“Mense moet hulle seatbelts saambring” – Etienne Fourie oor Stiekyt

  • 0

Aan Etienne Fourie se veelsydigheid is daar skynbaar geen perke nie. As skrywer en rolprentmaker hou hy ’n klomp balle gelyk in die lug. Die woord ledigheid ontbreek dus in sy woordeskat. Stiekyt, sy jongste rolprent, tref die groot skerm by die kykNET Silwerskermfees wat van 23 tot 26 Maart 2022 in Kampsbaai plaasvind. En verlede jaar het sy roman Man in die maan die lig gesien. So tussen alles deur staan Etienne se hande ook nie verkeerd vir ’n verfkwas nie. Melt Myburgh het met hom gesels.

Etienne Fourie, skrywer en regisseur van Stiekyt (Foto: verskaf)

“Ek is alewig besig met ’n honderd projekte gelyk – ek móét wees, want vryskut is nie grappies nie,” vertel Etienne. “Ek is altyd besig om te werk, al skryf of verf of wat ook al ek fisies eintlik min.” Die maklike deel is om leë spasies op die papier of skilderdoek in te vul, en die éintlike werk is “om in die eerste plek met ’n oorspronklike konsep vorendag te kom”.

As kunstenaar en storieverteller is Etienne se belangrikste wapen die invalshoek waarmee hy ’n projek aanpak, “want dít is persoonlik en daarom uniek”. Die res is strategie: “Ek sit vir so lank as wat ek kan met ’n konsep in my gedagtes met die hoop dat ek daardeur verras kan word. Ek probeer altyd om al die angles van die idee – hetsy dit ’n draaiboek, roman of skildery is – te identifiseer en te oorweeg.”

Hy is in die gelukkige posisie dat dit vir hom nooit voel of hy regtig “werk” nie. “My werk is my stokperdjies en andersom. Het ek genoem hoe dankbaar ek is? Want ek is. Regtig.”

Etienne loop al ’n lang pad met kykNET se Silwerskermfees. Die windpomp, sy eerste vollengte-rolprent, het in 2014 daar gedebuteer, en is in 2016 en 2017 opgevolg met onderskeidelik Dis koue kos, skat en Liewe Kersfeesvader. “Die eerste keer was ek besonder senuweeagtig, maar dit was uiteindelik een van die beste ervarings van my professionele lewe.”

Ten spyte van die senuwees wat by daardie eerste fees geknaag het, is Etienne se rolprente met ’n kruiwavrag benoemings en pryse beloon, onder meer in kategorieë vir die beste rolprent, draaiboek en regisseur.

Sedert 2014 het sy betrokkenheid by die fees heelwat verdiep. “In 2018 was ek op die beoordelaarspaneel vir die vollengte-films, wat ’n besondere eer was.” En hy was van 2015 af elke jaar betrokke as regisseur- en draaiboekmentor vir die kortfilm-afdeling.

Stiekyt – in Maart vanjaar by die kykNET Silwerskermfees (Plakkaat: verskaf)

Vanjaar is Etienne terug op die rooi tapyt met Stiekyt. En die skrywer-regisseur kan kwalik wag om saam met ’n gehoor na sy handewerk te kyk. “Dit gaan beslis ’n paar wenkbroue laat lig, maar mense moet maar hulle seatbelts saambring.”

Stiekyt vertel die verhaal van James, gespeel deur Paul du Toit, ’n akteur wat sy inkomste aanvul deur in die geheim as drag queen in ’n klub op te tree. Wanneer James se vrou (Cintaine Schutte) van sy nauurse bedrywighede uitvind, spat die vonke en hy moet alles in die stryd werp om hul huweliksbootjie in kalm waters te hou. En dan is daar ook ’n rillerelement in die storie – ’n kollega sterf onder agterdogwekkende omstandighede, en ons hoofkarakter moet op die drag-verhoog uithaal en wys om suspisies nek om te draai.

Die transformasie van Paul du Toit (Foto’s: verskaf)

As mens na die lokprent kyk, besef jy waarom dié film ’n groot aanhang gaan hê. Benewens Paul du Toit en Cintaine Schutte, is toptalent soos Ilse Roos, Albert Pretorius en Wessel Pretorius in die rolverdeling. En aan produksiekant sien jy name van die who’s who van de plaaslike bedryf: Karen Meiring, Jaco Loubser en Paul Venter; en Loki Rothman het vir die musiek gesorg.

“Die vervaardigers van Stiekyt is absoluut ’n droomspan,” beaam Etienne. “’n Fliek is net so goed soos die mense wat daaraan werk, en Stiekyt is geseën met mense wat nie net talentvol is nie, maar ook toegewyd.” As mense wíl, glo hy vas, dan kan berge versit word. “En hierdie span wóú.”

Die samewerking met Homebrew Films, en in die besonder met Tania Reed, die lynvervaardiger, het dinge nóg lekkerder gemaak. “Ek dink nie daar is enige mens wat so hard werk soos sy nie, en ek het haar nog nooit hoor kla nie. Jaco Loubser en Paul Venter kan só trots wees op wat hulle by Homebrew doen, want dit is ’n ongelooflik veilige plek vir kreatiewe mense.”

Om saam met akteurs soos dié in Stiekyt te werk, is iets waarvoor menige regisseur sy oogtande sal gee. “Hulle laat my as regisseur goed lyk,” sê Etienne. “Paul du Toit is ’n akteur wat 100% beheer oor sy craft het. Die emosionele gimnastiek – en fisieke moves, soms! – waartoe hy in staat is, is verstommend. James, die hoofkarakter, is besonder kompleks en ek weet nie of enige iemand behalwe Paul dit werklik sou kon regkry om al die kante van dié karakter met soveel kleur te illustreer nie.”

Illse Roos as Stella in Stiekyt (Skermgreep: verskaf)

Illse Roos vertolk die rol van Stella, die klubeienaar en -bestuurder. Stella regeer met ’n ystervuis en stamp gereeld koppe met die queens. “Illse is altyd uitstekend voorberei – elke woord in die dialoog word noukeurig oorweeg, bestudeer, gewaardeer. Sy is incredible.” Albert Pretorius is te sien as Pandora BoXXX, ’n luidrugtige queen met ’n chip op haar skouer. “Aanvanklik was Albert, wat ’n saggeaarde ou is, senuweeagtig om vir Pandora aan te pak, maar die oomblik toe die pruik op en die naels aan was, het die karakter soos ’n wegholtrein in die vertrek verskyn.”

Cintaine Schutte blink uit in die rol van Susan, James se vrou wat al lankal gatvol vir dinge is. “Haar lewe het in iets ontaard wat sy nie herken en gemaklik mee voel nie. Haar bestaan het kleur verloor en is nou basies beige – presies soos sy altyd gesweer het dit nooit moet wees nie.” Van die tonele waarin James en Susan met mekaar stry, het kameraskote van langer as 20 minute vereis, en die dialoog vir dié tonele was meer as 20 bladsye lank. “Cintaine en Paul moes elke woord onthou terwyl hulle op presiese merke op die vloer moes staan én fokuspunte vir die kamera in ag moes neem,” verduidelik Etienne. “En dan doen ons dit seker twintig keer oor en oor en oor.”

Wessel Pretorius ís Mrs Balls! (Plakkaat: verskaf)

Jacques Bessenger, in die rol van Jay-C le Roux, ’n saggeaarde queen wat vir James onder haar vlerk neem, het Etienne ook diep beïndruk. En Wessel Pretorius as Mrs Balls, die drag-klub se “probleemkind”, is “doodeenvoudig ’n fantastiese akteur”. Wessel het die karakter met soveel genot vertolk dat Etienne gewens het hy kon die fliek ook as ’n teaterstuk aanbied, net sodat gehore vir Wessel in lewende lywe as Mrs Balls kan ervaar.

Nóg ’n verrassing wat op rolprentgangers wag, is Herman Lensing, die bekende kosskrywer en TV-aanbieder, in die rol van die drag queen Kiwi Polish. Etienne vertel Herman was só opgewonde om in die fliek te wees dat sy vreugde soos “’n gloed” op stel aangevoel kon word. “Hy kon nie ophou glimlag wanneer hy in drag is nie.”

Die kosskrywer Herman Lensing soos mense hom nog nooit voorheen gesien het nie (Plakkaat: verskaf)

Carla Smith, in die rol van Lola, Stella se assistent, het voorheen met Etienne saamgewerk aan die TV-reeks Tydelik terminaal. “Sy is vlymskerp en ek probeer bloot byhou by haar. Ek sal seker vir die res van my loopbaan in elke projek wat ek aanpak vir Carla ’n rol inwerk. Sy’s die real deal.”

Ander akteurs wat in Stiekyt skitter, is Roberto Kyle as Ally Minium, “’n skinderbek queen met ’n gesig wat mooi genoeg is om ’n duisend harte te breek”, en Charlton George as Crystal Decanter, “’n queen wat weens voorskrifmedikasie (onder andere) selde bewus is van wat om haar aangaan”.

Vir ’n belangrike toneel in die rolprent moes Etienne-hulle ’n akteur vind wat bereid was om sy penis op kamera te wys, boonop in ’n nabyskoot. “Toe die bravade van die akteurs, wat almal aanvanklik heeltemal bereid was om te bloei vir hul kuns, begin wegsmelt en ons skielik penisloos is, hark ek toe my beste vriend, Frannie van der Walt, nader.” Eers was die plan om ’n “penis double” vir die skoot in te huur, maar omdat Frannie rooi hare het, sou dit nie deug om hom as een van die ander akteurs se onderhelftes te laat instaan nie, vertel Etienne met ’n breë glimlag. En op dié manier word Frannie toe ’n volwaardige karakter, aka “Gemmer Koekie”.

Cintaine Schutte is Susan in Stiekyt, en Albert Pretorius is Pandora (Plakkate: verskaf)

Al die pret en plesier wat Etienne oor die verfilming van Stiekyt uitlig, is natuurlik deur jare se harde werk voorafgegaan. “Dit het meer as twee jaar van my lewe gevat om die fliek op hierdie punt te kry. En ek oordryf nie. Ek is ’n control freak en ek is nie skaam om dit te erken nie.”

Etienne het die draaiboek einde 2019 klaar geskryf, “nog lieflik onbewus van Covid”. Die eerste saadjies van die storie is geplant toe hy notas in een van sy tientalle boekies begin maak het, maar dinge het vinnig ’n eie loop begin neem. “Die aanvanklike saadjie was ’n gesprek tussen ’n getroude paar wat baklei oor kleinlike, alledaagse goed.

“Ek vermoed die inspirasie hiervoor het gekom uit die talle gesprekke met vriende wat verhoudingsprobleme het. Op die einde was dit ’n goeie vier of vyf bladsye van dialoog. Die idee van ’n storie wat by ’n drag club afspeel, het ook al lank by my gespook, en dit het net reg gevoel om die twee idees te kombineer.”

Vir Etienne het die uitdaging daarin gelê om uit te werk hoe ’n straight paartjie in die drag club beland. En die verfkwas het gehelp om die drade bymekaar te kry. “Ek skets of verf sekere beelde van die storie voordat ek begin skryf – dis maar nog altyd my proses. Die sketse het wel al hoe donkerder begin raak en die idee om ’n rillerkomponent in te werk het my beetgekry. Die res het verbasend maklik bymekaargekom en die draaiboek is oor so twee, drie weke klaar geskryf.”

Etienne Fourie op die stel van Stiekyt (Foto: verskaf)

Met Stiekyt was Etienne se voorneme om iets te maak wat hy nog nooit voorheen aangedurf het nie. “Ek wou waaghalsig wees, en om eerlik te wees, het ek gewag vir rooi afkeurnotas van bo af. Maar daardie notas het nooit gekom nie.”

Verfilming het tydens die eerste grendelstaat plaasgevind. “Dit was uitdagend, om die minste te sê, maar Homebrew het above and beyond gegaan om die span veilig te hou: duisende liters saniteermiddel, Covid-stasies voor en op die stel, gereelde in-checks om temperature te meet, ens.” Die voordeel van dié reëlings, wat feitlik met militêre presisie nagekom is, was dat elke betrokkene ’n buitengewone waardering vir die projek openbaar het. “Almal was dankbaar om weer te kan werk, om kuns te kan pleeg. Ons het die hele fliek in net meer as twee weke (wat bitter min tyd is – ek is gewoond aan vier tot ses weke) by Atlantic Studios verfilm, met ’n paar vinnige location shoots in Kaapstad en op Bloubergstrand.”

Die tema van verskuiwende gendergrense wat in Stiekyt ontgin word, is belangrik, en Etienne is verstom dat mense soms nog skrikkerig is om oor onderwerpe soos dié te praat. “Boeke en films maak gesprekke soos hierdie, wat long overdue is, bloot makliker. Ons behoort almal van beter te weet. Die idee dat dit ’n nuwe kwessie is, is absoluut bog,” sê hy.

Agter die skerms op Bloubergstrand (Foto: verskaf)

“Dit is nie ’n trend of ’n gier vir mense om nie in een van twee boksies te moet inpas nie. Dit is vréés wat mense vir so lank in kaste gehou het. En ’n kas is gemaak vir niks anders as klere en die oefentoerusting wat ek nooit gaan gebruik nie. Dit is vrees wat mense gekeer het om hulself te wees, om werklik gelukkig te wees, om die lewe te hê wat vir hulle eg voel – nes almal anders s’n.

“Vrees is die vyand en al manier om dít te oorkom is om daaroor te praat. As mens iets nie weet nie – vra. Die minste wat ons kan doen, is om daaroor te praat. Dit is vir hierdie rede dat ek nie graag doekies omdraai nie, veral nie wanneer dit by my werk kom nie. En nee, ek probeer nie enige agendas push of lesse leer nie; ek poog bloot om hierdie temas so eerlik en outentiek aan te pak as wat ek dit in my eie lewe doen.”

Etienne beskou homofobie nie as ’n vrees vir gay mense nie; dit is eintlik meer ’n vrees van mense om self gay te wees. “En indien iemand steeds wonder: Nee, dit is nie ’n besluit nie, dis nie aansteeklik nie en dit wil niks wegvat by enigiemand anders nie. Dis bloot die vryheid om nie in vrees te moet lewe vir onkundige mense se veroordeling nie.” As ’n samelewing is ons nou op ’n plek waar ons aan óf die regte óf die verkeerde kant van die geskiedenis gaan wees, sê hy. “En dít is eintlik ’n eenvoudige kwessie, as mens só daarna kyk. Deernis en kindness is altyd die regte antwoord.”

Met rolprente en TV-reekse soos Dis koue kos, skat en Heart of the hunter het Etienne met twee van Afrikaans se suksesvolste skrywers te doen gekry: Marita van der Vyver en Deon Meyer. Wat is sy indrukke van die manier waarop Afrikaanse boeke in die rolprentmedium vertaal?

“Partykeer wonder ek steeds of Deon Meyer my regtig gebel en gevra het om saam met hom te werk, en of dit bloot ’n droom was. Deon is nie net ’n meesterskrywer nie, hy is ook iemand vir wie ek bitter baie respek het as mens. Ons het saam gewerk aan ’n film oor Chris Barnard se eerste hartoorplanting, wat ongelukkig vir redes wat buite ons beheer op ys geplaas is. Daarna het ek Meyer se Heart of the hunter (Proteus in Afrikaans) in ’n draaiboek verwerk.”

Deon was ook as vervaardiger betrokke by Etienne se verfilming van Marita se Dis koue kos, skat. “Ek en Marita het saam die draaiboek verwerk en ek het die regie behartig. Ek was vars uit die filmskool en ek kon nie glo hoe lucky ek is nie. Net om te sien hoe hulle operate, was inspirerend. In baie opsigte het my werk saam met hulle vir my die vrymoedigheid gegee om self boeke te begin skryf.”

In Augustus verlede jaar het Etienne se roman Man in die maan verskyn. Die boek is gebore toe hy dit as ’n rolprentdraaiboek begin skryf het. “Ek het die eerste draft in 2010 geskryf, en oor die jare het die storie so baie verander dat daar feitlik niks van die oorspronklike oorgebly het nie. Daar was byvoorbeeld nog geen ‘einde van die wêreld’-storielyn nie.”

En natuurlik het Etienne groot planne vir die boek wat hy as spekulatiewe fiksie beskryf. “Dit speel in 2022 af en handel oor doodgewone mense wat hulle in buitengewone situasies bevind. Nadat ’n asteroïde die maan getref het, breek ’n deel daarvan af en is dit op pad aarde toe – wat natuurlik die einde van die mensdom sal beteken.”

Daar is nog baie ander Afrikaanse romans wat Etienne graag in rolprente sou wou verwerk, maar sy beker loop tans oor met sy eie skryfwerk. “My probleem – alhoewel ek nie vir ’n oomblik kla nie, want dis ’n fantastiese probleem om te hê – is tyd. Ek skryf tans aan twee Engelse boeke, elkeen die eerste in ’n reeks, vir Penguin Random House, wat dan ook as televisiereekse vir die internasionale mark ontwikkel sal word.” Én hy is besig om aan ’n Afrikaanse televisiereeks te skryf wat hy ook graag eendag in boekvorm sal wil sien. “So, in kort, ek moet eers my eie boeke klaar skryf voordat ek die stapel langs my bed kan begin verwerk.”

Wanneer mens na Etienne luister, is dit moeilik om te glo dat dié woekeraar aanvanklik nooit van plan was om Afrikaanse films te maak nie. “Ek het ’n (verwronge) idee gehad van Afrikaanse films – ’n droë vlakte en iemand wat wroeg – wat my geensins as filmmaker geïnteresseer het nie.” En dit is hoe die visioen van ’n windpomp in ’n dam vir sy eerste rolprent gestalte gekry het: “Daardie Afrikaanse ikoon, die geroeste windpomp, staan nie op ’n droë vlakte nie, maar in oorvloed, asof dit self daardie dam vol gepomp het. Ek wou my Afrikaans vir ’n slag op die silwerdoek sien, mense wat soos ek klink en dink en doen.”

En dít is hoe sy loopbaan, deels te danke aan die koestering en ondersteuning van ’n instelling soos die Silwerskermfees, vlerke kon kry. “Ek is so bitter dankbaar vir wat die fees en die mense verantwoordelik daarvoor vir my beteken het en steeds beteken. Hulle gee nie net vir filmmakers – gevestig én minder ervare – ’n platform om hulle werk na gehore te bring nie. Hulle werk aktief om hierdie films te laat gebeur. En dit is baie meer as net geld, want die mentorskappe wat daarmee gepaardgaan, is iets waarop dit moeilik sal wees om ’n prys te sit.”

  • Die Silwerskermfees vind van 23 tot 26 Maart in Kampsbaai plaas. Bekyk die feesprogram hier om te sien wanneer jy jou gesig moet wys om Stiekyt te sien.

Lees ook:

’n Persverklaring oor vanjaar se Silwerskermfees

Kyk na Stiekyt se lokprent

Inligting oor Etienne Fourie se Man in die maan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top