Help! My dorp hou ’n kunstefees!, ’n “crazy komedie” deur Koos Kombuis, het pas by Naledi verskyn. Die roman speel af op Vredelus, ’n fiktiewe dorpie in die Noord-Kaap. Die bladsye word bevolk deur ’n swetterjoel skreeusnaakse karakters wat van oral in die land op die dorp toesak wanneer dinge by die nuutgestigte kunstefees op elke denkbare manier skeefloop.
Soos wat genooide kunstenaars by die Lewenslus-fees arriveer, is dit uit die staanspoor duidelik dat die potensiaal vir mislukking epies is. Die diva Cassandra D’Olé, een van die fees se hoofattraksies, beland in die hospitaal wanneer die vliegtuigie waarmee sy ’n geleentheid Noord-Kaap toe kry, tydens ’n noodlanding tussen die pale op Vredelus se rugbyveld verstrengel raak. Alle katastrofes wat afspeel, kan na een dorpenaar herlei word: Sanet Watermeyer-Grové, wat die blink gedagte vir ’n fees “agt maande en nege-en-twintig dae” tevore tydens ’n boekklubvergadering geopper het.
As skrywer en musikant wat dekades van feeste en boekklubbesoeke agter die rug het, is Koos huiwerig om te verklap hoeveel van die insidente in die boek op eie ervaring gegrond is. “Minstens een van die gebeure in die storie is gebaseer op iets wat werklik gebeur het,” antwoord hy versigtig op die vraag.
Koos sê dat hy die skrywery geniet het, so tussen naweke van musiekoptredes die hele land vol. “Dis nou een van die dinge van grendeltyd waarvoor ek baie dankbaar was. Mens kry min tyd vir skryf as jy elke naweek iewers heen moet vlieg om te gaan sing.” Help! My dorp hou ’n kunstefees! se storie het lank voor die pandemie vastrapplek in sy kop gekry, en hy het vir langer as twee jaar met net die eerste twee hoofstukke gesit. Daarna het dinge vinnig vlamgevat. “En toe, skielik, tref die inspirasie my en ek maak dit binne ’n paar weke klaar.”
Na die boek se verskyning het mense vir Koos laat weet dat hulle dink dat daar regtig ’n dorp met die naam Vredelus bestaan, en dis nie in die Noord-Kaap nie.
“Nou ja, ek vra om verskoning as daar werklik so ’n plek is, maar ek wil mense gerusstel, hierdie Vredelus is heeltemal denkbeeldig. Ek het dit wel geplaas in ’n area van Suid-Afrika wat vir my bekend is: My fiktiewe dorpie is iewers naby Kakamas en Upington. Ek ken baie mense daar en ek is nogal besonder lief vir daardie deel van die land.”

Koos hou steeds van die lekker dinge in die lewe: “Dit is deel van my job as skrywer om mense ook weer te laat glimlag.” (Foto: Koos Kombuis)
Aanvanklik was dit Koos se plan om Help! My dorp hou ’n kunstefees! as ’n novelle aan te bied omdat dit “nie baie lank” is nie. ’n Kritikus het egter aan hom verduidelik dat “as daar genoeg mense in ’n storie is, kan jy sê dis ’n roman”. Nou voel hy beter, sê Koos. Die verhaal strek wel oor 257 bladsye, maar die hoofstukke is lekker kort en die pas is doller-as-kop-af.
“Die idee was om ’n mikrokosmos te skep vir al die strominge en tipes binne Afrikanerdom en in Suid-Afrika, warts and all, hulle almal saam te plaas in ’n afgeleë gehuggie, en te kyk wat gebeur,” vertel hy. Die karakters is inderdaad ook ’n mengelmoes van Suid-Afrikaners van alle agtergronde.
Daar is die kleindorpse tipes: die plaaslike dominee, Tiaan Holtzhausen; die landdros, Wimpie Watermeyer-Grové (gade van Sanet wat die idee vir die kunstefees geopper het); Attie Hanekom, die versekeringsagent; Tobie van Jaarsveld, die dorp se egskeidingsprokureur; en ook Solly Mphlanga, die burgemeester wat salig onbewus is dat daar ’n fees op sy dorp plaasvind. En natuurlik is hulle gades en skelmpies almal ook in die galery van karakters.
Onder die inkommers wat op die dorp toesak vir die fees, is Terblanche Tuisnywerheid, die daggabenewelde hoofsanger van die beroemde Afrikaanse groep Donker Gedagtes; Cassandra D’Olé, wat uit die vliegtuigwrak tussen die rugbypale afgehys is en in Kakamas se hospitaal opgeneem word; Doug Heller, ’n charismatiese evangelis wat met ’n Amerikaanse aksent praat; Heino Declerque, wat hom verbeel hy is die “Rolprentmaker aan die Einde van die Wêreld”; Wouter du Toit, vryskutjoernalis en fotograaf; en ook ’n driftige LGBTQI+-faksie. En mens moenie vergeet van die ambisieuse “Huisgenoot-redaktrise” wat ’n arendsoog op verwikkelinge vanuit haar kantoor in Kaapstad hou nie.
“Daar was tye dat die karakters my heeltemal verras het,” sê Koos. “Ek het die meeste van die tyd soos ’n voyeur gevoel eerder as die skepper van die teks, want hulle het eenvoudig gedoen wat hulle wil! Veral die einde het my totaal onkant betrap.” Koos het ’n sagte plekkie vir die dominee wat saam met Terblanche Tuisnywerheid in ’n jacuzzi, en ook op die land se koerantvoorblaaie, beland. “Toe ek by die hoofstuk kom waar hy in die nag staan en opkyk na die toring van die NG Kerk en desperaat begin bid, was ek amper in trane.”
Binne dié mikrokosmos wat Koos skep, spiraal gebeure in makroproporsies uit tot anderkant die grense van die normale orde. Uiteindelik fokus die hele Suid-Afrika op Vredelus, waar “suiplappe, groupies, aktiviste en protesteerders” saam met kunstenaars en mediamense ’n soort apokalips tegemoetgaan. Teen die einde van die boek marsjeer massas mense om uiteenlopende redes vanuit verskillende windrigtings die dorpie binne – reguit na die feesterrein waar die vliegtuigie steeds tussen die rugbypale vassit.
Die dreigende chaos weerspieël ook iets van die manier waarop die skryfproses verloop het, sê Koos. “Baie van die goed wat in die storie gebeur was onbeplan. Die meeste hoofstukke het heeltemal anders verloop as wat ek dit voorsien het. Ek is nie die soort skrywer wat ooit sal kan hou by ’n sinopsis nie. Ek het regtig dikwels die gevoel gekry dis buite my beheer, die karakters het ’n lewe van hul eie.”

Attie Hanekom, Vredelus se enigste en suksesvolste versekeringsagent, beland in ’n ongemaklike situasie in Help! My dorp hou ’n kunstefees! (Illustrasie: Koos Kombuis)
Koos steek lustig die draak met bekendes in die skryf- en musiekwêreld. Daar is deurentyd verwysings na Etienne van Heerden se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld, wat Vredelus se boekklublede om die dood toe nie klaar gelees kry nie. “Ek moet prontuit erken ek was grensloos jaloers op Etienne, want hy het iets reggekry waaroor ek al so lank fantaseer – om ’n móerse dik boek te skryf en dan noem almal dit ‘Die groot Afrikaanse roman’. En dis presies wat dit is! Ek moes vrede maak dat dit my nooit beskore sal wees om so ’n manjifieke stuk letterkunde van oor die 600 bladsye die lig te laat sien nie; dis eenvoudig bo my vermoë.”
Toe hy dié waarheid onder oë kon sien, sê Koos, kon hy selfs vir homself lag en ’n bietjie selfspot in Help! My dorp hou ’n kunstefees! inbring. En ja, in een hoofstuk word ene Koos Kombuis ook opgestuur. “Hel, daar is soveel trane in hierdie land, en die meeste goed waarvan ons in die koerante lees, is tragies. Tog voel ek dit is deel van my job as skrywer om mense ook weer te laat glimlag. Dit was vir my nogal ’n moerse eer toe Johrné van Huyssteen op Die Groot Ontbyt hierdie boek beskryf as ‘’n kruis tussen Magersfontein en Kootjie Emmer’.
“Dis dalk ’n bietjie meer Kootjie Emmer as Magersfontein.”
Mens kan nie anders as om te wonder of Koos Kombuis met die skryf van die boek insidente uit sy prille, onverantwoordelike jeug – soos uiteengesit in Seks & drugs & boeremusiek – herleef het nie. Of is daardie herinneringe al so vaag dat hy dit in sy topverkoper-outobiografie moet gaan naslaan om te waardeer?
Hierop antwoord hy sonder omhaal. “Ek is so bly ek het die meeste goed vergeet wat in my outobiografie beskryf word. Dit was regtig baie aaklig.”