Melt Myburgh oor Woordfees-olifante, SêNet-verslawings en kanaal-ape

  • 0

Melt, jy het hier in Ryneveldstraat vanaf die LitNet-kantoor opgeskuifel na die US se Lettere en Wysbegeerte-gebou, waar jy nou as Woordkunsprojekbestuurder by die Woordfees werksaam is. Wat presies doen ’n woordkunsprojekbestuurder? 

Ja, Shané, ek het ná daardie knie-operasie behoorlik op Ellen Botha se krukke geskuifel om by die US se Woordfeesspan aan te sluit. Amper handeviervoet, kan jy maar sê.

As woordkunsprojekbestuurder is ek verantwoordelik vir die skrywersprogram, wat omtrent 36 persent van vanjaar se 204 Woordfeesproduksies uitmaak. Uiteraard werk ek en die res van die Woordfees se kernspan nóú saam met kundige koördineerders wat verantwoordelik is vir die ander programme – mense soos Amanda Botha, Saartjie Botha, Theo Kleynhans, Leonore Bredekamp, Bertie Coetzee, Niël Rademan, Cornelia Faasen … die lys lyk skielik eindeloos.

Anders as wat baie mense blykbaar glo, “gebeur” die Woordfees nie net vir ’n week lank elke jaar nie; ons het ’n besige kalender en ons bied projekte regdeur die jaar aan in samewerking met ons baie suksesvolle WOW-projek. Dié wonderlike leesbemagtigingsprogram het verlede jaar sowat 17 000 leerders in voorheen benadeelde skole bereik. Fiona van Kerwel en Shireen Crotz verrig wondere met hierdie projek.

Die afgelope twee jaar gee ek ook so tussendeur klas vir derdejaars in die Departement Afrikaans en Nederlands. Heerlik!

Wat is sover vir jou die grootste uitdaging van jou nuwe werk?

Om my ordentlik te gedra binne die universiteitsomgewing. Jy weet, as mens eers tussen SêNetters was ...

Jy is seker baie opgewonde oor die eerste Woordfees waarby jy betrokke is; waarna sien jy die meeste uit op die skrywersprogram?

Opgewonde en so bietjie senuweeagtig, natuurlik! Jy moet weet, mense voor my het ’n ongelooflike bydrae gelewer om die Woordfees op te bou tot die statuur wat dit vandag geniet; dit het inderdaad gegroei tot ’n nasionale fees in Suid-Afrika.

Om te vra vir my gunstelinge op die skrywersprogram, is soos om ’n alkoholis in ’n kroeg te dwing om keuses te maak. Maar om enkele dinge te noem waarna ek baie uitsien:

  • Die gewilde Skrywersprofiele word vanjaar aangebied oor André P Brink en Petra Müller, wat albei 75 word, en oor Philip de Vos, Pieter Fourie en Peter Snyders, wat hul 70ste mylpale vier.
  • Die items wat deur uitgewershuise soos NB, Lapa en Lux Verbi aangebied word, is altyd van uitstekende gehalte en durf nie misgeloop word nie.
  • Gespreksprogramme is iets wat ek altyd geniet. Ek sien byvoorbeeld baie uit na “Rubriekskrywers sonder brieke!” waarin Henry Cloete van Rapport gaan gesels met Koos Kombuis, Jaco Kirsten en Anastasia de Vries. So ook Riette Rust van Sarie se gesprek met Annelie Botes, Deon Meyer se geselsie met Karin Brynard, en ander. Die Stellenbosse Leeskring se aanbieding op 5 Maart by Stellenrust, “Chauvinisme of manlikheid?”, beloof om ’n treffer te wees. Etienne van Heerden, PJ Haasbroek, Toast Coetzer en Jaco Kirsten word by dié geleentheid deur Amanda Botha en Marié Heese onder hande geneem.
  • O ja, en dan is Jean Meiring ook terug in die land. Hy het my darem harde bene laat kou toe ek nog by SêNet was, so ek kan nie wag om hom in lewende lywe in aksie te sien nie. Hy gesels met Rachelle Greeff oor haar artistieke soepelheid in verskillende literêre genres.
  • Francis Galloway se gesprek met Louise Viljoen oor Ons ongehoorde soort en Joan Hambidge se huldeblyk aan Izak de Villiers gaan beslis ook groot aftrek kry.
  • Alles wat in die Vette Mossel aangebied word, ontaard gewoonlik in ’n onvergeetlike partytjie. Jy sal my daar sien met die bekendstelling van Renata Coetzee se Koekemakranka saam met Elias P Nel en die rieldansers. Ook tydens die ete saam met Sanlam en LitNet se skryfskool-aanbieders (“Wat se ding is ’n skets?”). Om nie te praat van “Storievuur” met Johan Bakkes, Deon Meyer, Dana Snyman en Basil Kivedo nie.
  • Vanjaar bring ProQuest, ’n internasionale maatskappy wat databasisse digitaal aan opvoedkundige instellings verskaf, die Zimbabwiese prosaïs Shimmer Chinodya na die Woordfees. Annie Gagiano praat met dié internasionaal gevierde skrywer, en hy tree ook by die Skrywersgala op.
  • Die Skrywersgala word vanjaar aangebied in ’n nuwe, vaartbelynde formaat. Ons het gevind dat dié program in die verlede te swaar geraak het. In 2010 laat waai ons op Stellenrust saam met plaaslike en internasionale skrywers.

En die res van die program? Ek hoor daar is olifante wat loop ...

Andries Botha is in 2010 ons Woordfees-feeskunstenaar. Hy geniet tans wêreldwyd erkenning met sy reusagtige olifantbeelde, gemaak uit hout en rubber, wat deel is van ’n bewusmakingsveldtog oor die ekologiese krisis waaronder die aarde steier. Andries se solo-uitstalling by die Woordfees sal die eerste een in die Wes-Kaap wees en die eerste in 15 jaar in Suid-Afrika. Ek sien verskriklik uit na dié geleentheid. Lesers kan gerus op sy webwerf gaan loer.

Die Sanlam Dramafees wat deur Saartjie Botha gekoördineer word, gaan feesgangers se asems wegslaan. Draadwerk, wenner van die Nagtegaal Teksprys, debuteer op die Woordfees, en dit sal voortaan die geval wees met elke Nagtegaal Teksprys-wenner. Willem Anker se Skrapnel, wat bekroon is met die Aardklop-Ashanti-Smeltkroesprys, kom maak ’n Kaapse buiging op die Woordfees.

Vir Antoinette Kellerman wil ek graag sien in As die broek pas, en vir Marius Weyers in Adam September en die Nazi-skat. Deon Opperman se jongste, My Sarie Marais, is ook ’n móét.

En vir Dowwe Dolla wat haar lyf 007 hou in Dowwe Dolla: geskud, nie gepluk nie, mis ek vir geen geld ter wêreld nie.

Bertie Coetzee van Zinkplaat het vanjaar aan boord gekom en sorg vir ’n gatskop-musiekgeleentheid by Beyerskloof Musiekmarathon tydens die Woordfees. Interessante musikale kombinasies word hier saam gegooi, soos Koos Kombuis en Hunter Kennedy. Ek weet jonger feesgangers sal gaande wees hieroor.

Pieter-Dirk Uys is in verskillende Bezuidenhout-gedaantes teenwoordig. Tannie Evita tree op in ’n Koeksister vir Zuma en stel haar kookboek, Kossie Sikelela, bekend. Haar susterskind, Bambi Kellerman, is te sien in die Sanlam nagKAT, ons splinternuwe kabaret-venue. Terloops, feesgangers wat wil skouers skuur met kunstenaars soos Amanda Strydom en Elzabé Zietsman, moet hul lywe saans van 21:00 af in die nagKAT kry.

Die gespreksreekse gaan uit die boonste rakke wees. Vanjaar bring die Universiteit van Kaapstad se Fakulteit Regsgeleerdheid ’n baie interessante reeks oor die middaguur, “Reg met Afrikaans”. Prof Rochelle le Roux stel kenners soos Pierre de Vos, Loretta Ferris, Jaco Barnard-Naudé, Elrena van der Spuy en ander aan die woord oor regskwessies wat die man op straat raak.

Die tema van die fees is “baljaar” na aanleiding van die FIFA-Wêreldbeker vanjaar. Is jy ’n sokkerondersteuner? Wat sou jy vir die sportliefhebber op die program voorstel?

Van sokker weet ek so min soos ’n kat van saffraan. SuperSport span egter kragte saam met die Woordfees om die wêrelde van die woord en sport bymekaar uit te bring. Sportliefhebbers sal hulle gate uit geniet met die gespreksreeks “Woordfiks met SuperSport”. Tydens dié drie gespreksessies kom legendariese name uit die sportwêreld byeen om te praat oor die onlosmaaklike band tussen sport en taal.

Die omroeper Jan Snyman vertel my nou die dag dat Dana Niehaus as radiosportkommentator Afrikaanssprekendes tot krieket bekeer het met die kleurvolle wyse waarop hy die taal gebruik het. Hy het glo van die krieketbal gepraat as die “rooi pampoentjie” en allerlei krieket-uitdrukkings in Afrikaans gevestig.

Dan vind daar op 3 Maart ’n dinee met rugbylegendes in die Stadsaal plaas. Ongeveer twaalf van die grootste name in die Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis is gaste van omroepers Jan Snyman en Hennie Pietersen by dié geleentheid. Ek weet rugbyliefhebbers sal hul mondskerms prysgee om aan te sit met mense soos Naas Botha, Mannetjies Roux, Schalk Burger, Hempies du Toit, Jan Boland Coetzee, Dawie de Villiers, Theuns Stofberg, Errol Tobias en Kobus Wiese – om net ’n paar te noem.

Sokkerliebhebbers sal aanklank vind by die Vlaminge Steven van de Perrre en Jeroen Roppe, wat in die program “Sokker = voetbal: Clubcultuur in Vlaanderen” gesels oor die kultuurverskille tussen klubs en sokker-ondersteuners in Vlaandere. Die interessante reeks RSG-gesprekke met Freek Robinson is gebou op kwessies rondom die Sokkerwêreldbeker. Heelwat bekende sokkerspelers van Ajax, Santos en Banjana Banjana gooi hul gewig in agter die WOW-aanbiedinge wat saam met SuperSport sokkerballe en -tegnieke bring aan kinders in ons gemeenskap.

Benewens die gesprek met die Zimbabwiese skrywer Shimmer Chinodya, is die program vanjaar opvallend Afrikaans. Is dit doelbewus?

Nee, dit is nie doelbewus so nie. Jy moet onthou dat alhoewel die Woordfees se karakter en fokus sterk Afrikaans is, dit nie ’n eksklusief Afrikaanse fees is nie. Benewens Shimmer Chidodya is daar ’n hele rits Nederlandse, Belgiese en Vlaamse woordkunstenaars wat optree, asook ’n klompie musiekkunstenaars – klassiek en kontemporêr – in tale anders as Afrikaans.

Ons ervaring is dat Engelse produksies op die Woordfees nie so sterk ondersteun word soos wat ons dit graag sou wou hê nie. Verder moet jy ook in ag neem dat die Franschhoek Literêre Fees en die Kaapstadse Boekebeurs potensiële Engelse energie rondom die Woordfees wegsyfer, en dis nie noodwendig ’n slegte ding nie.

Ek self sou eerder ’n groter teenwoordigheid van tale waarmee Afrikaans ’n geografiese verwantskap deel, op die Woordfees wil sien. Ons werk daaraan.

Melt, jy ken die LitNet-gemeenskap baie goed. Noem vir ons die top 5 produksies wat jy glo ’n móét is vir ’n LitNet-leser?

Die skemerkonsertpiekniek met Chris Chameleon en Jan Blohm op 7 Maart om 17:00 by die Klein Libertas Teater se Buiteverhoog.

Enigiets waarby tannie Evita Bezuidenhout betrokke is.

Enige aanbieding op die NB-fees.

“Oopmond”, die gewilde poetry slam onder aanvoering van Ronel Nel.

“Woordfiks met SuperSport” en/of die rugbylegendes-dinee.

Lojale LitNet-lesers wat spesifiek wil kennis maak met LitNet-skrywers en -bydraers, kan gerus die Woordfeesprogram fynkam vir produksies met die volgende deelnemers: Etienne van Heerden, Koos Kombuis, Kerneels Breytenbach, Jason Lloyd, Francis Galloway, Annie Gagiano, Toast Coetzer, Andries Bezuidenhout, Joan Hambidge, Louise Viljoen, Hennie Aucamp, Daniel Hugo, Lina Spies, Johann de Lange, Riana Scheepers, Marié Heese, Louis Esterhuizen en Marlise Joubert.

LitNet-bloggers en -skrywers kan net baat by die sketse-skryfskool wat deur Sanlam en LitNet se SkryfNet aangebied word.

Jy het in ’n onderhoud met Murray LaVita in Die Burger gesê dat jy SêNet mis en aanvanklik onttrekkingsimptome gekry het. Gaan dit darem nou al beter, Melt?

Kyk, SêNet is ’n verslawing waarvoor daar nie ’n kitskuur bestaan nie. Ek lees steeds feitlik al die briewe en kraai elke dag van die plesier. Facebook help darem so bietjie om die ergste simptome in bedwang te hou, maar dit sukkel ook maar.

Iets wat ek nie mis nie, is om middelman te speel tussen stoeiers in die literêre modderbad. Ek het my gewaande Kofi Annan-skap tussen strydende faksies begrawe die aand toe ek by LitNet uitstap en ek die skakel na SêNet se "inbox" van my foon verwyder het. Heelwat rolspelers in die bedryf sukkel egter om daardie aanpassing te maak, kom ek met ’n skok agter elke keer wanneer ek gesig wys by ’n literêre geleentheid. Ek wil die heeltyd net liefde maak terwyl ander nog wil baklei ...

Benewens die Woordfees maak jy ook werk van ’n ander projek. Wanneer kan ons jou bundel verwag en wil jy nie asseblief vir ons ’n voorsmakie gee nie?

As alles volgens plan verloop, verskyn my debuut in Augustus by Protea. Die titel: Refleksies van ’n oewerbestaan. As elke SêNet-leser ’n bundel koop, is dit beslis ’n wegholtreffer – hahahahaha.

visioen van die kanaal-ape

ineens is die mirage wat die teerpad se
rughare laat pronk sy bewerasie kwyt.

in ’n landery teen die rivier gly ’n gaffel uit die greep
van ’n opgeskote klong; snyers roep hul sekels halt,
lemme kap in die grond, feitlik gelyk. hakskene
geamputeer lê garsstingels in bondels en bloei.
kaal bolywe kom bo stram hurke orent om te kyk.

die gepantserde stoet wat hul enklawe
binnedruis dwing ’n werkstaking af.
blindelings kommandeer die son hul palms
tot ’n stom saluut.

afgemete begin ’n stem
die gedrogte een-een doop.
soos hy die name hoor, dwing sy asem
hortjies tussen die seun se ribbebene oop.

sy hart galop agter die eland, ratel, bedford
en olifant wat in formasie
oor die teerpad loop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top