Ina Wolfaardt-Gräbe: ’n lewe gewy aan literatuurwetenskap en Afrikaans se hoë funksies

  • 3

Die Jan H Marais-prys is vroeër vanjaar aan die teoretikus en literatuurwetenskaplike Ina Wolfaardt-Gräbe en Hennie van Coller toegeken om hul lewensbydraes aan Afrikaans as wetenskapstaal te gedenk. Melt Myburgh het met Ina gesels oor haar loopbaan en ervaringe as akademikus.

Ina Wolfaardt-Gräbe lewer haar bedankingstoespraak by die ontvangs van die Jan H Marais-prys. (Foto: Jaco Marais)

In jou bedankingstoespraak by die ontvangs van die Jan H Marais-prys het jy na Marais, na wie die prys vernoem is, verwys as “Jan die Gewer” en sy hardwerkendheid en reputasie as “de eenvoudige vriend van rijk en arm, van blank en gekleurd” besing. Jy het ook genoem dat dié prys die kroon span op al die toekennings wat jy al voorheen ontvang het. In die lig van dié spesiale geleentheid en prestasie, watter boodskap het jy vir jongmense wat aan die begin van hul studies in die literatuurwetenskap staan?

Ek dink dit is belangrik dat ’n mens navorsing doen oor iets waarin jy belangstel. As jou belangstelling in die letterkunde is – ongeag watter taal – is dit belangrik om kursusse in literatuurwetenskap te neem wat jou sal help om literêre tekste met groter insig te kan lees. Op voorgraadse vlak studeer baie studente met behulp van lenings en beurse. Nagraadse studie word dikwels onderneem terwyl ’n mens werk.

Hou aan lees en navorsing doen, ongeag in watter beroep jy jou mag bevind – wedersydse “bevrugting” is altyd voordelig.

Ek het persoonlik gevind dat my nagraadse studie terwyl ek skoolgehou en later klas gegee het, my beslis gehelp het om letterkundetekste vir leerlinge of studente te kan ontsluit; omgekeerd het die interaksie met jong, intelligente lesers weer sekere perspektiewe op die teorie teweeggebring.

Kortom: Hou aan lees en navorsing doen, ongeag in watter beroep jy jou mag bevind – wedersydse “bevrugting” is altyd voordelig.

As student en akademikus was verskeie Suid-Afrikaanse universiteite jou tuistes – die Universiteit van Port Elizabeth, die PU vir CHO, en tot en met jou aftrede Unisa, waar jy hoof van die Departement Algemene Literatuurwetenskap was. Van dié instellings het al nuwe name gekry, maar daar is sekerlik kosbare herinneringe aan elkeen wat jy vandag nog koester? Watter mense het jou pad by dié instellings gekruis wat jou lewe verryk het?

Dit is inderdaad so dat ’n mens by elke instelling saam met kollegas en vriende kon werk wat jou lewe verryk het, soos jy dit heel gepas stel. Ek kan nie almal noem nie en sal dus net enkeles uitsonder. Die jare by die Universiteit van Port Elizabeth met Marius Scholtz as inspirerende departementshoof en Veronica Bowker as kollega in die Departement Algemene Literatuurwetenskap was opwindend en stimulerend, omdat ons die geleentheid gehad het om die vak te vestig.

Marius het trouens voortdurend met kollegas uit ander dissiplines (tale, filosofie, regte, ens) lang gesprekke oor tendense in literêre teorie gevoer en op dié manier belangstelling vir die vak onder kollegas bevorder. Ons het baie nou saamgewerk met die kollegas in Algemene Taalwetenskap, Victor Webb en Jeanne Maartens, omdat ’n gekombineerde eerstejaarskursus van taal- en literatuurwetenskap verpligtend was vir alle studente wat ’n taal as hoofvak geneem het.

As voorbereidende navorsing vir my proefskrif het ekself trouens die tweede- en derdejaarskursusse in Algemene Taalwetenskap voltooi – as dit nie daarvoor was nie, sou ek nie die berge artikels met TGG (transformasionele generatiewe grammatika) as basis wat ek moes deurwerk, kon begryp of in my proefskrif benut nie.

Ina in 1979 saam met TT Cloete by die ontvangs van haar doktorsgraad. (Foto: Ina Wolfaardt-Gräbe)

Benewens studente en ’n aantal dosente het Cloete self ook al die besprekings bygewoon, met die gevolg dat daar soms openbarende interaksie tussen die digter se siening van bepaalde gedigte aan die een kant en lesers se analises en interpretasies van dieselfde gedigte aan die ander kant was.

By die PU vir CHO is taal- en literatuurwetenskap gekombineerd aangebied tot op derdejaarsvlak en het ek nou saamgewerk met Daan Wissing, terwyl Betsie van der Elst my kollega in die afdeling literatuurwetenskap was. ’n Besondere bonus was dat ek ’n blokkursus kon aanbied oor TT Cloete se toe pas bekroonde digbundel Jukstaposisie, waar alle literatuurwetenskap-periodes vir ’n aantal weke aan slegs hierdie onderwerp gewy is.

Benewens studente en ’n aantal dosente het Cloete self ook al die besprekings bygewoon, met die gevolg dat daar soms openbarende interaksie tussen die digter se siening van bepaalde gedigte aan die een kant en lesers se analises en interpretasies van dieselfde gedigte aan die ander kant was.

In hierdie jare het my betrokkenheid by SAVAL (SA Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap) ook toegeneem en Annette Combrink van die Departement Engels was gewillig om die sekretariële verpligtinge op haar te neem. In hierdie hoedanigheid was Annette vir baie jare, selfs nadat haar institusionele verantwoordelikhede by die PUK drasties toegeneem het, ’n staatmaker by onder meer die reëlings vir jaarlikse kongresse of die uitgee van SAVAL-kongresreferate.

Aan Unisa was ek bevoorreg om saam te werk met jong dosente wat ’n reusebydrae gelewer het tot die ontwikkeling van voor- en nagraadse studiemateriaal vir die verskillende voor- en nagraadse kursusse in literatuurwetenskap – Ina Biermann, Annamaria Carusi, Adèle Tait, Marianne de Jong, Marisa Keuris, Marc Hosten en Andries Oliphant. Ek praat onder korreksie, maar ek meen dat hierdie studiemateriaal nog in aangepaste vorm in die literatuurwetenskap-kursusse figureer. Alle dosente het ook die “ekstra” aktiwiteite van die departement ondersteun deur referate te lewer op die jaarlikse SAVAL-kongresse en artikels voor te lê aan die Journal of Literary Studies / Tydskrif vir Literatuurwetenskap (JLS/TLW), wat uit die departement geadministreer is, met Ilse Muller wat steeds die manuskripbestuur behartig, die teks versorg en betyds lewer.

Rory Ryan (Departement Engels) was ook van die begin af by die kernredaksie van die tydskrif betrokke, terwyl Andries Oliphant by my oorgeneem het as redakteur ná my vertrek by Unisa. Dit is ook vanuit hierdie departement dat die 16de ICLA-kongres in Augustus 2000 by Unisa aangebied is, waarin die destydse sekretaresse, Estelle Schlebusch, ’n groot aandeel gehad het.

Jy het oorsee gestudeer, onder meer in teoretiese en vergelykende literatuurwetenskap aan die Rijksuniversiteit in Utrecht, en in 1973 het jy ook aan Cornell-universiteit se PhD-program deelgeneem. Hoe het die tydsgees en die wyse waarop daar met navorsing aan buitelandse instellings omgegaan is vergelyk met wat in daardie stadium hier te lande gebeur het? Was daar spesifieke tendense wat jy agterna met vrug op plaaslike bodem in jou vakgebied toegepas het?

Die teoretiese kursusse aan die Instituut vir teoretiese en vergelykende literatuurwetenskap aan die Rijksuniversiteit in Utrecht het ’n onontbeerlike deel van my formele skoling in literatuurwetenskap uitgemaak. Die kritiese instellings van dosente, insluitende die manier waarop kollegas se publikasies met ’n vergrootglas bestudeer is, was beslis leersaam en het ’n mens se eie kritiese denke gestimuleer.

Nuut was ook die een-op-een-tentamens by die voltooiing van ’n kursus, asook die mondelinge eksamen, met opmerkings en ondervraging deur ’n aantal hoogleraars, na aanleiding van die voltooide doktorale skripsie as deel van die vereistes vir ’n doktoranduskwalifikasie. Alles “assesseringsoefeninge”, as ’n mens dit so kan benoem, wat jou gedwing het om behoorlik rekenskap te gee van jou kennis van en insig in bepaalde kwessies.

Douwe Fokkema en Elrud Ibsch besoek Unisa in 1993: Gert de Klerk, Chris Swanepoel, Douwe Fokkema, Henriëtte Roos, Elrud Ibsch en Ina Gräbe. (Foto: Ina Wolfaardt-Gräbe)

Jammer genoeg is hierdie tipe sinvolle integrasie van enersyds teoretiese en andersyds taalspesifieke kursusse nooit behoorlik aan universiteite hier te lande gevestig nie.

Benewens spesialiste soos HPH Teesing, Douwe Fokkema, Elrud Kunne-Ibsch en JJ Oversteegen by die Instituut, kon ek ook kursusse in Neerlandistiek voltooi – eers onder Margaretha Schenkeveld aan die Vrije Universiteit en later by AL Sötemann in Utrecht (byvak vir die doktoraal). Dit was trouens die blokcollege wat Margaretha Schenkeveld aangebied het oor Achterberg se Spel van de wilde jagd wat die inspirasie was vir die blokkursus oor Cloete se Jukstaposisie, wat ek later by die PUK kon aanbied.

Om in Nederland te studeer was verrykend, omdat die veeltaligheid van dosente daartoe gelei het dat daar náás Engelstalige bronne ook indringend kennis geneem is van Duitse en Franse werke. By Cornell is daar veel meer op Engelstalige bronne gesteun in die doktorale program in Comparative Literature. Interessant hier was die manier waarop teoretiese kursusse, aangebied deur dosente in Comparative Literature, gekombineer is met toepaslike kursusse in Engelse, Duitse, Franse of Spaanse letterkundes, aangebied deur dosente in die onderskeie vakgebiede.

Jammer genoeg is hierdie tipe sinvolle integrasie van enersyds teoretiese en andersyds taalspesifieke kursusse nooit behoorlik aan universiteite hier te lande gevestig nie. Die resultaat is dat selfstandige departemente taal- en literatuurwetenskap mettertyd “gerasionaliseer” is. Gelukkig is baie dosente in partikuliere letterkundes teoreties goed onderlê en leef die vak steeds voort binne gekombineerde groeperings, soos byvoorbeeld die huidige Departement Afrikaans en Theory of Literature aan Unisa.

My navorsing by die Universiteit van Tel Aviv aan die Porter Institute for Poetics and Theory of Literature is gewy aan die verfyning van metafoorteorie in samewerking met Tanya Reinhart, ’n taalwetenskaplike wat ook oor aspekte van poëtiese taalgebruik gepubliseer het. Omdat postmodernisme op daardie stadium druk bestudeer is, het ek ook ’n kursus van Brian McHale hieroor bygewoon. Uiteraard was ook hierdie verblyf allesins ’n verrykende ervaring.

Jou proefskrif, Aspekte van poëtiese taalgebruik, is waarskynlik een van die bekendste navorsingsbronne in die Afrikaanse literatuur. Elke letterkundestudent wat behoorlike onderrig ontvang, sal bekend wees met verwysings daarna. Wat was destyds vir jou as student die impuls wat tot dié onderwerp aanleiding gegee het?

Die aanvanklike impuls was ’n kursus “Literêre teorie” wat deur TT Cloete as deel van honneurs in Afrikaans-Nederlands aangebied is. Daarná kon ek in sowel my magisterverhandeling as my proefskrif hierdie belangstelling uitgebreid en veel indringender navors.

Alhoewel TT Cloete die tipe promotor was wat ’n mens vrye teuels gegee het in die keuse van wat jy hoe ook al wou bestudeer, en bereid was om alles krities-onbevange te lees, sou hierdie gevorderde navorsing nooit sonder sy betrokkenheid kon realiseer nie. In hierdie verband het ek in die voorwoord tot my proefskrif iets geskryf wat ek graag hier herhaal: “Prof Cloete besit die gawe om ’n mens te laat voel dat jy iets kan bereik; hy besit ook die vermoë om ’n mens te lei tot groter hoogtes as waartoe jy self in staat sou gewees het.”

Náás simpatieke dosent het TT Cloete natuurlik ook bekendheid verwerf as ’n bekroonde digter. ’n Paar jaar gelede kon ek die belangrikheid van klank as interpretatiewe leidraad in die poësie, waarvan sy lesings my bewus gemaak het, gebruik in ’n artikel oor sy aangrypende gedig “Stilhuil”, waarna hy dikwels verwys het wanneer hy oor sy oorlede vrou gepraat het. Die publikasie met die digter praat, wat saamgestel is uit twee temanommers van die TGW, was ongelukkig te laat om tydens die TT Cloete-erelesing in September aan hom oorhandig te word, maar hy kon gelukkig nog die elektroniese kopie van al die bydraes lees en daarop reageer.

Uit ’n e-pos aan my, ’n paar dae voor sy dood geskryf, het dieselfde skerp insig in die poësie geblyk wat ons jare tevore in die seminaar oor Jukstaposisie kon beluister; terselfdertyd is die erkenning van en waardering vir ’n voormalige student ook onomwonde gestel – dit bly een van die kosbaarste skryfsels in my besit.

Jy het ’n enorme bydrae gelewer in die ontwikkeling en bevordering van literêre teorie, en veral ten opsigte van vergelykende literatuurstudie in Suid-Afrika. In 2000 het jy as organiseerder van die kongres van die International Comparative Literature Association by Unisa as ’t ware globale teoretiese literatuurstudie na Afrika-bodem gebring. Dié geleentheid moes sekerlik vir jou ’n hoogtepunt gewees het. Vertel asb daarvan, en wie was die staatmakers in jou span wat gehelp het om dié mylpaal te bereik?

Die aanbied van die 16de driejaarlikse ICLA-kongres was inderdaad ’n hoogtepunt. Dit was die uitvloeisel van die dekades lange affiliasie van SAVAL by die ICLA. ’n Hele aantal Suid-Afrikaanse literatore het deur die jare die driejaarlikse ICLA-hoofkongresse bygewoon en ons het uiteraard die geleentheid gehad om met verskeie literatuurwetenskaplikes en komparatiste te kommunikeer.

Tydens die 1994-kongres in Edmonton het Charles Malan aan die hand gedoen dat ons by die jaarvergadering aandui dat ons die 2000-kongres in Suid-Afrika wil aanbied. Dit was die begin van ’n jare lange proses voordat die ICLA-hoofbestuur besluit het om ons aanbod te aanvaar (ons het meegeding met die Italianers en veral die Chinese).

Ons het die bod om die kongres aan te bied formeel gewen nádat daar tydens die Leiden-kongres in 1997 op die jaarvergadering gestem is.

In 1995 het ’n afvaardiging van die ICLA-bestuur Suid-Afrika besoek, onder meer by Unisa opgetree in ’n dag lange seminaar, en al ons voorleggings bestudeer en fasiliteite bekyk om te bepaal of ons wel sou “kwalifiseer” om die kongres aan te bied. Tydens die seminaar is daar op elke referaat kommentaar gelewer deur ’n plaaslike referent en bydraes in Frans is vooraf in Engels vertaal. (Hierdie referate en die kommentaar daarop is gepubliseer in JLS/TLW, 11(3/4), Desember 1995.)

Ons het hierdie vyfstuks besoekers en hulle gades onder meer ook vir ’n uitstappie na die Pilanesberg geneem – ’n hele paar SAVAL-lede het help organiseer, die twee kombi’s bestuur (Hein Viljoen en Chris Swanepoel) en kos gemaak (Annette Combrink en Ronnie Bowker). Ons het die bod om die kongres aan te bied formeel gewen nádat daar tydens die Leiden-kongres in 1997 op die jaarvergadering gestem is.

Afgesien van al die ander reëlings wat met die organisasie van só ’n kongres gepaardgaan, is die tema van die kongres, “Transitions and transgressions in an age of multiculturalism”, deur Reingard Nethersole (Wits) voorgestel en in die volgende afdelings verdeel: 1: Comparative literature in an age of multiculturalism (Reingard Nethersole, Wits); 2: Transgressing and traversing continental boundaries (John Noyes, UCT); 3: Transgressing cultural and ethnic borders, boundaries, limits and traditions (Ampie Coetzee, UWK); 4: Temporal transition: What was the past, what will the future be? (Merle Williams, Wits); 5(1): Transgressing gendered stereotypes (Gerrit Olivier, Wits); 5(2): Transgression and transition of genre and media (Fanie Olivier, UN); 5(3): Transgression, transition and information technology (Hein Viljoen, NWU); 6(1): Cultural encounters: conjunctions and disjunctions (Djelal Kadir); 6(2): New context creation by translations and translators (Ohsawa Yoshihiro); 6(3): Looking at writing (Lisa Block de Behar); en 6(4): The world and Africa / Africa and the world (Michael Chapman/Chris Swanepoel).

Benewens hierdie afdelings van die kongres, was Andries Oliphant verantwoordelik vir ’n doktorale program wat ’n paar dae voor die aanvang van die kongres plaasgevind het. Studente van verskillende universiteite is uitgenooi en buitelandse kongresgangers is betrek om lesings aan te bied of studente se navorsing met hulle te bespreek.

Hoe voel dit om teoretici en denkers wat jy jou loopbaan lank bewonder in aksie te sien by ’n kongres wat jy bywoon of waaraan jy deelneem?

Wat die hoofkongresse betref, moet ek miskien die een in Parys (1985), net ná PW Botha se Rubicon-toespraak, uitsonder. Daar was ’n sestal Suid-Afrikaners wat die kongres bygewoon het – onder meer Annette Combrink, Charles Malan, Leon Strydom en Chris Swanepoel. Tydens die Algemene Jaarvergadering was ons die teiken van aanvalle deur verskeie kongresgangers, met eise soos dat ons moet teruggaan en iets daadwerkliks doen om Nelson Mandela vrygelaat te kry.

Hendrik van Gorp (links) met Chris Swanepoel en Leon Strydom. (Foto: Ina Wolfaardt-Gräbe)

Verskeie van ons vriende het ons vooraf gewaarsku dat daar so iets aan die broei was en dat ons liewer glad nie moes reageer nie; raad wat ons toe gevolg het. Die mosie is deur die kongres gewysig tot ’n algemene beginsel in plaas van ’n aanval op die verteenwoordigers van ’n spesifieke land.

Vir my persoonlik was die jaarlikse “tussenin”-kongresse, wat saamgeval het met die jaarlikse vergaderings van die ICLA-hoofbestuur, besonder waardevol. Dit was baie kleiner en later aan voel die stuk of 40 afgevaardigdes met wie ’n mens elke jaar gesels soos ou bekendes. Ek het verskeie lede van die hoofbestuur baie goed leer ken tydens hierdie byeenkomste waar die beplanning van volgende kongresse, onder meer die drie aanbiedinge om die 2000-kongres aan te bied, ’n staande item op die agenda was.

Ina, as daar een ding is wat soos ’n monument van jou kundigheid staan, is dit sonder twyfel jou redakteurskap van literêre tydskrifte, en veral Tydskrif vir Geesteswetenskappe en Tydskrif vir literatuurwetenskap. Wat het jou betrokkenheid by dié tydskrifte op persoonlike vlak beteken? Was daar uitdagings tydens jou redakteurskap wat jy met drif die hoof moes bied? Of was alles “plain sailing”, soos die Engelse sê?

“Plain sailing” was dit beslis nie.

Anders as die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW), wat reeds sedert 1961 bestaan, is die Journal of Literary Studies / Tydskrif vir Literatuurwetenskap eers in die begin tagtigerjare beplan en nadat Charles Malan ingewillig het om die eerste redakteur te word, is die eerste uitgawe in 1985 gepubliseer. Ons was gelukkig dat HAUM-Literêr die publikasie van die tydskrif vir ’n paar jaar geborg het, met Charles wat ook die personeel by die destydse SENSAL betrek het by take soos proeflees.

Nadat HAUM-Literêr onttrek het, moes ek die Vise-rektor: Navorsing oorreed om die publikasie van ’n navorsingstydskrif te ondersteun – Unisa het op daardie stadium hoofsaaklik tydskrifte uitgegee wat binne departemente saamgestel en as bykomende studiemateriaal aan studente beskikbaar gestel is. Gelukkig het hoëvlaknavorsing kort daarna deel geword van die subsidie aan universiteite, die tydskrif het nasionale akkreditering verkry en toestemming is verleen dat Unisa die tydskrif sou druk, op voorwaarde dat ons kameragereed kopie kon lewer. Die meeste van die voorwerk is binne ons departement gedoen, met Ilse Muller wat steeds die manuskripbestuur behartig en die kopie gereed kry om betyds aan die uitgewer te lewer.

Die tydskrif het sonder twyfel belangstelling in teoretiese en vergelykende literatuurstudie hier te lande gestimuleer.

Op akademiese gebied het die tydskrif van die begin af bydraes uit verskillende letterkundes vanaf verskillende universiteite ontvang en ons het ook buitelandse bydraes getrek. Wat inhoudelike kwaliteitsbeheer betref, was Rory Ryan (Engels, Unisa en later RAU/UJ) se aandeel onontbeerlik. Alhoewel kongresse, soos die jaarlikse SAVAL- en driejaarlikse ICLA-kongresse, ’n goeie voedingsbodem vir bydraes was, is baie bydraes ook onafhanklik gewerf of ontvang. Die tydskrif het sonder twyfel belangstelling in teoretiese en vergelykende literatuurstudie hier te lande gestimuleer. Ná my vertrek by Unisa het Andries Oliphant, wat ook vanjaar aftree, die tydskrif verder uitgebou; dit is tans een van die Unisa-tydskrifte wat internasionaal deur Taylor & Francis versprei word en dit het ook internasionale indeksering by Web of Science en Scopus verkry. My eie betrokkenheid by die tydskrif was verrykend; dit is terselfdertyd verblydend om te sien dat die tydskrif steeds gedy en intussen in aansien toegeneem het.

Die uitdagings by die Tydskrif vir Geesteswetenskappe lê op ’n ander vlak – hoofsaaklik te wyte aan die steeds toenemende druk op Afrikaans as wetenskapstaal. Aangesien die TGW alle geesteswetenskaplike dissiplines dek, is ek in ’n veel groter mate as by die Tydskrif vir Literatuurwetenskap afhanklik van die oordeel van kundiges uit uiteenlopende vakdissiplines, van tale en kommunikasiewetenskappe tot ekonomie, filosofie en opvoedkunde.

Ten spyte van die soms aggressiewe druk op navorsers om in Engels te publiseer, kon ons nietemin die tydskrif beduidend uitbou, onder meer deur die beplanning van temanommers deur gasredakteurs – die mees onlangse oor temas soos drama en teaterstudies (Marisa Keuris), NP Van Wyk Louw (Ronél Johl), die 2020-Bybelvertaling in Afrikaans (Herrie van Rooy en Christo van der Merwe) en godsdiens en die reg (Helena van Coller). Ek vind die werk aan die TGW stimulerend, omdat ek voortdurend met navorsers oor die hele land moet kommunikeer en ek gedwing word om buite die grense van my eie vak te dink.

Rien Segers (links) in 1996 op besoek aan Unisa, saam met Leon Strydom (Foto: Ina Wolfaardt-Gräbe)

Jou navorsing is nie beperk tot Afrikaans nie; jy het verskeie uitsette en publikasies in Engels gelewer, wat jou statuur as internasionale deskundige bevestig. Een van jou belangrikste publikasies is die monografie Landscape as a Troubled Space, wat in 1997 deur Odense University Press in Denemarke uitgegee is.

Ja, dit was ’n besonder interessante ervaring. Svend Erik Larsen van Odense Universiteit het ’n doktorale program aangebied vir studente uit Denemarke, Swede, Noorweë en Finland. Die voertaal was Engels en ses mense uit verskillende wêrelddele is genooi om lesings aan te bied binne die gemeenskaplike tema “Literature’s nature”. Ek het vergelykend gepraat oor ekologiese kwessies in tekste uit Afrikaans en Engels (insluitende swart skrywers soos Zakes Mda wat in Engels publiseer).

Jou navorsingspad het jou letterlik oor die aardbol geneem, en jy het bydraes by kongresse en simposiums gelewer waarvoor jy met agting bejeën word. Ek sal die indeks van ’n atlas hier moes lys om die bestemmings waar jy bedrywig was aan te dui, maar ek volstaan met een van vele hoogtepunte: In 2008 is jy na Wardha in Indië genooi om die leerstoel vir Comparative Literature aan die Gandhi Internasionale Universiteit in te stel. Vertel asb kortliks van jou omswerwinge en wat dit beteken het. As jy vandag een van die plekke wat jy aangedoen het weer kon besoek, waar sou dit wees?

Ek dink ek sou weer Indië toe wou gaan – ’n ontsaglike land met geweldige kontraste, onder meer tussen arm en ryk. Dit was baie insiggewend om ’n week lank klas te gee aan die Wardha Universiteit en eerstehands kennis te maak met Ghandi se nalatenskap. Dit was ook baie interessant om daarna in Indië te reis – gelukkig saam met my man, want ek weet nie of ek op my eie sou “oorleef” het nie.

Die toename in buitelandse besoeke in die laaste dekade of wat van my loopbaan het alles te make gehad met my betrokkenheid by die ICLA. Dit was opwindend en stimulerend, soos die besoeke aan Beijing, Tahiti en Rio de Janeiro. Tog onthou ’n mens die langer verblyf by sekere plekke beter – veral Nederland en Israel, waar ek kans gehad het om vriende te maak en/of in gesinne opgeneem te word tydens my verblyf.

Een van die dinge waarvoor jy geloof word, is jou betrokkenheid by die Psalmberyming in Afrikaans wat in 2001 as ’n afdeling van die Liedboek gepubliseer is. Hoe het jy dié betrokkenheid ervaar, en wat is jou gedagtes rondom die manier waarop digters van tale betrek word by Bybelvertalings, en veral die hantering van die Psalms? Was jy enigsins betrokke by die 2020-Bybelvertaling in Afrikaans?

Dit was verrykend om vir ’n paar jaar betrokke te kon wees by die Psalmberyming in Afrikaans. Weer eens interdissiplinêre samewerking tussen verteenwoordigers uit verskillende kerke, teoloë, spesialiste op die Psalms, musici, taal- en letterkundiges.

Ek is op ’n laat stadium by die oorkoepelende komitee betrek toe dit hoofsaaklik om TT Cloete se berymings gegaan het – die eenvoud en raak segging en uitbeelding van die Bybelse gegewens het my tegelyk ontroer en beïndruk. Ek was nie self by die 2020-Bybelvertaling betrokke nie, maar kon gelukkig uitgebreid aandag aan hierdie reusetaak gee in die temanommer van Desember 2020.

Jy stap al ’n lang pad saam met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Wat is jou gedagtes oor dié instelling vandag?

Ek dink dit verrig steeds baie belangrike werk, veral wat die ondersteuning en uitbouing van Afrikaans in die huidige politieke klimaat betref. Dink maar aan die voortgesette werk aan die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, die werk aan vakterminologie of die uitgee van twee vakwetenskaplike tydskrifte. Daarbenewens doen die verskillende kommissies van die Akademie baie relevante werk op verskillende terreine.

Hoe voel jy oor hedendaagse ontwikkelinge by Suid-Afrikaanse universiteite waar Afrikaans as akademiese en vaktaal al meer gemarginaliseer word? Ons sien dat universiteite navorsingsuitsette in Engels aanmoedig, eerder as in Afrikaans. Dink jy Afrikaans as onderrig- en vaktaal is onder beleg?

Luister maar na die uitspraak of foutiewe woord- en sinsklem op Afrikaanse TV-programme.

Afrikaans as onderrig- en vaktaal is beslis onder beleg. Maar so ook blykbaar basiese Afrikaansonderrig. Luister maar na die uitspraak of foutiewe woord- en sinsklem op Afrikaanse TV-programme. Of kyk na die dikwels onbeholpe vertalings van onderskrifte.

Weens die toenemend Engelse tersiêre omgewing raak navorsers gewoond aan die Engelse idioom en word dit ’n inspanning om gemaklik in Afrikaans te kan kommunikeer. Juis daarom is instellings soos Akademia en die SA Akademie, of vakwetenskaplike afsetpunte vir hoëvlaknavorsing in Afrikaans, soos die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en LitNet Akademies, relevant.

 

  • 3

Kommentaar

  • Fransjohan+Pretorius

    Dankie, Melt, vir uitstekende vrae aan 'n akademiese reus wie se bekeidenheid bewondering wek. Haar antwoorde in die kol en nugter, soos sy is. En, sonder om haar ouderdom te verklap, kan ek sê die Bybel beskou haar as "baie sterk".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top