Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap word vanjaar vir die eerste keer aangebied. Die digter Bibi Slippers is die intreeskrywer, en vanaf 30 Junie sal sy vir ’n maand lank as gas van LitNet en die Victoria Manor Hotel in Cradock se Tuishuise woon om ongesteurd aan haar nuwe digbundel te werk. Bibi het met Melt Myburgh oor dié salige vooruitsig gesels.
In 2016 het Fotostaatmasjien, Bibi Slippers se digtersdebuut, die Afrikaanse letterkunde soos ’n stormwind getref. Die bundel het ’n kruiwavrag toekennings verower: UJ-debuutprys, Eugène Maraisprys, Elisabeth Eybersprys en die ATKV Woordveertjie vir Poësie.
Lesers kan kwalik wag vir ’n volgende bundel uit Bibi se pen. Die vooruitsig om ’n hele maand lank in vrede en stilte in die Karoo te skryf, gee vir Bibi die ruimte om haar gedagtes op die afronding van die nuwe bundel te fokus. “Ek kan eerlikwaar nie wag om vir vier weke net te skryf nie,” sê sy. “Einde 2020, vroeg 2021 het ek laas daardie voorreg gehad.”
In daardie periode het Bibi haar spaargeld gebruik om vir haarself ’n “inwonende skrywerskap” te “skep” op ’n klein kusdorpie in die Wes-Kaap. “Toe het ek vir ses maande aan ’n nuwe versameling gedigte gewerk, wat so twee derdes klaar was voordat ek moes terugkeer na die regte lewe met al sy verpligtinge.” Sedertdien het Bibi “nog so ’n bietjie” aan die gedigte geskaaf, maar die verblyf op Cradock is net wat sy nodig het om die eerste weergawe van die bundel in kanne en kruike te kry.
Die “regte lewe met al sy verpligtinge” behels Bibi se werk in Johannesburg by die produksiemaatskappy Idea Candy. Bibi is inhoudsregisseur van Spreekkamer, die gesondheidsprogram wat weekliks op kykNET gebeeldsend word met Suzaan Steyn as aanbieder. In 2021 het sy ook ’n kortfilm geskryf en die regie behartig, en as skrywer was sy betrokke by heelwat projekte “wat hopelik binne die volgende jaar of twee die lig sal sien”.
Ná die verskyning van Fotostaatmasjien het Bibi aan kortverhale begin skryf, maar sy het besluit om dié onderneming eers op ys te sit. “Dit voel vir my meer dringend en noodsaaklik om gedigte te skryf. Ek het nie die kortverhale heeltemal laat vaar nie – ek hoop om terug te keer daarna wanneer hierdie bundel klaar is.”
Met die klomp pryse wat Fotostaatmasjien gewen het, moet daar sekerlik druk wees om met ’n tweede bundel te presteer. Hieroor kwel Bibi haar egter nie; sy benader dinge met ’n beleë nugterheid: “Ek dink nie ’n mens kan verwag om dieselfde soort sukses met ’n tweede bundel te hê nie – dis nou as jy dink aan sukses as gelyk aan pryse.
“Ek was baie bevoorreg met die gul ontvangs in 2016, maar ek was al genoeg kere ’n beoordelaar op sulke pryspanele om te weet daar is ook ’n groot element van luck ter sprake.
“My ma het destyds, toe my boek die eerste maal op ’n kortlys vir ’n prys verskyn het, gesê: ‘Sjoe, Bibi, maar dié is almal vreeslik goeie boeke. Enigeen kan wen.’ En sy was 100% reg!”
Bibi probeer die stem in haar kop wat sê dat almal daar buite vir haar sit en wag om ’n groot flop van ’n tweede boek te maak, stilpraat. Terapie en om in ’n joernaal te skryf help om dié stem in toom te hou. “Ek weet, met my rasionele brein, dat niemand sit en wag vir my om enigiets te doen nie; almal is baie besig met hulle eie lewens, hulle honde, hulle kinders, duur petrol en baie ander boeke wat daar buite is om te lees.
“Who cares oor Bibi se bundel?
“En dit is baie bevrydend! Ek probeer fokus op die lekker deel: om gedigte te skryf. Dit moet die enigste motivering wees, want in ’n miniatuur mark soos die een vir Afrikaanse gedigte, met gemiddelde verkope van 200 bundels, kan mens nie anders as om vir jou eie genot en genoegdoening te skryf nie.”
Fotostaatmasjien het oor baie jare tot stand gekom, met mentors soos Marlene van Niekerk en Willem Anker wat insette gelewer het toe Bibi aan die bundel gebeitel het tydens ’n MA-kursus in kreatiewe skryfkunde. En nou is sy op haar eentjie, met die vrede van die Karoo binnekort as hoof-metgesel. “Die verskil van op jou eie werk,” sê die digter, “is dat ’n mens, sonder die teenwoordigheid van studieleiers, niemand het aan wie jy verantwoordbaar is nie. Daar is geen sperstrepe wat druk op jou plaas nie.
“Ek is iemand wat die druk mis, maar ek het dit baie aangenaam gevind om vir ses maande aan die boek te kon werk terwyl ek stoksielalleen by die see gewoon het. Net die idee vir die boek, en die wil om vorm daaraan te gee, het my aangejaag. Dis anders, maar dis nie aaklig nie.”
Bibi sê die dinge wat sy van Marlene en Willem geleer het, is “darem nog” in haar kop. “Hulle gesels op ’n manier steeds met my, en gee terugvoer in die vorm van ’n kritiese stem – wat deels my eie is, en deels die kennis wat deur hulle oorgedra is.”
Met vriende soos Loftus Marais in die omtrek voel Bibi buitendien nie heeltemal verlate nie, want Loftus is ’n vertroude stem wat soms sal lees en terugvoer gee. “Ek het ook al hier en daar iets met my uitgewer gedeel,” vertel sy. “Ander vriende is ywerige lesers, maar nie noodwendig digters nie, en dis soms lekker om te hoor wat hulle dink, want dis ’n goeie maatstaf om te sien of die gedigte met gewone lesers ook ‘connect’.”
Die laaste ding wat Bibi wil doen, is om uitsluitlik vir digters en geleerdes te skryf. “Op die oomblik hou ek die gedigte nog baie na aan myself; sodra daar ’n eerste weergawe is, sal ek vir meer insette vra.”
Cradock is natuurlik geen vreemde bestemming vir Bibi nie. Sy het aangename herinneringe van besoeke aan die dorp, onder meer tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée ’n klompie jare gelede. Ook aan die gasvryheid van die Victoria Manor Hotel waarteen die bekende Tuishuise knus aanlê. “Maria Popova praat van ‘creating space for the unburdened mind’ – en ek glo ek sal dit daar kan doen! Ek dink die oopte van die Karoo is ’n mooi visuele metafoor vir die oopte van kop wat (vir my) nodig is om gedigte te kan skryf.”
En natuurlik kan ’n mens nie aan dié Karoodorp dink sonder om Olive Schreiner voor die geestesoog te roep nie. Bibi sê sy hoop om dié legendariese figuur van die Suid-Afrikaanse lettere weer van voor af te leer ken terwyl sy op Cradock is – “om te hoor of die dame iets te sê het wat dalk deel van my boek moet word”.
In Cradock gaan Bibi nie heeltemal sonder geselskap wees nie. Matilda, haar Italiaanse windhond, gaan saam vir die skrywersverblyf. “Ek het, terwyl ek op my selfaangestelde skrywerswegbreek was, besef ek moet oor my commitment issue kom en ’n hond kry. En toe ek terugkom in Johannesburg, was dit die eerste ding wat ek gedoen het.”
Volgens Bibi is daar nie sprake van orde met Matilda se “chaotiese energie” in die omtrek nie. Die windhond het wel broodnodige roetine gebring. “Omdat sy baie moet hardloop, gaan ons hier in die stad minstens twee maal per dag stap of draf. En dit móét gebeur, of dit nou koud is of nie. Die roetine van daagliks buite kom, no matter what, in kombinasie met die meer gereelde oefening, het ’n daadwerklike verskil aan my winterdepressie gemaak.”
Op die oomblik is Bibi se skryftyd van vieruur tot agtuur soggens, en met dié voordagkaskenades wil Matilda net mooi niks uit te waai hê nie. “Sy is nie ’n oggendmens nie en gee my ’n vinnige vuil kyk as ek opstaan en haar rus versteur, dan slaap sy lekker verder tot dit agtuur bietjie warmer is, en tyd vir ons eerste stappie.”
Hopelik kan Matilda vir ’n maand lank op Cradock net ’n bietjie langer lê voordat die muse aan die tuishuisie se voordeur klop.
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust
- Gaan loer gerus na die webtuiste van die Tuishuise & Victoria Manor.
- Lees alles oor Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap hier:
Vir nog meer leesgenot:
Jaco Barnard-Naudé se LitNet Akademies-resensie-essay oor Bibi se Fotostaatmasjien
Naomi Meyer se foto-onderhoud met Bibi toe Fotostaatmasjien verskyn het
Bibi se bedankingswoord toe sy in 2017 die UJ-debuutprys vir Fotostaatmasjien ontvang het
Bibi se gesprek met Andries Visagie oor Fotostaatmasjien
- Die fokusprent by hierdie onderhoud is saamgestel uit ’n foto van Bibi Slippers deur Dirk Skiba Fotografie, en ’n foto van die Victoria Manor Tuishuise in Cradock.
Kommentaar
Lieflik, dankie.