"Die Universiteit van die Vrystaat was eintlik nog altyd deel van my lewe"

  • 0

Rinda Botha het onlangs ’n ATKV-SA Akademieprys ontvang vir ’n akademiese artikel wat in 2018 in LitNet Akademies se Regte-afdeling verskyn het. Dié gerespekteerde pryse word toegeken aan geakkrediteerde akademiese artikels wat in Afrikaans geskryf is. Botha se wenartikel, “Geloof in heksery – ’n grondige verweer in die strafhof, of ’n gegoël met die reg?”, is hier beskikbaar.

Melt Myburgh het vyf vrae aan Botha, senior dosent in die Departement Publiekreg aan die Universiteit van die Vrystaat, gestel.

................

Rinda Botha (Foto: verskaf)

Hoe lank is jy reeds verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat? Vertel hoe jou paadjie in die akademie geloop het tot by dié universiteit.

Die Universiteit van die Vrystaat was eintlik nog altyd deel van my lewe. Toe ek ’n kind was, het my pa, wyle Dirk Coetzee, Latyn aan die universiteit doseer. Gevolglik het ek ook hier studeer en my grade hier verwerf.

My loopbaan in die akademie het eers na ’n kort tydjie in die praktyk (as staatsaanklaer) begin. Ek het in Augustus 2000 ’n pos by die destydse Vista-universiteit aanvaar en het oorspronklik verskeie vakke in die Departement Handelsreg aangebied. Strafreg was egter altyd my voorliefde en het ek terselfdertyd vir my LLD-studie in strafreg aan die Universiteit van die Vrystaat geregistreer met professor Hennie Oosthuizen as studieleier.

Met die samesmelting van Vista en die Universiteit van die Vrystaat in 2004 is die geleentheid my gebied om my gunstelingvak, strafreg, te doseer en ek is vandag steeds verbonde as strafregdosent.

Wat was die prikkel wat spesifiek tot die navorsingsonderwerp van jou wenartikel gelei het?

Die uitwerking van geloof in heksery op strafregtelike aanspreeklikheid het oorspronklik ’n klein onderafdeling van die module wat ek aanbied (strafreg) se vakinhoud gevorm. Ek wou graag meer hiervan leer en verstaan hoe die hantering daarvan met die basiese beginsels van die strafreg strook. Die artikel was dus die resultaat van nuuskierigheid en my liefde vir strafreg.

Hoekom is dit vir jou belangrik om navorsing in Afrikaans te publiseer?

Afrikaans het ’n spesiale plek in my hart. As publikasie in Afrikaans kan help om die taal lewend te hou, doen ek dit graag.

Wat was jou reaksie toe jy hoor dat jy die prys vir die artikel gewen het?

Ek het oorspronklik gedink dis ’n fout. Ek was nie bewus van die keuringsproses en/of die feit dat my artikel daarvan deel gevorm het nie, en dit was dus ’n baie lekker verrassing! Dit dien ook as groot motivering om in Afrikaans te publiseer.

Met watter navorsing hou jy jou tans besig?

My mees onlangse artikel in LitNet Akademies, “Jonk genoeg om met moord weg te kom?”, het gehandel oor die bepaling van toerekeningsvatbaarheid by kinderoortreders in Suid-Afrika en Engeland. Die volgende projek (tesame met ’n oudstudent) handel oor die vraag of die kriminalisering van substansmisbruik deur swanger vroue in Suid-Afrika lewensvatbaar is.

 

Lees ook die volgende LitNet Akademies-artikels deur Rinda Botha (as skrywer en medeskrywer):

Putatiewe noodweer as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg: ’n Kritiese oorsig van die onseker pad tot by Pistorius en daarná

Dronkenskap as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg: ’n Sober benadering?

Strafregtelike struikelblokke in die mishandelde persoon se stryd om geregtigheid

Suid-Afrikaanse vuurwapenwetgewing onder skoot: Hoe koeëlvas is die Wet op Beheer van Vuurwapens 60 van 2000?

Die tergende toekoms van provokasie as verweer in die Suid-Afrikaanse strafreg

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top