Mentor Rachelle Greeff sien uit na LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool

  • 0

Aansoeke word ingewag vir LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool wat van 12 Oktober tot 1 November 2020 in Somerset-Oos aangebied word. By dié uitnemende geleentheid vir ontluikende skrywers wat hulle met die kortkuns bemoei, sal Rachelle Greeff die leisels as mentor neem. Melt Myburgh het haar uitgevra oor waarna voornemende kandidate kan uitsien.

..................

Rachelle Greeff (Foto: Bernard Jordaan)

Rachelle, jy het jare se ondervinding in die opleiding van skrywers, onder meer by die Breytenbach Sentrum se skryfskool in Wellington. Daar moet seker versigtig en sensitief met ontluikende skrywers se werk omgegaan word. Wat is jou raad vir mense wat skrikkerig is vir kritiek op hul skryfwerk?

Flaters, floutes en brak kolle is ’n nodige deel van die proses. Dit leer jou meer en vinniger as die slimste mentor. En dis oukei om jou naam krater te maak (buiten met wandade soos plagiaat). Wat in die skryfskool gebeur, bly in die skryfskool.

Kritiek in die konteks van ’n slypskool is opbouend en word altyd gemotiveer. Gesprekke daaroor is welkom. En ek vertel studente hoe ek al self onder die lemme deurgeloop het – en dit oorleef het. Ná die drie weke sal jy ’n pasgemaakte psigiese noodhulpkissie huis toe kan neem.

Jy het al diep spore in die literêre omgewing gelaat, met verskeie bekronings vir jou prosa en dramas. Maar jy is ook ’n ervare niefiksieskrywer – jy was immers Rapport se boekeredakteur en jy het vir jare lank rubriekbydraes vir Die Burger gelewer. Is daar uitdagings waarmee mens te kampe kry wanneer jy met beide fiksie- en niefiksiestudente in dieselfde klas werk?

Skryf is skryf is skryf, het Deon Meyer vroeër vanjaar vir studente gesê. Dit moet helder, opwindend, energiek, interessant en prikkelend wees, want jy wil jou leser verlei om enduit te lees. En dit geld vir fiksie en niefiksie. Soos wat die goeie akteur uiteenlopende rolle oortuigend moet kan speel, so moet die skrywer, veral in benouende ekonomiese tye soos nou, in verskillende genres kan “speel”. Jou teks verander, die gehoor ook, maar die grondbeginsels het meer ooreenkomste as verskille.

Watter kortkuns-genres is alles welkom by die Kommadagga-slypskool?

Min of meer enigiets. Ek het al my brood verdien by onder andere die voormalige NG Kerk Uitgewers, die oliemaatskappy BP, Huisgenoot en ’n bemarkingsmaatskappy. Hoewel ek gedigte lees (dit leer mens onder meer woordekonomie) soos ander mense die Bybel lees, sal ek eerder nie mense hiermee probeer help nie. En nog minder met rap en lirieke.

Van jou boeke is in Engels, Nederlands, Duits en Deens vertaal, en Die naaimasjien het in Engels ’n draai by die Edinburg-fees gemaak. En dan was jy ook ’n finalis vir The Caine Prize for African Writing, wat jou die wonderlike geleentheid gegee het om besoek aan Oxford te af te lê. Die Kommadagga-slypskool is oop vir kandidate wat in Afrikaans en Engels werk. Vertel asseblief van die Caine-ervaring in Oxford.

Ons was daardie jaar vyf finaliste. Die hoogs literêre geleentheid was in ’n lokaal in die eeue-oue Bodleian Library by Oxford. Die middag het ons in die Britse Laerhuis gelunch, en is hierna Oxford toe verskeep vir Die Groot Aand. Ek het die tien dae in Londen met voorlesings en onderhoude gate uit geniet en was rustig – so het ek gedink. Omdat ek destyds migraines gekry het, het ek daardie dag as voorsorgmaatreël geen sjokolade, koffie of alkohol oor my lippe geneem nie. En toe kry ek binne die eerste halfuur in die Bodleian die moeder van migraines.

Heelaand het ek in die vrouekleedkamer (met blomme, beddens en als outyds Engels) gelê en doen wat mens doen wanneer so ’n wetter in jou kop nesmaak. Die uiteinde was dat ek privaat teruggeneem is Londen toe. Die dokter wat ingeroep is om my met petidien uit te knock, het gedink ek’s ’n dwelmpoppie met ’n liegstorie sonder gelyke.

En nee, ek het nie die prys gewen nie, maar Yvonne Adhiambo Owuor van Kenia, wat ook destyds ’n deeltydse model was. Die jaar daarna het ek ’n Caine-slypskool in die Kaap bygewoon. Pynloos. Prettig. Altyd goed om skrywers en kunstenaars uit ander oorde as jou eie te leer ken, want dit gooi vensters in jou kop oop. En as prettige pasella maak jy partykeer nuwe vriende. Dit het latere skrywersverblyf in Switserland bevestig. Hier het my kop weer deur 360% gewerk. (My mond ook, toe die Russiese skrywer my peperduur whisky gesteel het.)

Met die aankondiging van die Kommadagga-slypskool het jy gesê: “Suksesvolle kandidate moet fokus, vasbyt en kognitiewe energie – en nuuskierigheid – saambring Somerset-Oos toe. Ná die drie weke behoort hulle potensieel publiseerbare stukke te kan skryf.” Jy is bekend daarvoor dat jy groot klem by jou studente lê op die belangrikheid van lees. Moet suksesvolle slypskool-kandidate boeke saam met die maskers en korona-ontsmettingsmiddels inpak?

Bring enigiets wat die hart en niere verwarm. (Buiten, helaas, bedmaats). Ek is aartsnuuskierig en sal graag wil hoor wat hulle lees. Minstens een maal per jaar vertel iemand van nóg ’n indrukwekkende skrywer iewers op aarde van wie se bestaan (om van die boeke nie eens te praat nie) ek nie geweet het nie.

Die Breytenbach Sentrum se skryfskool is ’n wonderlike manier om Breyten Breytenbach se invloed op ons letterkunde te vier, en so ook met die Jakes Gerwel Stigting se werk rondom Gerwel se nalatenskap. Plaas die blote gedagte hiervan druk op jou, of is dit ’n bron van inspirasie?

Dis ’n eer. Mens kan jou Afrikaans nie voorstel sonder Breyten nie. Jakes weer het bewys kritiese gesprek en versoening kán aan dieselfde tafel eet. Beide soepel denkers, ruim van verstand, fluks – eienskappe waarsonder die voornemende skrywer gouer eerder as later die spreekwoordelike betonplafon gaan tref.

 

Wil jy aansoek doen vir LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool? Lees hier:

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool

Do you want to be part of LitNet and the Jakes Gerwel Foundation’s Kommadagga writing workshop? Read here:

LitNet and the Jakes Gerwel Foundation’s Kommadagga writing workshop

Lees hier oor om meer uit te vind van die Jakes Gerwel Stigting se werksaamhede:

Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top