese beeld op van ’n rusgewende watergebied met ruisende riete, riviervoëls, paddageluide en – as jou romanties-ingestelde geestesoog nog meer uitgehonger is – selfs ’n pastel sonsondergang. Maar die agtervoegsel -bestaan in die titel van Melt Myburgh se debuutbundel sorg daarvoor dat dié beeld wat maklik in mooiheid sou kon vervloei, omkantel in ’n veel strakker begrip: dit gaan hier nie om ’n idilliese natuurlandskap nie, maar om ’n menslike bestaansvorm, boonop een in die kantlyn. Vir Myburgh gaan dit oor bestaan as gebied – grensgebied, buffergebied. ’n Oewergebied is per definisie ’n tussengebied wat water en land skei – of juis met mekaar verbind, afhangende van hoe jy daarna kyk. ’n Gebied wat nie heeltemal deel van enige van die twee is nie. Nóg vis, nóg vlees.

Dit is vanuit só ’n tussengebied dat Melt Myburgh se trefseker gedigte in hierdie debuutbundel die verbyvloeiende lewe met ’n ietwat vervreemdende en ontheemde houding betrag en daaraan verrassende gestalte gee: “soms wei ’n vreemde dier op die gras/ of sit ’n motorwrak tussen boomtakke vas” (ongetitelde gedig, p 49). Die ou Chinese spreuk wat die motto vir dié bundel is, sluit naatloos aan by hierdie beeld van ’n marginale toekyker wat die verbyvloeiende lewe vanaf ’n afstand betrag: “As mens lank genoeg op een plek bly sit, sal die hele wêreld mettertyd verby jou draai.”

Hierdie metaforiese spel tussen die oewerblik (’n kyk wat registreer en verwoord) en die verbystromende water (lewe in allerlei variasies) bring elemente van spanning te weeg – vastheid teenoor vloeiendheid, interpretasie (verwoording) teenoor natuur, poësie teenoor lewe – wat Myburgh se bundel vanaf die openingsgedig as ’t ware laat vibreer met ’n sekere energie, maar ook verwagting of afwagting, kenmerkend van ’n marginale toestand.

Maar die afwagting in baie van hierdie gedigte word meteens gekortwiek deur Myburgh se genadelose poëtiese mes. Gaan kyk maar na die manier waarop só ’n ontnugteringstoneel in die vlymskerp openingsgedig “aankoms” (11) verbeeld word: die falcon stryk met “hidrouliese presisie neer” en alles gaan oënskynlik haarfyn meewerk om ’n perfekte landing en aankoms te verseker. Maar wanneer die matador byna aristokraties met die trappies te voorskyn tree, word hy onverhoeds deur die hitte geslaan en die oomblik is bederf: “bloedneus// die matador se hemp geruïneer”. Die beeld van statigheid en presisie word ontsier met ’n alledaagse, byna platvoerse beeld van ’n “bloedneus”, wat mens met bakleiende seuns assosieer. Myburgh weet wat hy doen en hy doen dit goed.

Die omkanteling van die idilliese in hierdie besonder geslaagde openingsgedig gee die toon aan vir al vier afdelings waarin die meer as vyftig gedigte gegroepeer is. Maar waar dit gaan om die spreker se kinderjare in die woestynagtige omgewing van “Karos” op die oewers van die Gariep, 40 km vanaf Upington, is die ontnugtering die treffendste. Waarskynlik ook omdat die hunkering na hierdie omgewing van sy kinderdae, sy mense, sy ouers en dít wat bekend is, die hartshunkering na geborgenheid simboliseer. Na hierdie “hart-karos” (“terugblik”, 24) hunker hy telkens terug soos iemand op ’n dobberende skip na ’n vaste punt op die horison soek (as ek die oewerblik mag omkeer). In die “terugblik” (24) onthou die volwasse spreker hoe alles “so eenvoudig/ deur die oë van ’n kind” gelyk het, maar nou “hoegenaamd nié pastoraal” onthou of verwoord kan word nie. In die spreker se poging om die kinderwêreld in allereenvoud te herleef en as volwassene poësie daarvan te maak, blyk die teenkragte ’n bron van gemene frustrasie te word.

Hierdie frustrasies doem ook in ander gedigte op, soos wanneer die spreker bewus word van die verraad wat gedagtes kan pleeg (ongetitelde gedig, 15) en hoe die wêreld wat soms wel geslaagd herroep word (maar veral visionêr verskyn), een is wat “bloot en brak aan ’t verweer” is (“karos”, 16). Want wat hy onthou, het weinig te make met geborgenheid, maar juis met bedreiging. So verwoord die gedig “karos” (16) hoe die “oranje bekruip van die woestyn” ’n voortdurende gevaar inhou vir sy mense en sy omgewing van sy kinderjare en hoe “die rivier konstant walgooi” daarteen. Maar die finale breek van die wal is uiteindelik ook die finale tuiskoms, want hoe dieper daar die bundel ín gelees word, hoe duideliker word dit dat die drang na hereniging met die beskermende moederlandskap (die karos – beskermende kombers) van sy kindertyd eers vervolmaak sal word wanneer hy eendag permanent na Karos terugkeer “om in ’n kameeldoring se koelte te rus” (“terugblik”, 24). ’n Skakel tussen die marginale posisies van “onderpad”, “oewerbestaan” en die dood word hierdeur gesuggereer.

Maar dit blyk gou dat selfs “water”, die lewegewende bron van beskerming (wat in “karos” (16) die woestyn moet teëhou), ’n wispelturige en onbetroubare faktor is. So word die ruimte waar daar veronderstel is om water te wees, in “oorsaak en gevolg” (37) (nou wel binne ’n ander konteks as die kindertyd) oorskadu deur vuur en lig en droogte. Die beeld van water as verraderlike skerm loop voort tot in die spreker se volwassenheid en skakel selfs die twee wêrelde van jeug en volwassenheid met mekaar: die landskap van sy Karos-jeug is net so droog soos die Spaanse landskap waar hy as volwassene ontvlugting soek en die hoop op die reddende mag van die ontoereikende riviere ewe futiel. Beide landskappe beskik ook oor ’n magiese sfeer wat, ironies, juis herleibaar is na die afwesigheid van oorvloed. Myburgh se poësie is ook op stilistiese niveau netjies in pas met hierdie goed-beheerste sfeer van karigheid.

Verdorring is in hierdie bundel nie net die slotsom van onvoldoende beskerming, van ontnugtering en ontheemding nie, maar knoop ook fyn aan by ’n ander metafoor in “oewerbestaan”. Laasgenoemde gaan oor die herhaalde (maar steeds subtiele) verwysings na ontbloting van gebeentes en skelette, by sowel landskappe as mense. So word die sierra nevada in “oorsaak en gevolg” (37) raak beskryf as die “rugstring van spanje,/ omdat dit wolke prik/ bly sy werwels jaarlank wit”. In die geval van mense teken dit telkens ’n tipe röntgenbeeld. So is daar in “picture this” (51) sprake van die son teen iemand (gavin) se “ribbekas/ sy hart hamerend aan skemer gedagtes” (skemer ook as tussengebied tussen dag en nag), en in “jesus in vlak water” (52) sprake van ’n fotograaf wat die liggaam van sy objek digitaal vasvang: “ruglangs skag die werwels teen jou stuitjie vas”. In alle gevalle is dit geslaagde visuele beelde wat ook metaforiese drakrag het en boonop pas by Myburgh se nie-oordadige en beheerste styl en die mineurtoon van hierdie bundel.

Selfs die gedigte oor liefde en erotiek gee nie skiet nie. Soos “in die droom van don carlos …” (28) maak vervulling plek vir teleurstelling en verskrikking. Die aanvanklike suggestie van erotiese spanning wanneer die spreker onthou hoe hy “hom op die oorkantste oewer gewaar” het en weer later by ’n ander geleentheid afgeloer het “op ’n houtbrug oor die kanaal/ hom verdink van ’n weifeling in sy wegstap”, loop dood aan die einde van die gedig wanneer die spreker hom vir ’n laaste keer sien: “op ’n reënerige middag/ in die agterruit van ’n motorkar/ die dag daarna het ek verneem hulle het hom kom haal/ vir ’n bloederige piekniek by die boonste spruit”.

Reis is ’n middel van ontvlugting en Spanje die aangewese oord, nie net vanweë die ooreenkomste met die digter se woestynagtige hartland nie, maar ook in navolging van sy geliefde digter, Federico Lorca, op wie se spoor hy hier tree. Veral die afdeling “om federico” is in die toonaard van só ’n ontvlugtings- en identifikasie-reis. Die meeste van die gedigte in hierdie afdeling het ’n sterk Spaanse invloed met, in navolging van Lorca,’n bypassende proe-proe aan suidelike aardsheid en erotiek, maar tog nooit sonder om die leisels styf te hou nie. Meestal bly die erotiese belewenisse tydens hierdie reis vlugtig en terloops, soos die vreemdeling wat iewers in die vega van die bus afklim, met aan sy postuur nog klewend die “vervulling wat volg op ’n deurgenaaide nag”. Ook die heuwels “in die albaicín” (32) staan “knop soos boude” as die reisiger tog méér as net die landskap “gulsig” wil ontdek. Tog word daar nooit openlik toegegee aan enige gulsigheid nie.

Maar ook hierdie Spaanse ontvlugtings- en ontdekkingsreis staan in die teken van ontnugterig. In “granada blindelings” (33) verander “gifte” in “bagasie” en ten spyte van “suutjies/ trap” bly die reisiger maar “struikel”; in “skrale troos boabdil” (34) is daar sprake van trane, ruïnes en rugkeer “op niks”; in “parque federico garcía lorca” (38) word daar “’n droë tak met omgekrulde blaar/ van die olyfboom se stam geknak”; en in “fuente grande” (39) word daar beskryf hoe Lorca uiteindelik tragies “soos ’n hond met ’n koeël in die hart” sterf.

Die bundel, veral die slotdeel, “gesigte”, brei die tema van die oewerblik uit om ook ’n ander tussengebied te betrek, naamlik dié van die visioenêre. Wat hier benadruk word, is dat die misterieuse en magiese nie noodwendig wêreldvreemd is nie, maar ook doodgewoon in die alledaagse gewortel kan wees, in navolging van die gemak waarmee Spaanse skrywers die bonatuurlike of surreële in die werklikheid anker. Die oewergebied as tussenruimte is natuurlik die ideale ruimte vir die vermenging van die natuurlike en die bonatuurlike. Só verskyn die leidrade van ’n visioen sommer doodluiters in ’n agterplaas (ongetitelde gedig, 49) of was engele mekaar se voete by die swembad (ongetitelde gedig, 49): “selde hoef jagters van gesigte op reis te gaan/ deesdae vind openbaringe in tuine plaas/ klam boodskappe duik sommer oornag op/ geborduur op lappe aan die wasgoeddraad” (ongetitelde gedig, 49).

Te midde van die bitterheid van ontnugtering en die vrees van verweer wat voortdurend deur die woorde en beelde van hierdie gedigte heen spreek, word die leser deurgaans verras met die mooiste versreëls wat hom/haar bybly, soos ’n herinnering aan “die trossige asem waarmee peule ryp word/ en sterf aan die voet van ’n jerusalem-doring” (“karos”, 16); of die “slank lui” van die telefoon wat vir die kind die aankondiging is dat sy ma se skof in die sentrale “goddank verby” is en sy op pad is huis toe, waarna hy oor die werf draf “op soek na die figuur in die onderpad” (“uitvaltyd”, 17); of die inkanterende name van die weermagvoertuie wat in die teerpad naby ’n landery verbykom: “soos hy die name hoor, dwing sy asem/ hortjies tussen die seun se ribbebene oop” (“visioen van die kanaal-ape”, 18); of wanneer hy skryf oor “boordensvol soet sultanas/ geel korannavroue lag hul monde leeg” (“waarheen dra jou voete jou, my liefste”, 25); en die pragtige laaste strofe van “figuur op die ramblas, tarragona” waarin ’n reier “spartel in die loom beslag/ van die sonsondergang”; of die pimp wat in “kersfees in madrid” (43) “verwyte muf uit sy baadjiesakke lig”; en in “privaat skool”, waar die terrein van die Engelse kosskool só omskryf word: “buite wieg/ eike anglikaans in oranje poele clivias” (53).

Oewerbestaan is ’n debuut wat weet hoe om die valkuile van ’n debuut mis te trap. Hierdie gedigte weet dat poësie nie net ’n beskrywende instrument is nie, maar ’n lewende krag wat dinge kan laat gebeur: breek, skep, verander; in Myburgh se eie woorde: ’n oleander “laat blom asof vir die eerste keer”, “die son laat skif” of die lusernakkers laat “afkoel in ink” (ongetitelde gedig, 15). Om die belofte van hierdie eerste bundel ten volle waar te maak sou Myburgh ’n nóg sterker eie stem moet vind en homself heeltemal losmaak van eksterne invloede (of dit nou doelbewus of onbewustelik meespeel) – invloede soos die Breytenbach-klank in “huisbesoek” en “waarheen dra jou voete jou, my liefste”, die Jonker-klank in “terugblik”, die Ernst van Heerden-klank in “privaat skool”, die Breytenbach- en Stephan Bouwer-klank in “jy slaap nog my skat”, en so meer. Want Myburgh kan daarsonder prima klaarkom. Verder hoef hy ook nie só ver weg te skram van ’n skeutjie gevoel nie.

Met hierdie soepel-gekonstrueerde en welbeleë debuut kan Myburgh se lesers uitsien na die ontplooiing van ’n oeuvre wat binne die Afrikaanse digkuns sekerlik ’n ryk bydrae sal kan lewer. Sy poësie spreek outsiderskap, gay-liefde en -erotiek, gewortel binne ’n anderse kyk na ’n landelike jeug en ’n huidige geproblematiseerde stedelike bewussyn, op ’n vars manier aan, en boonop met ’n ryk metaforiese geskakeerdheid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top