Gangster state: ’n Onderhoud na afloop van die boekbekendstelling en betoging

  • 1

Almal praat oor  Gangster state: Unravelling Ace Magashule's web of capture. 

Dié boek, deur die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh, bevat bewerings van korrupsie onder die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule.

Betogers, ontevrede met die bewerings in Ganger state, het toegesak op die bekendstelling in Exclusive Books in Sandton op 9 April. Chaos is veroorsaak deur onder andere eksemplare van die boek op te skeur.

Melt Myburgh, die opdraggewende redakteur vir niefiksie by Penguin Random House, beantwoord ’n paar vrae.

Melt, jy was betrokke by Pieter-Louis Myburgh se Gangster state. Hoe voel jy na gisteraand se ontwrigting van die boekbekendstelling in Johannesburg?

Ons is uiteraard baie teleurgesteld dat die boekbekendstelling ontwrig is deur ’n klein groepie protesteerders, maar by Penguin Random House is ons vasbeslote om nie geïntimideer te word nie, hetsy polities of andersins. Ons staan agter Myburgh en Gangster state. ’n Gebeurtenis soos hierdie, wat sterk herinner aan tonele wat in Nazi-Duitsland afgespeel het, bevestig vir ons hoe relevant die uitgewersbedryf in ons samelewing is, en hoe belangrik die impak van ’n boek kan wees. Dit is egter verblydend om te sien dat die ANC ’n persverklaring uitgereik het waarin dié soort optrede streng veroordeel word, en dat daar dissiplinêre aksie teen die ontwrigters geneem sal word. As uitgewershuis doen ons ’n beroep op die ANC-leierskap, onder leiding van Cyril Ramaphosa, om te verseker dat geen verdere ontwrigtings van Gangster state-bekendstellings, of enige gewelddadige aksies wat daarmee gepaard mag gaan, sal plaasvind nie.

Betogings by die bekendstelling
Foto: Nadia de Kock, Facebook

Het Penguin Random House of die boekwinkeltak vooraf vermoed dat daar probleme mag wees tydens die bekendstelling?

In die klimaat waarin ons ons bevind met die verskyning van ’n hoëprofielboek soos Gangster state is ons altyd bedag op enige moontlike gebeurlikheid, en ons probeer ons na die beste van ons vermoë daarop voorberei.

Het julle enige idee wie die protesteerders moontlik was? Op sosiale media is daar talle bespiegelinge, onder andere dat dit ’n tipe “rent-a-crowd”-situasie was.

Die protesteerders het hulleself geïdentifiseer as ANC-Jeugliga-lede van die Vrystaat. Die Sowetan het berig dat Ace Magashule se persoonlike assistent opgemerk is in die Food Court naby die boekwinkel tydens die ontwrigting, maar of dit ’n “rent-a-crowd”-situasie was – daaroor bestaan daar bespiegelings.


Video: Nadia de Kock, Facebook

Daar verskyn die afgelope tyd heelwat boeke oor korrupsie en die Suid-Afrikaanse regering. Wat is besonders aan hierdie boek; wat maak hom anders?

Ons lewe in ’n tyd waarin ’n boek soos Gangster state, wat deeglik nagevors is en waarvan die inhoud streng en noukeurig nagegaan is, ’n kardinale bydrae lewer tot die diskoers oor ons demokrasie. En dit is belangrik dat ’n boek daardie bydrae in ’n samelewing kan lewer wanneer die amptelike strukture wat na mense se welsyn moet omsien, onder beleg is. In terme van gehalte en relevansie is Gangster state so belangrik soos wat Jacques Pauw se The President’s keepers was.

Melt, verwag julle nog aksies teen die boek?

’n Mens weet nooit presies wat die toekoms inhou nie, maar die ANC se sterk standpunt teen dié tipe aksies is bemoedigend. Ons sal elke uitdaging verantwoordelik hanteer en ons beslis nie laat boelie nie.

Vroeër die aand in Exclusive Books, Sandton
Foto: Nadia de Kock, Facebook

  • 1

Kommentaar

  • Bonnita Lynette Hill

    I am not surprised. And yes, profoundly disappointed in the gullibility of the youth that Nelson Mandela from the outset never ceased urging to get educated and be disciplined.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top