Theo Kleynhans skep nog asem na ’n bedrywige 2020. Hy het pas ’n enorme kunsprojek agter die blad: 420 keramiekteëls vir ’n Duitse magnaat van Ingolstadt wat tydens sy Krismispartytjie ’n Kleynhans-kunswerk as geskenk aan elke intieme vriend gegee het.
Dan moes Theo ook 90 borde aan ’n versamelaar in Bermuda lewer. Die Spanjaarde is gek na Theo se borde en hy het suksesvolle uitstallings in Castellón en Sitges gehad. Dié gewilde keramiekwerke, wat deur versamelaars regoor die wêreld opgeraap word, se sukses het bygedra tot die kunstenaar se besluit om vir ses maande per jaar in Spanje te woon, en die res van die tyd in die Kaap.
Theo het verlede jaar nes geskop in Castellón de la Plana (Kasteel van die Plein) in die ooste van Spanje, waar die El Fadri-toring reg langs die katedraal oor die stadskern heers. Dié bestemming en die manier waarop die inwoners leef, het hom met die eerste besoek uitgeboul, en hy het sonder twee keer se dink ’n woonstel gekoop. “Mense leef nog hier soos ek dink ons moet – siësta, die beste varsprodukte, ’n obsessie met paella en passievolle samesyn met vriende en bier, seekos en die lewe op die kus van die Mediterreense See.”
Castellón is 220 kilometer suid van Barcelona (“twee ure per spoedtrein”) en ’n klipgooi van Valencia. “Die dorp is effens kleiner as Paarl,” vertel Theo. “Die bevolking woon meestal in vierverdieping-woonstelblokke, die meeste sonder hysbakke! Ek verloor elke keer 10 kilo’s as ek hier is omdat ek soveel meer trappe klim.
“Die ses maande wat ek nie hier is nie, verhuur ek die woonstel gewoonlik aan studente van die Universitat Jaume I. Verskeie internasionale studente kom nagraads hier studeer in veral chemie en besigheidstudies. Dit is ook deel van my visumverpligtinge, want ek moet ses maande van die jaar hier spandeer om ná vyf jaar permanente burgerskap te kry.”
Toegang tot ’n groot verskeidenheid Spaanse kunsmuseums is ’n ekstra bonus en Theo beplan later vandeesmaand ’n besoek aan Valencia om die Nasionale Pottebakkersmuseum te besigtig. “Daar is ’n reisende uitstalling van Gaudí se mosaïeke wat ek wil sien.”
Op intieme vlak is Spanje ook bevrydend. “Hier is niks van die aaklige youth culture en ageism wat daar in Suid-Afrika se gay-subkultuur is nie. Dis baie verfrissend om weer as ’n seksuele opsie ervaar te word.” In Castellón is daar ’n “heerlike gay club” genaamd Oz Esto no es Kansas (Oz, this is not Kansas) met ’n Wizard of Oz-tema waar dit geil gaan, vertel hy. Tans is die klub se deure gesluit as gevolg van die pandemie, maar hy wag geduldig dat die inperking opgehef word.
“COVID is ’n fokop,” sê Theo. In Suid-Afrika is visuele kunstenaars reeds erg getref deur die kansellasie van kunstefeeste. Maar kunstenaars is gewoond aan swaarkry. En soos met enige groot wêreldgebeurtenis word die kaf van die koring geskei. “Dis seker nie ’n populêre siening nie, maar ’n mens kan ook nie jou hele kreatiewe output slegs by feeste aanbied en dink jy gaan ’n bestaan maak nie. Al jou eiers in een mandjie was nog nooit ’n goeie idee nie.”
Wanneer dit by die oorlewing van ’n kunstenaar kom, was Theo se benadering nog altyd nugter. “Die lewe is ’n crunchy-peanut-butter-en-jam-toebroodjie. Jy eet die soet saam met die sout.” Hoe gouer kunstenaars besef dat hulle op hulself aangewese is, hoe beter. “Ek het vroeg besef niemand gaan vir jou ’n oplossing gee nie. Jy moet dit sélf doen. Jy moet die verf koop, die doek span, die komposisie uitdink en dan moet jy dit skilder. Daarna moet jy dit uitstal en verkoop kry.
“So, nou kan jy besluit of jy daaroor wil huil en of jy dit met ’n glimlag gaan doen. Alles is jou keuse.
“En ek glo jou werklikheid begin met ’n gedagte. Jy moet in die aand voor jy gaan slaap die volgende dag se dinge beplan. Want dan staan jy op met ’n doel. Maak die skilderye, gooi die borde, vuur die oonde. Hou net aan. If you create it, they will come.
“Party mense word met trust funds gebore. Maar die meeste van ons moet ons eie paaie uitwerk. Jy kan maar offended of kwaad wees, maar aan die einde van die dag, as daar nie toiletpapier is nie, word mens baie vinnig volwasse. Die wêreld skuld jou niks. Deal with it.”
Dié ingesteldheid verseker natuurlik dat Theo opgang maak. Daarmee saam speel kunskopers se behoefte om hul versamelings te kurateer ’n kardinale rol. Theo reken sy keramiekborde is gewild omdat dit spreek tot versamelaars se inherente behoefte om ’n narratief te skep en sodoende sin van die werklikheid te probeer maak.
“Ek versamel die heeltyd beelde waarby ek aanklank vind. En hierdie beelde word borde wat ek in ’n lukrake groep aanbied.” En dis hier waar die koper of verbruiker van kuns betrokke raak om die proses te “voltooi”. “Sodra ’n mens se storie ’n begin, middel en einde het,” verduidelik hy, “verstaan jy jou lewe. Hierdie narratiewe is dus gebaseer op ons verwysingsraamwerke. Jou storie is anders as myne omdat jou ervarings anders is as myne. Maar ons het as mense tog ook ’n deelversameling, ’n gedeelde ervaringswêreld en ’n gedeelde verlede. En dit is hoekom die borde werk. Omdat dit óns stories illustreer, en sodoende mense se herinneringe aan die vergetelheid ontruk.”
Volgens Theo is kunsversamelaars wat tans nié na keramiek kyk nie, besig om ’n wêreldtendens mis te loop. “Keramiek is besig om op elke belangrike internasionale kunsverhoog sy plek vol te staan. Van die Venesiese Biënnale tot die documenta in Kassel.” Nou dat hy die internasionale mark betree, beteken dit noodwendig dat die pryse van sy werke styg.
Oor die jare heen het Theo homself in verskillende media uitgedruk. Hy is veral bekend vir sy werk in drukmedia, en sy beeldhouwerk is besonder gewild. Een van die beeldhoutemas wat hom vir ’n baie lang tyd reeds besig hou, is “Bere in bote” – “speelse keramiekbere wat staangemaak word op gevonde voorwerpe soos interessante klippe wat soos bote lyk, of houtstompe met G-klampe as buiteboordmotors, of meer elaborate gesweiste ruimteskepe wat uit skroot saamgestel word.” Baie van dié bere in bote was nooit formeel uitgestal nie, en is meestal direk uit Theo se studio verkoop. Toe hy ’n klompie jare gelede wel ’n beer-uitstalling by die kunstefees in Grahamstad gehad het, was alles binne twee ure uitverkoop. “Hier in Spanje dryf ook ’n paar van hulle in privaat versamelings rond,” sê hy.
Maar soos wat die jare aanstap – Theo word in April 55 – voel hy al meer aangetrokke tot abstraksie. “Ek dink dat alle herkenbare beelde finaal uit my werk sal verdwyn sodat die kyker nie meer die reddingsboei van ’n beeld het nie, maar eerder homself moet wend na hóé die werk hom laat voel. ’n Mens se kop raak stadig stiller met die ouderdom.”
Theo onthou sy eerste tentoonstelling soos die dag van gister. Hy was op skool toe sy werk in ’n groepuitstalling in Welkom se biblioteeksaal opgeneem is. “Die bibliotekaris was Babsie Truter en sy was bevriend met Vader Claerhout. Hy het die uitstalling geopen en ek onthou hoe hy lank met my gesels het. ‘Schilder gewoon jezelf!’ was sy woorde aan my sestienjarige self.” Vir Theo was dié aanmoediging “vir ’n laaitie wat grootoog op ’n myndorp in die middel van die Vrystaat” woon, en boonop nie kuns as skoolvak het nie, van onskatbare waarde.
Die Roomse vader se motivering het ’n kreatiewe stroombaan voltooi wat vir jare daarna Theo se uitstallings en installasies wonderbaarlik sou maak. Om nie te praat van die vele tentoonstellings wat hy as kurator vir kunstefeeste saamgestel het nie.
Geheuegrond, ’n uitstalling in die UV-kunsfakulteit se kantoor en stoorkamer tydens die Vrystaat Kunstefees, sorg steeds vir kosbare gedagtes. “Klein skilderytjies met kort stories langsaan oor my herinneringe van Vrystaatse dorpe uit my kinderjare: Welkom, Bultfontein, Virginia, Odendaalsrus … Daar was ook ’n pan met swart ink soos ’n reuse stamp pad by die deur, en die vloer was uitgevoer met kaarte van die omgewing sodat besoekers hulle inkspore daarop kon los. Die vloer het swarter en swarter geword soos wat die fees aangegaan het.”
By Aardklop het hy eenkeer in ’n “moeilike driehoekige ruimte” tussen die teater en die groot kunsuitstalruimte tentoongestel. “In dié nou ruimte het ek die uitstalling getiteld Vliet gemaak, met ’n reeks skilderye van verwelkende sint josefslelies teen die muur, en in die skerpste hoek van die vertrek was twee groot spieëls teen die kante, met ’n klein driehoekige podium waarop daar ’n stapel papiere en ’n pen was.
“Wanneer die kyker agter hierdie klein podium staan, weerkaats jy in albei spieëls sodat jy in die middel van ’n kring van jou gereflekteerde self staan. In hierdie ring van die self vra ek die kyker om ’n belydenis neer te skryf, of ’n wens of iets wat jy wil vergeet of aflê. Links van die spieëls was ’n tafel met instruksies oor hoe om ’n papierbootjie van jou belydenis te vou. In die middel van die driehoekige ruimte was daar ’n driehoekige dam vol ink van sewe by sewe by drie meter, ongeveer 30 sentimeter hoog.”
Deelnemers het dan hulle bootjies op die inkdam laat vaar totdat die papier uiteindelik wegsink en die woorde daarop onleesbaar raak. “Dit was ’n groot sukses en mense het tou gestaan om deel te neem. Baie van hulle het gehuil. Dit was so ’n heilige nie-religieuse plek, en party mense het gesit en wag tot hulle bootjies sink.”
Saans ná toemaaktyd het Theo, met plastieksakke om sy voete gebind, deur die inkdam gewaad en hande vol nat, swart papier uitgevis om plek te maak vir die volgende dag se bootjies.
By heelwat Afrikaanse kunstefeeste was hy ook as kuns- en skinderstorieskrywer betrokke by feeskoerante soos Krit en Spat! en ’n rits dramas uit sy pen is al by feeste opgevoer. Maar die dramadae is verby, sê hy. “Ek sien net nie meer kans vir al die ander mense wat betrokke is by ’n produksie nie.”
Onder Theo se kuratorskap by kunstefeeste het die verskynsel van kunsrondleidings ingeburger geraak. “Ek dink dáár het ek my belangrikste werk gedoen. Mense is bang vir kuns omdat hulle meestal sonder ’n verwysingsraamwerk daarvan grootword. Om in ’n galery in te stap is vir baie mense intimiderend.”
Duisende siele het deur die jare Theo se rondleidings meegemaak. Aanvanklik was hulle vreesbevange, maar later het hulle meer ingelig en selfs met ’n opinie oor die uitstalling deelgeneem. “En teen die derde jaar het hulle tentatief begin kuns koop. By party feeste het die visuele kuns homself uiteindelik finansieel gedra. Ek is ook gelukkig daaroor dat ek soveel kunstenaars aan ’n breër publiek kon voorstel en dat ek geld in hulle sakke kon sit. En dat ek ’n nuwe groep kunsversamelaars kon help opvoed.
“Jy weet, ’n kunstenaar betaal nie minder vir ’n brood as die volgende ou nie. Ons moet almal oorleef.”
In 2020 is Theo positief vir COVID getoets toe hy in die hospitaal vir niersteenbehandeling opgeneem is – ’n belewenis wat hy niemand toewens nie. “Die nierstene en die COVID saam was ’n uitdagende ervaring omdat dit moeilik was om simptome toe te skryf aan die een of die ander. Ná my ontslag het ek tuis verder aangesterk onder die liefdevolle koestering van Yoda, my bostonterriër.” Dié terugslag het nie noodwendig vir nuwe insigte oor verganklikheid gesorg nie. “Ek het al so lank terug vrede gemaak met die dood dat sommige van my vriende sê ek het ’n onnatuurlike Thanatosdrif. Maar ek is net werklik verbaas dat ek nog lewendig is. Nooit gedink ek sou dit tot hier maak nie.”
Maar die uitdagings en opwinding wat 2020 vir Theo Kleynhans gebring het, het hom geposisioneer om 2021 sý jaar te maak. Sy kuns stel hom in staat om die wye wêreld te verower – bord vir bord, teël vir teël, skildery vir skildery. En hy gryp die geleentheid aan met die onverskrokkenheid van ’n conquistador.
Kommentaar
Ongelooflike talentvolle persoon! Calling a spade a spade, and if not, Theo will make it an opportunity.
'n Ware kunstenaar en vriend deur-en-deur. Sy kreatiwiteit en vrye denke is inspirerend en sy vriendelikheid en opregtheid is aansteeklik. Sien uit na wat die 'Groot Beer' volgende gaan aanpak.
Wonderlike kuns! Lekker artikel. Love dit.
Hou van die storie - leer ken die mens agter die kunstenaar. Well done en blessings.
Mis jou en jou prinses op jul staproete elke dag.
Ek hoop Spanje besef hoe gelukkig hulle is! Princess Yoda, you rock!
Wonderlik! Trots op jou, Theo! Jy verdien dit oor en oor.
Trots om iemand soos Theo in Boston, Bellville in die Kaap te kan he. Altyd 'n vriendelike glimlaggie. Voorspoed met alles wat jy aanpak.
Theo is 'n inspirasie en steunpilaar vir medekunstenaars en as jy hom jou vriend kan noem, is jy baie gelukkig. Voorspoed, Theo.
Dankie vir jou insiggewende rondleidings by die KKNK, Woordfees en RK Solo Studios. Ons gaan dit mis. 'n Blink toekoms wag.
Lekker om als te sien wat jy doen. Wat 'n aansporing! All the best for a fabulous year!
Beste Theo
Gelees van jou Spanje. Ek onthou nog jou uitstalling in Welkom en is nou nog spyt ek het nooit een van jou skilderye gekoop nie. Die een van die pale onder die blou lig spook na 40 jaar. Jy het vir my as geskenk 'n uiltjie (miniatuur) geskilder wat ek nog het. Ek woon in Kaapstad oorkant die promenade. Groete. Babsie Truter
Ek het presies 'n uur gelede van jou te hore gekom deur my vriendin Ruth in Boston. Ek woon in Londen en my broer in Malaga so ek besoek die land gereeld en is bekend met al sy bekoorlikhede. Ons tree almal daar af. Jou kuns is simply stunning en veral die borde gooi my behoorlik. Kan nie wag om voor dit te staan nie! Regtig nice en sal graag 'n uitstalling van jou wil bywoon. Alle sterkte en wens jou 'n verruklike tuiste toe in Spanje.
Well done, mate! Hasta luego!