Op 2 Mei het Bibi Slippers by die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands met Andries Visagie oor haar debuutbundel, Fotostaatmasjien (2016), gesels. Die gesprek is deur die departement se studentevereniging, die Vereniging vir Afrikaansstudente (VER[r]AS), aangebied. Slippers het vroeër dieselfde oggend gehoor dat Fotostaatmasjien met die 2017-UJ-debuutprys bekroon is. Fotostaatmasjien het reeds vanjaar ook die Eugène Marais-prys ingepalm.
By die gesprek het Slippers ’n paar van haar gedigte voorgelees, onder andere “Die eerste afvallige”, “Ondersoek na die aard van obsessie met spesifieke verwysing na die polkakol-kunswerke van Yayoi Kusama”, “Die resiesfiets en die reier”, “My pop val stukkend” en “Thamsanqa tweet en breek die internet”.
Fotostaatmasjien is grootliks die produk van Slippers se fassinasie met fotostate. Hierdie belangstelling het sy oorsprong in haar studentejare, waartydens sy baie tyd voor ’n fotostaatmasjien moes deurbring. Sy sê dat sy van die letterlike proses hou om fotostate te maak. Dit is ook vir haar lekker om so vinnig so baie van iets te kan maak.
Die gedig wat handel oor afskrifte van Adam Small se gesig was die eerste gedig oor fotostate wat gelei het tot die skryf van die res van die bundel. Sy het gedink die bundel gaan aanvanklik oor rampe handel, maar sy sê dit het nie gewerk nie. Die ontwerp van die bundel was ook aanvanklik komplekser as die gedaante wat dit uiteindelik aangeneem het. Sy het ook aanvanklik die titel Afskrif vir die bundel in gedagte gehad. Sy sê dat die uitgewer dit as bietjie koeklik ervaar het en “partykeer moet jy maar net jou uitgewer laat wen”. Die titel Fotostaatmasjien het wel die breër sambreel gebied vir die gedigte in die bundel.
Op Visagie se vraag oor haar refleksie oor die aard van digkuns antwoord Slippers dat sy diepsinnig-filosofies kan kyk na enige vlak popliedjie, soos van Taylor Swift, en dat ’n bundel ’n uitgedinkte ding is wat gemaak is om in ’n raamwerk te pas. Sy is ook van mening dat die digter eienaarskap tot hul werk het net totdat dit gepubliseer word.
’n Afdeling in die bundel word gewy aan Thamsanqa Jantjie, die pseudogebaretaaltolk by oudpresident Nelson Mandela se begrafnis. Slippers sê dat dit ’n verskriklike ding is wat gebeur het en dat Jantjie gedoen het wat hy gevoel het die beste was en dit was goed genoeg.
Visagie het volgende gesê dat Slippers dit regkry om op ’n vernuwende manier oor liefde te skryf. “Die resiesfiets en die reier” is ’n langer gedig wat as voorbeeld hiervan dien. In die gedig is daar kategoriese oorskrydings, waaroor Loftus Marais gesê het: “It overplays its surrealist hand.” Buiten die feit dat sy self hou van fietse en fietsry sê Slippers oor die gedig dat dit onder andere deur Paul Fattaruso se surrealistiese boek oor fietse geïnspireer is. In hierdie boek, wat as iets tussen prosa en poësie geklassifiseer kan word, doen hy iets surrealisties. Slippers sê dat sy iets soortgelyk vir Afrikaans wou doen. Sy het die beeld van die reier in die gedig gebruik omdat sy ’n voël wou gebruik en gehou het van die woordspeling wat die reier tot die gedig gebring het.
Oor die relevansie van poësie in ons huidige tyd, te midde van sosiale media en popmusiek, noem Slippers dat die skryf van gedigte ’n tydsame proses is en dat poësie nie sin maak in ’n tyd waar dit nie geld kan maak nie. Sy noem dat daar wel dwase moet wees wat bereid is om dit vir niks te doen nie en dat jy dit vir niks materieel kan verruil nie. Sosiale media is op ’n massaskaal en die leegheid van iets soos Facebook is ’n teenpool vir kreatiwiteit (sy het toevallig die dag voor die gesprek haar Facebook-rekening gesluit). Deur nie Facebook te hê nie, kan jy nie meer uitstal wat jy besig is om te doen nie, maar eerder die tyd gebruik om meer van iets anders te doen, soos om meer boeke te lees. Sy sê ook dat dit help om jou poësie mooi te verpak omdat dit nog nooit vir die massas gemaak was nie. Die laaste gedig wat sy voorlees, “My pop val stukkend”, sluit by haar siening oor poësie in die moderne kultuur aan.
Die laaste vraag wat aan Slippers gestel is, was in verband met haar betrokkenheid by Nuwe Stemme 6. Sy noem dat dit ’n verskriklike toets was om die werk te lees. Die inskrywings het grootliks gekom van mense wat nie genoeg lees nie en dit word in hulle werk weerspieël. Daar was egter ook ’n handjievol baie belowende digters. Die finale digters wat gekies is, is gekies op grond van hul vermoë om goed te reageer op die redigering van hul gedigte. Slippers sê wel ook dat digkuns soos ’n Terrence Malick-film is: party mense hou daarvan en ander haat dit.
Op ’n vraag uit die gehoor in verband met raad vir aspirantdigters antwoord Slippers dat jy moet aanhou lees en wyd moet lees en veral baie moet lees oor waarvan jy hou. Vir spesifieke raad oor skryfwerk stel sy Google voor, omdat daar baie goeie raad in verband hiermee op die internet beskikbaar is. Sy stel ook voor dat jy iemand kry wat jou werk kan kritiseer wat nie jou familie of vriende is nie en om die kritiek te oorweeg omdat dit sal bydra tot jou groei en ontwikkeling as skrywer. Iemand anders uit die gehoor het gevra of sy voel dat dit nodig is om samelewingskritiek te lewer in byvoorbeeld digkuns. Haar antwoord was dat sy haar nie te veel aan die druk daarvan steur nie en dat jy jou kuns moet maak en jou lewe moet leef. Sy het gevoel dat haar boek nie saak maak nie, maar dat dit haar saak is wat sy stel.
Slippers is ’n inspirerende, jong en nuwe stem in die Afrikaanse letterkunde en voeg iets nuut tot die Afrikaanse poësie toe wat baie hoop inlaat vir nuwe digters.
Hier is ’n klankopname van die gesprek.