Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap

  • 1

Aangebied deur LitNet, in samewerking met die Victoria Hotel en Tuishuise, Cradock

“Wanneer ek skryf, moet dit stil wees om my. Ek moet weet waar my potlood is en ek skryf net op wit papier. Sonder lyne.” Só verwoord Antjie Krog die versugting na tyd en ruimte om sonder steurnis en onderbreking te kan skryf. Dié behoefte aan stilte is iets wat elke skrywer ken.

Met die instelling van Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap bring LitNet goeie nuus vir skrywers wat ruimte nodig het om ongestoord met die muse in gesprek te tree. Vanaf 2022 word die Inwoonskrywerskap jaarliks deur LitNet en die Victoria Hotel en Tuishuise in Cradock aangebied. Tydens dié verblyf kan skrywers ’n maand lank sonder sorge in die Karoodorp tuisgaan om in relatiewe stilte en afsondering aan ’n skryfprojek te werk.

LitNet en die Victoria Hotel en Tuishuise het die digter Bibi Slippers genooi om in 2022 as intreeskrywer van die geleentheid gebruik te maak. Vanaf 2023 sal LitNet jaarliks skrywers uitnooi om vir die Inwoonskrywerskap aansoek te doen. LitNet sal die aansoekproses bestuur, en van kandidate sal verwag word om ’n aansoekbrief, curriculum vitae en ’n kort projekvoorstel aan LitNet voor te lê, waarna ’n paneel van deskundiges, wat skrywers en letterkundiges insluit, ’n inwoonskrywer in konsultasie met die Victoria Hotel en Tuishuise sal aanwys. Skrywers sal vroeg in 2023 op LitNet uitgenooi word om aansoeke in te dien.

Etienne van Heerden, LitNet se redakteur, is as skrywer terdeë bewus van die waarde wat ’n skrywersverblyf bied. “Ek het in my lewe só lekker gewerk in skrywersverblywe in onder meer Iowa City, Amsterdam en op die eiland Sylt dat ek nog altyd gehoop het dat ek kan help om iemand Karoo toe te laat gaan vir ’n maand.”

Etienne se verbintenis met Cradock en die Karoo loop nie net terug tot sy jeugjare nie, dit is ’n sentrale gegewe in sy boeke. Cradock is ook die tuiste van die Etienne van Heerden Veldsoirée, en van die Schreiner Karoo Skrywersfees, waar hy gereeld ’n gas is. Een van die Victoria Hotel se Tuishuise is juis na Etienne vernoem.

Lisa Antrobus-Ker, organiseerder van die Schreiner Karoo Skrywersfees en eienaar van die Victoria Hotel en Tuishuise, som Etienne se verbintenis met die dorp op: “Etienne het aan baie van sy romans hier by ons kom werk, en ons was uit die staanspoor opgewonde toe hy die idee van die Inwoonskrywerskap die eerste keer geopper het. Die Tuishuise en Victoria Manor is ’n straat van stories; ons is passievol oor letterkunde en die Karoo.”

Bibi Slippers (Dirk Skiba Fotografie)

Bibi sal op 30 Junie haar intrek by een van die Tuishuise neem. Van inwoonskrywers word verwag om tydens die verblyf minstens een besoek aan ’n skool in die Cradockse gemeenskap te bring om met leerders en/of opvoeders oor skrywerskap, boeke en lees te gesels. Indien die skrywersverblyf met geleenthede soos LitNet se Kommadagga-slypskool, jaarliks in Somerset-Oos in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting aangebied, of die Schreiner Karoo Skrywersfees saamval, sal die inwoonskrywer uitgenooi word om ’n gasverskyning by dié geleenthede te maak.

Lees LitNet se onderhoud met Bibi Slippers oor Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap:

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo

Besoek die webtuiste van die Tuishuise & Victoria Manor.

Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top